Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie - Страница 9

Hoofstuk 7

Оглавление

Annie lyk soos die lente self toe sy vinnig nader draf in ’n spierwit rok en wit sandale. Om haar dun middeltjie is ’n breë, groen-en-wit gestreepte serp gebind en ’n groen-

en-wit laphoedjie sit ongeërg op haar glansende bruin hare.

Sy gee haar kitaar vir Kobus aan voordat sy in die bus klim.

“Kom, kom, juffrou! Moet ons altyd vir die vrou van Skurwekop wag?” Org is vanoggend uit sy vel en baie

vrolik.

“Ekskuus? Waar is meneer Kruger?” Annie vra dit neus in die lug om te wys dat sy nie laaste is nie. “Ek is voor hóm hier.”

Sy stap deur die bus en gaan sit op die agterste sitplek wat hulle vir haar oopgehou het.

“Meneer Kruger sal seker nie saam met ons ry nie, juffrou. Hy ry gewoonlik met sy eie motor.”

“Ag nee, hy sal dit mos nie doen nie. Nie vandag nie. Ons ry dan almal saam soos een groot familie.” Sy kyk fronsend na die seuns. Dit sal maar moeilik gaan om hulle te laat glo dat Bertus Kruger ook ’n vriendelike en genaakbare kant het.

“Hy ry nooit graag saam met ons nie, juffrou. Buitendien sal dit baie lekker wees as dit net juffrou is wat saam met ons ry. Ons kan dan sing en raas en lag . . .” Flenters se harde basstem dra deur die hele bus.

“Ag, nee wat, julle moet nie altyd sulke goed sê nie! Kyk net wat het meneer Kruger nie alles vir julle gedoen om hierdie dag moontlik te maak nie. Wees julle net ’n slag spontaan en vriendelik met hom en dan sal hy ook so met julle wees. Julle kan mos nie verwag dat hy sal oorloop van vriendelikheid en liefde vir julle as julle julself toesluit vir hom nie. Liefde kweek liefde! Geen mens, hoe gehard ook al, is bestand teen liefde nie.”

Annie se stem is so ongewoon ernstig dat die seuns haar net stil aankyk.

“Ja, ek kan glo dat hy nie bestand sal wees teen juffrou se liefde nie, maar wat wil hy met ons s’n maak?”

Annie kan nie sien wie hierdie stukkie wysheid kwytgeraak het nie en die ander vind dit natuurlik baie snaaks.

“Ja, ek dink nie hy sal vreeslik beïndruk wees deur ouens soos Boef en Paul en Flenters se liefde nie,” laat ’n ander hoor.

“Ag, aan julle is tog nie salf te smeer nie. Kobus, gaan kyk asseblief waar meneer Kruger is. Dalk kan jy hom gou help. Hy is seker net besig om die geboue te sluit en ’n laaste paar dingetjies te doen.”

Bertus Kruger staan stil agter die bus. Hy hoor elke woord wat daar gepraat word. Hy wás van plan om met sy eie motor te ry. Hy weet mos goed dat die seuns dit meer geniet wanneer hy nie by is nie.

Hy druk sy motorsleuteis in sy sak en stap ongeërg om die bus. Hy loop hom byna in Kobus vas wat uitgelate by die bus se deur uitspring.

“O, hier is meneer! Is daar iets waarmee ek gou vir meneer kan help?”

“Ek is klaar, dankie, Kobus. Wag julle vir my?”

“Ja, meneer.”

“Het julle daardie mandjie appels en die mandjie lemoene ingelaai? Hierdie klomp gaan lus wees vir ’n eetding net sodra ons oor die bult is.”

“Ja, meneer, dis in.”

Kobus staan eerbiedig opsy sodat Bertus kan inklim.

Oom Gawie kyk goedkeurend na Bertus en glimlag breed agter die stuurwiel van die bus.

“Kom, meneer Kruger, ons wag net vir jou. Die seuns moet nog ’n bietjie uitrus en bene rek voordat hulle kan gaan hardloop.” Oom Gawie loer oor sy skouer na die klompie atlete. “Het julle almal jul spykerskoene, wegspringblokke, frokkies, atletiekbroeke . . .?”

“Ja . . . oom . . . Gawie!” Hulle sê dit afgemete soos ’n klomp kleuters. Dis deel van die ritueel. Oom Gawie moes eenkeer omdraai omdat een van die seuns sy rugbystewels vergeet het en hy laat hulle daardie voorval nooit vergeet nie.

“Waar sit ek?” Bertus kyk oor die dertig seunsgesigte heen, almal nou taamlik bedees.

“Meneer sal maar daar agter by juffrou moet sit. Sy gaan netnou vir ons kitaar speel.”

