Читать книгу Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie - Страница 8

Hoofstuk 6

Оглавление

Maandagoggend is die rus en vrede van die naweek soos ’n wasempie vergete.

Alles is deurmekaar en die duiwel loop met lang treë in die skool rond.

Die een koei is sommer net siek toe die seuns gaan melk. Filemon is laat met die ontbyt en die enjin wat die krag opwek, besluit dis ’n goeie tyd om te staak.

Annie voel hoe haar wange gloei toe sy voor haar eerste klas van die oggend staan. Hier gaan vandag probleme kom. Die seuns is almal oorstuur oor die koei wat siek is. Dit lyk amper vir haar asof elkeen homself daarvoor blameer en hulle maak dus die onnodigste foute.

Die laat ontbyt het weer die duiwel in Bertus wakker gemaak en al die gedagtes van vrede en liefde wat Saterdag­aand en Sondag so in hom gespook en gewoel het, is vergete.

’n Gekletter en die geluid van brekende glas in die bio­lo­gieklas wat net langs Annie se klas is, laat hulle almal versteen. Dis eers toe Bertus se bulderende stem tot hulle deurdring dat daar weer ’n bietjie lewe in hul lam spiere kom.

“Kobus Snyman, as ek my sonde nie ontsien nie, klap ek jou van hierdie aardbodem af! Julle dink noudat julle in matriek is, is julle te groot vir ’n ordentlike pak slae. Nie een van julle is nie! Ook nie jy nie, verstaan my baie mooi. So ’n lomp mens is nie die amp van hoofseun werd nie!”

Annie kners op haar tande. Hoe kan hy die arme kind so voor die ander verneder?

“Maak dadelik daardie gemors skoon en kom spreek my dan in my kantoor. Julle ander kan solank stalle toe gaan – ek is binne tien minute daar. Alles moet dan skoon en gereed wees sodat ons met die les kan voortgaan.”

Die reuk van formalien wat nou by Annie se klas inge­sweef kom, gee haar ’n goeie idee van wat in die klas langsaan gebeur het.

Arme Kobus! Al die seuns is effens op hul senuwees oor Saterdag en nou moet die koei ook nog gaan staan en siek word. As dit moet uitlek dat hulle Saterdag nie by die koshuis was nie, sal Bertus sommer die koei se siekte daaraan koppel.

Bertus storm met ’n onweersgesig by Annie se klas verby na die kantoor toe.

“Juffrou, kyk daar!”

Een van die seuns wys na die venster.

’n Wit motor met ’n vreemde registrasienommer hou voor die deur stil en ’n lang, ouerige man, geklee in ’n netjiese donker pak, klim uit.

Annie voel hoe haar bene lam word.

Daardie registrasienommer beteken net een ding: dis ’n inspekteur!

Berge val op my en heuwels bedek my, prewel Annie onhoorbaar.

“Luister, julle, gaan voort met die wiskunde-oefening. Ek wil nie ’n piep uit hierdie klas hoor nie. Peet, Dawie, kom ons gaan help gou vir Kobus. Dis ’n inspekteur wat nou net daar stilgehou het.”

Toe Annie in die klas langsaan kom, voel sy lus om die moedelose Kobus styf teen haar bors vas te druk en hom te sus soos ’n baba.

Die arme ding het nie minder as drie bottels van ’n rak afgestamp nie. Die hele vloer is vol formalien. Oral lê stukke ingewande van diere rond en in die een hoek lê ’n stokstywe slang.

“Peet, gaan kry jy vir ons ’n emmer water, ’n lap en ’n mop. Kyk in die pakkamer. Gooi sommer ’n bietjie seep en ontsmettingsmiddel in die water.”

Peet knik net en verdwyn vinnig.

“Kobus, gebruik die skoppie en die besem en vee al hierdie gemors en stukke glas bymekaar. Jy kan dit in die emmer gooi sodat Dawie dit kan gaan weggooi. Of miskien moet jy dit liewer begrawe, Dawie.”

“Ja, juffrou.”

Kobus skep die gemors op en toe die grillerige goed vies-vies deur Dawie weggedra word, kom daar meer lewe in Annie.

