Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk - Страница 8

Оглавление

4

Erika voel asof sy sonder om te klop iemand anders se slaapkamer binnegestap het. Sy wens sy kan omdraai en haar ongemerk uit die voete maak, maar haar voete is skielik dom en haar oë is vasgenael op Wilhelm se gelaat.

Sy merk hoe die uitdrukking van fronsende verbasing op sy gesig plek maak vir herkenning, en dan vat hy die meisie liggies aan die skouers en glimlag met warm spontaneïteit.

“Klein Amalia! Jy is mos oom Naas Davel se dogter?” vra hy hoorbaar in sy skik.

“Nie meer klein Amalia nie,” berispe sy hom met ’n pruilmondjie en streel met haar regterhand oor die kort hare in sy nek. “Tien jaar gelede was ek pas veertien en dolverlief op jou, maar nou is ek vier-en-twintig en weet ek wat dit beteken om lief te hê.”

“Regtig? Ek moet tog uitvind hoe groot jou kennis van die liefde is,” terg hy.

“Hoekom nie sommer nou nie?” vra sy, sluit haar oë en tuit haar lippe uitlokkend vir hom.

Hy lag geamuseerd, maak haar hande agter sy nek los en hou hulle voor hom vas.

“Het jy vergeet ek was die skaam prins op ’n wit perd?” spot hy. “Ek twyfel of dit wys sal wees om in die teenwoordigheid van my huishoudster ons intieme gesprek voort te sit,” sê hy met ’n waarskuwende blik op Erika.

Amalia ruk om, ’n nydige frons tussen haar geboë wenkbroue en ’n uitdrukking van skok en drif op haar gelaat wat Erika laat besef dat Amalia onbewus was van haar aanwesigheid in die studeerkamer.

Amalia is ’n beeldskone meisie met haar digte, koperrooi hare en hartvormige gesiggie. Sy is kort, maar met al die rondings en sagtheid wat ’n mens aan ’n spinnende, tevrede kat herinner. Amalia weet sy is aantreklik vir enige man, besef Erika, en sy sal nie huiwer om van haar kennis misbruik te maak nie.

“Huishoudster!” tier Amalia, haar oë smeulend in dié van Erika. “My pa het niks van ’n huishoudster gesê nie. Het jy haar saam met jou gebring? Kan die arme ding darem Afrikaans praat?” Sy lag smalend. “My liewe Wilhelm, jou verblyf in die buiteland het nie juis jou smaak verbeter nie: sy lyk maar vaal met haar muishare en groen ogies. Wat is sy? Engels?”

Erika hoop sy bloos nie van loutere ergernis nie en kyk na Wilhelm wie se gelaat dieselfde uitdrukkingloosheid as hare vertoon.

“Sê vir jou meisie ek kan onverbeterlik in Afrikaans vloek en as sy nie hofliker aanmerkings oor my maak nie, doen ek dit dalk,” waarsku Erika gelykmatig en ervaar die genoegdoening om Wilhelm se mond ’n oomblik lank te sien oopval van ongeloof.

Amalia gluur haar aan, maar Wilhelm tik haar op die skouer en sê doodernstig: “Jy is gewaarsku, Amalia: sy kan vloek.”

Erika is op haar beurt verras oor sy reaksie en dink onwillekeurig aan Sophia se woorde oor die eerste grondbaron: Die ou man kon sy gesig in die plooi sit dat hy soos die duiwel self gelyk het, maar as ek daardie vonkellaggie in sy oë gesien het, had ek op sy skoot gaan klim . . .

Sy merk die vonkeling in Wilhelm se oë ten spyte van sy uiterlike mens, weet dat hy die situasie geniet, maar besluit dat die teenswoordige Wilhelm baie sterker na die ou bose moet lyk, want sy ervaar geen begeerte om op sy skoot te klim nie.

“Jy kan jou werknemers gerus met groter smaak kies, Wilhelm,” berispe Amalia hom en keer haar rug opsetlik op Erika. “Verbeel jou, ’n huishoudster wat vloek! Wat sal die mense daarvan sê?”

Wilhelm lag sag.

“Dis wat jou so dierbaar maak, Amalia: jy glo nog al die jare elke woord wat ek sê. Maar moenie jou kwel nie, want juffrou Marais is ’n huishoudkunde-onderwyseres en ek twyfel of sy wel skielik soos ’n wafferse matroos op ons sal begin swets,” sê hy gemoedelik. “Erika, dis Amalia Davel, die enigste dogter van my voorman, oom Naas.”

