Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk - Страница 4

Оглавление

1

Die rooi sportmotor skiet by hom verby, skuif brullend ’n entjie verder aan in die straat en kom tot stilstand. Sy klim uit, fyn en slank in haar ligte somerrokkie. Hy sien die goud van die son in haar hare, sien haar praat, weet daar is warmte in haar stem en oë toe sy oorleun om met die forsgeboude man agter die stuurwiel te gesels. Die sportmotor dreun weg en sy bly staan met ’n sagte glimlag om haar lippe.

“Verbrands!” sug Henk Retief sy misnoeë uit en voel hoe die magteloosheid en jaloesie in ’n seer knop op sy maag saamtrek. Hy rek sy treë en is net betyds om die tuinhekkie vir haar oop te maak. “Hallo, Ilse. Stap binne.”

Sy trek haar asem skerp in en lag bly op in sy oë. “Henk! Ek het jou nie eens gesien nie,” sê sy verras.

“Jy sou nie. Met Don Juan in die omtrek kan jy nie verder as jou eie neus sien nie,” praat hy bitter. Hy glimlag skeef om die krasheid van sy woorde te versag. “Jammer ek kon jou nie vandag oplaai nie, maar my motor is by die motorhawe.”

“Ek het vanoggend net ’n paar klasse gehad, en daarna het Bruce my na tannie Nicky-hulle toe geneem,” vertel Ilse terwyl hulle in die tuinpaadjie aanstap. Sy tik op haar boektas en glimlag innig op in sy oë. “Darem ’n bak mens, my tannie Nicky. Sy het vir my ’n pragtige bloesie present gegee; net die regte ding om saam met my nuwe blou romp te dra.”

“Die een met die skewe soom wat jy self gemaak het?” treiter hy haar.

“Bees!” raas sy laggend. “Jy wil dit net invryf dat ek en Sonja nie ’n reguit soom kan inwerk nie.”

“Waar is Sonja vandag?”

“Stad toe om ’n paar goedjies te koop. Sy sal seker netnou terug wees, want ons wil vandag in alle erns begin blok vir die eksamen.”

“Um. Dan gaan jy en Bruce seker nie vanaand uit nie?”

“Nee, maar ek sal moontlik later saam met hom gaan koffie drink. Jy weet mos al Bruce is die uitsondering,” glimlag sy.

“O, ek weet. Na vier jaar is vriend Bruce nog nommer een,” antwoord hy met ’n siniese trek om sy mond.

“Dis omdat hy die enigste man op universiteit is wat altyd … opwindend is. Jy weet tog ek gaan ook met ander ouens uit, maar na Bruce … Hulle verveel my net.”

“Arme ander ouens … Dis seker maar moeilik vir hulle om met Bruce en sy pa se baie geld mee te ding.”

Sy hoor die afkeer in sy stem en kyk vinnig op, en daar is ’n pleitende glimlaggie om haar vol lippe. “Geld is seker belangrik, Henk, maar ek hou ook van Bruce se geselskap. Hy behandel my altyd asof ek iemand heel besonders is.”

“Ek begryp,” antwoord Henk kortaf.

In stilte stap hulle die trap op van die ou rooibaksteenhuis wat in die Victoriaanse styl gebou is. Ilse loop saam tot by sy kamer op die eerste hoek, loop dan verder by nog ’n kamer verby na die groot hoekkamer wat sy met Sonja Odendaal deel.

“Ek wag vir jou!” roep Henk en sy knik woordeloos. Toe sluit sy die deur van die kamer oop.

Ilse Brink stap die ruim kamer binne, gooi haar boektas op die tafel voor die venster neer en skuif die geblomde gordyne verder oop. Peinsend stap sy na die wasbak in die hoek om haar hande te was. Sy kyk op in die diepblou van haar eie oë in die spieël bokant die wasbak. Haar oë is groot, byna amandelvormig, met donker wimpers wat skerp afsteek teen die goue blondheid van haar lang, loshangende hare. Die neusie is fyn bokant die vriendelike, wye mond, en daar is ’n beduidenis van ’n kuiltjie in haar pikante kennetjie.

