Читать книгу Slagyster - Rudie van Rensburg - Страница 13
10
ОглавлениеHaar naakte vel vertoon okerbruin teen die ivoorkleurige muur agter haar. Haar swaar borste skommel ritmies in akkoord met hul liefdesdaad. Sy sit op Henry se groot torso, haar kop agteroor gebuig, haar mond oop in ekstase. Hul geluide van genot word verswelg deur die polsende musiek wat uit die reuse-luidsprekers aan weerskante van die bed dreun. Hul gesinchroniseerde orgasme gaan gepaard met ’n ligte trilling in haar onderlyf en ’n siddering wat deur sy liggaam golf.
Sy klim van hom en die bed af en steek ’n sigaret aan, wat sy vir hom aangee. Haar soepel lyf is blinknat van die sweet. Hy beduie dat sy langs hom moet kom lê. Sy vlei haar neer, die agterkant van haar kop in die waai van sy massiewe arm. Hy vryf oor haar borste met sy vlesige vingers, trek ru aan ’n tepel. Die slaapkamerdeur gaan stadig oop. ’n Skraal Oosterling met ’n dun snorretjie, ’n groot glimlag en geel tande verskyn. Hy beduie vir die groot man om die klank sagter te stel.
“Die brigadier is op pad. Hy wil weet of hy jou nog vanoggend kan sien,” sê die Oosterling, sy blik openlik op die swart vrou se gladgeskeerde geslagsorgaan.
Henry Adaka knik net om te wys dit is reg. Hy stoot die vrou van hom weg. “Sammy, betaal haar goed, sy verdien elke dollar.” Hy grynslag toe hy na haar kyk. “Wanneer jy weer kom, bring jy jou suster saam. Julle twee kan net groot pret in dieselfde bed wees.”
Die vrou knik glimlaggend terwyl sy ’n geblomde rok oor haar kop gooi. Henry sien die skraal toeskouer hou vanaf die deur elke beweging van haar dop met waterige skrefiesoë. Sy is bewus daarvan en wikkel die rok tydsaam af oor haar heupe. Sy druk haar broekie in haar handsak, blaas ’n soen vir Henry en skuur styf teen Sammy verby, wat agter haar by die kamer uitloop.
Henry klim steunend van die bed af, stryk die swart laken eers met sy hande glad voordat hy sy rooi satynkamerjas met ’n vinger van die stoelleuning opskep en aantrek. Hy tuur van sy kamervenster uit oor die krioelende stad. ’n Veelkleurige mensemassa beweeg drie verdiepings benede hom tussen die honderde stalletjies deur, die geroesemoes van opgewonde stemme, toetergeskal en die doef-doef van motorradio’s oorverdowend.
Henry glimlag. Sy vriende kan nie verstaan dat sy woonhuis in die middel van Port Harcourt se ou stadsgedeelte staan nie. Maar die geure, kleure, klanke en energie van sy geboortestad voed sy siel. As klein seuntjie het hy sy pa gereeld van hul sinkkaia in die ghetto aan die buitewyke van die stad vergesel na die kern, waar sy pa met groente op die sypaadjie gesmous het.
Hy het al in sy snotkoppiedae besluit hy sal eendag sy huis hier hê. Tien jaar gelede het hy die ou poskantoorgebou met sy koloniale boustyl gekoop en in sy woonhuis en kantoor omskep. Hy glimlag. Die mense verwys daarna as “Adaka’s Castle”.
Hy vryf peinsend oor sy maag. Hy weet hoekom brigadier Odili hom kom sien. Die nuus moes al versprei het. Sy lippe krul. Odili kan niks aan die saak doen nie. Hy sal dit maar net moet aanvaar. Die brigadier is al die afgelope vyf jaar op sy betaalstaat. Hy verdien jaarliks honderd duisend dollar vir sy samewerking en kan nie bekostig om Adaka teen te gaan nie.
Hy stap met die trappe af na die grondverdieping. In die groot eetkamer staan sy kombuispersoneel in gelid teen die muur. Hy klap sy vingers. “Die gewone.” Twee vroue skarrel kombuis toe. “En maak gou,” skree hy agterna, “ek verwag ’n besoeker!”
