Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie - Страница 5

Hoofstuk 3

Оглавление

Annie vee die hare van haar klam voorkop af weg. Hierdie hitte mergel elke greintjie energie uit haar liggaam.

Sy kyk na die klomp seunsgesigte voor haar. Hierdie groep is besig om haar geduld tot die uiterste te beproef. Sy is gedurig in haar pasoppens as hulle in die nabyheid is.

Die afgelope week was vir haar ’n vuurproef. Die matrieks is oor die algemeen ’n klomp volwasse seuns, maar dis die standerdagts en -neges wat haar gedaan maak.

Ongelukkig, met meneer Fourie se siekte, is die seuns nou weer so ingedeel dat die standerdneges ’n groep vorm saam met die matrieks. Sy moet dus haar klas so aanbied dat die een klomp kan aangaan met werk terwyl sy met die ander groep besig is.

Op hierdie oomblik is die matrieks in die klas langsaan besig met wiskunde, terwyl meneer Kruger die nuwelinge by die stalle het. Sy het dus die middelgroep almal saam vir Afrikaans.

Dis onheilspellend stil en die hele atmosfeer is gespanne. Hierdie klomp saam in een klas beteken net onheil! Annie is enigiets te wagte.

Die afgelope paar dae was daar al ’n spinnekop in haar laai, twee paddas in haar bed, ’n rubberslang in haar tas en die wit kopbeen van die een of ander klein diertjie onder haar servet. Sy vertrou hierdie klomp skynheilige gesiggies glad nie meer nie.

Haar kop is seer van die hitte en sy het regtig nou genoeg gehad van al hierdie kinderagtigheid. Verder is Bertus Kruger onvriendelik en gesels hy nie eens oor die nodigste met haar nie. Hy het haar nog net gewys waar haar klaskamer is en waar sy boeke en skryfbehoeftes kan kry.

’n Paar keer al het hy bot ingekom en teen die kosyn geleun en geluister terwyl sy besig was om ’n les aan te bied. Hy luister seker of sy nie dalk iewers ’n fout gaan maak nie.

Hy sal egter lank luister voordat hy dit sal hoor. Sy was nie verniet een van die beste studente in haar klas nie. Sy kan darem spog met ’n B.A.-graad met Afrikaans en Engels as hoofvakke.

“Pieter, neem asseblief vir my die opstelboeke in.”

“Watter opstelboeke, juffrou?” Org van Rensburg is die ene onskuld.

“Die opstelle wat julle vir vandag moes geskryf het.”

“Juffrou het nie vir ons opstelle gegee om te skryf nie.”

“Org, asseblief, ek het nie vandag lus vir jul lawwigheid nie. Pieter, neem asseblief die boeke in.”

Pieter staan traag op. Org beduie vir hom met sy oë dat hy moet saamspeel.

“Intussen gaan ons voort met die voorgeskrewe boek. Julle kan solank jul boeke uithaal, dan vertel ek julle in breë trekke waaroor die storie gaan en wat ek wil hê julle moet doen terwyl julle dit deurlees.”

“Maar, juffrou, in verband met die opstelle . . .” Org kan soms so knaend soos ’n kleuter wees.

Annie maak of sy hom nie hoor nie. Sy vat die voorgeskrewe boek en gaan sit op die punt van die tafel.

Sy sien uit die hoek van haar oog hoe Org iets uit sy tas haal. Omdat sy hom egter wil ignoreer, kyk sy anderpad en gesels met die kinders in die ry langs die ry waarin Org sit.

“Juffrou, oppas!”

Annie sien hoe ’n vaal muisie reg op haar afgehardloop kom.

Hiervoor staal sy haar al lankal. As hulle moet weet hoe bang sy vir ’n muis is, sal hulle dit uitbuit en sal sy muise om elke hoek en draai in haar pad kry.

Toe die verskrikte muis egter ’n meter van haar af is, is al haar goeie voornemens na die maan en met ’n sprong staan sy bo-op die stoel terwyl sy half verbaas na haar eie bloedstollende gil luister.