“Nou sal ek ook help.” Sy lag vir haarself enKobus grinnik verleë.

“Hou jy die skoppie vas, Kobus, dan vee ek die stukkies glas met die besem op.”

Teen die tyd dat Peet met die emmer water en die mop daar aankom, is die ergste gemors al opgeruim.

“Ons moet roer, Kobus, hier is ’n inspekteur,” sê Annie en begin om die vloer behendig met die mop skoon te vee.

Peet vra nie vrae nie. Hy sak net op sy knieë langs Kobus neer en droog so vinnig moontlik die vloer op.

“Dankie, ou Peet, jy kan maar vir ons die emmer gaan bêre. Gaan sommer terug klas toe, ek is nou daar.”

“Goed, juffrou.”

Annie vee nog eers gou die spatsels teen die lessenaar se pote en van die naaste banke af.

“So ja, Kobus, dalk kom die inspekteur niks agter nie.”

“Ek sal my ook eers moet gaan skoonmaak. Ek stink nou behoorlik.”

Annie lag.

“Was maar net jou hande en gaan dan na meneer Kruger se kantoor toe sodat hy kan weet dis klaar opgeruim; Die duiwel is behoorlik los vandag.”

“Ja, juffrou. En baie dankie! Wat het ons al die tyd sonder juffrou hier gedoen?”

“In vrede gelewe!”

Kobus glimlag net breed en drafstap dan kantoor toe.

Dawie kom saam met haar by die klas aan.

“Dankie, Dawie.”

“Dis ’n plesier, juffrou.”

Omtrent tien minute later stap die vriendelike inspekteur by haar klas in.

Sy hoor ’n rukkie later die groter seuns terugkom na die klas langs hare en dan ook Bertus se diep stem.

Arme Kobus! Hy sal nog vanmiddag gestraf word vir sy ou ongelukkie. Sy hoop nie Bertus gee hom ’n onredelike swaar straf nie, want dan sal sy net nie kan stilbly nie. Enige mens kan iets laat breek.

Meneer Van Tonder kan geen fout vind met haar klas nie en hy prys haar mildelik vir die manier waarop sy die twee verskillende standerds gelyktydig hanteer.

Sy en Bertus drink later saam met die inspekteur tee en hy haal weer die onderwerp op.

“Jy handhaaf jou besonder knap hier tussen die seuns, juffrou. Ek hoop nie dis vir jou baie ongerieflik nie. Ons is egter in ’n vreeslike penarie. Ons kan nie eens vir julle iemand in meneer Fourie se plek stuur nie.”

Annie kyk skaam voor haar toe die inspekteur na Bertus draai. “Of wat sê jy, Bertus? Toe was al jou lawaai oor ’n vrou hier op Skurwekop heeltemal onnodig en ongegrond.”

“Hm!” Bertus brom iets en meneer Van Tonder lag lekker.

“Ek behoort darem ook van beter te weet as om vir jou so iets te vra.Was jy dan nie vier jaar lank een van my leerlinge nie? Jy sal mos nooit erken jy het ’n fout gemaak nie.”

Bertus lag verleë en kyk dan reguit na Annie. Haar woorde van Saterdagaand is weer helder en brandend in sy gedagtes.

“Ja, sy gedra haar knap. Ek . . . e . . . ek en sy stem net nie altyd saam oor die manier waarop die seuns gehanteer moet word nie.”

Annie kyk opreg verbaas na hom en meneer Van Tonder grinnik.

“Jy sal ’n groot deegroller nodig hê om hom te oortuig, juffrou. Wat sê hy alles as jy dit waag om van hom te ver­skil?” Die terglustige meneer Van Tonder fluister hard agter sy hand en Annie lag klokhelder.

“Nee, ek het nog nie in soveel woorde van hom verskil nie, meneer Van Tonder. Meneer Kruger dink maar sommer ek stem nie saam nie.”

“Dit klink darem vir my altevol na ’n lekker storie, juffrou. Kan ons twee nie eenkant toe gaan nie, dan skinder ons lekker van hom!”

Annie staan glimlaggend op.

