Читать книгу Tot die dood ons skei - Schalk Schoombie - Страница 9

Оглавление

Daar is talle dinge wat eie is aan Suid-Afrika en wat Suid-Afrikaners graag met ’n glimlag noem. Boerewors en pap. Chakalaka. Mrs Ball’s. Ons hartlike mense. Braaivleis, rugby en sonskyn, soos die ou Chevadvertensie gesê het. Sommige hiervan slaan buitelanders waarskynlik dronk: walkie talkies, mopaniewurms, biltong, karwagte.

Nog iets wat dikwels op dié lysie verskyn, is gesinsmoord en in die besonder gesinsmoord onder wit Afrikaners.

Die persepsie dat gesinsmoord eie is aan wit Afrikaner-mans het in die laat sewentigerjare en tagtigerjare posgevat namate meer en meer gesinsmoorde in koerante en tydskrifte verskyn het, dikwels met sensasiewekkende opskrifte. By verre die meeste gesinne was blank en oorwegend Afrikaans. Die feit dat ’n pa, want dit was in die meeste gevalle die man wat die moorde gepleeg het, sy eie gesin kon uitwis, het die land dronkgeslaan. Die gesin was per slot van rekening een van die pilare van Afrikaner-Nasionalisme.

Net soos die media en kenners vandag probeer om verklarings te vind wanneer daar nog ’n vrou of gesin vermoor word, veral in hoëprofielgevalle soos dié van Oscar Pistorius en Reeva Steenkamp, het die pers toe gepoog om die oënskynlik nuwe verskynsel te verklaar. Die publiek was gefassineer en kort voor lank is dit beskryf as ’n “epidemie” of “siekte” – eie wit Afrikaner-gesinne.

Die vinger is gewys na die Afrikaners se tradisionele patriargale stelsel wat die man aan die hoof van die huis en in beheer van die gesin plaas, en wat aanleiding gegee het tot ’n verwronge sin vir verantwoordelikheid. In Satanism and Family Murder in Late Apartheid South Africa haal Nicky Falkof ’n berig uit die Pretoria News van 14 Junie 1988 aan: “’n Mens wil nie nóg sout in die wonde vryf in ’n tyd dat die Afrikaner links en regs verguis en gekasty word nie, maar die ongemaklike gewaarwording van herkenning … vereis [dat ons] ’n hand in eie boesem steek. Die feit dat gesinsmoorde meestal onder Afrikaners voorkom, word verklaar deur stellings soos dat die Afrikaner beskikkingsreg op homself neem, dat hy ’n outoritêre persoonlikheid het, dat hy rigied in sy denke is, met ’n paranoïese vrees vir eksterne bedreigings en dat hy nie sy vrese en frustasies kan verwerk nie.”

As gevolg van dié “hand in eie boesem steek” het die destydse Departement van Gesondheid en Ontwikkeling die RGN gevra om te kyk of dit waar is dat gesinsmoorde sinoniem is met die Afrikaner. Gevolglik het die eerste akademiese studie van gesinsmoord in Suid-Afrika in 1992 verskyn. Ronald Graser, destyds verbonde aan die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en Rehabilitasie van Oortreders van Suid-Afrika (NIMRO), het vier jaar lank onderhoude gevoer met oorlewendes en familielede van nege gesinne en bronne soos koerantberigte en nadoodse ondersoeke bestudeer.

In dié stadium was daar ’n paar studies en tydskrifartikels waarin kenners aangehaal is wat te kenne gegee het dat dit inderdaad so is – gesinsmoord is eie wit Afrikaner-mans – maar Graser se studie, A Study of Selected Cases of Family Murder in South Africa, het moontlik as gevolg van die akademiese benadering almal se vermoedens finaal bevestig: In ses van die gevalle wat hy ontleed het, was die moordenaar die pa en in drie die ma, almal was blank en sewe was Afrikaans.

Verder het sy berekening dat daar tien gesinsmoorde in 1983 was en 17 in 1985 op ’n toename en frekwensie gedui wat inderdaad in die dae voor die internet, toe daar nie elke vyf minute vars nuus was nie, na ’n epidemie moes gelyk het.