Waar Bertus Kruger so skielik vandaan gekom het, weet niemand nie. Toe die gil egter wegsterf, staan hy lewensgroot in die klaskamer se deur.

“Wat gaan hier aan?”

’n Doodse stilte begroet die ysige woorde. Hulle wag dat Annie eerste moet praat en vir Bertus die hele storie moet vertel.

Annie klim so waardig moontlik van die stoel af. Sy lig haar ken beslis en kyk hom waterpas in die oë.

“Ek demonstreer ’n deel uit die voorgeskrewe boek wat ons behandel, meneer Kruger. Jammer as ek jou gesteur het. Ek het gedink jy is by die stalle.”

Bertus frons en kyk onbegrypend na haar rooi wange en dan na die stil, te bedeesde klomp seuns.

“Drama is nie een van die vakke wat jy hier moet doseer nie, juffrou Delport.”

Hier is baie beslis ’n groot skroef los. Bertus kan dit met ’n stok aanvoel.

“Ek wil jou pouse in die kantoor spreek, juffrou.”

Hy draai om en stap met lang treë oor die stoep. Hy sal al sy goed verwed dat die juffrou nou net ’n yslike leuen vertel het. Hy is doodseker daarvan dat die seuns haar skrikgemaak het. Die gil was te opreg. Maar hoekom verkla sy hulle nie? Sy weet tog hy sal so iets nie ongestraf laat verbygaan nie. Sulke ongedissiplineerdheid sal hy nie duld nie.

Annie wag doodstil totdat sy sien hoe hy met die voetpaadjie langs terugstap na die stalle toe. Haar stem is beslis en dalk net effens te skerp om natuurlik te wees. “Nou, Org van Rensburg, soek jy daardie muis en jy vat hom hier uit. En moenie vir my sê jy weet nie waarvan ek praat nie, want dan klap ek jou persoonlik!”

Org kyk verleë voor hom. Hy het self gedink ou Zeus is by die stalle. Niemand sal so iets waag as hy weet hy is in die nabyheid nie.

“Wanneer jy klaar is, gaan was jy eers jou hande voordat jy weer in my klas inkom, en dan sal ek vir jou sê wat jou straf sal wees vir sulke . . . sulke kinderagtigheid!”

Met blitsende oë sluit sy die hele klas in.

“Ek is nou siek en sat vir hierdie kinderagtigheid. ’n Mens maak ’n grap en dan kry jy end daarmee. Dis net kleuters wat oor en oor dieselfde grap maak en dit elke keer amusant vind. Julle is amper mans; ’n mens verwag dit nie meer van julle nie.”

Org bekruip die muis wat bewend in die hoek probeer wegkruip.

Annie doen haar bes om nie in daardie rigting te kyk nie. Haar waardigheid het vandag ’n groot genoeg knou gekry. Sy loer net onderlangs toe Org met die muis aan sy stert by die klas uitstap. Toe Org terugkom en skaam voor haar kom staan, kyk sy hom vies aan.

“Nou is die arme muis natuurlik doodgemaak, en dit alles deur jou toedoen! Hy het jou nie gehinder nie, Org. Nog minder hinder ek jou. Hoe julle ook al daarteen opsien dat ’n vrou julle leer, die feit bly staan dat daar geen man was wat kans gesien het om hier op ’n plaas te kom bly nie. Ek was bereid om die opoffering te maak en dit steek julle nou almal dwars in die krop. Sal julle eerder sonder ’n onderwyser, of dan onderwyseres, hier wil wees?”

“Ek is jammer, juffrou.” Org kyk verleë op sy skoene.

“Dit gaan nie die saak ongedaan maak nie. Ek het ’n gek van myself gemaak en meneer Kruger gaan dit nie oorsien nie. Jy wou jou soos ’n kind gedra, Org, en daarom gaan ek jou soos ’n kind straf. Jy gaan die eerste hoofstuk van hierdie voorgeskrewe werk oorskryf. Ek het baie lus en laat jou soos ’n laerskoolkind ’n duisend keer uitskryf ‘Ek moenie kinderagtig wees nie’.”

