Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie - Страница 10

Hoofstuk 8

Оглавление

Terug by die skool is Bertus weer in homself gekeer, maar daar is tog die gevoel dat hy meer genaakbaar is.

Maandagoggend nadat hy klaar uit die Bybel gelees en gebid het, loer hy vinnig in Annie se rigting voordat hy met ’n onpersoonlike stem aankondig: “Daar sal Saterdag­aand ’n debat wees. Kobus, jy kan die onderwerp kies en sorg vir drie sprekers aan elke kant. Juffrou Delport sal verdere reëlings tref.”

Annie byt haar kieste vas om nie te glimlag nie. Dierbare ding! Hy wil iets reël vir Saterdagaand wanneer Schalk hier aankom.

Sy kom gou agter hoeveel die seuns sang geniet en neem haar voor om ’n koortjie saam te stel. Daar is later in die jaar ’n kompetisie vir skoolkore.

Bertus is glad nie ongeneë met die voorstel toe sy dit later teenoor hom noem nie, seker omdat Schalk toe ook die Saterdagaand met die debat net ’n uur gebly het. Hy was later hopeloos verveeld, veral toe hy sien hy maak geen hond haaraf by Annie nie.

Bertus kon maar net sy kop skud. As sy dalk belangstel in Schalk Potgieter, is dit die regte benadering. Schalk sal dit nooit kan verwerk dat daar iewers op hierdie aardbodem’n vrou rondloop wat nie in ’n beswyming voor sy voete neerval nie. Hy sal weer en weer kom kuier. Nou is hy mos ’n slag die jagter!

Die dae vleg die een in die ander en hulle is behoorlik begrawe onder die werk. Die kwartaal snel ten einde sonder dat een van hulle dit verwelkom.

Toegegooi onder al die verpligtinge raak Bertus weer stiller en meer kortaf en Annie kan later kwalik glo dat hy ’n dag lank so spontaan en dierbaar was. Sy wens sy kon meer doen om vir hom die las ligter te maak. Haar program is egter reeds so vol, veral noudat sy die koor ook nog namiddae inpas.

“Juffrou, waarheen gaan juffrou vir die vakansie? Dis seker te ver om huis toe te gaan?” vra Kobus een middag en val langs haar in toe hulle terugstap koshuis toe.

“Weet jy, Kobus, ek het nog nie eens daaraan gedink nie. Wanneer sluit die skool?”

“Volgende week, juffrou.”

Annie gaan staan stil en slaan haar hand oor haar mond.

“Jy jok! Dit kan nooit al die einde van die kwartaal wees nie!” Kobus lag vir die verbaasde gesiggie.

“Nou hoekom op aarde sal ek daaroor jok, juffrou?”

“Wel, dan sal ek vinnig daaraan moet begin dink.”

“Juffrou kan by ons kom kuier. My ma sal dit geniet.”

“Nee, Kobus, dit kan ek darem nie doen nie.”

“Hoekom nie, juffrou?”

“Ek ken nie eens jou ouers nie.”

“Juffrou het hulle dan ontmoet daardie naweek toe hulle my kom haal het.”

“Dit was net aangename kennis en tot siens. Ek kan dit mos nooit doen nie!”

Kobus argumenteer nie verder nie. Hy sal sy ma gaan bel en sê sy moet juffrou Annie persoonlik nooi.

Net ná die aandete is daar dus ’n telefoonoproep vir Annie. Alles in haar trek saam. As dit weer daardie lastige Schalk Potgieter is, gaan sy sowaar vandag ongeskik wees. Sy probeer altyd op ’n beskaafde manier van hom ontslae raak, maar hy is nou erger as klitsgras. Hy verstaan net nie ’n skimp nie!

“Goeienaand, juffrou Delport hier.” Haar stem is meer kortaf as wat sy bedoel.

“Goeienaand, juffrou Annie, dis Magriet Snyman hier, Kobus se ma.”

“Goeienaand, mevrou.” Annie lag verras.

“Juffrou, ek wil jou graag nooi om die vakansie by ons te kom deurbring.”

“Mevrou, nee, dis nou weer Kobus se werk . . .”

Die vrou aan die ander kant lag.

“Ja, dit ís sy werk. Hy het ’n vreeslike liefde en verering vir sy juffrou Annie. Dit sal vir my heerlik wees om iemand te hê om mee te gesels. Ons het net die twee seuns en party dae raak die mans my heeltemal oor.”

“Ai, mevrou!”