GEVALLESTUDIE

Dalk was dit karma

Op Saterdagaand 10 Februarie 1996 het polisiesersant Uyslen Nel (27) langs die hoofpad tussen Despatch en Uitenhage in die Oos-Kaap afgetrek en sy vrou Natasja (25) en hul twee seuns, Marius (4) en Robin (2), met ’n AK47 doodgeskiet.

Hy het eers vir Natasja en toe vir Marius geskiet. Daarna het hy die geweer na Robin gedraai. Tydens die verhoor het Uyslen aan ’n sielkundige gesê dat Robin se beangste krete soos die “geskree van bordkryt op ’n swartbord” was en dat hy hom moes stilmaak.

Aanvanklik het Uyslen die polisie vertel dat die motor gaan staan het en dat sy gesin deur onbekende aanvallers vermoor is terwyl hy gaan hulp soek het. Volgens sielkundige verslae wat by die hof ingedien is, was Uyslen depressief en het hy maande lank getob en planne beraam oor hoe hy sy gesin gaan uitwis. Die verslae dui ook aan dat hy ongelukkig was in sy huwelik. Uyslen het onder meer aan die psigiater Anton Potgieter gesê: “As ek dalk ’n vriend gemaak het, dan was my vrou nie daaroor gelukkig nie … Sy het bly sê ek is nie ’n pa se gat werd nie. Die huis was meestal onnet. Sy het geld sinloos vermors en die kinders heeltemal bederf. As ek iets verbied het, het sy dit toegelaat.”

As lid van die polisie se botsingseenheid in Pretoria het hy “meer lyke gesien en opgelaai as wat ek [hy] in my hele lewe ontbyt geëet het”. Dit het hom egter koud gelaat en in die vroeë negentigerjare het hy twee of drie keer ’n polisiesielkundige daaroor gaan spreek, maar het nie opvolgbehandeling ontvang nie.

In 1994 is hy verplaas na die onluste-eenheid in Port Elizabeth sonder om die vereiste sielkundige toets af te lê. Daar was hy lid van die reaksiemag en het daagliks onder groot stres en spanning gewerk.

Teen die einde van die volgende jaar het Uyslen besluit om sy gesin te vermoor. Eers het hy ’n vriend gevra om dit te doen, maar toe dié weier het hy besluit om dit self te doen. Uyslen het gereken dat sy polisie-ondervinding hom ’n vyftig-vyftig kans gee om daarmee weg te kom. (Dié vriend se getuienis in die hof was deurslaggewend in sy skuldigbevinding.)

Ná die moorde het Uyslen van die gesteelde AK47 ontslae geraak, maar ’n onwettige pistool in die huis agtergelaat. Later het hy erken dat hy wou hê die speurders moes dit vind “want ek wou nie meer met die misdaad wegkom nie”.

’n Week ná die moorde het Uyslen se depressie opgeklaar.

Potgieter het getuig dat hy nie sy vinger kon lê op ’n sneller wat Uyslen genoop het om sy gesin te vermoor nie. In sy uitspraak het regter Mickey Jennet gesê dat die enigste gevolgtrekking wat hy kan maak, is dat Uyslen ’n geldelike motief gehad het om Natasja te vermoor: Sy het ’n lewensversekeringspolis gehad wat met haar dood R145 000 aan hom sou uitbetaal. Maar, het hy gesê: “Ek kan hoegenaamd geen rede vind vir die moorde van die kinders nie.”

Van Uyslen se kennisse het gemeen dat hy getraumatiseer was uit die aard van sy werk en in die hof het ’n prentjie vorendag gekom van ’n man wat as kind ’n kat doodgeskok het en as volwassene ’n bottel brandewyn per dag gedrink het en op rondloperkatte en -honde geskiet het. Uyslen en ’n kollega het twee beeste na die Nels se motorhuis gelok, hulle doodgeskiet met ’n pistool met ’n knaldemper, geslag en die vleis weggegee. (Uyslen het die kollega, Christo Gouws, daarvan verdink dat hy ’n verhouding met Natasja het.) Ná sy geliefde Jack Russell doodgery is, het Uyslen die vel laat brei en saans oor sy kopkussing gegooi.

Uyslen is drie keer lewenslange tronkstraf opgelê met ’n bykomende vyf jaar en ses maande vir die besit van ’n gesteelde AK47.

