Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk - Страница 9

5

Оглавление

Elrina se woorde val smalend op Sanet se ore. Jean-Pierre bespreek haar agter haar rug met Elrina. Hy vertel haar vertroulike sake, soos haar erkenning oor haar eerste liefde, met smaak oor aan sy slim modepoppie. Hy lag heel waarskynlik oor die armsalige oujongnooi en haar komplekse wat nou vir oom Lukas Grové huishoudster speel.

Jean-Pierre doen sy bes om haar op te beur en ’n bietjie aandag te gee, het Elrina gesê. Maar sy het hom vertrou! Hy is die man wat ná vier eensame jare die puntjie van die sluier vir haar kon lig wat voor ’n onmoontlike droom hang. Hy het haar weer ’n droom gegee, besef sy, al was dit net ’n sprokie oor ’n onmoontlike eendag wanneer sy sy bruid sou wees.

Maar dit was alles toe jammerte! Agteraf het hy en Elrina gelag omdat hy moontlik agtergekom het dat sy eindelik teenoor hom begin ontdooi het. Geen wonder hy kon haar so maklik voor tant Ellie en Elrina soen nadat sy voorgegee het dat sy flou geword het nie. Elrina het mos geweet hy probeer net ’n oujongnooi met haar komplekse help.

Marie-Louise merk hoe Sanet bleek word en sê vinnig: “Jy weet meer as ek, Elrina. Wanneer het Jean-Pierre jou van Sanet se liefdesteleurstelling vertel?”

Elrina glimlag lui, geamuseerd, en stap die kombuis heup-swaaiend binne, haar stap grasieus en sensueel.

“My liewe ding, jy besef tog ek en Jean-Pierre het geheimpies wat ons nie met jou deel nie?” Elrina se lag is diep en veelseggend, maar haar oë is hard en vyandig toe sy na Sanet kyk. “Vanselfsprekend het die arme Sanet ’n liefdesteleurstelling gehad, want geen regdenkende meisie met ’n universiteitsgraad kom kruip op ’n dooierige plekkie soos Bothasrus weg as sy nie ’n baie goeie rede het nie. Oom Lukas het my ma vertel dat jy ’n rekenmeesteres was voordat jy hierheen gekom het, Sanet. Ek hoor jou baas bel so gereeld.”

“Wat is ’n liefdesteleurstelling, Marie-Louise?” vra Gerrie nuuskierig. “As Sanet so ’n ding het, het sy dit nog altyd vir ons weggesteek, want ons het dit nog nooit gesien nie.”

“Moenie laf wees nie, Gerrie,” wys Peet hom tereg. “ ’n Mens kan nie ’n liefdesteleurstelling sien nie, want dis soos ’n siekte … ek dink amper soos ’n virus of iets.”

“O, soos masels?” kom dit fronsend van Gerrie. “Ek hoop net jy steek ons nie aan nie, Sanet, want dis te warm om in die somer in die bed te bly.”

“Hoe vermaaklik,” kom dit geïrriteerd van Elrina. “Hoekom eet julle twee snippe nie liewer julle kos en bly stil terwyl ons grootmense praat nie?”

“Toe nou maar, Elrina, die tweeling is my gaste,” tree Marie-Louise vir hulle in die bresse. “Wat van ’n koppie tee, Sanet? Ek was juis van plan om vir ons almal tee te maak.”

“Ja, dan wag jy sommer totdat Jean-Pierre huis toe kom vir middagete, Sanet,” nooi Elrina, haar stem druipend van sarkasme. “Jy het seker behoefte aan ’n jonger man se geselskap, want dit kan nie juis aangenaam wees om dag in en dag uit met ’n ou oom te gesels nie. Jean-Pierre het my beloof om jou aan ’n paar oulike jongmanne voor te stel … eintlik ’n paar wewenaars, want vir ’n meisie van jou ouderdom is daar nie juis jongmans beskikbaar nie.”

Sanet sluier haar eie ontsteltenis oor Jean-Pierre se verraad agter ’n masker van geamuseerde onverskilligheid.

