Читать книгу Slagyster - Rudie van Rensburg - Страница 4
1
Оглавление27 Mei 2008
Sy asemhaling jaag en sy bors dein nog wild van die inspanning, maar hy staar stip na die geld. Nege groot sakke, boepens gestop met note, die bondeltjies netjies soos handgranate styf langs mekaar ingelê. Hy tel ’n bondeltjie op. ’n Velletjie papier wat met ’n rekkie om die note gebind is, dui aan dit is twee duisend drie honderd rand. ’n Duisend bondeltjies in ’n sak? Minstens. Sy kop weier om die som te maak. Dis dwelmgeld, betaal deur voosgeprikte verslaafdes. Geld waarvoor baie van hulle geroof en gemoor het, hulle offerandes aan die dwelmgod.
Hy sleep ’n houtkrat na die middel van die vertrek om op te sit, sy bene meteens wankelrig. Hy kyk na die twee dooies op die sementvloer, elk omring deur ’n plas bloed. Die een lê met sy kop skuins teen ’n geldsak, sy oë leweloos op die plafon gerig. Sy arm lê gedrapeer oor sy bors, die hand soos die klou van ’n roofvoël, die vingers kromgetrek soos hy krampagtig gegryp het na waar hy die pyn gevoel het. Sy een been is onder sy liggaam ingevou. Die ander man lê op sy maag, sy een hand teen sy wang, die ander langs sy sy, asof hy op ’n strand lê en ontspan. Sy agterkop is oopgeruk waar die koeël se loodpunt die been verlaat het.
In die rakke teen die mure is die dwelms in bruin papiersakke en houers verpak. Vir die ongeoefende oog kan dit soos ’n sementstoor lyk, onskadelik, alledaags. Tot jy die fynskrif op die sakke lees: Buttons, Crack, Tik … Sy opdrag is volvoer. Drie jaar van sorgvuldige beplanning, berekende risiko’s, toneelspel, versinsels, misleiding, angssweet en nagmerries het tot ’n einde gekom. Sy maag is nog saamgetrek soos ’n vuis, sy hande bewe liggies, maar hy lag. Dit eggo in die groot ruimte.
Hy’s dankbaar hy lewe. Hoeveel keer het hy nie vermoed hulle het snuf in die neus nie? Dat hulle hom gaan ontbloot as ’n mol wat hul vesting binnegedring het? Dat ’n koeël deur sy kop gejaag gaan word? Dat hulle met ’n jagmes sy oogballe soos druiwekorrels gaan uitdop, soos hulle met ander gedoen het?
Was dit die hel werd? Hy vryf oor sy ongeskeerde ken. Hy is veronderstel om nou op sy borskas te tamboerslaan, ’n oorwinningskreet uit te gil, vanaand met die beste Franse sjampanje moedeloos gesuip te raak.
En dan? Moontlik op ’n medaljeparade as ’n held vereer te word, met ’n aanprysingsertifikaat van die minister self. ’n Klein bonus dalk, net genoeg om ’n skaflike TV-stel mee te koop. En dan terug na die roetine … die spoor vat van moordenaars, geweldenaars, roofbendes. ’n Roetine van skiet, skop en opfok in ’n land waar ’n menselewe soms minder werd is as ’n hondedrol.
Hy haal sy selfoon met moeite uit sy broeksak. Laat hy die groot nuus breek en die direkteur inlig. Sodat hy die kommissaris kan vertel, wat die minister onmiddellik sal verwittig. Die SA Polisiediens se uur van triomf! Die grootste dwelmnes suid van die Sahara is blootgelê, die drug lords agter tralies of in hul grafte.
Hy kan hom die trant van die koerantstories indink: Die dwelmmafia se derms is uitgeryg. Dit lê gestrooi oor die Kaapse Vlakte, die stadskom en rykmansbuurte waar hulle voorheen hul skrikbewind gevoer het. Die SAPD se ystervuis het hard en diep in die moederstad se dwelmmaag geboor.
Die polisie se Skiereilandse mediawoordvoerder sal sy geluk nie kan glo nie. Uiteindelik gaan hy iets positiefs hê om uit te reik waaroor die media en moontlik die misdaadvoos publiek opgewonde sal raak.
Tot die skemerwêreld hergroepeer. Want hul wiele sal gou weer draai. Die dwelmtrein word dalk gestuit, maar nooit ontspoor nie.
Hy hou die selfoon in sy hand, maar bel nie. Hy staar lank na die geld. Hy sal sy lewe omswoeg om net een só ’n sak geld in salarisse te verdien. Dis nou 2008. Hy is ses en dertig jaar oud. Op sestig, in 2032, sal hy waarskynlik een sak geld bymekaar gemaak het. Dalk twee?