“Bestuurder, nie voorman nie,” sê Amalia geraak, maar doen nie die moeite om om te draai en Erika te groet nie. Sy vleg haar vingers om Wilhelm se linkerarm, leun teen hom aan en kyk op in sy gesig. “Hoekom het jy nie vir my gevra om vir jou te kom huishou nie, my skat? Pappa sê ek is ’n uitmuntende kok en ek sou nie ’n salaris geëis het nie. O, ek weet!” roep sy opgewonde uit en draai na Erika.

Netnou is sy aangegluur en nou word sy met ’n stralende glimlag bejeën, dink Erika, en sy wag met ’n uitdrukking­lose gelaat op Amalia se volgende woorde.

“As juffrou Marais so pas by jou begin werk het, is sy nog nie permanent aangestel nie, nè, Wilhelm? Jy kan haar net vier-en-twintig uur kennis gee en dan sal ék jou huishoudster word. Jy gee mos nie om nie, juffrou Marais?” vra Amalia met soveel onskuldige eerlikheid dat Erika haar nie eens vir die meisie kan vererg nie.

Amalia is dom – of uiters geslepe, dink Erika, en soek hulp met haar oë by Wilhelm.

“Onmoontlik, Amalia,” sê hy spytig. “Sien, Erika is nie net my huishoudster nie, maar boonop ’n aandeelhouer in Drie Eike. Al wil ek, kan ek haar nie in die pad steek nie.”

Wat ’n skat van ’n man! jubel Erika heimlik, en vererg haar dan vir haar eie gedagtes. Laat Amalia hom maar haar skat en haar liefling noem – vir haar sal hy altyd ’n lelike duiwel wees.

“O . . . Kan ek ook aandele in Drie Eike koop?” vra Amalia gretig.

“Ongelukkig nie, want ek deel nie graag my besittings met andere nie,” antwoord hy en Erika weet hy praat eintlik met haar.

“Maar jy verkoop aandele aan háár?” vra Amalia met ’n afgunstige blik op Erika.

“Nee, maar Riaan het voordat ek teruggekeer het. Ver­skoon my, asseblief, Amalia, maar ek en Erika het nog so ’n klein misverstandjie oor ’n seuntjie en tien rand gehad . . .” sê Wilhelm en rig ’n strydlustige blik op Erika.

Erika druk haar neus in die lug, snuif hard en aanhoudend, en sê besorg: “Die pampoen brand!”

Sy vlug die studeerkamer uit, hoop maar dat Wilhelm nie tydens die middagmaal sal agterkom dat sy wortels in plaas van pampoen gekook het nie, en slaak ’n sug van verligting toe sy die veiligheid van die kombuis bereik.

Dis tog vreemd hoe die plattelandse lug haar beïnvloed, dink sy terwyl sy die oond oopmaak om die skaapboud om te draai. In die stad het sy talle vriendinne gehad, maar hier op Bergvallei rys haar nekhare net by die aanhoor van ’n ander meisie se naam. Sy weet sy sal nie van Minette du Toit hou nie en Amalia Davel is klaar ’n vyand.

Net die plattelandse lug kan vir haar onverklaarbare vyandigheid verantwoordelik gehou word, dink sy, maar oortuig haarself nie volkome nie.

Erika neem aan die onderpunt van die lang geelhouttafel in die eetkamer plaas, tevrede dat dit die verste is wat sy van Wilhelm, wat die plek aan die bopunt van die tafel ingeneem het, kan sit. Links van haar sit Amalia wat nog nie haar kuiertjie beëindig het nie, en regs neem Karen en Sophia plaas.

“Eet die huishoudster dan saam met ons?” vra Amalia met liewe onskuld en glimlag vir Wilhelm.

“Kind, ek kap jou sommer oor jou kneukels met die vleismes!” ontplof Sophia met heilige toorn en vergeet van die bruin gebraaide skaapboud voor haar op die vleisbord. “Ek weet jy is ’n dom kind wat amper nie matriek gemaak het nie, maar is dit nou nodig om so ongepoets te wees? Nie dat ek iets beter van jou kan verwag nie, want jy het tussen die perde grootgeword en dis ook al wat jy kan doen: perdry en stalle skoonmaak. Ek kan my so vervies!”

