Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk - Страница 7
Оглавление3
Skok oor die skielike wending van sake laat Erika willoos staan terwyl Kallie sy arms om haar slaan, haar ru teen sy motorfiets aantrek en haar vol op haar lippe soen.
Die verblindende ligstraal van die flits op haar en Kallie laat haar weer in beweging kom, en sy ruk haar met geweld uit die vreemde jong man se omhelsing los.
“Vervlaks, man, ek weet nie eens wie jy is nie!” roep sy vuurwarm van ergernis uit en onderdruk met moeite die begeerte om Kallie se ore warm te klap. Sy ruk haar kop op en kyk na die onsigbare figuur agter die lig van die flits. “En jy, onnosel, kan gerus elders gaan jag! Ons is nie springhase nie.”
“Erika . . . Erika . . .” sê Wilhelm en sy hoor die treiterende lag in sy stem. “Rits jy saam met jong mans wat jy by ’n disko opgetel het, op hulle motorfietse rond? En nogal dié tyd van die oggend? Ek dag ek sal jou vra om Karen ten goede te beïnvloed, maar nou . . .” Hy sug teleurgesteld.
“Maar is jy dan heeltemal simpel?” skree Erika en skrik vir die volume van haar eie stem. Daar doen sy dit al weer: skree die hele Bergvallei om halftwee in die oggend wakker – en dit net omdat sy Wilhelm van Vollenhoven nie voor haar oë kan verdra nie.
Of is dit dalk die liefde wat haar onverhoeds bekruip het, soos Sophia beweer?
O nee, sy was darem al meer as een keer verlief, en gewoonlik was sy sag en dierbaar en inskiklik en te gretig om die man in haar lewe gelukkig te maak. Wilhelm maak ’n duiwel in haar wakker, want met hom in die nabyheid rys haar nekhare en begin sy skree.
“Ek wag, Erika,” praat Wilhelm anderkant haar gedagtewêreld. “Jy wil nie dalk beweer dat jy nie saam met die jong man uit was nie? Moet ek nou glo dat jy en Karen ’n kêrel deel?”
“Wie is Karen?” vra Kallie vinnig.
Erika se oë het gewoond geraak aan die donker en in die lig van die sterre sien sy hoe Wilhelm afkyk na Kallie en glimlag.
“Slim seun,” prys hy. “Onthou net in die toekoms dat die meisies in my huis klokslag om twaalfuur by die voordeur afgelaai moet word. Daarby leen jy jou pa se motor as jy Erika weer wil uitneem, want ek laat nie my familie of my werknemers toe om agter op motorfietse rond te rits nie,” vervolg hy nadruklik.
“O, nou is ’n motorfiets nie goed genoeg vir die grondbaron se mense nie?” vra Kallie nydig. “As jy nie my pa van sy grond af verdryf het nie, sou hy nie nou ’n sukkelbestaan as ’n garage-eienaar gemaak het nie. Onthou dit, Van Vollenhoven!”
“Kallie Brink, nie waar nie?” vra Wilhelm nadenkend. “Oom Naas Davel het julle plaas, Boschrand, sowat agt jaar gelede vir my aangekoop. Ek hoor die garage floreer, daarom sal jy seker makliker ’n motor kan leen. Nag, Kallie.”
Kallie se verwensings word deur die gebrul van die motorfietsenjin onverstaanbaar gemaak, maar Erika hoor nog ’n finale “grondbaron!” voordat hy met sy motorfiets terugjaag in die rigting van die slapende dorp.
Grondbaron. Iemand moes die bynaam aan Wilhelm gegee het, iemand wat moontlik ook teen wil en dank sy plaas moes afstaan, dink Erika en betrag Wilhelm met groot, wantrouige oë. Sy het uit die staanspoor gedink hy lyk soos ’n duiwel, maar ’n man wat ander mense van hulle grond af verdryf . . . Dis vreemd hoe teleurgesteld sy oor die brokkie inligting voel, seker maar omdat sy nie wil sleg dink van die liewe Sophia se familie nie, maak sy haarself wys.
“Erika, luister jy dan nie?” vra Wilhelm en lê sy hand liggies op haar arm bokant haar elmboog. “Ek wou net geweet het hoe lank ken jy al vir Kallie Brink?”
