Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk - Страница 11

7

Оглавление

Sanet steek haar hand agter haar rug weg met die impulsiewe gebaar van ’n kind wat gesteelde lekkers probeer verberg, terwyl sy verdwaas na die diamantring en dan na Jean-Pierre staar.

Sy oë lag nog in hare, maar daar is ’n vasbeslote trek om sy mond wat haar duideliker as woorde oortuig van sy erns om aan haar verloof te raak.

“Nee,” sê sy en skud haar kop aanhoudend en kyk weg. “Nee, jy ken my nie.”

Hy lig haar ken op en dwing haar om in sy oë te kyk. “Jy het gelyk: ek ken jou nie, maar wie se skuld is dit?” verwyt hy. “Ek wil jou ken, maar jy vlug voortdurend weg van my. Waarom, Sanet?”

“Ek het jou reeds vertel ek is ’n meisie met ’n onsmaaklike verlede … jy onthou die Engelse se spreekwoordelike geraamte in die kas?” probeer sy spot.

Sy het nie daarna gesoek of daarvoor gevra nie, maar sy het die groot man met die swartbruin oë liefgekry soos sy niemand ooit tevore liefgehad het nie.

Sy wil hom haat, koud en gevoelloos teenoor hom staan, maar as hy by haar is, sing haar hart ’n vreugdelied; en haar bloed pleeg verraad teenoor haar en bruis met ’n feestelike gejubel deur haar are. Haar hart word die trom wat die eeue oue dans van die liefde met ongetemde tromslae uitbasuin en voer haar weg na die duiselende hoogtes van ekstase wat slegs aan die kinders van die liefde bekend is.

Sy het eenkeer geglo dat sy aan ’n gebroke hart sal sterf toe Nardus sy rug op haar gekeer het, maar die pyn van haar vergeefse verlange na Jean-Pierre se liefde is ’n vlammesee van lyding wat geen genesing ken nie.

“Is dit nodig dat ek van daardie geraamtetjie hoef te weet?” vra Jean-Pierre ernstig.

“As jy weet, sal jy my verwerp,” antwoord sy. “Daarom verkies ek dat jy die gawe meneer Du Pont bly, want dis veiliger.”

“Maar jy kan Tertius Lindeque met die verhaal van jou ongunstige verlede vertrou?” vra hy geraak. “Waarom het jy jouself op ’n dorpie soos Bothasrus kom begrawe, Sanet? Was dit met die hoop dat Tertius dan sal besef hoe onmisbaar jy is? Hoop jy hy bring ’n verloofring vir jou saam?”

Sy staar hom onthuts aan.

“Jy maak met my rusie, meneer Du Pont, en jy ken my nie eens nie!” maak sy beswaar.

“Waarom nie? Ek het jou liefgekry sonder om jou te ken en ek is van plan om vandag nog aan jou verloof te raak. Of is Tertius die man wat jou eenkeer seergemaak het? Het jy hom nog altyd lief?”

“Tertius is die man vir wie ek vier jaar lank gewerk het. Hy is die beste vriend wat ek nog gehad het,” antwoord sy eerlik.

“Ek weet hy was jou baas, want wat tant Ellie my nie vertel het nie, het die tweeling uitgelap. Jy sê hy is ’n vriend? Het jy hom lief?” vra hy dringend.

Sy antwoord nie dadelik nie, maar wonder of sy hom nie liewer onder die indruk moet laat dat sy wel vir Tertius omgee nie. Daardeur sal sy haarself beskerm, want moontlik sal hy haar dan in vrede laat, maar die gedagte bring geen troos nie.

“Hoe weet jy dat Tertius vanmiddag kom kuier? Jy en Elrina en tant Ellie was Kaapstad toe en Marie-Louise het my laat verstaan dat julle tot aanstaande week in die Kaap sou kuier,” verander sy die onderwerp.