Bertus stap in die smal paadjie af. Van waar Annie sit, kan sy hom gemaklik dophou. Hy is geklee in ’n kortbroek en ’n blou geruite hemp wat hom jonk en baie aantreklik laat lyk. Hy het ’n blou hoedjie in sy hand wat hy vandag as skerm teen die kwaai Suidwesson wil gebruik. Sy oë lyk vreemd verleë en ongemaklik toe hy langs haar tot stilstand kom.

’n Jammerte vir hierdie groot man kom vou om Annie. Hy is ’n arme, ongelukkige mens. Hoeveel geluk en vervulling kon hy nie al hier op Skurwekop gesmaak het as iemand hom net wou leer wat liefde is nie!

Sy skuif uit die bank en glimlag breed vir hom.

“Ek is jammer, maar jy sal moet inskuif. Ek sal nie kan kitaar speel daar in die hoek nie.”

Bertus skuif sonder ’n woord in tot teen die venster.

Die bus trek weg en Annie val effens teen hom toe sy weer gaan sit. Sy bloos liggies, maar maak of dit niks is nie.

Die seuns is stil en dit hinder Annie. Hulle moet tog net nie dat hierdie uitstappie boemerang nie. Bertus moet sien hoeveel hulle dit geniet.

Sy wag net totdat hulle by die hek uit is en die bus egalig op die grootpad ry. Sy tel haar kitaar op wat langs haar in die paadjie staan.

“Kom, kom, meneertjies! Vandag gaan julle sing totdat jul tonge aan jul verhemeltes vaskleef!”

“Hoekom is juffrou so kwaai met ons? Wat het ons nou weer gesondig?”

Org se gees word nie maklik gedemp nie en Annie het lus en soen hom.

“Omdat julle my siel so uitgetrek het toe ek hier gekom het. Vandag gaan julle betaal.”

Sy tokkel op die snare en sit dan met ’n suiwer, soet stem die eerste vrolike liedjie in. Die seuns val saam in en nie baie kilometers verder nie sing hulle uit volle bors, die stugheid en skaamheid skoon vergete. Bertus sing nie saam nie, maar Annie kan tog aanvoel dat hy begin om te ontspan. Hy vermaan nie die seuns oor enige onbenullighede nie. Hy glimlag selfs een of twee keer lui vir ’n kwinkslag wat een kwytraak.

Dit moedig die seuns aan en kort voor lank is hulle heeltemal verspot. Annie sit later laggend haar kitaar neer.

“Nee, geen mens kan lag en kitaar speel nie.”

“Ek sal ’n bietjie speel, juffrou.” Boef hou sy hand uit vir die kitaar en verbaas oorhandig Annie dit aan hom.

Sy het nie geweet hy kan speel nie. Sy het nog geen musiekinstrumente in een van hul kamers gesien nie. Hulle word seker nie toegelaat om dit saam te bring nie.

Boef se groot hande vee liggies oor die snare en Annie sit onwillekeurig meer regop toe hy begin speel. Boef speel soos ’n meester. Die seuns voel haar belangstelling aan en hulle sing sagter sodat die pragtige klanke van die kitaar bo die sang uitstyg.

Spontaan klap sy vir hom hande.

“Dis pragtig, Boef! Waar het jy geleer om so te speel?”

“My pa. Juffrou moet hom hoor – hy is ’n meester!”

“Jy ook, Boef! Regtig! Speel nog vir ons, asseblief.”

Bertus luister geïnteresseerd. Hy kan nie ’n musiekinstrument bespeel nie. Hy het egter ’n oor vir musiek en sing self graag. Al hierdie mooi dinge het egter mettertyd in die vergetelheid geraak. Hy het kontak met die tyd en die lewe verloor.

“Wie van julle ken ‘’n Handvol gruis uit die Hantam’, daardie besonderse liedjie?” vra Annie.

Omtrent tien hande gaan op.

“Kom ons leer dit gou vir die ander. Dis altyd vir my een van die mooiste liedjies.”

Boef begin saggies speel.

“Ken jy dit, Boef?”

“Ja, juffrou.”

Annie sing voor met haar mooi, suiwer stem. Ná die eerste strofe kyk sy na Bertus en haar oë is so eerlik en opreg dat Bertus nie kan weier toe sy hom vra nie.

“Sing saam, toe! Jy behoort dit tog te ken.”

“Ja, ek ken dit.”

“Ons begin weer voor.”

Bertus val met sy diep stem in en Annie loer verras na hom. Hy sing pragtig! Met ’n bietjie afronding kan sy stem ontwikkel tot iets heel besonders. Sy sien egter hoe ongemaklik hy in die vreemde rol is en sy wens sy kan sy hand vashou om hom meer selfvertroue te gee.