“Noem my sommer tannie Magriet, kind. Ek aanvaar glad nie nee vir ’n antwoord nie. Ons kry jou volgende Vrydag wanneer ons vir Kobus kom haal. Hier kan jy lekker rus; jy het reeds so hard gewerk hierdie kwartaal.”

Die Snymans se plaas is die mooiste plek wat Annie nog gesien het. Daar is tot ’n swembad en groen-groen grasperke wat die plaas in ’n lushof omskep. As sy gedink het Skurwekop is ’n paradys, het sy beslis nog nie hierdie plaas gesien nie.

Magriet en Koos Snyman is die dierbaarste twee mense en Annie geniet die vakansie terdeë.

Kobus se ouboet, Pieter, ’n prokureur in Windhoek, kom ook die derde dag van die vakansie onverwags daar aan. Sy verloofde, Sandra Pienaar, is ook by. Sy is ’n pragtige donkerkopmeisie – skaam en teruggetrokke, maar baie innemend.

“Juffrou is nou al vier dae hier op die plaas en juffrou het nog nie eens perdgery nie.” Kobus soek net altyd iets om haar mee besig te hou.

“Kan die juffrou ooit perdry?” Kobus se pa is net so ’n terggees soos hy.

“Ja, ek kan. Ek ry oom se ou seuntjie so toe onder die stof dat hulle hom sal moet soek!”

“Dit wil ek sien!” Kobus is die ene verontwaardiging.

“Sandra kan nie perdry nie, Kobus. Terwyl ek haar leer, kan jy en Annie in die veld gaan ry,” keer Pieter dadelik toe dit lyk of die ryery hulle almal gaan insluit.

Annie het lanklaas perdgery en sy is glad nie so ’n goeie ruiter soos sy gespog het nie. Sy geniet egter die rit terdeë.

“Wie se plaas is dit daardie, Kobus?” Hulle hou die perde in en die hele omgewing lê oopgesprei in die helder oggendson.

“Dis meneer Kruger se plaas, juffrou. Dis ’n pragtige plaas!”

“Seker darem nie so mooi soos julle s’n nie?”

“Ons plaas is natuurlik vir my die mooiste en heerlikste op die hele aarde, maar meneer Kruger s’n is ’n pronkstuk. Alles is baie netjies en goed beplan. Hy het al spesiale toekennings gekry vir die mooiste plaas in die distrik.”

“Regtig?”

Skielik is sy nuuskierig om die plaas te sien, om te sien hoe lyk hy tussen dit waarvoor hy lief is.

“Kom ons gaan sê vir hom môre.” Sy sê al weer die eerste ding wat in haar kop kom. ’n Dofrooi gloed stoot in haar nek op en sy wens sy kon haar tong afbyt toe sy die skelm laggie op Kobus se gesig sien.

“Ag, nee wat, dankie, juffrou, dis genoeg dat ons die hele kwartaal in sy ontevrede gesig moet vaskyk. Ek sien tog nie nog gedurende die vakansie ook daarvoor kans nie.”

“Skaam jou, Kobus.”

“Juffrou kan maar gaan, dan kry ek juffrou weer oor ’n uur of wat hier. Ek sal solank na die drade gaan kyk.”

“Nee, ek ry saam met jou.”

Kobus sit ’n oomblik lank ingedagte. ’n Nuwe idee kom kruip op die voorgrond van sy gedagtes en hy glimlag ingenome.

Ou Zeus het so baie verander vandat juffrou Annie hier is. Hy is ontspanne en maak selfs af en toe ’n grappie. Die dag met die atletiekbyeenkoms op Otjiwarongo het hulle hom sowaar nie geken nie. Hy wat Kobus is, moet darem nie so ’n goeie kans onbenut laat verbygaan nie. As meneer Kruger net eers ’n slag ordentlik verlief raak, behoort hy so mak soos ’n lam te wees.

“Ek is sommer lelik, juffrou. Ons kan gerus vir meneer gaan groet. Hy is seker ook maar eensaam. Ons kan hom sommer nooi om vanaand by ons te kom eet.”

Annie kyk wantrouig na Kobus. Hy laat sy perd egter stadig teen die heuwel afstap.

“Daar is meneer by die krale. Kan juffrou hom sien?”

“Ja, ek sien hom.” Annie wonder verbaas hoekom haar hart nou skielik so tamboer speel in haar borskas. Sy het hom tog al vantevore in ’n kortbroek gesien. Hy lyk egter vandag vir haar groter en manliker as ooit.

