Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk - Страница 8
Оглавление5
Sonja stut haar elmboog op haar kopkussing en laat haar kop op haar hand rus – haar oë op Ilse wat in ’n liggroen somerrokkie voor die spieëltafel staan en ’n borsel deur haar lang hare trek.
“Darem ’n mooi kind, jy,” praat sy met Ilse se spieëlbeeld. “Ek wed ou Tobias Meiring verstom hom so aan jou dat hy skoon vergeet om jou te skilder.”
“Nie hy nie!” lag Ilse. “Hy het seker al soveel mooi vroue in sy lewe geskilder dat dit vir hom ou nuus is. Boonop verkies sommige mans donker, geheimsinnige skoonhede soos Tanya. Ek hoop maar net hy dink dis die moeite werd om my te skilder.”
“Daaraan twyfel ek nie ’n oomblik nie. Gaan jy nou?” vra Sonja lui en gaap lank agter haar hand.
“Ja, daar’s ’n bus oor vyf minute.” Sy vroetel in haar wit skouersak. “Ja, ek het my sleutel. Beursie … sakdoeke … haarborsel … Sien jou, Sonja. Ek behoort darem voor donker terug te wees!” skerts Ilse en stap by die deur uit.
“Tot siens!” roep Sonja en steek haar hand uit na die beker koffie op die bedkassie langs haar bed. Dank die hemel sy het nie ’n nuwe aandrok nodig nie – Saterdae is gemaak om laat te slaap, dink sy, neem ’n slukkie koffie en duik weer onder die laken weg.
’n Halfuur later klim Ilse uit die bus en stap na die naaste hoek. Sy draai links, loop oor die straat en bly huiwerig voor ’n indrukwekkende dubbelverdiepingwoning staan.
Nommer 204 … Dan is dit tog die regte plek, dink sy. Wat ’n kasteel van ’n woning – en die tuin lyk soos ’n towerland. Dis duidelik dat Tobias Meiring baie geld het. Soos oom Leon en tannie Nicky se huis wat haar in haar kinderjare altyd tot sprakelose bewondering gedwing het. Hoe het haar pa gesê? “Dis maar goed julle ma het ryk familie, want nou hoef julle nie vir ander mense se groot rykdom te skrik nie.” Vir die eerste keer besef sy die waarheid van haar pa se woorde, want rykdom soos dié van Tobias Meiring kan oorweldigend wees, veral as jy ’n hoekkamer met ’n studentemaat moet deel …
Met ’n gevoel dat sy oortree, stap sy in die wye rylaan op en loer eers sku en dan meer ontspanne na die struike en bome om haar.
Alles is so verruklik mooi: die netjiese, lowergroen grasperke, die soet reuk van frangipani, die rooi en geel hibiskusse … Hoekom is daar geld nodig selfs om ’n stukkie goddelike skoonheid om jou te hê? dink sy en voel die ou bitterheid in haar opstoot. Is geld dan die begin en die einde van alles? Is daar niks in die wêreld wat die moeite werd is as geld dit nie kan koop nie? Sy onthou die vorige middag, voel Henk se arm weer om haar, sien die sagte glans in sy oë. Nee, dis tog nie heeltemal waar nie. Henk se vriendskap, Sonja se vriendskap – geld kan dit nie koop nie. Die fout lê by haar, want dis sý wat geld in alles sien, wat glo niks is die moeite werd as daar nie genoeg geld is nie …
Geld om haar ouers te help. Jaar in en jaar uit sit haar pa op sy klein erfplasie en kyk met pyn in sy sagte bruin oë na haar ma wat van vroegdag tot skemer moet swoeg en sweet – dikwels sonder hulp, want geld vir werkers is daar selde. Hoe graag sal sy nie klompe note in haar pa se hande wil prop nie, hom vra om vir die eerste keer in sy lewe saam met haar ma vakansie te gaan hou, te kuier waar hy wil en so lank as wat hy wil, omdat daar genoeg geld is vir vandag en môre en volgende jaar; note wat die magtelose seer uit haar vader se oë sal vee, wat die pyn van haar ma se gesig sal wegtower … Geld.
Sy klim die trap op na die voorstoep. Haar oë rus op die swaar houtdeur. Dan hoor sy iemand langs haar kug.
Sy ruk merkbaar en draai na regs. Dan sien sy hom staan, ’n lang, atletiese man in sy vroeë vyftigerjare. Sy golwende hare is silwerwit en word sonder ’n paadjie agteroor gekam. Sy gesig is sonbruin, sy oë groot en donker onder sy donker wenkbroue; geen snor nie, maar ’n kenbaardjie. Daar is diep gleuwe in sy wange en sy neus is effens geboë. Sy lippe is vol, maar dit doen nie afbreek aan die algemene uitdrukking van krag van sy gesig nie.
“O …! Meneer Meiring …?” stotter sy blosend. Met ’n skaam glimlaggie steek sy haar hand uit na hom. “Bly te kenne, meneer.”
“Tobias Meiring – sommer net Tobias vir my vriende, en ek hoop ons twee gaan vriende wees,” glimlag hy sjarmant, kom nader en vat haar smal handjie in sy hande. “Jy is Ilse Brink, nie waar nie?”
Sy knik woordeloos en voel die warmte van sy sterk hand om hare.
“Ek kon nie ’n fout maak nie, want Henk het gesê jy is ’n sonnimfie – en dis soos jy gelyk het toe jy met die rylaan opgestap het hierheen.” ’n Glimlag pluk aan sy mondhoeke. “Immerlente, dis jy, vol van die son en jeug. Dis hoe ek jou gaan skilder … Maar kom, kom ons stap deur na my ateljee. Eers ’n koeldrankie, of ’n koppie tee? Daar is genoeg tyd om mekaar eers beter te leer ken.”