Org gaan stil op sy plek sit. Hy het darem nie verwag dat sy die blaam op haar sou neem nie. Hy kyk na die skraal gesig wat nou bleek en gespanne lyk en die skaamte oorweldig hom.

“Juffrou! Juffrou, ek sal vir meneer Kruger gaan sê dit was ek wat juffrou skrikgemaak het met die muis.” Org voel soos ’n hond.

Niemand hou daarvan om na meneer Kruger se kantoor ontbied te word nie. Hulle het tog al gesien dat meneer Kruger haar ignoreer en dit lyk nie of hy vreeslik beïndruk is met die nuwe juffrou nie. Nou moet sy alleen, en dit deur sy toedoen, die leeu in sy hok gaan aandurf.

“Ek kan na myself omsien, dankie, Org. Hier is genoeg probleme; dis nie nodig dat julle dit deur kinderagtigheid vermeerder nie.”

Die klas is doodstil toe Annie die voorgeskrewe boek oopmaak en die storie begin voorlees. Teen die tyd dat die klok vir pouse lui, is die klas meer gespanne as Annie. Sy kan aanvoel dat hulle gewilliglik die straf wat sy nou gaan kry op hulle sou wou neem.

Siestog! Hulle is in werklikheid ’n dierbare klomp kinders. Hulle word net te veel gedissiplineer, sodat daar nie tyd vir speel en kind wees ook is nie.

Die glimlag wat breed en stralend moet wees, is maar vaal en bewerig. Sy lig haar kop ekstra hoog toe sy by hulle verbystap kantoor toe.

Gewoonlik drink sy sommer ’n koppie tee in die klas­kamer. Dis tog belaglik om alleen in die personeelkamer te sit en tee drink. Bertus verwerdig hom nie om saam met haar ’n koppie tee te drink nie. Hy sit pouses vasgenael in sy kantoor waar hy blykbaar vreeslik besig is.

Sy is so ingedagte dat sy nie vir Bertus Kruger of die lang, aantreklike man met sy ligte krulkop sien voordat sy vinnig aan haar arms vasgevang word nie. Sy ruk soos sy skrik, maar die twee groot hande om haar boarms keer gelukkig dat sy nie haar balans verloor nie.

“Aarde, juffroutjie!” Die blonde man staar met openlike bewondering na die blosende gesiggie hier naby hom.

“Bertus!” Die man kyk laggend na die nors Bertus. “Dit was ’n bom wat gebars het toe ons hoor dis ’n juffrou wat nou hier skoolhou, maar as die boere moet sien hoe sy lyk . . . Wel, ek weet nie of hulle die skool se drumpel sal deurtrap en of hulle dalk dadelik hul seuntjies uit die skool sal haal nie.”

“Aag, kom, Schalk, moet jy tog nie ook verspot wees nie – ek kry genoeg van kinderagtigheid.” Bertus se stem is so onvergenoeg dat Annie baie lus het en skop hom op sy skeen.

Die ou buffel! Hy gun haar nie eens ’n ou komplimentjie nie. Vies vir Bertus glimlag sy breër vir die blonde man as wat sy in haar hart voel. “Hoekom op aarde sal hulle hul kinders uit die skool wil haal, meneer . . . e . . .?”

“Potgieter, Schalk Potgieter.”

Hy steek sy hand na haar uit en sy skud dit plegtig.

“Ek is Annie Delport. Aangename kennis, meneer Potgieter.”

Sy gee vir Bertus ’n vuil kyk. Hy kon darem die ordentlikheid gehad het om haar aan die man voor te stel.

“Hulle sal bang wees hul seuntjies leer nie, juffrou. As ek so ’n mooi juffrou moes gehad het, sou ek net heeldag na haar wou kyk. Ek sou nooit na vervelige boeke gekyk het nie!”

Blosend trek Annie haar hand uit syne. Sy staan ’n entjie terug. Dit sal haar leer om koketterig met vreemde mans te wees net om vir Bertus Kruger te wys dat iemand haar wel raaksien. Nou is sy skaam en sonder woorde vir die warm begeerte in die man se oë.

