Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk - Страница 10

Оглавление

6

Erika kom vinnig orent langs die kombuistafel, skok en drif afwisselend op haar gelaat terwyl sy Wilhelm in verbysterde stilte aanstaar.

“Jy en Riaan, Erika?” Morné klink verbaas. “Snaaks, hy het niks aan my gesê nie en ons sien mekaar nogal dikwels.”

“Sommige dinge bespreek ’n man nie eens met sy beste vriende nie,” sê Wilhelm bruusk en draai sy kop na die gang toe hy stemme hoor. “Hier kom hulle nou . . . Riaan en tant Sophia,” waarsku hy gedemp, sy blik op Erika.

Sy hoor Sophia se besorgde stem, luister na Riaan se helder lag en weifel nie langer nie.

“Kom, Morné! Ek vergesel jou na jou motor,” sê sy gejaag, gryp sy hand en trek hom agter haar aan na die agterdeur terwyl sy dringend oor haar skouer fluister: “Maak net gou, man! Toe, hardloop, Morné!”

Morné lag gedemp, klap die agterdeur agter hom dig en draf hand aan hand saam met Erika na waar sy geel bakkie onder ’n blaarlose eikeboom geparkeer staan. Hulle bereik die bakkie, hyg na hulle asem, kyk in mekaar se oë en skaterlag soos twee sorgelose kinders. Dan versober hulle en hy druk haar hand en los dit dan vinnig, asof hy bang is hy oortree.

“Ons afspraak vir Saterdagaand: ’n ete in ’n hawekafeetjie, of ’n verlowingspartytjie op Drie Eike?” vra hy en kyk haar in die oë.

“Ek wens ek kon sommer net ja gesê het,” antwoord sy en weet sy hardloop weer, vlug nog altyd van haar liefde vir die donker man in die huis agter haar.

“Wie kan jou keer?” vra hy misnoeg, frons en kyk haar dringend aan. “Of is dit Riaan? Is dit waarom jy en Henno hierheen gekom het en Drie Eike gekoop het?”

“Dan weet jy ons het die ou plek gekoop?” vra sy verwonderd.

“Almal weet, want Riaan het dit nie geheim gehou nie. Dis waarom die hele dorp gis oor wat nou gaan gebeur, want die grondbaron het teruggekeer om te eis wat eintlik sy geboortereg is: die oorspronklike opstal op Drie Eike. Is julle bereid om aan hom te verkoop?”

Sy glimlag bedroë.

“Ons het nie ’n keuse nie, want Riaan het tien jaar gelede die opsie om Drie Eike te koop, aan Wilhelm gegee – teen ’n prys, as ek tant Sophia moet glo. Destyds was Riaan pas agtien en klaar met matriek en hy het ’n splinternuwe sportmotor van Wilhelm geëis in ruil vir die eerste opsie op Drie Eike, en hy het dit gekry,” vertel sy.

“Maar dis mos bedrog! Wat het Riaan besiel om die plek aan julle te verkoop?” vra Morné onthuts.

“Ek sal nie kan sê nie.” Sy glimlag halfhartig. “En vir tyd en wyl sal ons van die ete in die hawekafeetjie moet vergeet, want Riaan is terug.”

“En julle raak Saterdagaand verloof?” vra hy, ’n tikkie vyandigheid in sy stem.

“Beslis nie. Ek het Riaan tydens die April-vakansie in Durban ontmoet, maar daar was geen sprake van ’n liefdesverhouding nie. Nou is daar skielik, maar sonder my toestemming. Ek . . . e . . . het net ingestem om Riaan te help en by te staan terwyl hy aansterk, maar ek is nie van plan om aan hom verloof te raak nie,” vertel sy. Sy wonder of sy te veel sê, maar weet intuïtief dat sy vriendskap van ’n onbevooroordeelde man soos Morné in die toekoms nodig sal kry.

“Ek ken Riaan my lewe lank, daarom weet ek hoe hy sal redeneer: speel net siek en kry sy sin.” Hy glimlag skeef. “Dié keer is hy toevallig siek, want ek het hom in die hospitaal besoek. Sê vir hom ek wou nie ’n vyfde wiel aan die wa wees met sy tuiskoms nie, maar ek sal weer kom kuier.”