Wat besiel die man om haar aan die arm te vat? dink Erika kortasem van ontsteltenis. Dis die eerste maal dat hy haar aanraak, daarom is selfs sý verbaas oor die onverklaarbare uitwerking van sy aanraking op haar asemhalingstelsel.
“Dis koud!” sê sy stram, terwyl sy saam met hom aanstap in die lang rylaan na die groot ou woning.
“Is dit?” vra hy, hou haar nog met sy linkerhand vas en voel met die vingerpunte van sy regterhand oor haar gesig. “Ek het verwag jou neus sou verkluim wees ná jou rit agter op die motorfiets, maar jy is glad nie koud nie,” sê hy verras.
“E . . . ek is warmbloedig,” verweer sy en wonder waarom sy die ondankbare Karen probeer beskerm.
“Regtig?” vra hy belangstellend. “Ek het nog nooit vantevore ’n warmbloedige huishoudster gehad nie, maar ek sien daarna uit om –”
“Meneer Van Vollenhoven!” skree sy, besef dat sy skree, maar gee nie meer om nie. “Los nou my arm sodat ek kan gaan slaap. Dis byna twee-uur in die oggend en ek is doodmoeg en halfpad aan die slaap op my voete. Kan ons môre hierdie sinnelose gesprek voortsit?”
“Liewer nie,” antwoord hy, sy stem ineens streng en afkeurend. “Ek het op tant Sophia se versoek wakker gebly om op Karen se terugkeer te wag, maar in plaas van my suster, tref ek jou toe saam met ’n onsmaaklike jong man in ’n tere omhelsing aan. Ek sal so iets nie duld nie, want as Karen se senior en boonop ’n onderwyseres, verwag ek dat jy vir haar ’n goeie voorbeeld sal wees. Daarom sal jy voortaan jou vriende met groter kieskeurigheid kies en sorg dat jy om middernag tuis is – per motor, nie op ’n motorfiets wat al die huismense wakker raas en jou eie lewe in gevaar stel nie.”
“Maar wat laat jou dink dat ek . . .?” bars sy diep beledig uit omdat hy kan glo sy jakker saam met ’n olierige jong man soos Kallie rond, en sy byt byna haar tong af toe sy besef dat sy Karen nie kan verraai nie.
“Jy wou sê, Erika?” vra hy, ’n dringende ondertoon in sy stem terwyl hy die houvas op haar arm versterk.
“E . . . e . . .” Haar oë soek wild rond na ’n onderwerp om oor te praat en sy kyk op na hom, hou nie van sy gesigsuitdrukking nie, en soek dan hoër op na hulp. “Daar is darem vreeslik baie sterre vanaand, meneer Van Vollenhoven,” sê sy met ’n yl stemmetjie.
“Inderdaad, juffrou Marais, maar hoe romanties jou uitnodiging ook al klink, ek kry te koud om saam met jou sterre te tel. Sal ons stap?” vra hy met onberispelike hoflikheid.
“Oe . . . oeg!” krys sy gesmoord.
Sy ruk haar arm uit sy houvas los en hardloop in die rylaan op na die voordeur, oortuig daarvan dat sy moord sal pleeg as sy ’n oomblik langer in die geselskap van die hovaardige “grondbaron” moet deurbring.
Erika raak bewus van ’n beweging langs haar bed, maak haar oë slaperig oop en ruk orent toe sy die son helder deur haar slaapkamervenster sien skyn.
“Goeistetjie, ek het skoon verslaap! Môre, tant Sophia. Hoe laat is dit? Hoekom het Tannie my nie wakker gemaak nie?” vra Erika verskrik, raap haar polshorlosie van die bedkassie op en kreun ontsteld: “Amper halftien! En ek is ’n huishoudster!”
“Net ’n moeë kind, ou dingetjie, soos Wilhelm ook gesê het toe ek en hy net na sewe-uur vanoggend hier by jou kamer ingeloer het. Môre, Erika. Toe, drink nou jou koffie sodat jy behoorlik kan wakker word,” nooi Sophia wat ’n koppie koffie op die bedkassie neergesit het.
Erika kyk af na haar nagklere, voel oneindig dankbaar dat sy warm, dik winternagklere dra, maar kry nogtans kleur op kleur by die gedagte dat Wilhelm haar dopgehou het terwyl sy geslaap het.
“Is dít wat hy gesê het? Dat ek ’n moeë kind is?” vra sy en proe aan haar koffie, te skaam om Sophia in die oë te kyk.