“Ek moet teruggaan klas toe. Die pouse rek darem nou baie lank uit. Met twee standerds in een klaskamer kom ons nie voor met ons werk nie.”

Meneer Van Tonder staan galant op en wag dat sy moet gaan.

“Nou gaan ek en Bertus tog van jou skinder terwyl jy nie hier is nie.”

“Dit sal meneer Kruger goed doen om ’n slag stoom af te blaas. Ek glo hy sal baie hê om oor my te vertel.” Annie glimlag stroopsoet in Bertus se rigting en hy kyk haar vies agterna.

Klein klits! Sy lewer hom nou netjies aan die terggees van ’n Gert van Tonder uit.

Die groter seuns is doodstil in die klas langs hare. Annie weet dat Bertus nog steeds met die inspekteur besig is. Sy het ook gehoor dat hy die kok laat weet het dat meneer Van Tonder vanmiddag saam met hulle eet.

Die dag raak rustiger en die vrede wat hierdie pragtige plek altyd in haar ontlok, begin stadig weer in haar opstoot. Sy sit ingedagte by die lessenaar en staar ver uit oor die lieflike plaas.

“Juffrou . . .” Kobus se rooi kop loer om die deur.

“Ja, Kobus?” Al haar aandag is dadelik by hom. Hy lyk ontsteld en bekommerd.

“Dis Bella, juffrou. Sy is sieker. Ons sal die veearts moet laat kom, maar meneer is nog besig met die inspekteur. Ek weet nie wat om te doen nie.”

“Aarde, Kobus, is daar iets wat ek kan doen?”

“Kan . . . kan juffrou nie asseblief vir meneer gaan sê nie? Meneer sal my nie eens te woord staan nie. Hy is nog woedend oor vanoggend.”

“Ag, bog, Kobus, hy is darem nie ’n monster nie! Dit was mos net ’n ongeluk.”

Kobus byt sy lip vas en Annie weet in watter vertwyfeling die arme kind nou is. Bertus sal hom waarskynlik nie ’n kans gee om te verduidelik hoekom hy hom kom steur nie. Hy sal Kobus beledig oor sy voortvarendheid, veral omdat die seun op hierdie oomblik glad nie in sy guns is nie.

Sy kners op haar tande. Hoekom is Bertus Kruger tog so ’n buffel? Die kinders het ’n heilige vrees vir hom. Sy besluit vinnig wat om te doen. “Bly net ’n rukkie hier by my klas. Hulle kan nie ook nog raas nie, dan is ons albei onderdeur.”

“Ai, dankie, juffrou. Ek koop vir juffrou die grootste melkskommel wat ek op die dorp kan kry!”

“Grappie! Wanneer dink jy nogal sal ons op die dorp kom om daardie skuld te kan vereffen?”

“Juffrou, as meneer dalk vra, sê maar net vir hom ou Bella lê nou en sy steun aanmekaar. Haar buik begin ook swel.”

“Goed.”

Toe sy by die kantoor kom, vee Annie oor haar hare en tik liggies aan die deur. Sy hoor die growwe gemurmel van die stemme daaragter.

Daar is egter geen reaksie nie en sy klop weer, hierdie keer ’n bietjie harder.

Die stemme raak stil en toe hoor sy Bertus se afgemete treë nader kom.

Hy ruk die deur so vinnig oop dat sy skrik en ’n entjie retireer.

“Jy weet tog ons is besig en wil nie gesteur word nie, juffrou. Daar is niks wat nie kan wag tot vanmiddag nie.”

“Kan ek jou net ’n minuut lank spreek, meneer Kruger?”

Annie besef dadelik hoekom Kobus so onwillig was om self te kom. Vir hom sou Bertus nie net gefrons het nie, hy sou hom sommer afgejak het.

Toe Bertus geen aanstaltes maak om by die deur uit te kom nie, fluister sy amper paniekerig: “Dis dringend, asse­blief!”

Bertus loer oor sy skouer na Gert van Tonder wat belangstellend deur ’n lywige lêer blaai.

“Verskoon my net ’n oomblik, asseblief.”

“Seker, Bertus.”

