Читать книгу Tot die dood ons skei - Schalk Schoombie - Страница 7
ОглавлениеEk tik “husband kills wife” en “man kills girlfriend” op Google in en die voorafgaande resultate verskyn almal op die eerste blad met resultate.
Kom ons wees eerlik. Alle mans (en vroue) wat in ’n verhouding is, voel die een of ander tyd lus om die ander een iets aan te doen. Maar die meeste mans doen dit nie. Hulle droom nie daarvan om van haar ontslae te raak nie en beraam nie vir maande in die geheim planne nie. Wanneer nuus oor nog ’n gesinsmoord of vrouemoord dus op die koerantvoorblaaie verskyn, is mans en vroue ewe geskok.
Benewens die feit dat moord nie die maklikste ding is om te beplan, pleeg of weg te steek nie, is die voor die hand liggende oplossing tog om te skei. Waarom sal enigiemand dan die moeilikste uitweg met sulke verpletterende gevolge kies?
Tog word vroue elke dag oral in die wêreld deur hul intieme maats of ’n familielid vermoor: 119 per dag, een elke 12 sekondes. Volgens die VN se Buro vir Wapens en Misdaad (UNODC) was die totale getal vroue wat in 2012 so gesterf het 43 600.
Danksy koerante en des te meer die internet word ons op hoogte gehou van elke grusame detail en word daar bespiegel oor die motiewe en bure en familielede se menings word ontleed. Elke geval is anders, maar tog ook eenders – soos die volgende episode in ’n bekende TV-reeks waar almal reeds voor die eerste advertensiepouse weet wie dié week gaan sterf.
Dan vergeet ons weer daarvan. Tot dit weer gebeur. Dalk is dit dié keer ’n huurmoord, ’n gesinsmoord. Met ’n mes of dalk ’n byl of ’n pistool. Ons volg die hofsaak en sug verlig as die man – want twee derdes van alle intieme moorde word deur die man gepleeg – skuldig bevind en gevonnis word.
Tot dit weer gebeur.
GEVALLESTUDIE
Polisieman skiet vrou, pleeg selfdood ná egskeiding afgehandel is
Ná hy gehoor het dat hul egskeiding afgehandel is, het ’n Kaapstadse polisieman sy eksvrou doodgeskiet en toe met dieselfde pistool selfdood gepleeg.
Sersant Khanyiso Nyhudwana se liggaam is by sy huis in Site B, Khayelitsha, gevind etlike ure ná hy sy eksvrou, Nwabisa Benya, 39, naby haar huis geskiet het.
Familielede het gesê dat Khanyiso met verlof was, maar dat hy sy uniform aangehad het toe hy Nwabisa met sy dienspistool geskiet het.
SAPD-woordvoerder kaptein FC van Wyk sê die tragedie het Saterdag omstreeks 9 nm. afgespeel.
“’n 40-jarige sersant wat by Harare-polisiestasie gestasioneer was, het na sy vrou se huis in Qampistraat in Site B gegaan om haar te gaan sien,” sê Van Wyk.
“Hulle het buitentoe gegaan en hy het haar ’n paar keer in die bolyf geskiet. Daarna het hy huis toe gegaan en homself geskiet.
“’n Saak van moord en ’n ondersoek is geopen vir albei gevalle.”
Dit is die tweede moord-selfdood deur ’n polisieman in Khayelitsha binne die bestek van ’n maand.
Drie weke gelede het konstabel Sithembele Makhe, 28, homself by sy huis in Kuyasa doodgeskiet toe sy kollegas opdaag om hom te arresteer vir die moord op sy meisie, Thulelwa Nogilana, 34, by haar huis in Lingelethu-Wes.
Nwabisa se familie sê die interdik wat sy teen Khanyiso gekry het, het niks beteken nie.
Haar neef, Magcinonke Lavisa, 42, sê: “Dit het nie [Saterdag] begin nie. Hy was verlede week hier en het haar en haar pa gedreig.”
Magcinonke sê die paartjie se huwelik was stormagtig, maar hulle het elke keer versoen geraak en weer probeer.
“Sy het in Januarie teruggetrek huis toe ná hy haar uitgeskop het. Sy het my vertel dat hy drink en dit dan op haar uithaal en haar met sy pistool gedreig het,” het Lavisa bygevoeg.
“Sy het ’n paar jaar gelede by die polisie gaan kla daaroor en sy pistool is gekonfiskeer. Sy was verbaas om te sien dat hy dit weer het sonder dat sy ingelig is.
“Ná ’n ruk het sy weer aansoek gedoen om ’n egskeiding en toe dit Vrydag deurkom, het hy haar weer gedreig.
“Sy en haar familie het ’n interdik teen hom gekry, maar dit het hom nie gekeer nie.