“Die tweeling het Marie-Louise van die geagte Tertius se komende kuiertjie vertel en Marie-Louise het my onmiddellik gebel. Dis waarom ek ondanks tant Ellie se geskel en Elrina se verwyte vroeg vanoggend teruggekeer het.” Hy kyk na die ring in die dosie. “Is dit nie mooi genoeg vir jou nie, Sanet?”

Sy kyk na die ring en probeer glimlag, maar haar glimlag val plat. “Dis ’n pragtige ring … die mooiste wat ek nog gesien het,” antwoord sy. “Waarom gee jy dit nie aan Elrina nie? Almal op Bothasrus weet mos sy is jou toekomstige bruid.”

Hy kyk na die ring asof dit ineens baie belaglik vir hom is, en klap dan die dekseltjie toe voordat hy dit in sy sak steek.

“Elrina stel nie daarin belang om nou al my ring te dra of my bruid te word nie. Sy is ’n geëmansipeerde vrou wat glo dat sy ten volle gebruik moet maak van haar vryheid dat sy die gelyke van die man is. Ek het die ring vir jóú gekoop, Sanet, nie vir haar of enige ander meisie nie,” sê hy nadruklik.

Maar sy hoor hom nouliks, want sy besef dat Elrina Jean-Pierre se liefde verwerp het. Daarom soek hy nou troos by haar.

Of dalk hoop hy om Elrina jaloers te maak en haar in ’n huwelik met hom te dwing. Moontlik het hy Elrina saam Kaap toe genooi sodat hulle ’n verloofring kon uitsoek, maar toe Elrina weier om sy ring te dra, het hy uit weerwraak vir haar ’n ring gekoop.

Ja, dit is die enigste, logiese verklaring, want geen man koop ’n peperduur ring vir ’n meisie wat hy nouliks ken nie, maak sy haarself wys. Sy kyk na hom en probeer nie om haar weersin te verberg nie. “Die jongmeisie het jou verwerp en daarom kom soek jy troos by die oujongnooi, nè, meneer Du Pont?” vra sy sinies.

Hy frons. “Waarvan praat jy, Sanet?” vra hy bruusk.

“Dis die waarheid, nè, meneer Du Pont? Elrina weier om aan jou verloof te raak en daarom koop jy uit leedvermaak vir my ’n ring en hoop jaloesie sal haar dryf om tog met jou te trou. So ’n taktiek kan soms slaag … as die meisie jou liefhet, maar ongelukkig sien ek nie kans om intussen jou verloofring te dra totdat Elrina jaloers genoeg is nie. Watter verduideliking sal ek aan Tertius gee wanneer hy vanmiddag hier opdaag?” vra sy, verstom oor haar vermoë om lighartig, selfs geamuseerd te klink.

“Jy glo sowaar ek is tot so ’n laakbare daad in staat?” vra hy, sy stem bedrieglik sag. “Jy glo dat my liefdesverklaring aan jou net deel was van ’n set om Elrina in my arms te dwing?”

“Ja, meneer Du Pont,” antwoord sy gelykmatig.

Sy oë vernou. “Wees dan gewaarsku, Sanet, want ek sal alles doen om te keer dat jy met Tertius Lindeque trou. As jy dan glo ek is ’n man sonder eer, sal ek soos een optree … moenie dit vergeet nie,” dreig hy.

“Wat hoop jy om te doen, meneer Du Pont? Sal jy my geraamtetjie uit die kas opdiep? Tertius ken die geraamte en daarom skrik hy nie meer daarvoor nie.”

Haar woorde vergroot sy toorn, want sy sien hoe die spiere langs sy kake uitbult wanneer hy hard op sy tande kners, asof hy om selfbeheersing veg, en merk ’n spiertjie wat hoog teen sy wangbeen spring en sy spanning verraai.

“Tertius weet … maar ek mag nie weet nie?” vra hy skor.

“Jy mag, maar dis nie nodig dat jy weet nie,” antwoord sy. Sy woede laat haar soos ’n verstote kind voel en sy draai om en stap deur die boord weg na die huis.