“Ja, ou kindjie, en dis nou weer ’n ander ding waaroor ek my kwel.” Sophia sug diep en wag totdat Erika haar vraend aankyk voordat sy verduidelik. “Die Brink-seun, jong Kallie . . . hoe ken jy hom? En hoekom het jy my niks gesê dat jy gisteraand saam met hom sou uitgaan nie? Sien, dis nou nie dat ek rêrig nuuskierig is nie, maar sommerso op my nugter maag kom bestook Wilhelm my met ’n mond vol vrae oor hoe lank jy en Kallie al saam uitgaan en hoe ernstig julle verhouding is en of jy binnekort gaan trou. En daar sit ek toe met my mond vol winkeltande en ek wis van geen sout of water nie. Haai, ou dingetjie, ek het lank laas so ’n yslike pampoen gevoel.”
“Ja, Tannie,” sê Erika simpatiek en plaas haar leë koppie op haar bedkassie neer. “Hy doen dit aan my ook, Tannie: hy laat my soos ’n pampoen voel.”
“Van wie praat ons nou, ou diertjie? Kallie of Wilhelm?” vra Sophia onbegrypend.
Erika kyk na haar toe kamerdeur en dan na Sophia en sug oorwonne.
“Ek ken nie vir Kallie nie, Tannie. Ek het hom eers halftwee vanoggend by die ingang tot Drie Eike ontmoet,” vertel sy.
“Haai, so laat, Erika? Maar kon jy darem nie julle afspraak ’n bietjie vroeër gereël het nie? Of was jy te besig?” vra Sophia verwonderd.
“Dis Karen, tant Sophia.” Erika sluk en kyk Sophia pleitend aan. “Ek het gehoop ek sal Karen se vertroue kan wen as ek haar en haar vriend inwag en haar waarsku dat Wilhelm nog nie gaan slaap het nie. Ek het hulle daar by die ingang voorgekeer, maar Wilhelm het seker ook die motorfiets gehoor, want toe kom hy met ’n flits in sy hand aangestap. Karen het van die motorfiets afgespring en tussen die bome en struike in verdwyn, en toe betrap Wilhelm my saam met Kallie.”
“En jy sê hom toe nie die waarheid nie?”
“Hoe kon ek, Tannie? As ek Karen gisternag verraai het, sou ons uit die staanspoor vyande gewees het. Nou hoop ek sy sal glo ek is aan haar kant en dat ek mettertyd haar vertroueling sal word. Sy gaan tog nie vir my luister bloot omdat ek ’n onderwyseres is nie,” redeneer Erika nugter.
“Nou wil jy meer . . . Ek het nooit so daaraan gedink nie, maar miskien sal Karen meer in haar spoor trap noudat Wilhelm eindelik teruggekeer het huis toe.” Sophia swyg, ’n mymerende lig in haar oë. “Tien jaar . . . ’n hele dekade, en dit oor ’n dom vrou soos Minette du Toit.”
“Bartel se ma?” vra Erika skerp.
“Ja, die einste klein Bartel se ma. Hy lyk nou wel meer na sy oorlede pa, maar dis duidelik dat hy na sy bedrieër van ’n ma aard. Maar aan die ander kant . . .” Sophia skud haar kop en sug weer. “Die kind het ook so ’n snaakse lewe gelei, selfs toe Daniël nog geleef het. Daniël was ’n skatryk sakeman en in- en uitvoer was sy besigheid, daarom was hy dikwels oorsee. Eers het Minette hom vergesel, maar later het elkeen sy eie koers gekies: hy om te werk en sy om vakansie te hou.”
“En Bartel dan?” vra Erika. Sy dwing haarself om op die kind te konsentreer, want sy wil nie daaraan dink dat Wilhelm moontlik eenkeer Minette du Toit liefgehad het nie.
“Bartel het eers ’n verpleegster gehad wat hom versorg het, maar later het Minette hom hier op Bergvallei by sy ouma Esmé kom aflaai. Wag, laat ek nou mooi uitreken: Esmé se man, Jacques, is nou vyf, ses jaar gelede dood en tot en met sy afsterwe het hulle nog op hulle wynplaas, La Rochelle, gewoon. Daarna het Esmé dorp toe getrek en ’n huisie daar naby my in Kerkstraat gekoop, en jong Morné Venter het plaasbestuurder op La Rochelle geword.”