“Die vleis word koud, tant Sophia. Sal ek verder sny?” vra Wilhelm rustig.

“Die vleis is mý werk, Wilhelm, maar dis jou werk om jou gaste met groter kieskeurigheid te kies, anders sal daar nooit vrede in hierdie huis heers nie!” blaf Sophia en sny dun snye vleis.

“Waar is Bartel en Jackie?” vra Wilhelm bedaard, klaar­blyklik nie van plan om Sophia te weerspreek nie.

“Hulle eet in die kombuis,” antwoord Erika teësinnig toe hy haar direk aankyk.

“Waarom? Hulle sal nooit goeie tafelmaniere leer as hulle altyd in die kombuis moet eet nie,” sê hy.

“Maar wat lol jy nou weer, Wilhelm?” vra Sophia misnoeg. “Gee jou bord aan, Karen, sodat ek vir jou kan vleis inskep. Julle ander se borde ook.” Haar oë soek na Wilhelm se gesig. “Ek kan Jackie nie alleen laat eet nie, ingeval sy stik, en tot tyd en wyl haar ou gesiggie beter lyk, sal ek haar nie dwing om sonder haar masker voor ons ander rond te loop nie.”

“Die hele dorp praat oor die snaakse kind met die masker op haar kop. Is dit waar dat sy soos ’n kat lyk, tant Sophia?” vra Amalia.

Sophia word rooi in haar gesig, maak haar mond oop, maar maak dit dan weer vinnig toe.

“Ja, Amalia, en sy miaau ook as sy melk wil hê. Ek dan het sy boonop ’n lang, wollerige stert, maar moenie die ander mense daarvan vertel nie, want niemand sal jou tog glo nie,” sê Sophia met vrome erns.

Karen skaterlag en Amalia kyk haar nydig aan.

“Jy lyk baie vrolik ná my partytjie gisteraand,” sê Amalia katterig. “Het jy en Kallie toe darem veilig tuis gekom? Selfs my pa sê Kallie drink te veel vir ’n ou wat motorfiets ry.”

In die byna tasbare stilte wat op Amalia se woorde volg, kyk Erika oor die lengte van die tafel na Wilhelm, sien die misnoeë op sy gelaat en voel ’n warm blos van verleentheid oor haar gesig kruip.

“Dis net soos tant Sophia sê: jy is dom en onnosel en ’n verraaier, Amalia Davel!” blits Karen. Sy wag nie om toestemming te kry nie, maar spring op. “Verskoon my!” snou sy en storm die eetkamer uit.

“Wat ’n vertoning!” sê Amalia met ’n neerhalende glimlaggie. “Is sy nou skielik skaam om te erken dat sy en Kallie Brink saam uitgaan?” vra sy aan niemand in die besonder nie.

“Eintlik, ja,” kom dit ernstig van Wilhelm terwyl sy oë na dié van Erika soek. “Sien, Kallie is dol oor Erika en die twee het so ’n vurige verhouding dat . . . Help die meisie, tant Sophia. Sy stik haar asem weg,” versoek hy toe Erika onbedaard aan die hoes gaan.

Sophia tik-tik liggies met haar hand tussen die hoesende Erika se blaaie, lig haar hand dan hoog op en plant ’n gevoelige hou op Erika se rug.

“Eina!” skree Erika wat haar hoes en haar asem weggeskrik het. “Was dit nou nodig, tant Sophia?”

“Foei, ou dingetjie, ek was bang jy hoes jou longe uit, toe lê ek maar met die plathand in. Hier, kry vir jou ’n glasie water,” sê Sophia en trek die waterkraffie nader.

Erika kyk op in Wilhelm se gelaat, sien die treiterende lag in sy oë en skuif haar stoel agteruit.

“Ek verkies ’n glas lemoensap. Verskoon my, asseblief,” maak sy verskoning en stap vinnig die vertrek uit.

In die kombuis kyk sy verras na Henno wat besig is om sy rugsak vol blikkieskos, sout, koffie en poeiermelk te pak.

“Haai!” roep sy onthuts uit en stap vinnig nader, net half bewus van Bartel en Jackie wat gretig blikkieskos vir Henno aandra.