’n Bly lig skyn in Bertus se oë toe hulle hul perde by die kraal inhou. Annie sien dit en bêre die wete diep in haar hart om dit later te ontleed.

“Môre! Ek het darem nou gewonder wie dit is wat saam met Kobus hier aankom.”

Hy steek sy hand na Annie uit. Sy gly van die perd af en kom staan langs hom.

“Ek kuier die vakansie by Kobus-hulle. Hy het my vertel watter pragtige plaas jy het en toe was ek nuuskierig om dit te sien.”

“Kom nader, dan gaan drink ons ’n bietjie koffie.”

Kobus verstom hom vir ou Zeus. Liewe aarde, die man is glad menslik en gasvry, en hy kan sweer dat hy bly is om hulle te sien.

“Ek wil nog gou na die drade gaan kyk, meneer. Ek sal nou-nou weer vir juffrou hier kom haal.”

Voordat Annie nog iets kan sê, druk Kobus sy hakke in die perd se sye en hy galop weg.

Bertus kyk af in die verleë, effens afgehaalde gesig.

“Is jy dan bang om alleen hier by my te bly? Ek eet nie jong juffrouens op nie. Veral nie nou nie . . . Wat sal ek dan volgende kwartaal doen as meneer Fourie nog steeds siek is?”

“Ag, jy is verspot!”Annie lag lig en vrolik.

Haar woorde klink oortuigend genoeg, maar hy weet nie dat sy nie so naby hom wil wees nie, nie noudat hy so vriendelik en anders is nie. Haar hart kan sy nie ’n oomblik lank vertrou nie. Haar hart is sommer ’n ou verraaier! Dit sal haar maklik in die steek laat. Voordat sy haar oë uitvee, is sy verlief op hierdie man, want hy maak allerhande skoenlappers in haar binneste wakker.

Hierdie vreemde, eensame, geslote mens ontstel haar. Sy wil hom beskerm. Sy is vir hom jammer. Sy wil hê die kinders moet lief wees vir hom. Sy self wil . . . Ag, sy weet nie wat sy wil nie! Dit sal beter wees as sy nie daaroor dink nie.

Die plaas is werklik mooier as Kobus-hulle s’n. Alles is netjies en agtermekaar. Nie die kwaaiste matrone of sersant-majoor sal hier ’n rafel of ’n skroef uit sy plek vind nie.

Die huis is kolossaal, met die pragtigste antieke meubels en Persiese matte. Geelkoperpotte en allerhande soorte ornamente duik op die mees onverwagse plekke op. Annie kan in haar geestesoog sien hoe van daardie bakke vol blomme sal lyk.

“Dis regtig ’n pragtige plek, Bert- . . . meneer Kruger.”

“As ek jou op jou naam noem, sal jy my nie maar ook op my naam noem nie?”

Annie moet sluk aan die knop in haar keel. Daar is ’n gefladder in haar borskas. Sy knik net en laat haar blik skaam sak.

Haar skaam gesiggie met die dowwe blos wat teen haar nek opkruip, maak iets primitiefs in Bertus wakker. Hy wil haar wild in sy arms vasvang en haar soen totdat sy smeek om genade.

Bertus aanvaar sonder teëstribbeling Kobus se uitnodiging vir ete. Kobus lag stilletjies by homself. Meneer Kruger hou hom verniet so ongeërg. Dis tog net om naby juffrou Annie te wees. Hy sien mos hoe loer hy so onderlangs na haar.

Kobus se ma is baie ingenome met die idee van ’n vleis-braaiery en eie aan die Suidwesters, vir wie dit geen moeite of ontwrigting is nie, word die ander bure ook sommer genooi.

Bertus kom daar aan net toe die son begin sak. Hy is groot en aantreklik en vanaand is Annie bly dat haar hare mooi blink op haar skouers hang en dat haar middeltjie dun en breekbaar lyk in die vroulike pienk rok.

Dit word ’n heerlike, gesellige aand. Die Van Greunens is net sulke aangename mense soos Kobus se ouers. Hulle is ’n middeljarige egpaar en hulle beny Magriet en Koos omdat hulle so bevoorreg is om albei hul kinders by die huis te hê.

Hulle eet sommer buite op die groot grasperk. Die jong mense sit op ’n kombers op die gras, terwyl die vier ouer mense ewe stemmig om ’n tafeltjie sit. Kobus het dit so beplooi dat Bertus tussen hom en Annie sit. Annie kan nie help om bekommerd te wonder wat in daardie rooi kop aan die broei is nie. Met blosende wange wonder sy of die seuns nie dalk al dieper in haar hart gekyk het as wat sy tot nou toe self wou doen nie.