Hy roep haar nie terug nie. Hy kom nie agter haar aan nie en sy wonder of hy die moeite doen om haar agterna te kyk. Maar sy hou aan loop, selfs al weet sy dat sy vir altyd uit sy lewe loop.

Tant Dassie gee ’n koppie tee en ’n stukkie vrugtekoek aan Sanet, wat ’n niksseggende dankie mompel, en stap dan na haar gewone sitplek op die een rusbank in die woonkamer.

“Is jou haartjies heeltemal droog?” vra oom Lukas besorg. “Hoe lyk dit my jy het koue gevat toe jy daar buite in die agterplaas jou hare drooggemaak het?”

“Lukas, los die kind,” beveel tant Dassie. “Sanet is oud genoeg om haar eie probleme op te los en as ons nou inmeng, bemoeilik ons dit net. Maar as jy tyd het om jou te kwel, bekommer jou liewer oor my dierbare Bismarck.”

“En wat het nou weer met Biscuit gebeur?” vra oom Lukas met vrome belangstelling.

“Sy naam is Bismarck, Lukas, maar dis seker vanselfsprekend dat ’n man van jou jare dit moeilik vind om so ’n eenvoudige naam soos Bismarck te onthou,” sê tant Dassie nydig.

“Ja, Dassie.” Oom Lukas vervolg byna gemoedelik: “Jy sal nooit kan raai hoeveel dinge ek wil vergeet as ek daardie bruin brak voortdurend op my rusbank langs jou sien lê nie … Dat ’n slim vrou soos jy soveel tyd en aandag aan ’n liederlike brak soos Biscuit kan vermors, so asof jy nie weet die dom ding het nie eens ’n siel of ’n gewete nie. Is jy self nog reg wys, Dassie?”

“Ek gaan terug Johannesburg toe,” sê Sanet skielik. Haar woorde skok oom Lukas en tant Dassie uit hulle argument oor die poedel en hulle staar haar aan asof hulle aan haar geestestoestand twyfel.

“Nou wat praat die kind nou weer?” vra oom Lukas onvergenoegd. “Jy is nie rêrig verlief op die Lindeque-seun nie?” verneem hy.

“Nee, oom, maar …” begin sy halfhartig en wens sy het liewer niks gesê van haar voorneme om saam met Tertius terug te keer na Johannesburg nie.

Hoe kan sy aan oom Lukas en tant Dassie verduidelik dat sy nie wil weggaan nie, maar dat haar liefde haar verplig om as ’t ware op vlug te slaan? Sy het Jean-Pierre opreg liefgekry, vir die eerste maal met volle oorgawe liefgekry, maar omdat sy nooit syne sal wees nie, mag sy nie langer hier bly nie.

“Absolute onsin!” verklaar tant Dassie, sluit haar lippe ferm en lig haar ken strydlustig terwyl haar oë ’n waarskuwing aan Sanet flits dat sy geen weerstand sal duld nie. “Jy, Sanet, het ’n plig teenoor die tweeling en teenoor my en daarom durf jy ons nie nou in die steek laat nie.”

“Maar ek kan die tweeling saam met my terugneem na Johannesburg, tant Dassie,” argumenteer sy.

“En jy glo hulle sal tevrede wees om terug te gaan en êrens in ’n woonstelletjie te gaan woon?” vra tant Dassie uitdagend.

“Jy kan dit nie aan die kinders doen nie, Sanet,” maan oom Lukas. Sy stem is rustiger, maar nie sonder verwyt nie. “Hulle is gelukkig hier by my en hulle hou van hulle nuwe skool en baie maats. Jy kan tog nie die tweetjies opnuut ontwrig nie?”

“As hulle dan verkies om by oom te bly …” Sanet sluk en word oorweldig deur ’n gevoel van algehele verlatenheid.