“Dan woon Bartel nog al die jare by sy ouma?” vra Erika, geskok oor die liefdeloosheid van sy ouers teenoor hom.
“Eers was dit so dan en wan, maar toe hy begin skoolgaan, het Minette en Daniël besluit dit sal hulle beter pas as hy permanent by sy ouma bly. Daniël se werk het hom tydig en ontydig van die huis af weggehou en Minette was van kleins af soos ’n rooimier – dan hier en dan daar. Sy het rondgerits en sonder ’n titseltjie skaamte aan my vertel dat ’n geëmansipeerde vrou haar nie deur ’n kind aan ’n huis laat vasbind nie. Sy het seker maar bedoel sy is te sleg om vir Bartel ’n ma te wees,” vertel Sophia en skud haar kop.
“Arme klein Bartel! Ek is darem bly sy ouma Esmé is bereid om hom groot te maak,” sê Erika simpatiek.
Sophia kyk op, haar oë groot en skuldig soos ’n hond wat vleis gesteel het.
“Haai, foei, ou dingetjie, ek wens ek kan sê dis waar, maar ek is ’n Christenmens, daarom kan ek nie met die een voet op die smal weg en die ander een op die wye pad loop nie. Nee, kyk, ou Esmé is ’n dierbare mens, so besorg oor die armes en haar naaste en bedrywig van ligdag tot donkernag met al haar verenigings en klubs, maar hoe om ’n kind groot te maak, is vir die arme siel duister. Kos sal hy kry en klere ook, maar aandag en liefde . . . En berispe ek haar, sê sy my sy gee hom hope sakgeld en as dít nie liefde is nie, dan weet sy niks van kinders grootmaak nie.”
“Bartel is ’n onmoontlike entjie mens,” gee Erika toe. “Hy het gistermiddag vir Wilhelm daarvan oortuig ek is sy ma.”
“Gie-gie! Het jy dan nie Wilhelm se oë gesien nie? Hy aard so reg na die eerste ou grondbaron, my oupa Wilhelm. Die ou man kon sy gesig in die plooi sit dat hy soos die duiwel self gelyk het, maar as ek daardie vonkellaggie in sy oë gesien het, had ek op sy skoot gaan klim en geweet ek gaan my sin kry,” vertel Sophia met ’n deernisvolle laggie.
Om op ’n man soos Wilhelm van Vollenhoven se skoot te klim? wonder Erika en skud haar kop. O nee, hy lyk nie soos ’n man wat oor geduld of liefde beskik nie, seker omdat ’n man soos hy nie liefde in sy lewe nodig het nie. Of het hy dalk nog vir Minette du Toit nodig?
“Is dit waarom Wilhelm tien jaar gelede oorsee is? Omdat Minette met Daniël Klopper getroud is?” vra Erika en hou haar asem onwillekeurig op terwyl sy op ’n antwoord wag.
“Hulle het saam grootgeword, Wilhelm en Minette, en hulle ouers was boesemvriende. Wilhelm is vier jaar ouer as Minette en sy het hom van kleins af soos ’n hondjie oral gevolg. Ek glo hulle was lief vir mekaar; ek weet sý was baie lief vir hóm, want ná matriek wou sy met geweld met hom trou,” vertel Sophia terwyl sy op die voetenent van Erika se bed neersak, ’n sagte gloed van half vergete gister in haar oë.
“Waarom is hulle toe nie getroud nie?”
“Twee kinders van agtien en twee-en-twintig?” Sophia klink verontwaardig. “Gelukkig het Wilhelm meer verstand gehad, want hy was destyds besig met nagraadse studie in wynbou en hy het daarop aangedring dat Minette ook Stellenbosch toe gaan en verder studeer. Minette was kwaad, daarom het sy besluit om in Kaapstad te gaan studeer, en sy het ’n eie woonstel in Seepunt geëis.”
“En haar ouers het ingestem?” vra Erika ongelowig.
“Jacques kon sy koppige dogter nooit iets weier nie en Esmé was te besig met haar verenigingslewe om werklik beswaar te maak. Daarby was dit ’n uitgemaakte saak dat Minette en Wilhelm sou trou, daarom het hulle hulle nie werklik oor Minette gekwel nie. Sy is sewe maande later, pas ná haar negentiende verjaarsdag, met die ryk sakeman, Daniël Klopper, getroud,” beëindig Sophia haar vertelling met ’n wrang trek om haar lippe.