“Weet julle, ek ontdek vandag soveel talent hier. Ons moet ’n koor stig op Skurwekop. Jy sing pragtig, Bert- . . . meneer Kruger.”

Bertus is skielik baie ongemaklik en verleë en kyk sommer deur die venster. Die seuns skater dit uit van die lag.

“Hoe is meneer dan nou skaam?” Kobus, wat al van die dag met die siek koei die meeste van sy vrees vir Bertus verloor het, is vol bravade.

“Nee, meneer het mos gedink hy gaan vryspring. Meneer sal moet keer. Sy gaan vir ons vreeslike goed leer. Ons sal een van die dae huishoudkunde moet neem en netbal speel ook.” Org sien al weer ’n gaping om van sy opgekropte lewenslus ontslae te raak.

Dis of die ys skielik met ’n kragtige hamer gebreek is.

Die eerste keer glimlag Bertus breed en spontaan en vir die meeste van die seuns is dit ’n vreemde ervaring om hom so gelukkig te sien.

“Ek het my bes gedoen om van haar ontslae te raak, maar sy klou soos klitsgras. Ek was my hande in onskuld. Julle sien dan julle kry haar ook nie weg nie, nie eens met ’n muis nie.” Bertus kyk reguit na Org en Org is ’n oomblik lank uit die veld geslaan, maar dan begin die stout liggies in sy oë glinster.

“Waar het meneer dit gehoor? Ek sal my twee oogtande verwed dat dit nie by juffrou was nie. Sy is soos ’n oester!”

“Dankie, Org.” Annie glimlag vir Org. “Ek is darem bly om te sien jy vertrou my. Maar waar hét jy dit gehoor, meneer Kruger?”

Bertus wens sy wil hom liewer op sy naam noem. Sy het haar netnou amper verspreek en dit het iets warms in hom wakker gemaak. Dis lekker om te weet dat sy dalk aan hom dink as Bertus en nie as meneer Kruger nie.

“Dis my geheim! Ek kan net so dig wees as ek wil.”

Te gou na die kinders se sin is hulle op Otjiwarongo. Vandag wil hulle die lekker uitrek soos ’n tameletjie.

Die seuns span dadelik en baie trots hul banier oor die stukkie paviljoen wat vir hulle uitgehou is. ’n Hele paar skole is betrokke by die atletiekbyeenkoms en oral is ’n doenigheid van ’n ander wêreld om alles gereed te kry.

Annie sien hoe die seuns onderlangs na die meisies van die meisieskool loer wat net langs hulle op die paviljoen sit. Sy stamp saggies aan Bertus.

“Kan hulle nie maar die meisies gaan help nie? Dit lyk darem so ongemanierd as hulle hier sit en die meisies moet so sukkel.”

Bertus kyk af in die blink, bruin oë en ’n snaakse lam gevoel kom knoop op sy maag.

“Of . . .”Annie raak verbouereerd toe hy haar so stil aanstaar. Sy wil tog niks doen wat vandag sy gramskap kan opjaag nie. “Of wil jy liewer nie?”

Bertus kyk na haar en besef sy wag op ’n antwoord, maar hy het geen benul wat sy gevra het nie.

“Ja . . . Ja, seker!”

Toe hy die bly lig in haar oë sien skyn, weet hy dat dit darem die regte antwoord was.

Sy roep na Boef en Flenters wat die naaste aan haar staan.

“Meneer sê julle moet die meisies ’n bietjie gaan handgee. Hulle kry nie daardie goed vas nie. Julle is mos groot en sterk.”

“Ja, juffrou, seker, juffrou! Dankie, meneer.” Die seuns bondel halsoorkop oor na die meisies toe.

Bertus se gesig vertrek in ’n breë glimlag.

“Jy bederf die seuns, weet jy? Jy is nog by alles ’n regte ou knoeier ook. Dis soos die seuns sê, een van die dae gaan jy hulle leer netbal speel.”

Annie glimlag ondeund en knipoog vir hom.

“Jy is net jaloers omdat daar nie ’n mooi, jong juffroutjie by is nie, anders was jy eerste daar om te gaan help.”

“Gmf!” Bertus snork gemaak verontwaardig. Toe hy die pret in haar oë sien, kan hy nie help om weer die warm gevoel van geluk in sy binneste te voel roer nie.

“Vir jou straf sal jy nou saam met my moet loop en help soek na ’n plek waar ons kan koffie drink.”

Annie wens sy het die vrymoedigheid gehad om haar hand deur sy arm te steek. Sy giggel sag toe sy dink aan die verontwaardiging op sy gesig wat so iets sal uitlok.

“Wat is so snaaks?”

“Nee, niks nie.”

