Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk - Страница 6
Оглавление3
Tant Truia luister na die vier jong mense se opgewekte gesels, haar oë afkeurend op Tanya wat aan haar middagete peusel. Sy soek troos by Henk, wat met sy gebruiklike goeie eetlus aan sy bord kos weglê, en glimlag tevrede.
“Hoekom is studente so arm?” vra Sonja en kyk skuins op na Henk wat langs haar sit. “As ons enigiets nodig het wat meer as vyf sent kos, is dit omtrent ’n nasionale ramp!”
Tant Truia sluk ’n mondvol warm koffie vinnig af, klap haar tong en sê: “Haai, hartjie, ek het skoon vergeet. Jou ma het vanoggend gebel om te sê jou peetma het vir jou ’n tjekkie van twintig rand gestuur. Jou ma sê jou peetma het so ’n rukkie daar gekuier.”
“Dierbare ryk tant Lenie!” sê Sonja ondeund. “Toe ek klein was, het ek altyd gewonder waarom my ma nou juis die lelikste ou vrou moes uitkies om my peetma te wees, maar hoe ouer ek geword het, hoe blyer was ek daaroor. Sien, tant Lenie beskou haar peetmaskap in ’n baie ernstige lig, en sy gee my nooit minder as tien rand as sy kom kuier nie.”
“En ek neem aan sy kom dikwels kuier?” vra Henk laggend.
“Héél dikwels!” beaam Sonja, terwyl haar oë op die glimlaggende Ilse rus. “Vra maar vir Ilse hoeveel keer tant Lenie se tien rand ons uit ’n groot droogte gered het. Haai, Ilse, ek wonder …? Maar natuurlik, die twintig rand kan in ons porseleinvarkie gaan vir jou nuwe aandrokfonds!”
“Beslis nie, Sonja,” protesteer Ilse en daar is ’n blos van verleentheid op haar wange. “Ek gaan nie jou geld gebruik om vir my ’n nuwe aandrok te koop nie.”
“O, jy sal dit mooitjies moet terugbetaal as jy volgende jaar begin werk, met rente!” dreig Sonja. Sy soek hulp by Henk. “Toe, praat met die kind, Henk. Sy wil ekstra werk doen om geld vir ’n aandrok te verdien, maar jy weet self daar is nie juis tyd om in hierdie stadium van die jaar te mors nie. Ek het nie nou tant Lenie se twintig rand nodig nie, en as ek boonop ’n sommetjie vet rente kan kry …” Haar oë rus stout op Ilse wat hulpeloos glimlag.
“Ek sou sê dis niks anders as goeie besigheid nie,” sê Henk. “Vat die geld, Ilse, en as sy jou volgende jaar te veel rente vra, skryf vir my. Dalk moet ek en tant Truia ook ’n paar rand in die aandrokfonds belê. Dit lyk my ons kan goed geld maak!”
“Hoekom skryf jy nie net vir jou ma dat jy ’n aandrok nodig het nie, Ilse? Ek het nog gister vir my ’n nuwe aandrok gekoop, en my ma het beloof om later in die maand vir my nog een te koop,” sê Tanya onbegrypend.
“Hemel, maar sy’s toe,” knor Sonja grimmig. “Hoeveel keer moet ons nog verduidelik dat ons ouers nie geld soos tamatieplantjies in die groentetuin kweek nie, Tanyatjie?”
“Wie sê hulle doen dit?” kap Tanya terug. “Ek weet Ilse se ouers is nie so ryk nie, maar hulle kan seker vir haar ’n laaste aandrok koop. Goeiste, dit kos mos nie duisende rande nie!”
“Nee, net ’n hele maand se kruideniersware,” sê Ilse met ’n stil glimlag in haar oë. “Moenie jou kop daaroor breek nie, Tanya. Jy sal tog nooit verstaan hoe ’n mens genoeg geld vir kos kan hê, maar nie genoeg om elke dag ’n nuwe aandrok te koop nie.”