“Koe-ie! Koe-ie, ou dingetjie, waar draai jy so lank? Ek het al klaar koffie gemaak,” roep Sophia uit die agterdeur.

“Dan ry ek eers. Sien jou, Erika,” groet Morné en klim in sy bakkie.

Erika bly staan om sy bakkie agterna te kyk, gretig om haar ontmoeting met Riaan nog ’n rukkie langer uit te stel, maar Sophia laat weer ’n dringende “Koe-ie!” uit die agterdeur hoor, en sy draai met ’n moedelose sug om en stap huis toe.

Riaan is skraler, maar sy hare is nog ’n donker rooibruin, sy oë groenbruin, wat hom so sterk na Karen laat lyk, en sy gelaatstrekke reëlmatig en aangenaam om na te kyk. Sy het nie gedurende die vakansie gemerk dat sy druipende lippe hom ’n uitdrukking van onvergenoegdheid gee nie, maar moontlik het daar niks in Durban gebeur wat hom rede tot ontevredenheid gegee het nie, dink Erika terwyl sy die voorste sitkamer binnestap en in die deur bly staan.

“Erika!” Riaan kom vinnig orent uit sy stoel, sy glimlag verwelkomend, maar met ’n tikkie onsekerheid in sy oë, asof hy weet hy het nie die volle waarheid oor hulle verhouding vertel nie en nou twyfel aan die ontvangs wat hy sal kry. “Dis wonderlik om jou weer te sien, Erika.”

“Hallo, Riaan. Ek was jammer om te hoor van die ongeluk, maar ek kan sien dit gaan al stukke beter,” antwoord sy en glimlag gewoon, maar gaan nie na hom toe nie, omdat sy tog nie sy hand kan skud nie. Sy stap tot by die koffiewaentjie. “Is dié koppie myne, tant Sophia?” vra sy, intens bewus van Wilhelm wat oorkant haar sit en haar met die konsentrasie van ’n roofvoël dophou.

“Ja, hartjie, maar as dit dalk koud is, skink vir jou ’n ander koppie in. Ek het nie geweet Morné het by jou kom kuier nie,” sê tant Sophia onskuldig.

“Morné? Dan kuier hy hier? Hoe lank ken julle mekaar?” vra Riaan skerp.

“Sedert my aankoms op Drie Eike toe hy na Amalia kom soek het,” antwoord sy kortaf, sien Riaan selfbewus bloos en kyk vas in Wilhelm se koue, berispende oë.

Wat verwag Wilhelm van haar? wonder sy gekrenk. Sy het Riaan maande gelede in Durban gesien en sedertdien was daar geen kontak tussen hulle nie. Riaan voel vir haar vreemder as Morné of selfs die ysige grondbaron, dink sy. Sy glimlag onwillekeurig, maar haar glimlag versteen toe Wilhelm begin praat.

“Gaan jy nie vir Riaan help dat hy sy koffie kan drink nie? Hy is nie in staat om ’n koppie vas te hou nie, daarom moet hy gehelp word.”

“En wat skort met mý ou hande?” vra Sophia geraak. “Nee a, ek het darem mos al die jare vir Riaan help grootmaak, en nou is ek weer hier om die seun te verpleeg en by te staan. Wilhelm, jy was te lank oorsee, daarom weet jy nie meer wat is ’n ordentlike meisie nie. Erika is nog ’n skaam kind, goedgemanierd en op haar plek, en sy weet dis nie haar plig om ’n jong man aan wie sy nie eens verloof is, te verpleeg nie,” vervolg sy teregwysend.

Erika sug verlig en glimlag vermakerig toe haar oë dié van Wilhelm vang.

“Riaan het op pad huis toe gepraat van planne om Sater­dagaand –” begin Wilhelm en sien hoe vinnig Erika se glimlag op die vlug slaan.

“Ek kan my eie praatwerk doen, Wilhelm,” val Riaan hom onvergenoeg in die rede. “Dankie, tant Sophia, ek sal nie nou koffie drink nie. Ek is moeg van die rit. Sal Tannie my help om my nagklere aan te trek? Dis tog al laat en dit het reeds weer begin reën.”

“Ek sal jou help,” bied Wilhelm aan, staan op en stap saam met Riaan die vertrek uit.