“Dankie,” glimlag sy en volg hom die koel ontvangsportaal binne. Sy merk nouliks die duur meubels, die kosbare kunswerke, die dik tapyte onder haar voete, want haar oë volg hom en sy diep, sterk stem gryp haar met ’n byna hipnotiese krag vas. Sy sien sy donker oë koud flits, sien die lag donker en warm daarin; sy sien sy lang, smal hande, die vingers van ’n kunstenaar. Sy kyk na sy hande en gesig, luister en kyk, drink elke beweging van hom in: die buiging in sy stem, die houding van sy kop en skouers, die uitdrukking op sy aantreklike gesig.
Hy neem haar leë koeldrankglas by haar en die aanraking van sy hand skiet soos ’n elektriese vonk deur haar.
“Kom ons stap deur na my ateljee,” nooi hy weer.
“Ek sal dit graag wil sien … Tobias,” sê sy aarselend. Hierdie keer stap hy voor en gesels oor sy skouer. Sy slaak ’n sug van verligting.
Wakker loop, Ilse, maan sy haarself, anders raak jy smoorverlief op ’n ou man wat jou pa kon gewees het. Natuurlik is hy uiters aantreklik, die galante heer, die sjarmante gasheer, maar dis tog seker niks buitensgewoon nie. Hy gaan jou skilder en hy probeer om jou op jou gemak te laat voel. Moenie hom so slaafs aangaap asof hy die eerste man is wat jy ooit ontmoet het nie. Moenie stotter en bloos as hy met jou praat nie … O, waarom kon Henk nie vandag saam met my hierheen gekom het nie?
Kort voor middagete draf Ilse skuins oor die straat en huppel in die lang rylaan op na regter Leon Marais se dubbelverdiepingwoning. Sy sien die diepgroen van die bome, die appelgroen van die gras, die kleure van die blomme en struike. Skielik lag sy met die blyheid van die jeug en lag sy oor die vreemde opwinding in haar.
Sy drafstap die koel stoep op, lui die klokkie in die verbygaan en stap deur die oop voordeur.
“Tannie Nicky!” roep sy klokhelder en loop vinnig in die lang gang af.
“In die woonkamer! Is dit jy, Ilse?” kom Nicky de Villiers se stem van die onderpunt van die gang.
Ilse draf die trap af na die woonkamer en lag bly vir haar middeljarige tante wat uit ’n diep leunstoel opstaan en haar met oop arms inwag. Hulle soen mekaar en dan stoot Nicky vir Ilse effens weg en kyk ondersoekend na haar stralende gesiggie. “Jy lyk vrolik, asjas. Goeie nuus? Dalk ’n verlowing?”
Ilse onthou Henk se belofte om saam met haar vir tannie Nicky te besoek, en haar gesiggie versomber. “Goed … en sleg, tannie. Henk se oupa is gistermiddag skielik oorlede en hy is dadelik weg na sy ouers se plaas toe.”
“Nee! Die arme seun … Hy was juis so geheg aan sy oupa, veral na die vervreemding tussen hom en sy pa. Is hulle dan nou weer vriende?” vra Nicky verwonderd.
“Ek weet nie, tannie. Henk praat mos nooit oor sy huismense nie, maar ek weet dis sy pa wat hom van sy oupa vertel het, want tant Truia het so gesê. Foei tog, dis Henk wat vir my die werk by Tobias Meiring gekry het …”
’n Frons kom oor Nicky se gesig terwyl sy skerp na Ilse kyk, wat met ’n glimlag om haar sagte lippe op die rusbank neersak en droomverlore voor haar uitstaar. “Tobias Meiring? Jy bedoel die skilder?” vra Nicky met ’n neutrale stemtoon.
“Ja, tannie. Ek wou vreeslik graag geld verdien vir ’n spesiale aandrok, en Henk ken toevallig ook vir Tobias. Henk het hom gebel en nou skilder Tobias my. Ek moet elke Saterdagoggend na sy huis toe kom … en om te dink ek word betaal net om stil te sit!” Ilse lag guitig, sien die kwelling in Nicky se oë en swyg onseker. “Hou tannie nie daarvan nie? Ek dag dan tannie en Tobias is vriende?”
“Ons is bevriend, meisie, want ons het as studente saam gestudeer, maar … Oom Tobias het ’n reputasie waarop hy nogal trots is, maar wat enige ouer van ’n mooi dogter bekommerd sal maak. Ek wens liewer Henk het nie vir jou die werk gekry nie …” Sy lag gespanne toe sy die verwarring in Ilse se oë sien en glimlag dan gerusstellend. “Alles reg, Ilse. Miskien is ek maar uit die oude doos, maar Tobias Meiring geniet dit om jong meisietjies uit te neem – die ewige minnaar, dis ons Tobias. En natuurlik voel enige meisie gevlei as so ’n beroemde en aantreklike man van haar kennis neem. Sommiges raak selfs hopeloos verlief op hom, tot Tobias se groot genot. Snaaks, ek voel nie werklik oud nie, en ek dink ook nooit oom Leon is reeds vir ons jong mense ’n ou oom nie, maar as ’n man soos Tobias met kinders lol, is hy vir my niks anders as ’n nare ou man nie. Begryp jy wat ek probeer sê?”
Ilse knik en vermy skuldig haar tante se oë. “Hy tree nogal jonk op … Ek bedoel, ek het nooit eintlik agtergekom hy is Tannie-hulle se ouderdom nie,” erken sy verleë.
“Dis die Tobias-sjarme. Lig loop, my meisie, anders kan jy seerkry – of was dit nie Tobias wat jou oë so laat skitter het nie?”