“Daai man het haar met sy dienspistool geskiet. Hy het nie respek vir die wet gehad nie en daardie selfde wet wat haar moes beskerm, het haar in die steek gelaat.”
– Iol.co.za, 13 Junie 2016
Vrouemoord is niks nuut nie. Eeue reeds is die man die baas van die plaas en heers hy oor die huis en alles daarin, vrou en dogters inkluis. In antieke Rome was dit die pater familias se reg om ’n dogter wat voorhuwelikse seks gehad het of sy ontugtige vrou dood te maak.
Vroeë Joodse wetgewing het beslis dat ’n ontugtige vrou en haar minnaar gestenig moes word soos bepaal deur Ou-Testamentiese voorskrifte.
In Peru kon Inka-mans hul vroue opsluit en uithonger tot hulle letterlik doodgaan van honger, en Asteekse wette het bepaal dat ontugtige vroue gestenig of verwurg word.
Die oorblyfsels van hierdie diepgesetelde patriargale stelsels en kulture is vandag nog te sien en vroue word steeds vermoor om die man se eer te beskerm of omdat hulle hul mans se “wette” verontagsaam en hom probeer verlaat.
Intieme-vrouemoord se spanmaat deur die eeue is mishandeling en huishoudelike geweld. In 1607 het Anne Young haar man, James, ’n kleremaker in Ludgate Hill in Londen, om geregtelike skeiding op grond van mishandeling gedagvaar. Margaret Bonefant, haar vriendin, het in die Londense Konsistoriese Hof, die hoogste hof van die Anglikaanse Kerk, getuig dat sy Anne een Sondag besoek het omdat sy bekommerd was oor haar. Daar gekom, was Anne se gesig, kop en lyf vol bloukolle en kon sy nie praat of beweeg nie. Margaret het getuig dat dit gelyk het asof Anne “were more lyke to die of that beating then to recover and lyve”.
’n Eeu voor Anne haar tot die hof gewend het, het Protestantse en Katolieke kerkleiers reeds geleer dat mans selfbeheersing moet toepas, maar nogtans toegegee dat lyfstraf wel in sekere gevalle geregverdig is om die man se gesagsposisie te handhaaf.
In 1765, byna 160 jaar ná Anne die kerk se toestemming gevra het om haar man te verlaat, skryf die Engelse wetsgeleerde William Blackstone in Commentaries on the Laws of England dat die man (volgens die ou wet) sy vrou binne perke mag straf … “Die siviele reg gee die man dieselfde, of groter, gesag oor sy vrou en laat hom ten opsigte van sekere oortredings toe om haar deeglik met swepe of sy vuiste te slaan …”
Verstommend genoeg het dit in talle wêrelddele tot redelik onlangs nog op die wetboeke gestaan dat ’n man sy vrou onder sekere omstandighede mag vermoor. In Texas in die VSA kon ’n man tot en met 1974 sy vrou en haar minnaar vermoor mits hy hulle in flagrante betrap. In Georgia was daar darem wat dit betref geslagsgelykheid en het vroue en mans tot in 1977 dieselfde reg gehad om die ander een se minnaar te vermoor. Onder Afrikaner-Nasionalisme en die Romeinse reg wat ons by ons Nederlandse kolonialiste geërf het, is getroude vroue oor dieselfde kam as minderjariges geskeer. Van ons oumas sal kan onthou dat hulle hul mans of pa’s se skriftelike toestemming moes hê om ’n bankrekening oop te maak. Swart mans se reg om hul vroue “binne perke” te tugtig het eers met die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike van 1998, wat vir alle praktiese doeleindes eers in 2000 in werking getree het, uit die wetboeke verdwyn.
Die begrip vrouemoord (femicide) het posgevat ná Diana Russell, ’n Suid-Afrikaans-gebore emeritus professor aan Mills College in Kalifornië, dit in 1976 in ’n toespraak by die Internasionale Tribunaal oor Misdaad Teen Vroue in Brussels, België gebruik het. Dit is interessant genoeg reeds in 1801 in The Satirical Review of London at the Commencement of the Nineteenth Century gebruik om na “die moord op ’n vrou” te verwys. Sewe-en-veertig jaar later is dit in The Law Lexicon: A Dictionary of Jurisprudence opgeneem en kan ons dus aflei dat vrouemoord in 1848 ’n strafbare misdaad in Engeland was.
Hoe dit ook al sy, Russell beywer haar sedertdien vir die internasionale aanvaarding van die term omdat dit spesifiek verwys na moord op vroue juis omdat die persoon ’n vrou is. Vrouemoord verwys dus na alle vorme van moord wat “spruit uit ’n gevoel van eiegeregtigheid of meerderwaardigheid jeens vroue” of “uit die veronderstelling van baasskap”.