Bertus trek die deur agter hom toe en dan sis hy saggies: “Wat is dit?”

“Dis Bella, die koei. Sy is sieker. Sy lê en steun en haar buik swel ook nou.”

Sy sien hoe Bertus frons.

“Wat weet jy van koeie af?”

“Niks! Kobus het vir my kom sê.”

“Hoekom het hy dit nie self vir my kom sê nie? Hoekom moet jy sy vuil werk doen?”

Annie vererg haar bloedig.

“Omdat hy jou langer ken as ek, meneer Kruger. Hy het presies geweet watter ontvangs hy sal kry. Vir hom sou jy nie eens ’n kans gegee het om te verduidelik nie en die koei sou gevrek het voordat iets vir haar gedoen kon word.”

Bertus frons weer gevaarlik en Annie sien hoe die spiere in sy kakebeen beweeg.

“So onmoontlik soos wat dit vir jou mag klink, meneer Kruger, is die seuns lief vir die koei. Hulle is almal boerseuns en hulle is lief vir die diere. Ou Bella is egter hul gunsteling.”

Annie sien hoe sy die wind uit sy seile neem en dit gee haar ’n vreemde soort genoegdoening. Ou Zeus moet darem nie dink sy sal soos die arme kinders vir hom skrik nie.

“Kobus sê ons moet dadelik ’n veearts kry. Dis al, dankie, meneer Kruger.”

Annie draai om en stap weg sonder om weer om te kyk en laat ’n verdwaasde en verslae Bertus agter. Hy kan sowaar nie aan ’n enkele woord dink om haar toe te snou nie. Heeltemal onlogies maal dit deur sy verstand dat sy praat van “ons”. Sy sê “ons” moet ’n veearts kry. Dan sê die seuns nog as hy op haar sou verlief raak . . . Gek! Simpel gek! Dis wat hy is!

“Ai, juffrou, baie dankie. Wat sê meneer?”

Annie kyk na die dierbare gesig van die rooikop. As die ander nie sou lag nie, sou sy hom nou styf teen haar vasgedruk het.

“Hy sê hy sal dadelik bel, Kobus.” Sy verdraai maar die waarheid so ’n bietjie sodat daar weer ’n bietjie sonskyn vir hom in hierdie dag kan wees. Alles is vandag teen hom, arme kind!

“Moet ek na Bella toe gaan, juffrou? Ek is so bekommerd oor haar.”

“Ja, Kobus, gaan gerus. Ek sal vir meneer Kruger sê as hy jou soek. Gebruik maar jou eie oordeel en help haar soveel jy kan. Jy weet mos wat om te doen. Ek sal verantwoordelikheid aanvaar vir wat daar gebeur.”

“Baie dankie, juffrou.”

“Niks te danke nie. Dit gaan jou ’n melkskommel kos. Ek sal dit nie vergeet nie.”

Kobus glimlag breed en draf dan met lang treë af kraal toe.

Kort voor middagete sien Annie die veearts se bakkie aangery kom. Dit draai sommer dadelik weg na die stalle toe.

Aan die eettafel soek haar oë na Kobus, maar hy en Boef is nie daar nie. Sy sal graag wil weet wat sê die veearts van ou Bella. Bertus sê egter niks nie en sy wil hom ook nie vra nie.

Meneer Van Tonder gesels aanmekaar oor mense wat Annie nie ken nie, en ná die ete stap hy en Bertus weer terug skool toe.

Annie skep twee borde kos uit vir Kobus en Boef en gaan sit dit in die lou-oond in die kombuis. Sy gaan kry haar laphoedjie en stap dan af stalle toe. Kobus sit langs Bella en vryf liefderik oor die groot, bruin kop.

“Hoe gaan dit hier?”

Kobus kyk vinnig op en Annie kan sommer sien dat sy gedagtes nou baie ver weg was.

“Wat sê die veearts, Kobus?”

Kobus noem ’n geleerde naam en Annie skud laggend haar kop.

“Ek het nie ’n idee waarvan jy praat nie. Is dit ernstig?”

