Читать книгу Kamikaze - Rudie van Rensburg - Страница 4

1

Оглавление

Claus Prins pluk senuweeagtig aan sy Jasser Arafat-serp.

Die dakligte in die verlate parkade gooi spookagtige skadu’s oor die sementvloer en pilare. Dis eerder die ideale omgewing vir ’n bloederige moord as ’n plek van vreedsame ontmoeting, dink hy.

Met sy skouer teen ’n pilaar geleun, haal hy die pakkie Kent White uit sy baadjiesak en steek een aan met hande wat liggies bewe. Hy is uit sy gemaksone. Gewoonlik laat hy enige gevaarlike job aan Ivan oor.

Maar vanaand het hy nie ’n keuse nie. Die man het daarop aangedring hy wil Claus alleen ontmoet. Dalk is hy paranoïes, maar die wete dat daar honderd-en-vyftigduisend rand in sy BMW se kattebak is, laat trek sy maag in ’n vuis.

Wie sê die bliksem jaag nie ’n koeël deur sy kop en maak spore met die geld nie? Volgens wat hy van hom gehoor het, is dit nie onmoontlik nie. Nog ’n lyk op sy kerfstok gaan die Pion nie slapelose nagte gee nie.

Sy liggaam span styf toe hy die dreuning van ’n motor hoor. Hy luister aandagtig, ontspan toe dit klink of die motor op die onderste verdieping stilhou.

Hy kyk op sy horlosie. Twintig oor nege. Die Pion het gesê hy sal tussen nege en tien hier wees. Hy vee die sweet van sy voorkop af. Met die kooltjie van die stompie steek hy nog ’n sigaret aan, maar sy gedagtes bly bokspring tussen talle grusame scenario’s.

Desperaat om sy donker gemoedstoestand te verja, dink hy aan Macy. Dis gewoonlik al terapie wat help. Sy wag nou vir hom in die bed, in die versengende Kaapse somershitte moontlik net onder ’n laken. Die kurwes van haar kaal lyf sal duidelik afgeëts wees teen die gladde satynmateriaal. En wanneer sy die laken ooptrek vir hom om langs haar in te klim …

’n Kreet blêr uit sy keel toe hy ’n ritseling agter hom hoor.

Hy swaai verskrik om. Die man staan ’n paar treë weg van hom, die skaduwee van ’n pilaar oor sy gesig.

“Ek … het jou … nie gehoor nie,” stamel Claus met ’n droë mond.

“Claus Prins?” vra die man.

“Ja, dis ek. En … en jy’s … die Pion?”

Die man knik en kom ’n halwe tree nader. Sy gesig word gedeeltelik verberg deur ’n groot donkerbril. Hy is baie ouer as wat Claus gedink het, skraal en korterig. Met die eerste oogopslag nie die intimiderende monster wat hy in sy verbeelding geskep het nie. Boonop in ’n netjiese pak klere.

Hy steek sy hand uit, maar die Pion ignoreer die gebaar, haal net die donkerbril af en druk dit in sy baadjiesak. Die daklig skyn nou vol op sy gesig.

’n Ligte siddering trek deur Claus. Die man se oë laat hom opnuut sweet. Dis wasig, soos ’n dooie se oë. Amper deursigtig, kleurloos, yskoud. Genoeg om hom die horries te gee. Fok, hy moes nie alleen gekom het nie!

“Ek het nie baie tyd nie,” sê die Pion toonloos.

“Jammer … jammer.”

Claus maak die kattebak van die BMW haastig oop. Hy oorhandig eers die koevert. “Hierin is alles … alles oor die man, sy naam, ’n foto van hom en die woonadres van sy suster waar hy nou bly.”

Die Pion neem die koevert. “Enigiets anders wat ek moet weet?”

“Jy moet sy rekenaar en alle ander …”

“Dit was reeds deel van my opdrag. Nie nodig om dit te herhaal nie.”

“Dit moet binne die volgende drie dae gebeur, want …”

“Dis ook ou nuus.”

“Jammer, ek … kan nie nou helder dink nie.” Claus se oë brand van die sweet wat oor sy voorkop stroom.

“Waar bly die man as hy nie by sy suster in die Kaap is nie?”

“In Sandton, Johannesburg … in ’n dakwoonstel.”

“Wie sê dáár lê nie goed rond nie?”

“Ons … een van my manne … het gisteraand daar ingebreek en die plek van hoek tot kant deursoek. Daar’s niks.”

Hy lig die aktetas uit die kattebak en oorhandig dit aan die Pion. “Die volle honderd-en-vyftigduisend, in honderdrandnote soos jy versoek het. Jy kan dit tel as jy wil. Dis in bondels van vyfduisend rand verpak.”

Die man staar strak na hom. “Nie nodig nie. As jy ’n fout gemaak het, sal ek die balans uit jou boedel kry.”

Claus se nekhare rys. Dit klink soos ’n fokken doodsdreigement! Hy kan net bid Macy het reg getel.

Hy wag dat die Pion moet loop, maar die man bly uitdrukkingloos staan.