“ ’n Volle een-en-twintig jaar oud, nie die lelikste wat ek al gesien het nie, byna deur die universiteit en nie verlief, verloof of getroud nie,” praat sy gedemp met haarself, draai dan onrustig van die spieël af weg en droog haar hande af. “Wat makeer jou, Ilse Brink?” sit sy haar alleenspraak voort. “Byna al jou klasmaats het ’n vaste verhouding, of hulle is al verloof en het trouplanne. Waarom nie jy nie?”

Maar diep in haar wese ken sy die antwoord, die waarheid waarvan sy altyd wegskram.

Sy stap na die spieëltafel, trek die borsel deur haar lang hare en kyk tevrede na haar hare wat in ’n natuurlike golwing oor haar skouers val. Gelukkig hoef sy nie in ’n haarsalon te boer nie. Sy kan dit in elk geval nie bekostig nie.

Sy byt op haar onderlip, onthou die bekende woorde uit haar jeugjare: “Ons kan dit nie bekostig nie.” Sewentien jaar op die klein erfplasie waar haar pa lankal ophou veg het teen die armoede, waar haar trotse ma ’n vergeefse stryd met hoenders en vrugte en groente voer om nog onder die dekmantel van ordentlikheid haar medemens in die oë te kyk.

Raap en skraap, meet en pas, bid vir die onmoontlike uitkoms wat môre mag bring … vir die onverwagte, maar gereelde besoeke van oom Leon, die suksesvolle advokaat en later regter, vir die begrypende tannie Nicky met die sagte oë en warm glimlag wat kan gee sonder dat vernederende dankbaarheid jou jou trots laat inboet.

Ek is dankbaar jy kan volgende jaar geld verdien, Ilse, het haar ma in haar jongste brief geskryf. Pieter is volgende jaar in matriek en Susan het alles nuut vir die hoërskool nodig. Ons hoop maar dit reën vroeg vanjaar, want verlede jaar was die vrugte maar klein en min met die bietjie reën.

Altyd armoede, dink sy driftig en stap heen en weer in haar kamer. Hoe het sy nie gehoop dat sy iemand hier sou ontmoet nie … ’n ryk man, die seun van ’n ryk man, iemand wat haar uit hierdie draaikolk van armoede sou verlos. Iemand soos Bruce Reyneke met sy duur sportmotor en sy pa se baie geld wat hy op enigiets uitmors …

Sy gryp haar hande saam, vryf met die duim van haar linkerhand in die handpalm van haar regterhand, staar skuldig in die oë van haar eie spieëlbeeld. Want sy weet dis nie reg nie – dis nie regtig sy nie. Maar wat moet sy doen? Haar ma se rumatiekhande, die voortdurende pyn in haar rug … Sy het rus nodig, sy het iemand nodig om ’n slaggie na haar om te sien. Maar daar is geld nodig vir Pieter en Susan, geld vir skool, geld vir verdere studie … en dit hang alles van haar af. En Bruce Reyneke is die enigste man wat dit alles vir haar kan gee …

Iemand klop sag aan haar kamerdeur. “Kom jy, Ilse? Tant Truia kry weer hoë bloeddruk as ons die kos laat koud word!” roep Henk.

“Ek kom!” roep sy skuldig en gooi die kamerdeur oop.

Hy hou sy hand uit. “Gee, ek sal sluit.”

Sy oorhandig die groot kamerdeursleutel, haar oë op die jong man se aantreklike, oop gesig. Sy hare is donkerbruin, sy voorkop hoog en intelligent. Die kort, reguit neus, groot mond en breë, vierkantige ken gee ’n sterk uitdrukking aan sy gesig. Hy kyk op toe hy die sleutel uit die deur trek en daar is ’n glimlag in sy grysblou oë.

