Читать книгу Kamikaze - Rudie van Rensburg - Страница 13
10
ОглавлениеKolonel Donald Daniels tuur peinsend na sy kantoor se plafon terwyl hy op Kassie wag. Sy gedagtes gaan terug na destyds toe hy bevelvoerder van die Nuweland-stasie geword het. Hy onthou goed hy was nie juis beïndruk met die vaal spannetjie speurders wat hy geërf het nie. En veral nie met Kassie Kasselman nie.
Kassie was veronderstel om die golden boy van die spul te wees, volgens sy personeelrekord en die vorige bevelvoerder se verslag. Maar net geoordeel na sy uiterlike het Daniels ernstige voorbehoude gehad – Kassie se slordige voorkoms en bedeesde houding was eenvoudig nie versoenbaar met dié van ’n bobaasspeurder nie. Hy het Daniels ook te veel herinner aan sy loser van ’n swaer, ’n smous van matskoonmaakmiddels. Boonop het hy gehoor hoe Kassie se kollegas onderlangs spot oor sy beheptheid met posseëls en boeremusiek – nie eintlik buitemuurse aktiwiteite wat Daniels met ’n sogenaamde topspeurder vereenselwig nie.
Maar gou moes hy sy siening oor Kassie verander. Onder daai fasade van onbeholpenheid is daar ’n vlymskerp brein, het hy vinnig uitgevind. Ook ’n ysere wil om selfs die moeilikste saak op te los.
Daniels en Kassie het al dikwels koppe gestamp oor die manier waarop Kassie sake hanteer – beslis nie altyd volgens die SAPD-reëlboek nie – maar hy moes talle kere toegee dat die Kassie-metode beter resultate lewer as dié van die handboekspeurders. Kassie het ’n ingebore flair om misdaad uit te snuffel op plekke waar ander speurders nie eers sou dink om te gaan ruik nie.
As hy doodeerlik moet wees, dink Daniels, is Kassie se suksesse die enigste rede waarom die Nuweland-polisiestasie vyf jaar agtereenvolgens as die beste eenheid in die Wes-Kaap aangewys is. Dit het weinig met Daniels se bevel hier te doen – maar dit sal hy natuurlik nooit hardop erken nie.
Daniels glimlag. Hoeveel keer moes hy nie al cover vir Kassie se slordige voorkoms nie? Brigadier Filander, die streeksbevelvoerder, brom steeds elke nou en dan daaroor. En ’n generaal het op ’n keer amper ’n koronêr geskiet oor Kassie se kleredrag, wat volgens hom “die beeld van die SAPD in die openbare oog ernstig skaad”.
Maar Daniels het vrede gemaak met Kassie se klere. Hy sien nie meer die verweerde rooi windjekker raak wat Kassie dagin en daguit dra nie. Ook nie die hoogwaterbroeke, wit sokkies en nerfaf skoene nie. Dis hoe Kassie aantrek en basta met die res.
Trouens, Daniels vermoed dat Kassie se voorkoms, gekombineer met sy deur-die-kak-houding, ’n belangrike kompeterende voordeel vorm. Misdadigers wie se paaie syne kruis, onderskat hom hopeloos. Saam met sy handlanger, Rooi Els – self nie die mees intimiderende karakter met sy sproetgesig en kort, oorgewig lyfie nie – lyk hulle nie na ’n duo wat misdadigers se broeke laat bewe nie.
Een van Kassie se goeie eienskappe, uit ’n bevelvoerder se oogpunt, is dat hy nie ’n moaner is nie. Dis iets wat Daniels nie altyd van sy ander personeel kan sê nie. As hulle nie kerm oor salarisse en werksure nie, trap hulle sy kantoor se mat voos oor bevordering wat hulle glo hulle toekom. Kassie het nog altyd sy gat aan sulke goed afgevee. Hy doen sy werk sonder allerlei eise.
Maar nou hoor Daniels fluisteringe dat Kassie hom by die moaner crowd aangesluit het. Cliffie was selfs anderdag hier om daaroor te praat. Eers het Daniels gedink Cliffie is maar net weer jaloers op Kassie, dat dit net nog een van sy pogings is om die golden boy se gat by die baas toe te steek. Maar toe maak Da Silva ’n soortgelyke opmerking oor Kassie. En Felicity, Daniels se sekretaresse wat altyd alles van almal weet, het vroegoggend dieselfde boodskap oorgedra: Kassie is gatvol vir die polisie en hy verkondig dit wyd en syd.
Waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie, glo Daniels. En dis die rede waarom hy Kassie nou onder vier oë wil spreek. Want die Vader alleen weet, die SAPD – of meer spesifiek, Daniels en die Nuweland-polisiestasie – kan nie bekostig om iemand van Kassie se kaliber te verloor nie. Daan fokken Nolte het reeds met sy onbesonne skietery van ’n onskuldige man ’n moerse klad op die stasie se rekord geplaas. Nou moet Kassie nie ook nog kom neuk nie.
Daniels kyk op toe Kassie in die kantoordeur verskyn en oudergewoonte oor sy platgeroomde hare vee. Hy moes vanoggend ekstra room gebruik het, want sy dos lyk kompleet soos ’n swempet wat styf oor sy skedel getrek is. Daniels beduie vir hom om te sit.