“Maar dis mos nie elke dag nie. Jy het al jou ander aandrokke self gemaak, en ek dink dis gemeen van jou ma-hulle om –”
“Jy praat deur jou nek, Tanya,” sê Henk rustig, maar sy oë is koud. Hy draai na tant Truia. “Kan ek nog ’n bietjie groenbone en rys kry, tante?”
“Natuurlik, my kind,” antwoord die bejaarde vrou met ’n ingenome glimlag. “Dis so lekker om te sien ’n mens se moeite word waardeer.” Sy neem self sy bord en skommel kombuis toe.
“Ek wil nog pampoen en vleissous hê, tante!” roep Sonja en draf met haar bord in haar hand agterna.
“Verskoon my,” kom dit kil van Tanya. Sy skuif haar stoel ergerlik agteruit en stap heupswaaiend die eetkamer uit.
“Foei tog, julle moenie so snaaks teenoor Tanya optree nie, Henk,” sê Ilse. Haar oë is pleitend op sy gesig. “Tanya het eerlikwaar nie ’n benul van die waarde van geld nie. Sy koop doodeenvoudig wat sy sien, en sy kan net nie begryp dat daar wel mense is wat hulle sente twee keer moet omdraai nie.”
“Onsin,” antwoord hy ongeduldig, sien die blos op Ilse se wange en vervolg gemoedeliker: “Sonja kry tog ook volop sakgeld en klere, Ilse, maar sy verstaan dat jy dit nie so breed het nie. Moenie vir my sê Tanya het nog nooit voorheen iemand geken wat nie alles kan koop wat hy wil hê nie. As ek en Sonja dit kan begryp, kan sy ook, maar ek weet dis haar manier om te spog, om ons almal te laat verstaan dat sy darem ’n hele entjie ryker as jy is. Dis wat my so kwaad maak! Sy vryf behoorlik jou armoede vir jou in, en dan is jy nog partydig vir haar!”
“Seker omdat my armoede my nog nooit kon skeel nie.” Sy sien die ongeloof op sy gesig en vervolg ernstig: “Ek bedoel dit, Henk. Toe ek nog jonger was en dikwels gekla het omdat ek nie ’n nuwe rok of ’n tennisraket kon kry nie, het my ma my eendag na die spieël geneem. Sy het vir my gewys ek het ’n mooi gesiggie en ’n gesonde liggaam – iets wat duisende ryk kinders nie het nie. En sy het gesê dat as ek die dag klaar gestudeer het, as ek self genoeg geld verdien, daar geen verskil tussen my en die rykes sal wees nie, behalwe dat ek nog mooier as hulle sal wees. Ek is nie verwaand nie, eerlikwaar nie, maar ek het tog altyd geweet ek is nie die lelikste in die skool nie. En sulke dinge maak saak, veral as jy dag vir dag met dieselfde verbleikte rok moet loop – want armoede is nie werklik prettig nie, behalwe as jy weet dat daar eendag ’n einde aan sal kom.”
Hy kyk diep af in die blou van die meisie se oë, en sy sien hoe ’n sagte gloed in sy oë kruip, sien hoe ’n vreemdheid in die effense glimlag om sy mond. “Jy het ’n verstandige ma, Ilse,” praat hy en sy stem is effens skor, “want sy het jou op haar manier geleer dat dit saak maak wat jy is, nie wat jy besit nie. Armoede was goed vir jou, want dit het van jou ’n mooier mensie gemaak.”
“Jy laat my byna dankbaar voel omdat ek arm grootgeword het,” skerts sy, maar dan kom die ou bitterheid weer in haar oë. “Miskien was dit goed vir my, maar dit kan nooit goed wees vir my ma nie – nie as dit vir ewig moet aanhou nie.”
“Maar sal …?” begin hy en swyg toe die kombuisdeur oopgaan en tant Truia, gevolg deur Sonja, die eetkamer binnekom.
“O, lekker, die ryk dingetjie is weg!” sê Sonja en neem weer langs Henk plaas. “En moenie soos ’n kerkvader na my kyk nie, Henk Retief. Jy vervies jou net so baie soos ek as Tanya haar pa se geld onder ons neuse vryf!”
