Читать книгу Kamikaze - Rudie van Rensburg - Страница 17
14
ОглавлениеDie Pion trek swaar. Die inhoud van die polisiehandleiding loop sy spoke trompop. Dit verniel sy persepsie van homself, krap hom om en verwar hom.
Is hy regtig gereed om met dié materiaal gekonfronteer te word? wonder hy. Maar vir hoe lank kan hy die spoke nog met slaappille weghou? Sy meditasiemuur verkrummel ook vinnig. Hy móét eenvoudig deurdruk.
Daarom trek hy die ringlêer nader, klem die armleunings van sy stoel vas en begin lees waar hy laas opgehou het.
Uretrale erotisme verwys na die plesier wat verkry word deur te urineer, terwyl uretrale retensie soortgelyk is aan die kind wat sy faeces probeer terughou. Kontrole is ook hier ter sprake. Baie van die anaal-sadistiese kenmerke word oorgedra na hierdie fase. Die kind beleef sy urine as ’n gevaarlike gifstof of suur wat in staat is om te vernietig.
Die Pion se liggaam bewe onbeheers, maar hy dwing homself om voort te gaan.
Indien daar gevind word dat die verdagte bo-op die lyk, of veral op die gesig, urineer, kan dit beteken dat die verdagte die identiteit (gesig) van sy moeder (vroulike slagoffer) probeer vernietig. Hy kan ook oor die vroulike slagoffer se geslagsdele urineer, wat beteken dat hy baie bedreig voel deur vroue, veral deur vroulike seksualiteit en dit op hierdie wyse probeer vernietig. So ’n persoon kon as kind deur ’n ouer vrou verlei gewees het …
Die Pion kners op sy tande. Hy kan nie verder lees nie. Die letters op die bladsy sweef voor sy oë rond. Dit maak hom naar.
’n Onderdrukte kreet ontsnap deur sy saamgeperste lippe toe hy voel hoe sy onderlyf reageer. Hy skeur die bladsy uit en frommel dit in ’n bondeltjie op, prop dit in sy mond en begin kou. Sy kake maal onverpoos totdat hy die deurweekte stukke papier op die lessenaar uitspoeg.
“Julle sal my nie as ’n reeksmoordenaar etiketteer nie,” prewel hy. “My omstandighede was anders. Heeltemal anders … anders … anders.”
Hy besef hy verloor beheer. Sy kop klop pynlik en sy hart bokspring in sy bors.
Hy storm badkamer toe. Sy hande bewe toe hy die bad se warm kraan oopdraai. Hy trek sy baadjie en broek uit en smyt dit op die vloer. Maak sy das los en pluk sy hemp van sy lyf af. Hempsknope reën op die teëlvloer neer.
Die water brand sy naakte lyf toe hy inklim en gaan sit, maar hy byt op sy tande en seep die langsteelskropborsel in.
“Heeltemal anders … anders,” prewel hy terwyl hy sy rug met lang hale skrop. Behalwe vir sy bolyf en tone is die kop van sy erekte penis al wat bo die water uitsteek.
* * *
Louisa Maritz is ’n uitsonderlik aantreklike vrou, besef Moos opnuut. Blonde krulle, diepblou oë, kuiltjieglimlag en die lyf van ’n Miss Universe. Hy neem die koppie koffie wat sy na hom uithou en gaan sit oorkant haar op die rusbank.
Sy’t die koerasie van die manne by die munisipaliteit omtrent die hoogtes in gejaag, onthou hy. Glo lekker bedrywig in die bed gewees met die kantoor se testosteroon-hunks, selfs ’n paar se huwelike amper verongeluk. Sy’t nooit weggeskram van ’n skelm verhouding nie.
Nou, pas dertig en steeds ongering, is sy vir hom amper meer sexy as in haar jonger dae. Asof die rypheid in jare haar effens voller figuur vervolmaak het, sodat die sagter lyne van haar lyf selfs strelender op die oog is.
Sy kruis haar lang bene onder die kort rokkie en glimlag vir hom. Sy hart fladder liggies en sy asemhaling verloor ritme. Hy moet hom regruk, besef hy. Sy besoek hier gaan oor gewigtige landsake, nie oor sy eie drifte nie.
“Jy’t ’n lekker uitdaging vir my,” sê sy. “Laat ons hoor.”
Moos druk sy bril hoër op sy neusbrug, neem ’n slukkie koffie om sy stembande te olie en kug ’n paar keer om formaliteit aan die verrigtinge te verleen.
“Dit wat ek jou nou vertel, Louisa, mag jy onder géén omstandighede met iemand anders bespreek nie.”
Sy knik. “So help my God.”