“Ek háát aspersies, want dit proe nes gras,” sê Bartel van die kruidenierswarekas af. “Koeie vreet gras, nie kinders nie. Gee vir oom Henno al die blikkies aspersies, Jackie.”

“Hallo, sus,” groet Henno haar, oënskynlik onbewus van haar billike toorn. “Ek wou jou nie steur nie, want julle was besig om te eet, maar jy gee seker nie om as ek vir my ’n paar blikkies kos en ’n pakkie sop of twee inpak nie? Ek gaan berge toe en ek weet nie hoe lank ek sal wegbly nie.”

“ ’n Paar blikkies? Goeiste, Henno, dis my kosvoorraad vir die maand! Ek het ’n paar rand in my bankrekening en as jy al ons blikkieskos vat, sal ons seker van liefde en koue water moet leef!”

“My ouma Esmé sal vir ons kos gee,” verseker Bartel haar en lê ’n vertroostende hand op haar arm. “Weet Tannie, my ouma Esmé het ’n spenskas wat so groot soos . . . soos ’n hele skool is. Daar is miljoene en biljoene en triljoene blikkies kos in haar spens, alles net poeding en ingelegde vrugte en . . . kondensmelk, want ek haat groente en aspersies. Daar is gif in die aspersies, het Tannie geweet? Ek ken ’n man wat aspersies geëet het, en toe rek hy sy oë so groot en hy maak sy mond so wyd oop en hy sê: ‘Hu!’ en toe val hy pardoems! morsdood op die grond neer!”

Henno lag langs Erika.

“Die kind is ’n gebore toneelspeler. Oulike knaap, is hy nie?” vra hy en gespe sy rugsak toe.

“Oulik, ja,” sê Erika bedruk en kyk na Bartel wat net soos die man in sy storie op die grond neergeslaan het en nou stokstyf aan haar voete lê. “Bartel, wanneer kan ons die blikkieskos by jou ouma gaan haal? Moet ek tant Sophia vra om weer ’n trekker en ’n sleepwa te kry?”

Bartel sit vinnig orent, sy blik bekommerd op Erika. “Darem nie ’n hele sleepwa vol nie, Tannie, want dan het my ouma niks oor nie. Weet Tannie hoe baie kan my ouma eet? Ek wed sy kan twintig koeke en twintig terte eet en . . . dertig koppies tee drink . . . sommer net so!” Hy klap met sy vingers.

“Bartel ken sulke mooi stories,” fluister Jackie bewonderend onder haar wit masker uit.

“Ek dink self so, Jackie. Ons moet al sy stories neerskryf en dan maak ons ’n boek daarvan. Oom Henno kan vir ons die prentjies teken en dan noem ons dit Bartel se bobaas-stories en ek sal elke aand vir jou een van Bartel se stories lees voordat jy gaan slaap,” sê Erika met net genoeg entoesiasme om oortuigend te klink.

Bartel soek vergeefs na sy asem, sy oë blink soos sterre. “Dink Tannie rêrig ek kan mooi stories vertel?”

“Die kind jok soos ’n tandetrekker,” sê Henno onthuts. “hoekom prys jy hom nog daaroor?”

Erika merk die donkerrooi blos van verleentheid wat Bartel se ore laat gloei. Sy sien die sku, gekweste uitdrukking in sy oë en trek hom nader sodat hy voor haar staan, haar hande op sy skouers.

“Jy kan ook net prentjies teken, want jy weet niks van skrywers nie, nè, Henno?” vra Erika verpletterend. “Dink jy ’n man soos Bartel sal aspris vir my en Jackie jok? Hy vertel net mooi stories, maar dis nie jok nie.”

“Hy is ’n verbeeldingskind,” sê Jackie met ’n vername stem en vergeet skoon om te fluister. “My pappa sê altyd ek is sy verbeeldingskind, en Mamma . . .” Haar asem kom rukkerig en Erika wonder wat sy agter haar wit masker dink, en sy steek haar regterhand impulsief met ’n uitnodigende gebaar na Jackie uit.

“Tannie moet haar weer ’n drukkie gee en sê sy is Tannie se lappop, want sy verlang na haar dooie ma,” sê Bartel met besorgde erns.

“Sy is nie dood nie! Sy slaap net,” stry Jackie tussen die trane deur en laat gretig toe dat Erika haar optel. “Tant Sophia sê as ’n mens doodgaan, raak jy net aan die slaap en dan word jy in die hemel wakker. Dit is mos so, Tannie? My mamma is nie dood nie,” pleit sy.