“Wel, dit was ’n eer om hom te ontmoet, tannie Nicky, maar ek … ek is nie verlief op hom nie. Hy is in elk geval oud genoeg om my pa te wees!” protesteer Ilse heftig.
“Ek het gedink jy het meer verstand as dit, gogga. Kom jy my help met middagete? Ek gaan sommer iets ligs maak. Oom Leon en Philip het na ’n vriend se nuwe visstokke gaan kyk, en ek verwag hulle nie voor tweeuur terug nie. Kom jy?”
“Graag, tannie,” antwoord Ilse en voel skielik onverklaarbaar teleurgesteld.
Ilse klim by die bushalte af en stap stadig om die hoek en in die straat op na tant Truia se huis.
Die wêreld staan op sy kop. Die wêreld is deurmekaar, want alles in haar is verward en deurmekaar. ’n Paar uur gelede, kort nadat sy vir Tobias Meiring ontmoet het, het sy vas geglo dat iets heel spesiaal met haar gebeur het. Nee, sy kon nog nie met sekerheid sê nie, maar sy het tog gewonder of sy nie op Tobias Meiring verlief is nie. En dit het alles so aantreklik gelyk: die ryk, beroemde Tobias Meiring, aantreklik en sjarmant, die gesogste metgesel vir enige meisie, soos sy al dikwels gehoor het. En Tobias het haar so anders behandel, glad nie soos Henk of Bruce of enige ander student ooit teenoor haar optree nie. Sy oë was so sag soos sy glimlag, sy stem so intiem, so eie, asof sy reeds aan hom behoort …
Was dit maar alles deel van ’n ou rol wat hy elke dag van sy lewe teenoor talle ander vroue speel? Dis tog wat tannie Nicky te kenne wou gee, maar kan dit werklik waar wees? Wel, sy is nie ’n pampoen nie, en sy sal nog herhaalde kere vir Tobias moet gaan kuier – sy sal hom dophou, heeltemal seker maak dat hy wel vir haar omgee voordat sy haarself sal toelaat om op hom verlief te raak. Natuurlik is hy oud genoeg om haar pa te wees, maar het ouderdom al ooit ’n verskil aan ware liefde gemaak?
Sy glimlag verlig oor haar eie logika en loop haastig om die koel stoep, klim die trap tussen die wit pilaartjies op en draai by die groot deur van die hoekkamer in.
“Haai!” roep sy effens uitasem toe sy Sonja op die rusbank gewaar met ’n koeldrank en ’n tydskrif in haar hande. “Ek’s bly om te sien dis nie net ek wat nie lus voel vir swot nie. Sjoe, dis byna vieruur! Is daar koeldrank vir my?”
“Nog ’n halfbottel,” antwoord Sonja, strek haar bene lank uit en wys met haar kop na die tafel. “Skink vir jou en kom vertel my wat alles gebeur het. Was jy die hele tyd by Tobias Meiring?”
“Nee, net tot voor etenstyd,” antwoord Ilse terwyl sy vir haar ’n glas koeldrank inskink. Sy neem op die leunstoel oorkant Sonja plaas, sluk ’n mondvol koeldrank en vervolg: “Daarna het ek by tannie Nicky-hulle gekuier. Hulle bly daar naby.”
“Tobias, man – vertel van die skilder,” por Sonja ongeduldig. “Hoeveel gaan hy jou betaal?”
Ilse lag verleë en skud haar kop. “Om die waarheid te sê, ons het nooit eens oor die geld gepraat nie. Maar wat ’n man, Sonja! Ek het nog nooit so ’n interessante mens ontmoet nie.”
“Was hy gaaf ?” vra Sonja nuuskierig.
“Hy was bak. Ek het nie eens kans gehad om skaam of ongemaklik te voel nie. Hy’t die hele tyd gesels, selfs nadat hy die eerste sketse van my begin maak het. Ek het net nie kans gekry om vreemd te voel nie. En hy het my sommer van die begin af op my naam genoem en gesê ek moet hom Tobias noem. Dit was ’n heerlike oggend!”
“Dit klink so. Hoe lyk hy? So aantreklik soos op die foto’s in die koerante?”
“Tien keer aantrekliker!” antwoord Ilse gretig, bly dat sy eindelik die skilder met iemand kan bespreek. “Sy hare is silwerwit, maar sy gesig is nog jonk. En sy donker oë … en sy stem … en daardie pragtige hande van hom! Hy is seker die aantreklikste man wat ek nog ooit gesien het.”
“Hoe lyk dit my jy het jou hart verloor?” terg Sonja en neem ’n slukkie koeldrank.
Ilse swyg en tuur onder saamgetrekte wenkbroue na die geel vloeistof in haar glas. “Dit sal nie moeilik wees om op ’n man soos hy verlief te raak nie,” erken sy impulsief en gaan pleitend voort: “O, ek weet hy is baie ouer as ek, Sonja, maar die mans wat ek ken, is soos klein seuntjies in vergelyking met hom. Hy is meer ervare en volwasse. Jy voel net anders by hom. Meer vrou, sou ek sê. Verstaan jy, Sonja?”
Sonja glimlag begrypend en knik stadig met haar kop.
“Dit het my al ’n keer werklik oorgekom,” vertel sy doodgewoon. “My pa het ’n oujongkêrel-vriend – hy’s ’n bekende chirurg hier in die stad – en toe ek hom vir die eerste keer in matriek ontmoet, het hy my voete behoorlik onder my uitgeslaan. Dit was veral sy volwassenheid wat my aangetrek het. Jy weet mos wat ek bedoel. Hy het geweet hoe om my volwasse en soos ’n vrou te laat voel. Ek het natuurlik nie geweet dis maar deel van sy persoonlikheid nie, dat hy so teenoor alle meisies en vroue optree nie, en drie maande lank was ek smoorverlief op hom.”