“Wat kyk jy so, ounooi? Is daar ’n vuil streep op my wang?” skerts hy en gee die sleutel vir haar.

“Dankie. Nee, maar ek het net gedink jy is nogal ’n aantrek­like ou. Hoekom het jy nie ’n vaste meisie nie, Henk?” vra sy.

Hy lag kortaf en stap saam met haar oor die stoep na die voordeur. “Omdat ek nie dink dis die moeite werd om ernstig te raak voordat jy in staat is om ’n vrou en kinders te bekostig nie!” spot hy, maar sy hoor die ondertoon van erns in sy stem.

Sy kyk verwonderd op na hom en sê huiwerig: “Jy is mos al ses-en-twintig, Henk. Jy is oud genoeg om te trou.”

“ ’n Mens is seker nooit te jonk om te trou nie,” lag hy. “Die paar jaar wat ek gewerk het voordat ek kom studeer het, het seker gehelp om my ouer te maak,” gaan hy voort.

Hulle stap deur die koel voorportaal na die eetkamer en hoor die geratel van kospotte uit die rigting van die kombuis. Henk trek haar stoel vir haar uit en neem dan teenoor haar aan die groot tafel plaas.

“Het jy al die regte meisie ontmoet, Henk? Tant Truia het vir ons van Babsie du Toit vertel – sy was mos in haar finale jaar toe jy begin swot het?” vra Ilse aarselend en kyk onseker na die man se uitdrukkinglose gesig.

“Dat tant Truia sowaar my geheime aan julle twee japsnoete uitlap!” lag hy onthuts en vervolg rustig: “Babsie het my hart vinniger laat klop, maar sy was ’n jaar ouer as ek en boonop reeds verloof toe ek haar ontmoet het. Sy is seker al drie of vier jaar lank gelukkig getroud en die ma van ’n tweejarige seun. Of het tant Truia vergeet om julle daarvan te vertel?”

“O, sy het. Maar soos Sonja sê, mense raak soms net een keer verlief, en daarna …” Ilse lag verleë.

“Daarna word hulle verbitterde oujongkêrels of -nooiens wat vereensaam en suur deur die lewe gaan?” lag Henk en skud sy kop. “Dis nie vir my nie, ounooi. Dalk is daar iemand, of dalk ook nie, maar een ding is seker: dié dag as ek ’n vrou kan onderhou, sal ek die regte meisie vra, maar tot dan help dit nie. Ek is nie van plan om ’n vrou te vra om saam met my ’n sukkelbestaan te voer nie … Verstaan jy wat ek bedoel?”

Sy knik en daar is ’n siniese trek om haar mond. “Ek ken ’n sukkelbestaan – ek het jou al vertel – en ek glo nie dis die moeite werd nie. Mamma sê dit is as jy jou man werklik liefhet, soos sy vir Pappa liefhet, maar … As tannie Nicky nie so goedhartig, en oom Leon nie so vrygewig was nie, sou ons seker al lankal ons grond verloor het. En al sê my pa nooit iets nie, weet ek dis ’n bitter pil vir hom om te sluk dat dit juis Mamma se suster is wat ons altyd uit ons ergste finansiële nood help. Nie nou meer so dikwels nie, maar veral toe ek nog op skool was, pas nadat Pappa sy eerste hartaanval gehad het. Armoede, werklike armoede, is erger as ’n siekte …”

Hy sien die bitterheid en opstand in haar oë en knik stadig en begrypend. “Vir ’n mens met trots is dit seker soos ’n siekte … maar dis ook die trotse mens wat iets daaraan doen – soos jou ouers wat ondanks hulle nood jou universiteit toe gestuur het. As jy eers werk, hoef jy nooit weer terug te kyk nie, Ilse.”

Blye afwagting blink in haar oë. “Ek weet – en dis ’n heerlike gedagte. My geleerdheid is my versekering teen armoede, soos Pappa altyd sê. Volgende jaar …” Haar oë soek ver na die blye môres wat wag, maar keer dan terug na sy gesig. “Ek het amper vergeet dat ons oor twee maande of wat uitmekaarspat, dat elkeen sy eie rigting sal gaan en almal mekaar miskien nooit weer sal sien nie. Ek sal jou mis, Henk, want jy was soos ’n liewe ouboet teenoor my.”