“Ek staan beskuldig!” lag hy en neem sy bord by tant Truia. “Dankie, tante. Ek gaan darem volgende jaar hierdie lekker borde kos mis.”
“Aag, bog met jou, Henk! As jy op ’n plaas gaan werk, kry jy elke dag vars vleis en groente, om nie van al die vars melk en botter en room te praat nie!” maak tant Truia beswaar, dog haar oë blink toe sy sy vleiende woorde hoor.
“A, lekker aarbeie en room – dis waarvan ek gaan leef as ek die dag my eie plaas besit,” praat hy met niemand in die besonder nie.
“En voor jy veertig is, het jy ’n dubbele ken en ’n boepmaag,” voorspel Sonja.
“En ’n vrou en ses kinders wat glad nie sal omgee vir my dik middeljare nie, solank ek ’n stywe bankrekening het,” terg hy.
“Julle kinders darem!” glimlag tant Truia hoofskuddend. Sy kyk na Ilse wat reeds klaar geëet het. “Nog iets, hartjie? Jy en Sonja leer juis so hard. Julle moenie julle etes verwaarloos nie.”
“Ek het meer as genoeg gehad, dankie, tante. Gewoonlik verstom ek my so aan Henk en Sonja se vermoë, dat ek skoon my eetlus verloor!”
“Jy sal maak dat ek onder die tafel sit en eet,” dreig Henk donker. Hy kyk ’n oomblik na haar gesiggie en vra vinnig: “Waarvoor het jy die nuwe aandrok nodig? Gaan jy saam met Bruce dans?”
“Hy het my gevra, ja, maar die dans is eers na die einde van die eksamen,” antwoord sy en wonder ergerlik waarom sy byna skuldig voel om dit teenoor Henk te erken.
Tant Truia klik haar tong meewarig. “Nog steeds daardie ryk pierewaaier? Ai, tog, kindjie, maak nou ’n slaggie my ou hart bly en kry vir jou ’n ordentlike jongetjie voordat jy hier uittrek. Ek sal my mos siek bekommer as jy eers weg is, en daardie leeglêer lê nog soos ’n klein keffertjie op jou hakke. Nee wat, Ilse, daar is darem duisende ouliker mans as Bruce Reyneke op universiteit.”
“Ilse sal verstand kry as sy eers volgende jaar werk, tante,” sê Sonja vinnig toe sy die opstand in Ilse se oë lees. “Sy sal dit nie regtig geniet om saam met ’n leeglêer uit te gaan as sy eers haar eie geld verdien nie.”
“As jy so sê, Sonja … Maar ek weet nie so mooi nie. Dis darem nou al vier jaar wat jy met hom uitgaan, hè, Ilse? Jy is nie dalk van plan om einde van die jaar met hom te trou nie?” vra tant Truia bekommerd.
“Hoekom nie, tante? As hy genoeg geld het …” treiter Ilse haar en stoot haar stoel agteruit. “Ek weet dis Vrydag, maar ek wil nog ’n hele paar dingetjies doen voordat ek vanmiddag begin studeer. Verskoon my, asseblief.”
“Ons kom,” sê Henk en staan op. “Los nou daardie murgbeen, Sonja. Dankie vir die ete, tante. Dit was heerlik.” Hy volg Ilse na buite.
Ilse talm langs Henk toe hy sy kamerdeur bereik en omdraai om die deur oop te sluit.
“Meneer!”
Hy hoor die stout lag in haar stem en draai om. ’n Glimlag lê vlak in sy oë. “Ek ken daardie ‘meneer’ van jou, en ek kan raai wat gaan volg. Wil jy hê ek moet jou gou dorp toe neem?” Hy kyk na sy motor onder die peperboom.
“Jy ken my te goed!” lag sy oorwonne en skud haar kop. “Nie vandag nie, dankie, Henk, maar ek wil jou ’n guns vra. Kan jy weer vir my tikwerk kry om te doen? Of enige ander werk. Ek móét geld verdien om daardie aandrok te koop. En ek wil baie geld verdien, want dit moet die mooiste aandrok in die stad wees – net vir een keer wil ek ’n aandrok koop, nie weer met sente plooi om ’n goedkoop aandrok te maak nie.”
