Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk - Страница 8

4

Оглавление

Sanet versluk haar aan haar eie asem toe sy skielik kop na onder oor Jean-Pierre se skouer hang, sien tant Ellie van Duuren se skerp rotgesiggie onder haar, kry ’n flitsende beeld van ’n slanke, welgevormde meisie in ’n modieuse tabberd langs tant Ellie en besluit dis die regte oomblik om flou te word. Sy kreun gevoelvol, sluit haar oë en hang slap oor Jean-Pierre se skouer om ook hom van haar floute te oortuig.

“Sanet?” roep hy, sy stem skerp van kommer. “Sanet, het jy pyn?”

“Nee, oom,” sê Gerrie wanneer Jean-Pierre se voete grond raak, “maar ek dink sy is dood, want sy het net haar oë omgedop en so slap geword. Kyk, sy het die nat vadoek wat in haar hand was, ampertjies op my kop laat val.”

“Sies, Gerrie, man, jy weet dis nie lekker as iemand doodgaan nie. Sanet is mos nie dood nie, oom?” pleit Peet.

Sanet voel skuldig oor haar valse floute, wens sy kan ongemerk vir Peet knipoog om hom gerus te stel, maar durf dit nie waag onder tant Ellie en haar dogter se skerp oë nie.

“Moenie jou kwel nie, Peet,” kom dit gerusstellend van Jean-Pierre terwyl hy Sanet van sy skouer laat afgly en haar dan in sy arms optel. “Die arme meisie het net flou geword van die skok oor die slang, maar ek sal haar nou weer by kry.”

“Nou wat staan jy met die meisiekind in jou arms en klou haar vas asof jy bang is jy sal haar laat val?” vra tant Ellie nydig en trippel nader om Sanet van naderby te beskou. “Lyk nogal na haar oom Lukas, nè? Hy is natuurlik ’n baie aantreklike man, maar ek sal haar nou nie juis mooi noem nie – doodgewone ou gesiggie, sou ek sê.” Sy draai haar kop na Elrina en roep oor haar skouer asof Elrina effens hardhorend is. “Jy het niks om jou oor te kwel nie, Elrinatjie. Die ou meisietjie lyk maar vaal en alledaags.”

Sanet oorweeg dit om met ’n skielike stuiptrekking die buurvrou ’n gevoelige skop in die maag te gee, maar besluit daarteen.

Haar floute het darem ’n voordeel: sy lê in Jean-Pierre se sterk arms en luister na die ritmiese geklop van sy hart. Laat ou tant Ellie haar maar vaal en alledaags noem – solank sy in Jean-Pierre se arms kan wees, sien sy selfs kans om met die voortreflike Elrina vriende te wees.

“Hallo, Jean-Pierre. Wat presies het hier gebeur?” vra Elrina en Sanet voel ’n stekie van jaloesie, want Elrina praat met ’n sagte, diep, sensuele stem wat Jean-Pierre se naam soos ’n intieme liefkosing laat klink.

“Dis tog duidelik Sanet het flou geword,” antwoord Jean-Pierre en Sanet wonder of sy arms al begin moeg word om haar vas te hou, want hy klink geïrriteerd.

“Lê haar op die gras neer, Jean-Pierre,” beveel tant Ellie. “Netnou verrek jy ’n spiertjie of iets, want so ’n lang meisiekind weeg seker dieselfde as ’n sak mielies. Lê haar sommer net hier neer, en jy, boetie, bring vir my die tuinslang,” beduie sy aan Gerrie wat naas haar staan. “Daar is niks wat so vinnig vir ’n floute help soos ’n bietjie koue water nie.”

“Tannie soek moeilikheid,” waarsku Gerrie. “As tannie Sanet met ’n tuinslang natspuit, klap sy tannie se ore vuurwarm!”

“Ons moet haar hospitaal toe vat,” besluit Peet gewigtig. “Maar ons sal haar eers moet bad, want sy is darem vreeslik vuil en vol stof, nè, oom Jean-Pierre? Moet ek oom Lukas gaan roep sodat hy haar kan bad? Hy kuier by oom Gideon, hier op die hoek.”