Of hy kan nou aftree, skatryk, met ’n paar sakke. Sy droom bewaarheid: ’n plaas in die Klein-Karoo koop en met olywe boer, die son op sy vel voel brand, die skoon lug inasem, die volle glorie van die aandsterre aanskou. En elke jaar op ’n eksotiese eiland gaan vakansie hou, waar sy belangrikste besluit sal wees of hy op die strand of langs ’n swembad, of op ’n masseerbed by die spa of in sy lugverkoelde kamer moet gaan lê. Waar hy in ’n kleurvolle hemp, swembroek en sandale saam met ’n mooi meisie tussen die palmbome kan wandel, soos die toerismebrosjures die sorgelose rykmanslewe so aanloklik uitbeeld. Waar hy by ’n casino ’n paar rand kan blaas bloot vir die genot en omdat hy dit kan bekostig. En hom daarna aan eksotiese viskos kan oorgee voordat hy terugkeer na sy luukse suite.
Sy gedagtes fladder tussen reg en verkeerd. Toe hy van die krat opstaan, het hy ’n besluit geneem. Niemand behalwe hy weet hoeveel sakke geld hier is nie. Nie sy kollegas by die polisie nie, nie die ontvanger van inkomste nie, nie die minister van finansies nie. Dié wat geweet het, is dood. Hy steel nie van die rykes of die armes, die weduwees of die wese nie. Hy neem by ’n klomp gewetenlose skurke, oortuig hy homself.
Hy gaan vinnig te werk, voor hy van plan kan verander. Hy sleep ses sakke buitetoe. Hy moet elke greintjie krag inspan om dit op die bakkie te laai. Dan ry hy met die klipperige grondpad na waar hy twee ure vantevore nog hul bewegings met ’n verkyker dopgehou het.
Ondanks die aandskemer kry hy maklik die afdraaiplek in die veld. Honderd meter verder hou hy stil. Hy sleep die sakke een-een diep onder die rotswand in waar hy die vorige nag nog in sy slaapsak geslaap het, maak die opening dan sorgvuldig met takke toe. Bome en bosse vorm boonop ’n digte skans voor die opening, onsigbaar vanuit enige hoek. Hier kom ook nooit ’n siel nie … drie dae was genoeg tyd om die omgewing deeglik te verken.
Op pad terug na die stoor klem hy die stuurwiel met wit kneukels vas. Hy het pas iets gedoen wat hy in sy wildste drome nie sou voorsien het nie. Die modelpolisieman het ’n helse lot geld gesteel.
By die dwelmstoor vee hy eers die vloer skoon om die sleepmerke op die stowwerige sementoppervlakte uit te wis. Hy ril toe hy drie geroeste slagysters in die een hoek sien lê, die soort waarmee jy groot diere vang. Hy het ’n paar in die veld om die stoor opgemerk, half versteek in die lang gras. Dit is bedoel vir ongenooide nagbesoekers, ’n primitiewe alarmmaatreël vir die stoor se bewakers. Sy voet was enkele sentimeters van een af toe hy die stoor bekruip het. Hy het dit net betyds raakgesien, die slagyster se beuels kragtig genoeg om ’n mens se been te vergruis.
Toe hy tevrede is met sy handewerk, bel hy dadelik om dit verby te kry. Hy’s gespanne, die knop in sy ingewande het stywer getrek.
“Direkteur, dis Carl Bester. Die laaste stuk van die legkaart het in plek geval.” Hy glimlag wrang vir sy dramatiese aankondiging: direkteur Wessels verwys altyd na die stukke in ’n legkaart en hy kan netsowel dié metafoor gebruik om die goeie nuus oor te dra.
“Ek het hulle stoorplek opgespoor. Ongelukkig moes ek skiet … twee is dood. Hier’s genoeg dwelms om die suidelike halfrond vir ’n paar maande op ’n high te hou. En drie sakke geld … ’n hele paar miljoen rand as ek vinnig moet skat.”
Die huiwerige sarsies waarmee hy die gebeure opsom, klink vir hom lomp en huigelagtig. Hy wonder of Wessels onraad gaan vermoed, maar dié is oorstelp. Die direkteur se lofprysinge dien egter bloot as agtergrondklanke vir sy eie onrustige gedagtes. Wessels sluit af deur te sê hy laat die Worcester-polisie dadelik weet en hy sal ook ’n span van die aksie-eenheid na die stoor stuur.
Sy hart klop in sy keel terwyl hy die foon terug in sy sak druk. Die harde werklikheid van wat hy gedoen het, het nou eers behoorlik ingesink. Daar is nie meer omdraaikans nie. Hy stap na die krat en gaan sit. Die skerp daklig laat die sweet op sy voorarms blink.
Carl skud sy kop en moet ’n paar keer diep asemhaal. Hy moet nou kalm bly. Paniek is die grootste enkele faktor wat dinge laat skeefloop. Dit is een van die eerste lesse wat hy as polisieman geleer het.
Hy tuur lank na die twee lyke. Sy gedagtes is in ’n warboel. Hy oorweeg dit vir ’n oomblik om in die bakkie te klim, die geld te gaan haal en sy diefstal ongedaan te maak.
Maar toe die twee uniformmanne van Worcester ’n halfuur later opdaag, sit hy steeds op die krat.