“Die vleis is heerlik, Kobus.” Sy lek haar vingers af en hou haar bord uit vir nog ’n stukkie wors.

“Wat van nog ’n bietjie pap ook, Annie?” vra Magriet en skep ’n groter porsie as wat Annie gevra het.

“Nee, dankie, tannie Magriet, ek eet sommer net agter die lekker aan.”

Bertus vat die bord by Kobus en gee dit vir Annie aan. Haar vingers raak warm en intiem aan syne toe sy die bord by hom vat. Sy is dankbaar vir die donker wat die blos op haar wange verberg.

“Ek hoor Rina en Danie Potgieter is toe eindelik geskei. Sy is glo sak en pak terug by haar ouers op die plaas.”

Annie kan voel hoe Bertus hier langs haar verstyf.

Mevrou Van Greunen is nie bewus daarvan dat hulle al twee gespanne na die gesprek tussen haar en Magriet luister nie.

“Ag, nooit! Ek het nie geweet hulle het probleme nie. Hulle was dan maar vier, vyf jaar getroud.” Magriet is opreg geskok.

“Nee, maar ek het altoos vir my ou man gesê dit gaan nie uitwerk nie. Daardie Danie is ook maar ’n losbol so groot as wat jy kan kry.”

Annie loer onderlangs na Bertus. Sy sien hoe hy sy kakebene op mekaar klem en hoe ’n spiertjie in sy wang vinnig spring.

“Gelukkig het hulle darem nie kinders gehad nie, anders was dit tog so ’n treurige affêre.”

Bertus sit sy bord neer en Annie sit vinnig haar hand op sy arm.

“Nog iets vir jou? Ek sal vir jou gaan haal.”

“Nee wat, dankie.”

Die nuus van Rina en Danie het darem nou te skielik op hom afgekom. Dis asof dit nie wil registreer nie. Dis seker wat Schalk hom wou vertel het.

Annie se hart ween vir hom. Arme mens! Hoekom moet Rina nou juis in sy lewe terugkom en alles weer kom oopkrap? As sy hom een keer in die steek gelaat het vir ’n ander man, sal sy dit weer doen. Hy sal haar nooit weer kan vertrou nie. Hoekom juis nou? Sy en die seuns begin nou net vordering maak. As Rina ’n jaar later teruggekom het, het hy dalk ’n ander perspektief op die lewe gehad.

Sy wens sy kan hom troos en vir hom sê sy weet van Rina; dat sy hom wil help, hom teen Rina sal beskerm. Sy moet egter doodstil sit en hom alleen met hierdie stryd los.

Bertus kyk af na die stil gesiggie hier langs hom. Rina se beeld was altyd so helder in sy gedagtes, maar vanaand kan hy dit glad nie onthou nie. ’n Fyn gesiggie omraam met lang, bruin hare skuif gedurig voor die ander bekende beeld in.

Hy sal eers weer vir Rina moet sien om te weet hoe hy voel. Hy sal haar nooit weer vertrou nie! Hy verkies die eensaamheid en verlange en die gevoel dat niemand omgee nie.

Hy glimlag af na Annie se bekommerde gesiggie. Sy het so ’n fyn aanvoeling vir iemand anders se gemoedstoestand. Sy het seker nou aangevoel dat hierdie nuus iets met hom te doen het.

Dankbaar sien Annie hoe hy later weer ontspan en gemaklik agteroor leun terwyl hulle koffie drink.

Pieter staan op en trek Sandra aan haar hand op.

“Kom ons gaan stap ’n entjie met die pad langs. Ons moet ’n bietjie van hierdie kos probeer verbrand. Ons sal nooit vannag kan slaap nie.”

“Ja, dis ’n goeie plan.” Kobus is dadelik by. Pieter kyk vies na hom.

“Niemand het jou saamgenooi nie. Moenie so ’n ou pretbederwer wees nie!”

Sandra druk blosend haar kop teen Pieter se skouer vas en dit laat die ander skater van die lag.

Annie staan op en stof die grassies van haar rok af.

“Ek dink ’n stappie is net wat ons almal nodig het. Ons drie sal in die teenoorgestelde rigting stap, Pieter.”

Bertus bly egter sit en Annie hou haar hand uitnodigend uit. “Kom, stap saam! Dit sal heerlik wees.”