“Is dit vir my wat jy loop en lag?”

“Moenie verspot wees nie! Kyk, daar is ’n stalletjie.”

Hulle is nog besig om hul koffie te drink toe die aankondiging oor die luidsprekers kom dat al die atlete op die baan moet verskyn. Die spanne stap in gelid om die baan. Elkeen dra sy banier voor hom. Die Skurwekoppers lyk maar min en is slegs ’n ou handjie vol teen die atlete van die ander skole. Annie voel egter die trots in haar opstoot. Hulle is groot, sterk seuns met sonbruin arms en bene en lyk pragtig in hul spierwit atletiek­klere.

Sy en Bertus juig en klap hande toe die tien seuns by die paviljoen verbykom.

Die seuns vaar verbasend goed in die verskillende items. In al die items wat die oggend afgehandel word, eindig ’n Skurwekopper onder die eerste drie. Hulle groot hoop lê egter by Kobus. Hy móét vandag sy beste lewer.

Kobus se tyd in die honderdmeter was al op Skurwekop tien komma sewe. Hy behoort vandag beter te vaar. Hul baan is nie so goed soos hierdie een nie en Annie is ook nie juis die beste tydhouer nie.

Hulle glo dat Kobus vandag hier ’n rekord kan opstel, maar hulle wil ook hê dat hy moet kwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskap te kan deelneem.

Annie se hande is klam van die sweet toe Kobus begin opwarm. Bertus kyk na die spanning op die skraal gesiggie. Sou sy dalk ’n bietjie verlief wees op Kobus? Sy is nie soveel ouer as hy nie.

Sy kyk vinnig op, vas in die peinsende, grysblou oë en sy glimlag bewerig.

“Dit sal so baie vir Kobus beteken as hy vandag kan kwalifiseer vir die Junior Kampioenskap.”

“Ja! Maar hy sal!” Bertus klink so seker dat Annie dankbaar glimlag.

Die seuns sak in die wegspringblokke en skop-skop om gemaklik in die wegspringposisie te kom. Sy sien hoe die spiere op Kobus se arms bult. Die Skurwekoppers is doodstil. Almal se oë is vasgenael op elke beweging van hul geliefde hoofseun.

Die seuns se beenspiere span styf toe hulle in gereedheid kom, hul koppe lig en dan stip voor hulle uitstaar, die vingerpunte liggies op die grond.

Die afsetter neem vir Annie onnodig lank en die spanning laat ’n knop op haar maag vorm. Sy knyp haar oë toe en bid woordeloos.

Bertus glimlag sag. Hy weet Annie is nou te bang om te kyk, te bang dat Kobus swak gaan wegspring.

Die skoot klap! Annie spring regop en asof die ander net vir haar gewag het, staan hulle gelyktydig op en dan dreun die harde seunstemme hier agter haar.

Kobus is een bondel spiere! Dit lyk asof al die spiere van sy kakebeen tot by die punte van sy tone snaarstyf gespan is. Sy treë is lank en dit lyk asof hy ’n entjie bokant die aarde sweef.

“Kom . . . kom . . . kom, Kobus!” roep Annie.

Kobus en ’n atleet van Outjo hardloop die eerste vyftig meter kop aan kop.

Annie ruk soos sy skrik toe Bertus se harde stem skielik die kinders s’n oordonder.

“Komaan, Kobus, nóú!”

Kobus se treë rek en met elke neersit van sy voete kruip hy onder die ander atleet uit. Met ’n laaste kraginspanning sweef hy oor die aarde en breek die lint ’n goeie drie meter voor die volgende atleet.

Annie se hande klem styf om Bertus se arm en warm trane loop oor haar wange.

“O, Bertus, ek het hom nog nooit so gesien hardloop nie! Hy moet ’n fantastiese tyd opgestel het!”

Bertus kyk af in die opgewonde gesiggie. Alles in hom raak stil en dis asof hy wag . . . gespanne wag vir iets, en hy kan dit nie ’n naam gee nie.

Om hulle raak die seuns histeries en niemand is bewus van hulle nie. Hulle kon net sowel alleen op ’n eiland gewees het.

Hy sit sy hand op hare wat so styf om sy arm klou, en sy stem is vir hom vreemd toe hy praat. Dis sag en teer.

“Ek sal gaan vasstel. Jy sal dit tog nooit hou totdat hulle die aankondiging maak nie.”

Sy glimlag dankbaar en nou eers word sy bewus van sy groot hand wat so gerusstellend op hare rus. Sy bloos liggies en los sy arm. Sy soek sommer na ’n sakdoek in haar handsak om nie in sy tergende oë te kyk nie.

