Читать книгу Slagyster - Rudie van Rensburg - Страница 15
12
ОглавлениеCarl stap sommer weer van die hotel na die gebou in Groenpunt vir sy afspraak met Leroy September. Die mis het sy wit kleed oor die berghange gesprei, dis grou en ’n motreëntjie sif sag op die sypaadjie neer. Die eerste teken dat die Kaapse winter hier is.
Hy kon nooit die wintermaande se nat weer hanteer nie. Hy was te lank in Johannesburg. Soms smag hy nog na ’n egte Hoëveldse somer-donderstorm. Reën wat in groot druppels op die aarde neerstort. Weerligstrale wat soos riviere op ’n landkaart in die hemelruim geëts word. Wolke wat na die storm welkome strale sonlig laat deurfilter. Die verfrissende reuk van nat grond wat uit die dankbare bodem opwalm. Hy het altyd gesê die Kaap sou die wêreld se paradys wees as dit Johannesburg se klimaat gehad het. Maar in die Goudstad wil hy nooit weer bly nie. Die Klein–Karoo was sy goue middeweg.
September wag reeds in die lokaal waar hulle twee dae gelede vergader het. Hy kom vinnig orent toe Carl ingestap kom. “Genoeg tyd gehad om deur al die dokumente te gaan?” wil hy weet.
Carl knik. “Ja, interessante leesstof, goeie agtergrond oor wapenhandel.”
“Dis vir ons ’n belangrike een dié. Dis nie aldag dat die CIA so swaar op ons samewerking steun nie.”
Carl hou van September. Hy lyk geesdriftig en na ’n deeglike kêrel. As jy ondergronds gaan, soek jy ’n vennoot wat jy met jou lewe kan vertrou. Benade, sy kontakman gedurende die dwelmsaak, was só ’n man, maar hy was ’n ou suurknol met geen humorsin nie. Tydens die dwelmsaak het Carl soms gesmag na iemand wat hom kon opbeur. Die lagplooitjies om September se oë dui op iemand met ’n meer ontspanne geaardheid. Carl het ook gehou van die gemaklike manier waarop hy die wapensaak verduidelik het, al was hy soms te langdradig na sy sin.
September haal ’n notaboekie uit sy binnesak, slaan dit oop. “Ek het twee onderwerpe waaraan ons aandag moet gee.” Hy druk sy groot bril reg. “Eerstens, jou nuwe identiteit. Jy is voortaan Carl Weideman. Ons het besluit om jou voornaam te hou. Dit maak dinge vir jou makliker. Indien ’n kennis jou raakloop in die teenwoordigheid van iemand wat jou as Weideman leer ken het, gaan die ‘Carl’ jou nie onmiddellik weggee nie.”
Carl knik. “Goeie idee. Dit was een van ons blapse met my vorige ondergrondse ondervinding.”
September lag. “Ek het dit in jou dwelmverslag opgetel. Jy het twee close encounters gehad.”
“Ek is beïndruk.”
“Gelukkig leer ons mettertyd uit ons foute. En jou dwelmverslag was vir ons ’n lekker kompas om dit uit te skakel.”
Hy stryk sy Hitler-snorretjie met sy voorvinger plat, druk weer sy bril met sy duim hoër op. “Om dit kortliks te stel, Carl Weideman is ’n aartskrimineel. Twee keer in die tjoekie vir dwelmsmokkelary. Ons het met die departement van korrektiewe dienste gereël dat ’n inskrywing vir só ’n persoon geskep word. Enigiemand wat navrae doen, sal jou nuwe naam in Pollsmoor se rekords kry. Omdat jy ervaring van die dwelmwêreld het, sal jou kennis daarvan jou help om dié wat swaar sluk aan jou storie, te oortuig jy weet waarvan jy praat. Ons het ’n volledige biografie vir jou geskryf. In Johannesburg gebore, eienaar gewees van ’n klein security firm, Weideman Armed Response. Daar het jy wapens leer ken. Dit het nie goed gegaan met jou business nie. Jy het Kaap toe gekom, met dwelms begin smokkel en is twee keer deur die polisie vasgetrap. En nou het jy ’n comeback na die wapenbedryf gemaak. Natuurlik op ’n baie groter skaal as voorheen. Jy sal môre saam met jou nuwe identiteitsdokumente die volledige biografie kry.” Hy lag. “Dit is vier en veertig bladsye. Só daar wag ’n shitload leerwerk op jou.”
Carl grinnik. “Ek is al een keer daardeur. My dwelmbiografie was amper sestig bladsye.”
“Het jy al idees oor hoe mens kontak met die wapensmokkelaars gaan maak?” wil September weet.
“Ja. Ek dink daar is twee maniere om dit aan te pak. Die eerste een is om myself voor te doen as iemand wat namens ’n groep wapens wil bekom. En om dan natuurlik vir Adaka in Nigerië te kontak en te hoop dat sy wapenhandelaars dit aan my gaan verskaf.”
September knik. “Dit was ook my en direkteur Wessels se idee.”