Erika hou die skraal liggaampie in haar arms en druk sagte soene op die wit maskergesiggie.

“Jou mamma leef in die hemel, my poplap. Tant Sophia sal weet, want sy is ouer as ons almal,” troos sy.

“Kleintjies, darem!” Henno skud sy kop, soen Erika skuins teen haar oor en stap weg na die agterdeur toe. “My motor is klaar gelaai. Sien jou!” roep hy oor sy skouer en verdwyn buite sig.

“My pa is morsdood en begrawe,” vertel Bartel en loop op sy hande om Erika se aandag te trek. “Hulle het hom in ’n diep gat gegooi en toe hoor ek hy val so kadoef! op die grond en . . .”

“Is nie! Is nie! Bartel vertel lelike stories,” sê Jackie en huil hartverskeurend teen Erika se nek.

“Dis waar, Bartel. As jy sulke lelike stories vertel wat Jackie laat huil, gaan ek nie ’n boek van jou stories skryf nie. Sal jy nie maar vir haar mooi stories vertel nie? Netnou, wanneer ek klaar skottelgoed gewas het, kan jy jou beste storie vir my vertel en dan skryf ek dit neer,” belowe Erika.

“Jackie gril ook vir alles,” sê Bartel afgehaal. “Sy hou nie van spinnekoppe en akkedisse en paddas nie, en sy huil oor dooie mense. En ek gril nie eens vir haar nie, al lyk haar gesig so groen en blou en pers. Sy kry ook alles. Ek wens ék het so ’n gesig gehad, want dan het ek almal bang gemaak en hulle geld gevat.”

“Ek was tog in ’n ongeluk, en jy nie,” sê Jackie hoog in haar skik en begin spartel sodat Erika haar moet neersit.

“Ag, ek was ook al in ’n ongeluk . . . ’n treinongeluk. Nee, dit was ’n vliegtuigongeluk.” Bartel kyk na Erika en dan na Jackie. “Kom ek gaan vertel jou daar buite, anders pla ons net vir tannie Erika. Sien, dit was ’n ongeluk in ’n ruimteskip toe ek en my pa Mars toe gevlieg het,” begin hy sy storie terwyl Jackie gretig agter hom aandraf buitentoe.

“En jy gaan al sy leuens neerskryf en ’n storieboek daarvan maak?” vra Wilhelm uit die gangdeur agter Erika en laat haar hoorbaar na haar asem snak. Hy kom tydsaam nader, sy oë deurborend in hare. “Is dít wat die moderne kindersielkunde voorskryf?”

“Ek het nie sielkunde nodig gehad om ’n koolkop te oortuig om gekerf te word nie, daarom luister ek na my hart en nie na geleerde boeke nie,” antwoord Erika kortaf, ontstel deur die wete dat hy haar en die kinders se gesprek afgeluister het. Het hy moontlik ook gehoor dat sy byna geen geld in haar bankrekening oorhet nie? Hoe groot moet haar vernedering nog wees? wonder sy wrewelrig en verwens Riaan wat Henno so maklik daarvan oortuig het om Drie Eike te koop.

“En jou hart sê jy moet drukkies en soentjies aan kinders uitdeel, en mý soos die duiwel self behandel?” vra hy en haal sy beursie uit sy binnebaadjiesak.

“Hoe het jy geweet?” vra sy impulsief en wens sy kan in die kruidenierswarekas wegkruip en daar bly totdat hy weer na die buiteland vertrek het. “E . . . ek terg sommer,” sê sy onoortuigend.

“Nee, Erika, jy sê sommer . . . en jy bedoel dit ook, want ek kan in jou oë sien wat jy van my dink, en dis niks goeds nie. Hier, dit behoort genoeg te wees vir die volgende week, maar as jy nog geld nodig kry, vra my net. Henno sal nie hier wees nie, want hy kampeer in my hut in die berge totdat hy moeg word om bergtonele te skilder, of dalk na geselskap verlang. Maar Riaan kom hopelik nog vandeesweek terug huis toe en ons sal die invalide maar pamperlang met sy geliefkoosde disse,” sê hy en gee ’n dik pak note aan haar.

“E . . . dan is ek nou jou . . . e . . . die huishoudster?” vra Erika ongemaklik en neem die geld onwillig by hom.

