Читать книгу Tot die dood ons skei - Schalk Schoombie - Страница 11

Оглавление

In Afrika doen ons dinge op ’n Afrika-manier. ’n Stelling soos dié word dikwels gehoor wanneer Europese of Amerikaanse politici, kenners en wysgere die doen en late van ons vasteland kritiseer of wil raad of hulp aanbied in tye van droogte, hongersnood, burgeroorlog, volksmoord en gesondheidskrisisse soos die Ebola-epidemie. Dis te verstane dat Afrika sy selfstandigheid en ’n eie kulturele identiteit wil handhaaf ná ’n lang, bitter geskiedenis van kolonialisasie en onderdrukking.

Een gebied waar Afrika nie veel van die res van die wêreld verskil nie, is ten opsigte van geweld teen vroue en intieme-vrouemoord. Inteendeel, ten opsigte van sommige vorme van geweld teen vroue is Afrika loshande voor.

DRK: Vroue as wapen én as slagveld

Om die geskiedenis en rol van vroue in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) te verstaan, moet ’n mens dit voor die koms van koning Leopold van België in 1885 gaan haal. Waar hulle eens byna op gelyke voet met mans was, het die koloniale stelsels wat op die Kongo afgedwing is vroue se status verlaag tot ongeskoolde huisvroue wat net daar is om kos te maak, huis te hou en kinders te hê. Jare onder een van die wreedste heersers ooit en ’n voortslepende burgeroorlog het gesorg dat vroue in die DRK vandag in onbeskryflike omstandighede in groot gevaar leef.

Met die volksmoord in Rwanda het van die Hutu-vegters saam met Tutsi-vlugtelinge die grens in die noordooste van die land (toe Zaïre) oorgesteek. Dié jong vegters was lede van die Interahamwe, die jeugarm van die Rwandese regering en opgeleide moordenaars.

Vier jaar later stuur president Laurent Kabila die Interahamwe-vegters terug en twee weke later val hulle Zaïre binne om Kabila omver te werp. Dieselfde jaar begin die marteling en moorde in Kivu, die streek in die noordooste waar hulle gekonsentreer was. Wat as openlike slagting afgeskop het, is geleidelik verfyn tot doelgerigte aanvalle op vroue om hulle te wond waar hulle die kwesbaarste is – in hul baarmoeders – sodat hulle nie kinders kan hê nie. Oud en jonk word herhaaldelik brutaal verkrag sodat hul geslagsdele skeur en hulle fistel (fistula) opdoen. Dit is ook nie meer beperk tot die Interahamwe nie en lede van die Kongolese weermag en al die verskillende faksies pas nou dié taktiek toe in die areas onder hul beheer. Die doel is om alle teenstanders uit te roei deur te sorg dat hulle nooit gebore word nie.

In 2016 is berig dat die Interahamwe se getalle kwyn en hier en daar was sprake van verandering, maar die DRK gaan nog steeds gebuk onder ondenkbare geweld teen vroue wat gelykstaande is aan volksmoord.

Nigerië: #BringBackOurGirls

Danksy bekendes, van Michelle Obama tot Kim Kardashian, het die hele wêreld ná April 2014 geweet van Boko Haram en die 276 skoolmeisies in Chibok in die noorde van Nigerië wat hulle ontvoer het. Dit was geensins ’n geïsoleerde geval nie: Volgens Amnestie Internasionaal is sowat 2 000 Nigeriese vroue en meisies tussen Januarie 2014 en April 2015 ontvoer.

GEVALLESTUDIE

Bevryde Nigeriese vroue se aangrypende vertelling van hul lewe as Boko Haram-bruide

Ná die Nigeriese weermag Boko Haram verdryf het uit die dorpe wat dit opgeëis en vir die groep se selfverklaarde kalifaat gedryf het, het Fatima Ahmadu se lewe nog erger geword.

Soos die talle vroue en meisies wat deur die vegters gesteel is tydens jare lange aanvalle op burgerlikes, is sy na ’n kamp in die Sambisa-woud naby die grens met Kameroen geneem. Daar is die 40-jarige ma van sewe kinders in ’n gat in die grond gevange gehou tot sy ingestem het om met ’n vegter, Abu Sata, te trou.