“Ek wens ek kon dit vir jou koop. Nee, moenie baklei nie, want ek weet jy sou my nie toelaat nie, en boonop het ek nie nou die geld nie.” Hy hou sy ken in sy regterhand, vryf met sy wysvinger langs sy mondhoek. “Ek wonder … Laat ek sien wat ek vanmiddag kan uitrig, Ilse, en dan kom sê ek jou. Reg?”
“Reg, meneer!” lag sy dankbaar. “Ek het geweet ek kan op jou staatmaak.”
“Ek wens jy wil dit meermale doen,” verwyt hy, trek sy asem skerp in en kyk na die pakkie wat op sy skryftafel lê. “Mintag, ek het so byna weer daarvan vergeet. Tannie Nicky het gisteraand hierdie pakkie vir jou afgelewer. Dit was net voordat jy saam met Bruce teruggekom het.” Hy stap met lang treë die kamer binne en keer met die pakkie terug.
“O, dankie.” Ilse loer in die plastieksak en glimlag tevrede. “Dis my blou blommetjiesrok. Tannie Nicky het vir my ’n nuwe ritssluiter ingesit. Was sy lank hier?”
“Nee, sy het eintlik net die pakkie gebring. O, ja, ons is uitgenooi om weer ’n slaggie te gaan kuier. Jy kan gerus met tannie Nicky oor jou nuwe aandrok gesels, ounooi. Sy is altyd so deftig geklee en sy sal wel raad hê.”
“En daarvoor betaal ook,” sê sy somber en skud haar kop. “Ek is nie ondankbaar nie, Henk, want ek weet tannie Nicky koop graag vir my iets, veral omdat Leana nou in die buiteland studeer – en Heinrich ook vanaf volgende jaar. Ek dink dit troos haar as sy vir my dingetjies kan doen, want ek weet sy is baie geheg aan haar oudste dogter, maar dit … help my nie regtig nie. Kan jy dit verstaan, Henk? Sy is my eie tannie, maar ek voel nooit so miserabel armoedig as juis wanneer tannie Nicky geskenke in my arms druk nie.”
“Ek glo nie dis hoe tannie Nicky daaroor dink nie,” sê Henk rustig. “Sover ek weet, is sy geweldig trots op haar jong niggie wat eers as joolprinses en toe as joolkoningin gekies is, en boonop akademies besonder goed presteer. Ek dink sy beskou jou meer as een van haar kinders, want sy spog net so graag oor jou as oor Leana of Heinrich. Miskien is sy werklik lief vir jou, ounooi.”
Ilse byt op haar onderlip, haar blik skerp op Henk se ernstige gesig. “Jy meen sy gee vir my dinge omdat sy … lief is vir my? Omdat sy trots is op my?”
“Natuurlik, klein domkop. Maar sy weet ook hoe sensitief jy is, daarom gee sy minder as wat sy graag wou. Sy het dit eendag vir my gesê. Ek dink as jy ’n rykmansdogter was, sou tannie Nicky jou baie meer bederf het, want dan sou jy nie soos ’n bedelaar gevoel het elke keer as sy vir jou ’n geskenkie gee nie.”
Ilse luister stom na hom en knik stadig met haar kop. “Ek is seker ’n bietjie laf om so oorgevoelig te wees, maar … Jy’s darem ’n slim ou, Henk, want ek het nooit voorheen so oor die saak gedink nie. Miskien sal dit van nou af makliker wees om ’n geskenk van haar te aanvaar.” Sy lag op in sy oë. “Jy’s die enigste mansmens wat weet hoe om my deurmekaar binnekant reg te pak sodat ek alles in ’n beter perspektief kan sien – seker omdat jy amper middeljarig is, nè, Henk?”