In die tronk het Uyslen onder meer ’n diploma as elektrisiën en BA-graad in opvoedkunde behaal. Hy is in Oktober 2014 op parool vrygelaat en het weer getrou. Terwyl hy op 30 November 2015 aan die bedrading van ’n kliënt se huis gewerk het, is hy doodgeskok.

– Beeld, 26 Oktober 1996, http://www.heraldlive.co.za/news/2015/12/01/family-killer-uyslen-nel-electrocuted-working/

Ondanks die hardnekkige persepsie dat gesinsmoord ’n Afrikaner-verskynsel is, lyk die werklikheid vandag anders – en talle van die bydraende faktore wat drie dekades gelede aan wit Afrikaner-mans toegeskryf is, geld deesdae ewewel vir ander Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe.

“Die meeste Suid-Afrikaners, ongeag ras, is gefrustreerd en soos drukkokers waarin die druk heeltyd opbou en wat enige oomblik kan ontplof,” sê Shelton Kartun, Suid-Afrikaanse hoof van die internasionale The Anger & Stress Management Centre. “Suid-Afrikaners se frustrasies is eie aan Suid-Afrika en word veroorsaak deur misdaad, korrupsie, politiek, stakings, infrastruktuur wat verval, inflasie, die swak rand, armoede en behuising, gebrekkige gesondheidsorg en ’n swak onderwysstelsel. Gekombineer met hoë stresvlakke skep dit angstigheid, buierigheid en uiteindelik woede-uitbarstings, vroue- en kindermishandeling en intieme-vrouemoord.

“Mans is spesifiek woedend weens stres, frustrasie, finansiële druk, probleme in hul verhoudings, misdaad, jaloesie, patriargale sienings, persoonlike probleme met verstoting en mense wat hulle in die steek laat, onsekerheid, mishandeling en uiters streng dissipline in hul kinderjare, ’n gebroke ouerhuis en ’n gebrek aan goeie rolmodelle.”

Hy noem voorts dat Afrikaner-huishoudings tradisioneel baie streng is en dat dit ook ’n bydraende faktor kan wees. “Seuns word geleer om ‘bakleiers’ te wees of om stil te bly en nie te wys hoe hulle voel nie. Hulle word aggressiewe, beherende volwassenes wat ander boelie en selfs mishandel en uitloop op huishoudelike geweld, drankmisbruik en intieme-vrouemoord.”

Hannes Venter, Kartun se kollega, voeg by dat dit nie net Afrikaner-mans is wat van kleins af geleer word om hul emosies op te krop en nie te wys wanneer hulle ontsteld of ongelukkig is nie. “Swart en Moslem-gemeenskappe [leer ook mans] om jou mond te hou en jou werk te doen. Ons is álmal woedend.” Daarbenewens is swart mense gefrustreerd, teleurgesteld en kwaad omdat alles waarop hulle in die nuwe Suid-Afrika gehoop het tot dusver nie gerealiseer het nie.

Venter sê in ’n 2014-onderhoud met Rooi Rose: “Mense kyk die subtieler vorme van woede mis. Ons dink ons is kalm en maar net teleurgesteld of geïrriteerd, of dalk selfs net gefrustreerd. Al drie is vorme van woede.”

Die prentjie wat Kartun en Venter skets van die Suid-Afrikaanse opset vind weerklank in ’n 2010-artikel in die Amerikaanse National Institute of Justice Journal waarin Richard Gelles armoede, werkloosheid en probleme ten opsigte van geld, seks en kinders identifiseer as sosiale en demografiese faktore wat direk verband hou met alle vorme van gesinsgeweld, behalwe seksuele aanranding. Finansies, sê hy, is altyd in mindere of meerdere mate betrokke. Wanneer ’n gesin gebrek ly of die pa lank werkloos is of skielik sy werk verloor, kan dit bydra tot ’n slegte selfbeeld of stres. Gelles, dekaan van die departement van maatskaplike beleid en bestuur aan die Universiteit van Pennsilvanië, sê: “Dit is wanneer ’n man voel dat die reëls van die spel verander het, dat dit wat hy altyd geglo het ten opsigte van homself, sy gesin en sy werkgewer skielik nie meer geld nie.”