Binne enkele minute word ’n bord met drie gebakte eiers, spek, wors, aartappels, sampioene en tamaties aangedra. Hy tel die wors eers met sy hand op, verorber dit met twee happe en neem daarna die mes en vurk. Toe hy klaar geëet het, sluk hy ’n glas melk af met ’n paar teue. Die room maak ’n wit snor bo sy pers lippe. Hy vee dit af met sy kamerjas se mou en breek wind op.
Sammy verskyn in die deur. “Die brigadier is hier.”
“Ek kom, neem hom solank na die rooi sitkamer toe.”
Hy steek eers tydsaam ’n sigaret aan en vat ’n paar trekke voordat hy die eetkamer verlaat en na die rooi sitkamer stap. Die brigadier is ’n klein mannetjie, hy toring bo hom uit. Hy klap Adaka gemoedelik teen die arm. “Henry, my vriend, dis goed om jou weer te sien.”
Adaka beduie hulle moet sit. Die brigadier loer ongemaklik na die twee lyfwagte weerskante van die kaggel, gewapen met AK’s.
“Moenie jou aan hulle steur nie,” sê Adaka, “hulle is deel van my meubels.”
Die brigadier kug. “Henry, ek kom vandag as ’n vriend na jou. Om jou met raad by te staan, saam te kyk hoe ons ons verskille kan uitstryk. In ’n gees van … ”
“Kom tot die punt.”
“Die nuwe milisiegroep … die OFN … Ek verstaan jy is daarby betrokke?” vra hy onseker.
Adaka haal sy skouers op. “En as ek is?”
Brigadier Odili skud sy kop. “Die OFN maak dinge moeilik vir die regering. Die eise wat hulle gaan stel, sal probleme skep. Die Amerikaners kan dalk militêr wil ingryp.”
Adaka lag. “Hulle sal nie. Hulle het te veel probleme met Irak en Afganistan. Obama het ’n helse job voor hom om Bush se gemors op te ruim. Hy sal dit buitendien nie waag om onder sy Afrika-bloedbroers te begin skiet nie.”
“Henry, dis buitensporige eise!”
“Wat is so buitensporig daaraan? Die OFN vra net ’n deel van die olie terug wat aan sy mense behoort.”
“Dit benadeel nie net die Amerikaners en Europeërs nie, dit ondergrawe ook die Nigeriese regering se inkomste uit olie.”
“Die regering moenie vergeet wie hulle aan bewind gebring het nie. Dis ons mense van die Riviere-staat wat nou net ons regmatige deel eis.” Adaka glimlag. “Buitendien sal dit die olieprys opjaag. Almal sal wen. Die regering ook.”
Odili skud sy kop. “Henry, jy’s ’n welvarende man. Jy maak geld uit wapens wat wêreldwyd versprei word, ek hoor jou scam-besigheid met e-posse groei elke jaar. Waarom nou betrokke raak by ’n milisiegroep?”
“Ek doen dit vir my mense, brigadier. Dis op hulle aandrang.”
“Die Amerikaners en Britte gaan dit nie duld dat julle hul werknemers vir etlike maande gyselaar hou nie.”
“Hoe gouer hulle aan die OFN se eise voldoen, hoe gouer kry hulle hul mense terug.”
“Maar julle kan nie dreig dat julle hul mense een-een gaan doodmaak as die eise nie volgens jul spertye geskied nie. Henry, een miljoen vate per gyselaar is ’n groot losprys!”
Adaka lag. “Moet my nie probeer bullshit nie, Brigadier. Dis nie ’n druppel in die emmer nie. Daar word twee miljoen vate ’n dag in die delta gepomp.”
Odili sug en skud sy kop. “Ons regering sal verplig wees om op groot skaal in te gryp. Hulle sal troepe van oral mobiliseer om die OFN uit hul skuilplekke te jaag.”
Adaka wikkel homself uit die stoel en staan op. “Sodra dit gebeur, gaan die OFN begin gyselaars doodmaak. En dit is ’n belofte. Ons het in dié stadium veertien in drie verskillende kampe en voor die einde van die maand sal daar nog wees. Die buitelanders is sagte teikens.” Adaka wink een van sy lyfwagte nader. “Neem die brigadier uit. Ons het klaar gesels.”
Hy skud hande met Odili. “En Brigadier, jy beter hierdie standpunt van die OFN hard en duidelik aan jou hoofde oordra. Jy en ’n paar van hulle is op my betaalstaat. Moenie julle Kersbonusse vanjaar met swak besluite verbeur nie.”