Читать книгу Slagyster - Rudie van Rensburg - Страница 14

11

Оглавление

Hy het Amelia Smit gegoogle, wat hy nooit moes gedoen het nie. As hy nie het nie, was hy dalk nou minder gespanne. Sy word deur sommiges “die straatkat van joernalistiek” genoem. “Probeer iets vir Amelia Smit verdoesel en sy sal jou met haar naels dissekteer en saam met die visgrate op die ashoop uitspoeg,” het een kommentator haar lof besing in ’n artikel oor die voorste ondersoekende joernaliste in Suid-Afrika. Talle voorbeelde is gegee van hoe sy korte mette gemaak het van bekende politici en vooraanstaande sakelui.

Peter Graves skud sy skop. Hy bid net dié nagmerrie gaan spoedig eindig. Hy is die afgelope twintig jaar die bestuurder: openbare aangeleenthede by die Star Petro Development Company of USA-Africa se streekhoofkantoor: Suidelike Afrika. Hy is sestig en tree aan die einde van die jaar af.

Peter geniet sy werk. Hy skryf ’n paar toesprakies per jaar vir die streekhoofbestuurder. Hy neem die oorhandigingseremonies waar van rekenaars by ’n hand vol skole vir minderbevoorregtes in Suid-Afrika, Botswana, Namibië, Zimbabwe, Malawi, Zambië en Malawi. Hy koördineer die maatskappy se teateroptredes gerig op vigsbewusmaking by nywerhede in dié streek. En hy identifiseer ander welsynsprojekte wat die maatskappy se beeld poets en ’n bydrae lewer om Star Petro as ’n goeie korporatiewe burger gevestig te hou.

Dis sy taak om die hart van die maatskappy vir die streek oop te maak, verduidelik hy graag aan sy vrou. Hy is die ambassadeur, die man wat ook die persepsie moet uitdra dat die maatskappy voortdurend deur kalm waters vaar en dit voorspoedig gaan hier by Star Petro in Johannesburg.

Dit is werk so reg in sy kraal. ’n Rustige tempo met min ergernisse.

Maar Ryan Deetlefs se ontvoering in Nigerië het sy sorgelose bestaan omvergewerp. Skielik moet hy telefoonkonferensies met die hoofkantoor in New York voer, streng voorskrifte nakom, indringende medianavrae hanteer, diplomatieke spronge uitvoer om mense te kalmeer, moeilike vrae van die Suid-Afrikaanse owerhede beantwoord. Die afgelope week was hy meer in die streekhoofbestuurder se kantoor as in die twintig jaar wat hy hier werk.

Peter kon druk nog nooit goed hanteer nie. Dit is waarom hy destyds as koerantjoernalis bedank het. Spertye was sy doodsteek. Hy moes rustig aan ’n taak kon arbei en dít kon die pers nooit duld nie.

Skielik word daar weer van hom verwag om vinnig antwoorde te verskaf, verklarings onder druk uit te reik, standpunte te stel.

En nou kom Amelia Smit ’n onderhoud met hom voer. Hy sug swaarmoedig en vee oor sy klam voorkop. Namens Time, dié Time. Toe hy ’n paar dae gelede met haar oor die foon gesels het, was hy nie werklik bekommerd nie. ’n Afrikaanse vrou wat beweer sy skryf vir al daardie hoëprofiel-publikasies! Bulldust, het hy geglo. Hy het ook nie weer aan haar gedink nie. Nadat sy hom gebel het, het soveel gebeur dat hy van haar oproep vergeet het. Volgens sy sekretaresse het sy die volgende dag ’n boodskap gelaat, maar hy het nooit aandag daaraan gegee nie.

Eers was dit die hoofkantoor in New York, toe samesprekings met buitelandse sake, toe die plaaslike pers wat via Reuters van die ontvoering uitgevind het. Die SABC en e.tv se televisiediens was selfs hier. Hy het hoofkantoor se verklaring voor die kamera afgelees. Hulle het negentien sekondes daarvan op die seweuur-nuus gebruik. Die streekhoofbestuurder het hom persoonlik gelukgewens, maar gevra hoekom hy dit met so ’n frons gedoen het. “Dit het kompleet gelyk asof jy ernstige aambeiprobleme het,” het hy gesê onder dawerende gelag van die res van die hoofbestuurslede op ’n buitengewone vergadering oor die aangeleentheid.

