Читать книгу Tot die dood ons skei - Schalk Schoombie - Страница 5

Оглавление

INLEIDING

Die saadjie vir dié boek is geplant met ’n artikel wat ek in Junie 2015 vir Vrouekeur geskryf het. Ek is gevra om die oorsake van en motiewe vir intieme-vrouemoord (IVM), iets wat oor alle landsgrense en kulture strek, te ondersoek en een vraag het telkens by my opgekom: Hoe is dit moontlik dat daar steeds, meer as ’n eeu ná die beweging vir vroueregte begin het, mans is wat hul vroue aanrand, vermink en vermoor?

Dit is die vraag wat ek met dié boek probeer beantwoord. Die feit dat ek 16 hoofstukke nodig gehad het, dui daarop dat daar nie een allesverklarende antwoord is nie. Daar is wel ooreenkomste ten opsigte van die motiewe, sielkundige samestelling van die mans en die sameloop van omstandighede wat uiteindelik die lont aan die brand steek. Nogtans was ek verras en geboei deur die wye verskeidenheid metodes wat ingespan is en die detail wat soms in die beplanning ingegaan het. Daar is wêreldbekende gevalle soos O.J. Simpson wat sy eksvrou Nicole en ’n vriend vermoor het, bisarre moorde soos Joel Mahoase van Amanzimtoti wat Lesego, sy vrou, met ’n handgranaat opgeblaas het, en mans wat koel en kalm ’n huurmoordenaar betaal het om van hul vroue ontslae te raak, soos Jayde Panayiotou, ’n onderwyseres van Port Elizabeth wie se man, Christopher, na bewering iemand betaal het om haar te vermoor.

Maar vir elke Nicole Simpson, Lesego Mahoase en Jayde Panayiotou wat die koerantvoorblaaie haal, is daar dosyne Zestah Septembers, Hanan Seids en Claire Harts.

Nog nie gehoor van Zestah, Hanan en Claire nie? Zestah se kêrel, Zwelabantu Ngubeni, het haar op Oujaarsaand 2015 verwurg en haar liggaam langs die N12 naby die Lenasia-weermagbasis aan die brand gesteek. Zwelabantu het gesê: “Ek het haar nie opsetlik vermoor nie. Ek is nog lief vir haar. Sy het my getart en daarom het ek haar vermoor.” Hanan was van Richardson, Texas, en haar vervreemde man het haar in Oktober 2016 agt keer geskiet ná sy hom verlaat het omdat hy haar mishandel het.

Die tragedie – een van die tragedies van IVM – is dat ons aangegryp word deur Reeva Steenkamp en Anni Dewani, maar dat dit vroue soos Zestah, Hanan en Claire is wat net die gemeenskapskoerante haal en by verre die meerderheid van die statistieke uitmaak. Ná Hanan se man haar geskiet het, het haar tante, wat daagliks met mishandelde vroue werk, by ouers gepleit om te luister as hul dogters sê dat haar man haar mishandel of wil vermoor: “Glo alles wat hulle sê.”

In nog ’n intieme-vrouemoord in Oktober 2016 het Lance Hart van Spalding, Engeland, eers sy vrou Claire en 19-jarige dogter Charlotte buite ’n openbare swembad doodgeskiet en toe homself geskiet. Hy het die moorde en sy selfdood haarfyn beplan en uiteengesit in ’n dokument van 12 bladsye wat in sy motor gevind is. Lance en Claire was uitmekaar. Een van hul bure het gesê: “Lance het gelukkig gelyk en was ’n baie vriendelike man” en “Hy was baie opgewek”. ’n Ander het gesê: “Hulle was werklik ’n pragtige gesin. Ek is diep geskok.”

Die mans se motiewe blyk minder uiteenlopend as hul metodes te wees en een ding waaroor kenners oral in die wêreld saamstem, is dat intieme-vrouemoord se wortels in ’n patriargale sienswyse lê. Een van die mees gesaghebbende stemme ten opsigte van vroueregte en huishoudelike geweld in Suid-Afrika is Lisa Vetten, ’n navorser verbonde aan Wits, wat reeds sedert 1991 navorsing op dié gebied doen. Sy glo dat dit in Suid-Afrika onmoontlik is om intieme-vrouemoord in isolasie te beskou en nie in terme van geslagsongelykheid nie, en sê: “Ons samelewing is steeds patriargaal, ongeag vlak of ras.”

Vir diegene wat nou dink: “Hier gaan ons al weer” en “Ja, maar vroue vermoor ook hul mans”, is twee dinge van belang. Eerstens, die feministiese invalshoek omvat sosiologiese, sielkundige, maatskaplike en finansiële aspekte. Wanneer al dié faktore ingereken word, wys die vinger na mans (beslis nie alle mans nie) en hul siening van hulself en hul gesinne. Daar is ook vroue wat hul mans vermoor, maar dit word veels te dikwels voorafgegaan deur mishandeling. En weereens, ja, sommige vroue skroom nie om hul mans te krap of skop of klap nie, maar in menige gevalle gebeur dit in reaksie op ’n aanval op haar. Dit blyk ook dat vele mans wat hul vroue mishandel nie bang vir haar is nie, maar dat sy altyd, dag en nag, in vrees vir hom leef.

As dit daarom plek-plek voorkom of ek te veel op huishoudelike geweld fokus en van die onderwerp afdwaal, is dit onvermydelik. Dit is byna onmoontlik om oor die een te praat en nie die ander nie. Moet egter nooit uit die oog verloor dat daar elke dag iewers in Suid-Afrika drie vroue deur ’n jaloerse, depressiewe of besitlike slaapkamermaat of eks-slaapkamermaat vermoor gaan word nie.

As die stories en statistieke in die volgende 16 hoofstukke jou nie raak nie, hou in gedagte dat KPMG in 2015 beraam het dat huishoudelike geweld teen vroue Suid-Afrika R28,4 miljard per jaar kos. Die getuienis is net te oorrompelend.

Wat myself betref, is ek nou in murg en been ’n feminis.

Tot die dood ons skei

Подняться наверх