“Snip! Die vyf jaar voorsprong maak my nou wel twee keer slimmer as jy, maar dit maak my nog nie jou oupa nie. Sal ons Saterdagmiddag by tannie Nicky-hulle gaan inloer?”
“Graag. Eers so teen vyfuur se kant, want ek en Sonja wil die middag nog ’n bietjie werk doen. En nou moet ek eers weg wees. Tot later, Henk.”
“Sien jou, ounooi,” groet hy en stap sy kamer binne.
Ilse stap stadig terug na die hoekkamer en daar is ’n peinsende uitdrukking op haar gesiggie. Tog vreemd dat dit juis altyd Henk is wat vir haar nuwe deure oopmaak, wat haar help om nugterder na die lewe te kyk. En dis ook hy na wie sy hardloop as sy hulp nodig het, wat altyd raad het …
“Haai, kom terug, dromer!” praat ’n diep manstem langs haar. Sy ruk om en haar oë is groot van die skrik. Kobus Krynauw lag openlik in haar gesig. “En toe skrik jy tog! Ek het amper ‘Boe!’ geskree, maar ek was bang jy breek in stukkies as ek dit doen. Jy lyk altyd asof jy sal verkrummel as ’n mens te hard na jou kyk.”
“Ek lyk net so klein omdat jy so skandelik groot is,” sê Ilse blosend. “Maar kom binne, Kobus. Sonja sal nou hier wees.”
Kobus gehoorsaam en vleg sy lang bene en arms oor die rusbank, sy donker oë nog tergend op haar. Dié regstudent in sy finale jaar staan byna twee meter in sy sokkies en het besonder groot hande en voete. Sy hare en oë is donker, sy mond groot, met ’n glimlag huiwerend om sy mondhoeke. Sy neus is groot en reguit en sy ken is breed. As hy glimlag, keep twee diep kuiltjies in sy wange en verleen ’n ruwe aantreklikheid aan sy gesig.
“Eet my meisie nog? Ek sal sowaar ons troue nog ’n jaar moet uitstel, want daardie meisiekind sal my bankrot eet,” terg hy.
“Nie die helfte wat jý kan eet nie,” terg Ilse hom. “Ek sal nooit vergeet toe ek en Sonja ’n vleisbraai gehou het en jy al ons tjops opgeëet het nie … al ses, en ons het nogal gedink daar sal twee vir elkeen van ons wees. As tant Truia nie vir ons ’n stukkie boerewors gegee het nie, het ek en Sonja daardie aand honger gaan slaap.”
Kobus gooi sy kop agteroor en lag hartlik. “Ses tjops op ’n vleisbraai! Mens, ek eet twaalf sonder om ’n oog te knip!”
“Dan beter jy maar julle troue nog ’n jaar uitstel, anders eet jy vir jou en Sonja bankrot!”
“Wie wil my troue uitstel?” vra Sonja van die deur af en gewaar Kobus op die rusbank. “Jy! Wat knoei jy agter my rug, jou yslike mansmens?”
“Ek betreur jou eetlus en Ilse betreur my vleislus,” grinnik hy en trek Sonja langs hom op die rusbank neer. “Nee wat, jy het nog nie ’n halwe kilogram swaarder geword vandat ek jou ken nie. Nie dat ek sal omgee nie. ’n Bietjie vet op die regte plekke pas enige vroumens.”
“Op die regte plekke, maar die vet vra nie jou mening nie,” sê Sonja en kyk byna verlig na haar lang, slanke bene. “Het jy my kom haal om saam stad toe te gaan?”
Kobus knik en vroetel sy kromsteelpyp uit sy sak. “Ek wil vir my ’n paar nuwe sporthemde koop, en ek weet al wat jy van my smaak dink. Ons sal nie lank wees nie, want ek weet jy wil kom swot. As jy jou boeke saambring, kan jy daar by my en Hannes kom leer, en dan kan ek jou net voor aandete terugbring.”
“Daardie storie het ek ook al gehoor,” glimlag Sonja en skud haar kop. “Nee, meneer Kobus, ons koop jou hemde en dan bring jy my dadelik terug. Ons gaan môreaand uit, en dis meer as genoeg. Ek wil net gou my hande was en my hare borsel. Gesels jy maar solank met Ilse.”
