Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie - Страница 6

Hoofstuk 4

Оглавление

Bertus tik op die tafel en ’n doodse stilte sak oor die dertig seuns in die eetsaal toe.

“Kobus, ek gaan net ná ontbyt in dorp toe. Ek laat alles in jou hande. Ek wil niks, absoluut niks, van een van julle hoor nie!” Hy kyk die spannetjie tydsaam deur en Annie moet sluk aan die onvergenoegdheid wat in haar opstoot.

Hy ignoreer haar geheel en al. Sy is al drie weke hier en nog steeds het hy nie veel meer as ’n paar sinne met haar gepraat nie.

Vandag is Saterdag en dit sal die eerste dag wees dat hy nie hier by die koshuis is nie. Hy het sy intrek in die ander kamer kom neem en hy is net eenvoudig oral. ’n Mens is te bang om hard te praat.

“Die tennisbane moet gerol word en die rugbyveld se gras moet gesny word. Julle weet wie verantwoordelik is daarvoor. Dit moet alles netjies wees wanneer ek vanaand terugkom. Ek sal moontlik laat wees, Kobus, moenie vir my wag nie.”

“Ek wonder of hy ’n meisie het.” Jan fluister sag onderlangs vir Oswald.

Annie moet haar kieste vasbyt om nie te lag nie. Sy sit reg langs Oswald en Jan en sy kan elke woord hoor wat gesê word.

“Wie sal tog na hom kyk? Hy sal vir hom ’n vrou in ’n slagyster moet vang.” Oswald kyk vies na Bertus se groot gestalte.

Daar is ’n gedempte opgewondenheid aan die ontbyt­tafel en Annie wonder of dit die feit is dat Bertus die res van die dag nie hier gaan wees nie.

“Dit was darem nie nodig dat ons die bane moet rol én die gras moet sny op hierdie sonnige Saterdag nie.” Org kla kliphard toe hulle buite hoorafstand van Bertus is.

“Nee, ou matie, nou maak die groot indoena seker dat ons nie kan rondlê soos niksdoeners nie.”

Annie kyk met hartseer in haar hart na die klompie seuns. ’n Gedagte kom kruip so vinnig uit sy skuilplek en weer terug dat dit ’n tweede keer moet kom loer voordat sy daaraan aandag skenk.

Toe Bertus se bakkie oor die bult verdwyn, storm die seuns uitgelate in die binnehof van die koshuis uit.

“Jippie! Jippie! Een dag van vryheid, gelykheid en broederskap!” rond Pieter die uitbundige uitroepe af.

Annie lag kliphard waar sy ook in haar oop kamerdeur verskyn.

Pieter met sy groot liefde vir die Griekse mitologie kom buig galant voor haar.

“O Persephone, Pluto het pas uit die onderwêreld gekom om die skone kind van Demeter te vra om die dag, hierdie heerlike somersdag, saam met hom en sy medegevangenes deur te bring.”

“Ag, Pieter, jy’s ’n verspotte kind! Ek het egter ’n briljante idee gekry.”

Die seuns kom drom almal om haar saam.

“Kobus moet net eers sy toestemming gee.”

Kobus staan nader en sy rooi kop vlam behoorlik teen die agtergrond van groen grasperke en wit mure.

“Juffrou is die baas, nie ek nie.”

“O nee, meneertjie, jy is in beheer geplaas oor alles en dit sluit my in.”

Die ander lag en staan vrolik nader. Hierdie juffrou raak al dierbaarder. Org van Rensburg sal deesdae vuisslaan as iemand haar te na wil kom.

“Ek het gedink ons trek nou almal ons oudste klere aan en dan kom help ons almal werk. Daarna kan ons gaan piekniek hou. Ons vra vir die kok om vir ons piekniekkos te maak en dan kan hy ook die dag vry kry.”

Sy sien geen geesdrif op die seuns se gesigte vir die kok se piekniekkos nie en lag klokhelder.

“Goed, ek sê julle wat: Gaan werk julle solank, dan maak ek vir ons kos en dan kry ek julle by die rugbyveld.”