“Verskoon my, asseblief, meneer Potgieter.” Sy draai beslis na Bertus. “Jy wou my gespreek het, meneer Kruger. Sal ek solank in die kantoor gaan wag?”

Sy kyk op en die donker frons op Bertus se gesig laat haar vinniger padgee as wat goed is vir haar waardigheid.

Bertus vat Schalk se arm beslis en stap in die rigting waar sy bakkie geparkeer staan. Schalk rem egter glimlaggend terug en roep na Annie.

“Ons sal weer gesels, juffrou Annie! Ek kom een van die dae vir jou kuier!”

Annie antwoord hom nie. Sy hou net haar rug baie regop en styf terwyl sy wegstap. Hy is darem hopeloos te voor op die wa. Hy dink seker hy is vreeslik aantreklik.

Sy skink solank vir haar tee in en roer dit ingedagte.

“Jy kan maar deurkom kantoor toe, juffrou.” Bertus grom die woorde in haar rigting. Hy stap ook sommer voor haar by die kantoordeur in en gaan sit agter sy massiewe lessenaar.

“Maak asseblief die deur toe.”

Annie grinnik. Hy ken darem die woordjie asseblief. Dalk roskam hy haar nou behoorlik en mag die kinders dit nie sien nie.

Gewoonlik leef sy haar in sulke situasies in. Dié gedagteflits word nou so werklik dat sy beswaarlik die lag van haar gesig kan afhou.

Toe sy omdraai, is haar oë dus vol pret in plaas van vrees, en onmiddellik is Bertus woedend. Wie dink sy is sy dat sy hom hier in sy eie kantoor vir die gek wil hou?

“Juffrou Delport, ek sal hierdie blatante uitdagings en ondermyning van my gesag nie ’n oomblik langer duld nie.”

Annie frons.

“Maar . . .” Sy kan nou glad nie die kloutjie by die oor bring nie.

“Ek praat nou, juffrou Delport. As iemand jou nog nie geleer het dat ’n mens nie iemand anders in die rede val nie, sal ek dit as my plig beskou.”

Annie pers haar lippe saam. Ou matie, dink sy, nou gaan jy darem sukkel om weer ’n boe of ’n ba uit my mond te kry. Penregop soos ’n kind wat sy afranseling kom haal, gaan staan sy voor die lessenaar.

“Sulke ongedissiplineerdheid soos vanoggend in jou klas sal nie hier op Skurwekop toegelaat word nie. Buitendien glo ek nie dat jy iets gedemonstreer het nie. Ek wil nou weet wat presies daar aangegaan het en wie daarvoor verantwoordelik was.”

Annie staan egter doodstil en antwoord hom nie. Bertus kyk vererg op toe die stilte rek en rek.

Die skraal skouertjies is agteroor getrek en haar hele lyf is kersregop. Die donkerbruin hare hang los op haar skouers en wip guitig onder by die punte op. Dit is los en blink en omraam die fyn gesiggie. Twee groot, bruin oë kyk hom onbevrees van onder lang wimpers aan. Die ligblou rok met die patroon van fyn wit blommetjies pas knus om die dun middeltjie en klok wyd uit, sodat dit sag en vol om haar kuite hang.

“Ek het met jou gepraat, juffrou Delport!”

“Is jy dus klaar, meneer Kruger? Jy het ook gesê dat ek jou nie in die rede mag val nie.”

Bertus maak sy vuiste oop en druk met sy handpalms op die lessenaar terwyl hy op sy tande kners. Hierdie vroumens sal hom nog teen die mure laat uitklim.

“Ek wag vir ’n antwoord, juffrou. Wie was vanoggend verantwoordelik vir die chaos in jou klas?”

“Ek is jammer om van jou te verskil, meneer Kruger, maar daar was geen chaos in my klas nie. Ek het reeds verduidelik wat gebeur het.”