“Ek waardeer jou verduideliking van Jean-Pierre se ongewone gedrag, Elrina,” sê sy met ’n onskuldige glimlaggie. “Ek kon nie verstaan waarom hy so opdringerig teenoor my was nie … so asof jy hom begin verveel het en hy na nuwe weivelde begin soek het. Maar as dit alles net goedbedoelde simpatie en goeie buurmanskap was, sal ek hom vergewe en voortaan minder hard probeer om uit sy pad te bly.”

Elrina se woede bars in ’n donker gloed op haar wange uit en smeul van verterende nyd in haar oë, haar aanloklike lippe ineens ’n smal streep van nouliks beteuelde woede.

“Insinueer jy dat hy meer in jou as in my belangstel?” vra sy, haar stem skor en ingehoue. “Jou arme ding, jy weet nie waarvan jy praat nie! Jean-Pierre hou van baie geld en baie mag, en hy weet as hy met my trou, sal hy eendag die rykste man op Bothasrus wees. Wat kan jy hom bied, behalwe jou oujongnooiskap?”

“Elrina.” Marie-Louise se stem is sag dog gebiedend. “Dalk het jy vergeet, maar op die oomblik kuier Sanet in my huis, daarom is sy my gas. Jy wil tog nie hê ek moet jou vra om liewer huis toe te gaan nie?”

Elrina lig haar ken trots. “Ek kan seker geen lojaliteit van jou verwag nie, nè, Marie-Louise? Jy was nog altyd jaloers op my, maar nou ja … ek en jou broer gaan trou en ons sal jou nie as ons huishoudster nodig hê nie. Julle twee oujongnooiens kan mekaar maar geselskap hou,” antwoord sy en stap in die gang af na die voordeur.

“Hoekom klap jy haar nie, Marie-Louise?” vra Gerrie vies terwyl hy sy mond met sy handrug afvee. “As ek groter was, het ek haar geklap, maar sy is ’n bietjie groot en vet … Is jy rêrig ook ’n oujongnooi, Marie-Louise?”

“Lankal. Ek was al agt-en-twintig,” antwoord sy en haar oë vonkel onnutsig. “Het julle klaar geëet?”

“Ek wil nog eet, maar ek kan nie meer nie,” kreun Peet, maar steek nogtans sy regterhand na die koekbordjie uit. “Mag ek ’n paar koekies saamvat, asseblief, Marie-Louise?”

“Deel die koekies tussen jou en Gerrie,” antwoord Marie-Louise en kyk verontskuldigend na Sanet. “Hulle sal tog nie nou die middagete eet wat jy berei het nie, daarom sal ’n paar ekstra koekies geen skade doen nie.”

“Ons gaan nou eers weer vir ou Jannie insekte vang. Tot siens, Sanet! Ta-ta, Marie-Louise!” roep Gerrie en draf agter Peet aan by die agterdeur uit.

“Ou Jannie is hul molslang wat hulle in die een buitekamer hou,” verduidelik Marie-Louise ongemaklik. “Jy weet mos van hom?”

“Ja, hy is as ’t ware ’n ou vyand.” Sanet glimlag halfhartig en vervolg met ’n ligte frons: “Jy moenie toelaat dat die tweeling misbruik maak van jou goedheid nie, Marie-Louise. Ek het hulle seker ’n bietjie afgeskeep, want ek het van vroegdag tot sononder huis skoongemaak, maar ek is nou klaar en van môre af sal ek hulle probeer besig hou.”

“Watter kind kuier ooit lekker by sy eie huis?” vra Marie-Louise met ’n begrypende glimlag. “Moenie jou oor my of die tweeling kwel nie, Sanet, want hulle is welkome geselskap vir my. Jy het mos gehoor Elrina het gesê ek is ’n oujongnooi en ek veronderstel dis een van my komplekse wat veroorsaak dat ek dol oor kinders is.”

“Ek was nog altyd lief vir kinders, selfs voordat ek die onbenydenswaardige status van oujongnooi verwerf het,” spot Sanet.