“Want sy is ’n gawe juffrou! En ons sê almal so!” begin die seuns soos een man sing. Jan sit die verspotte liedjie in met sy growwe stem en die ander sing vals saam en wil haar op hul skouers kombuis toe dra, maar sy keer laggend.

“Nee, wag, julle raak stuitig! Is hier nie ’n swembad nie?”

“Jaaa!” Dis meer ’n juigkreet as wat dit ’n antwoord op haar vraag is.

Kobus verduidelik sommer namens almal. “Dis nie juis ’n swembad nie, juffrou, dis ’n lekker groot dam. Dit loop vol uit die fontein en die orige water loop aan die ander kant uit. Die dam is dus altyd lieflik skoon en die water word aan die ander kant met ’n stroompie weggevoer.”

“Hoe ver is dit hiervandaan?”

“Net hier anderkant, juffrou.”

“Wat sê jy, Kobus, sal ons dit doen?”

“Vir my klink dit heerlik, juffrou, maar wat sal meneer Kruger sê as hy daarvan te wete moet kom?”

“Mag julle dan nie daar swem nie?” Sy kyk vraend na Kobus.

“Ja, ons mag. Meneer Kruger het ons al een of twee keer daarheen geneem vir oefening. Hy gaan gewoonlik saam . . .”

Annie besef dadelik dat dit geen ontspanning was nie. Oswald, wat altyd meer praat as wat nodig is, gaan voort waar Kobus opgehou het.

“Dan is dit tog nie lekker nie, juffrou. Ou Zeus staan soos ’n generaal op die damwal en ons moet swem so al wat ons kan. Hy is so bang hy lag en sien dit in die weerkaatsing van die water.”

“Oswald, jy moenie sulke dinge sê nie. Dalk het meneer Kruger ’n seer waarvan ons nie weet nie. Ander mense se boeke is duister om te lees.”

Annie is skielik jammer vir Bertus wat so ongewild is by die seuns. Op hierdie pragtige stukkie aarde kan die kinders so gelukkig wees.

Oswald laat sak sy kop skaam en die ander kyk haar met oë vol heldeverering aan.

“Nou toe, weg is julle! Julle moet gou maak! Org, jy gaan tog net weer staan en praat en niks verder doen nie. Kom help jy my in die kombuis. Sodra julle klaar is, gaan ons swem.”

Teen die tyd dat Annie ’n ou langbroek en ’n hempie aangetrek het, is die seuns almal weg en druk aan die werk. Hulle doen die werk met ywer, en dit net omdat daar die vooruitsig van ’n bietjie plesier is.

“Filemon, wat gaan jy vir middagete maak?” vra Annie die kok toe sy in die kombuis kom.

“Ek wou net wors gebak en aartappels gaargemaak het, saam met tamatieslaai.”

“Luister, Filemon, ons wil die wors gaan braai by die dam. Ek sal vir ons toebroodjies maak. Is hier vrugte wat ons kan kry om saam te neem?”

Filemon staar haar oopmond aan.

“Jy kan dan vroeg loop vandag, Filemon. Ons sal sommer vanaand ook self kos maak.”

Filemon stap na die koelkamer en maak die deur oop. Daar is heerlike waatlemoene en druiwe, perskes en groenmielies.

“Kan ek maar van hierdie vrugte vat, Filemon?”

“Ja, juffrou, net soveel soos juffrou wil. Die kinders kry nie die goed opgeëet nie, hier is te veel.”

Annie sug. Daar kan sulke lekker geregte gemaak word met die vars groente en vrugte. As Filemon maar net ’n slag sy verbeelding wil gebruik!

Sy pak die wors en groenmielies in die groot plastiekhouers waarin die vleis gewoonlik gebêre word. Die waatlemoene is heerlik koud en sy laat Org sommer ses grotes eenkant neersit. ’n Mandjie perskes en druiwe word ook ingepak en sy en Org spring aan die werk en maak ’n stapel toebroodjies. Dis nog vroeg en die seuns sal onmoontlik nou al klaar wees met die werk. Annie kyk op haar horlosie.