“Die marteling en lyding was nimmereindigend. Hy het die heeltyd gesê hy weet ek wil ontsnap en het my aanhoudend gedreig.” Sy het een middag probeer om op haar hande en knieë weg te kruip, maar is deur die groep se godsdienstige polisie, die hisbah, gevang en gegesel.

“My gebede is verhoor en ’n vliegtuig het bomme om ons gegooi terwyl hulle besig was om my te slaan. Almal het weggehardloop,” sê sy, “en dit was toe dat ek ontsnap het.”

Ahmadu is een van honderde meisies en vroue van die drie provinsies in die noordooste van die land wat die afgelope maande na vryheid gestrompel het. Baie was swanger of het babas, die kinders van Boko Haram-vegters, op hul rûe gedra.

Die pa van Ahmadu se kinders het haar gelos en sy was reeds op haar eie toe ’n groot konvooi Boko Haram-vegters haar dorpie 22 maande gelede aangeval en ’n bloedbad ontketen het.

“Hulle het mense op enige manier doodgemaak, hul kele afgesny of hulle geskiet, of hul koppe afgekap of met machettes doodgekap,” sê sy. “Die hele wêreld het gebrand.”

Omdat sy ’n Moslem is en dieselfde dialek as die vegters praat, het hulle haar lewe gespaar. Haar Christen-bure is uit hul huise gesleep en voor haar doodgeskiet. Ahmadu het die vegters gesmeek om hul lewe te spaar, maar die vegters het net gedreig om haar saam met hulle dood te maak.

Ná Boko Haram beheer van die dorp oorgeneem het, is almal op die dorpsplein bymekaar geroep sodat hulle kon sien hoe ’n gevangene, ’n lid van die dorp se weerstandsbeweging, tereggestel word. Daarna is vyf vermeende diewe se hande afgekap en in potte kokende vet gegooi.

Ahmadu het genoeg geld bymekaar geskraap om haar kinders se vryheid te koop, maar die vegters wou haar nie laat gaan sonder ’n sluier wat haar gesig bedek nie en sy kon nie een bekostig nie.

Die tentedorp in Maiduguri waar sy nou woon, is vol mense wat vir Boko Haram gevlug het.

’n Onrusbarende aspek is die regering en wêreldleiers se uiteenlopende reaksies op die ontvoering van die Chibok-meisies in vergelyking met dié van duisende ander ontvoerde vroue. Nigeriese owerhede het uit hul pad gegaan om die skoolmeisies te probeer terugkry en het selfs vir die eerste keer met Boko Haram onderhandel. Ander vroue moet self ’n plan maak om te ontsnap of wag dat die weermag hulle red.

Toe Hadiza Mala haar vier kinders uit ’n Boko Haram-kamp gesmokkel het, het die vegters haar ’n dag lank in die skroeiende son vasgebind.

Hadiza, wie se eerste man haar ook verlaat het, het nie geweet dat haar tweede man ’n Boko Haram-bevelvoerder is toe hulle getroud is nie. Sy was geskok toe sy uitvind en het hom aan die plaaslike owerhede gerapporteer, maar hulle het niks gedoen nie.

Daarna het die vegters onder sy bevel gedreig om haar dood te maak omdat sy hom verraai het, en twee jaar gelede het haar man haar na die woud geneem ná die weermag hul dorp aangeval het.

“My kinders is by een van Boko Haram se indoktrinasieskole ingeskryf en ons is in verskriklike omstandighede aangehou, in ’n hut met ’n paleheining met skerp punte om,” vertel Mala (40).

“Ek het gesien hoe hulle baie ander vroue slaan en verneder. Van hulle is selfs in die woud vermoor.”

Sy het uiteindelik ontsnap toe die vegters weg was en die wagte aan die slaap geraak het.

Toe die 14-jarige Yakaka ontvoer is uit ’n dorpie naby Bama, een van die dorpe wat die swaarste deur Boko Haram getref is, het die vegters gesê dat hulle haar wegneem sodat sy die Koran kan leer.

Yakaka sê al die vegters in die kamp het vroue gehad, die meeste van hulle is ontvoer. Haar man se naam was Modu Gana.