“Sommer net so?” vra Erika ongelowig.
“Sommer net so,” herhaal Sophia grimmig. “Daniël was vyftien jaar ouer as Minette en as sy hom nié liefgehad het nie, het die glans van sy besittings haar in elk geval betower. Esmé en Jacques het voorgegee hulle is dol oor hulle nuwe skoonseun en dat Wilhelm heel waarskynlik net met Minette wou trou sodat hy La Rochelle by sy talle ander wynplase kon voeg, want grond was nog altyd vir Wilhelm die grootste besitting wat ’n man kan hê.”
“Dink Tannie dis die waarheid? Het Wilhelm haar nooit liefgehad nie?” vra Erika.
“Wie sal met sekerheid kan sê, ou kindjie?” vra Sophia skouerophalend. “Wilhelm het soos die graf geswyg, sy studie aan die universiteit voltooi en toe is hy oorsee met die doel om verder te studeer. Hy het sy doktorsgraad in Heidelberg in Duitsland gekry en ons het gehoop hy sou huis toe kom, maar hy het weggebly. Later het hy geskryf dat hy aan die universiteit in Parys studeer, dat hy nóg ’n doktorsgraad verwerf het, en dat hy vir hom plase in Frankryk en Duitsland gekoop het – goeie wynbougrond. Ek het begin glo hy het van ou Bergvallei en Drie Eike vergeet . . . van ons, sy mense, vergeet. Maar toe . . . Riaan se ongeluk.”
“Dink . . . glo Tannie hy het teruggekom om te bly?” aarsel Erika.
Sophia se uitdrukking verstroef.
“Daniël is ses maande gelede dood en Minette is hubaar. Daar is mense wat beweer dat Minette Wilhelm oorsee besoek het, maar ek kan dit nie glo nie . . . nie van jong Wilhelm, die tweede grondbaron, nie. Sy wortels is in die aarde en hy is eerlik soos die aarde, daarom glo ek wat ek wíl glo.” Sophia merk die erns op Erika se gelaat en glimlag. “Foei, ou kindjie, ek verveel jou seker met al my praatjies. Staan nou maar op en kom kombuis toe. Ons moet seker met die middagete begin.”
“Ek is nou daar, Tannie,” beloof sy, maar bly nog oomblikke lank roerloos in haar bed sit en wonder of enige man tien jaar lank ’n alleenloper sal bly as hy nie reeds sy liefde aan iemand verpag het nie.
Karen lyk na Riaan, dink Erika toe ’n meisie van gemiddelde lengte met fyn, egalige gelaatstrekke, rooibruin hare en groot, groenbruin oë die ruim kombuis binnekom en langs die kombuistafel bly staan waar Erika sit en aartappels skil.
“Dan is jy ons nuwe huishoudster?” vra Karen, gaan sit op die onderpunt van die tafel, swaai haar regterbeen heen en weer en kyk langs haar neus af na Erika.
“Dan is jy die los meisietjie wat gisternag saam met Kallie op sy motorfiets rondgerits het?” boots Erika Karen se stemmetjie presies na en kyk op haar beurt uit die hoogte na Karen.
Karen spring van die tafel af en storm met gebalde vuiste op Erika af.
“Kyk hier, jong, jy is ons werknemer en as jy jou nie kan gedra nie, gaan vertel ek vir my broer! Hy sal jou sommerso” – sy klap haar vingers onder Erika se neus – “in die pad steek!”
Erika kap hard met die stomp kant van die groentemes na die uittartende vinger onder haar neus en kom stadig orent, terwyl Karen van pyn uitroep en haar vinger suig.
“Jou vervlakste katwyfie! Ek gaan vir tant Sophia sê!” kerm Karen en gluur Erika verwoed aan.
“Jy klink soos ’n klein dogtertjie, want op sestien is jy nog bitter onvolwasse en dom, daarom sal ek moontlik jou broer Wilhelm maklik kan oorreed om jou ’n afgedankste pak slae te gee, want dis presies wat klein, snipperige dogtertjies soos jy nodig het,” sê Erika met ’n ysige waardigheid wat Karen onkant betrap.
“Kallie het my klaar vertel jy het gisternag gejok om my te beskerm. As jy nou vir Wilhelm die waarheid vertel, sal hy jou tog nie glo nie,” kom dit vermakerig van Karen.