“Dis hoe dit was toe hulle nog seuns saam in die huis was,” vertel tant Sophia. “Wilhelm had altyd die jonger Riaan beskerm, en met verloop van tyd het Riaan begin dink hy kan maar doen wat hy wil, want sy ouboet sou altyd regmaak wat hy verbrou het. Soos nou met Drie Eike ook. Riaan het maar alte goed geweet hy doen nie die regte ding nie, maar hy het hom nie daaraan gesteur nie. Nee, hy wou ’n boot koop, en julle geld was goed genoeg daarvoor.”

“Ons sal maar wag totdat Riaan weer heeltemal gesond is voordat ons oor Drie Eike praat,” sê Erika. “Wilhelm wil nie hê ons moet Riaan ontstel nie.”

“Riaan raak net ontsteld wanneer dit hom pas – soos nou, toe hy besluit het hy wil jou hê. Jy moes sy praatjies in die motor gehoor het; ek was sommer lus en klap die mannetjie se ore warm, want soos hy te kere gaan, het hy klaar al kaart en transport vir jou ook, ou dingetjie. Maar dis nie vir hóm wat jy liefhet nie?” vra Sophia, haar blik deurdringend op die blosende Erika.

“E . . . e . . . dink nog nie aan trou nie, Tannie,” verweer sy halfhartig.

“Natuurlik nie, want ons weet nog nie wat Wilhelm wil doen nie.” Sophia skud haar kop meewarig. “Tsk, tsk, jy het kwaai kompetisie, ou diertjie. Daar is die vryerige Amalia wat my alte veel aan ’n klimop of ’n rankpampoen herinner, want sy rank mos ’n man toe as sy besluit sy is verlief op hom; en dan is daar Minette du Toit wat nou weer in die huweliksmark is.”

“Dink Tannie Wilhelm sal met Minette trou?” vra Erika gelykmatig.

“Hô-hô-hô,” lag Bartel met sy kamma basstem en loer saam met Jackie met haar maskergesiggie oor die rugleuning van die rusbank waarop Sophia sit.

“Hiert, jou satanskind!” krys Sophia en laat haar halfleë koppie op haar piering omkantel. “Ou dingetjie, help gou hier. Kyk nou net hoe bemors ek myself, en dit net oor ’n duiwelse jongetjieskind! Kom hô-hô-hô jy net weer een keer in my ore, Bartel, en ek klap jou sitvlak vuurwarm!” raas Sophia, haar lippe nog trillend van skrik.

“Tannie kan darem hard skree en vloek, amper net so goed soos my ouma Esmé. Maar my ouma sê nie net Satan en duiwel nie, weet Tannie? Sy sê ook –” vertel hy gretig.

“Bartel!” Erika kyk hom berispend aan terwyl sy Sophia se koppie en piering op die koffiewaentjie neersit. “Ons wil nie hoor wat jou ouma Esmé sê nie, maar ons sal graag wil weet waarom kruip jy en Jackie agter die rusbank weg. Luister julle grootmense se geselskap af?” vra sy streng.

“Tannie Erika, man, het Tannie hom nie gesien nie? Hy het sulke lang, geel tande en ’n swart baard en swart oë gehad, en . . . en hy het ’n blink, skerp mes tussen sy tande vasgebyt en ’n handgranaat in sy linkerhand en ’n swaard in sy regterhand gehad, en toe –” beskryf Bartel sy denkbeeldige vyand geesdriftig.

“Die waarheid, Bartel. Dis nie nou storietyd nie,” val Erika hom ferm in die rede.

Hy sug oorwonne en haal sy skouers op.

“Dan moet Jackie maar vertel, want ek skaam my morsdood as ek dit moet sê. Maar dit was Jackie se plan, want net meisiekinders kan aan sulke lawwe speletjies dink,” sê hy vies en bloos verleë.

“Dis nie ’n speletjie nie, dis ’n liedjie,” sê Jackie geraak. “Ek het vir Bartel gesê ons moet vir oom Riaan ‘Welkom, Omie, welkom, Tannie’ sing, en toe sê hy ja. Maar toe almal in die sitkamer sit en praat, toe kry ons skaam en vergeet van die liedjie. Daar was nie eens ’n man met geel tande en ’n swart baard nie, nè, Bartel?”