“Dit sal nie nodig wees nie, dankie, Peet. Ek sal mond-tot-mond-asemhaling toepas,” antwoord Jean-Pierre bedees, buig sy kop nader en soen Sanet vol op haar lippe.

Haar oë vlieg oop en sy ruk haarself orent in sy arms, vlamme van verontwaardiging gloeiend op haar wange.

“Hoe durf jy, meneer Du Pont?” vra sy driftig en spartel in sy arms sodat hy verplig is om haar op haar voete te laat staan.

“Maar jy het mos daarna gesoek, Doringrosie,” antwoord hy. “Ken jy nie jou sprokies nie? Jy is veronderstel om innig dankbaar te wees omdat my soen jou wakker gemaak het, en om onmiddellik met my te trou.”

“Sulke stuitigheid!” laat hoor tant Ellie wat soos ’n veglustige bantamhaantjie uit loutere ergernis heen en weer tussen Jean-Pierre, die tweeling en Elrina rondtrippel, telkens voor een van hulle vassteek en dan verder trippel. “Elrina, het jy niks te sê nie? Kan jy nie sien Jean-Pierre is van die duiwel besete nie? Hy tree soos ’n skoolseun op, nie soos ’n man met ’n praktyk wat ten gronde gaan terwyl hy by die buurmeisie rondlê nie?”

Sanet betrag tant Ellie met openlike nuuskierigheid asof sy heeltemal seker wil maak dat die stekelrige vroutjie van vlees en bloed is, en nie net iemand wat in haar verbeelding bestaan nie. Wat ’n uitgesproke mens, dink sy, en kyk simpatiek na Elrina. Dank die hemel sy het nie ’n ma wat haar so in die verleentheid kan stel nie.

Sanet besef met die eerste oogopslag dat Elrina van Duuren nie haar simpatie nodig het nie. Ondanks haar jeugdigheid is Elrina ’n meisie met ’n selfversekerdheid wat by ’n veel ouer vrou pas.

Sy is onberispelik volgens die jongste mode geklee en haar haarstyl kom uit ’n haarkapsalon. Haar grimering is met professionele kundigheid aangewend.

In ’n ander era sou Elrina beslis ’n skoonheid gewees het, maar selfs nou slaag sy daarin om haar sterk, byna manlike gelaatstrekke met slim grimering te verbloem, en beklemtoon die besondere skoonheid van haar groot, swartbruin oë en die volheid van haar sensuele lippe.

Geen wonder Jean-Pierre het gesê sy is maer nie, want in haar stowwerige langbroek en bloesie en met ’n blou doek om haar kop om haar hare skoon te hou, voel sy soos ’n voëlverskrikker, dink Sanet en kyk met ’n tikkie afguns na Elrina.

“Sanet,” sê Elrina met ’n kopknik en ’n glimlaggie wat die volheid van haar mondjie beklemtoon. “Dan is jy oom Lukas se nuwe huishoudster?”

Sanet wil Elrina iets katterigs toevoeg, maar besef dan sy is wel haar oom se huishoudster.

Maar waarom kan sy nie byvoeg dat sy ook ’n bekwame rekenmeesteres met ’n B.Com-graad is nie? wonder Sanet grimmig, maar besluit dan dat dit dalk veiliger is dat niemand weet dat sy ’n rekenmeesteres is nie, want iemand kan dalk net ’n koerantberig van vier jaar gelede onthou.

“Sanet is ons stiefma,” kondig Gerrie met ’n vername stemmetjie aan, oortuig daarvan dat Elrina Sanet beledig het, maar nie seker hoe sy dit gedoen het nie. “Is jy ook iemand se stiefma, tannie?” vra hy vir Elrina.

Elrina se lag is koel. “Ek is veels te jonk om nou al aan moederskap te dink. Ek glo dat ’n geëmansipeerde vrou haar geleerdheid en haar talente moet gebruik voordat sy aan ’n huwelik dink, anders verval sy te maklik in die antieke rol van onderhorige kneg vir die man,” antwoord sy, haar blik betekenisvol op Sanet.

“Sy lyk nie jonger as jy nie, Sanet,” merk Peet vies op. “Ek wed sy was al lankal dertig, want sy is baie vetter as jy.”