“Jy jok! Ek verwag absolute eerlikheid van al die leerlinge en ook van jou! Ek verwag ook dat jy te alle tye vir hierdie kinders ’n voorbeeld sal wees. Hulle kom almal uit gegoede huise. Hul ouers onderhou hierdie skool finan­sieel. Hulle het dus die volste reg om te verwag dat ons hul kinders dissipline en eerbaarheid sal leer en dat my personeel hulle nie sal skuldig maak aan laakbare gedrag nie.”

Annie staar hom net stil aan en dit maak Bertus buite homself van woede.

“En ek verwys ook na jou gedrag van ’n paar oomblikke gelede, juffrou.”

Annie kyk hom uit die veld geslaan aan. Sy kan aan niks dink wat sy verkeerd gedoen het nie.

“Nou speel jy weer jou onskuldige rolletjie, nè, juffrou? Vroumense is mos goed daarmee. Hulle maak wat hulle wil en is dan vreeslik verontwaardig as hulle met hul eie gedrag gekonfronteer word.” Hy huiwer ’n oomblik voordat hy sy tirade hervat. “Ek praat van Schalk Potgieter, juffrou, as jy jou geheue verfris wil hê. Hy is die distrik se grootste losbol. Hoe vreemd dit ook al vir my is, is dit ’n feit dat die meisies in trosse agter hom aanloop. Jou koketterigheid van netnou het beslis nie op barre aarde geval nie. Die seuns se ouers sal glad nie daarmee tevrede wees as hulle moet weet dat my enigste leerkrag in hierdie stadium ook in die optog agter Schalk aan is nie.”

Woede maak Annie heeltemal onverskillig. So ’n nare suurknol van ’n gefrustreerde mens! Waar kry hy die reg om haar sommer van allerhande dinge te beskuldig?

“Meneer Kruger, ek hou skool hier op Skurwekop en jy is my skoolhoof, maar wat ek met my lewe en my vrye tyd doen, het niks met jou of met hierdie kinders se ouers te doen nie. Julle het my nie gekoop nie!”

“Nee, juffrou, ek het jou beslis nie gekoop nie. Ek wil jou nie eens present hê nie. Jy is egter te dikvellig. Jy het jou kanse mooi opgeweeg en gedink dat jy hier ’n ryk boer kan uitslaan. Jy dring daarop aan om hier te bly, want jy weet dat as ek jou summier terugstuur, sal die departement nie moeite doen om vir my ’n ander onderwyser te stuur nie. As jy egter uit jou eie gaan, gee dit ons ’n beter kans. Maar nou sit ons met jou!”

Annie kyk hom geskok aan. Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar klap dit dan vinnig toe toe sy skielik warm trane agter haar ooglede voel brand. As sy nou iets sê, gaan sy huil, en daardie satisfaksie sal sy hom nie gee nie.

Sy draai dus sonder verskoning om en stap deur toe.

“Ek is nog nie klaar nie! Kom hier!”

Annie ruk egter net die deur oop en klap dit hard agter haar toe.

“Buffel! Ongeskikte buffel!” Sy sis die woorde saam met ’n verlate snikkie uit.

“Juffrou!” Org staan ontsteld nader van waar hy om die hoek vir haar gestaan en wag het. Hy vat haar saggies aan die arm en stap woordeloos saam met haar na die klas­kamer toe. Annie soek wild na ’n sakdoek en blaas dan haar neus hard.

“Juffrou, ek . . . ek is vreeslik jammer! Ek gaan nou na meneer Kruger toe –”

“Nee, jy doen dit nie!”

“Asseblief, juffrou. Ek weet hoe dit voel as meneer Kruger ’n mens in die hande kry. Hy laat jou soos ’n wurm voel. Vir my sal hy net ’n pak slae gee en dis nie so erg nie.”

“Dan sal hy my nog steeds soos ’n wurm laat voel omdat ek vanoggend vir hom gejok het. Dis nou agter die rug, Org. Vergeet nou daarvan.”

“Sit juffrou nou, dan gaan haal ek vir juffrou ’n koppie tee.”

Annie glimlag deur haar trane vir Org wat so verleë en jammer is.

“Dankie, Org, dit sal lekker wees.”