“Dankie. Ek wou nog altyd ’n jonger suster gehad het,” sê hy met ’n skewe laggie. “Weet jy al waar jy gaan skoolhou?”

“Nee, maar ek hoop dis hier. Ek het lief geword vir die ou Jakarandastad.” Sy blik vraend na hom. “Wat gaan jy met jou M.Sc.-Landbou doen? Seker nie boer nie?”

“Oorspronklik wou ek …” begin hy en draai vinnig om na die kombuisdeur toe hy swaar voetstappe agter hom hoor. “A, tant Truia! Lyk darem nie ons is vandag laat nie.”

“Dag, kinders,” groet die bejaarde tant Truia Basson en skommel nader met ’n bord kos in elke hand. Sy plaas die borde voor Ilse en Henk neer en sak met ’n sug op die stoel aan die bopunt van die tafel neer. “Wat ’n dag! Eers laat Mina die rys verbrand, en toe gooi sy weer ekstra water by die groenbone! Nee wat, vir so ’n gesukkel is ek nie op my oudag lus nie!” kla die gesette vrou kortasem en vee ’n paar los grys hare uit haar oë.

“Dis nog net twee maande, tante, en dan gee ek en Ilse en Sonja finaal pad. Tante kan dan mos rus,” paai Henk.

“Haai, so kort?” vra tant Truia grootoog en skud haar kop ongelowig. “Dis soos gister dat jy hier kom losies soek het, Henk. Die jaar daarop was dit Ilse en Sonja, en toe, twee jaar later, Tanya. Waar draai die ander twee meisiekinders vandag?”

“Sonja het gevra dat tante asseblief haar kos bêre. Sy moes gou stad toe gaan,” maak Ilse vir haar kamermaat verskoning.

“Goed so, my kind. En Tanya?”

“Sy eet seker saam met een van haar talle bewonderaars by die inrykafee,” spot Henk.

Tant Truia snuif deur haar stomp neusie. Haar donker oë rus kwaai op Henk en haar vriendelike mond word in ’n rosyntjie van afkeer saamgetrek. “Jy moet met daardie klein flerrie praat, Henk. Jy’s tog baie ouer as sy – en boonop nog lid van die Studenteraad. Sy’t klaar verlede jaar gedruip, en as sy so aangaan, druip sy hierdie jaar weer! A nee a, ’n mens mors mos nie so met jou pa se geld nie!”

“Nie ek nie, dankie, tante!” maak Henk beswaar. “Ek het genoeg probleme om die meisiekind uit my kamer te hou as ek wil studeer.” Hy kyk vinnig op en verduidelik: “Dis maar net dat sy altyd wil gesels, tante. Sy bedoel niks slegs nie.”

“En jy dink ek is onder ’n kalkoen uitgebroei, Henk Retief? Ga! Ek ken haar soort ook!” raas tant Truia en kyk besorg na Ilse. “En jy, my kind? Wat sit jy so muisstil vandag?” Sy draai na die kombuisdeur en roep skril: “Mina! Koffie!”

“Ek het maar net gedink aan wat ek vir Henk gesê het, tante,” antwoord Ilse gedemp. “Ek bedoel dat ons oor twee maande hier vertrek en mekaar miskien nooit weer sal sien nie.”

“Jitte, Ilsetjie, jy is tog nie van plan om landuit te gaan nie? Dalk kry jy nog ’n pos hier in die stad, en dan kan jy gereeld vir my kom kuier. Ek weet Sonja sal kom – so ’n liewe babbelbekkie, dié kind. En jy, Henk? Is jy nog van plan om met jou baie grade en al êrens op ’n ryk boer se plaas te gaan voorman speel? Ek meen te sê, jy is mos nie ’n man vir kantoorwerk nie. Tag, maar om voorman te speel, is mos om jare se studie te mors … Haai, maar wat praat ek, kind? Jou pa is mos ’n boer, nie waar nie? Jy gaan hom seker help?”