“Ek het nie van hom gehou nie,” sê sy uitdrukkingloos met ’n sagte stem. “Ek is met geweld gedwing om te trou. As ek dit nie gedoen het nie, het hulle my doodgemaak. Ek moes oorleef.”

Daar was min kos by die kamp waar sy was en geen medisyne nie. “Mense het ingewandskoors en geelkoors en allerhande siektes gekry,” onthou sy. “Baie het gesterf.”

Sy het saam met ’n paar ander meisies ontsnap ná hulle die vegters oortuig het dat hulle lief is vir hul “mans” en net vir ’n dag vir hul families wou gaan kuier.

Hulle het deur die woud gestap tot hulle op Nigeriese weermagsoldate afgekom het en is na die berugte Giwa-detensiekamp geneem waar hulle vir twee maande ondervra is.

Yakaka is daarna na ’n ander kamp vir verplaaste persone in Maiduguri gestuur. Toe haar familie haar die eerste keer weer sien, het hulle op haar afgestorm en haar omhels. Sy was een van die gelukkiges. Talle meisies wat met Boko Haram-vegters “getroud” was, word gestigmatiseer en verstoot deur hul families en gemeenskappe uit vrees dat die meisies deur die vegters gebreinspoel is.

Yakaka was vier maande swanger en probeer om die stukke van haar lewe weer op te tel. Sy wil skool toe gaan om te leer. “Ek dank die Here dat ek ontsnap het,” sê sy. “Nou gaan ek ’n nuwe lewe begin, met hoop vir die toekoms.”

– LATimes.com, 14 Oktober 2016

Boko Haram wil, soos die gewapende groepe in die DRK, gesins- en gemeenskapstrukture vernietig en vervang met hul eie. Vroue word ontneem van die reg om self te besluit met wie hulle trou, seks het en hoeveel kinders hulle het en wanneer. Seksuele geweld is sentraal tot die ekstremistegroepe se veldtog om vroue van geleerdheid, regte en vryheid te ontneem en te sorg dat die mans in die dominante posisie bly – en dat hulle verseker is van nuwe ondersteuners in die vorm van kinders wat deur verkragting verwek is.

Egipte: Een tree vorentoe, twee treë agteruit

Egiptiese vroue word om soveel verskillende redes geteiken dat dit moeilik is om te glo dat daar ’n enkele vrou in die land is wat nie geraak word nie.

Volgens die nasionale Demografiese Huishoudelike Peiling wat die regering in 2008 onderneem het, word 30% van Egiptiese vroue by die huis mishandel. Daarbenewens het seksuele teistering, mensehandel en veral vroulike besnydenis, oftewel vroulike genitale verminking, toegeneem. Dit is alles gedrag wat teen die wet is, maar wat erg ondergerapporteer word. Ses jaar later het niks verander nie en het die 2014-verslag ook aangedui dat 30% van vroue slagoffers van huishoudelike geweld is.

In die eerste ses maande van 2007 is 247 vroue vermoor of tot selfdood gedryf. ’n Studie deur die land se Nasionale Sentrum vir Menseregte het diefstal, egbreuk, argumente, wraak en sielkundige probleme genoem as van die oorsake. Van die vroue het ook “verdag” opgetree of hul mans beledig of wou iets op hul manier doen en nie volgens die mans s’n nie. Sommige het geweier om te trou met die man wat die familie vir haar gekies het.

Tydens die Tahrir-plein-opstande van 25 Januarie tot 11 Februarie 2011 en die Arabiese Lente wat die bewind van president Hosni Mubarak tot ’n val gebring het, is na raming 80 vrouebetogers per dag verkrag. Van die aanvalle was opportunisties, maar baie was daarop gemik om vroue se deelname aan politiek te stuit.

Mohamed Morsi, wat Mubarak opgevolg het, is twee jaar later op sy beurt omver gewerp. Toe Egiptenare teen hom betoog het, het hulle weer op Tahrir-plein in Kaïro saamgekom en is vrouebetogers weer seksueel aangerand en verkrag, weer in die openbaar en dikwels deur meer as een man op ’n slag.