“En toe?” vra Ilse onwillig.
Sonja haal haar skouers op. “Ek het op die rugbykaptein van ons skool verlief geraak – jy onthou mos ou Bennie – en toe ek my pa se vriend weer sien, was hy net ’n doodgewone oom vir my. Ek was skoon skaam omdat ek ooit verlief op hom was!”
“Maar …” protesteer Ilse en kyk onseker na haar vriendin. “Daar is tog ouer mans wat met jong meisies trou, Sonja. Boonop is ek reeds een-en-twintig, nie sestien of sewentien jaar oud nie. Ek sê natuurlik nie ek gaan met Tobias Meiring trou nie, maar so ’n huwelik is tog nie onmoontlik nie?”
“Glad nie … maar wat dan van Henk?” vra Sonja ernstig.
“Henk?” Ilse glimlag kopskuddend. “Goeiste, Sonja, daar was nog nooit ’n verhouding tussen ons twee nie. O, ek weet ons is goeie maats, ons kuier soms saam by tannie Nicky en oom Leon, maar Henk kuier graag saam met my by hulle omdat hy van hulle geselskap hou, nie omdat hy by my wil wees nie. Henk is net ’n goeie vriend, maar Tobias … Hy’s ’n man wat enige vrou kan liefhê.”
“En moontlik is al wat vrou is, verlief op hom. Ek wed hy weet dit ook, en geniet elke oomblik daarvan. Dink gerus maar Tobias Meiring is te goed om waar te wees, Ilse, maar moenie jou oë toemaak vir ’n man soos Henk nie. Of is Henk ook skielik te kinderagtig in vergelyking met die volwasse Tobias?” vra Sonja met ’n tikkie ergernis in haar stem.
“Ek sal nie so sê nie, want Henk is eintlik ’n volwasse jong man, maar hy is beslis nie Tobias Meiring nie. Boonop is ons nie op mekaar verlief nie, al wil jy dit ook nie glo nie. Maar moenie dat ons nou daaroor stry nie, ou Sonja. Ek sal hopelik eendag op ’n man verlief raak en trou, maar dis eers eendag, nie nou nie,” probeer Ilse die gesprek verander.
“Solank die man Henk is, is ek tevrede,” sê Sonja ondeund en staan op. “Vieruur. Wag, laat ek vir ons koffie maak.”
Henk, altyd Henk, dink Ilse opstandig en staar met nikssiende oë deur die kamervenster. As dit nie Sonja is nie, is dit tant Truia of tannie Nicky wat Henk se deugde besing. Sy gee toe dat Henk ’n oulike man is, selfs ’n besonderse man, maar liefhê? Sy hou van hom, meer as van enige ander jong man wat sy ken, maar om van iemand te hou, is nog lank nie om hom lief te hê nie. Toe hy gistermiddag sy arm om haar skouers gesit het, het sy vreemd gevoel, maar dit was seker net jammerte aan haar kant omdat sy oupa so skielik oorlede is. En jammerte is nie liefde nie.
En Tobias? Hy is aantreklik, suksesvol, ryk … Geld bly tog belangrik, al sien sy ook nie kans om met Bruce te trou ter wille van sy pa se baie geld nie. As die man wat sy liefkry toevallig ryk is, is dit nie des te beter nie? Nie dat sy vir Tobias liefhet nie, maar sy bewonder hom, sy voel veilig by hom, en soos Sonja gesê het, dis ’n goeie begin. Wie weet, dalk is sy eendag mevrou Tobias Meiring … Sy glimlag by dié gedagte en keer onwillig terug na die werklikheid toe Sonja vir haar ’n bekertjie koffie gee.
Vroegaand sit Ilse op die pilaartjie voor haar kamerdeur. Haar knieë is onder haar ken opgetrek. Die lig uit haar kamer val deur die oop deur en die wye venster en skyn sag op haar hare. Dit hul haar in ’n sagte geel waas. Haar oë soek die donker anderkant die ligkring, sien Tobias se sterk gesig en sien hom beduie met sy hande. Die diep krag van sy stem is in haar ore.
’n Motor brul in die straat af, swenk dan onder die peperboom in. Die rooi sportmotor kom tot stilstand en Bruce Reyneke klim uit. Sy sien die forsgeboude man oor die grasperk aangestap kom. Sy merk die effense plompheid aan sy gespierde bene en die ekstra gewig om sy middel wat deur ’n lekker lewe en te min oefening veroorsaak is. Die sterk lyn van sy kakebeen word deur ’n ekstra lagie vet verswak en gee die beduidenis van ’n dubbele ken. Sy skerp wenkbroue, donker oë, wipneus en vol lippe gee ’n elfagtige aantreklikheid aan sy gesig. Hy glimlag breed toe hy haar sien en trek sy vingers met ’n senuweeagtige beweging deur sy krullerige swart hare.
“Naand, mooi ding,” groet hy. Hy buk vooroor en soen haar op haar hare.
“Hallo, Bruce. Jy het nie gesê jy kom kuier nie, en boonop moet ek studeer, want ek was die hele oggend en middag uit. Is jy op pad inry toe?” vra sy koel.
Bruce soek met lomp vingers na sy sigarette in sy hempsak, haal die pakkie uit, sukkel ’n sigaret uit en prop dit in sy mond. Die hand wat die aansteker vashou, bewe liggies. “Is jy alleen?” vra hy na die eerste teug.
“Die ander is uit, ja, behalwe natuurlik tant Truia. Ek dink sy het besoekers,” antwoord Ilse en haar oë is vraend op Bruce. Wat sou hom vanaand makeer? wonder sy. Hy lyk byna onseker van homself – hy, die selfversekerde Bruce Reyneke.