“Kom ons kyk of ek hom kan oortuig van die waarheid. Is hy nog in die studeerkamer?” vra Erika en stap na die gangdeur toe.
“Nee, wag!” roep Karen en kou bekommerd aan haar onderlip, haar oë ongemaklik op Erika gerig.
“Ek is haastig, Karen. Ek moet vir die middagete sorg en dit was al tienuur. Kom jy saam of stap ek alleen?” vra Erika ongeduldig.
“Ek . . . e . . . ek sal jou met die middagete help, juffrou Marais. E . . . tant Sophia het gesê ek moet jou kom help,” sê Karen pynlik selfbewus, haar blik neergeslaan.
“Ek kan aan niks onsmaaklikers dink as om jou as geselskap te hê nie. Jy kan gaan. Ek sal self vir die middagete sorg,” antwoord Erika kil, ignoreer Karen en neem by die tafel plaas om verder groente te skil.
Erika kyk geïrriteerd op, merk die uitdrukking van verslae verleentheid op Karen se gelaat voordat sy vinnig omswaai en die kombuis uitdraf. Sy onderdruk met moeite ’n glimlag.
Karen is beslis ’n bedorwe brokkie, maar as dít is hoe sy haar bedank ná al haar moeite om haar verlede nag teen haar broer se woede te beskerm, sal sy ’n ander taktiek moet gebruik om Karen se vertroue te wen, dink Erika en laat ’n afgeskilde aartappel in ’n bak skoon water plons.
Erika plaas die deksel van die kastrol met groenbone, uie en aartappels terug en draai om toe sy ’n geskuifel by die agterdeur hoor.
“Jy skuld my tien rand. As jy dit nie vir my gee nie, gaan die kwaai oom jou sommerso heen en weer klap!”
Erika kyk na die uitdagende Bartel wat ’n tree voor die gemaskerde Jackie in die oop agterdeur staan, en sy wonder wat die seuntjie sal doen as sy skielik op hom afstorm en hóm heen en weer klap. Die klein snip . . . en tog kry sy hom jammer, moontlik oor sy engelagtige voorkoms – of dalk omdat sy weet hoe moeilik sy soektog na liefde en erkenning is.
“Ek het nie geld om weg te gee nie, maar ek gee drukkies verniet weg,” sê Erika doodluiters en wag op sy reaksie.
“Ek wil ’n drukkie hê!” roep Jackie en storm by Bartel verby en in Erika se arms in.
“Ga . . . meisiekinders!” snork Bartel minagtend, maar Erika merk die afguns op sy gesig toe sy die tenger Jackie in haar arms optel en teen haar vasdruk. “Ag, jy het nie eens ’n gesig om te soen nie, ou Jackie! Wie wil nou ’n ou masker soen?” vra hy met onbewuste wreedheid.
“Ek soen graag ’n lapgesiggie, want ek het altyd my lappop en my teddiebeer gesoen, en dis die lekkerste soene, want dis sonder kieme,” praat Erika vinnig, bewus van Jackie se liggaampie wat in haar arms verstyf het by die aanhoor van Bartel se woorde. Sy soen liggies op die wit masker, voel Jackie se arms om haar nek kruip en haar in ’n wurggreep vashou, en sy hou haar stywer vas. “Wil jy my nuwe lappop wees, Jackie? Dis partykeer so alleen hier in die groot kombuis en dan wens ek ek het ’n eie, eie lappop.”
“Sy mag nie praat nie, want sy ken nie Engels nie! Wê, jy mag nie praat nie, Jackie! Niemand wil ’n simpel ou lappop hê wat nie kan praat nie,” koggel Bartel en dans om Erika en Jackie rond.
“Jy het gesê ek kan maar fluister, Bartel, want dan sal niemand hoor ek praat nie Engels nie,” verwyt Jackie hom met ’n sagte fluisterstemmetjie.
Bartel steek sy onderlip vies uit en frons hewig.
“Ag, dit was net ’n speletjie. Almal kan jou hoor, want jy fluister nie sag genoeg nie,” sê hy minagtend.
“Dis nie waar nie,” kom dit partydig van Erika. “Ek kan amper nie hoor wat my lappop sê nie, en ek hou haar in my arms vas. Jackie, tant Sophia het lekker tuisgebakte koekies saamgebring. Sal jy van ’n glas melk en ’n paar koekies hou?”
’n Swaar sug ruk in Jackie se keel vas en laat dit soos ’n droë snik klink.