Onder Abdel Fatah al-Sisi, Egipte se huidige president, het vroueregte en menseregte in die algemeen baie agteruitgegaan en weerspreek die werklikheid die ideale van die nuwe Egiptiese grondwet wat in Junie 2014, voor al-Sisi se inhuldiging, aanvaar is. Dit bevat wetgewing wat vroue teen gendergebaseerde geweld en verwante misdade beskerm en is daarop gemik om geslagsgelykheid te bevorder. Ingevolge dié nuwe wetgewing is die vonnis vir mans wat skuldig bevind word aan seksuele aanranding minstens ses maande tronkstraf of ’n boete van 3 000 Egiptiese pond, ’n bepaling wat baie progressief is in vergelyking met die vorige wetgewing. Maar in dieselfde asem is die aanbevole vonnis vir mans wat hul vroue vermoor ná hulle haar op heterdaad met ’n ander man betrap het, ligter as vir ander moorde.

Geslagsongelykheid en vrouemishandeling in die huis en in die openbaar bly diepgewortel en alledaags. Trouens, daar is al meer bewyse dat die regering vasberade is om alle feministiese forums en organisasies wat geweld teen vroue beveg, te sluit. Azza Soliman en Mozn Hassan, twee Egiptiese aktiviste en kampvegters vir vroueregte wat skuiling en regshulp aan slagoffers bied, is twee van die persone in al-Sisi se visier. Hulle word geëtiketteer as spioene, persone wat “nasionale sekuriteit bedreig” en die “onverantwoordelike bevryding” van vroue aanhits. In Januarie 2017 is Soliman en Hassan, asook Soliman se regsfirma se bates gevries en is hulle vir alle praktiese doeleindes verhinder om hul werk voort te sit.

Dan is daar die kwessie van eremoord. ’n Ma en haar twee dogters is in Mei 2013 deur familielede in Luxor vermoor. Die tien mans het die huis bestorm, die vroue verwurg en met skerp voorwerpe aangerand voor hulle die liggame saam met klippe in komberse toegedraai en in die Nyl gegooi het. Die moord het net aan die lig gekom omdat een van die liggame na die oppervlak gedobber het. Die mans het die vroue van buite-egtelike verhoudings verdink en wou die familie se eer beskerm. Dit is net een van honderde soortgelyke stories.

Mohamed Sayyid Tantawi, Egipte se invloedryke Islamitiese godsdienstige leier, was heftig gekant teen eremoord en het dit met mening beveg. Selfs voor hy oorlede is, was die mense gekant teen hom omdat hy deur Mubarak aangestel is en het hulle hom dus oor dieselfde kam as die korrupte regering geskeer. Daarom het hulle liewer na die plaaslike sjeiks en stamleiers geluister en baie van hulle beskou eremoord as tradisie en sien niks verkeerd daarmee nie.

Dat die besonderhede van dié moord so skraps is en die vroue nie by name genoem word nie, is kenmerkend van byna alle berigte van eremoord wat in die Egiptiese media verskyn en moontlik ’n teken van die alledaagsheid daarvan, asook vroue se lae status.

In die woorde van Amnestie Internasionaal: “Moord op vroue in die naam van ‘eer’ is ’n genderspesifieke vorm van diskriminasie en geweld … ‘Eremoord’ moet gesien word as deel van ’n groter spektrum van geweld teen vroue.”

Jordanië: Anders maar eenders

Die koninkryk van Jordanië is ’n veerbootrit van Egipte af en verskil in talle opsigte baie van die land van die farao’s. Dit is eerstens baie kleiner en die bevolking is ’n tiende van Egipte s’n. Net minder as die helfte van die sowat sewe miljoen Jordaniërs is vroue. Hulle is polisiebeamptes, verkeersbeamptes, regters, loodse, prokureurs en ingenieurs. In 2016 het vroue 20 van die 130 setels in die nasionale verkiesing gewen in vergelyking met 18 uit 150 met die vorige verkiesing.

Koning Abdullah II is pro-Westers en progressief. Hy en sy vrou, koningin Rania, het lank gestry om die land se wetgewing te verander sodat strawwer vonnisse opgelê word vir verkragting en eremoord. Sommige ministers was gekant daarteen en het geredeneer dat strawwer vonnisse vroue sal aanmoedig om mans valslik aan te kla omdat hulle kwaad is vir hulle of hulle wil laat boet vir iets. Ná drie jaar het Abdullah gewen en is die wet verander, maar dit bepaal steeds dat manlike woede-uitbarstings versagtende omstandighede is.