“Ek gaan net gou vir julle iets lekkers maak om te eet.”

Sy krap in die spens rond totdat sy al die bestanddele vir ’n suurlemoentert bymekaar het, en binne ’n uur staan twee smullekker terte eenkant in die yskas.

“Hier is so baie melk, Org, ons gaan nie nou tee maak nie. Ons vat net die kan melk en die terte na die rugbyveld toe.”

Org dra die kan melk en ’n mandjie met plastiekglase. Annie dra ’n skinkbord met die twee terte daarop en hulle stap al geselsend rugbyveld toe.

Die gras is klaar gesny en moet nog net bymekaargehark word. Hulle word luidrugtig begroet toe hulle nader kom en Paul maak ’n netjiese draai met die grassnyer voordat hy langs hulle stilhou en van die sitplekkie afspring.

Hy is amper ’n kop langer as Annie en hy kan die bewondering nie uit sy oë hou toe hy die skinkbord by haar vat nie.

“Dit gaan darem lekker wees, juffrou. Ons het nog nooit so iets hier op Skurwekop gekry nie.”

“Dis omdat hier nog nooit ’n vrou op Skurwekop was nie. Dit lyk vir my al wat julle nodig gehad het, was ’n vrou!”

Onder groot gelag en geskerts verdwyn die twee terte soos sneeu voor die reën. Die seuns drink groot glase vol van die romerige melk en Annie wonder hoekom hulle nie meer kere vir die seuns melk in die plek van koffie of tee gee nie.

“Nou toe, kom ons help almal om die gras bymekaar te hark!”

Annie spring eerste op en gryp ’n hark. Daar is gelukkig omtrent tien harke en baie vinnig lê daar oral bondels gras wat deur ’n paar ander weggery word na die komposhoop.

“Langenhoven het gesê: Jy kan jou swaarkry met lekkerkry klaarkry – wel, ek hoop dis Langenhoven wat dit gesê het!” Die uitbundige Pieter lag uitgelate vir homself. Die seuns bêre gou al die gereedskap en kyk dat alles netjies is, want hulle weet ou Zeus sal kom fout soek.

Annie staan en beskou die berg kos wat op die kombuisvloer uitgestal staan.

“Hoe ver sê julle is dit na die dam toe?”

“So omtrent twee kilometer, juffrou.”

“Dis darem ’n klomp kos wat ons so ver wil dra. Ek wonder of dit so ’n slim plan was. Sal ons nie maar hier braai en dan gaan swem nie?”

“Ag nee, juffrou, ons dra liewer die goed!”

“Ek sê julle wat,” sê Kobus en staan nader.

Nou eers sien Annie die onnutsigheid raak wat hy al heeldag so met mag en mening moet onderdruk.

“Gaan vang julle gou Filemon se vier donkies, dan span ons die wa in. Dan kan die meeste van ons sommer op die wa ry!”

Vyf seuns spring gelyktydig weg nog voor Kobus behoorlik klaar gepraat het.

“Vra net eers vir Filemon!” Kobus maak sy hande bak en skree agter die ander aan.

’n Halfuur later is die wa ingespan en is dit vol handdoeke en kos. Verder sien jy net arms en bene. Elkeen het sy swembroek sommer onder sy klere aan, want by die dam is nie verkleeplek nie.

Gedagtig aan Bertus se vorige skrobbering het Annie ’n stemmige eenstukbaaikostuum aangetrek. Sy kom klouter op die wa met haar kitaar in haar hand en dit laat ’n rumoerige gejuig losbars, sodat Kobus al sy dae het om die donkies vas te hou.

“Maar sie julle so raas! Netnou hardloop die donkies met ons weg!”

Die paar wat nog aankom, sluip op hul tone nader en Annie lag skaterend vir die stuitigheid.

“O, julle is ’n verspotte klomp goed! Hallo, oom Gawie!” Sy wuif vrolik vir oom Gawie wat die verspottigheid met ’n breë glimlag staan en bekyk. “Wil oom nie saamkom nie?”