“Stil, Peet,” sê Sanet berispend, maar innerlik verheug oor Peet se woorde omdat Elrina haar so duidelik laat verstaan het sy is ’n onderhorige kneg. “Gaan speel julle twee nou. As julle my almal sal verskoon …” Sy raak aan haar kopdoek. “Ek was besig om die soldervensters te was.”

“Wat van ons geld, oom Jean-Pierre?” vra Gerrie en frons hewig. “Het oom onthou om die geld te trek, of moet oom nou eers weer bank toe gaan?”

“Nee, ek het die geld saamgebring,” antwoord Jean-Pierre en haal twee vyfrandstukke uit sy hempsak. “Een vir elkeen. Baie dankie vir julle hulp.”

“Oom moet net sê as oom weer met Sanet wil praat,” sê Peet en glimlag van oor tot oor terwyl hy die vyfrandstuk in sy hande ronddraai en behoorlik beskou. “Solank oom ons vyf rand betaal, sal ons haar elke dag vir oom vang.”

“Nou wat praat die kind alles, Jean-Pierre? Haai, boetie, kom terug! Kom vertel my …” roep tant Ellie, maar Gerrie en Peet klap die tuinhekkie agter hulle toe en kies koers winkel toe om hulle groot beloning te gaan uitgee.

“Dit klink vir my ook na ’n interessante manier om geld te maak,” sê Elrina spottend. “Betaal jy enigiemand vyf rand om Sanet vir jou te vang, Jean-Pierre? Mag ek saamspeel?”

“Ek sal dit waardeer,” sê Sanet vinnig. “Sanet is die naam van ’n oulike molslang wat eers aan die tweeling behoort het, maar omdat ek nie van slange hou nie, het hulle hom aan meneer Du Pont gegee. Die molslang kruip op die oomblik êrens in die huis rond. Ek sal jou met liefde tien rand betaal as jy hom vir my kan vang, juffrou Van Duuren.”

Elrina glimlag meerderwaardig. “Lyk ek vir jou soos ’n meisie wat ter wille van tien rand agter ’n slang gaan rondkruip?” vra sy.

“Die ou slangetjie is reeds veilig in sy hokkie,” sê Jean-Pierre en lê sy hand liggies onder Sanet se elmboog. “Kom, Sanet, ek wil sommer daardie boeke wat oom Lukas by my geleen het, in sy studeerkamer gaan haal. Sien julle, tant Ellie … Elrina?”

“Moenie van ons afspraak vanaand vergeet nie, Jean-Pierre,” herinner Elrina hom. Sy glimlag met die selfversekerdheid van ’n meisie wat weet sy hoef haar nie oor die lojaliteit van haar toekomstige man te kwel nie. “Tot siens, julle,” groet sy en stap sonder meer weg.

“Elrina, hoe kan jy die twee saam vertrou? Waarom kan jy nie wag totdat Jean-Pierre sy boeke en die slang gekry het nie? Ons kan hom vra om middagete saam met ons te eet, anders kuier hy dalk …” kerm tant Ellie in haar dogter se ore en draf agter die elegante Elrina aan.

“Ma … asseblief! Bly net stil, dan sal niemand agterkom Ma is ’n onderdorper nie, soos ouma Christina altyd sê!” sis Elrina bytend. Sy hou haar stem gedemp, maar Sanet en Jean-Pierre wat op die grasperk voor die huis bly staan, hoor haar.

Sanet kyk onwillekeurig op na Jean-Pierre. Asof hy haar blik op hom voel, kyk hy na haar en hy glimlag. “Oulike bure wat jy het,” sê hy sardonies.

“Ek wonder wie ’n mens die jammerste moet kry, tant Ellie of Elrina?” antwoord sy.

“Jy bedoel dit tog seker nie, Sanet? Tant Ellie het haar bes gedoen om jou te beledig, omdat sy doodbang is ek stel dalk werklik meer in jou as in Elrina belang. Elrina was net haar gewone, hooghartige self. Die arme meisie het so ’n opinie van haarself dat goeie maniere vir haar onbelangrik is. Maar sy is nog bitter jonk … sy sal moontlik nog leer.”

“Het haar ouma Christina ooit geleer?” vra Sanet sonder om na hom te kyk.

“Dan ken jy Elrina se geskiedenis?” vra hy, versterk sy houvas op haar arm en dwing haar om saam met hom na die voordeur te stap.