Intieme-vrouemoord (intimate femicide) is die moord van ’n vrou deur ’n intieme maat of lewensmaat, hetsy haar man, kêrel, minnaar, insluitend ’n minnaar van dieselfde geslag of ’n voornemende minnaar; ekskêrel, eksman, vervreemde man en persone wat deur een van die voorafgenoemde gehuur is.
Daar is kritici wat vra of dit werklik nodig is om dié onderskeid te tref en betwyfel of dit wys is om vrouemoord van ander moorde te onderskei aangesien meer as 80% van alle moordslagoffers in die wêreld mans is. Deur vrouemoord in ’n aparte kategorie te sit, word ’n klein persentasie moorde oorbeklemtoon ten koste van die meerderheid. Die kort antwoord op die argument is dat die oorgrote meerderheid van moorde op mans uit bendegevegte spruit terwyl gemiddeld 50% van alle vroue wêreldwyd deur ’n intieme maat of familielid vermoor word. Volgens die VN se Akademiese Raad is die ooreenstemmende syfer vir mans een uit 20, dit wil sê 5%.
Die wette en strafreg mag verander het om vroue te beskerm, maar dit vind nie dikwels neerslag in die alledaagse handel en wandel nie. In Januarie 2017 is Ana Gabriele Guevara, ’n voormalige Olimpiese gouemedaljewenner in die 400 m en Mexikaanse senator, deur vier mans aangerand. Hulle het haar eers met hul motor van haar motorfiets afgestamp en toe geslaan en geskop terwyl hulle haar beledigings toegesnou het omdat sy ’n vrou is en motorfiets ry. Haar beserings was so erg dat haar gesig aan die een kant met ’n metaalplaat opgebou moes word. Maar dit was nie die ergste nie. Wat werklik onthullend en ontstellend was, was die hutsmerk #GolpearMujeresEsFelicidad (#VroueslaanIsLekker) wat daarna wyd en syd op Twitter gebruik is.
Ewe onrusbarend is die groeiende gewildheid van konserwatiewe leiers wêreldwyd. Presidente soos Jacob Zuma, Donald Trump en Vladimir Putin is nie een bekend as kampvegters vir vroueregte nie. In Rusland, ’n land waar na raming 36 000 vroue elke dag deur hul mans mishandel word en 14 000 per jaar sterf weens hul beserings of intieme-vrouemoord, is daar in Januarie 2017 ’n wetsontwerp ter tafel gelê dat die strafreg huishoudelike oortredings soos ’n “administratiewe” oortreding moet hanteer en nie as ’n kriminele misdaad nie. Senator Yelena Mizulina is die dryfkrag agter dié verandering en sê: “Jy wil nie hê dat iemand vir twee jaar tronk toe gestuur word en vir die res van sy lewe as ’n misdadiger bekend staan net omdat hy iemand geklap het nie.” Dié sogenaamde klapwet is in Februarie 2017 ingestem en vrywaar mans van vervolging as die vrou en kinders nie so erg aangerand is dat hulle hospitalisering nodig het nie. Dit beteken ook dat ’n man wat sy vrou die eerste keer of een keer per jaar aanrand met gemeenskapsdiens daarvan afkom – vier eeue ná Anne Young se man haar in Londen so te sê doodgeslaan het.
En Suid-Afrika?
Selfs sonder die sensasiewekkende koerantopskrifte en kliek-aas van die internet is dit onmoontlik om ’n getal soos 1 014 per jaar te ignoreer. Dit is hoeveel vroue in 2009 in Suid-Afrika deur hul mans vermoor is; aldus ’n studie deur die Gender en Gesondheidseenheid van die Mediese Navorsingsraad (MNR). Dit kom daarop neer dat byna drie mans elke dag van die jaar hul vroue, meisies of ekse vermoor het; dit is een elke agt-en-’n-half uur.
Met die eerste oogopslag lyk die statistieke in die verslag nogtans belowend en wil dit voorkom asof die Wet op Huishoudelike Geweld van 1998 en die Vuurwapenbeheerwet van 2000 ’n positiewe uitwerking gehad het. In 1999 is altesaam 3 793 vroue vermoor teenoor 2 368 in 2009. In 1999 was daar 1 349 gevalle van intieme-vrouemoord teenoor 1 014 in 2009. Minder? Ja, maar persentasiegewys was dit meer: 57,1% in 2009 teenoor 50,3% in 1999.
Dus lees ons steeds koerantberigte soos dié in die Volksblad van 10 Mei 2006 wat berig dat 13 vroue die voorafgaande drie maande deur hul intieme maats vermoor is, meestal met ’n vuurwapen.