“Nee wat, dankie, kinders. Ek sal hier bly en kyk dat niks skeefloop nie. Netnou lui die telefoon of so iets. Gaan geniet julle die dag. Julle kry min genoeg die kans.”

“Tatta, oom Gawie! Maar . . . maar nou het oom nie kos nie, ons het Filemon die dag vry gegee.”Annie slaan haar hand oor haar mond en staar grootoog na oom Gawie.

“Dis niks nie, juffrou Annie. Ek kan na myself kyk. Ek sal wel iets kry om te eet. Ry julle nou. Dit doen my ou hart goed om die kinders so vrolik te sien.”

Hulle is skaars weg, toe skuif Annie die kitaar op haar knie reg en begin die snare tokkel.

“Kom ek met die wa, dan sê sy sommer ja!” Die seuns sing uit volle bors saam.

Annie laat later die kitaar sak en kyk na die seuns wat so spontaan saamsing.

“Doen julle nie volkspele nie?”

“Nee, juffrou, en die skool op Outjo vra gereeld of ons nie wil kom saamspeel nie. Die meeste leerlinge is meisies en hulle het altyd ’n tekort aan seuns.”

“Nou hoekom gaan julle nie?”

“Meneer Kruger sê dis te ver. Hy stel ook nie belang nie. Al waarin hy belangstel, is dat ons die rugbybeker en die tennisbeker en ’n paar atletiekbekers elke jaar moet terugbring.”

“Ag, dan kom julle mos darem uit. Julle moet met die skool op Outjo reël dat hulle volkspele hou of ’n geselligheid reël vir die aande wat julle daar wedstryde speel.”

“Dit sal nie help nie, juffrou. Sodra die wedstryd verby is, moet ons in die bussie klim sodat ons vroeg terug kan wees hier op Skurwekop. Meneer Kruger sê netnou vang ons iets aan wat die skool se naam skade kan aandoen.”

’n Stil woede kom maak in Annie se binneste nes. Hoe kan hy die kinders se jong dae so laat verbygaan sonder enige plesier? En dit alles oor ’n skool se goeie naam! Het hy geen vertroue in die seuns nie? Hoekom sal hulle nou iets gaan aanvang wat die skool se naam kan skaad?

Sy neem haar stilweg voor dat sy die saak nie net hier gaan laat nie.

Die seuns begin dadelik vuur maak toe hulle by die dam kom, en Annie staar sprakeloos na die ongereptheid en skoonheid van die natuur om haar.

Die omgewing is pragtig! Sy is nie in staat om die woorde van bewondering wat in haar opwel hardop uit te spreek nie.

Sy lig haar hand voor haar oë om die omgewing beter te kan bekyk. Sy klim op die damwal en staar ver oor die pragtige, groen veld.

“En daardie plaashuis wat so weggesteek sit daar tussen die bome? Wie s’n is dit?”

Kobus klouter op die wal en kom staan langs haar.

“Dis meneer Kruger se huis, juffrou.”

“Woon hy alleen daar?”

“Ja, juffrou.”

“Is hy al lankal hier?”

“Soos wat ek verstaan, is dit sy geboortegrond hierdie, juffrou. My ouers is sy bure. Ons woon net aan die ander kant van die plaas. Sy pa, ou oom Bertus, het altyd hier geboer en meneer het die grond by hom geërf.”

“Dan ken julle hom lankal?”

“Nie vir hom nie, juffrou. Ek het oom Bertus goed geken. Hy was ook so ’n stroewe mens soos meneer. Vandat ek egter kan onthou, was meneer weg: eers hoërskool toe en toe universiteit toe en later jare glad oorsee. Hy het maar eers huis toe gekom nadat sy pa oorlede is.”

“En sy ma, Kobus? Leef sy ook nie meer nie?” Annie is vreemd nuuskierig oor die stroewe, ongelukkige Bertus Kruger. Hy moes sekerlik tog die een of ander ongelukkigheid belewe het om so ’n ongemaklike soort mens te word. Geen mens kan so gebore word nie.