Sy sien die opgewondenheid in sy lenige liggaam toe hy met lang treë oor die baan na die beamptes toe stap. Hy klop Kobus, wat besig is om sy sweetpak aan te trek, joviaal op die skouer en stap verby na die tydopnemers toe.

Aan die breë glimlag op sy gesig en die spontane manier waarop hy vir Kobus gelukwens, kan sy sien dat die tyd baie goed moet wees. Hy slaan sy arm om Kobus se skouers en gee hom ’n druk.

’n Warm gevoel kom lê om Annie se hart. Hierdie belangstelling van Bertus se kant af beteken vir Kobus so oneindig baie. Die seuns wil tog so graag hê hy moet trots wees op hulle.

Annie kan nie wag nie en stap Bertus tegemoet toe hy vinnig oor die baan aangedraf kom.

“Hoeveel?” Sy is so opgewonde soos ’n kind.

“Tien komma vyf!”

“Sjoe! Regtig?”

“Ja, dis fantasties!” Die opgewondenheid maak Bertus se gesig jonk en vrolik en hy het lus en tel haar op en swaai haar in die lug.

Die seuns kom drom om hulle saam en dan bars ’n spontane gejuig los toe Bertus vir hulle die tyd sê.

Kobus glimlag trots van oorkant die baan af toe hy die rumoerigheid sien en hy wuif vir hulle.

Annie gryp haar kitaar en soos een van die kinders sing sy uitbundig en vol lewenslus. Dit dreun soos die seuns saamsing.

“O! Ons het ’n man, sy naam is Kobus . . .! Sy naam is Kobus . . .!”

Annie sing met oorgawe en toe sy Bertus se trotse glimlag sien, is daar ’n groot dankbaarheid in haar hart. Hy is vandag so anders, so heeltemal anders! Sy hoop sy sal die seuns hierdie jaar kan leer om vir hom al die liefde te gee wat hy nog al die jare moes ontbeer. Hy het dit so nodig!

Sy wens Kobus met ’n klapsoen geluk toe hy by die paviljoen kom. Bertus kyk ongemaklik weg en hy kan die vreemde gevoel in hom nie verklaar nie. As dit nie so vergesog was nie, sou hy kon sweer dis jaloesie.

“Jy hoef nie meer vir my ’n melkskommel te koop nie, ou Kobus. Dit was nou genoeg beloning.” Sy slaan haar arm om sy lyf en gee hom ’n drukkie.

“Nee, niks daarvan nie, belofte maak skuld!” laat Bertus onverwags hoor.

Die seuns en Annie kyk afwagtend na hom en sy sug verlig toe sy die ondeundheid in sy oë sien. ’n Oomblik lank was sy bekommerd.

“Jy het daardie melkskommel swaar verdien. Maar omdat ek net so bly is, sal ek ná die byeenkoms vir julle almal gaan melkskommels koop.”

“Jippie! Meneer is sommer ’n bak ou!”

Die seuns is skoon uitgelate en Bertus kan sy verbasing nie wegsteek nie. Nog nooit het hulle soveel vrymoedigheid teenoor hom gehad nie.

“Dankie, meneer, dit sal baie gaaf wees. Soos ek vir juffrou ken, sal sy die grootste een bestel en ek is maar platsak.” Kobus knipoog vir Annie en sy lag vrolik.

“Daarvan kan jy baie seker wees!”

Die vrolikheid bedaar gou toe een van Skurwekop se ander atlete gaan aantree vir die vierhonderdmeter.

Skurwekop doen goed! Bertus kan nie aan ’n ander dag in sy lewe dink wat hy meer geniet het as hierdie eenvoudige atletiekbyeenkoms nie. Die seuns behandel hom nog steeds met die nodige respek, maar meer soos ’n geliefde as ’n gevreesde onderwyser. Annie bly die hele dag sprankelend. Dit lyk nie juis of die hitte enige uitwerking op haar het nie. Bertus sien darem dat haar neus en wange rooier word hier na die namiddag se kant toe.

Dis ’n moeë maar baie tevrede klomp mense wat ná die atletiekbyeenkoms op die kafee toesak.

Die arme kelners draf rond om twee en dertig melk­skommels gereed te kry.

Kobus kom met ’n blok sjokolade by Annie aan en sit dit voor haar neer.

“Aangesien meneer nou my skuld gaan betaal, wil ek

darem self ook ietsie gee.”

Annie se glimlag is sag en baie teer.

“Dankie, Kobus, dit gaan heerlik wees. Ek gaan dit sommer nou net hier opeet. Ek is baie lief vir sjokolade en kan die goed tog nooit bêre nie. As ek weet ek het iewers sjokolade, dan trek dit my soos ’n magneet!”