“Ek en Rooi sou … kolonel nog kom sien het oor die Smuts-saak …” begin Kassie.
Daniels skud sy kop. “Dis nie waaroor ek met jou wil praat nie.” Hy trommel liggies met sy vingers op die lessenaar. “Ek hoor rumours oor jou, Kassie.”
“Rumours?”
“Ja. Rumours waarvan ek nie hou nie. Hulle sê dit lyk of jy unhappy is. Jy kritiseer die SAPD glo heeltyd.”
Kassie se gesig verkleur effens. “Ek het nie geweet kolonel steur kolonel aan rumours nie.”
“Gewoonlik nie, maar te veel mense het nou al vir my gesê jy’s deesdae buitengewoon uitgesproke oor die polisie se fokops.”
“Wel, dis moeilik om dit deesdae mis te kyk. Ek gee maar net my mening.”
Daniels leun vorentoe in sy stoel. “Wat my veral hinder, is dat jou uitsprake effens rassisties voorkom. Asof ’n polisiediens met ’n hoofsaaklik swart topstruktuur nie in staat is om ordentlike werk te doen nie.”
Kassie skud sy kop driftig. “Die polisie maak nie droog omdat hulle topstruktuur swart is nie, kolonel, hulle jaag aan omdat hulle vrot polisieamptenare is. Dis nie ’n swart-wit-ding nie, dis ’n vrotpolisie-ding.”
Daniels sit stomverslae na hom en kyk.
“Kolonel moet my asseblief verskoon,” sê Kassie en staan op. “Ek en Rooi het ’n afspraak by die bank oor daai bedrogsaak.”
En hy stap summier uit.
Daniels se frons verdiep. Dis nié die Kassie wat hy ken nie.
* * *
Net soos gister ry Naas Kuyler laatmiddag na die Durbanville-gholfklub, en volg Moos hom na die klub se ruim kroeg. Vandag is hier meer mense en Moos kan hom ongemerk dophou van sy sitplek in die hoek tussen ’n spul rumoerige gholfers.
Kuyler sit weer alleen by die kroegtoonbank en bestel vir hom ’n bier. Hoewel hy gister net drie biere gedrink het, het hy tot skemer hier gesit voordat hy huis toe is. Dit lyk vir Moos of hy vandag dieselfde gaan doen.
Hy hou Kuyler stip dop terwyl dié ’n eerste slukkie van die bier neem en die skuim met die agterkant van sy hand van sy bolip vee. Dit lyk of die man onder erge spanning verkeer. Sy voorkop is heeltyd geplooi en hy staar peinsend voor hom uit.
Sou dit verband hou met sy besoek aan Suleiman Khan? wonder Moos. Of het dit iets met mevrou Leandri Kuyler te doen? Beslis nie ’n gelukkige huwelik nie. Net gegrond op Moos se waarnemings van die afgelope twee dae lyk dit ook nie of Vriendin se vermoede reg is nie. Daar is geen teken van ’n ander vrou in Kuyler se lewe nie.
Wat eintlik ’n bedekte seën is. Dis nou as Moos sy plan van aksie in werking kan stel. Hy het gisternag beswaarlik ’n oog toegemaak nadat dié plan by hom opgekom het. Die vonkie vir sy plan was die beeldskone Nazi-spioen Sophie Kukralova (kodenaam R3749) wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog twee Britse geheime agente in Kaïro só beswymel het met haar skoonheid dat hulle militêre geheime aan haar verklap het. Bob Sewell, een van die agente en ’n getroude man, wou selfs sy vrou vir Kukralova los.
Dan was daar natuurlik ook die Duitsers se baie suksesvolle oorlogstrategie toe hulle in Frankryk plaaslike prostitute as spioene gewerf het. Die vroue het met leiers van die Franse weerstandsbeweging verhoudings aangeknoop en só belangrike inligting bekom.
Met dié voorbeelde as waardevolle verwysingsbron begin Moos se plan nou vorm aanneem, veral noudat hy weet dat Kuyler nie sy vrou verneuk nie, maar dat daar tog ernstige krake in sy huwelik is. Groot genoeg krake om te benut vir die beveiliging van volk en vaderland. En heel moontlik – as die breër prentjie in ag geneem word – die hele Westerse wêreld. Want ’n missielvervaardiger wat konkel met vermeende Islamitiese ekstremiste én met iemand in die land se hoogste regeringsbanke kan net rampspoed bring.
Moos het lank gewik en geweeg of hy sy plan by die SSA-personeel moet toets. Uiteindelik het hy daarteen besluit. Met sy baas in die hospitaal en die interne struweling tussen hom en Max Tsotsobe, is dit moontlik nie die regte tyd nie. Max sal boonop daarop aandring dat ’n senior veldagent betrokke raak, aan wie Moos dan sal moet rapporteer.
Hierdie saak is sy groot kans om sy naam in die annale van uitsonderlike Suid-Afrikaanse geheime agente te verewig, en hy gaan nié die eer met iemand anders deel nie.
Louisa Maritz … Vir die soveelste keer wonder Moos of sy bereid sal wees om die rol van ’n Sophie Kukralova te speel. Sal sy hierdie sleutelposisie kan vul?
Louisa is mooi, verleidelik, avontuurlustig en intelligent genoeg om sukses te behaal. Én sy skuld hom ’n groot guns.