As sy weggaan, sal sy oom Lukas, tant Dassie en die tweeling vir goed agterlaat, want hulle sal nooit na haar toe kom nie. En daar in Johannesburg? Tertius sal daar wees, maar sy het hom nie lief nie. Haar oudste ousus Magda was nog altyd vir haar ’n aangename vreemdeling, moontlik omdat hulle twaalf jaar in ouderdom verskil. Maar as sy hier bly …

Hier sal hartseer voortdurend haar deel wees, want Jean-Pierre is hier, waarsku haar hart.

“As die seuns bly, moet jy bly, Sanet,” sê tant Dassie ferm. “Ek en Lukas is aangetroude familie en daarom kan ons nie sommer saamwoon soos onbeskaafde mense nie. Of dalk sal die goeie Ellie vir jou oom kom huishou en na die tweeling omsien,” gooi sy ’n hoek uit en hoop dat oom Lukas die aas sal sluk.

“Soms sê jy net sulke onsinnige dinge soos ou Ellie, Dassie,” kapittel oom Lukas haar. “Ek het jou reeds gesê jy kan ’n skaapboud en ’n rugstring gaarmaak net soos my oorlede moeder dit kon doen, en daarom hoop ek dat jy nog lank met die grootmaak van die seuns sal help. En jou melktert hoef ek darem nie skelmpies in die vullisblik uit te krap, soos ek altoos doen wanneer Ellie met haar offerandes opdaag nie … hoewel dit so ’n klein bietjie soeter kan wees, as jy dit nou wil maak soos my oorle moeder dit gemaak het.”

“En jy verwag ek moet met jou oorlede ma wedywer, Lukas?” vra tant Dassie geraak.

“Nee, Dassie, maar aangesien jy die moeite gedoen het om al die pad van Pretoria af agter my aan te ry, kan jy net sowel verder moeite doen om my gelukkig te maak. Jy moet darem onthou ’n man van my leeftyd laat hom nie maklik ompraat om te trou nie. Daarom moet jy maar jou beste voetjie voorsit,” tart hy. Sy uitdrukking is sedig, maar sy oë vonkel onnutsig.

“Kom ons gaan pak ons tasse, Sanet, want ek laat my nie so beledig nie,” sê tant Dassie gekrenk en staan vinnig op, maar steek in haar spore vas toe die luide geroep van die seuns en die benoude tjankblaf van ’n hond agter die huis hoorbaar word.

“Bismarck! Kom terug! Bismarck, moenie simpel wees nie! Bismarck …!” brul Gerrie en Peet wanneer hulle om die hoek van die huis kom.

“Au-au …!” tjank Bismarck en gly-gly oor die stoep na die oop voordeur.

“My arme ou diertjie …” begin tant Dassie ontsteld, maar dan bly haar mond oop hang.

Sanet staar oorbluf na die poedel wat kaal geskeer is, behalwe ’n klossie hare op die punt van sy lang, dun stert.

“Gu-gu,” lag oom Lukas diep uit sy bors, terwyl die verskrikte Bismarck op die rusbank spring, homself in ’n klein bondeltjie opkrul en bewend van ontsteltenis die deur dophou.

“Bismarck! Wat het hulle met jou aangevang?” vra tant Dassie en storm na die rusbank, gaan sit en tel die poedel in haar arms op.

“Koddige dierasietjie,” sê oom Lukas en ruk weer van die lag. “Lyk alte veel na ’n maer ou skapie in die skeertyd … darem vreeslik naak, is hy nie, Sanet? Jy kan hom nie langer Bismarck noem nie, Dassie, want dis om enige man te beledig. Noem hom Biscuit, want hy herinner ’n mens nogal aan ’n gemmerkoekie.”

Sanet byt haar lag weg en kyk beurtelings na die besorgde tant Dassie wat soos ’n kloekende hen oor haar poedel tekere gaan, en oom Lukas wat nie eens probeer om op te hou met lag nie.

“Ek is jammer, tant Dassie. Die tweeling het seker gemeen hulle kan Bismarck net so goed skeer soos enige hondesalon,” sê Sanet verskonend en sy voel skuldig omdat haar hartseer veroorsaak dat sy nie genoeg aandag aan die tweeling gee nie.