“Ja, dit kan wees as ’n mens dit nie gou keer nie, juffrou. Die veearts sê ons was darem betyds. Hy sê ons het die regte ding gedoen deur vir haar soutwater te gee. Dit het haar lewe gered.”

Kobus lyk skaam maar ook ’n tikkie trots omdat hy reg opgetree het.

“Wat het meneer Kruger gesê?” Annie kyk bekommerd na Kobus. Sy hoop tog nie Bertus Kruger het weer alles kom omkrap met sy buffelagtigheid nie.

“Hy het niks gesê nie, juffrou. Hy het net verlig gelyk toe die veearts sê dat ons haar kan deurhaal.”

“Waar is Boef?”

“Hy is hier agter, juffrou. Hy het net gou die emmers gaan skrop wat ons vanoggend gebruik het.”

“Ek het vir julle kos in die lou-oond gebêre. Gaan eet julle gou, ek sal solank hier sit. Is daar iets waarna ek moet oplet?”

“Nee wat, juffrou. Sy is nou rustig. Die dokter het haar ’n inspuiting gegee. Sy moet vanaand weer medisyne inkry. Ek wil haar net nie alleen los nie . . .”

“Nou toe, weg is julle!”

“Dankie, juffrou.” Kobus rek sy lang liggaam uit. “Juffrou is dierbaar! Ek weet nie wat ek vandag sonder juffrou sou gedoen het nie.”

“Nou vergroot jy darem ’n bietjie, Kobus.”

“Nee, dis waar, juffrou. Vanoggend het juffrou my eers kom help met die klas se skoonmaak en toe het juffrou vir meneer gaan sê van ou Bella.”

“Ek het gewonder hoe jy die klas so vinnig skoongemaak het.”

Verskrik swaai hulle om en sien Bertus in die deur staan.

Annie kyk vinnig van hom na Kobus en sy sien hoe die seun se gesig verstrak.

Bertus sien dit ook en ’n diep skaamte oorweldig hom. Is hy werklik so ’n ondier? Hy weet tog dat Kobus nie moedswillig die goed gebreek het nie. Hy was sommer vanoggend weer vol duiwels. Die seun het vandag soveel inisiatief aan die dag gelê deur die koei te dokter en die veearts te laat roep.

“Ek dink juffrou Delport is besig om julle klomp ramme vreeslik te bederf. Een van die dae sal sy wil hê julle moet gaan piekniek hou en al sulke dinge.”

Annie kyk wantrouig na hom. Sou hy iets agtergekom het? Bertus se gesig is egter die ene onskuld.

Sy lig haar ken en kyk hom waterpas in die oë.

“Dis ’n baie goeie plan, meneer Kruger. Die lewe bestaan nie net uit werk nie. Hierdie seuns het ontspanning meer nodig as dissipline. Dit sal ’n gees van samehorigheid skep.”

Iets soos ’n glimlag trek om Bertus se mond en hy draai na Kobus.

“Gaan eet nou eers. Jou kos word koud.”

“Dankie, meneer, maar kan ek nie eers net met meneer praat nie.”

“Alleen?”

“Wel . . . ja, meneer. Ek sal graag die ou sakie van vanoggend afgehandel wil hê. Ek . . . e . . . ek hou nie daarvan dat straf so lank uitgestel word nie.”

Bertus kyk verbaas na Kobus. Die kinders het grootgeword. Kobus is ’n man! Hy sal glad nie verbaas wees as hierdie klomp groot seuns deur die bank ’n bietjie verlief op die juffrou is nie.

“Wel! Ek dink ons moet maar daarvan vergeet. Jy het mos vergoed daarvoor. Die klas was skoon toe die inspekteur daar ingekom het en verder het jou optrede vandag ou Bella se lewe gered.”

Annie sien die verbasing en ongeloof op Kobus se gesig en sy sluk aan die knop in haar keel.

Bertus kyk geamuseerd na hulle. Dan buk hy oor ou Bella, skielik skaam dat hulle moet weet dat hy ook toegeeflik en gaaf kan wees.

Kobus laat hom ook nie verder nooi nie. Hy knipoog vir Annie voordat hy fluit-fluit koshuis toe draf.