“Ons trou eers oor ’n jaar, maar sy sit al klaar op my kop!” kla Kobus en sy oë rus sag op die slanke meisie toe sy by die binnedeur van die kamer uitglip.
“Soms wonder ek waarom julle nie reeds die einde van hierdie jaar trou nie,” sê Ilse en gaan sit op die armleuning van ’n stoel oorkant Kobus.
Hy suig aan sy pyp en knik stadig. “Ek het ook so daaroor gevoel, maar Sonja kan ’n hardekop wees as sy wil. Sy sê as sy trou, wil sy ’n huisvrou en ’n moeder wees, nie ’n werkende getroude vrou nie. En dis waar. Ek sal self meer gerus voel as ek weet daar is genoeg geld wanneer die eerste klein Krynauwtjie sy verskyning maak. Ons raak in elk geval Desember verloof – maar jy weet daarvan, want jy is eerste uitgenooi na die groot geleentheid. Maar wat van jou, Ilse? Het jy nog nie trouplanne nie?”
“Ek soek nog steeds na die regte man om op verlief te raak,” antwoord Ilse ontwykend.
“Ek’s bly om dit te hoor. Ek was al ’n bietjie bekommerd dat jy dalk van plan is om ernstig met Bruce te raak.”
“Arme Bruce. Julle is almal so verskriklik gekant teen hom dat ek later uit pure jammerte met hom sal trou,” sê Ilse half geïrriteerd.
“Ons ken miskien net vir Bruce beter, en dis nie ’n mooi prentjie nie,” sê Kobus ernstig en staan op toe Sonja weer die kamer binnekom. “A, lyk my meisie nie nou pragtig nie?” Hy plaas sy arm besitlik om haar skouers. “Sien jou, Ilse. En luister maar vir jou oom. Bruce is die regte ou vir ’n dom meisie, maar jy is gelukkig nie dom nie.”
“Ek sal dit onthou,” sê Ilse met ’n teësinnige glimlaggie en kyk die twee agterna.
Arme Kobus, hy bedoel dit goed, mymer sy. Eintlik bedoel hulle dit almal goed: Sonja, tant Truia, Henk en nou Kobus. Sy self weet ook die waarheid, maar geld is tog belangrik … of is dit? Snaaks, gister was sy nog redelik seker, maar hoe meer sy daaroor dink, hoe minder aantreklik word so ’n huwelik. Vier jaar gelede het sy na die universiteit gekom met twee doelstellings voor oë: om haar graad te behaal, en om met ’n ryk man te trou sodat sy haar ouers kan help. En nou? Noudat die oomblik van waarheid aangebreek het, noudat sy met ’n ryk man of eerder met die seun van ’n ryk man kan trou, is dit skielik nie meer vir haar so ’n aanloklike moontlikheid nie.
Sy staan op en stap na die wye venster. Haar oë rus op die ou peperboom. “Want ek wíl eendag trou, maar ek wil trou omdat ek die man liefhet en respekteer. Ek wil voel soos Sonja oor Kobus voel, oor my man praat soos sy oor Kobus praat,” fluister sy vir die lowergroen takke wat liggies in die windjie roer.
En daardie man sal nie Bruce wees nie. Hy sal anders wees, meer soos Kobus … nee, soos Henk. Henk, vandag in die eetkamer … Sy kon die bewondering in sy oë lees, kon sien hy hou van wat sy vir hom van haar ma vertel het. Henk sal bitter teleurgesteld in haar wees as sy met Bruce trou, en sy sal al sy respek verloor. En dit is vir haar belangrik om sy respek te behou, want hy is ’n goeie vriend, die beste vriend wat sy nog gehad het. Nee, sy sal beslis nie met Bruce trou nie …
Sy voel skielik vreemd vry en lag verlig. Dit het haar meer gehinder as wat sy self besef het – haar vrees dat sy dalk met Bruce sou trou. Want hy het reeds ’n paar keer in daardie rigting gepraat, maar sy het hom elke keer ontwyk omdat sy nie seker was nie. Maar nou kan hy maar ’n duisend keer vra, want sy weet vir seker dat haar antwoord altyd nee sal wees.