“Ag, is nie, Sanet,” sê Gerrie. Hy skuifel die woonkamer onseker binne en bly langs haar staan. Hy kyk na Peet wat ewe halfhartig die vertrek binnekom en by hom kom staan, en verduidelik: “Ons het maar net gemeen ons sal oom Lukas help om nie hooikoors te kry nie en toe het ons Naas van Tonder se haarknipper geleen.”

“Gerrie jok nie, Sanet,” beaam Peet plegtig. “Ons sou gistermiddag Naas se haarknipper geleen het, maar toe is sy ma by die huis. Ná pouse oefen ons nog die hele tyd sport en daarom het ons gou-gou saam met Naas huis toe gegaan en die haarknipper gaan haal.”

“Terwyl julle eintlik by die skool moet wees?” vra oom Lukas en lyk vir die eerste maal afkeurend.

“E … ons het klaar gehardloop, oom, en ons was bang as ons nie vandag die haarknipper kry nie, gaan Naas dit nooit vir ons leen nie,” verduidelik Gerrie en staan nader aan Sanet se stoel.

“En weet oom hoeveel moes ons betaal vir die leen van die haarknipper? Drie rand! Eers het die skelm Naas gesê dit sal net een rand kos, maar toe ons by sy huis kom, het hy gesê dis nou drie rand, want dis ’n elektriese knipper. Weet oom hoeveel lekkers kan ’n mens met drie rand koop?” vra Peet, diep verontwaardig oor hulle vriend se skelmstreke.

“Drie rand is ’n hoop geld om vir jou hooikoors te betaal, Lukas,” praat tant Dassie onverwags. “Ek meen jy skuld die seuns drie rand.”

“Wil jy die kinders boonop in hulle kwaad sterk, Dassie?” blaf oom Lukas. “Hulle draai stokkies, skeer jou brak poedelnakend en …”

Sanet giggel en dit laat oom Lukas frons. “Poedelnakend, oom … dis nogal letterlik in Bismarck se geval,” sê sy verskonend.

“Oom hoef nie die drie rand terug te gee nie,” sê Gerrie vinnig. “Sien, ons moes iets vir Bismarck voer terwyl ons hom daar in die buitekamer geskeer het, en toe vat ons die bak maalvleis in die yskas. Gelukkig het oom-hulle tee gedrink en toe het Peet gou-gou die maalvleis kom haal.”

“En Bismarck het daardie hele bak vleis geëet?” vra tant Dassie en staar die poedel op haar skoot verbysterd aan.

“En drie van my lekkerste toffies,” lig Peet haar in en kyk kwaai na Bismarck. “Maar hy is so ’n vraat dat hy sommer die toffies heel ingesluk het. En toe ruk hy los en hardloop huis toe.”

“Dalk kan oom sommer sy stert met oom se elektriese skeermes kaal skeer, want ons sal nou vinnig moet deurdraf skool toe en die haarknipper vir Naas gee. Of sal Bismarck se bietjie hare nie vir oom hooikoors gee nie?” vra Gerrie belangstellend.

“Hooikoors,” sê oom Lukas en skud sy kop asof die woord hom verbyster. “Los maar my hooikoors, seuns, en hoop maar die ou gemmerbrakkie kry nie verkoue en longontsteking noudat hy so poedelnakend deur die lewe moet gaan nie …” Hy merk die breë, ingenome glimlagte op die seuns se gesigte en bulder onverwags: “Draf, julle onnutte! Nee-a, ek sal nie toelaat dat julle dros nie!”

Die tweeling vlieg die vertrek uit asof oom Lukas se woorde vuur onder hulle voete gemaak het, en Sanet luister na die geklap van hulle skoene op die geplaveide tuinpaadjie en die metaalgeklingel van die tuinhekkie wat oopgeruk en toegeslaan word.