“Nee, juffrou, van haar weet ek maar min.”

“Dink jy sy lewe nog?”

“Almal bly altyd stil as ’n mens oor haar uitvra, juffrou. Maar van wat ek nou al so hier ’n bietjie en daar ’n bietjie gehoor het, het sy blykbaar vir oom Bertus gelos vir ’n ander man. Meneer was toe maar nog ’n klein seuntjie. Of sy dus nog lewe, weet ek nie. Ons ken maar net vir oom Bertus wat so alleen met sy seuntjie hier gewoon het.”

’n Diep jammerte roer in Annie. Arme, ongelukkige kind! Sy sien hom al met sy grysblou oë en donker hare so alleen sonder ’n ma grootword. Hoeveel vreugde het sy nie in haar kinderjare geken nie, met twee dierbare ouers en drie broers wat haar almal tot in die afgrond bederf het!

“Dis natuurlik die rede waarom hy so swaar met ander mense kommunikeer. Arme man!” Annie sug.

Sy klink so simpatiek dat Kobus verbaas na haar kyk.

“My pa sê ook altyd ons moet hom probeer verstaan. Hy sê meneer was nie altyd so erg stroef en ongeskik nie. Hy was heel menslik, veral toe hy en Rina Visagie nog uitgegaan het. Sy sou vir hom gewag het, maar toe hy van Duitsland af terugkom, was sy reeds getroud met Danie Potgieter.”

Annie byt diep ingedagte haar lip vas. Siestog! Die meisie was dalk die enigste liefde wat hy in sy lewe geken het en toe laat sy hom ook in die steek.

“Haai, waarna staar julle twee so?” Pieter trap vas en wip rats op die damwal. “Ek dog julle sien ’n vlieënde piering!”

Kobus lag en stamp Pieter van die wal af.

“Jy moet liewer sorg dat daardie vuur behoorlik brand, of die ander ouens sien so ’n lang, dun, vlieënde voorwerp deur die lug trek, een met sulke bruin velskoene aan!”

Toe die vuur lekker brand, stroop Annie haar langbroek en bloes af en voordat die ander naby haar kan kom, is sy met ’n sierlike boog in die heerlike, koel water.

Die seuns volg haar en dop soos kurkproppe oral om haar op.

Hulle jaag mekaar en druk koppe onder die water; hulle swem resies en duik. Dis ’n baie moeë maar uitgelate klompie mense wat later op die gras neersak.

“Jammer vir jou, ou Kobus, maar jy sal die vleis moet braai. Jy is die hoofman oor dertig.”

Annie strek haar lui op haar handdoek uit, glad nie van plan om hulle te help nie.

“Nee, nou is juffrou darem skelm! Juffrou is die leerkrag, die hoër gesag wat na ons wel en wee moet omsien!”

“Sê wie?”

Org staan lui op. “Ek sal braai. Ek skuld nog vir juffrou ’n guns. Sy het ’n lelike afranseling gekry oor my simpel ou grappie.”

“Vertel, vertel, dit klink na nuus!” Kobus kyk geamuseerd na Org.

Effens verleë vertel Org vir Kobus die storie.

“Wat het ou Zeus toe alles vir juffrou gesê?” Paul staan aggressief nader.

Annie lag vir die kwaai uitdrukking in sy oë.

“Nee, dit was nie soveel oor die gille wat ek ’n afranseling gekry het nie, dit was oor iets heel anders. Wie is Schalk Potgieter eintlik? Ek bedoel . . .”

Die groot seuns wat om haar staan, lag skielik uitbundig.

“O! Die wind waai van die ander kant af!”

Annie bloos toe sy besef dat sy sommer weer gepraat het voordat sy gedink het.

“Ag, dis glad nie wat julle dink nie! Ek ken nie eens die man nie. Ek bedoel maar net: is hy getroud?”