Reeds in 2009 is ’n spesiale hof vir eremoorde gestig, maar ingevolge die Jordaniese strafreg het die klaer die reg om ’n saak terug te trek en die aangeklaagde te vergewe. Aangesien die vrou se familie ná haar dood die aanklaers word en die moordenaars uit haar familie se geledere kom, is dit dus nie verbasend dat baie aanklagte teruggetrek word nie.

Alles lyk dus goed op papier, maar ’n verslag van die Thomson Reuters-stigting oor vroueregte in Arabiese lande meen dat Jordanië se vroueregterekord die swakste is naas Egipte s’n. Van 1997 tot 2008 het gemiddeld 20 eremoorde per jaar plaasgevind en in 2015 was daar 17, maar in 2016 was daar 38.

Een van die 38 was ’n 20-jarige meisie wie se 18-jarige broer haar in haar slaap geskiet het ná hy uitgevind het dat sy ’n geheime selfoon het. Twee ander was die 27-jarige ma van ’n pasgebore baba en haar 34-jarige suster wat deur hul jonger broers doodgeskiet is. Die ouer suster het dikwels die huis verlaat sonder om eers haar familie se toestemming te kry en die ander het ’n buite-egtelike baba gehad, maar het later met die pa getrou.

Volgens Rana Husseini, ’n joernalis wat vir jare rekord hou van eremoorde in Jordanië, word die meeste gepleeg deur – in dié volgorde – die vrou se broers, pa, seuns, neefs (cousins en nephews), ooms, ma’s en susters.

As die slagoffer ongetroud is, is die motief vir die moord byna altyd omdat haar familie vermoed of gerugte gehoor het dat sy nie meer ’n maagd is nie. Dit maak dit des te meer hartseer dat dr. Israa Tawalbeh, ’n forensiese spesialis in die regeringsdiens, sê dat 99% van die slagoffers van eremoorde wat hy ondersoek het maagde was.

Hierdie praktyke word dikwels voor die deur van ouer geslagte gelê, maar ’n 2013-peiling deur die Universiteit van Cambridge waaraan 850 tieners met ’n gemiddelde ouderdom van 15 in Amman, die Jordaniese hoofstad, deelgeneem het, wys dat dit geensins so is nie.

Die helfte van die seuns en 20% van die meisies het gesê dat dit geoorloof is om ’n suster, dogter of vrou wat die familie “onteer” het, te vermoor. Nog meer steurend was die feit dat hul sienings nie met geloof verband hou nie, maar gebaseer is op patriargale en tradisionele sienings, die waarde wat aan ’n deugsame vrou geheg word en die algemene siening dat geweld moreel geregverdig is. By implikasie stem hulle dus saam met die idee dat eer gemeet word aan meisies se seksuele reinheid, dogters en susters se maagdelikheid en ’n vrou of ma se trou. Opvoeding was die een faktor wat gehelp het om hul siening te verander, en dié wat uit ’n gesin kom waar selfs net een persoon ’n universiteitsgraad het, was minder geneig om met eremoord saam te stem.

In Desember 2016 het Jordanië se Iftaa’ Departement, wat onder meer die wette van Islam in ’n moderne samelewing vir gelowiges interpreteer, vir die eerste keer ’n fatwa uitgereik teen vrouemoord ter wille van familie-eer. In dieselfde maand het ’n hoër hof ’n man wat sy eksvrou doodgery het se aanvanklike vonnis van 20 jaar tronkstraf bekragtig.

Indië en Pakistan: ’n Brandende kwessie

GEVALLESTUDIE

Ma verbrand 18-jarige dogter lewend in Lahore, Pakistan

Parveen Rafiq het haar dogter Zeenat, 18, aan die bed vasgebind, keroseen oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek in die gesin se huis in Lahore in die ooste van Pakistan.

Mev. Rafiq het daarna buitentoe gegaan, op haar bors geslaan en uitgeroep dat sy die tiener doodgemaak het omdat sy skande oor die familie gebring het.

Zeenat se “misdaad” was om die vorige maand in ’n magistraatshof met haar kêrel, Hassan Khan, ’n motorfietswerktuigkundige, te trou, het polisiebeampte Sheikh Hammad gesê.