Hy kom sit die tee voor haar neer en sy neem dit dankbaar. “Dankie, Org, dit gaan heerlik wees.”

Sy glimlag teer toe die lang, skraal seun by die deur uitgaan. Sy grappie van vanoggend het lelik geboemerang. Sy is egter seker daarvan dat sy nou ’n lewenslange vriend van Org van Rensburg gemaak het.

Ná pouse het sy die matrieks vir wiskunde. Vir hierdie span is sy ligvoet. Hulle is ’n stil, ernstige klompie seuns. Kobus Snyman, die hoofseun, is die gewone agtien jaar, maar daar is van die seuns wat al ouer is. Paul Erlank word binnekort twintig. Hy is ’n stil, groot seun wat glo baie goed rugby speel en reeds onder die keurders se aandag vir die Suidwesspan is.

Hierdie seuns kan haar altyd so stil en onderlangs dophou. Sy kan nie agterkom of hulle wag dat sy ’n fout moet maak en of hulle haar so sit en bekyk omdat sy ’n vrou is nie.

Sy glo vas dat die seuns te veel onderdruk word. Hulle kry nie kans om te lag of te speel nie en iets soos die natuurlike verkeer met meisies van hul ouderdom is daar glad nie.

Selfs hul sport is geen plesier nie. Net die beste word van hulle verwag. Almal se oë is op Skurwekop gerig en die geringste wat hier verkeerd gaan, kan veroorsaak dat die skool gesluit word. Die kinders word dus gedryf om bomenslike prestasies te behaal.

As die slim meneer Kruger net wil besef dat hy twee keer soveel uit die seuns kan haal deur hulle gelukkig en ontspanne te laat wees.

Sy is al halfpad deur die wiskundeles toe die groot gestalte van Bertus Kruger in die deur verskyn. Hy ignoreer haar en wag totdat sy swyg voordat hy hom tot die seuns wend. “Sport begin vanmiddag soos gewoonlik, Kobus, kom spreek my asseblief ná hierdie periode. Ons sal iets moet uitwerk in verband met die tennis. Meneer Fourie is nie hier nie.”

“Ja, meneer.”

Sonder om vir Annie verskoning te vra vir die onder­breking, draai hy om en stap by die deur uit.

“Julle moet asseblief die oefening voltooi. Dit is dus al vir vandag. Is daar een van julle wat nie duidelikheid het oor die werk nie?”

“Ek, juffrou.” Paul Erlank lig hom effens op, maar sy lang bene steek vas onder die bank.

“Wat is dit wat jy nie verstaan nie, Paul? Ek sal dit weer vir jou verduidelik.”

“Ek weet nie wat dit is nie, juffrou. Ek het sommer net heeltemal van die wa afgeval wat wiskunde betref. Hoe ek dit tot nou deurgekom het, is vir my onverstaanbaar.”

Die ander lag vir Paul se growwe, eerlike stem.

Annie kyk na Paul en sy kan die opregtheid in die groot seun se oë sien.

“Wanneer het juffrou ’n kansie? Dan kom ek liewer na juffrou toe. Dit sal darem vreeslik vervelig vir die ander ouens wees as juffrou dit nou alles weer moet verduidelik. Hulle is soveel slimmer as ek.”

“Wel, middae net ná ete. Ek het gewoonlik niks te doen tot studietyd nie. Kom gerus vanmiddag na my kamer toe, dan sal ek jou help.”

“Dankie, juffrou.”

“Julle kan maar solank begin met die huiswerk; dan het julle nie so baie vir vanmiddag nie, veral noudat die sport weer begin.”

Kobus kyk fronsend na die ouens om hom en byt ingedagte aan sy pen.

“En as jy nou so frons, Kobus?”

“Ek weet nie van die tennis nie, juffrou. Meneer Fourie het altyd tennis afgerig. Paul en André en Nico speel rugby. Hulle is glad nie tennisspelers nie. Ek en Christo en Boef is met die atletiek gemoeid en ons program is baie straf. Dis net Flenters wat met die tennis kan aangaan, en hy kan dit nie alleen doen nie.”