“Ag, man, dis mos net ’n storie!” Hy gluur haar vies aan en kyk nuuskierig na Sophia. “Tant Sofie –”

“Nie Sofie nie, kind, Sophia met ’n ph!” val Sophia hom streng in die rede. “Ek kan my so vervies as iemand my Sofie of Soufie noem, so asof ek nie ’n doopnaam het nie. Ja, Bartel, wat wil jy nou weer hê?”

“As my ma nou met oom Wilhelm trou, is ek dan sy swaer?” vra hy belangstellend.

“Red nou ’n volk . . .” kom dit oorbluf van Sophia terwyl Erika vergeefs ’n proeslaggie probeer smoor. “Bartel, vergeet jy nou maar van die grootmensdinge en gaan speel liewer. Ek dink tog jy het nou lank genoeg op Drie Eike gekuier, want jou ouma Esmé bel my elke oggend om te hoor of ons jou nog nie mishandel het nie. Jy moet môre terug huis toe, verstaan?”

Dis asof die kinders dit afgespreek het, want albei bars gelyktydig in trane uit, skuif om die rusbank en kom kniel weerskante van Erika se stoel. Sy tel die jonger Jackie op haar skoot en voel die wit masker klam word teen haar nek terwyl Jackie se hele liggaampie onbedaarlik ruk.

“Seblief, tannie Erika, ek wil nie weggaan nie!” huil Bartel skaamteloos en klou Erika se linkerarm vas, sy oë pleitend op haar gesig. “Wat van my mooi boek, Tannie? Ouma Esmé sal nooit my mooi stories neerskryf nie. Sy sê net altyd ek jok en die duiwel gaan my vang . . . sy weet niks van stories nie! Moenie dat tant Sophia my wegjaag nie!”

“Haai, ou dingetjie, waar skaam ek my morsdood vir my groot mond,” kom dit oorstelp van Sophia. “Bartel, boetie, ek het sowaar nie geweet jy kuier so lekker by ons nie . . . en dat Erika jou so mooi met jou stories help nie. En klein Jackie ook . . . Ag, my hart, wat huil die kinders dan so verdrietig?”

“Hy is my . . . maatjie,” snik Jackie in Erika se nek. “Hy vertel my . . . baie stories!”

“Nou ja, dan bly jy hier, Bartel.” Sophia kyk ongemaklik na Erika. “En jy sal ook moet bly, ou kindjie, want ek sal al my aandag aan Riaan moet gee tot tyd en wyl hy weer gesond is. Jy sal bly en met die kleintjies help, Erika?”

“Ek sal ook bly en tannie Erika met Jackie help,” bied Bartel hulpvaardig aan, sy trane vergete. “Ek pas haar darem baie mooi op, nè, Tannie? Dalk gee die polisie vir my ’n medalje omdat ek Jackie so mooi oppas . . . Het ek al vir Tannie vertel ek het ’n medalje gekry toe ek ses rowers met my een hand –”

“Ja, Bartel, jy het, en dit was ’n baie mooi storie. Toe, gaan skink jy vir julle elkeen ’n glas druiwesap en elkeen mag twee koekies uit die koekieblik kry, want dis byna tyd vir aandete. Reg?” vra Erika.

“Ek sal die koekies tel, Tannie,” sê Jackie en klim van haar skoot af. “Partykeer sukkel Bartel om te tel, en dan vat hy sommer ses koekies.”

“Dit was seker net ’n ongeluk, want ek weet Bartel kan goed tel,” sê Erika ernstig, haar blik op Bartel.

“Ek verstaan dit nie,” kom dit verwonderd van Sophia. “Ou Esmé dreig om die kind koshuis toe te stuur, want sy sê hy jok wanneer hy sy mond oopmaak en hy steek haar heeldag en aldag in die skande. Maar hier by ons is die kind anders. Kyk hoe mooi pas hy klein Jackie op en hy is altyd fluks om vir my ’n werkie te doen. Dis jý, nè, Erika? Jy had hom geleer dat jok net stories is wat ’n mens neerskryf, maar dat ’n mens die waarheid onder mekaar praat.”

“Ek hoop ek leer hom dit, want toe hy hier aangekom het, was hy self skaam oor sy leuens, daarom het hy net erger gejok. Dis asof hy nou met sy jokstories kan saamleef, omdat hy nie meer skuldig voel oor die stories wat hy eintlik maar vertel het om aandag te trek nie. ’n Mens doen wonderlike dinge om liefde te kry, want dis tog waarna Bartel soek,” antwoord sy mymerend en onthou: sy skree op Wilhelm. Skree sy omdat sy ook sy liefde soek?