“Nee, hy is nie getroud nie, juffrou, maar hy is ’n ou haan! Hy . . .” Boef lag skeef toe die ander hom ongelowig aanstaar omdat hy ook nou so spontaan saamskerts. Gewoonlik is hy die stil een wat altyd baie ver in die agtergrond bly.

Kobus buk ongeërg oor na Annie toe die ander aan die argumenteer raak oor die braai van die wors.

“Dis sy broer wat met meneer se meisie getrou het toe hy oorsee was.”

“O!”

Vir Annie is baie dinge omtrent Bertus Kruger nou skielik duideliker. Hy kon ook hierdie dag saam met hulle geniet het. Hierdie kinders het so baie liefde om te gee. Hulle sou hom van liefde kon voorsien het wat ’n leeftyd kan hou.

Sy wonder watter soort mens sy pa was. Stroef, sê Kobus. Hy het dalk vir Bertus gedruk om meer en meer te presteer, totdat hy alles wat vir hom dierbaar was, verloor het. Is dit dalk die rede hoekom hy die seuns so dryf?

Die wors is heerlik en die seuns eet soos mense wat weke laas kos gehad het. Die waatlemoene verdwyn die een na die ander en hulle voel uiteindelik soos vet paddas wat nie kan beweeg nie. Daar is nie eens meer genoeg krag in hul lywe oor om mekaar met die skille te smeer nie.

“Ek sal nou eers ’n rukkie moet lê en dan baie stadig moet opstaan, want anders ruk my sluk af.” Annie draai versigtig op haar sy. “Dit was heerlik! Dis die lekkerste waatlemoene wat ek nog geëet het. Die druiwe . . . nou ja! Daarvan sal ek niks sê nie, want die Boland –”

“O, so! Nie meer ’n enkele stukkie vrugte vir Perse-phone nie!” Pieter lig hom effens op en swaai sy hand lui om sy standpunt te bekragtig.

Annie lag net en maak haar oë toe. Daar daal ’n rustige stilte oor die klompie lui mense onder die groot koeltebome neer. Dis Jan en Oswald wat die vrede ’n rukkie later wreed versteur. Ná ’n halfuurtjie se rus raak dinge vir hulle te dooierig en nou begin hulle ’n smeerdery met die taai skille. Arme Annie ontgeld dit behoorlik. Dis vir die seuns nie juis pret om mekaar te besmeer nie en dus word sy dertig keer gesmeer!

“Nee, nou mors julle darem te veel met my!” Laggend duik sy in die dam.

“Ouens, ons sal moet oppak.” Kobus kyk verlangend na sy horlosie en wens hy kan die tyd ’n bietjie terugskuif.

“Ag, nee wat, ou Kobus, nog net so ’n halfuurtjie!”

“Jammer, manne, maar daar is van julle wat nog moet gaan melk. Ons kan nie bekostig dat daar iets skeefloop nie.”

Moeg maar baie tevrede laai hulle die leë houers op die wa. Kobus laat hulle al die skille ook optel sodat hulle dit in die komposgat kan gaan gooi.

“Org, kyk tog asseblief dat die vuur goed dood is. Gooi sommer sand bo-oor en maak dit gelyk, dan is dit netjies ook.”

Annie sien hoe noulettend die groot seuns alles nagaan om te kyk of dit reg en netjies is. Hulle stel ’n pragtige voorbeeld vir die jongeres.

Wel, Bertus Kruger, dit het jy darem reggekry, dink sy. Hierdie seuns sal jou nie in die skande steek waar dit netheid aangaan nie.

Sy skuif haar reg op die wa en tel haar kitaar op haar knie. Die nat swembroek druk nat kolle deur haar bloes en langbroek. Haar hare hang kartelend agter haar kop af waar sy dit met ’n rekkie vasgemaak het. Haar gesiggie is blinkskoon en onskuldig. Die son sak stadig weg agter die groot bome toe die wa skommelend en tydsaam met die grondpad langs beweeg, sy vrag ’n groep moeë, gelukkige seuns en ’n juffrou met ’n blink gesiggie wat weggesteek tussen hulle sit.