“Ek sal help, Kobus. Ek speel ook tennis.”

“Sal juffrou?” Kobus is opreg dankbaar en Annie glimlag net vir die klomp seuns.

“Weet meneer dat juffrou ook kan tennis speel?”

“Ek weet nie, Kobus. Hy het my nog nooit gevra of ek speel nie.”

Kobus lag sag. Hulle wonder al lankal wat in meneer Kruger se kop aangaan. Hy was nog nooit ’n ou vir vroumense nie. Daar is ’n storie dat hy ’n liefdesteleurstelling gehad het. Meneer Kruger is baie styf en formeel teenoor die juffrou en hulle sal darem baie graag wil weet wat tussen hulle gebeur het.

Flenters, eintlik Gerrit Steenkamp, is ’n stil en ingetoë seun. Ná skool kom hy skaam nader en vat Annie se tas by haar.

“Die tennis begin net ná studie, juffrou. Ons trek gewoonlik sommer voor studie al aan, dan kan ons dadelik begin speel. Daar is ’n hele paar van die kleintjies wat speel en ons het net die twee bane.”

“Goed, Gerrit, ek sal gereed wees.”

“Juffrou moet maar liewer vir my Flenters sê. Niemand noem my ooit Gerrit nie.”

Annie sorg dus dat sy haar ná die ete aantrek vir tennis. Paul behoort ook nou-nou te kom vir die ekstra wiskunde­les.

Sy het nog nie eens haar tennisskoene aan nie toe Paul aan die deur klop. Sommer so op haar sokkies maak sy die deur vir hom oop. “Kom binne, Paul. Sit sommer daar by die lessenaar, dan kan ons gesels.”

Paul verkyk hom aan die pragtige juffrou met haar sonbruin bene in die kort tennisrokkie. Hy voel hoe sy hart in sy borskas begin bons.

Annie is heeltemal onbewus van wat in die groot seun se kop aangaan en sy gesels op haar gemak met hom oor die probleme wat hy met wiskunde het. Stadig ontspan Paul en kort voor lank het hy heeltemal daarvan vergeet dat die nuwe onderwyser eintlik ’n vrou is. Stadig val die dinge wat hom tot nou toe so laat kopkrap het in hul voue en hy glimlag breed.

“Dis eintlik baie eenvoudig, juffrou. Ek het maar altyd geraai en gehoop dis reg. Daar was net ’n muur en daarom het niks sin gemaak nie. Nou kan die wiskundevraestel maar kom!”

Die studieklok maak ’n einde aan hul les en Annie tel die boeke op wat sy tydens die studie wil gaan merk.

Die matrieks het vergunning om in hul kamers te studeer, maar die res moet almal in die eetsaal bymekaarkom.

Paul wil die boeke by haar neem, maar sy keer vinnig.

“Nee wat, dankie, Paul, jy moet dan ’n onnodige draai loop. Oefen julle nou al rugby? Dis mos nog te vroeg in die jaar?”

“Ons oefen eintlik net saam met die atlete om fiks te word, juffrou. Ons het ons eie span hier op Skurwekop. Meneer Kruger is self ’n baie goeie rugbyspeler en hy gee vreeslik baie aandag aan die rugbyspan.”

Paul klink so trots en Annie glimlag breed vir hom toe sy die kamerdeur agter hulle toetrek.

“Ek moet draf, ons is sowaar laat.”

Die seuns is al in die eetsaal en Annie stap vinnig kop onderstebo nader.

“Juffrou Delport!” Die stem hier by haar is sissend sag.

Sy kyk stadig op, vas in die blitsende grysblou oë.

“Ja, meneer Kruger?”

“Gaan trek vir jou ordentlik aan! Ek sal nie toelaat dat jy halfnaak hier tussen die seuns rondloop nie. Ook nie dat jy seuns in jou kamer onthaal nie.”

Annie kyk verbaas na hom en dan na haar tennisrok.

“Maar ons het net ná studie tennis.”

“Jy gaan nie so tussen die seuns in nie.”