Annie gaan sak aan die ander kant van die koei neer.

“Arme ou Bella! Sy is darem nou rustig.” Sy is nie eens bewus daarvan dat dit die eerste keer is dat sy spontaan met hom gesels nie.

“Ja, dis die verdowende inspuiting. Maar sy lyk goed. Dankie.”

Annie kyk verbaas op in die ernstige, grysblou oë hier naby haar. ’n Snaakse weekheid kom sit in haar knieë.

“Dankie? Waarvoor?”

“Dat jy vanoggend vir Kobus so bygestaan het.”

“Ag . . . dit! Dis niks nie, ek doen dit graag.”

“Is alle vroue so?”

“Hoe?” Annie lag verleë en haar neusie verkreukel in drie fyn plooitjies wat Bertus ’n paar oomblikke lank spra­ke­loos laat.

“So . . . jammer vir die seuns! Jy was tog bang ek foeter dalk vir Kobus.”

“Jy kan hom tog nie nou meer lyfstraf gee nie. Hy is groot – die vernedering sal vir hom blywend wees. En buitendien sou hy mos nie die bottels moedswillig afgestamp het nie. Kobus is ’n dierbare kind.”

“Jy het dan nou net gesê hy is groot.”

Annie lag sag en vryf saggies oor die gladde, bruin vel van ou Bella se blad.

“Nou het jy my netjies in ’n hoek.” Sy probeer nie eens om uit die situasie te kom nie en Bertus kry sommer nuwe waardering vir haar.

Sy leun agteroor tot teenaan die lusernbaal en stoot haar bene lank voor haar uit.

“Ek sal hier bly totdat die seuns klaar geëet het. Jy het seker nog baie om te doen.”

“Nee, ek het niks om te doen nie. Die seuns kan maar die koshuis se dak en mure afbreek.”

“Hulle sal nie dinge doen waaroor jy jou hoef te skaam nie. Hulle is vandag in elk geval almal so ontsteld oor ou Bella. ’n Mens sal sweer daar is dood in die huis. Hulle is regtig oulike seuns.”

Bertus glimlag net en Annie dink dat hy seker nou weer dink sy is net jammer vir die seuns en soek ’n kans om hulle voor te praat.

Sy kyk stil na die groot man hier by haar. Sy swart hare blink in die dowwe lig en terwyl hy so roerloos sit, is sy gesig sag en ontspanne en sonder die kenmerkende frons.

Hy kyk skielik op in haar peinsende oë. Dit laat haar liggies bloos en vinnig wegkyk. Hy staan op en kyk af na die elfagtige gesiggie met die blink, bruin hare wat so sag op haar skouers krul.

“Ek sal oom Gawie vra om ’n rukkie hier te kom sit. Die seuns moet gaan studeer. Kobus-hulle moet vanmiddag ook nog atletiek oefen, want daar is Saterdag ’n byeenkoms op Otjiwarongo.”

Annie is dadelik die ene belangstelling.

“Kan ons saamgaan?”

Bertus kyk haar verbaas aan en dan trek sy mondhoek effens skeef vir die gretige gesiggie.

“Wie is die ons, juffrou?”

“Ons almal! Ons kan mos met die bus gaan! Ons kan die ouens ondersteun wat deelneem. Dit sal so baie vir hulle beteken.”

Bertus frons en Annie staan vinnig op sodat sy hom nie hier van onder af hoef te sit en beloer nie.

“Asseblief, meneer Kruger! Die seuns sal dit so geniet. Dalk . . . dalk kan ons sommer met die meisieskoshuis reël dat hulle die aand ’n bietjie gesellig saam verkeer, volk­spele speel of so iets.”

“Hokaai! Waar val jy nou uit? Ek sien in elk geval nie kans om dertig van hulle heeldag op te pas nie.”

“Ek sal dit doen! Hulle is tog groot en hoef nie meer heeldag opgepas te word nie.”

“Ek dink net die atlete moet gaan.”

Annie sug en lyk so teleurgesteld dat Bertus nie kans sien om sommer net uit te stap nie. Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar die gedagtes wat in sy kop kom, is so onsamehangend dat hy sy lippe vinnig saampers en uitstap. ’n Rukkie later kom los oom Gawie haar af en dan stap sy ingedagte terug koshuis toe.

