Читать книгу Woorde is soos wors - Rona Rupert - Страница 6
Drie
ОглавлениеEk was op my rug op ’n trolliebed in ’n soort breë liggroen gang toe ek weer bykom. Twee verpleegsters was besig om my hemp uit te trek. Hulle het soos ’n tweeling gelyk met die eenderse wit mussies op hulle koppe en die eenderse uniforms aan en die eenderse plat bruin loopskoene, byna soos dié wat Hester en Mita skool toe dra.
Een van die verpleegsters het na my gekyk met twee klein ligbruin ogies wat naby mekaar sit. Sy het na ’n foksterriër sonder hare gelyk; maar ’n vriendelike een. “Kyk hoe het jy op jou hemp gemors,” het sy gesê, en toe namens my geantwoord ook. “Toe maar, hy kon dit seker nie help nie … Hy is by,” het sy vir die ander een gesê, asof ek nié by was nie, en die ander een ook nie.
“Wat gaan julle nou met my maak?” My stem het bang geklink, maar ek het dit nie so bedoel nie. My stembande was net ongewoon aan praat.
Die tweede een het geantwoord. Haar stem was net so vet soos sy. “Jy gaan nou X-strale toe.” Sy het my daarheen begin stoot. Die foksterriërverpleegster het agterna gedraf en my lelike groot regterarm versigtig teruggevou en op my bors neergelê.
Die ander een het, so ver as sy my deur die gange gestoot het, deuntjies loop en fluit soos ’n seun. En ek dog almal in hospitale fluister as hulle praat.
Nadat die X-strale geneem is, het hulle die arm weer net so op my bors teruggesit en my na die dokter toe gestoot. Hy het my ’n inspuiting gegee; vir die pyn, het hy gesê. Iemand het die X-strale vir hom gebring, en hy het hulle sorgvuldig bestudeer. Toe het hy vir Denis laat roep. Ek was bly om hom weer te sien.
“Dit is ’n lelike breuk,” het dokter Slabbert gesê. “’n Mens sou kon opereer, maar ek dink nie dis nodig nie. Ek sal dit stewig spalk, en hom ’n dag of twee hier hou om te kyk hoe dit gaan.”
“Dis dan net my arm!” het ek uitgeroep, harder as wat ek wou. Hy en Denis moes aan my stem gehoor het hoe bang ek skielik was.
“Jy sal nog van die hospitaal hou,” het hy gesê en gelag. “Jy sal dalk nie weer wil weggaan nie.” Min weet hy.
Denis het my meer gerusgestel. “Dis beter so, Josias,” het hy sag gesê, “anders sukkel jy dalk later. Kry dit liewer nou oor.”
Dokter Slabbert het my vierkant voor ’n masjien laat sit. “Dit is nie vir ’n foto nie,” het hy my gedagtes gelees. “Dit is ’n masjien waarop ek die bene in jou arm presies kan sien en waarop ek kan sien hoe ek dit moet spalk.”
Hy het ’n laag gaas en watte oor my bors en my rug en my arm gepak, en toe die been in my arm met sy vingers reggedruk. Ek het niks gevoel nie. Ek het ook nie na die prentjie gekyk nie. Daarna het hy die nat gipsverbande om my begin draai. Ek kon sien hoe sy hare al uitgeval het bo-op sy kop.
“Om my lýf?” het ek gevra; ek dog hy is getik.
“Anders kan jy jou arm nog beweeg, en dit moet ábsoluut stil gehou word.” Ek het geweet Denis kyk na my. Anders sou ek nie so maklik oorgegee het nie.
Toe die dokter met my klaar is, was ek in ’n harnas. Hulpeloos. Om my arm, om my hele bolyf, was ek in wit gips. In die weerkaatsing in die fancy masjien se glas het ek myself soos ’n winkelpop sien sit. Nog amper sonder klere ook.
“Vir hoe lank moet ek só loop?” het ek gevra.
“Ses weke,” het dokter Slabbert met sy rug na my toe gesê, terwyl hy sy hande was. “As dit goed gaan.” Ek dog ek gaan dood.
Toe die verpleegster daar inkom, groet Denis my. “Ek sal uitvind wanneer jy huis toe kan gaan,” het hy gesê. “Ek sal jou self kom haal, en ek sal ander klere saambring ook.” Dit het gelyk asof hy na woorde soek. Toe sê hy: “Moenie jou lewe omwens nie, Josias; die tyd is klaar te min. Ses weke gaan gou om.” Hoe gou, het ek geweet. Ons was toe nét meer as ses weke by St. Andrew’s, en dit was baie lank. Lank genoeg vir Georgie om drie keer weg te loop.