Hy sien uit die hoek van sy oog hoe die seuns doodstil sit en amper nie asemhaal nie soos hulle hul ore spits om te kan hoor wat hier buite gesê word.

Soos ’n staalklem span sy hand om haar arm en sy word amper na haar kamer gesleep. Hy draai die deurknop en stoot haar na binne. Woedend gooi sy die boeke op die lessenaar neer en kom staan reg voor hom in die oop deur.

Sy sien egter hoe die seuns deur die eetkamer se venster loer. Sonder om twee keer te dink, gryp sy hom aan die arm, trek hom in haar kamer in en druk die deur beslis agter hom toe.

“Wat . . .?”

“Die kinders verrek hul nekke om te kan hoor hoe jy my oor die kole haal. Hoekom spaar jy hulle nie die moeite en neem my eetkamer toe en laat my daar op ’n stoel staan nie? Ek is mos net vier jaar oud en het geen maniere of ordentlikheid nie!”

Twee rooi kolle van verontwaardiging brand op haar wange.

“Jy hét ook geen ordentlikheid nie! Jy laat die seuns toe om hier in jou kamer in te kom en dit terwyl jy . . . so skamel geklee is.”

“Speel jy tennis, meneer Kruger?”

“Ja, juffrou, maar ek het nie nou tyd om hulle af te rig nie. Die atletiek is nou die belangrikste.”

“Wel, speel jy gewoonlik in ’n langbroek en ’n langmouhemp?”

Sy kyk op in die nors gesig en wag nie vir ’n antwoord nie.

“Hou op om kinderagtig te wees! Dis nie meer die agtiende eeu nie. Kry dit vir eens en altyd in jou kop dat ek nie in hierdie seuns belangstel nie. Ek stel in hul geleerdheid en opvoeding belang en dis al! Hoe gouer hierdie seuns egter leer dat ’n vrou in ’n kort rokkie tennis speel, hoe minder sal hulle hulle daaraan vergaap as hulle teen ander spanne speel.” Sy sluk diep. “Wat Paul betref, ek het hom gehelp met wiskunde. Ek kan egter insien dat dit nie reg was om hom hier te woord te staan nie. Daarom sal ek daardie deel van die skrobbering aanvaar en in die toekoms sal ek die seuns in die eetsaal spreek wanneer dit nodig is.”

Bertus staan stil en uit die veld geslaan na haar en kyk. Sy het nou die wind heeltemal uit sy seile geneem. Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar sy praat al klaar weer.

“Ek kan nou ander klere aantrek, maar die kinders sal dadelik weet dat dit die rede is hoekom jy my oor die kole gehaal het. Dit sal hulle aan die wonder sit en dinge laat opmerk wat glad nie nodig was nie. Hierdie seuns het almal ma’s en die meeste het susters ook. Andersins kan ek nou hier uitgaan soos wat ek is en hulle sal nie raai waaroor dit alles gegaan het nie.”

Sy staan terug en wag op sy antwoord.

Bertus gluur haar nog steeds woedend aan. Sy was darem nou grootmoedig genoeg om te erken dat dit verkeerd was om vir Paul in haar kamer ekstra klas te gee. Dit het hom onkant betrap. Hy het gereken sy sou haar op daardie punt ook wou verdedig. Hy snork dus net verontwaardig en swaai om om uit te stap.

Sy wip egter rats voor hom in voordat hy by die deur kom.

“Moet ek ander klere aantrek?” Sy meet hom met haar oë en die eerste keer sien hy watter mooi bruin oë sy het. Hy sien ook hoe sag haar hare om haar wange krul voor dit aftuimel na haar skouers toe.

“Maak tog soos jy wil! Jy doen dit in elk geval.”

Hy druk by haar verby en stap met lang treë by die deur uit.

Annie tel haar boeke op en stap na die eetkamer toe. Sy kan beswaarlik haar lag hou toe sy sien hoe vinnig die nuuskierige gesigte voor die venster verdwyn.

Sarah du Pisanie Omnibus 8

Подняться наверх