“Nou ja, dan gaan bel ek maar vir ou Esmé en stel haar gerus. Dalk wil die ou mens ook êrens vir ’n dag of drie gaan kuier, en as sy weet Bartel is versorg, hoef sy haar nie te bekommer nie. Sal jy die koffiewaentjie kombuis toe neem, ou diertjie?” vra Sophia en kom orent.

“Ja, Tannie,” antwoord sy gewillig, haar blik op die stortende reën anderkant die vensterruite.

Sy staan op, stap na die venster en kyk hoe die eerste skemering die reën grys kleur en swart saamkoek onder bome en struike en in die vensters en deure van die oostelike vleuel. Sy sien ’n deur oopgaan op die eerste verdieping en hoe Wilhelm uitstap op die oop balkon.

Hy staan in die reën, sy gesig stroef en donker soos die komende nag, sy oë hemelwaarts gerig.

Sy hou hom dop en wonder wat hom uitgedryf het in die reën en donker. Maar dan voel sy asof sy oortree, draai weg van die venster en stoot die koffiewaentjie die sitkamer uit.

“Jy het hom nie lief nie.”

Erika byt op haar onderlip, laat haar blik sku oor Wilhelm se beskuldigende gelaat gly, en staar stip na die blommerangskikking wat sy oomblikke gelede op die koffietafel neergesit het.

“Ek was eerlik met jou,” antwoord sy gedemp. “Ek het jou gesê hoe ek oor hom voel.”

“Dis Morné, nè?” vra hy bars, en sy kyk verras op na hom en wonder oor die nouliks onderdrukte woede in sy stem. “Was dit liefde met die eerste oogopslag? Is hy die held op die wit perd op wie jy jou lewe lank al wag?”

Hy is kwaad omdat sy iemand bo Riaan verkies, nie omdat haar verraderlike hart onvoorwaardelik aan hom behoort nie, dink sy en krimp ineen voor die ironie van die situasie. Hy glo sy het Morné Venter liefgekry . . . daarom sal dit so moet wees, want sy het Morné se skans nodig waaragter sy haar liefde vir Wilhelm kan verskuil hou.

“Ek glo nie my en Morné se verhouding het in hierdie stadium enigiets met jou of Riaan te doen nie,” antwoord sy gelykmatig. “Ek het beloof om Riaan by te staan, maar daar is geen sprake van ’n verlowing tussen ons nie . . . Het hy gevra dat ek na hom toe moet gaan?”

“Hy vra sedert hy vanoggend wakker geword het dat jy hom moet besoek, maar jou werk as huishoudster is ’n goeie verskoning om hom te vermy. Hy is in die eerste sitkamer waar ons gistermiddag gesels het. Ek het hom belowe jy sal hom vanmiddag geselskap hou – of kom Morné weer kuier?” vra hy bytend.

Sy snedigheid trek haar ruggraat agteroor en haar ken lig uitdagend, haar oë vonkend in syne.

“As ek reg onthou, besit ek ’n vyftigpersentaandeel in Drie Eike, en die ander vyftig persent behoort aan Henno,” begin sy met grimmige nadruk. “Met ander woorde, Wilhelm, jy is op die oomblik mý kuiergas, nie my werkgewer nie. Wat jou broer betref: ek doen jou en hom ’n guns as ek vriendelik is met hom, want eintlik wil ek al my glimlaggies vir Morné bêre – of vir ander mense wat dit kan waardeer, soos tant Sophia en die kinders. En weet jy wat doen jy, Wilhelm? Jy maak asof jy my ook gekoop het, asof ek net nóg ’n stukkie wynland is wat jy tot jou eie voordeel kan gebruik. Jy, Wilhelm, is ’n ondraaglike, ondankbare ou duiwel!”

Sy druk haar neus in die lug, begin wegstap, hoog in haar skik dat sy hom so behoorlik op sy plek gesit het, en skrik haar asem weg toe hy haar aan die arm gryp, vinnig omswaai en in sy arms neem. Hy soen haar voordat sy tot verhaal kan kom en sy voel hoe haar weerstand verkrummel, want sy ervaar ’n ekstatiese genot waarvan sy tot dusver onbewus was. Realiteit duisel weg in eindelose dieptes terwyl sy toegee aan die roepstem van haar hart. Haar hande kruip om sy nek, dwing hom nader, terwyl ’n sagte kreun oor haar lippe stoot.