“Oom Lukas het my vertel van die trotse tant Christina en die arme oom Abraham wat toe met tant Ellie van die onderdorp getroud is. Tant Christina het beslis daarin geslaag om Elrina te leer om haar eie ma te minag,” sê Sanet afkeurend.

“Dit verg groot liefde om tant Ellie se uitgesprokenheid te vergewe en tant Christina het gesorg dat Elrina nie veel liefde vir haar eie ma het nie, want sy het Elrina grootgemaak. Tot ’n jaar of wat gelede het tant Ellie en Elrina nog op die ou familieplaas gewoon, maar nadat Elrina haar graad behaal het, het haar ouma vir haar die huis op die dorp gekoop. Tant Ellie het net saamgekom om vir Elrina huishoudster te speel,” vertel hy.

“Is daar werklik ’n slang voor die solderkamerdeur?” vra Sanet en probeer haar arm wegneem, maar hy versterk sy greep en trek haar effens nader aan hom.

“Dis jý wat oor die naam van die slang gejok het, nie ek nie,” spot hy. “Ek het die waarheid gepraat toe ek gesê het die ou slangetjie is reeds veilig in sy hokkie, want die tweeling het my al daardie eerste middag gevra of ek hulle sal help om ’n hokkie te maak. Ek het ’n voëlhokkie met sifdraad toegespan en die molslangetjie het ’n blyplek gekry.”

“En … waar hou hulle die slang?” vra sy en loer benoud na die voorportaal asof sy verwag om enige oomblik die slang te sien nader seil.

“In my een buitekamer. Nee, wag, moenie voorspooksels maak nie, want daardie molslang word so vet gevoer met allerlei insekte en maalvleis wat die seuns vir hom aandra, dat hy nie eens die moeite sal doen om te ontsnap nie, selfs al kon hy,” probeer hy om haar gerus te stel.

“Maar julle gaan tog nie die arme slang vir altyd in ’n buitekamer toegesluit hou nie?” vra Sanet, haar emosies wisselend tussen jammerte vir die slang en kommer oor haar eie veiligheid as die slang dalk sou ontsnap.

“Die slang is net ’n nuutjie en sodra die skool begin, sal die tweeling wel iets anders kry om hulleself mee te vermaak. Maar ek het nie tien rand betaal om oor ’n lawwe molslang te gesels nie, my stowwerige bruidjie. Wanneer gaan jy by my kom eet?” vra hy, lê sy hand op haar ander arm en laat haar voor hom staan sodat hy haar gesig kan dophou.

“By jou?” Sy staar hom aan. “Meneer Du Pont, ek waardeer jou humorsin, maar oom Lukas het my reeds vertel van jou en Elrina. Jy hoef nie langer die vriendelike buurman te speel wat probeer om my tuis te laat voel nie. Ek is klaar tuis hier op Bothasrus.”

“En elke sin is ’n leuen … tsk, tsk,” klap hy sy tong terwyl hy haar betrag. “Oom Lukas kon jou niks van my en Elrina vertel het nie, want sy dra nie my ring nie. Daarby kan jy onmoontlik tuis voel op Bothasrus, want behalwe die Sondagoggenddiens in die kerk, het jy nog nie jou neus by die voordeur uitgesteek nie. Is jy bang vir mense?”

Hy laat haar skrik en sy wonder of hy dalk daardie koerantberig van vier jaar gelede onthou. Sy voel ’n gloed van verleentheid op haar gesig en kyk skuldig af.

“Dis byna etenstyd. As jy nou asseblief die molslang sal verwyder …” dwing sy hulle gesprek in ’n ander rigting.

Hy lig sy regterhand, laat ’n blonde krul wat onder haar kopdoek uitgekruip het speels om sy wysvinger krul en vee dan liggies met sy vingerpunt oor haar wang.

“My vuil meisie … maar so pragtig soos ’n sprokiesprinses. Dalk moet ek jou tog nie vet voer nie, want dis makliker om jou rond te dra as jy soos ’n sprinkaan lyk,” sê hy en laat dit soos ’n kompliment klink.

“Dankie. Ek waardeer dit as iemand my ’n sprinkaan noem. Wat noem jy Elrina? ’n Vetgevoerde ruspe?” vra sy gekrenk.