“Nee wat, ek is te oud vir sulke speletjies. Stap jy en Kobus maar.”

“Ag, kom, moenie vir jou soos ou Metusalag hou nie.”

Sy vingers sluit warm om hare toe hy gemaak verontwaardig opstaan.

“Julle het deesdae geen respek vir my nie.”

“Ons het, meneer. Ek weet nie van juffrou nie, maar ons sal niks waag nie!”

“Hm! Dis sommer ’n storie vir jou pa se ore. Wanneer ons by die skool is, waag julle glad te veel. Ek was net te besig om julle ’n bietjie kort te vat.”

“Jy moet laat ek agterkom die kinders raak jou oor, buurman. Ek sal my hulp moet kom aanbied,” lag Kobus se pa.

“Nee, oom sien mos hoe gaan dit. Die onderwyseres het nie vir my respek nie, en sy leer die kinders ook so.”

Annie hoor die tergklank in sy stem. Sy hand omvou hare nog steeds en dit wil haar laat lag en sing van die warm vreugde wat haar skielik so lig en vrolik laat voel.

Sy trek versigtig haar hand uit syne. Die ondeunde

Kobus staan hulle met valkoë en dophou. Hulle stap ver met die plaaspad langs en Kobus is vol kwinkslae.

“Wat betaal meneer my as ek nou verdwyn?” Hy gaan staan laggend in die middel van die pad. “Ek reken nou so: Pieter wil my nie saam met hulle hê nie, so meneer sal ook seker graag van my ontslae wil raak.”

“Ag, Kobus, nou is jy darem baie stuitig!” Annie wens die aarde wil oopgaan en haar insluk. Sy loop sommer vinniger sodat sy ’n tree of wat voor hulle kan kom.

“Ek moet eers hoor wat jou prys is. As dit nie te hoog is nie, kan ons altyd besigheid doen,” klink Bertus se diep stem agter haar op.

Annie wag nie vir nog sulke lawwighede nie, maar begin vinnig met die stofpad langs hardloop – met Kobus se skater­lag in haar ore.

“Juffrou hardloop verkeerde kant toe! Die huis is anderkant toe!”

“Ek sal jou kry, Kobus Snyman!” Sy kners die woorde hygend uit.

Sy hoor voetstappe agter haar en versnel haar pas, net om ’n paar treë verder stewig om haar middel vasgevang te word.

Nie vir ’n oomblik dink sy dat dit Bertus sal wees wat agter haar aanhardloop nie. Dit kan net Kobus wees wat haar so gemaklik inhaal. Sy klap dus wild na die hande om haar middel en raas hygend en kortasem.

“Is jy laf om . . . om sulke verspotte grappe te maak? Ek wens meneer Kruger draai jou nek om!”

“Nou hoekom sal ek dit wil doen?”

“Jy! Ag, tog!”

Bertus se hande skuif op en kom rus warm en stewig om haar skouerknoppe.

“Hoekom is jy so verbaas? Het jy nie gedink ek sal jou kan inhardloop nie? Jy is dan so ’n klein ou juffroutjie met sulke ou verspotte sandaaltjies aan.”

“Ek . . . e . . .” Annie is erg verleë en weet nie waar om te kyk nie.

“Annie!”

“Hm?” Haar oë bly vasgenael op sy bors.

“Is jy tog nie skaam vir my nie? Jy weet tog Kobus terg net.”

“Ek sal hom kry! Hy is ’n regte duiweltjie!”

“Nie so lank gelede nie was hy ’n dierbare seun, as ek reg onthou.”

Sy stem is sag en teer en so heeltemal anders dat sy net skaam haar kop teen sy bors vasdruk. Sy is te bang om op te kyk. Sy is bang dat hy dit wat sy nie ’n naam wil gee nie in haar oë sal lees.

Hy druk haar ’n oomblik lank saggies teen hom vas. Dan hou hy haar ’n entjie van hom af weg.

“Die seuns is onmoontlik! Ek vertrou hulle gewoonlik nie twee tree onder my oë uit nie. Ek wens ek kon weet wat nou weer in Kobus se kop aangaan.”

Annie hoor dat sy stem sag en vol pret is en sy weet dat hy dit goed bedoel met die seuns.

Bertus vat haar hand. Asof dit die natuurlikste ding in die wêreld is, begin hy terugstap huis toe met haar hand warm en intiem toegevou in syne.

Sarah du Pisanie Omnibus 8

Подняться наверх