Die seuns is stil en bedruk. Annie kan dit aanvoel en toe die studietyd verby is, vra sy hulle om eers ’n bietjie te wag voordat hulle na hul kamers gaan.

“Luister, dit gaan baie beter met ou Bella. Kobus kan gou vir julle kom verduidelik wat sy makeer en watter behandeling sy nou kry, dan leer julle sommer almal ook iets. Danie, gaan roep jy gou vir Kobus.”

Met ’n breë glimlag verduidelik Kobus aan die ander wat hulle wil weet en dis ’n meer ontspanne en tevrede klomp seuns wat onder die boom gaan koeldrank drink.

Donderdag roep Bertus die seuns in die eetsaal bymekaar.

“Soos julle weet, is daar Saterdag ’n atletiekbyeenkoms op Otjiwarongo. Tien van ons manne gaan deelneem. Ek het besluit dat ons Saterdag almal saam kan gaan – daar is oorgenoeg plek in die bus. Dan kan julle ander die atlete gaan ondersteun.”

’n Doodse stilte begroet die aankondiging en Annie kry Bertus skielik uit haar hart uit jammer. Hy het natuurlik nou ’n applous verwag en die seuns is te verbaas en te bang om te roer.

Sy spring dus op en klap haar hande bokant haar kop terwyl sy uitgelate juig.

Hulle kyk haar eers ’n sekonde of wat verbaas aan voordat daar ’n groot lawaai losbars. Die seuns lag en fluit en klap uitgelate hande. Bertus staar net verstom na die gewoonlik stemmige seuns.

Hy lig sy hand en onmiddellik is almal stil.

“Wel. Ek het regtig nie gedink julle sal dit so baie waardeer nie.”

“Meneer,” sê Kobus skielik en staan plegtig op, “ek wil net namens die atletiekspan baie dankie sê. Dit sal wonderlik wees om te weet ons het soveel ondersteuners. Ons hoop om nie een van ons ondersteuners of vir meneer teleur te stel nie.”

Bertus moet sluk aan die knop in sy keel. Die afgelope vier jaar regeer hy hulle met ’n ysterhand. Hy het nog nooit opgelet wat hy hulle alles ontneem nie. ’n Astrante juffroutjie met groot, bruin oë moes eers sy oë kom oopmaak.

“Ek is seker julle sal ons nie teleurstel nie, Kobus.”

Org se hand gaan ook op en Bertus kan sy verbasing nie wegsteek vir die vrymoedigheid wat die kinders nou skielik aan die dag lê nie. En dit alles net oor ’n enkele ou toegewinkie.

“Meneer, kan ons maar ’n banier maak met die woord Skurwekop daarop? Dan kan ons dit op die paviljoen vassit waar ons gaan sit.”

“Ja, goed.”

“Heng, dankie, meneer!”

Annie wag totdat die kinders uit die saal is en stap dan na Bertus toe wat hulle met gemengde gevoelens agternakyk.

“Meneer Kruger, ek wil ook net baie dankie sê. Dit sal soveel vir die seuns beteken.”

Bertus glimlag afgetrokke.

“Die seuns behoort eintlik vir jou dankie te sê, juffrou.”

“O nee, en ek wil ook nie hê hulle moet weet dat ek die sakie aangeroer het nie. Dit beteken vir hulle so oneindig baie omdat die voorstel van jou af gekom het. Hulle het soveel respek vir jou en so iets sal dit sommer laat omsit in liefde.”

Bertus kyk stil na haar.

“Maak dit dan vir jou saak of die kinders vir my lief is, juffrou, en of hulle my maar net vrees?”

Annie se groot oë is ernstig en onverwags skiet hulle vol trane.

“Elkeen van ons het liefde nodig, so oneindig nodig! Ons kan nie daarsonder voluit lewe nie.”

Sy draai vinnig om en stap uit voordat die trane kan opdam en oor hul walle stoot.

Sarah du Pisanie Omnibus 8

Подняться наверх