“Tannie is darem dom!” skree Bartel en trap byna op Erika se tone in sy gretigheid om deel van hulle te wees. “Lappoppe kan mos nie koek eet en melk drink nie.”
“Nie terwyl grootmense hulle dophou nie, maar alleen in die spens kan hulle allerlei dinge doen. Ek het juis dat oom Henno vir jou ’n hele pak strooitjies koop, Jackie. Nou kan jy jou melk drink sonder om jou masker op te lig. Wil jy probeer?” vra Erika en sit haar op die grond neer.
“Ja, asseblief, Tannie. Gaan Bartel nie ook ’n strooitjie kry nie? Bartel, jy hou mos van ’n strooitjie?” vra Jackie met ’n stemmetjie wat een oomblik fluister en dan weer gewoon praat.
“Ja, ek sal maar een vat,” antwoord hy skouerophalend en kyk hoe Erika vir hulle elkeen ’n glas melk skink. “Maar wat nou van my tien rand, Tannie? Daardie kwaai oom het gesê jy moet dit nou dadelik vir my gee, anders klap hy jou blou.”
“Het oom Wilhelm so gesê?” vra Erika wat ’n skinkbord met melk en koekies na die spens toe dra.
“Presies so, Tannie: ‘Ek klap haar blou.’” Hy dink ’n oomblik lank na, hou sy kop skeef, knyp sy linkeroog toe en krap langs sy regteroor. “Nee, hy het gesê: ‘Ek klap haar bont en blou.’ Toe, waar is my tien rand, hè, Tannie? Ek verdien mos vyf rand per dag en saam met vandag werk ek al twee dae hier.”
“Maar . . . jy werk nie eens nie! Ek weet oom Henno het jou vyf rand per dag beloof, maar ek kan dit nie bekostig nie. Is dit hy of oom Wilhelm wat gesê het ek moet jou tien rand betaal?” vra Erika met ’n gevoel van stygende ergernis.
“Oom Wilhelm. Hy het gesê ek moet hom kom vertel as Tannie my nie wil betaal nie, daarom moet Tannie maar opdok,” antwoord Bartel, prop ’n koekie in sy mond en hou ’n krummelrige regterhand uit vir die geld.
“Ek is nou terug,” sê Erika en loop met ’n warm gloed op haar wange en glimmende oë in die lang gang af na die studeerkamer toe.
Sy hoor Wilhelm oor die telefoon praat, maar hy lui af en sy loop byna in hom vas toe sy by die deur van die studeerkamer indraai.
“O, jy het toe my boodskap gekry?” blaf hy en troon groot en dreigend bo-oor haar. “Het jy my nie gisteraand uitdruklik hoor sê dat ek Bartel slegs twee rand sal betaal as hy die kruidenierspakkies uit jou motor aandra kombuis toe nie? Waarom dring hy nou skielik daarop aan dat hy tien rand vergoeding moet kry? Dis mos om ’n kind tot in die afgrond te bederf!”
“Maar . . . ek het nie! Dis jý, nie ek nie! Jy het vir Bartel gesê jy sal my bont en blou klap as ek hom nie onmiddellik tien rand betaal vir sy werk die afgelope twee dae nie. Tien rand! Jy weet jou skelm broer het al my geld gesteel en nou moet ek van jou aalmoese lewe! Ek sal –”
“Steel! Dan noem jy my broer ’n skelm en ’n dief! Juffrou Marais, ek kan jou hof toe neem oor daardie aantyging! Ons Van Vollenhovens het nog nooit nodig gehad om van andere te steel nie en as jy –” val hy haar verwoed in die rede.
“En ek sal jou in die trónk laat stop!” skree sy hom stil, sien hoe hy sy hande op sy ore sit en ineenkrimp asof hy deur ’n weerligstraal getref is en sy wonder of dit sal help as sy begin huil.
“Wilhelm!” Sy hoor die helder, sonnige stem voordat ’n jong meisie met vlamrooi hare en ligbruin oë, omraam met donker wimpers, en geklee in vleiende rydrag die studeerkamer binnestorm en haar in sy arms werp. “Wilhelm, my skat, onthou jy jou belofte van tien jaar gelede aan my? Ek is nou vier-en-twintig en nou kan ons maar trou. Dis mos die rede waarom jy teruggekom het Bergvallei toe, nie waar nie, my liefling?”