“Daar’s nie genoeg werk vir twee boere op sy plaas nie, tante,” sê Henk afgetrokke en kyk verlig om toe hy die kombuisdeur agter hom hoor oopgaan. “A, hier is Mina met ons koffie.”

Tant Truia neem die skinkbord by die bediende en gee die koffie vir die jong mense aan. Sy gooi drie lepels suiker in haar eie koppie en roer dit tydsaam. “Dan gaan jy boer, Henk?” vra sy weer.

“Beslis, tante.” Hy drink haastig sy koppie leeg en sit sy servet op die tafel neer. “As julle my sal verskoon?”

“Seker, Henk,” glimlag Ilse oor haar koppie. Hy staan op en haar oë volg sy lang atletiese gestalte na die deur.

“Goeie seun daardie,” begin tant Truia praat, haar oë onder­soekend op Ilse se gesig. “As ek nou so ’n mooi nooi soos jy was, sou ek my skoensole deurgeloop het agter ’n man soos Henk aan.”

“Sou dit gehelp het, tante?” vra die meisie laggend en daar is ’n ligte blos op haar wange. “Tannie Nicky dink ook ek is ’n hopelose meisiekind omdat ek nie in Henk belangstel nie, maar dis hy wat nie in my belangstel nie. Ek twyfel of hy in enigiets buiten sy studies en die dinge van die universiteit belangstel. En natuurlik skryf hy soms kortverhale vir tydskrifte, gewoonlik oor plaasmense. Henk is ’n boer in hart en siel.”

“Hy sê altyd hy het ’n groot liefde vir die aarde,” beaam tant Truia. Sy raak weer nuuskierig. “Maar sê my eers, Ilsetjie, as Henk nou op jou verlief raak, sal jy met hom trou?”

“Tante!” lag Ilse hulpeloos. “Tante het ook nie einde as tante eers met iets begin nie. Henk is soos ’n broer vir my, tant Truia, en tante weet dit. Boonop stel hy nie in trou belang nie, want, soos hy sê, hy moet eers in staat wees om ’n vrou en kinders te kan onderhou voordat hy aan trou dink.”

“Verstandige seun, nes ek altyd sê,” kom dit hoofknikkend van die bejaarde vrou. “Ek wil nou nie vir jou voorskryf nie, Ilsetjie, maar Henk is die soort man met wie jy eendag moet trou … Nie met daardie pierewaaier Bruce Reyneke met sy blink, rooi motor en sy pa se baie geld nie. En jou ta’ Nicky is net so bekommerd omdat jy nog nie vir Bruce kon afskud nie. Ek meen, wat sien jy nou in so ’n swierbol soos hy, Ilsetjie?”

“Sy ouers is gesiene mense, tante, en sy pa is skatryk, glo ’n miljoenêr,” verdedig Ilse ongemaklik.

“Sy pá, ja, maar wie is hy? Sit al agt jaar lank op universiteit en het nog nooit ’n graad gekry nie. Nee wat, vir so ’n droogmaker het ek nie tyd nie. Kyk net hoeveel meisietjies se harte hy kan breek, die grootmeneer!” skel tant Truia.

“Dis hulle eie skuld as hul harte gebreek word, tante. Ek en Bruce ken mekaar al vier jaar lank, en ons gaan dikwels uit, maar dit gaan nie my hart breek as hy ander meisies uitneem nie. Bruce sal wel eendag moeg raak om met elke mooi gesiggie uit te gaan.”