Die klank van haar stem ruk haar terug tot die werklikheid en haar liggaam verstok in sy arms. Dan spartel sy wild uit sy omhelsing.

Hy los haar skielik en glimlag sardonies, terwyl sy met bewende vingers haar klere regtrek en oor haar hare voel.

“Ons het net gesoen, Erika, nie rugby gespeel nie,” sê hy en sy oë is sterre van dansende lag. “Voortaan kan jy al jou glimlaggies vir Morné gee, maar bêre jou soene net vir my,” voeg hy treiterend by, draai om en stap die vertrek met lang, selfversekerde treë uit, sy koggelende lag in haar ore.

Sy soek na iets slim en gevat om te sê, maar haar tong is ineens dom en haar lippe prikkel nog ná die aanraking van sy lippe op hare.

“Hô-hô-hô!” lag Bartel uit die hoek agter die een rusbank en kom orent, ’n boek en ’n potlood in sy hand. “Dis nou ’n gril van die noodlot, nè, tannie Erika?”

“Bartel, jy is veels te klein om iets van die grille van die noodlot af te weet!” bars Erika uit, haar wange vlammend van die verleentheid omdat hy heel waarskynlik ’n ooggetuie van daardie bandelose soen was. “Wat soek jy al weer agter ’n rusbank?”

“Tannie kan darem vreeslik kwaai wees, en Tannie is nog so jonk,” sê hy verwytend. “My ouma Esmé is ook kwaai, maar sy is stokoud en sy het al lank geoefen. Sy sê dis ’n gril van die noodlot dat my ma nooit met die grondbaron getroud is nie, want die grondbaron sukkel nou al jare lank om ’n vrou te kry. En nou gril die noodlot weer, want hier is die grondbaron terug op die dorp, en waar sit my ma? Net die kabouters sal weet, want my lui ma sal nie haar hand lig om vir my arme ouma Esmé drie reëltjies te skryf nie. Dis wat my ouma Esmé sê.”

Mag die kabouters nooit vir Minette du Toit sê Wilhelm is terug op Bergvallei nie, hoop Erika vuriglik en wonder weer of Bartel gesien het toe Wilhelm haar soen.

“Wat soek jy agter die rusbank, Bartel? Is Jackie by jou?” vra sy ongeduldig.

“Dis my studeerkamer,” antwoord Bartel en beduie met sy hand wat die potlood vashou. “Gister het Tannie my uit die ander sitkamer gejaag, toe kom maak ek vir my hier ’n studeerkamer, want ek skryf nou my eie boek ook, sodat ek vanaand vir Jackie ’n storie kan lees. Mag ek nou nêrens vir my ’n studeerkamer maak nie, hè, Tannie? Tannie moet net sê as ek nie welkom is nie, want dan pak ek my tas en gaan bly by ons ouderling.”

“Julle ouderling?” vra Erika verslae.

“Ja, oom Hercules Otto. Hy het gesê ek kan maar by hom kom bly, want hy het nie kinders of kraaie nie, net ’n papegaai en ’n hond. En hy het ’n ogie op my ouma en ons plaas, La Rochelle, maar gelukkig weet my ouma Esmé dit, en nou hou sy hom aan ’n lyntjie sodat hy altyd vir haar los werkies in die tuin en die huis doen.”

“Genade . . . Bartel, met jou kennis behoort jy ’n treffer te skryf. Wat is jou storie se naam?” vra sy oorbluf.

“Die bloed loop oor die pad,” lees Bartel moeitevol sy eie handskrif, kyk op en merk Erika se uitdrukking van misnoeë, lag dan diep uit sy maag. “Hô-hô-hô! Ek het geweet Tannie sal gril!”

“Waar het jy daardie aaklige lag geleer, Bartel?” vra sy, geruster dat hy tog nie haar en Wilhelm se soen gesien het nie, want hy maak geen melding daarvan nie.