“Ek ook, maar dít sal die jeugdige, slim Elrina nie glo nie.” Sy frons en sê ongemaklik: “Jy moenie te haastig wees om al Elrina se stories te glo nie, Sanet. Sy aard maar na haar ma Ellie, selfs al kyk sy op haar neer. Ek is self nie dol oor tant Ellie en haar bitsige tong nie, maar ek kry haar tog jammer, want Elrina gee nie om waar of wanneer sy haar verneder nie,” sê Marie-Louise.

“Gee Elrina ooit om wie onder haar giftige tong deurloop?” vra Sanet en probeer om die beeld van Jean-Pierre se gesig met ’n ergerlike veeg van haar hand voor haar oë uit te wis.

“Glad nie, veral nie as sy jou as ’n bedreiging beskou nie.” Marie-Louise betrag Sanet stil en sê huiwerig: “Ek kan my net verbeel, maar ek het die indruk gekry dat Jean-Pierre werklik van jou hou.”

“Jammerte is ’n wonderlike motivering,” antwoord Sanet sinies.

“My liewe mens, jy glo tog nie daardie stories van Elrina dat Jean-Pierre jou as ’n oujongnooi met komplekse beskou nie?” vra Marie-Louise onthuts.

“Ek was al vyf-en-twintig,” antwoord Sanet afgetrokke.

“En ek het jou reeds gesê ek is agt-en-twintig, maar ek het geen noemenswaardige liefdesteleurstelling gehad nie behalwe dalk toe ek in graad agt op die hoofseun van ons skool verlief was.” Marie-Louise lag vonkelend. “Deesdae trou meisies nie meer almal voordat hulle mondig is nie. Liewer alleen en gelukkig, as getroud en ’n kandidaat vir ’n egskeiding. Of dink jy werklik ek is te maer en verpiep en te onaantreklik om ’n man te kry?”

“Jy?” Sanet giggel. “Moenie laf wees nie, mens. Jy is baie mooier as Elrina.”

“Dankie, jy is my lewenslange vriendin,” grinnik Marie-Louise. “Gaan jy nou saam met my ’n koppie tee drink?”

Sanet kyk op haar polshorlosie en trek haar asem hoorbaar in. “Goeiste, nee, dis al byna halftwee! Oom Lukas sal wonder waarom betaal hy my ’n salaris as ek by die bure rondkuier in plaas van om vir hom middagete te maak. Ek moet dadelik gaan,” sê sy ontsteld en stap vinnig na die agterdeur.

“Maar jy sal weer kom kuier?” roep Marie-Louise agter haar.

“Kom kuier jy liewer by my,” antwoord Sanet en drafstap weg na die ringmuur.

Marie-Louise is ’n skat van ’n mens. Daarom het sy so hard gepoog om haar te verseker dat Elrina die stories uit haar duim gesuig het. Maar net Jean-Pierre weet van haar liefdesteleurstelling, daarom kan net hy gesorg het dat Elrina daarvan te hore gekom het.

Hy gaan eendag met haar trou, het hy gesê. Hy het haar sy bruidjie genoem en dit het gelyk asof hy dit bedoel. Hoe kon sy so dwaas wees om hom te glo? vra sy haarself af, ’n harde trek van bitterheid om haar lippe.

Maar nie weer nie, beloof sy haarself en klim oor die ringmuur en hardloop tussen die bome van die vrugteboord deur huis toe.

Oom Lukas plaas ’n skinkbord met twee koppies op die teewaentjie neer, trek die waentjie tot voor Sanet wat op ’n gemakstoel in die sitkamer sit, en gaan sit skuins teenoor haar op sy geliefkoosde stoel.

“So ja, nou voel ek minder skuldig, want ek het die middagete en die tee gemaak,” sê hy ingenome.

“En ek het rondgeloop. Oom laat my soos ’n stokkiesdraaier voel,” kom dit verleë van Sanet terwyl sy vir hulle tee inskink.

“En hoe moet ek voel?” Oom Lukas neem die koppie by haar en volg haar met sy oë terwyl sy terugkeer na haar stoel. “Jy werk soos ’n slaaf om die huis van hoek tot kant skoon te kry en dan wil jy boonop vir die etes ook sorg. Dit kan nie so aanhou nie, Sanet. Die huis skitter nou van voor tot agter en ek hoop jy sal voortaan meer dikwels by die bure kuier. Ek verwag mos nie dat jy elke dag moet tuis sit en bediende speel nie.”