“A-ha, al weer die jaloesie! Sanet, my skat, jy wil dit nie erken nie, maar jy hou tog ’n klein bietjie van my, daarom raak jy so katterig teenoor die onskuldige Elrina. Besef jy wat daardie meisie alles vir ons dorp doen? Dis ’n komitee vir ’n nuwe kerkklok, ’n vereniging vir vet vroue wat maer wil word, ’n klub vir kinders wat op hulle ouers se senuwees werk. ’n Meisie wat soveel tyd aan ander se welsyn kan afstaan, verdien ’n medalje. Stem jy nie saam nie?”

“Gaan gee dan vir haar ’n medalje en bly uit my pad, meneer Du Pont,” antwoord sy kwaad omdat sy wel jaloers voel op ’n meisie wat haar geen leed aangedoen het nie.

“Noem my Jean-Pierre en beloof my plegtig jy sal eendag met my trou, anders soen ek jou hier voor die voordeur en hoop tant Ellie sien ons,” treiter hy.

Sy kyk na hom en haar blik word ’n liefkosing, want diep in haar rank ’n nuwe besef op: sy hou van hom … sy hou so baie van hom. Hy terg haar omdat hy dit geniet om haar kwaad te maak; spot met die liefde asof hy nog nooit ervaar het dat liefde angels het wat pyn pleks van vreugde bring nie. Miskien moet sy daardie ver gister vir goed begrawe en saam met hom lag oor die liefde, want solank ’n mens nie liefhet nie, kan jy ook nie seerkry nie; solank liefde net ’n woord bly, dra jy geluk in jou hande.

“Nee,” sê sy dan en besef nie sy praat hardop nie. “Nee, nie weer nie … nooit weer nie.” Sy kyk in sy oë, besef dat sy haar gedagtes hardop uitgespreek het en voel verleë. Sy hande vat aan haar boarms en sy oë is byna swart van erns.

“Ek het hardop gedink … ek is jammer,” maak sy verskoning.

“Was jy baie lief vir hom?” vra Jean-Pierre asof hy haar verskoning nie gehoor het nie.

Sy knik stom en vervolg aarselend: “Hy was my eerste liefde en dalk … dalk verwag ’n mens te veel van die liefde as jy jonk is. Ek het verwag dat hy …” Sy glimlag ongemaklik en tree weg van hom. “Ek het nog nooit met ’n vreemdeling daaroor gepraat nie.”

“Ek is nie ’n vreemdeling nie, Sanet. Ek is Jean-Pierre, die man met wie jy eendag gaan trou. Of sal hy terugkom en jou kom haal?” vra hy.

“Niemand sal my kom haal nie,” antwoord sy.

“En as jy trou, sal dit met my wees?” vra hy dringend.

Sy lag oorwonne. “Ja, Jean-Pierre,” antwoord sy en vlug weg om die hoek van die huis toe hy sy arms gretig uitsteek om haar te vang.

Sanet stap in die gang af na die studeerkamer, hoor stemme in die voorkamer en loop die voorportaal binne. Sy het die hele oggend, soos die vorige vyf dae, haar tyd in die solder deurgebring om dit in ’n speelkamer vir die tweeling te verander. Wanneer oom Lukas besoekers het, is dit seker haar plig om hulle te gaan groet en dan te gaan tee of koffie maak, dink sy en bly in die deur van die sitkamer staan.

“Môre, tant Ellie,” groet sy met ’n halfhartige glimlaggie toe sy tant Ellie op ’n rusbank teenoor oom Lukas sien sit, en wens sy het liewer nie by die sitkamer ingeloer nie.

“Dis lankal middag, want dis byna etenstyd. Het jy darem al begin met die middagete? Ek verneem die twee seuns boer by Jean-Pierre en pla die arme Marie-Louise tydig en ontydig … eet haar glo uit die huis uit. Wat staar jy my so aan asof jy nie mooi verstaan wat ek sê nie? Jy weet tog Marie-Louise is Jean-Pierre se jonger suster en orreliste van ons kerk. Sy gee musieklesse ook … ’n geleerde meisie, net soos Elrina. Jy het haar tog seker al ontmoet?” vra tant Ellie met ’n skrilheid in haar stem asof sy liewer met Sanet wil rusie maak as om rustig te gesels.