Bertus sit ontspanne agteroor en beskou die klomp seuns. Hy is tóg lief vir hulle. Hy het net nooit geweet hoe om dit vir hulle te wys nie. Hy het om die waarheid te sê nie omgegee of hulle dit weet of nie, solank hy hulle net kon help om te presteer en die beste kwalifikasies te verwerf. Nou eers sien hy hoeveel leemtes daar in sy optrede is.

“Wel, juffrou Delport, wat gaan jy en jou seuns vanaand doen?” Hy kyk tergend na Annie.

“My seuns?”Annie kyk opreg verbaas na hom. “Hoekom vra jy dit vir my? Jy is mos die baas. Hulle maak soos jy sê.”

“Ek is glad nie meer so seker of ek die baas is nie. Dit wil dan al vir my voorkom asof ek nie meer ’n sê het nie!”

Annie lag verleë.

“Sies, meneer Kruger, nou is jy darem onredelik. Ek . . .

e . . .”

Bertus lag vir die verleë gesiggie.

“Ek maak sommer ’n grappie, juffrou. Of dink jy nie ek is in staat tot ’n grappie nie?”

Annie bloos en Bertus draai na Kobus.

“Aangesien jy vandag ons harte so bly gemaak het, kan jy sê wat julle vanaand wil doen, Kobus.”

“Heng, dankie, meneer! Bedoel meneer nou ons kan vanaand op die dorp bly?” Kobus kan sy ore omtrent nie glo nie.

“Ja.”

“Hier wys ’n baie goeie fliek vanaand, meneer. Of . . .

e . . . sal dit dan te laat raak?”

“Nee, julle kan maar gaan fliek. Ons ry dan net ná die fliek. Ons sal met oom Gawie reël. Hy kuier by mense hier op die dorp totdat ons wil ry.”

“Meneer . . .” Org staan ook ’n bietjie nader. Aangesien ou Kobus nou die ding aangeroer het, kan hulle maar net sowel kyk hoeveel hulle uit die transaksie kan kry.

“Die meisies gaan ook vanaand fliek. Ek bedoel . . .

kan . . . e . . . mag ons maar van hulle vra om saam met

ons te gaan?”

Annie sien hoe gespanne die groter seuns op Bertus se antwoord wag en sonder dat sy daarvan bewus is, sit sy haar hand pleitend op Bertus se arm.

Bertus kyk na die skraal handjie op sy arm en met ’n kopknik beduie hy sameswerend vir Org.

“Julle beskermengel pleit al weer vir julle.”

Org en Kobus skater dit uit van die lag en die ander verrek behoorlik hul nekke om ook in die grap te kan deel. Hulle het nie soveel menslikheid en selfs ’n humorsin van ou Zeus verwag nie.

Met meer respek kyk hulle na Annie. Dit lyk regtig of die juffrou ’n positiewe uitwerking op hom het. Hulle moet net sorg dat hierdie saak enduit gevoer word.

Bloedrooi van verleentheid trek Annie haar hand weg.

Bertus lag saggies.

“Goed so! Dis hoog tyd dat iemand jou ook skaam maak en op jou plek sit. Jy raak glad te groot vir jou skoene.” Sy tergende stem weerspreek egter sy woorde en Annie lig haar ken beslis.

Org gee hulle nie verder kans om Annie te terg nie. Hulle moet darem nou hierdie saak van die meisies afhandel. Die yster moet gesmee word solank dit nog warm is.

“Kan ons maar, meneer? Die koshuis is net ’n hanetreetjie van die fliek af. Ons sal binne tien minute nadat die fliek uit is by die bus wees.”

“Ja, goed. Het julle manne genoeg geld saamgebring?”

“Ja, meneer. Dankie, meneer.”

Bertus loer onderlangs na Annie om te sien watter uitwerking Kobus se opgewondenheid op haar het. Sou sy dalk nie daarvan hou dat Kobus so opgewonde is oor die vooruitsig om saam met ’n ander meisie uit te gaan nie?

Sy glimlag egter en lyk heeltemal gelukkig en tevrede, en onwillekeurig sug hy van verligting.

“Wel, juffrou Annie, of hoe sê die seuns vir jou?” Bertus kyk glimlaggend na haar toe die groter seuns by die deur uitbondel, haastig om elkeen ’n meisie vir die aand te nooi. Die jongeres wat nog nie belangstel nie, drentel by die toonbank rond op soek na iets om te eet.

“Jy sal skrik as jy hoor wat noem hulle ons agter ons rug.” Annie lag.

“Weet jy dan?”

“Ja, ek het hulle al gehoor.”

“Wat noem hulle my?”