Tussen 1980 en 1994 het die reëls van die spel in Suid-Afrika ongetwyfeld verander, maar gesinsmoord vind vandag nog in alle gemeenskappe in Suid-Afrika plaas. In die tagtigerjare is gesê dat Suid-Afrika ’n gewelddadige samelewing is. Wit en swart mans het geleer om wapens te hanteer – die een in die weermag en die ander in die gewapende struggle – en wit mense het die toekoms gevrees. Dit is steeds ’n gewelddadige land. Misdaad vier hoogty en die swak ekonomie en stygende werkloosheid sorg dat niemand meer verseker is van werk nie. Die reëls van die spel verander so te sê by die dag.

In die laat negentigerjare het professor Shanaaz Mathews, toe van die MNR, ’n studie van al die moorde tussen 1 Januarie 1997 en 31 Oktober 2001 in en om Pretoria gelei. Dit het gefokus op gevalle waar die slagoffer ’n vrou was, waar die man ná die tyd selfdood gepleeg het en waar die verhouding tussen die twee bekend was. In 54,8% van die gevalle was hulle getroud of in ’n verhouding. Die moordenaar was of ’n ouer, getroude wit man wat sy vrou en homself in hul huis geskiet het of ’n jong, ongetroude swart man wat sy meisie en homself in hul huis of in een van hulle se huis geskiet het. Die meeste was in Mamelodi en die tweede meeste in Atteridgeville. In 17 van die 46 gevalle is selfdoodbriewe op die toneel gevind, ’n aanduiding dat die moord beplan is.

Hoewel Mathews en haar kollegas nie na gesinsmoord per se gekyk het nie, dui hul bevindinge op ’n algemene neiging: Dit is nie meer net Afrikaners wat intieme-vrouemoord en gesinsmoord pleeg nie. Die feit dat beide die wit en swart mans vuurwapens gebruik het, is ook insiggewend. Navorsing in Suid-Afrika en elders in die wêreld vind herhaaldelik dat die gevaar van mishandeling en intieme-vrouemoord baie groter is wanneer daar ’n vuurwapen in die huis is. (Meer daaroor in hoofstuk 5.)

Dit is ironies dat die skuldige dikwels ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), weermag of sekuriteitsdiens is – mense wat uit die aard van hul werk gelisensieerde wapens besit. “SA se passiemoordslagting ergste ter wêreld: dertien vrouemoordgevalle in 3 maande” lui ’n opskrif in Die Volksblad van 10 Mei 2006. Onder die 13 slagoffers is konstabel Christina Mdlalose van Soshanguve (haar ekskêrel het haar met haar dienspistool geskiet), Millie Venter en haar twee kinders (haar man, ’n lugmagsersant by Hoedspruit-lugmagbasis, het hulle doodgeskiet en toe sy keel probeer sny) en Poppy Mosia (haar ekskêrel, ’n polisiesuperintendent, het haar, vier van haar familielede en vier van sy kollegas in Kagiso doodgeskiet).

GEVALLESTUDIE

Verloofde oorleef gesinsmoord

Volgens ’n polisiewoordvoerder het Tshepo Majola Woensdag 16 Desember 2015 sy kinders van onderskeidelik vyf en twee jaar vermoor en toe sy verloofde by ’n nabygeleë sjebeen probeer vermoor.

Kaptein Tsekiso Mofokeng het gesê dat die vrou in ’n ernstige toestand in die hospitaal is.

Tshepo se broer, Thabo Mpokola, het vertel dat die paartjie twee maande gelede verloof geraak het. Volgens hom het Tshepo dikwels gekla omdat sy verloofde hul kinders by sy ouers gelos het terwyl sy na ’n nagklub gegaan het.

“Ons het Versoeningsdag gevier … Tshepo het seker twee biere gedrink, maar was nie dronk nie. Hy het sy dogter na die kamer waar sy seuntjie geslaap het, geneem. Almal het gedink dat hy hulle soos altyd in die bed gaan sit het,” sê Mpokola.

Tshepo het hom op sy selfoon gebel en gesê hy is jammer vir wat hy in die slaapkamer gedoen het. “Hy het gesê dat hy hul ma gaan doodmaak. Dit was ’n slagting, die kinders se kele was heeltemal afgesny,” sê Mpokola.