“Ek weet van Marie-Louise, tant Ellie, maar ek het haar nog nie ontmoet nie. Sal ek tee of koffie gaan maak, oom Lukas?” vra Sanet met ’n kalm glimlaggie.

“Nee wat, my kind, dan sit ou Ellie net langer en kritiseer boonop die tee wat jy agter haar aandra,” sê oom Lukas en lag oor die venynige kyk wat tant Ellie in sy rigting flits. “Ja, toe, Ellie, ek ken jou mos al langer as gister en daarom hoef jy nie gekrenk te lyk nie. Jy hou nie van my niggietjie nie, want sy is ’n mooi kind en jy kwel jou oor die moontlikheid dat Jean-Pierre dalk meer van Sanet as van Elrina hou.”

“Oom Lukas …” verwyt Sanet gedemp.

“Ek het g’n rede om my te kwel nie, Lukas Grové,” sê tant Ellie en lig haar ken terwyl sy haar hande vroom op haar skoot saamvat. “Elrina is ’n geleerde meisie met ’n graad, nie ’n ryk familielid se huishoudstertjie nie. En daarby weet almal dat my dogter eendag skatryk gaan erf wanneer haar ouma Christina sterf, want sy is haar ouma se enigste erfgenaam. Jean-Pierre sal ’n dwaas wees om vir hom ’n ander bruid te kies.”

“Jean-Pierre het nie ou Christina se geld nodig nie, Ellie, want hy het genoeg. En ’n bietjie geleerdheid pla Sanet nie, want sy het self haar B.Com-graad,” antwoord oom Lukas, en ’n tikkie skerpte in sy stem verraai sy ergernis aan Sanet.

“En wat vir ’n graad is dit? Ek het nog nooit van so ’n graad gehoor nie. Gaan ’n mens universiteit toe daarvoor?” stel tant Ellie haar onkunde ten toon.

“Ja, Ellie. Sanet is ’n rekenmeesteres en as sy wil, kan sy môre weer haar ou pos in Johannesburg kry. Haar baas het juis al twee of drie keer gebel sedert sy hier woon. Hy is baie gretig om haar weer in diens te neem,” antwoord oom Lukas nadruklik.

Sanet staar hom verras aan. Waarom het oom Lukas haar nie vertel dat Tertius gebel het nie? Sy hoor die telefoon dikwels lui, maar omdat sy geen oproep verwag nie, het sy nog nooit belang gestel om uit te vra oor wie gebel het nie. Of het oom Lukas sommer ’n storie versin om tant Ellie se mond te snoer? Sy kyk na tant Ellie wat ineens met valse vriendelikheid glimlag.

“Sowaar, nè? Nou kyk, Sanet, waarom gaan jy nie liewer terug na jou ou werk toe nie? Jy is ’n stedeling en julle is tog nooit gelukkig op die platteland nie. Ek het gedag jy lyk darem te intelligent om sommer net jou oom se huishoudstertjie te wees,” kom dit stroperig van tant Ellie.

“Ellie, as jy met jou eie oë kan sien die meisie is intelligent, hoe verwag jy dan dat sy na jou bogstories sal luister?” vra oom Lukas ergerlik. “Wat gaan van die seuns word as Sanet sou besluit om pad te gee?”

“Maar Lukas, ek het jou mos uitdruklik gesê ek sal jou huishoudster wees en net saans hier langsaan by Elrina slaap, want ek is darem ’n vrou wat my goeie naam moet beskerm. Ek kan dan sommer ’n ogie oor die twee seuntjies hou en sorg dat hulle nie langer ’n oorlas van hulleself by Jean-Pierre en Marie-Louise maak nie. Sodra die skool begin, sal Marie-Louise weer musieklesse gee en dan sal sy nie tyd hê om saam met die tweeling te baljaar nie. Wat sê jy, Sanet? Jy is seker al lankal moeg vir die stil lewe hier op ou Bothasrus, nie waar nie?” vra tant Ellie glimlaggend.

“Ek hou van die lewe op ’n dorpie, tant Ellie,” antwoord Sanet gelykmatig. “Verskoon my, oom Lukas. Ek gaan net kyk waar die tweeling is.”