“Ek geniet dit, oom Lukas,” antwoord sy gelykmatig.

“Jy bloos wanneer jy jok. Daarom moet jy liewer die waarheid praat.” Oom Lukas glimlag goedig toe sy hom gekrenk aankyk. “Dalk sal jy dit nog meer geniet om kos te kook as een van jou ou vriende vir ’n naweek kom kuier. Daardie jongman Tertius Lindeque het nou al drie keer gebel om met jou te praat, maar omdat jy gesê het jy wil geen telefoonoproepe hê nie, het ek maar elke keer die praatwerk gedoen.”

“Dan het oom nie vir tant Ellie gejok toe oom gesê het Tertius het gebel nie?” vra sy verras.

“En waarom sal ek jok?” Hy kyk haar verwonderd aan en vervolg: “Die seun wil kom kuier, en noudat die huis skoon is, kan jy hom seker toelaat om te kom. Dalk sou dit ou Ellie se groot mond snoer … verbeel jou, om jou ’n oujongnooi te noem! Haar opgesmukte modepop van ’n dogter lyk maklik dertig of ouer, al is sy nog nie behoorlik droog agter die ore nie.”

“Elrina is ’n mooi meisie en sy weet hoe om aan te trek,” sê Sanet met eerlike bewondering.

“Maar dink jy ’n man wil nie weet met wie en wat hy trou nie?” Hy betrag haar ’n paar oomblikke lank van kop tot tone, proe aan sy tee en vervolg: “Jy het ’n skoon gesiggie, daarom kan enige mens sien hoe jy werklik lyk. Maar soos wat gaan Elrina lyk as sy daardie grimering afkrap?”

“Ek grimeer my gesig ook, oom, hoewel ek deesdae te besig is om daaraan te dink. E … wanneer laas het Tertius gebel?”

“Was dit nou gister? Nee, eergisteraand. Maar hy het beloof om weer te bel, want toe hy nou die derde keer bel, het ek hom laat verstaan dat jy nie lus voel vir telefoonpraatjies nie. Hy klink soos ’n verstandige mens, want hy het gesê hy wil maar net weet of dit nog goed gaan met jou, en dat hy weer sal bel. Is die man verlief op jou?”

Sanet sug en skud haar kop stadig. “Nee, oom, maar ek dink hy verbeel hom dat hy my liefgekry het,” antwoord sy. “Gerhard het nog vir my die werk by Tertius gekry ná al daardie dinge van vier jaar gelede toe ek uit my ou pos bedank het. Tertius het die berigte oor my … en die dinge in die koerant gelees en Gerhard het met hom daaroor gesels, maar hy het my nogtans as rekenmeesteres van sy maatskappy aangestel.”

“En hy het van jou … van daardie man geweet?” huiwer oom Lukas.

“Van Nardus van der Berg?” Die naam rol met gemak van haar tong af en sy besef dat dit die eerste maal in baie jare is dat sy sy naam hardop uitspreek. Sy besef ook dat sy naam die ou towermag om haar innerlik ineen te laat krimp, vir goed verloor het.

Wanneer het dié wonderwerk gebeur? vra sy haarself af. Jare lank het haar gedagtes weggevlug voor daardie naam, maar nou kan sy dit noem en aan hom dink sonder om die pyn van vernedering te ervaar.

“Ja, dit was mos die jongetjie se naam,” lok oom Lukas se stem haar terug tot die werklikheid. “Het jy Tertius van hom vertel?”

“Nee, oom, want hoewel ons uit die staanspoor vriende was, het ons nooit oor persoonlike dinge gepraat nie. Tertius het my laat verstaan dat hy nie in nog ’n ligte flirtasie of ’n vurige liefdesverhouding belanggestel het nie, en ek was maar te dankbaar daaroor, want ek het ’n vriend nodig gehad, nie nog ’n man wat my sou seermaak nie. Ons was vier jaar lank goeie vriende, maar die laaste paar maande het Tertius se houding ’n subtiele verandering ondergaan en …” Sy swyg en soek na die regte woorde.