“Dis goed,” sê hy kortaf, teug diep aan die sigaret en blaas die rook hard uit. “Ek wou ernstig met jou praat.” Hy swyg en sy wag woordeloos dat hy voortgaan.
Hy draai na haar en daar is ’n gejaagdheid in sy oë. “Ek ken jou al vier jaar lank, Ilse, en ek weet wie en wat jy is. My ouers het jou nog net ’n paar keer gesien, maar hulle dink die wêreld van jou … Ek kan jou verseker dis nie maklik om my ma tevrede te stel nie. Ek het al baie ander meisies aan hulle voorgestel, maar hulle dink soos ek. Jy oorskadu die hele ou spul van hulle …”
“Dit klink amper asof jy my wil opveil, Bruce. Wat probeer jy sê?” vra Ilse met ’n ongemaklike glimlaggie.
“Net dat ek aan jou wil verloof raak, sommer vanaand nog, en met jou trou … volgende Saterdag, as jy wil. Nee, moenie jou oor die trourok en die troue bekommer nie, Ilse. Ons sal daarvoor sorg. Dit gaan die troue van die jaar wees, en ’n mooier bruid as jy sal daar nooit wees nie! Ek het klaar alles met my ouers gereël, en my pa kan nie wag dat ek trou en teruggaan plaas toe nie. My ma sal jou help om ’n trourok uit te kies en al die ander reëlings tref. Al wat jy moet doen, is om mooi te lyk. En Maandag gaan koop ons vir jou die grootste diamant in die stad! Ek sal die spul wys wat Bruce Reyneke doen as hy die dag besluit om vrou te vat. Net die beste sal goed genoeg wees vir jou. Hè, Ilse, net die beste!” Hy lag uitbundig en soek haar hand, maar sy gee vinnig pad en skuil langs die pilaar op die stoep.
“Ek dink jy het iets vergeet, Bruce,” praat sy en haar stem is koud van afkeer. “Jy het my nie gevra of ek bereid is om met jou te trou nie, en ek het nog nie ja gesê nie.”
“Maar?” Verdwaas staar hy haar aan. Hy lyk soos ’n klein seuntjie vir wie roomys geweier is. Dan lag hy verlig. “Ek’s jammer, mooi ding, maar ek het dit so half as vanselfsprekend aanvaar dat jy lankal ja gesê het. Nou maar goed. Sal jy met my trou, Ilse? Ek kan nie romantiese dinge soos die digters sê nie, maar jy weet ek is op my manier lief vir jou. Sal jy aan my verloof raak?”
“Nee, Bruce,” antwoord sy sag, dog ferm, en daar is jammerte in die blik wat op hom gevestig is. Was sy werklik vroeër bereid om met so ’n verwaande mansmens te trou? Hy, Bruce Reyneke, en sy ryk familie het klaar alles gereël met hulle baie geld, en die armoedige sy moet dankbaar wees en saamspeel … Arme, ryk, dom Bruce!
Hy skud sy kop asof hy ’n onverwagte stamp gekry het en kyk onbegrypend na haar waar sy langs die pilaar staan.
“Het ek jou reg gehoor?” vra hy geïrriteerd en glimlag haastig toe hy die afkeer in haar oë sien. “Ag, kom nou, Ilse, moenie gekskeer nie,” paai hy. “Ek weet ek is ’n bietjie lomp met my liefdesverklaring, maar jy weet mos ek sal ’n goeie man vir jou wees. Jy sal alles kry wat jy wil hê: ’n splinternuwe huis, ’n swembad, tennisbane, klere, jou eie motor, soveel bediendes as wat jy nodig het. O, en vir ons wittebroodsvakansie gaan ons oorsee. Kom, Ilse, moenie ’n man onnodig laat sweet nie.”
“As jy sweet, is dit jou eie skuld, Bruce,” sê Ilse ongeduldig. “Ek het nee gesê, en ek bedoel dit. Jy was ’n gawe ou om mee uit te gaan, en al sê die ouens ook wat, jy het my altyd baie goed behandel. Ek is dankbaar daaroor, maar ek gaan nie uit dankbaarheid of ter wille van jou pa se hope geld met jou trou nie. Ek het jou nie lief nie, dis al. Of sien jy kans om met ’n vrou te trou wat jou nie liefhet nie?”
“Wat is liefde so danig?” vra hy snedig. “Ons kom goed klaar, en dis al wat saak maak.”
“Vir jou, maar nie vir my nie. As ek die dag trou, sal dit wees met die man wat ek liefhet.”
“Watter man?” vra hy en probeer haar oë in die halwe lig sien. “Ek dag ek is die enigste … of is daar ’n nuwe ou?”
“Maak dit saak?” vra sy skouerophalend. “Al wat van belang is, is dat ek jou nie liefhet en nie kans sien om met jou te trou nie. Ek’s jammer, Bruce, maar dit kan net nie gebeur nie.”
“Maar … is jy reg in jou kop, meisiekind?” bulder Bruce vol ongeloof en frustrasie. “Besef jy waarvoor jy nee sê? Meer geld en weelde as wat jy nog ooit in jou lewe gesien het! Of dink jy ek weet nie jy het swaar grootgeword nie? Dink jy ek weet nie julle is brandarm nie? Ek is bereid om alles wat jou hart begeer vir jou te gee, en jy sê nee omdat jy my kastig nie liefhet nie. Vir my, Bruce Reyneke! Weet jy hoeveel meisies sal hulle knieë deurkruip om my te kry? Hè, weet jy?”