Hassan se herkoms – hy behoort aan die Pashtun etniese groep terwyl Zeenat Punjabies was – was die hoofrede waarom haar familie teen hom gekant was. Hy het aan verslaggewers gesê dat hulle weggeloop het en dat hy teen sy beterwete toegelaat het dat Zeenat terugkeer na haar ouerhuis ná hulle belowe het om ’n bruilofviering te hou en haar nie te straf nie.

Hy sê: “Zeenat wou nie gaan nie en het gesê dat hulle haar sal doodmaak, maar het later ingestem toe een van haar ooms haar veiligheid gewaarborg het.

“Die dag toe ons weggeloop het, het hulle haar geslaan. Haar neus en mond het gebloei,” het Hassan aan CNN vertel.

“Twee dae ná sy teruggekeer het, het sy my gebel en gesê dat haar familie nie hul woord gehou het nie en dat ek haar moet kom haal. Ek het gesê sy moet wag tot die agt dae verby is soos hulle beloof het. Toe word sy vermoor.”

Elf dae ná hul troudag het Hassan sy vrou begrawe. ’n Nadoodse ondersoek het getoon dat daar rook in haar longe was, ’n teken dat sy geleef het toe sy aan die brand gesteek is.

Die polisie het gesê dat Parveen en ander lede van die familie skuld erken het. By die tweeslaapkamerhuis in ’n arm woonbuurt het die res van die familie geen berou getoon nie.

Naseem Bibi, Parveen se jonger suster, het gesê: “Ná sy haar dogter vermoor het, het Parveen buitentoe gegaan, haar tjalie afgehaal en begin om op haar bors te slaan. Sy het uitgeroep: ‘Mense, ek het my dogter vermoor omdat haar slegte gedrag ons familie ’n slegte naam gegee het!’

“My suster sê al lank dat sy nie sal toelaat dat haar dogter met iemand van Pashtunse afkoms trou nie,” het sy verder gesê.

Zeenat se suster het haar blameer omdat sy haar ma se wense verontagsaam het. Die meisies se pa is ’n paar jaar vantevore oorlede en die ma se verhouding met haar dogters het agteruitgegaan.

“Sy het ontsteld geraak wanneer haar dogter ongehoorsaam was en daar nie ’n man in die huis was om haar te dissiplineer nie.”

Sowat 1 000 vroue word elke jaar in Pakistan vermoor in sogenaamde eremoorde.

– Dailymail.co.uk, 9 Junie 2016

Op 17 Januarie 2017 is Parveen Rafiq ter dood veroordeel en haar seun, Ahmer Rafique, lewenslank tronkstraf opgelê. Dié vonnis is moontlik gemaak deur veranderinge aan die Pakistanse wetboek wat in Oktober 2016 ingetree het. Ingevolge die nuwe bepalings sal die staat enigiemand wat eremoord pleeg vervolg, selfs wanneer die slagoffer se familie hom of haar vergewe het. Dié betreklik vinnige ommeswaai het gekom ná die moord van die 25-jarige sosialemedia-ster, sanger en model Qandeel Baloch. Sy was bekend vir haar uitgesprokenheid, skamel geklede selfies (gemeet aan die land se tradisionele standaarde) en onafhanklike leefstyl en is die “Kim Kardashian van Pakistan” genoem. Die omstredenheid rondom haar is verder gestook toe dit bekend geraak het dat sy as tiener in ’n gereëlde huwelik getree het. Een jaar en ’n baba later het sy die man verlaat en haar eie weg begin baan totdat haar broer Muhammad Waseem haar in Junie 2016 verwurg het. In sy skulderkenning het hy gesê dat hy nie berou het nie. Sy vriende het hom getart en gespot oor sy suster se gedrag en sy het die familie in oneer gebring. Fouzia Azeem, Baloch se regte naam, het haar brandarm familie onderhou.

GEVALLESTUDIE

Bruidskat

Sondagaand 23 November 2014 stap Sushila (geen vanne is bekend nie) na haar dogter se huis aan die buitewyke van Bangalore, Indië. Die straatligte is flou en sy moet mooi kyk waar sy loop om nie te val nie. Sy kan hoor hoe gesinne agter die hoë mure in die huise kos maak en hoe honde in die verte blaf.