“Hy het jou liefgekry?” vra oom Lukas reguit.

“Ek glo nie, maar hy dink hy het my lief. Tertius was al ses-en-dertig en hy is soos ’n liewe, ouer broer vir my. Ons deel heelwat belangstellings, ons kan lekker gesels en soms net saam sit en niks sê nie, omdat ons mekaar verstaan. Maar dis nie liefde nie, oom. Ek glo ek het ’n gewoonte in Tertius se lewe geword, en omdat hy niemand anders liefhet nie, glo hy hy het sy gewoonte liefgekry,” spot sy met ’n skewe glimlaggie.

“As Tertius ’n goeie gewoonte is, as hy ’n meer betroubare man is as wat daardie Nardus was, waarom trou jy nie met hom nie?”

“Sonder liefde, oom? Ek kan nie glo dat so ’n huwelik ooit ’n sukses kan wees nie.”

“Jy kan leer om hom lief te kry, want hy het dit klaarblyklik reeds geleer,” redeneer hy.

Sy skud haar kop beslis. “Nee, oom Lukas. Ek sal altyd bang wees dat hy eendag, dalk tien jaar later, die regte meisie sal raakloop, en dan? Wie weet, dalk het ek dan reeds geleer om hom lief te kry. Dalk is daar kinders, maar in so ’n geval sal ek hom sy vryheid moet teruggee, want ek weet mos nou hy het my nie werklik lief nie.”

“Jy klink baie seker van jou saak.” Oom Lukas swyg met ’n peinsende uitdrukking op sy gelaat. “Dan weet jy hoe dit voel om opreg lief te hê? Dan was jou gevoel vir Nardus so groot dat niks dit kan vervang nie?”

Oom Lukas se woorde bring ’n storm van verwarring in haar binneste. Sy besef wat sy vir Nardus ervaar het, was ’n jeugdige heldeverering gepaard met ’n oordosis van verliefdheid. Maar liefde? Ewigdurende liefde?

Jean-Pierre se gesig verrys voor haar geestesoog. Nee, Jean-Pierre is ’n verraaier wat van haar vertroulikheid humorlose grappe maak, wat haar agter haar rug bespreek met ’n meisie wat haar agting nie werd is nie. Maar waarom kan sy hom dan nie haat nie? vra haar hart.

“Nardus behoort tot die verlede, oom Lukas, en al kon ek, sou ek hom nooit weer deel van my lewe wou maak nie.”

“Dis goed as jy dit werklik glo, want as die liefde van ’n leeftyd in jou lewe kom en jy trou nie met die een wat jy liefhet nie … My lewe was nooit leeg nie, maar soms kyk ek terug na die verspeelde lente van my lewe en dan wonder ek waarom het ek nie maar met my tweede keuse getrou nie. Sou ek nie dalk gelukkiger gewees het as ek vandag ’n getroude man en die oupa van kleinkinders was nie? Dan voel ek jaloers op ou Gideon Hanekom hier op die hoek, maar ander kere, as ek na sy vrou, ou Ans, se geneul luister en na ou Ellie hier langsaan kyk, dan is ek maar dankbaar ek het ’n oujongkêrel geword,” sê oom Lukas.

“Ek en Magda en Gerhard het dikwels oor oom gewonder … waarom oom nooit getroud is nie. Dan was daar tog ’n besondere meisie in oom se lewe?” vra Sanet nuuskierig.

“O ja, daar was.”

“Maar sy wou oom nie hê nie?” vra Sanet en voel gekrenk dat enigiemand so dwaas kon wees om oom Lukas se huweliksaanbod van die hand te wys.

“Klaarblyklik nie, want toe ek haar vra om met my te trou, het sy my aan ’n ander nooi probeer afsmeer – so asof ek nie oud genoeg was om te weet wat ek wil hê nie. Ek was toe al ’n man van drie-en-dertig. Ek het geweet wie ek liefhet en sy was self nie meer ’n kind nie, daarom het ek net daar padgegee.”