“Ek het probleme met daardie roete,” sê Carl. “Adaka is gewoond aan groot bestellings. As ek hy was, sou ek onraad vermoed het as ’n wildvreemde wit Suid-Afrikaner hom kontak om ’n hand vol wapens te wil aankoop. Bestel ek ’n groot hoeveelheid, ontstaan die vraag vir wie koop ek dit aan — ’n fiktiewe rebellegroep? Hy het sekerlik genoeg kontakte om gou genoeg uit te vind of daar wel só ’n groep bestaan. As ek ’n lid van die wapensindikaat was, sou ek ook beslis nie aan só ’n bestelling geraak het nie. Dit ruik te veel na ’n polisielokval.”
“Ja, daar is risiko’s en ons sal dit verseker moet uitcheck, maar is daar rêrig ’n ander opsie?” wil September met ’n frons weet.
“Ek dink so. Waarom doen ek myself nie as ’n wapenverskaffer en -handelaar voor nie? Iemand wat ’n bron van onuitputlike wapens het en dit nou probeer smous.”
September laat rus sy kop in sy hande, ’n frons op sy voorkop. “Hmm … Interessant, vertel dat ek hoor.”
“Ek dink die belangrikste punt is om nie direkte kontak met die wapensindikaat te probeer maak nie. Laat hulle my eerder probeer opspoor. As ek Adaka nader om wapens aan sy kliënte te smous, is die kans goed hy gaan nie belangstel nie. Hy het sy eie mense met wie hy al lank saamwerk. Maar as ek hom ’n beter ooreenkoms aanbied, kan hy dalk net daarvoor val.”
September glimlag asof hy snap waarop Carl afstuur. “Jy bied dit met ander woorde vir ’n moerse cheap prys aan, een wat Adaka nie kan weier nie. En hy skakel sy Kaapse syndicate uit. Hy noem aan hulle dat hy ’n cheaper verskaffer gekry het en só kruip hulle uit hul gate om met jou te probeer kontak maak.”
“Nee,” sê Carl, “ek bied dit vir Adaka teen ’n markverwante prys aan.”
September stoot sy bril af tot op die punt van sy neus en loer bo-oor die raam, sy voorkop weer op ’n plooi getrek. “Ek verstaan nie. Hoekom sal Adaka ’n wildvreemde verskaffer se aanbod aanvaar, teenoor sy eie buddies en vennote van die afgelope paar jaar?”
“Wat ek van Adaka gelees het in jou lêers, is dat hy geldgierig is. Onthou, hy is die makelaar. Hy werk op ’n kommissiebasis. Sy Kaapse sindikaat betaal hom seker ’n vyfde, dalk op die meeste ’n kwart van die wins uit die wapenverkope. Adaka wil nie noodwendig goedkoper wapens aan die rebellegroepe verskaf nie. Goedkoper wapens maak sy kommissie kleiner. As ek hom vyftig persent of selfs sestig persent van die wins op markverwante pryse aanbied, gaan hy sy lojaliteite hopelik vinnig oorboord bliksem.”
“Hoekom sal ’n handelaar so ’n moerse groot hap van sy wins afstaan?”
“Omdat ek nuut in die bedryf is. Adaka is my paspoort tot kliënte. Ek sal enigiets doen om ’n voet in die deur te kry. Dit is ’n geloofwaardige manier van dink. Hy behoort dit só in te sien,” sê Carl.
“En jy hoop jy kan só die Kaapse syndicate se aandag op jou vestig?”
“Stel jou in hulle posisie. Hulle makelaar met wêreldwye kontakte, die groot bron van hul inkomste, verkies skielik ’n ander wapenhandelaar. Dit gaan ’n geskarrel aan hulle kant veroorsaak. Hulle gaan één van drie dinge doen: óf hulle gaan met my probeer saamwerk, óf hulle gaan my probeer dreig, óf hulle gaan my probeer uitskakel. In al drie gevalle gaan hulle met my kontak maak.”
’n Breë glimlag verskyn op September se gesig. “Goeie dinkwerk … goeie bleddie dinkwerk!”
“Die vae moontlikheid bestaan natuurlik dat hulle hul kommissie aan Adaka kan opstoot om sy besigheid te behou. In so ’n geval kan ek egter met nog ’n beter aanbod kom, totdat hulle nie meer kostedoeltreffend kan meeding nie.”
“Jy is dus van plan om fisiek skietgoed aan ’n rebellegroep te lewer?”
“Ja,” sê Carl, “dit is al manier hoe ek geloofwaardigheid by Adaka gaan opbou. Ek sal sy vertroue moet wen. Ek weet die CIA gaan moontlik nie daarvan hou as ek wapens, wat ons met hulle geld bekom het, aan ’n vyandige faksie soos ’n Moslem-terroristegroep verskaf nie. Maar dit is die enigste manier hoe ek die aandag van die wapensindikaat op my gaan vestig. En ek is doodseker dit is die enigste roete wat vermoedens van ’n polisielokval by hulle sal uitskakel.”
“Ek sal jou plan van aksie by die direkteur en die CIA moet toets, maar ek hou van jou denkrigting,” sê September peinsend. “Moet sê, ons het nooit aan só ’n opsie gedink nie.” Hy kom orent. “Intussen gaan jy leerwerk hê. Dit sal môreoggend saam met jou nuwe ID-dokument en paspoort by jou hotel afgelewer word.”
“Ek was nog nooit so reg om aan die werk te spring nie.”
September klop Carl liggies op die skouer. “Ek het ’n gevoel ons twee gaan bleddie goed saamwerk.”