Toe sy die straat bereik waar haar dogter woon, pak ’n beklemming haar beet. Sy kon vaagweg iets op die trap voor die huis uitmaak, iets wat in die lig gloei.

Daar is ’n brandreuk in die lug.

Hoe nader sy aan die huis kom, hoe sterker word die reuk en hoe harder die gekerm wat soos ’n mes deur haar sny. Sushila hou haar asem op en loop tot by die trap. Toe sy vorentoe buk, roer die hoop en maak roggelgeluide.

“Laxmi!”

Teen die voordeur lê die naakte liggaam van haar dogter.

Dit is Laxmi wat so na brand ruik. Sy kyk met smekende oë na haar geskokte ma.

Die reuk van verbrande vleis is ondraaglik.

Sushila het dadelik besef dat haar kind sterwend is. Sy het brandwonde aan meer as 80% van haar liggaam gehad.

“Ek het haar hoor huil, sy was in verskriklike pyn, maar ek het nie besef hoe erg sy beseer is nie,” het Sushila later vertel. “Daar was niemand om haar te help nie, niemand wou na haar toe gaan nie. Ek was die enigste een wat sy kon roep, en ek woon 12 kilometer ver.”

Laxmi is in die Victoria-hospitaal in Bangalore opgeneem, in die brandwondsaal met 50 beddens, een van die modernste eenhede in die land. Daar het sy die polisie vertel wat gebeur het. Drie dae later is sy dood. Sy was 28.

Tien jaar vantevore, toe Laxmi 18 was, het sy getrou met Majunath, ’n jong man van 25. Anders as talle paartjies wie se huwelike gereël is, het hulle getrou omdat hulle lief vir mekaar was.

Mettertyd het Majunath begin drink en in alkoholisme verval. Hy kon nie meer ’n werk hou nie en het die meeste van die geld wat Laxmi as huishulp verdien het op drank verkwis.

Laxmi was van ’n hoër kaste as hy en haar skoonfamilie het algaande meer druk op haar geplaas vir geld. Sushila het ingestem om geld te gee, maar dit was nie genoeg vir die skoonfamilie nie en hulle het Laxmi onophoudelik geteister en beledig. Majunath het sy vrou daarvan beskuldig dat sy ’n verhouding met ’n buurman aangeknoop het en het haar begin slaan.

Laxmi het ’n paar keer met haar twee kinders na haar ma gevlug, maar telkens het Majunath haar oorreed om terug te kom en hand en mond beloof om haar nie weer te teister nie. Die laaste keer het sy ses dae by Sushila gebly voor sy terug is.

’n Dag later is sy aan die brand gesteek.

In die outo-riksja op pad na die hospitaal het Laxmi vir Sushila vertel sy was om en by agtuur in die kombuis besig om aandete te berei toe haar skoonma instorm en keroseen oor haar uitgooi.

Volgens die hospitaal se maatskaplike werker het sy Laxmi beledig en beskuldig dat sy haar seun vernietig het en Majunath aangehits om die vuurhoutjie te trek.

Laxmi se klere was deurdrenk met keroseen en toe sy na Majunath gryp en hom omhels in ’n desperate poging om die vlamme te blus, het hy ook aan die brand geslaan.

Vroeg Maandag, 24 November 2014, is Majunath ook in die Victoria-hospitaal opgeneem met derdegraadse brandwonde aan 40% van sy liggaam. Hy is ’n dag ná Laxmi dood.

– SMH.com.au, 31 Januarie 2015

Terwyl die motief vir eremoord die man en familie se eer is, word bruidskatmoorde gedryf deur gierigheid. Donna Fernandes, die stigter van die vroueregteorganisasie Vimochana in Bangalore, verduidelik dit só: “Die man se gesin voel dat hulle nie met die bruilof genoeg geld vir hul seun gekry het nie, dalk omdat hulle van ’n hoër kaste as die vrou en haar familie is of iets in dier voege, en dan begin die teistering – dikwels kort ná die troue. Hulle begin deur vir kontant of goud of verbruiksgoedere soos wasmasjiene of televisies te vra; wat ook al hulle meen die bruid se familie aan hulle verskuldig is of aan hulle belowe het en waarvoor hulle haar familie kan dwing om te betaal.