“Jy het tant Sophia tog reeds beloof om aan te bly totdat ons ’n goeie plaasvervanger vir jou kan kry,” sê hy en frons.

“Ja, maar . . . jy het vir Amalia vertel ek is ’n aandeelhouer in Drie Eike,” herinner sy hom.

“En jy is ook tot tyd en wyl Riaan jou en Henno kan terugbetaal – en dit sal nie te gou wees nie, want Riaan spandeer altyd meer as wat hy verdien.” Hy kyk op sy polshorlosie. “Kom jy saam met my ’n koue bord kos klaar eet, of ry jy saam Kaapstad toe en eet daar saam met my? Ek gaan Riaan besoek.”

“Ek is nie honger nie,” sê sy afgetrokke en begin sommige van die blikkieskos wat Henno nie ingepak het nie, terugpak in die kas. “Tant Sophia sal seker graag saam met jou Kaapstad toe wil ry.”

Hy antwoord nie en sy raak selfbewus oor sy teenwoordigheid. Dan kom sy orent en kyk vraend na hom waar hy teen die kombuiskas aanleun en haar met ’n onleesbare uitdrukking op sy gelaat betrag.

“Hoe lank ken jy vir Kallie Brink, Erika?” vra hy uit die bloute.

“Ek ken hom glad nie!” antwoord sy, haar gesig gloeiend van verleentheid toe sy dink aan haar onnodige moeite om Karen te beskerm.

“En dis nóg ’n storie vir jou en Bartel se boek, want ek kan nie glo dat ’n meisie ’n man so vurig sal soen as hulle vreemdelinge vir mekaar is nie,” sê hy beslis.

“Ek het hóm nie gesoen nie, maar . . . Ek wou vir Karen gehelp het, haar vertroue wen, maar . . .” probeer sy verduidelik, kyk op en merk die spotlag in sy oë, en weet dat hy haar ongemak terdeë geniet terwyl hy die volle waarheid moontlik reeds die vorige aand geraai het. Haar oë vonk groen vuur. “Jy lyk nes ’n regte ou duiwel!” snou sy driftig, sien hom na sy ore gryp en storm blindelings by die agterdeur uit, met sy skaterende lag in haar ore.

Erika loer versigtig om die oopstaande bodeur van die kombuis. Sy merk verras dat Amalia besig is om skottelgoed te was en gaan die vertrek vinnig binne.

“Dankie vir jou hulp, maar dis eintlik my werk,” sê Erika, haar stemtoon nog verbaas.

“O, ek hou van huiswerk, al dink die dorpsmense ek is op ’n perd se rug gebore,” antwoord Amalia vriendelik, sien die uitdrukking van wantroue op Erika se gelaat en lag sag. “Toe maar, ek wil nie jou werk hê nie, maar tant Sophia en Wilhelm is weg Kaapstad toe en Karen is dikmond omdat ek haar verklap het. Dis waarom ek die tafel afgedek en begin skottelgoed was het, want ek wil graag hier wees om te hoor hoe gaan dit met Riaan wanneer Wilhelm terugkeer.”

“Het jy en Wilhelm vroeër ’n verhouding gehad?” vra Erika gelykmatig, tel twee vadoeke op en begin die borde afdroog.

“Tien jaar gelede toe ek veertien was?” Amalia lag ongelowig. “Destyds het ek graag geglo ons het ’n verhouding gehad, maar ek besef nou hy was maar net ’n gawe jong man wat hom soms verwerdig het om met ’n skooldogter te praat of haar ’n paar wenke oor perdry te gee. Nou is dit natuurlik anders.”

“Anders?” vra Erika.

Amalia gooi haar digte bos hare met ’n rukbeweging van haar kop agtertoe en glimlag veelseggend.

“Die grondbaron is vir goed terug op Drie Eike.” Sy kyk om haar rond, haar blik soos ’n liefkosing wat oor elke voorwerp in die ruim kombuis streel. “Dit gaan alles myne wees, soos hý myne gaan wees. Ek weet dit.”

“Dan het hy jou reeds gevra om met hom te trou?” vra Erika, haar oë stip op die bord in haar hande, haar bewegings werktuiglik, terwyl sy wonder oor die nuwe pyn wat asof van nêrens in haar hart kom nesskop het.