’n Paar minute later het iemand hulle kom sê dat Tshepo sy verloofde met ’n mes gesteek het. “Hy het blykbaar na die sjebeen gegaan om met haar te praat en sy het na bewering haar verloofring afgehaal en na hom toe gegooi. Dit was toe dat hy haar in die nek gesteek het,” sê Mpokola.

Tshepo se liggaam is agter ’n opslaanhuis in die agterplaas van ’n huis in Phomolong aan die Oos-Rand gekry. Maria Mokobodi, wat daarop afgekom het, was getraumatiseer. “Ek was op pad toilet toe toe ek sy liggaam daar sien lê. Hy het op sy maag gelê en ek het vermoed dat hy dood is en het gegil terwyl ek na die huis toe gehardloop het,” sê sy.

Frida Mokobodi, wat ook in die huis woon, het gevoel of hy ’n polsslag het, maar Tshepo was reeds dood. “Toe hulle hom omdraai, was daar ’n stuk van die elektriese kabel wat ons vir die wasgoeddraad gebruik het om sy nek. Daar was bloed in sy ore en neus en om sy pols,” sê sy.

Mofokeng sê dat hulle ’n saak van moord, poging tot moord en selfdood ondersoek.

– SowetanLive.co.za, 18 Desember 2015

Is of was gesinsmoord dus eie aan Afrikaner-gesinne? Ja en nee. Toe die regering die RGN gevra het om vas te stel of gesinsmoord werklik eie aan wit Afrikaners is, kon Graser se bevindinge dit nie doen nie. As teenvoeter vir al die wit Afrikaner-gesinsmoorde het ’n spesiale uitgawe van die mediese tydskrif Geneeskunde een swart Suid-Afrikaanse gesinsmoord gebruik om te wys dat dit nie net Afrikaner-mans is wat hulle gesinne vermoor nie.

Almal het oënskynlik buite rekening gelaat dat koerante en tydskrifte in die apartheidsjare bitter min nuus oor ander bevolkingsgroepe bevat het en beslis nie nuus van ’n persoonlike aard nie. Gevolglik was dit al waaruit mense, navorsers inkluis, hul menings kon vorm.

Dit het ook nie gehelp dat die kerk, die pers en Afrikaner-instansies voortdurend na verklarings vir gesinsmoorde gesoek het nie, dalk omdat gesinsmoord lynreg ingedruis het teen die waarde wat aan gesinne geheg is. Op dié manier het die Afrikaner dit as ’t ware homself toegeëien.

Sedertdien het herhaalde studies wêreldwyd gewys dat ras, klas en geloof min met gesinsmoord of intieme-vrouemoord te doen het. In Indië en Pakistan pleeg Moslems, Hindoes en Christene eremoord. In die VSA skiet wit en swart mans hul vroue en kinders. In Switserland, die bakermat van vredeliewendheid, skiet ouer mans verbasend gereeld hul vroue dood. In Skandinawiese lande, waar ’n vrou ’n man kan dagvaar vir diskriminasie omdat hy die deur vir haar oopgemaak het, word 40% van alle moorde in Swede deur ’n intieme maat of familielid gepleeg.

Graser se studies in die laat tagtigerjare, selfs met die eenvormigheid van die moorde, kom tot die slotsom dat daar ’n klomp faktore is wat in ’n komplekse wisselwerking by mekaar betrokke is. Hy sê: “Die verskil tussen die persoon wat gesinsmoord pleeg weens die druk wat spesifieke probleme veroorsaak en die persoon wat onder soortgelyke omstandighede nie dié drastiese stap neem nie, lê nie in die probleme of hul omvang nie. Dit lê eerder in die persoon se sielkundige mondering, die aard van sy sosialisering, sy houdings en waardes, hoe hy sy omstandighede definieer en ervaar en hoe hy daarop reageer.

“Enigiemand se waarneming van sy situasie is baie subjektief en tog, hoewel dit verkeerd of onrealisties mag wees, is dit vir hom werklik en beïnvloed dit sy optrede.”

Tot die dood ons skei

Подняться наверх