“O, hulle boer al weer langsaan by Marie-Louise, glo my vry,” kom dit vies van tant Ellie. “Dis waarom ek die hele tyd vir jou oom sê jy is te jonk om die kinders op te pas, want hulle kom en gaan soos hulle wil en maak van hulleself ’n oorlas by die bure. Elrina kan nie meer ’n woord privaat met Jean-Pierre praat nie, want die seuns hang om sy nek en weier om hulle alleen te laat.”

“En dís waaroor jou hele argument gaan, nè, Ellie?” Oom Lukas lag gedemp en staan op. “Nou ja, ons ken nou jou klagte en daarom kan jy nou maar teruggaan huis toe en sorg dat Elrina haar middagete kry. Wat help dit as jy oor die kinders rusie maak, as jy self by jou bure rondlê wanneer dit etenstyd is, hè?”

“Jy kan darem ook so stuitig wees, Lukas Grové … ’n mens kan amper nie glo jy is ’n geleerde man en ’n afgetrede skoolhoof nie,” sê tant Ellie en stap neus in die lug die sitkamer uit.

Terwyl oom Lukas tant Ellie na die voordeur vergesel, glip Sanet in die gang af na die agterdeur. Sy draf deur die boord, klouter op ’n vaatjie en dan bo-op die suidelike ringmuur. Links van haar sien sy die leer waarop Jean-Pierre daardie eerste oggend, byna twee weke gelede, gestaan het, en klim daarmee af in die bure se erf.

Die tweeling het al herhaalde kere met uitnodigings van Marie-Louise om te kom kuier by die huis aangekom, maar tot dusver het sy haarself onder die skoonmakery van oom Lukas se huis begrawe. Die tweeling het haar verskonings aan Marie-Louise oorgedra en sy het laat weet dat sy graag sal kom kuier sodra Sanet haar oornooi.

Sy het gehoop om die besoek aan Marie-Louise so lank moontlik uit te stel, want sy wil nie toevallig in Jean-Pierre vasloop en later hoor dat sy by haar buurman kuier nie, maar ná tant Ellie se klagtes is sy verplig om oor die tweeling se kuiertjies met Marie-Louise te praat.

Sanet hoor die tweeling se skril stemmetjies terwyl sy die agterdeur nader, huiwer voor die toe onderdeur en kyk vas in die warm, vriendelike gelaat van ’n meisie met besondere diepblou oë en swart hare soos Jean-Pierre. Iets aan die vorm van haar gesig herinner ook aan hom, maar haar gelaatstrekke is vroulik fyn soos haar kort, skraal figuurtjie. Jean-Pierre het haar verniet ’n sprinkaan genoem, want sy suster is niks vetter as sy nie, dink Sanet en glimlag spontaan vir die meisie.

“Jy is definitief Sanet Grové,” sê Marie-Louise en kom nader om die onderdeur oop te maak. “Jean-Pierre het jou haarfyn beskryf. Hallo, Sanet. Kom binne. Ek is Marie-Louise.”

“Bly te kenne,” glimlag Sanet en frons toe sy Gerrie en Peet aan die kombuistafel gewaar, besig om toebroodjies en koeldrank te eet. “Maar kom julle nie by die huis eet nie?” vra sy.

“ ’n Mens wonder, nè?” vra ’n stem wat Sanet nie verwag het nie, en sy draai na die gangdeur en sien Elrina teen die deurkosyn aanleun, elegant in ’n tabberd wat haar effens vol figuur vlei en haar dun middeltjie beklemtoon. “Maar dis hoe Marie-Louise is. Sy ontferm haar oor die wesies terwyl Jean-Pierre hom oor hulle tannie ontferm.”

“Het ek ontferming nodig?” vra Sanet ingehoue.

“Jean-Pierre meen so. Hy weet van die verskriklike liefdesteleurstelling wat jy gehad het. Daarom doen hy sy bes om jou op te beur en ’n bietjie aandag aan jou te gee. Hy vertel my jy het ’n kompleks oorgehou. Wat presies het gebeur?” vra Elrina en wag belangstellend op Sanet se antwoord.

Schalkie van Wyk Keur 9

Подняться наверх