Читать книгу Slagyster - Rudie van Rensburg - Страница 12

9

Оглавление

Sy bestemming is ’n kantoorgebou in Groenpunt, weg van die spesiale aksie-eenheid se kantoor. Dit is naby genoeg aan sy hotel dat hy kan stap.

Op pad soontoe merk Carl die motor op. Die bestuurder lyk verdag. Hy sit laag agter die stuurwiel, ’n kep oor sy oë getrek. Die man wat die motor nader, kyk eers angstig rond. Dan rek hy sy treë en buk by die oop ruit. Die ruiltransaksie vind vinnig plaas: die bestuurder oorhandig ’n pakkie en neem met sy ander hand die koevert by die voetganger. Die wiele van die dwelmtrein draai weer, weet Carl.

Hy kom byna tot stilstand. Sy eerste gedagte is om die motorbestuurder te bestorm. Maar hy bedink hom betyds en stap gelate voort. Die polisieman in hom is klaarblyk­lik nog nie begrawe nie.

Maar hoeveel van die ou Carl Bester het behoue gebly? Drie jaar lank was hy verskans agter die masker van ’n dwelmhandelaar, sy baard, lang hare en sliertige voorkoms ligjare verwyder van sy beeld as skoongeskeerde en onkreukbare geregsdienaar. Soms het hy gevoel soos iemand met ’n gesplete persoonlikheid, dan dokter Jekyll, dan meneer Hyde. Hoeveel keer was hy nie aan die voorpunt van dwelmtransaksies nie? Hoeveel keer het hy nie meegedoen aan martelsessies nie? Alles in belang van die groter saak, het sy polisiekontak hom bly gerusstel.

Maar soms het die skeidslyn tussen sy twee rolle vervaag. Dan het die opwinding van sy rol as skurk sy adrenalienvlakke hoër laat styg as tydens enige polisie-ervaring. Het daardie lang blootstelling aan die onderwêreld sy oordeel verwring? ’n Skadusy van hom ontbloot waarvan hy nie bewus was nie? Dis nie vrae wat hy die afgelope tyd kon beantwoord nie. Maar dié twyfel oor sy moraliteit kom elke nou en dan ongevraagd by hom op.

Dit is ’n vaal gebou. Carl klim die twee stelle trappe na bo vinnig om die winterkoue uit sy lyf te verdryf. Hy het Wessels drie dae na sy plaasbesoek laat weet hy sal die taak aanvaar. Wessels het gesê hy is bly Carl het so vinnig besluit, want die polisie is onder druk. Hulle moet binne die volgende twee dae ’n sessie reël.

Carl het nie nodig gehad om lank te soek na ’n tydelike voorman vir sy plaas nie. Die buurman se seun, wat met olywe grootgeword het, was gretig om te help. Hy sou ’n ogie hou terwyl Carl weg is. Die paar voltydse plaaswerkers is gelukkig ook betroubaar en kan sonder toesig op hul eie aangaan. Dit is nie ideaal om ’n boerdery so te bedryf nie, maar die beste wat hy in die omstandighede kan doen.

Direkteur Wessels wag reeds vir hom, geboë oor die eikehoutlessenaar, sy bleskop blink onder die gesonke ligte. Hy staan op en dié keer is sy groet hartlik. “Carl, ek is bly jy het besluit om te help.” Geen verwysing na die feit dat Carl nie veel van ’n keuse gehad het nie. “Waar bly jy?”

“ ’n Hotel hier naby.”

“Jy moet jou uitgawestrokies hou. Ek het ’n stewige begroting vir die job.”

Carl skud sy kop. “Ek sal self vir my reis en verblyf betaal.” Hy glimlag verleë. “Dit is die minste wat ek kan doen. Om dankie te sê … vir die guns.”

“Dis nie nodig nie. Ons vergeet nou van die verlede.”

“Ek dring daarop aan.”

Wessels glimlag. “Nou maar goed, as jy dit so wil hê.”

’n Ligte klop aan die deur laat albei mans se koppe draai. “Dis September,” sê Wessels. “Superintendent Leroy September, ek weet nie of jy hom ooit ontmoet het nie? Hy het by ons begin net nadat jy ondergronds gegaan het. ’n Knap kêrel, goeie navorser en uitstekende rekord by ander eenhede.”