“Gaan vra dan een van hulle!” krys Ilse en haar gesiggie is wasbleek in die dowwe lig. “Ek weet, en net so weet almal wat my ken dat ek uit ’n arm huis kom, maar ons soort word nie met baie geld gekoop nie – veral nie deur ’n verwaande windsak soos jy nie! As jy dan wil beledigend wees, kan ek dit net so goed wees. Ek stel nie daarin belang om met so ’n leeglêer soos jy te trou nie, Bruce Reyneke! Jy is nog lank nie klaar uitgekuier by al wat ’n meisie is nie, en ek glo nie jy sal ooit uitgekuier raak nie. Jy is beslis nie die soort man wat ek wil hê nie!”
Bruce lag hartlik en knipoog vir haar. “Aha, dan is my mooi ding jaloers? Kom nou, Ilse, jy weet die ander asters beteken niks vir my nie – ek gee nie om vir hulle nie. En ek beloof jou as ons eers getroud is, sal ek nie na ’n ander meisie kyk nie!”
Ilse sug haar irritasie uit en sê geduldig: “Kan jy nie verstaan nie, Bruce? Vir my onthalwe kan jy elke aand met tien verskillende meisies uitgaan, want dit kan my nie skeel nie. Ek het jou doodeenvoudig nie lief nie, daarom wil ek nie met jou trou nie. En ek dink ons het nou genoeg gepraat. Nag, Bruce.” Sy draai om en begin wegstap.
“Maar, Ilse!” protesteer hy ongelowig en draai dan stadig om. “Ek kom weer môre … Dink solank daaroor na. Jy … jy besef nie wat jy doen nie. Ek het jou te skielik gevra, en jy het tyd nodig om te dink. Sien jou môre, Ilse!”
“Moenie, Bruce, jy mors net jou tyd. Nag,” antwoord Ilse gedemp en stap vinnig haar kamer binne. Sy maak die deur agter haar toe en hoor Bruce se motordeur ’n oomblik later toeklap. Impulsief sluit sy die deur en trek die gordyne voor die venster toe.
As hy dalk besluit om terug te kom, sal sy liewer voorgee dat sy uit is, mymer sy en leun teen die groot tafel voor die venster, haar oë op haar strak gesiggie wat in die spieël weerkaats. Arme Bruce. Op haar manier het sy tog van hom gehou, al het sy hom nooit liefgehad nie. Geen moeite of geld was ooit te veel as hy haar kon trakteer nie … Dit is seker waar dat hy ’n leeglêer is, ’n bedorwe rykmanskind, maar sy bedagsaamheid en goedhartigheid teenoor haar het haar vriendskap met hom iets heel besonders gemaak. Maar ook dít is nou verby, soos haar studentejare byna verby is. Nee, sy kan nie met Bruce trou nie, maar sy kan hom altyd onthou as ’n mooi deel van haar studentejare, besluit sy en glimlag tevrede.
Sy staan nader aan die spieël, vee ’n paar los hare uit haar oë en stap na die middeldeur en in die wye gang af, op soek na geselskap.
Tant Truia sit in die sitkamer op haar geliefkoosde stoel, haar pofferhandjies op haar maag saamgevat, haar leesbril op haar voorkop, haar oë gesluit. Langs haar praat die omroeper oor die radio. Dan vul luide musiek die groot vertrek.
Ilse stap na die radio en draai dit sagter. “Tant Truia?” praat sy gedemp.
Die bejaarde vrou se kop ruk effens en haar oë flikker oop. “Huh? O, dis jy, Ilsetjie. Nee, sit die ding maar af. Hy raas net. Lyk my ek het so ’n bietjie ingesluimer – ook maar moeg na al die gewerskaf en dinge vandag. Hoe laat is dit?”
“Kwart oor agt, tante. Sal ek vir ons teewater gaan opsit?”
“Nee, kind, kry net vir jou ’n koppie daar op die kas in die eetkamer. Ek het sommer tee in die termosfles gemaak. Is jy dan nie vanaand uit nie, Ilsetjie? Waar loop Bruce nou weer rond, of het jy besluit jy is klaar met hom?” gesels sy gretig en skink vir haar en Ilse tee in toe Ilse met ’n koppie en ’n piering terugkeer.
“Ek is beslis klaar met hom, tante,” antwoord Ilse glimlaggend, terwyl sy haar tee neem en teenoor die vrou gaan sit.
“Hoe nou? Skeer jy die gek, Ilsetjie?” vra tant Truia ongelowig, voel die bril op haar voorkop, en lê dit op die koffietafeltjie neer.
“Nee, tante,” sê Ilse, huiwer ’n oomblik en besluit dan om tant Truia in haar vertroue te neem. “Bruce was netnou hier om my te vra om met hom te trou. Ek dink hy was so verdwaas toe ek weier dat hy dit nog nie kan glo nie. Hy het in elk geval gesê ek moet daaroor dink, want hy sal my weer môre kom vra. Mans, darem! Die verwaande vent kan doodeenvoudig nie glo daar is ’n vrou wat nie oor haar voete sal val om met hom te trou nie.”
“Hie-hie!” lag tant Truia, merkbaar in haar skik. “En toe sê jy sowaar nee, my kind? Tag, maar ek is bly, hoor! Dan was ek al die jare verniet bekommerd oor jou … Nou nie dat ek geglo het jy sal met hom trou nie, Ilsetjie, maar jy kan maar sê ek was as ’t ware besorg oor jou. ’n Mens weet nooit … en die vent se pa is darem skandelik ryk. Maar ek is bly jy het nee gesê, kind, want die vrou wat met daardie man trou, soek net haar eie ongeluk.”
“Tante luister te veel na Tanya se stories, en eintlik loer sy self met lang oë na Bruce,” sê Ilse met ’n skewe glimlaggie.