“Kom,” het die verpleegster – dit was ’n nuwe een – vir my gesê, “ek neem jou op.” Gelukkig kon ek self loop. Sy het my na die hyser beduie. “Hoe het dit gebeur?” het sy gevra, nadat die deure toegeskuiwe het. Sy het haar neus lank en hard gesnuit. Dit het gelyk asof sy ’n swaar verkoue het.
“Gestoei.”
“O,” het sy gesê en ’n nuwe papiersakdoekie uit haar sak gehaal. Sy het gesug, en weer geblaas. “Die nag is nog lank,” sê sy toe. Ek was bly ek het nie meer oor myself probeer vertel nie. Sy wou tog nie regtig weet nie.
Die verkoue verpleegster het my na ’n saal geneem waarin drie mans lê en slaap het. Een het begin praat toe ek agter haar aan by hom verbyloop. Maar toe ek stop om te hoor wat hy sê, sê sy: “Hy praat in sy slaap.”
Al die ander beddens was leeg. Sy het vir my een langs die venster uitgesoek, waaroor ek bly was. Sy het die koppenent van die bed opgeskroewe totdat dit soos ’n stoel gelyk het. “Gaan ek dan nie nou slaap nie?” het ek gefluister. Nie dat ek vaak was nie, maar dit het gelyk asof dit van ’n mens verwag word.
“Jy gaan,” het sy gesê en vir die eerste keer geglimlag, “jy gaan sit en slaap.” Sy het nie eens gefluister nie. Ek het haar nie geantwoord nie. Van iemand wat oor só iets kan glimlag, kan jy enigiets verwag.
“’n Mens raak aan alles gewoond,” het sy gesê. “Die badkamer is net om die draai. Jy moet jou eers gaan was. Dan bring ek vir jou ’n naghemp en iets om te drink, en ’n slaappil, en sit jou in die bed.” ’n Naghemp! Maar sy het haar woord gehou en alles gedoen net soos sy belowe het.
Toe sy weg is, het ek deur die venster na die liggies buite sit en kyk; die rugleuning was hoog genoeg daarvoor.
Dit het soos die volgende oomblik gevoel toe ’n ander verpleegster met koffie in haar hand voor my bed staan. “Jy slaap soos ’n klip!” het sy gesê. “Ek weet nie hoe kry jy dit reg nie.” Sy het my vol bewondering bekyk. “En al die gips!” Ek het vorentoe probeer sit, maar toe sien ek weer die agterstevoor naghemp raak. Ek het dadelik teruggesak teen die kussing. Sy het gegiggel. “Jy het daarvan vergeet, nè?” Sy het die koffie op die kassie voor my bed neergesit, en my nie ’n kans gegee om te antwoord nie.
Toe meet sy my koors, en terwyl sy dit doen, het sy aanmekaar met my gesels. “Jy moet nog vir my jou storie vertel. Maar eers moet jy gaan was, en moenie dat die gips nat word nie, want dan is ons al twee in die moeilikheid.”
Dit was halfses – ek het dit op haar horlosie gesien – en dit was nog nie heeltemal lig nie. Dit het gevoel asof my lyf onder ’n trein was, maar die arm het nie gepyn nie.
Een van die drie mans in die saal het homself regop getrek en met lang slurpe sy koffie begin drink. Toe ek van die badkamer af terug was op my bed, het die verpleegster weer na my toe gekom. Sy het gesê sy gaan sewe-uur van diens, dan begin die dagverpleegsters se skof. Ek was jammer daaroor. Sy het my gedagtes gelees: “Toe maar, suster Van Rensburg sal mooi na jou kyk.”
Ek het gesukkel om my ontbyt van die bord af by my mond te kry. Terwyl ons eet, het die drie mans met mekaar gesels. Af en toe het hulle vir my ook iets gevra of gesê. En net daarna het ek weer aan die slaap geraak en geslaap tot amper middagete toe. Daarna was dit dieselfde ding, ek kon my oë nie oophou nie.
Die aandete het baie vroeg gekom, vyfuur se kant, en daarna was dit besoektyd. Al drie die ander het kuiermense by hulle gehad. Die geselserige verpleegster het my kom groet toe sy weer kom werk. Ek was bly om haar te sien. En terwyl sy nog daar was, het dokter Slabbert kom vra hoe dit gaan. Sy het later weer teruggekom. “Jy lyk deftig,” het sy geterg, “so op jou troon.”
“Wanneer gaan ek huis toe?”
Sy het gaan uitvind. Ek was amper weer aan die slaap toe sy terugkom. “Jy word môre ontslaan,” het sy gesê, “en jou vriend Denis het gebel en laat weet hy kom jou haal.”