“Nog nie, maar hy sal. As ek destyds nie te jonk was nie, sou hy toe al met my getrou het, want nadat Minette hom so lelik in die steek gelaat het, het hy alle meisies vermy . . . behalwe my. Dis hoe ek weet hy was toe al lief vir my, want hy was nooit ongeduldig of nors teenoor my nie. Ons het dikwels saam gelag en ek kon in sy oë sien dat hy my liefhet. Dis waarom ek nooit getwyfel het dat hy eendag sou terugkom nie,” sê Amalia met ’n sekerheid wat Erika laat ril.

“Dan was jy al die jare trou aan hom?” vra Erika en voel asof sy haar eie doodvonnis onderteken.

“Vanselfsprekend. Daar was nog nooit ’n ander man wat enigsins vir my belangrik was nie.” Amalia sug swaar en ruk weer haar hare agteroor. “Ek weet ek is nogal mooi, daarom val die ouens my tydig en ontydig lastig . . . vra my om te trou of om verloof te raak. Jy weet hoe is ’n man: glo mos altyd hy is die superheld van die heelal en dat al wat meisie is, dit moet raaksien. Maar ek sit hulle gou op hulle plek, want Wilhelm het al my lojaliteit.”

“Tannie! Tannie, hier is ’n oom en hy soek na tannie Mieliemalie!” skril Bartel se stem uit die gang en dan storm hy agter sy woorde aan die kombuis binne, met ’n lang, skraal jong man op sy hakke. “Daar staan sy, Oom. Dis sy wat met haar perd by ons kom kuier het,” vervolg Bartel en beduie met sy hand na Amalia.

“Hallo, Amalia,” groet die jong man, kyk na Erika en glimlag met onverbloemde bewondering vir haar. “Kallie Brink van die garage het my vertel Wilhelm het vir hom ’n stukkie porselein vir sy kombuis gekoop, maar ou Kallie het seker nie genoeg woorde gehad om jou te beskryf nie, juffroutjie. Ek is Morné Venter van La Rochelle. Jy is mos juffrou Marais, Henno se suster?”

“Haar naam is Erika en sy is nie van porselein of glas gemaak nie,” kom dit onverwags van Amalia. “Wat makeer jou vandag, Morné? Jy is skielik vreeslik vleiend en spraaksaam.”

“Bly te kenne, Morné,” sê Erika vinnig, bewus van Morné se blosende ongemak. “Amalia, jy het my meer as genoeg gehelp. Baie dankie.”

“Ek dink self so – die kos was nie soveel werd nie,” sê Amalia kwetsend en droog haar hande aan die kombuishanddoek af. “Kom, Morné. Ek het Christa en Gert beloof ons sal nie later as halfdrie by hulle wees om tennis te speel nie.

“Ons sien mekaar hopelik weer, Erika,” sê Morné en glimlag in haar oë. “Tot siens.”

“Tot siens,” groet Erika werktuiglik en droog dieselfde bord oor en oor af.

Morné is donkerblond met diepblou oë en sterk, egalige gelaatstrekke. Morné is ’n mooi man – die absolute teenstelling van Wilhelm met sy ruwe, gebeitelde gelaatstrekke, brons gelaatskleur, swart hare en glimmende, ysblou oë. Hy lyk soos die duiwel en tog is hy soveel aantrekliker as die mooi Morné vir haar, besef sy. Sy skrik vir haar eie gedagtes en draai dankbaar na Bartel wat ’n storie oor ’n leeu in die voortuin vertel.

Sy het laas so senuagtig en onseker van haarself gevoel toe sy op die eerste dag van haar onderwysloopbaan na die skoolhoof se kantoor ontbied is, dink Erika toe sy in die lang gang af loop en voor Wilhelm se studeerkamerdeur bly staan. Sy klop aan, hoor hom roep dat sy mag binnekom en maak die deur oop.

Sy sien eerste die skildery van ’n man wat Wilhelm kon gewees het, wat bokant die kaggelvuur hang. Sy raai dat dit die eerste grondbaron moet wees en blik dan vraend na Wilhelm wat met sy regterarm op die skoorsteenmantel leun en haar streng, byna vyandig betrag.

“Waarom het jy nie eerder aan my gesê jy en Riaan is verloof nie?” vra hy stroef en kom stadig op haar afgestap.

Schalkie van Wyk Keur 10

Подняться наверх