“Dis wat jy hoop, Ilse, maar jy ken nog nie mans nie. O, ek weet jy is so half en half Bruce se vaste nooi, maar dis omdat jy een van die mooiste meisies op universiteit is. En jy kan hope ander mans kry. Bruce weet dit. Daarom hou hy jou aan ’n lyntjie. Hy sal nie graag so ’n groot prys met ’n ander man wil deel nie. Dalk trou hy ook nog met jou, net om ’n mooi en ’n slim vrou te hê, maar hy sal nooit net jou man wees nie – nie daardie bedorwe vent nie.”

Miskien nie, dink Ilse, en sy voel die hoop in haar opvlam. As ryk Bruce Reyneke se vrou sal sy vir haar mense kan sorg. Laat Bruce wees wat hy wil, maar hy is ’n goedhartige mens. Hy sal sorg dat Pieter en Susan hul geleerdheid kry en dat haar ma eindelik kan rus. En sy sal al die armoede, die swaarkry van baie jare, die skaamwees en gekrenkte trots vir altyd kan vergeet.

“Moenie jou vererg vir ’n ou vrou nie, Ilsetjie,” praat tant Truia weer. “Ek wil jou nie te na kom nie, maar dis net dat ek bang is jy mors jou lewe op ’n slegte man. Daar is mos baie ander jongetjies – soos daardie mediese student wat so dikwels kom kuier het. Jy kan sommer sien hy’s ’n fyn seun.”

“O, Albert is ’n gawe ou, tante, maar ’n mens luister seker maar altyd na jou hart. Albert is dierbaar, my ander vriende ook, maar dis van Bruce wat ek die meeste hou,” sê Ilse skouerophalend en staan op.

“Hou, of liefhet, Ilse?” vra die vrou reguit.

Ilse lag ongemaklik. “As jy baie van iemand hou, is dit seker maar dieselfde as liefhê, tante,” antwoord sy en stap na die deur. “Dankie vir die ete. Dit was lekker soos altyd, tante.”

“Dis ’n plesier, my kind,” sê tant Truia en klik haar tong meewarig toe sy opstaan om die vuil skottelgoed te verwyder.

In haar kamer gooi Ilse, nadat sy tien minute lank vergeefs probeer studeer het, haar geskiedenishandboek met ’n ongeduldige sug op die tafel neer en stap by die oop kamerdeur uit. Haar oë soek rusteloos deur die tuin. Toe stap sy oor die grasperk na die peperboom, rus op die wit pilaartjies langs die trap voor die kamerdeur en probeer hulpeloos rigting aan haar warrelende gedagtes gee.

Dis alles tant Truia se skuld, dink sy onvergenoegd. Maar waarom moet sy haar aan tant Truia se praatjies steur – behalwe as sy dalk die waarheid gepraat het? Sy kriewel ongemaklik toe sy aan dié moontlikheid dink en probeer die kwelgedagtes van haar afskud. Wat weet tant Truia tog? Sy ken Bruce skaars, behalwe wat sy van die nydige Tanya gehoor het. Arme Tanya wat al twee jaar lank probeer om Bruce te kry – die flerrie! Miskien is Bruce ’n bedorwe rykmanseun, miskien is hy ’n leeglêer, maar hy kan dit immers bekostig en boonop kan dit haar nie skeel nie … Sy skrik vir haar eie gedagtes en besef ineens: Wat Bruce ook al doen, kan haar nooit werklik raak nie, want sy het hom nie lief nie. Daarom kan hy haar ook nie seermaak as hy met ander meisies uitgaan nie, want sy gee nie vir hom om nie. Dis net sy baie geld, die moontlikheid dat hy haar mense kan help … Maar dis verkeerd, so hopeloos verkeerd!

Skuldig spring sy op en begin rusteloos heen en weer stap en daar is ’n diep frons tussen haar wenkbroue. Sy besef dat geen eerlike meisie met ’n man sal trou bloot ter wille van sy geld nie – maar as sy dit sou doen ter wille van haar eie mense? As sy met Bruce sou trou om haar ma se las te verlig? Dis tog ’n onselfsugtige daad, want sy sal nie ter wille van haar eie gierigheid met Bruce trou nie. Sy sal nie eens aan haar eie geluk dink nie. Kan dit so verkeerd wees? Is liefde werklik so ’n belangrike faktor? Is liefde nie maar net …?