Die geamuseerde klank in haar stem bekommer hom. Dis nie nou die tyd vir ligsinnigheid nie. Maar hy sal moet deurdruk.
Eers skets hy sy eie posisie by die SSA, bevorder homself na senior agent om die belangrikheid van die saak te onderstreep. Dan vertel hy haar alles oor Imran Hafeez, Suleiman Khan en Naas Kuyler. Hy skets ook kortliks Kuyler se oënskynlike huweliksprobleme.
Haar wenkbroue lig. “Wat kan ék daaraan doen?”
Moos weet hy moet die saak nou met groot omsigtigheid benader. Hy vertel haar van die spioenasiewerk van Sophie Kukralova en die Franse prostitute – na wie hy eerder as “jong, aantreklike meisies” verwys. Hy vermy die woord “seks” heeltemal, span frases in soos “vriendskapsbande smee” en “’n simpatieke oor verleen vir die man om sy hart uit te praat”.
Louisa frons. “So jy wil hê ek moet saam met Kuyler in die bed spring om só inligting uit hom te kry?” sny sy met ’n enkele sin deur sy noukeurig beplande voordrag.
Hy kan haar gesigsuitdrukking nie lees nie. Daar’s nie afsku te bemerk nie, maar haar blik lyk veels te afsydig na sy sin.
“Ek sal dit darem nie so kras stel nie,” sê hy paaiend. “’n Platoniese vriendskap sal ook inligting …”
“Bullshit, Moos! Jy weet so goed soos ek seks is die enigste roete na ’n man se geheime!”
Geoordeel na die drif in haar stem, vrees Moos sy plan is aan die ontspoor. Tyd om sy laaste troefkaart te speel. Hy maak sy aktetas oop, haal die fotoafdruk van Kuyler wat hy in die Tuine geneem het uit en oorhandig dit aan haar. Selfs hý moet toegee Kuyler is ’n looker.
Sy staar lank na die foto, glimlag liggies toe sy opkyk. Daar heers ’n ongemaklike stilte in die woonstel. Moos sit krom getrek van afwagting.
Sy haal haar skouers argeloos op, maar haar oë vonkel. “Dalk sal ek dit tog ’n go gee.”
* * *
Die wekker op Kassie se lessenaar lui skril. Hy druk dit vinnig dood en merk terselfdertyd Da Silva en Cliffie se gesteurde kyke. Dit moet hulle seker grensloos irriteer, maar dis al manier hoe hy geroetineerd kan rook en by sy vyftien sigarette per dag hou.
Hy stap na die vierkantjie en steek ’n Lucky aan, tuur na die vuil buitemuur van die stasie. Die onderste gedeelte is donkerbruin van modderspatsels tydens die reëntyd. Die verwaarloosde blombedding is oorgroei met kakiebos.
In die ou dae was hier ’n span tuinwerkers wat die terrein ordentlik onderhou het, dink hy. Die slordige stasiegebou weerspieël maar net die algemene stand van sake in die SAPD. Die onkruid groei oral geil.
Hy sug. Só het alle goeie dinge tot ’n einde gekom. En dink opnuut aan die verdomde oproep én sy gesprek met Daniels.
Op pad terug na sy lessenaar sien hy Magrieta by Rooi staan.
“Ons het probleme met Fred Smuts se selfoonrekords, Kassie,” sê sy. “Volgens die diensverskaffer het hulle geen rekords van hom nie. Dis glo weens ’n tegniese probleem uitgewis.”
Kassie frons. “Maar dis mos bullshit!”
Rooi knik. “Presies wat ek ook vir Magrieta gesê het.”
Sy trek ’n gesig. “Wel, dis wat hulle beweer.”
“Die laaste keer wat so iets gebeur het, was met die wapensmokkelsaak,” sê Kassie. “En toe het ons oplaas uitgevind dis ’n inside job – iemand by die selfoonmaatskappy is omgekoop om die rekords te vernietig.”
“Wat sê dit vir jou?” vra Rooi.
“Dat daar ’n goed georkestreerde poging is, baie deegliker as wat ons aanvanklik vermoed het, om alle leidrade na Smuts se ondersoek dood te vee.”
Rooi lyk bekommerd. “Nou kan ons maar net hoop dokter Stewart weet meer as Emile de Villiers.”
“Die hoop beskaam nie,” sê Kassie, maar met min oortuiging.
Hoekom aanvaar hy die situasie so gelate? wonder hy skielik. Het sy ingesteldheid teenoor sy werk verander? Het hy sy killer instinct verloor?
Of het hy as gevolg van die oproep in slapgatgeit verval? Is hy inderwaarheid net besig om die tyd af te tel totdat hy die beloofde land betree?