September is ietwat ouer as Carl. ’n Lang, effe gesette man met dik brilglase en ’n Hitler-snorretjie. ’n Blou trui span styf om sy ronde maag, die grys langbroek ’n bietjie gekreukel. Hy knyp verskeie lêers vas onder sy arm.

“Dis vir my ’n voorreg om saam met jou te werk. Jy’s ’n legend in jou eie tyd. Ek is bly jy gaan ons met dié een help,” sê hy joviaal en skuifel steunend agter die lessenaar in.

Carl lag. “Moenie altyd glo wat ander mense jou vertel nie.”

“Ek kan jou verseker hy is net nederig,” sê Wessels vir September en wys vir Carl hy moet sit.

Wessels beduie na September. “Reg, voor Leroy jou toegooi met inligting, net die volgende: hy sal jou enigste kontakman wees in die dae wat voorlê. Net hy en ek weet jy is op dié job. Nie eers die kommissaris of minister nie. Ook nie die CIA nie. Hulle is onder die indruk net Leroy gaan betrokke wees. Gedurende dié operasie sal hy uit sy huis werk. Die ander personeel in die eenheid is onder die indruk hy is met studieverlof. Hy sal voortdurend in direkte verbinding met die CIA wees en sal jou van inligting voorsien soos hy dit inkry. Op jou beurt sal jy hom daagliks moet inlig omtrent jou vordering. Soos jy met Benade gemaak het gedurende die dwelmsaak.”

“Nie ’n probleem daarmee nie,” sê Carl en voel ’n on­rustigheid oor hom kom met die verwysing na die dwelmsaak. Watse soort hel wag dié keer op hom?

Wessels kyk na September. “Jy kan afskop. Ek sal aanvul waar ek dit nodig ag.”

September slaan een van die lêers oop. Hy druk die groot bril met sy voorvinger hoër op teen sy neus, maak keel skoon voor hy begin. “Eers bietjie background. Amper twintig persent van die wapens wat in die wêreld in omloop is, is onwettig aangeskaf … gekoop of gesteel. Wapensmokkelaars was nog nooit so aktief soos nou nie. Gedurende die Koue Oorlog het regerings private wapenhandelaars gebruik om koverte wapenhandel te hanteer. Toe die Koue Oorlog eindig, het dié netwerke net so operational gebly. Maar ’n nuwe generasie onwettige handelaars het ook op die horison begin verskyn, mense wat die ingewikkelde swartmarkmetodes en netwerke onder die knie gekry het en nou beter sake doen as die tradisionele wapensmouse.”

September kug en gaan voort: “Ondanks die Verenigde Nasies se resolusies en ontwapeningstrategieë en lande se wapenooreenkomste, is onwettige handel nog very much lewendig. Nuwe en tweedehandse wapens is in oorvloed en cheap-cheap beskikbaar in veral die Oekraïne en ander dele van Rusland en China. Die wapensmokkelaars gebruik vragskepe, vragvliegtuie en padvervoer om hul ware te vervoer. Vervalste vragdokumente, swak gepatrolleerde grense, swak polisiëring en korrupte regeringsamptenare maak hul taak baie maklik. Veral in Afrika.”

“En dit gaan ons fokusarea wees,” sê Wessels.

“Afrika?” wil Carl met ’n frons weet. Hoekom sou Afrika die SAPD se probleem wees? wonder hy, maar September verstaan hom verkeerd:

“Ja, in Afrika lyk dinge bleddie sleg. Staatsgrepe die afgelope dekade in Liberië, Madagaskar, Sentraal-Afrikaanse Republiek, Guinee-Bissau, Togo, Mauritanië, Somalië, Tsjad en ’n klomp ander vertel die storie. Verder is daar burgeroorloë in baie ander Afrika-lande aan die gang waar rebelle met swartmarkwapens die shit uit hul landgenote skiet. Rwandese vlugtelinge het byvoorbeeld in die Demokratiese Republiek van die Kongo hergroepeer en voer nou ’n skrikbewind daar. Só is daar talle ander voorbeelde, maar dis nie nou belangrik nie.”