Skuins voor vieruur staan Ilse op en skakel die ketel aan. Toe sy orent kom, gewaar sy Tanya in die kamerdeur.
“Swot jy?” vra Tanya onseker, bewus dat selfs die goedige Ilse nie kan verdra om in haar studies gesteur te word nie.
“Ek was van plan om ’n koppie koffie te maak voordat ek verder werk,” antwoord Ilse en wys na die leunstoel. “Kom sit, Tanya. Wil jy saam koffie drink?”
“Ek moet eintlik gaan regmaak om uit te gaan,” sê Tanya ongemaklik en kyk huiwerig na die boek in haar hand en dan na Ilse. “Dis net dat ek gewonder het of jy my nie kan help nie, Ilse. Ek weet jy wil geld verdien vir jou aandrok, en ek onthou jy het al in die verlede tikwerk gedoen. As … as jy al hierdie kunsgeskiedenis-aantekeninge vir my kan oortik … Jy vra mos dertig sent vir ’n bladsy?”
Ilse kyk met ’n hulpelose glimlag na Tanya en skud haar kop onbegrypend. “Hoekom is jy so bang om vir my te vra? Goeiste, dis mos jy wat vir mý ’n guns doen! Gee hier.” Sy neem die dik aantekeningboek by Tanya en skud haar kop weer. “Jy gaan betaal dat jy hik, Tanya. Het jy dan geen aantekeninge nie?”
’n Warm gloed verdonker haar gesig. “Nee, ek het my aantekeningboek verloor. Jy weet mos ek was verlede naweek by Petro, en ek het my boek saamgeneem om te swot. Ons het ’n groot partytjie gehad en alles was ’n bietjie deurmekaar. Toe ek Sondagaand inpak, was my aantekeningboek net skoonveld. Petro het weer gedurende die week daarna gesoek, maar sy kon dit nie kry nie.”
“Moes ’n lekker partytjie gewees het,” skerts Ilse goedig. Sy frons effens en vra onseker: “Jy het gesê Petro het stories oor Henk vertel. Wat het sy te vertel gehad?”
Tanya bloos dieper en lag selfbewus. “Niks besonders nie, net dat sy al gehoor het Henk is ’n gawe ou om mee uit te gaan. Hy neem glo altyd die asters na die beste plekke in die stad.”
“Is dit al?” vra Ilse en die verligting is hoorbaar in haar stem. “Ek dag jy het gehoor hy is ’n wilde ou?”
“Nee, natuurlik nie, maar wat Henk doen, het in elk geval niks met ons te doen nie.” Sy sug en kyk pleitend na Ilse. “Ek weet Sonja kan my nie verdra nie, maar ek kan dit nie help nie, Ilse. Henk is die man vir my – ek weet dit. Ek weet julle dink almal ek stel net in mooi klere en partytjies belang, maar dis nie regtig so nie. As ek ’n man soos Henk gehad het, sou ek heeltemal anders gewees het. Maar hy is so koud en onbereikbaar, amper soos iemand in ’n droom.”
“ ’n Droom anderkant die horison,” glimlag Ilse begrypend. “Ek dink ons het almal sulke drome, Tanya – drome wat ons graag eendag sal wil bewaarheid, maar dis nie altyd moontlik nie. Ek het ’n droom om eendag gelukkig getroud te wees, om ’n huis en kinders te hê, maar ek weet nog nie eens wie die man sal wees nie. Dis daarom dat ek sê my droom lê anderkant die horison, want ek kan nog nie eens sien wie almal in my droom sal wees nie.”
“Dalk nog Henk,” sê Tanya skor en daar is ’n wrang trek om haar vol mond.
“Henk? Wat laat jou so dink? Lyk dit of ek op hom verlief is?” vra Ilse geïrriteerd.