“Dis my geheime lag,” antwoord Bartel, geensins van stryk gebring nie. “As die rowers my in die donker in ’n hoekie vaskeer, dan lag ek net so: hô-hô-hô! en dan dink hulle ek is ’n groot sterk reus wat hulle sommer met een hou so kadoef! onderstebo sal klap. Hoor, Tannie, ek klink nes ons ouderling: hô-hô-hô!”

“Uitmuntend,” sê sy met die nodige bewondering en draai na die deur toe. “Gaan skryf maar solank jou storie verder, want ek gaan nou met oom Riaan gesels.”

Erika frons verwonderd toe sy by die eerste sitkamer inloer, die kaggelvuur gesellig sien brand, maar geen teken van Riaan gewaar nie. Sy draai om om na hom te gaan soek, maar bly staan toe sy harde stemme op die voorstoep hoor. Sy herken Karen en Kallie se stemme en stap vinnig na die voordeur toe en maak dit oop.

“. . . word nou soos hulle!” smaal Kallie wat met sy rug na die voordeur gekeer staan. “Is dit die grondbaron wat jou skielik wysgemaak het jy is beter as ek? As dit nie vir jou skelm broer was nie, kon ek ook nou ’n plaas gehad het, hoor jy? Dis julle spul inhalige Van Vollenhovens wat die grond opvreet soos sprinkane, wat ander mense van hulle plase verdryf en van ons arbeiders maak! Vra my, want ek weet!”

“Ek het niks met Wilhelm of sy grond te doen nie, Kallie,” antwoord Karen wat ’n tree van hom af staan en oor die voortuin uitkyk. “Ek het net gesê ek gaan nie môre saam met jou uit nie, want ek en Amalia gaan perdry.”

“Die hele Saterdag, van sonop tot sononder? En as dit reën? Wat maak jy dan?” vra hy nydig.

“Dit reën nooit die hele dag nie en ’n bietjie reën skrik my in elk geval nie af nie. Ek sal natter word op jou motor­fiets as op ’n perd se rug. Maar ek het klaar gesê: ek gaan nie saam Kaapstad toe nie . . . nie op jou motorfiets nie,” antwoord Karen beslis.

“O, nou moet die barones ’n motor en ’n chauffeur hê? Waarom het u nie eerder gevra nie, U Hoogheid? Ek is tot u diens, Barones,” spot hy en maak ’n diep buiging voor haar.

Erika sien ’n gloed van drif oor Erika se gesig stoot, sien haar omswaai en haar hand lig asof sy Kallie wil klap, en sy storm nader.

“Nee, Karen!” roep sy en weer die klap betyds af deur Karen se hand vas te gryp. “As Kallie dan so graag wil glo jy is van die adelstand, wys hom dat dit waar is,” sê sy paaiend en kyk met onverbloemde minagting na hom. “Ek sou sê jy het jou lank genoeg aan Karen opgedring, Kallie. Sy is nie môre beskikbaar nie en solank sy ’n skooldogter is, sal Wilhelm nie weer toelaat dat sy saam met jou op jou motor­fiets rondry nie. Kom ons laat dit maar daar.”

“ ’n Mens kan sommer hoor jy is ’n onderwyseres,” sê hy neerhalend en betrag haar tydsaam van kop tot tone. “Maar jy is nogal ’n oulike dingetjie. Hoe lyk dit: kom jý nie saam met my nie? Die ou grondbaron is veels te oud vir jou.”

“Tot siens, Kallie,” groet Erika met ’n vriendelike glimlag, vat Karen aan die arm en stap saam met haar die huis binne.

Hulle hoor die motorfiets wegdreun toe Erika die voordeur agter hulle toemaak.

“Dankie.” Karen lyk ongemaklik. “Riaan is studeerkamer toe. Hy het gevra waar jy is.”

“Ek was op soek na hom toe ek jou en Kallie hoor twis het.” Erika kyk Karen vraend aan. “Dan stel jy nie meer in Kallie belang nie?” vra sy verwonderd.

“E . . . ek het werklik ’n afspraak om te gaan perdry,” antwoord sy ontwykend en stap vinnig deur die voorportaal weg na die gang.

Erika volg haar tydsaam, sien die studeerkamerdeur oopstaan en stoot dit wyer oop. Sy stap binne en trek haar asem skerp in toe sy Riaan en Amalia in mekaar se arms sien staan terwyl hulle mekaar met volle oorgawe soen.

Schalkie van Wyk Keur 10

Подняться наверх