“Nee, ek wil nie klik nie. Dalk . . . dalk hou jy nie daarvan nie.” Sy kyk ongemaklik op haar hande. Sy gaan darem nou ’n bietjie te ver. Bertus is nou wel vriendelik vandag, maar ’n mens weet nooit wanneer tokkel jy op die verkeerde snaar nie.

“Ag, toemaar, ek weet. Hulle noem my Zeus. Maar ek weet nog nie wat noem hulle jou nie.”

Annie giggel sag. “Wanneer hulle met my praat, is ek juffrou Annie, maar wanneer Pieter verspot is of wanneer hulle agter my rug praat, is ek Persephone.”

Bertus se oë begin vonkel. Hy het al gehoor hulle noem haar so, maar sy lyk nou net so stout en onmoontlik soos een van die kinders terwyl sy dit met so ’n sedige gesiggie vertel. Hy gooi sy kop agteroor en lag skaterend.

Verbaas kyk Annie na hom. Dit laat hom tien jaar jonger lyk.

“Die godin van landbou se dogter! Dis nogal goed.”

“Jy behoort baie meer te lag. Dit laat jou . . .”Annie bly verskrik stil. Sy wens sy wil leer om nie altyd so uit haar beurt te praat nie. Sy wens sy wil leer om eers te dink en dan te praat.

“Dit laat my wat, Persephone?”

“Nee, ek is jammer, ek kan altyd so uit my beurt praat.”

“Ek wil graag weet.”

Blosend kyk Annie in die tergende oë.

“Dit laat jou jonk en gelukkig lyk.”

“Ja!” Skielik is die frons weer tussen sy oë en Annie is vreeslik spyt dat sy nou die ontspanne atmosfeer so kon bederf met ’n onsinnige opmerking.

Sy sit haar hand op sy arm en haar stem is sag.

“Ek is jammer. Ek wou nie nou alles bederf nie. Ek is ongelukkig so dat ek sommer net praat oor dit wat in my kop kom. Ek kom altyd in die vreeslikste moeilikheid daaroor.”

’n Glimlag trek om sy mondhoeke.

“Ek het al vergeet hoe om te lag. Dis goed om weer te lag en te lewe. Daar is weer sin in die dae . . .”

Bertus kyk na die hand op sy arm. Sy trek dit vinnig weg en hy glimlag stadig.

“Juffrou, mag ek jou vra om vanaand saam met my te gaan fliek? Of . . .”

“Baie dankie, meneer Kruger, dit sal baie aangenaam wees.”

Bertus moet die begeerte om haar styf teen hom vas te druk met mening onderdruk. Hy wil die sproetjies oor haar neusbrug saggies met sy lippe streel en sy vingers deur haar lang hare vleg. Hy kyk lank na haar voordat hy weer praat.

“Ek moet gou gaan reël dat die seuns vanaand hier by een van die koshuise mag eet. Hulle kan sommer daar stort as hulle wil.”

“Ek sal vir my sommer ’n kamer in die hotel bespreek sodat ek my ook ’n bietjie kan opknap. Ek het ongelukkig nie vir my iets saamgebring om aan te trek nie.”

“Nie een van ons het nie. Jy sal jou maar vanaand vir jou klomp mansmense moet skaam, want ek sal met hierdie kortbroek moet gaan.”

’n Warm, behaaglike gevoel sprei deur Annie. Dis so lekker as hy haar so insluit en deel van hulle maak. Hy praat so gemaklik van haar klomp mansmense.

“Jy lyk in elk geval heeltemal goed, juffrou Annie.”

Die fliek is toe baie goed. Annie is egter moeg en toe sy eers ontspanne en gemaklik in die sagte stoel sit, is dit ’n stryd om haar oë oop te hou.

Bertus se breë skouer druk liggies teen hare en sy wens sy kan haar kop op sy skouer laat rus en sommer net wegdommel.

Pouse stamp Bertus liggies aan haar arm.

“Kom ons gaan drink ’n koeldrank. Jy sit en slaap dan al!”

“Ek slaap glad nie. Ek is net lui.”

“Gmf! Ek ken daardie soort lui wat elke kort-kort ligte snorkgeluidjies maak!”

Annie lag. Wat haar betref, kan Bertus haar maar heeldag terg – as hy net altyd in so ’n gemaklike en ontspanne luim sal wees.

Hy gaan haal vir haar ’n koeldrank en hulle staan soos twee trotse ouers hul seuns en dophou.

“Die seuns is heeltemal op hul gemak by die meisies. Ek het gedink hulle sou skaam wees,” fluister Annie saggies in Bertus se oor toe Kobus vir sy meisie ’n koeldrank bring en hulle in ’n ernstige gesprek gewikkel raak.

“Hulle is darem net skooltyd onder die tiran se oë. Vakansies het ek geen seggenskap oor hulle nie.”