“Tja, dis miskien waar, Ilse, maar Henk het darem al ook vir my gesê Bruce mors met die meisiekinders. Foei, hy maak die ou goedjies net op hom verlief, en dan los hy hulle weer. A nee a, so maak ’n mens mos nie! Jy was nooit verlief op hom nie, nè, Ilsetjie?” vra tant Truia vertroulik.
“Gelukkig nie, tante, maar in my eerste jaar het ek my wat verbeel omdat hy my so dikwels uitgeneem het,” vertel Ilse laggend. “Ek weet daar is baie stories oor Bruce, maar wat my betref, het hy my altyd baie hoflik behandel. Dis miskien daarom dat hy nooit moeg geword het om my uit te neem nie – omdat ek nie soos ’n ryp perske in sy skoot geval het nie. Vroeër het Bruce-hulle se baie geld my beïndruk, maar as ’n mens eers vir Bruce ken, is hy maar soos enige ander ou, behalwe dat hy meer verwaand is. Maar selfs dít is net ’n masker, want inherent is hy eintlik bitter onseker van homself. Dis al asof hy jou met sy geld probeer verblind sodat jy nie die klein, bang seuntjie agter die geld sal raaksien nie. En eintlik kan ek dit verstaan. Bruce se pa is ’n suksesvolle man, ’n miljoenêr, maar wat is Bruce? ’n Mislukking wat sy pa se geld nodig het om iets te wees.”
“Foei tog, maar dan moet ons mos die kind jammer kry, Ilsetjie? Tag, dis seker darem nie net sý skuld dat hy nie ’n bietjie meer ruggraat gekry het nie – seker maar sy ma wat hom so bederf het omdat hy die enigste kind is. Sies tog, nes ons Henkie. Hy’t ook maar alleen grootgeword, maar sy ma het hom reg geleer. Glo ’n fyn mens, Henk se ma. Haai, ek wonder hoe gaan dit vanaand met die arme kind?”
“Dit kan nie juis ’n vrolike kuiertjie vir hom wees nie, tante – nie met sy oupa se dood nie,” sê Ilse sag. “Ek wonder wanneer hy terug sal wees? Hy het nie dalk gebel nie, tante?”
“Nee, hartjie, maar hy is seker baie besig. Tag, dat sy pa hom sowaar gebel het … Ook maar ’n trotse ou stywenek, soos ek verstaan. Tilda Swart, ou dokter Swart se vrou, ken Henk se ma al baie jare, en sy vertel my Henk se pa is maar ’n befoeterde mansmens, ook van die soort wat gewoond is om sy sin te kry. Nou nie ’n slegte man nie, verstaan, maar hy is gewoond sy woord is wet. Dis dié dat hy so boos was toe Henk besluit het om verder te studeer. Reken, Henk was al ouer as een-en-twintig toe hy universiteit toe gekom het. Soos ek die ding verstaan, was hy te bang om sy pa eerder teë te gaan – ek bedoel nou pas nadat hy klaar was met skool. Maar dit lyk asof dinge tussen hom en sy pa nou weer sal regkom, noudat sy oupa so skielik oorlede is.”
“Ek hoop so vir Henk se onthalwe, tante. Henk is self maar ’n moeilike kalant, nes sy pa. Dis geen wonder die twee het gebots nie.”
“Darem nie soos sy pa nie, Ilse,” sê tant Truia partydig. “Sien, die ou man was kwaai onredelik om vir Henk te verbied om verder te studeer. Nee, Henk is ’n goeie seun, eintlik ’n sagte mens, maar ek glo nie hy sal nonsies verdra nie. Maar dis soos ’n man moet wees, Ilsetjie, dis soos ’n vrou van ’n man hou. Hy moet goed en regverdig wees, maar hy moet die baas wees.”
“Dis waar, tante,” beaam Ilse en sien weer Tobias se gesig voor haar. Soos Tobias, dink sy: so vol selfvertroue, so opsigtelik haar meerdere. Skuldig loer sy na tant Truia, bang dat die ouer vrou haar gedagtes kan lees. Wat sal tant Truia sê as sy moet weet van Tobias? Maar wat is daar eintlik om te weet? Dat sy, Ilse Brink, op ’n stokou man verlief is? Maar ís sy verlief? O, sy dink hy is wonderlik en beroemd en aantreklik en ryk, byna soos ’n karakter in ’n sprokie, maar is dit liefde? Voel sy nie maar oor hom soos sy in haar eerste jaar oor Bruce gevoel het nie? Hoe weet ’n meisie ooit wanneer sy werklik liefhet?
“Sal jy nog ’n koppie tee …?” begin tant Truia toe die skril gelui van die telefoon haar onderbreek. “Nou wie kan dit wees? Ilsetjie, jy’s jonger as ek. Gaan hoor tog wie dit is.”
“Seker, tante,” sê Ilse gretig en spring op. Sy voel haar hart in haar keel bons, voel die afwagting in ’n knop op haar maag saamtrek. Sê nou dis hy, Tobias? Dalk wil hy vir haar iets oor die skildery sê, dalk sommer net gesels. Nee, nee, sy moet ophou lugkastele bou en onthou wat tannie Nicky van hom gesê het: die ewige minnaar, en sy is maar net een van talle mooi meisies.
Daar is ’n bitter smaak in haar mond toe sy die telefoon in die voorportaal bereik. Sy lig die gehoorbuis van die voetstuk en sê met ’n onsekere stemtoon: “Goeienaand. Ilse Brink hier.”
“Naand, ounooi. Henk hier,” praat sy stem sterk en naby in haar oor.
“Henk!” Sy glimlag bly, vreemd getroos om sy stem te hoor. Henk is miskien nie ’n ryk, suksesvolle man nie, maar hy behandel haar altyd asof sy spesiaal is – selfs Sonja en Tanya het dit al agtergekom. En Henk behandel net vir háár so, nie vir elke mooi meisie wat hy ontmoet nie. Dit troos om te weet dat daar iemand is wat omgee, al is hy dan net ’n goeie vriend.