“Heb mijn wagen vol geladen . . .” sing hulle uit volle bors en die klank dra ver oor die stil veld.

Bertus Kruger staar oopmond en heeltemal verstom na die vreemde toneel.

Hy het ’n halfuur gelede hier aangekom om die hele koshuis en die hele omgewing in ’n vreedsame stilte aan te tref. Geen sterfling was êrens te sien nie, nie eens Filemon was in die nabyheid nie.

Smeulend van woede het hy afgestap tennisbane toe. Daar was alles egter in orde en netjies. Die bane was gerol en die rollers gebêre. Selfs by die rugbyveld was daar niks waarmee hy kon fout vind nie. Tot die gras is netjies op die komposhoop gegooi. Nie ’n dingetjie is uit sy plek nie.

Verdwaas is hy terug. Hy het sedertdien ongeduldig gewag.

Hy het geweet hy sou vroegerig terug by die koshuis wees, maar hy wou hulle toets. Hy wou kyk wat maak sy wanneer hy nie hier is nie. As die kat weg is, is die muis baas. Hy het vanoggend spesiaal vir Kobus in bevel geplaas.

Vanaand wou hy daardie Kobus Snyman se velle vir hom afgetrek het as hy hom laat voorsê het deur ’n popgesiggie. Met haar vroulike lis is sy tot alles in staat.

Hy weet egter nie wat hy verwag het nie. Hier diep binne-in hom het hy seker maar gedink dat sy en die groot seuns ’n koers sou inslaan en die ander net so aan die genade sou oorlaat. Hy het beslis nie verwag dat die hele koshuis op die ou wa sou rondry nie. Party van die standerdsewes loop langs die wa, maar hulle sing met net soveel oorgawe soos die ander.

Iets raak stil in Bertus. Hoeveel keer in sy lewe het hy nie ook begeer om sommer net kind te wees nie . . .

Hulle was by die dam, hy kan dit nou sien. Party van die seuns het nog hul swembroeke aan en hul hemde hang in ’n worsie om hul nekke.

Hoeveel keer wou hy nie ook net lag en speel en vergeet van presteer nie, maar vir hom was daar nooit so ’n kans nie! Hy moes hulle wys – eers net vir sy ma en toe later sommer vir die hele wêreld. Hy moes haar wys wat sy verbeur het die dag toe sy weggeloop en hom en sy pa net so gelos het. Sy moes sien tot watter hoogtes kon haar seun klim sonder haar hulp.

Bertus kan hierdie vreemde gevoelens nie verstaan nie. Hy sug. Te veel jare al onderdruk hy hierdie menslikheid wat na die oppervlak wil kom.

Hy sien hoe die wa by die kraal stilhou en dan hoor hy Kobus se vrolike stem.

“Nou toe, kêrels, wie melk vanaand?”

Agt seuns klim van die wa af.

“Hoekom so baie van julle? Daar melk mos gewoonlik net vier op ’n slag.” Kobus kyk onbegrypend na die agt seuns.

“Ons help maar gou met die los werkies solank hulle melk, dan is ons vroeg klaar. Ons is bang julle gaan al die kos opeet wat juffrou gaan maak.” Oswald se harde stem dra suiwer deur die stillug.

“Komaan, julle grys perde! Sleep ons vuurwa tot by die koshuis sodat ons die oorblyfsels van ons proviand kan gaan bêre vir beter dae.” Pieter jaag die donkies met kleurryke taal aan. Hy staan regop soos ’n Romeinse soldaat op ’n strydwa.

’n Glimlag kom krap onverwags aan Bertus se mondhoeke.

Wie sou nou kon dink dat ou Pieter soveel sêgoed het? Hy is dan altyd so bedees.

Bertus is skielik vreemd onwillig dat die kinders moet weet hy is terug. Hulle lyk so gelukkig en tevrede, flits dit deur sy gedagtes. Die bakkie is in die motorhuis, dus sal hulle nie eens opmerk dat hy al terug is nie.

Sarah du Pisanie Omnibus 8

Подняться наверх