“Hulle weet die bruid se familie kan nie weier nie omdat die vrou in ons kultuur ondergeskik is [aan die man]. Só begin die afpersing. Die eise vir geld gaan oor in dreigemente [om die vrou aan te rand] en wanneer haar familie nie meer kan betaal nie, word sy vermoor.”

Dit, meen David Heimbach, ’n Amerikaanse navorser en professor, word gedoen om die bruid se familie te straf omdat hulle nie genoeg gee nie of “sodat die man weer kan trou”, want saam met ’n nuwe bruid kom ’n nuwe bruidskat.

Die gewildste metode? Om haar aan die brand te steek. In Indië is die algemeen aanvaarde statistiek dat minstens een vrou elke uur sterf vanweë bruidverbranding (bride-burning) – en daar is 8 760 ure in ’n jaar. Indië se Nasionale Misdaadrekordsburo berig inderdaad dat daar in 2006 7 619 bruidskatmoorde was. Dit het geleidelik afgeneem en in 2014 was daar 5 247, maar in 2015 was daar weer 7 634. Volgens Fernandes is daar ’n algemene gesegde in Indië: Hoe meer jy haar slaan, hoe meer sal jy kry.

Bitter min bruidverbrandings word by die polisie aangemeld en selfs vroue wat by organisasies soos Vimochana hulp soek, trek dikwels hul aansoeke uit vrees terug. Benewens die feit dat dit ondergerapporteer word, teken die polisie ook bruidverbranding as selfdood of “ongelukke” aan. Fernandes noem byvoorbeeld dat sy weet van 671 gevalle van bruidverbranding in 2014 in en om Bangalore, maar dat polisierekords net 50 noem.

“Ongelukke” verwys na gas- of keroseenstowe wat ontplof (stove bursts) en ander sogenaamde ongelukke in die kombuis. In 2014 was 61% van die slagoffers van sulke “ongelukke” vroue tussen die ouderdom van 15 en 34.

Selfdood sluit in gevalle waar die man en sy familie die vrou so treiter en mishandel dat hulle haar tot selfdood dryf, hetsy deur haarself aan die brand te steek, gif te drink of haarself te verdrink of op te hang. In 2015 het 42 088 vroue selfdood gepleeg en meer as die helfte, dit wil sê 22 293, was getroud.

Ander grusame praktyke is om suur in die vrou se gesig te gooi om haar te vermink en Eva-treitering (Eve teasing). Laasgenoemde is wanneer onbekende mans ’n vrou in die openbaar molesteer, treiter of seksuele opmerkings maak (enigiets duskant verkragting), maar verkragting is nie buite die kwessie nie. Sy word dan daarvoor blameer en vermoor omdat sy haar wellustig gedra of owerspel gepleeg het.

Die Bruidskat-verbodwet, wat mans en hul families verbied om vir bruidskat te vra, is reeds in 1961 in Indië ingestel. In 1986 is bruidskatmoord tot huishoudelike-geweldsmisdaad verklaar. Ingevolge artikel 304-B van die Indiese strafreg is bruidskatmoord gevalle waar die bruid binne die eerste sewe jaar van die huwelik sterf en dit bewys kan word dat haar man haar kort voor haar dood aangerand of geteister het. Die man en sy familie kan dan van moord aangekla word. In 2014 het net 15% van alle gevalle van bruidskatmoord wat in die hof verhoor is tot ’n skuldigbevinding gelei.

In The Los Angeles Times (5 September 2013) skryf Carol J. Williams:

“Hoewel die [Indiese] regering die bruidskatpraktyk in 1961 deur middel van wetgewing verbied het, is dit nooit behoorlik geïmplementeer nie. Polisiebeamptes sou in elke distrik aangestel word om dit toe te pas, maar niks het gebeur nie.

“In 1986, onder groot druk van [’n] plaaslike vrouebeweging, is die Indiese strafreg gewysig om artikel 304-B in te sluit, spesifiek teen moord ná teistering vir bruidskat … maar dit het min vrug afgewerp.”

Tot die dood ons skei

Подняться наверх