“Miskien moet ek hulle liewer met die motor skool toe vat en aan die skoolhoof verduidelik wat presies gebeur het,” sê Sanet bekommerd.

“Ek sal gaan, want hulle het Naas van Tonder se haarknipper vergeet. Ek sal sommer die knipper saamneem en aan Louw du Plessis verduidelik dat die seuns se oortreding ter wille van my hooikoors was,” sê oom Lukas en staan op.

“Ek wonder tog oor daardie hooikoorsstorie, Lukas,” kom dit agterdogtig van tant Dassie. “Toe jy jonk was, het jy nooit hooikoors van dierhare gekry nie.”

“Toe ons jonk was, Dassie, het jy ook nie van soggens vroeg tot saans laat met ’n orige poedel op jou skoot gesit nie. Ek kan my so vervies vir ’n oujongnooi met ’n skoothondjie … daar is mos genoeg mense in die huis om lief te hê sonder om jou tyd op ’n liederlike brak te mors!” sê hy kwasterig.

“Daar is ’n besondere band tussen my en Bismarck, Lukas, want hy is al tien jaar lank soos ’n kind in my huis … Miskien het ’n man dit nie nodig nie, maar as ’n vrou alleen woon, is dit goed om te weet daar is darem nog ’n asempie in die huis om die eensaamheid buite te hou.”

“Natuurlik kan ek dit verstaan, maar ek praat van nou. Hier is ’n huis vol mense en dit is seker nie nodig dat jy nog so oor die brak tekere gaan nie. Laat hom op die grond lê – die mat is sag genoeg – en moenie hom alewig vashou asof jy bang is hy sal val nie. Honde hoort in elk geval buite,” snou oom Lukas en begin wegstap.

“Jou siel is ongetwyfeld kleiner as dié van ’n mier, Lukas Grové,” verklaar tant Dassie met kille waardigheid, onbewus daarvan dat oom Lukas breed glimlag en vir Sanet knipoog voordat hy uitstap.

Sanet vee Bismarck se bruin poedelhare wat oor die vloer van een van die buitekamers versprei lê bymekaar en gooi dit in die vullishouer voor die agterdeur.

“Haai, wag vir my, Sanet!” roep ’n meisiestem skuins agter haar. Sy kyk om en sien Marie-Louise deur die boord aangehardloop kom.

“Dis ’n verrassing.” Sanet glimlag bly en weet sy voel getroos oor Marie-Louise se besoek omdat sy Jean-Pierre se suster is. “Is jy lus vir ’n koppie tee?”

“Dis te warm, dankie, en ek het nou net koeldrank gedrink.” Marie-Louise kyk na die agterdeur en dan na ’n groen tuinbank onder ’n peperbessieboom in die agterplaas. “Sal ons daar gaan sit? Dis koeler hier buite,” stel sy voor.

“Seker,” willig Sanet in en stap saam met haar besoeker na die tuinbank. “Ek wou jou reeds iets gevra het,” vervolg sy terwyl sy op die bank gaan sit.

“Nie voordat jy my vraag beantwoord het nie,” sê Marie-Louise glimlaggend en vervolg nuuskierig: “Wat het jy met my broer aangevang? Hy het in die dierbaarste stemming denkbaar tuis gekom, oor die ringmuur geklouter om jou te kom groet en ’n halfuur later teruggekeer en gedreig om moord en selfmoord te pleeg. Is Jean-Pierre verlief op jou, Sanet?”

“Hoe moet ek weet?” vra Sanet oorbluf en voel hoe sy bloos. “Ek bedoel, ons weet almal hy gaan met Elrina trou.”

“Dis wat Elrina en tant Ellie en ’n paar ander oningeligtes glo, maar ek twyfel lankal al daardie storie. Jean-Pierre was reeds vyf-en-dertig en daar is niks wat keer dat hy vandag nog trou nie. Elrina het haar studies ’n jaar gelede reeds voltooi, maar hulle is nog nie eens verloof nie. Lyk Jean-Pierre soos ’n man wat sal toelaat dat ’n meisie hom aan ’n lyntjie hou?” vra Marie-Louise nugter.