Dit is sulke opmerkings wat Peter se selfvertroue, wat hy stelselmatig deur die jare opgebou het, ernstig knou. Hom laat twyfel in sy eie vermoëns, soos in sy dae by die koerant.

Die hoofbestuurder se sekretaresse het hom gister kom inlig hy moet Amelia Smit van Time vandag namens die maatskappy te woord staan. Sy wou met die streekhoofbestuurder ’n onderhoud voer, maar hy het oornag ’n ernstige griepaanval ontwikkel.

Peter lees vir die soveelste keer die verklaring deur, die een waarvan hy in opdrag van New York onder geen omstandighede mag afwyk nie. Die maatskappy het nog nie amptelik die eise ontvang van die milisiegroep wat Deetlefs en sy kollegas ontvoer het nie. Gerugte wil dit hê dat ’n nuwe faksie vir die ontvoerings verantwoordelik is, maar dit kon nog nie bevestig word nie. Die maatskappy is egter reeds in samesprekings met die Nigeriese regering en weermag, wat die aangeleentheid dringend ondersoek. Die Suid-Afrikaanse regering is ook met Nigeriese owerhede in verbinding. Dit is die maatskappy se ondervinding dat gyselaars na ’n week of wat ongedeerd vrygelaat word. Geen gyselaar is al langer as tien dae aangehou nie. Daar is vanjaar reeds sewe van Star Petro se werknemers gyselaar geneem en hulle is almal vrygelaat. Tydens hul aanhouding is hulle goed behandel. Die maatskappy sal die Deetlefs-gesin op hoogte hou van alle verwikkelinge.

’n Klomp stellings in die verklaring is infame leuens, dink hy. Star Petro probeer tyd wen. En nou moet hy die donnerse vlamme van dié kant blus.

Hy kyk vlugtig op sy horlosie terwyl hy badkamer toe stap. Sy is amper hier. Hy spoel sy gesig met koue water af, druk dit dan versigtig met ’n handdoek droog. Tam oë met donker kringe onder hulle staar in die spieël na hom terug. Hy vee sy grys hare aan die kante van sy slape met sy klam hande in plek en verstel sy rooi das se knoop effens. Hy vryf ’n nat kolletjie op sy hemp vervaard droog met die handdoek, ruik onder sy armholtes en spuit sy asemverfrisser onder elke arm voordat hy daarvan in sy mond spuit.

Hy is skaars ’n minuut terug agter sy lessenaar, waarop hy dokumente en verslae só gerangskik het dat dit die indruk skep hy is oorlaai met werk, toe sy sekretaresse hom kom inlig Amelia Smit is hier.

Haar voorkoms verras hom. Hy het ’n middeljarige, onversorgde suurknol met ’n knypbrilletjie, geel tande en ’n rokerstem verwag. Dit is hoe hy sy generasie se gerekende vrouejoernaliste onthou. Maar sy is jonk en bitter mooi. ’n Asemrowende brunet met groen oë en ’n glimlag wat die modelle in tandepasta-advertensies tweederangs laat lyk. Sy’s lank, slank, bruingebrand. ’n Lae hals vertoon vol borste, haar kuite is subliem onder die knielengte rok.

Haar handdruk is ferm. “Meneer Graves … ”

Hy glimlag. “Noem my Peter.”

“En ek is Amelia,” sê sy vriendelik. Hy voel hoe sy selfvertroue terugsypel. Hy het nog altyd ’n slag met mooi vroue gehad.

Hy maak verskoning dat hy nie op haar boodskap gereageer het nie, maar stel dit duidelik sy was wel op sy opvolglys. “Ons het ’n effens dol tyd deurgemaak.” Hy skud sy kop dramaties. “Soms eis die korporatiewe omgewing meer as net sy pond vleis.”

Hy besluit om die leiding te neem, haar nie ’n gaping vir lastige vrae te gee nie. “Ek lees graag vir jou ons amptelike verklaring oor die aangeleentheid. En dit is ongelukkig al wat ek vandag vir jou te sê het, want ek het geen ander feite nie.”

Peter lees met nadruk. En sonder die frons, soos hy gisteraand voor die spieël geoefen het. Sy skryf niks neer nie, wat hom effens van stryk bring en hom ’n keer of wat oor sy woorde laat struikel.