Hy trek ’n ander lêer nader, skuif weer sy bril in posisie. “Die CIA het ons gekontak oor onwettige wapenhandel in Nigerië waar militias die ryk olievelde besteel. Die VSA koop meer olie aan by Nigerië as by baie ander bekende olieproduserende lande. ’n Klomp Amerikaanse maatskappye ontgin ook olie in die Niger-rivierdelta. Nigerië is dus vir die Amerikaners ’n helse belangrike bron van olie.

“Wat hulle operasies bedonner, is die feit dat die rebelle nie net olie op groot skaal steel nie, maar ook werknemers van die oil companies ontvoer en dan belaglike ransoms eis vir hul vrylating. Van dié companies se verliese is tot byna ses honderd duisend vate ’n dag, meer as Suid-Afrika se totale daaglikse olieverbruik. Die rebelle boor gate in die oliepypleidings en verkoop die olie aan Nigeriërs en naburige lande.

“Ontvoerings het nou ook amper ’n besigheid geword. Honderde buitelanders word jaarliks ontvoer. Sommige rebellegroepe regverdig hul aksies deur te sê hul land se arm bevolking word ge-exploit. En dit is ’n feit dat die grootste deel van Nigerië se bevolking min voordeel trek uit sy ryk oliebronne. Maar ongelukkig is dit nie die ware redes vir die rebelle se optrede nie.”

“Die meeste rebelle,” onderbreek Wessels hom, “is niks anders as gewone misdadigers wat politieke retoriek gebruik om hul winsgewende handel in olie en ontvoerings te verskans nie.”

September knik en gaan voort: “Die Nigeriese weermag fight ’n verlore stryd teen die rebelle. Vir elke rebel wat geskiet word, word ’n paar Nigeriese soldate doodgemaak. Die groot oorsaak kan maar net weer gesoek word by die moerse klomp wapens wat vir die militias beskikbaar is.” Hy kyk op na Carl, verstel weer sy bril.

“Dis als baie interessant,” sê Carl, “maar ek is nuuskierig om te weet hoe dit ’n probleem van die SA Polisiediens kan wees?” Hy is gespanne oor sy rol en kan nie wag dat September by die punt uitkom nie. In sulke sessies was geduld selde een van sy bates. Hoewel die Wessels-opdrag aanvanklik soos ’n doodstyding oor sy kop gehang het, voel hy vir die eerste keer in ’n lang ruk amper uitgelate. Dié taak is sy groot geleentheid om te ontsnap uit die boeie van sy skuldige gewete, sy misstap reg te stel. Sodat hy hopelik die wêreld weer vierkantig in die oë kan kyk.

“Jy’s te haastig,” sê Wessels laggend. Hy beduie vir September om voort te gaan.

“Die CIA hou al vir die afgelope jaar of wat ’n man in Nigerië dop wat as agent optree vir ’n enorme weapons syndicate. Sy naam is Henry Adaka. Groepe wat wapens wil koop, kontak Adaka. Hy tree as ’n broker op en plaas ’n bestelling by die syndicate, wat die wapens aankoop en aflewer. Jy kan nie in Nigerië aan Adaka raak nie. Daar is soveel regeringsamptenare wie se handpalms blink gepolish is met bribe-geld van Adaka, dat hy oral beskerming kry. Wat ironic is, want hy is juis die ou wat wapens laat insmokkel om soms teen die regering se eie soldate te gebruik.”

September glimlag. “Maar geld is ’n magtiger wapen as enigiets anders in Nigerië. Adaka sal dit ook nie waag om Nigerië se grense oor te steek nie. Hy weet die moontlikheid is groot dat die CIA hom sal vastrek. Hulle wil hom ook nie nou al regtig uitskakel nie, want hy is net die middelman. Die CIA is veral agter die weapons syndicate en die wapenverskaffers aan.”

September kug, skuif weer sy bril op sy neusbrug. “Nog ontstellender is dat dieselfde syndicate via Adaka aan die Taliban in Pakistan wapens begin voorsien, wat die Amerikaners se broeke laat bewe. Dit ondermyn die stabiliteit van die kerngewapende Pakistan. Die Taliban is ook kop in een mus met die Al Kaïda van Afganistan, wat die Amerikaners nog meer nervous maak. ’n Mens weet eenvoudig nie waartoe dié mense in staat is nie. En as Pakistan deur die fundamentaliste oorgeneem word, kan dit beteken dat Moslem-terries die wêreld óf met kernwapens gyselaar hou óf Westerse stede level met die gravel maak. Genuine ’n onheilspellende vooruitsig.”