Uit pure ongemak draai Claus om en maak die kattebak met bewende hande toe. As die bliksem besluit om hom uit te haal, sal hy dit nou doen, flits dit deur sy gedagtes. Hy staal hom teen ’n moontlike aanslag, sy regterhand naby die baadjiesak waarin Macy se handsakpistooltjie is.

Maar niks gebeur nie.

Toe hy omdraai, is die Pion weg.

Claus kyk verwilderd rond. Geen teken van die man nie.

Hy bly versteen staan, maar sy groot liggaam bewe onbeheers.

Eers toe ’n motor op die onderste verdieping wegtrek, haal hy weer asem.

* * *

Moos Uys pak die toebroodjies en gekerfde biltong in ’n kosblik en vul die koffiefles met kookwater. Hy swaai die rugsak met proviand oor sy skouer, tel sy kamera en nagverkyker op en trek die woonsteldeur agter hom toe. Die werk se gehawende Golf wag in die straat. ’n Skof van veertien uur lê voor, maar soos altyd is hy hoopvol dat sy deurbraak vandag sal kom.

Hy sal homself nog nie as ’n baasspioen beskryf nie, maar hy’s vinnig besig om die pad soontoe te plavei. Sy toewyding en geesdrif sál in die toekoms beloon word, glo hy, ondanks die feit dat hy die verkeerde velkleur het om by ’n Suid-Afrikaanse staatsinstelling bevorder te word. Ambisie maak als moontlik, daarvan is hy oortuig.

Nie sy ouers of een van sy broers het twee jaar gelede gedink hy het ’n kans om by die Staatsveiligheidsagentskap aangestel te word nie. Maar die SSA se Kaapse grootbase was so beïndruk met hom tydens die werksonderhoud dat hy dadelik die groen lig gekry het. Die feit dat hy ’n paar jaar vantevore met voorbedagte rade by die ANC aangesluit het, moes natuurlik ook gehelp het.

Sy nuwe base was veral beïndruk met sy kennis van die eertydse spioenasiewêreld. Niemand anders kon met soveel gesag oor die werkswyse van Richard Sorge, een van die suksesvolste spioene ooit, praat nie. Of oor die rol wat kolonel Von Stauffenberg en sy groep gedurende Hitler se bewind gespeel het nie. Hulle was ook verstom oor sy kennis van die geskiedenis van atoomspioenasie, en ’n paar junior agente het behoorlik aan sy lippe gehang toe hy onlangs by ’n spesiale lesing die genialiteit van Klaus Fuchs, Harry Gold, Ethel en Julius Rosenberg en Stig Wennerström breedvoerig bespreek het.

Toe die Amerikaanse CIA die SSA ’n maand gelede inlig dat Imran Hafeez Suid-Afrika gaan besoek, was Moos die regte man op die regte tyd. Ondanks sy groentjiestatus het hy die belangrike taak gekry om Hafeez se bewegings in die land dop te hou.

Volgens die CIA se vermoedens, wat hulle nog nie bo alle twyfel kon verifieer nie, is Hafeez, ’n Pakistani wat meestal in Sirië woon, kop in een mus met die Islamitiese Broederskap. Dié internasionale beweging, wat poog om ’n sambreelgroep vir Islamitiese radikales te vorm, voer glo reeds samesprekings met die gevreesde Islamitiese Staat (IS) in Sirië, Libië en Irak, die Taliban in Pakistan, Boko Haram in Nigerië en Al-Sjabaab in Somalië en Kenia.

Die Islamitiese Broederskap is die nuwe Al-Kaïda, weet Moos, net erger. As hulle hul doelstelling bereik, kan hulle ’n groter bedreiging vir die Weste inhou as enige ander groep fundamentaliste.

Dit was nie moeilik om Hafeez se bewegings dop te hou nie. Hy is van die Kaapstadse Internasionale Lughawe met ’n taxi na ’n huis in die Bo-Kaap, waar hy vir ’n volle drie dae agter geslote deure vertoef het. Toe is hy weer vort lughawe toe, en het van daar af ’n vlug na Indië geneem.

Die huis in die Bo-Kaap behoort aan Suleiman Khan. Daar is nie veel bekend oor hom nie, behalwe dat hy ’n Suid-Afrikaanse burger sonder ’n kriminele rekord is, binnekort vyftig jaar oud word en ongetroud is.

En Khan kom nooit uit sy huis nie, het Moos die afgelope drie en ’n half weke agtergekom. Hy kry ook nooit besoekers nie, behalwe die vrou wat op Vrydae kruideniersware by sy huis aflewer en gewoonlik nie langer as tien minute bly nie.

Dis sieldodende werk om die huis veertien uur per dag dop te hou. En Moos is nog niks wyser oor Khan nie, wat frustrerend is vir iemand wat vinnig sy merk as ’n gerekende geheime agent wil maak. Sy status as junior veldagentjie staan hom eenvoudig nie aan nie.

Maar sy geduld sal weldra beloon word, sê Moos elke oggend vir homself as motivering wanneer hy die Golf aansluit.

Vanoggend is geen uitsondering nie. Hy maak eers keel skoon.

“Jou geduld sal beloon word,” sê hy, druk sy bril hoër op sy neusbrug en trek rukkend weg – ’n gevolg van die Golf se defekte koppelaar.

Kamikaze

Подняться наверх