Tanya vee senuweeagtig ’n paar los hare uit haar gesig en antwoord vinnig: “Moenie jou vir my vererg nie, Ilse, maar … Het jy nog nooit agtergekom hoe Henk na jou kyk nie? Nie dikwels nie, maar soms as hy dink niemand kyk na hom nie. En hy tree altyd vreeslik beskermend teenoor jou op. Ek onthou ek het eendag iets van jou en Bruce gesê, en Henk was dadelik op sy perdjie. Hy’t gesê Bruce kan maar gerus sy pa se geld mors en vir jou duur etes koop, maar Bruce sal nog leer dat hy nie ’n oulike meisie met sy baie geld kan koop nie.”
Hy hét amper, dink Ilse skuldig en glimlag gerusstellend vir Tanya. “Dit klink nog glad nie asof Henk verlief is op my nie, Tanya. Miskien sien jy maar net dinge raak wat nie daar is nie, juis omdat jy op hom verlief is. As jy miskien minder uitgaan en harder studeer en nie so opsigtelik … jouself opdring aan hom nie … Ek’s jammer dat ek so reguit praat, maar as jy vir Henk wil hê, sal jy anders moet optree. Ek glo nie enige man hou juis daarvan as ’n meisie agter hom aanloop nie. Dis tog per slot van rekening die man se voorreg om op al wat vrou is jag te maak!”
“En as hy nie belangstel nie?” vra Tanya en sug moedeloos. “Henk weet wat ek alles vir hom kan gee! My pa het vier plase en ’n hele paar besighede. Henk sal nie ’n plaasbestuurder op ’n ander boer se plaas hoef te word nie. My pa het beloof om vir my ’n plaas present te gee as ek met ’n boer trou.”
“Jy sê Henk weet daarvan?”
“Ek het so gesê,” kom dit onstuimig. “Hy … hy het my so te sê uitgelag. Net gesê dis ’n gelukkige ou wat met my trou, want hy sal in die botter gaan sit. Waarom moet arm mense altyd so trots wees?”
“Arm? Sover ek weet, is Henk se pa skatryk!” antwoord Ilse onthuts.
“O, ek weet, maar sy pa het hom onterf. Hulle is in elk geval nie vriende nie, en dit gaan hom nie in die toekoms help as hy niks anders as ’n geleerde bywoner op ’n ander man se plaas is nie. Ek dink Henk is kinderagtig.”
Ilse weet dis gefrustreerde drome wat so praat. Sy glimlag begrypend. “Dalk besluit hy anders as hy eers klaar is met die eksamen … Wie weet?” sê sy bemoedigend en stap na die tafel. “Wil jy koffie hê?”
Tanya kyk na haar armhorlosie en spring op. “Goeiste, nee, kyk net hoe laat is dit! Ek sal moet spring as ek betyds klaar wil wees vir Janus!”
Sy vlieg by die deur uit en Ilse kyk haar kopskuddend agterna.
Wat ’n deurmekaar wêreld, peins sy. Henk gooi ’n groot kans weg omdat hy te trots is, en sy gaan ’n arm onderwyseres wees omdat sy weier om te trou as sy nie liefhet nie.
Ingedagte drentel sy na buite met ’n bekertjie koffie in haar hand en neem op die wit pilaartjie plaas. Die son glinster op haar goudblonde hare en blink op die punt van haar klein neusie. Sy proe versigtig aan die koffie en daar is ver drome in haar oë.
“Eendag … die eendag anderkant môre,” fluister sy. Sy weet nog nie waar of hoe nie, maar eendag sal sy opkyk en hom sien, daardie man van haar drome anderkant die horison, en sy sal net weet … Maar sy wens dit was al nou, want hierdie vreemde verlange na iets wat nog moet kom, iets wat sy nie ken nie en iemand wat sy nie ken nie, bring ’n onverklaarbare seer in haar.
Sy hoor Henk in sy kamer kug en sy frons. Wat makeer haar? Sy wil dit nie so hê nie, maar dis byna asof Henk deesdae op die rand van haar drome huiwer.