Toe hy klaar is, haal hy sy skouers op. “Ongelukkig is dit al inligting tot my en my hoofkantoor in New York se beskikking. Ons wag om te hoor van die rebelle en die Nigeriese regering.”

Haar oë is stip op hom gerig, haar glimlag eensklaps iets van die verlede. “Peter,” sê sy, “kom ons vergeet vir ’n oomblik van die amptelike verklarings. Ek is hier om ten volle in die prentjie gebring te word. Nie net omdat ek ’n indiepte-artikel vir Time oor die gyselaarsituasie in Nigerië skryf nie, maar omdat Lea Deetlefs ’n baie goeie vriendin van my is.”

Hy hou sy handpalms na bo. “Amelia, ek het vir jou alles gesê wat ons weet. Daar is niks meer nie.”

“Wanneer laas was jy met jou hoofkantoor in verbinding?”

“ ’n Halfuur gelede … en dit is die jongste stand van sake.”

“En hoe gereeld is Star Petro se hoofkantoor met hul werknemers in Nigerië in verbinding?”

“Deurlopend. Minstens uurliks.”

Sy frons, skud haar kop. “Nou hoe verklaar jy dat vier van Star Petro se werknemers in Port Harcourt, met wie ek gister telefonies in verbinding was, weet wie die rebellegroep is wat Ryan Deetlefs en sy kollegas ontvoer het en boonop weet wat die eise vir die gyselaars se vrylating is?”

Hy skud sy kop heftig. “Dis blote bespiegelings.” Verdomp, dink hy, werknemers daar is nie veronderstel om met die media te praat nie.

Sy sit ’n vel papier voor hom neer. “Volgens ’n nuusverklaring van Associated Press, wat twee uur gelede al op die internet beskikbaar was, weet Star Petro en die Axo Drilling Company al vier dae lank die Oil For Nigerians-faksie is verantwoordelik vir die ontvoering van drie verskillende groepe buitelanders en hulle eis een miljoen vate olie per gyselaar as losprys. Wat woordeliks ooreenstem met die inligting wat julle werknemers in Nigerië aan my verstrek het.”

Peter voel hoe die sweet op sy voorkop pêrel. Sy mond is droog. Hy beduie na die Associated Press-berig. “Ek … wel, ek … kan nie kommentaar hierop lewer nie.”

“Dit is presies wat julle maatskappy se mediawoordvoerder in New York vir die joernalis van Associated Press gesê het. Julle lewer nie kommentaar nie.”

Sy plaas ’n gemanikuurde hand op sy lessenaar, tik met ’n slanke vinger op ’n hopie dokumente. “Peter, ek wil dit aan jou stel julle speel vir tyd. Een miljoen vate olie per gyselaar is volgens julle ’n buitensporige losprys. Julle sien nie kans om dit te betaal nie. Dit kan ’n duikie in jul miljard-dollar-besigheid maak. Daarom wil julle eers onderhandel met ’n groep wat duidelik sê hulle stel nie in onderhandelings belang nie. Julle dobbel met die lewens van julle eie werknemers en toon geen simpatie met die gyselaars se familielede nie. Dit is getraumatiseerde mense wat in spanning wag om van hul geliefdes te hoor.”

Hy stamel oor sy woorde, sy gedagtes in ’n warboel. “Ek … Dit … dit is nie so eenvoudig nie … Ons probeer om na almal se belange om te sien … Ons werknemers bly ons eerste prioriteit en … wel … ek … ek kan nie verder kommentaar lewer nie.”

Sy staan op. “Dit is duidelik jy is nie by magte om aan my antwoorde te verskaf nie. Ek sal met julle baas in New York praat.” Sy leun effens vooroor. Dit voel vir hom asof haar groen oë hom deurboor. “Maar glo my, as enige gyselaar iets moet oorkom omdat julle jul voete sleep, sal nie net ek nie, maar die wêreldmedia Star Petro ontbloot vir wat julle is — ’n geldgierige gespuis wat min waarde heg aan die veiligheid van hul werknemers.”

Toe sy uit is, bewe sy hande só dat hy nie hoofkantoor se nommer behoorlik op die telefoon kan insleutel nie.

Slagyster

Подняться наверх