“En oom het nooit teruggegaan na haar toe nie?” vra Sanet.

“Om wat te doen? As ’n meisie jou liefhet, sê sy ja, anders mors sy almal se tyd. Sy wou my nie gehad het nie en ek het gesorg dat ek haar nie weer lastig val nie, hoewel die ander meisie kort daarna getroud is en jare lank gelukkig getroud gebly het.”

“En oom se meisie?” wil Sanet weet.

“Nou, wat van haar geword het kan my nie raak nie, want ek het gesorg dat ek die afgelope veertig jaar uit haar pad bly en ek is van plan om dit vir die volgende veertig jaar ook te doen,” antwoord hy.

“En tant Ellie, oom?”

Oom Lukas se ruie, grys wenkbroue wurm saam in ’n diep frons van ergernis. “Nes ’n keffertjie … daardie klein rotgesiggie met die rooi geverfde haartjies. Sanet, wat sukkel party vroue tog so om te aanvaar dat hulle oud word? Hoe sal ek nou lyk as ek besluit om my hare te kleur?” vra hy misnoeg.

“Hoe sal tant Ellie lyk as sy besluit om te skeer, oom?” vra Sanet met ’n onnutsige glimlaggie.

“Um, ook ’n antwoord op alles, nè?” Hy glimlag. “Nou ja, ek gaan nie daaroor stry nie, maar die arme Ellie maak net ’n groter spektakel van haarself met haar rooi haartjies. En om my huishoudster te wil speel … Kind, die mens sal my mos tot raserny dryf, want sy praat ’n sloot in die grond … en dan sê sy eintlik niks nie.”

“En daarby is sy ’n onderdorper, nè, oom?” spot Sanet.

Oom Lukas se oë vernou terwyl hy deur die venster staar, en sy stem is ernstig toe hy antwoord: “Daar woon goeies en slegtes in die bo- en onderdorp, daarom oordeel ek nie. Is Elrina werklik anders as ou Ellie omdat sy in die bodorp woon?”

“Seker nie,” beaam Sanet en voel verleë. “Goeie en slegte mense kan seker nie in streke verdeel word nie, maar …” Sy breek haar sin af en kyk afwagtend na oom Lukas wanneer die gelui van die telefoon in die studeerkamer hoorbaar word.

“Ek sal gaan,” sê hy, staan op en loop die sitkamer uit terwyl Sanet die leë teekoppies op die skinkbord pak.

Sanet loop in die gang af en by die studeerkamer verby, die skinkbord in haar hande, en steek verras langs die deur vas toe sy oom Lukas bulderend hoor roep: “Maar, goeie genugtig, Dassie, het jy nie ore aan jou kop nie? Bly stil en laat ek klaar praat.”

Sanet sit die skinkbord op ’n muurtafeltjie en gaan die studeerkamer haastig binne. Oom Lukas kyk op, gewaar haar en skree weer in die spreekbuis:

“Hier is sy nou. Praat self met haar!” Hy neem die gehoorstuk van die telefoon weg van sy oor en hou dit uit na Sanet. “Vat, kind, en kyk of jy enigiets in daardie domastrante vroumens se kop kan kry. As daar een vrou is wat ’n paar warm klappe verdien, is dit jou tant Dassie de Bruyn!”

“Ja, oom. Dankie, oom,” antwoord Sanet gedweë, maar haar oë vonkel. Sy neem die gehoorstuk by hom en bring dit na haar oor. “Middag, tant …”

“Sê vir die ou swernoter dat ek gehoor het wat hy sê, Sanet!” skel tant Dassie in haar oor. “Jammer dat ek my verspreek het, maar daar is mense wat dit moeilik maak vir ander om hulle opvoeding en agtergrond te onthou. Sanet, jy besef die rusie gaan oor jou?”

“Was dit net ’n rusie, tannie? Dankie toggie! Ek dag dis ’n volskaalse oorlog!” antwoord Sanet treiterend.

“Jy is nes die tweeling, Sanet. Jy het nog nooit werklik respek of ontsag vir my gehad nie … en in Augustus word ek sewentig,” verwyt tant Dassie.