“As ’n man ’n meisie werklik liefhet …” Sanet huiwer en praat dan vinnig: “Jean-Pierre het gesê Elrina glo sy is ’n geëmansipeerde vrou wat haar vryheid bo ’n gelukkige huwelik stel. Ek kan verkeerd wees, maar ek glo Jean-Pierre flankeer met my omdat hy Elrina in ’n haastige huwelik wil dwing.”

“Dit is natuurlik moontlik, maar waarom het hy dan aan my gesê dat hy met jou gaan trou?”

Sanet se oë rek wyd van ongeloof. “Het hy dit … sowaar gesê?” Sy sluk droog en byt hard op haar onderlip, byt totdat sy seerkry, asof sy hoop dat die werklikheid van haar pyn haar van haar droom sal laat vergeet.

“Ja, maar ek weet nie meer wat om te glo nie. Hy het my daardie eerste dag, toe jy en die tweeling hier aangekom het, vertel hy gaan met jou trou, maar tot dusver het hy jou nog nooit uitgeneem nie en nou was hy vier dae lank saam met Elrina en tant Ellie in die Kaap. Jou tant Dassie vertel my julle verwag jou vriend van Johannesburg, daarom het ek gewonder … Gaan jy met Tertius trou, of hou jy maar net van hom?”

Sanet staar voor haar uit en wonder watter antwoord sy aan Marie-Louise moet gee. Sy soek met rustelose oë na ’n oplossing tussen die bome van die boord skuins agter haar. Sy sien ’n beweging en sy snak na haar asem en spring vinnig op.

“Jean-Pierre?” roep sy en loop stadig om die bank na die dik stam van ’n stokou pruimboom.

“Ja, Sanet?” Jean-Pierre kom agter die stam te voorskyn en eet smaaklik aan ’n pruim en betrag haar met vriendelike belangstelling.

“Jean-Pierre, jy is ook ’n aap!” bars Marie-Louise uit. “Ek doen al die moeite om Sanet oor haar gevoel vir Tertius uit te vra, en jy kom luister ons soos ’n stout kind af.”

“Ek is ’n haastige man, want daardie meneertjie van Gauteng kan nou enige oomblik hier opdaag en intussen loop ek met my meisie se ring in my sak rond. Komaan, Sanet, raak verloof aan my,” pleit hy en haal die ringdosie uit sy sak. “Ek verwaarloos my slaap, my etes, my praktyk en my boerdery … en dis alles jou skuld. Toe, meisie met die droomoë, gee vir my ook ’n droom,” versoek hy met speelse erns.

“Haai, wanneer het jy die ring gekoop, Jean-Pierre?” vra Marie-Louise nuuskierig.

“Hy en Elrina het dit saam gekoop, maar sy wou dit nie hê nie en daarom probeer hy dit aan my vinger kry,” spot Sanet.

“Dis nie Elrina se ring nie,” sê Marie-Louise terwyl sy dit uit die satyn lig en aan haar eie vinger steek. “Kyk, Sanet, dit pas vir my en jou vingers is net so skraal soos myne. Het jy al gesien hoe dik is Elrina se vingers? Dis waarom sy so graag handskoene dra.”

Sanet trek haar asem sag in, probeer die saadjie van hoop in haar binneste doodsmoor, maar pleit met haar oë dat Jean-Pierre Marie-Louise se vermoede sal bevestig.

“Is … dit waar, Jean-Pierre?” vra sy.

Hy kyk nie na haar nie, maar sy gesig verstroef en hy neem die ring by Marie-Louise en prop dit in sy broeksak.

“Ek neem aan dis jou vriend, Tertius Lindeque. Sal jy ons voorstel, juffrou Grové?” vra Jean-Pierre vyandig en kyk oor haar kop na die agterdeur.

Schalkie van Wyk Keur 9

Подняться наверх