September laat Carl plek-plek aan ’n lektor in staatsleer dink.

Wessels knik. “Dit kan katastrofiese gevolge vir almal in die Westerse wêreld inhou.” Hy glimlag. “Maar ons het nou ’n lang draai gemaak voordat ons by die punt uitkom. En dit is dat die wapensindikaat heel moontlik uit die hartjie van Kaapstad deur Suid-Afrikaners bedryf word.”

Carl besef meteens waarom hy betrek is. Die knop in sy maag trek stywer. Dit gaan heeltemal ’n ander ball game wees as toe hy ondergronds gewerk het tussen ’n klomp ongeletterde dwelmhandelaars. “Weet julle wie die sindikaat is?”

“Nee, maar die CIA is honderd persent seker van die Kaapse konneksie,” antwoord September. “Hul kontakte in Nigerië het die afgelope paar jaar by meer as een geleentheid via Adaka bevestiging daarvan gekry. Adaka verwys openlik na sy ‘white boys from Cape Town’ wat die wapens aankoop en versprei. Die probleem is dit is al wat hulle weet. Adaka het nog nie sy groot mond verbygepraat oor presies wie sy manne in Kaapstad is nie. Dit is duidelik hy is ’n vennoot in die syndicate. Só hy sal nie maklik sy groot bron van inkomste se identiteit verklap nie.”

September haal sy bril af, beduie daarmee na die lêer. “Henry Adaka is ’n uitgeslape kalant en seker die bekendste broker in vandag se onwettige weapons game. Maar as hy op ’n manier uitgeskakel word, sal iemand anders hom gou vervang en ons Kaapse ouens sal maar net voortgaan soos nou. Dit is duidelik dat hulle oor die jare ’n baie goeie netwerk van wapenhandelaars opgebou het en hulle gaan uiters slim en versigtig te werk. Nog nie een van hulle sendings het skeefgeloop nie. Hulle het duidelik al die kunsies van die swartmarkhandel onder die knie.”

“Is hulle groot spelers in vergelyking met ander sindikate?” wil Carl weet.

September knik, rek sy oë. “Die CIA skat hulle is verantwoordelik vir tussen sestig en sewentig persent van alle swartmarkwapens aan Afrika. Die groot vrees bestaan natuurlik nou dat hulle dieselfde sukses met wapenvoorsiening aan die Taliban en Al Kaïda sal behaal.”

“En dis waar ons inkom,” sê Wessels. “In kort gaan jou taak wees om hierdie sindikaat binne te dring en hul bedrywighede bloot te lê. Ons het die CIA se volle ondersteuning. Hulle is tot bereid om groot bedrae geld vir dié operasie beskikbaar te stel indien ons dit verlang, vir byvoorbeeld die aankoop van wapens om die persepsie te skep ons mol is ’n groot speler in die bedryf.” Hy glimlag. “Moenie ’n fout maak nie, dit gaan ’n helse uitdaging wees. Maar ek glo as daar iemand is wat dit vir ons kan doen, is dit jy.”

“Klink na ’n tawwe uitdaging,” sê Carl. “Wanneer begin ek?”

Wessels kyk ingenome na September. “Het jou mos gesê, dié man deins vir niks terug nie.”

“Ek like daai positive attitude!” sê September met ’n breë glimlag. Hy bondel die lêers bymekaar en oorhandig dit aan Carl. “My voorstel is jy study daai eers. Ek gee jou ’n dag. Dan ontmoet ons twee en bespreek ’n strategie vir hoe ons dit gaan tackle. Ek en die direkteur het klaar idees, maar ons wil hê jy moet vars daarna kyk en daaroor dink. Ons wil jou nie nou beïnvloed nie.”

“Reg met my,” sê Carl en neem die lêers. Hy probeer homself oortuig dit is net nog ’n polisiesaak dié, niks om onnodig oor gespanne te raak nie.

Slagyster

Подняться наверх