“En ek word oor elf maande of wat ’n hele ses-en-twintig. Dis baie erger as om sewentig te word, tannie, want almal weet tannie is ’n oujongnooi, maar almal waarsku my dat ek besig is om een te word. Wanneer is ’n mens klaar ’n oujongnooi, tannie? Op vyftig, of is ek té optimisties?” skerts sy en knipoog vir oom Lukas.

“Dis juis wat ek gaan verhinder, Sanet. Een oujongnooi in die familie is meer as genoeg. Ek het so pas daardie selfsugtige Lukas Grové duidelik laat verstaan wat ek van hom dink om ’n bloedjong kind soos jy as sy slaaf te laat werk. Verbeel jou: ’n huishoudster vir jou oom, terwyl jy nou jonk moet wees en jou lewe moet geniet. Sanet, dit sal nie deug nie, daarom het ek besluit om ….”

“Maar my liewe tant Dassie, ek het aangebied om oom Lukas se huishoudster te word en hom te help om die tweeling groot te maak. Tannie weet tog Magda kan nie langer die seuns ver-sorg nie, want haar gesondheid en die koms van hulle baba laat dit nie toe nie. Ek het tog alles Kersfees aan tannie verduidelik?” val Sanet haar in die rede.

“Nee, dis nie die volle waarheid nie,” sê tant Dassie met die streng stem van ’n skoolhoof en laat Sanet onwillekeurig glimlag. “Jy het my alles vertel, behalwe van jou plan om Lukas Grové se huishoudster te word. As jy my tóé daarvan vertel het, sou ek beslis ’n stokkie daarvoor gesteek het.”

“En dis juis waarom ek niks gesê het nie, want Pappa het my jare gelede vertel tannie dink oom Lukas is ’n verwaande ou mofskaap wat …”

“Wat sê jy daar, Sanet?” bars oom Lukas bulderend uit. “Noem my ’n mofskaap agter my rug? Die ou aasvoëlwyfie! Gee daardie gehoorstuk hier!”

“Sy het afgelui, oom Lukas,” jok Sanet en sit die gehoorstuk haastig op die voetstuk neer.

“Jý het afgelui, nè, kind?” beskuldig hy.

“Ja, oom, want een van oom-hulle gaan ’n aartjie bars, en ek wil nie die oorsaak wees nie. Ek gaan spoel net gou die koppies uit,” maak sy verskoning en ontsnap uit die studeerkamer.

Iemand moet oom Lukas waarsku dat dit nie ’n man van vyf-en-sewentig betaam om op ’n vervelige Saterdagmiddag te gaan tennis speel terwyl die tweeling in die bure se swembad baljaar en sy lus voel om te huil omdat sy die enigste vreemdeling op Bothasrus is nie, dink Sanet bedruk terwyl sy op die voorstoep uitstap en die stoeptrap stadig afklim na die tuinpaadjie.

Sy woon al drie weke lank op die dorp, maar tot dusver ken sy nog net tant Ellie, Elrina, Marie-Louise en Jean-Pierre … en eintlik wil sy net vir Marie-Louise ken, want van Jean-Pierre en sy meisie het sy meer as genoeg gehad. Sy bly langs ’n roosboom in die voortuin staan en buk vooroor om aan ’n roos te ruik.

“Het jou! En dié keer kom jy nie los nie!” roep ’n stem wat sy meer as ’n week laas gehoor het, en dan sluit Jean-Pierre se arms om haar en hou haar gevange.

Sy gil verskrik, word rooi van ergernis omdat sy soos ’n bakvissie geskree het, en begin in sy arms spartel. “Los my, Jean-Pierre! Los my, anders skree ek kliphard sodat jou liewe, vet Elrinatjie kan kom kyk wat aangaan!” dreig sy.

“Soen haar, jongman, want as sy so katterig oor jou ander meisie is, is dit mos ’n duidelike bewys dat sy halfpad verlief is op jou,” sê ’n koel, beskaafde stem en sy hoef nie op te kyk om te weet dat haar tant Dassie de Bruyn ongenooid kom kuier het nie.

Schalkie van Wyk Keur 9

Подняться наверх