“Met watter bose gees spartel jy nou weer, Ilse?” vra ’n laggende stem langs haar.

Ilse ruk om en kyk vas in die vriendelike gesig van haar kamer­maat, Sonja Odendaal. Sonja is ’n lang, skraal meisie met rooibruin hare wat byna uitbundig om haar skraal gesiggie krul. Haar groenbruin oë weerkaats die maklike glimlag wat om haar wye mond lê. Die enkele sproete wat op haar wipneusie uitgestrooi is en die kuiltjie in haar vierkantige ken, gee ’n byna seunsagtige uitdrukking aan haar gesig.

“Haai,” lag Ilse. “Ek het seker soos ’n bekommerde ma van twaalf gelyk, maar ek hét nogal diep gedink.”

“Kan ek help?” vra Sonja terwyl sy hulle kamer binnestap om haar pakkies neer te sit. “Hemel, hoekom is my pa so suinig? Ek het die mooiste rok gesien, maar die geldjies … Ek kon nouliks my toiletbenodigdhede bekostig.”

“Kyk wie kla,” spot Ilse half ernstig.

Sonja hoor die tikkie verwyt in Ilse se stem en kyk skuldig op. “Ek het seker nie rede om te kla nie,” lag sy verleë en druk Ilse se skouers impulsief. “Toe maar, Ilse, dis nog net twee maande. Volgende jaar verdien ons ons eie geld, en dan kan ons koop wat ons wil. Ek kan al sien hoe ek my eerste salaristjek in ’n klerewinkel uitmors!”

“Daar sal nog nie vir my geld wees om te mors nie,” sê Ilse sag en neem afgetrokke op haar bed plaas.

“Maar …? Jy het tog ’n beurs gekry, nie waar nie? Jy het nie studieskuld nie. Wat gaan jy met al jou geld maak?” vra die rooikopmeisie verwonderd.

“Jy het saam met my grootgeword, so jy behoort te weet, Sonja. Jou pa is ’n dokter … Dis nie nodig vir jou om hom te help om jou jonger broers te laat studeer nie.”

Sonja byt op haar onderlip en knik begrypend. “Ek het vergeet … Maar sal dit nie nou makliker vir jou ma wees nie, Ilse? Dis tog net Pieter en Susan, en Pieter sal seker ook ’n beurs kry om verder te studeer.”

“Mamma se gesondheid is lankal nie meer goed nie,” antwoord die blonde meisie met haar oë op die venster. “Ek voel verplig om haar te help sodat sy nie so hard hoef te werk nie. As sy net die huishouding moes waarneem, sou sy dit nog kon behartig, maar dis die hele boerdery, en dan nog Pappa om te versorg. Ek weet oom Leon-hulle sal haar graag meer wil help, maar Mamma het nog haar trots en dis nie maklik vir haar om maar altyd te ontvang sonder om ooit iets terug te gee nie. Dis daarom dat ek enigiets sal doen om met ’n ryk man te trou!” Sy kyk vinnig en uitdagend na haar vriendin, reg om haarself te verdedig.

“Ek … verstaan,” kom dit met ’n ligte frons van Sonja. “Is dít waarom jy met Bruce Reyneke uitgaan? Ek weet sy pa is skrikwekkend ryk, maar hy is nie eintlik ons soort nie.”

“Hoe bedoel jy? Nie ons soort nie?” vra Ilse verras.

“Goeiste, moenie jou dom hou nie, Ilse,” sê Sonja ongeduldig. “Bruce is die amptelike grap van die universiteit – agt jaar, en hy het nog nooit ’n graad behaal nie. Blink motors, partytjies, meisies … dis waarvoor Bruce op universiteit is. Maar ons het gekom om ’n graad te behaal, ons en mense soos Henk. Kan jy vir Bruce en Henk oor dieselfde kam skeer?”