“Is jy daar, Ilse? Hoe gaan dit met julle daar?” dring Henk se stem tot haar deur.
“Dit gaan goed hier, dankie, Henk. Tanya en Sonja is uit, en ek sit met tant Truia en gesels. Wanneer kom jy terug?”
“Seker môre. Die begrafnis is môremiddag en ek sal óf môreaand óf vroeg Maandagoggend ry. Sê tog baie dankie vir tant Truia vir die krans wat sy gekoop het, Ilse. Ek sal haar later persoonlik bedank.”
“Goed, Henk. Sy is hier naby as jy –”
“Nee, ek praat liewer met my mooi meisie. Hoe het dit toe vanoggend gegaan? Hou oom Tobias van die model wat ek vir hom gestuur het?” vra hy, ’n ligte skertsende toon in sy stem.
Sy bloos en antwoord aarselend: “Baie … goed, Henk. Ons kom goed oor die weg.”
“Daaraan het ek nie ’n oomblik getwyfel nie, maar ek het net gewonder of jy nie ook tot oor jou ore op die arme oom Tobias verlief geraak het nie. Dis mos wat al sy modelle doen.” Hy lag goedig en vervolg: “Ek terg maar net, Ilse. Ek weet jou mooi koppie is reg aangeskroef. Betaal hy jou goed?”
“Ons het nog nie daaroor gepraat nie,” sê sy met ’n gevoel van hulpeloosheid. “Was … was Tobias Meiring voorheen getroud?”
“Een keer, ja, maar dit was toe hy nog ’n jong snuiter was, soos hy altyd sê. Maar ons sal later daaroor gesels. Sê groetnis aan tant Truia en die ander, en dalk sien ek julle nog môreaand. Tot siens, mooi meisie.”
“Tot siens, Henk.”
Verwarring wolk donker in haar oë toe sy die gehoorbuis stadig op die gehoorstuk terugplaas. Waarom moes Henk juis nóú bel? Waarom moes hy spot met Tobias se modelle wat voor die voet op hom verlief raak? Waarom voel sy skielik klein en verneder, asof Henk ’n emmer vuil water oor haar drome uitgegooi het?
Of is sy maar net nog ’n dom meisietjie wat voor Tobias Meiring se sjarme geswig het? Henk dink nie so nie – hy glo dat sy meer verstand as dit het. En tog, sedert vanoggend kan sy Tobias nie vergeet nie. Dit voel asof hy haar met ’n hipnotiese mag aan hom bind. Dalk as sy hom volgende Saterdag weer sien, sal hy net ’n gewone man vir haar wees. Dalk sal sy dan kan sien dat sy sjarme en sy glimlag vir elke mooi meisie is …
Stadig stap sy terug na die sitkamer en glimlag gedwonge toe tant Truia haar vraend aankyk.
“Wie was dit, Ilse? Nie dalk Henk nie?” vra sy nuuskierig.
“Ja, dit was hy, tante. Hy sê baie dankie vir die krans en hy sal moontlik al môreaand of vroeg Maandagoggend terugkom,” dwing Ilse haarself om normaal te praat.
“Ag, my hart, ook so ’n ordentlike jongetjie om spesiaal te bel om dankie te sê,” sê tant Truia aangedaan. “Hoe klink hy, Ilsetjie? Die kind was tog baie lief vir sy oupa.”
“Hy klink maar nes altyd, tante. Henk is nie juis ’n man wat met sy gevoel op sy hempsmou rondloop nie. Hy wou weet hoe ek van die skilder Tobias Meiring hou. Ek het mos vir tante vertel van hom.”
“O, ja, jy sit mos vir hom om geld vir jou duur aandrok te verdien. Haai, hartjie, maar dis mos nou nie meer nodig nie? Jy sê dan jy het nou klaar met Bruce uitgemaak.”
“Ek het, tante, maar ek sal seker maar moet voortgaan om vir Tobias Meiring te sit. Hy is immers reeds besig met die skildery. En al koop ek dan nie ’n aandrok nie, kan ek die ekstra geld altyd nuttig gebruik.”
“Juistement, hartjie,” beaam tant Truia en knik goedkeurend met haar kop. “Nog ’n bietjie tee?”
“Nee, dankie, tante, ek dink ek sal nou weer ’n bietjie gaan leer. Daar is juis so baie om nog te doen. Dankie vir die tee en die gesels, tante. Lekker slaap.”
“Nag, Ilsetjie. En kom kuier maar weer, kind. Jy weet mos ek is maar eensaam in die aande.”
“Ek sal, tante,” beloof Ilse en stap in die gang af na die middeldeur wat na haar kamer lei. Sy gaan die kamer binne, maak die deur saggies agter haar toe en krul haarself in ’n leunstoel op.
Wat nou? wonder sy moeg en staar nikssiende na die rusbank. Sy wil weer soos vanoggend voel, maar Henk …
Maar waarom bekommer sy haar oor wat hy gesê het? As Henk haar nie van die ander modelle vertel het nie, sou sy dalk te gou vir Tobias laat agterkom het dat sy ’n gevoel vir hom het. Nee, as daar ooit iets meer as vriendskap tussen haar en Tobias moet wees, sal Tobias eers vir haar moet aandui dat hy werklik vir haar omgee.
Sy probeer weer die skilder se gesig terugroep, probeer hom sien soos hy die oggend gelyk het, maar Henk se gesig dwing al tussenin, en in sy oë is daar afkeer.
Met ’n gedempte verwensing staan sy op en gaan sit by haar skryftafel om haar drome en frustrasie ’n rukkie lank in haar studie te vergeet.