Annie kyk vinnig na Bertus en is verbaas oor die seer in die grysblou oë.

“Dis glad nie wat ek bedoel het nie . . .”

Hulle kan nie verder daaroor praat nie, want ’n lang, blonde man kom glimlaggend na hulle toe aangestap.

“Hallo, mooi ding! Ek het gewonder of ou Bertus jou al van Skurwekop af verjaag het. ’n Mens sien jou dan nooit nie.”

Annie kyk gesteurd op in die blou oë van die aantreklike Schalk Potgieter. Sy kan aanvoel hoe Bertus onmiddellik in sy dop kruip en sy het lus en skop die grinnikende man op sy skeen. Hy het darem ’n hoë dunk van homself! Sy is seker hy gee homself volpunte vir sy voorkoms wanneer hy saans voor die spieël staan.

“Ons is besig, meneer Potgieter. Ons het ’n vol program en ons kan nie heeldag op die dorp rondlê nie. Ons kom net in as ons skoolaktiwiteite het, soos vandag.” Sy antwoord Schalk so uit die hoogte dat Bertus vinnig na haar kyk.

“Wel, dan sal ek jou maar net moet verlos van daardie afgesonderde bestaan.Wat van volgende Saterdag? Ek kom haal jou en dan kom fliek ons weer.”

“Nee dankie, meneer.”

“Ag, noem my sommer Schalk.”

Annie ignoreer hierdie woorde egter en gaan net aan waar sy opgehou het.

“Ek dink nie so nie, meneer. Ons het reeds iets aan die gang volgende Saterdagaand. Dis klaar gereël.”

Sy kyk nie na Bertus nie, want ’n ligte blos verkleur haar wange.

“Dit moet seker die een of ander verveligheid daar by die skool wees. Wel, dan sal ek maar moet opoffer en dit kom meemaak as ek jou wil sien.”

“Nee! Dis net vir die kinders en personeel.”

“Ag, Bertus sal nie omgee nie! Ek kom loer so van tyd tot tyd daar in. Ons is maar almal betrokke by die skool se bedrywighede. Of wat sê jy, Bertus?”

Bertus se mond vertrek en Annie kan sien hoe hy sukkel om ernstig te bly. Vandat hy agtergekom het hy kan lag, lyk dit asof hy sommer oor alles wil lag.

Sy het darem nou vir haar ’n yslike gat gegrawe en kop eerste daarin geval.

“Ja, seker! Kom gerus.”

“Dankie, ek het juis nuus wat ek vir jou ook wil vertel. Dalk dink jy dis goeie nuus.”

Schalk groet en verdwyn tussen die mense. Vies kyk Annie die selfgenoegsame man agterna.

“Jy kon my darem gehelp het.”

Bertus lag gedemp.

“Nou hoe is dit dan dat jy nie uit so ’n eenvoudige ou situasietjie kon kom nie? Jy is dan altyd so vol planne. Dit sal jou leer om so blatant te staan en jok.”

“Wat kon ek anders doen? Ek wil nie met hom uitgaan nie. Hy dink die stof verander in goud waar hy trap.”

“Jy kon vir hom gesê het dat ek jou uitneem.”

Annie bloos bloedrooi en die eerste keer sedert sy hom ken, het sy geen antwoord vir hom nie.

Sy worstel darem die fliek deur sonder om aan die slaap te raak, en dis met ’n gevoel van saligheid dat sy later in die bus klim en haar lekker regskuif op die bank. Sonder om te verduidelik het sy eerste ingeskuif. Bertus se breë skouer druk liggies teen hare toe hy langs haar kom sit.

“Wil jy nie hier op die punt sit nie? Gaan jy nie weer kitaar speel nie?”

“Nee, dankie! Ek gaan nou slaap en nou kan jy maar lag en spot, want ek gee nie eens meer om of ek snork nie.”

Die seuns is gou terug van die koshuis waar hulle die meisies gaan wegsien het, en kort voor lank gooi die bus se ligte breë, blink bane deur die stil maanlignag.

Almal is gedaan maar baie tevrede met die lewe. ’n Paar seuns probeer nog ’n bietjie sing, maar toe hulle geen ondersteuning kry nie, gooi hulle ook maar die handdoek in. Annie draai effens skuins en laat rus haar kop teen die rugleuning. Die bus wieg haar geleidelik teen Bertus se skouer vas en hy draai ’n bietjie meer skuins sodat sy makliker kan lê.

Hy kyk af na die tevrede gesiggie hier teen sy skouer en heeltemal teenstrydig met sy geaardheid wens hy dat hulle twee nou alleen kon wees . . . heeltemal alleen!

Sarah du Pisanie Omnibus 8

Подняться наверх