’n Omvattende oorsig van syfers wat in 66 lande ingesamel is, het in 2013 in The Lancet verskyn onder die titel, The Global Prevalence of Intimate Partner Homicide – a Systematic Review, en het aangedui dat 13,5% van alle moorde in dié lande deur ’n intieme maat, hetsy man of vrou, gepleeg word, maar dat ’n vrou se kans ses keer groter is om deur haar man vermoor te word as die omgekeerde. Die meeste intieme-vrouemoorde was in Suidoos-Asië (58,75%) gevolg deur Suid- en Noord-Amerika (40,54%) en Afrika (40,11%). In die Global Burden of Armed Violence 2015: Every Body Counts, ’n verslag wat in 2015 uitgereik is, is daar net een Afrika-land onder die top 25 op die lys vir intieme vrouemoorde: Suid-Afrika.
Die ding met data
Data-insameling is ’n probleem in Suid-Afrika en in die res van die wêreld. Oral maak navorsers noodgedwonge op onvolledige data, koerantberigte en ekstrapolering staat. Deel van die rede daarvoor is dat “huishoudelike geweld” in Suid-Afrika oorkoepelend gebruik word sodat dit die mishandeling van intieme maats sowel as kinders en ouer persone asook die mishandeling van ’n kind deur ’n broer of suster insluit.
Nie huishoudelike geweld of intieme-vrouemoord is ’n amptelike misdaadkategorie nie en word onder een sambreel gegroepeer saam met misdade soos aanranding, die rig van ’n vuurwapen, intimidasie, verkragting en poging tot moord. Weinig polisierekords dui dus die verhouding tussen die aanvaller en slagoffer aan, wat dit onmoontlik maak om die presiese voorkoms vas te stel.
Daarbenewens noem die Instituut vir Sekuriteitstudies (ISS) se beleidsdokument dat mishandeling beduidend ondergerapporteer word. Van April 2008 tot Maart 2009 het 12 093, dit wil sê 0,3%, van die vroue in Gauteng ’n klag van aanranding deur ’n intieme maat by die polisie gelê, terwyl 18,1% aan navorsers gesê het dat hulle in dieselfde tydperk deur hul maats aangerand is.
Weereens is dié verskynsel nie uniek aan Suid-Afrika nie. In 2009 is daar in Noord-Ierland bevind dat “onderrapportering ’n probleem is” en dat “die kanse dat iemand ’n klag van mishandeling [by die] polisie sal lê kleiner [is] as vir enige ander vorm van geweld”. In 2014 het ’n studie van 28 lidlande van die Europese Unie bevind dat net 14% van vroulike slagoffers van ernstige mishandeling dit by die polisie aangemeld het.
Daar is talle moontlike verklarings daarvoor, maar dit is waarskynlik ’n kombinasie van vrees dat die mishandeling nog erger gaan word wanneer die man uitvind, wantroue in die polisie, die siening dat huishoudelike geweld ’n private aangeleentheid is wat die man en vrou self moet oplos, en omdat baie vroue in baie kulture in vele lande meen dat hulle iets gedoen het om dit te verdien.
Wanneer ’n interdik in Suid-Afrika verontagsaam word, tel dit weer as minagting van die hof. Wat wel waar is, is dat die meeste aansoeke om interdikte deur vroue ingedien word. ’n Studie van plaaswerkers in die Wes-Kaap het getoon dat 78% van die aansoeke deur vroue, wat beskerming teen hul mans gesoek het, ingedien is. Die rede wat deur vroue sowel as mans in die Wes-Kaap verstrek is op hul aansoeke is verbale mishandeling (89,5–100%, afhangende van die bevolkingsgroep), aanranding (62–73%), sielkundige en emosionele mishandeling (57,1–61,5%), emosionele mishandeling (21,4–38,2%) en seksuele aanranding (7,1–11,4%).
Dan is daar ook die probleem dat nie alle lande en organisasies intieme-vrouemoord op dieselfde manier definieer nie. In Suid-Afrika dui dit op jong meisies en vroue wat deur hul mans, kêrels, ekse, voornemende minnaars, minnaars van dieselfde geslag of huurmoordenaars wat deur een van die voorafgenoemde persone aangestel is, vermoor word. In lande soos Indië en Pakistan sluit dit eremoord, wat deur enige van die man of vrou se familielede gepleeg word, in. In Suid-Amerika sluit dit in sommige lande moorde in deur nie-familielede soos bendelede wat ’n vrou se kêrel of man, wat lid is van ’n ander bende, wil straf. In Afrika is vrouemoord in sommige lande weer ’n vorm van volksmoord. (Meer hieroor in hoofstuk 3.)
Gebrekkig of nie, die inligting wat wel beskikbaar is en die statistieke wat wel bestaan, dui alles in een rigting: Vroue is nie aan die wenkant nie.