“Nee, natuurlik nie, maar Bruce het geld en … Wel, hy is net anders. Bruce is van kleins af gewoond om te kry wat hy wil hê. Hy het heeltemal te veel geld, daarom het hy nie werklik ’n graad nodig nie,” verdedig Ilse halfhartig.

“Wat laat jou dink dat Henk nie aan baie geld gewoond is nie?”

“Ek weet nie,” sê Ilse verward, “maar as hy net so baie geld soos Bruce gehad het, sou hy nie met ’n klein motortjie gery het nie. Hy trek netjies aan, maar Bruce het hope klere en … Bruce het net meer geld, dis al,” eindig sy onseker.

“Jy bedoel Bruce het net sy geld om mee te spog, maar Henk het nie nodig om met sy pa se geld te spog nie,” kom dit met ’n begrypende glimlag van Sonja. “Kobus se een vriend, Tommie Lategan, was saam met Henk op skool. Hy sê Henk se pa is een van die rykste boere in die Noorde – miskien net so ryk soos Bruce se pa. Die verskil is net dat Bruce ’n ryk seuntjie is, terwyl Henk ’n volwasse man is wat op homself staatmaak om êrens te kom.”

“Dis miskien waar,” gee Ilse toe, “maar waarom gaan Henk dan ’n plaasbestuurder word? As sy pa so ryk is, kan hy seker bekostig om vir hom ’n eie plaas te koop.”

“Ek weet nie,” antwoord Sonja fronsend. “Tommie het iets gesê oor moeilikheid tussen Henk en sy pa. Sy pa wou hom glo nie universiteit toe gestuur het nie, want hy het Henk nodig gehad op sy plaas. Maar Henk wou verder studeer, en hy het ook, moontlik met beurse. Snaaks, Henk praat nooit oor homself of sy mense nie.”

“Nee,” beaam Ilse en vra huiwerig: “Is dit werklik so verkeerd om met ’n man ter wille van sy geld te trou, Sonja? Ek bedoel, as jy wel van die man hou, maar hom nie liefhet nie – as jy trou om ander te help, en nie ter wille van jouself nie.”

Sonja skud haar kop stadig en daar is ’n glimlag in haar oë. “Ilse, wie probeer jy bedrieg? Jy weet net so goed soos ek dat dit verkeerd sal wees, want dit sal oneerlik wees. Sien jy regtig kans om met so ’n nikswerd soos Bruce te trou, net met die hoop dat jy jou ma-hulle sal kan help?”

“As jy armoede so haat soos ek …” begin die blonde meisie driftig. Dan swyg sy onseker. “Ek weet nie, Sonja. Ek weet nie! Maar, nou ja, Bruce het my nog nie gevra nie, en ek het geen rede om te glo hy sal my vra om te trou nie. Waarom moet ek my daaroor bekommer?”

“Omdat jy bang is jy sal ja sê ter wille van sy geld as hy jou wel sou vra. Maar jy sal nie, Ilse. Ek ken jou te goed,” sê Sonja gerusstellend.

“Nee, seker nie,” antwoord Ilse onseker en tuur weer deur die venster na die tuin. Maar in haar knaag die wete: sy sal instem om met hom te trou, want as sy dan ter wille van geld móét trou, sal sy verkies om met die rykste man te trou. Daar was wel ander, soos Albert en Gert, wat ook van trou gepraat het, maar sy het hulle net so min lief as wat sy vir Bruce liefhet. As sy miskien verlief kan raak, as sy ter wille van liefde met ’n man kan trou … Maar tot dusver het sy nog nooit iemand werklik liefgehad nie.

Skielik sien sy Henk se stil, sterk gesig voor haar en frons ergerlik. Waarom moet sy juis nou aan hóm dink? O, sy hou baie van Henk en sy bewonder hom, maar liefde? Nee, sy en Henk is beslis nie vir mekaar bedoel nie.

Schalkie van Wyk Keur 12

Подняться наверх