Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk - Страница 7
Оглавление4
Henk stoot sy stoel agteruit en stap met sy pyp in sy regterhand na sy kamerdeur. In die deur steek hy vas. Sy oë rus op die kaalvoetmeisie wat opgekrul op die wit pilaartjie links van hom sit. Hy sien die goud in haar lang hare en die erns op haar fyn gesiggie. Hy voel die verlange in hom kom.
Klein sonnimfie … sý sonnimfie, mymer hy en bly roerloos staan om die oomblikke van sy woordelose bewondering langer uit te rek. Eendag gaan hy haar aan sy arm vasketting en haar nooit weer laat gaan nie. En sy sal daarvan hou, want sy sal hom liefhê. Hoe, weet hy nog nie, maar hy sal haar syne maak. Hy sal nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie.
Hy kug om haar van sy teenwoordigheid bewus te maak en stap oor die koel stoep na haar toe. Sy kyk om en hy sien die lag in haar oë kom.
“Haai! Koffie? Ek het vandag vroeër vir my gemaak, maar ek weet jy drink eers teen vyfuur koffie,” sê Ilse en staan op.
“Sal lekker smaak, dankie. Ek dag eers jy het vergeet van my,” verwyt hy en neem op die pilaartjie regs van die trap plaas.
“Jy’s te groot om so maklik te vergeet,” treiter sy hom en stap die hoekkamer binne.
“Waar’s Sonja?” roep hy oor sy skouer.
“Stad toe saam met Kobus. Hulle sou glo net gou vir hom ’n paar sporthemde gaan koop en dadelik teruggekom het, maar dis al byna twee uur gelede.” Sy kom op die stoep sit en hou ’n bekertjie koffie na hom toe uit. “Hier, pas net op, dis warm.”
“Dankie, mooi meisie,” terg hy. Hy sien die blos oor haar wange kruip. “Ek dag jy weet jy is ’n mooi meisie.”
“Ek weet, ja, maar ek is nie gewoond dat iemand dit hardop vir my sê nie,” lag sy.
“Jy gaan met die verkeerde manne uit … Voor ek vergeet, ek het vir jou werk gekry, en dit net omdat jy ’n mooi meisie is.”
“Waar? Wanneer?” vra sy gretig.
“Al van die bekende skilder Tobias Meiring gehoor?”
Sy knik heftig en die vrae is donker in haar oë. “Tannie Nicky ken hom goed. Maar wat …?”
“Hy is ’n ou vriend van my ouers,” verduidelik Henk. “Hy was mos ’n geruime tyd lank oorsee, maar hy het ’n maand of wat gelede teruggekom. Ek het oom Tobias vanmiddag gebel en hy soek modelle. Stel jy belang om deur hom geskilder te word?”
Ilse kyk verward na hom en vra onseker: “Met klere aan?” Sy bloos gloeiwarm. “Ek bedoel …”
Henk lag en skud sy kop. “Klein domkop, dink jy ek sal jou na ’n man toe stuur wat jou sal vra om die rol van ’n ontkleedanseres te speel? Hy stel in jou gesiggie belang, en as hy ’n naakskildery wil maak, kan hy genoeg ander modelle kry. Maar oom Tobias is eintlik ’n portretskilder, daarom dink ek hy sal van jou hou. Ons moet môreoggend teen tienuur by sy huis in Brooklyn wees. Kom jy saam?”
“Natuurlik!” roep sy opgewonde uit. “Net die eer om Tobias Meiring te ontmoet … Tannie Nicky het my al dikwels van hom vertel, want as jong mense het hulle saam studeer. Ek weet selfs waar sy huis is, hoewel ek nog nooit daar gekuier het nie.” ’n Fronsie kruip tussen haar wenkbroue in. “Maar as hy nie van my gesig hou nie? As hy my nie wil skilder nie?”
“Dan gee ek hom ’n opstopper!” skerts Henk en glimlag gerusstellend. “Ek glo nie jou ma het jou ooit vertel hoe ’n mooi meisie jy werklik is nie, Ilse. Oom Tobias sal in sy noppies wees om jou te skilder.”
“Ek’s bly … Maar is dit regverdig om vir hom geld te vra om my te skilder? Dis mos nie harde werk om net stil te sit en –”
“Miskien nie die eerste tien minute nie, maar daarna word dit vermoeiend.” Hy glimlag skeef. “Ek weet, want ek moes vir hom poseer toe ek ’n outjie van agt of nege was. Ek het dae lank ’n pyn in my nek gehad! Maar moenie jou daaroor bekommer nie. Hy sal jou tyd gee om te ontspan, en boonop is jy darem ouer as agt.”
“Hopelik,” glimlag sy. “Baie dankie, Henk. Sal ek net Saterdae moet gaan?”
Hy knik en vroetel sy vuurhoutjies uit toe hy besef sy pyp het doodgegaan. “Dit was my voorwaarde, want ek weet die eindeksamen wag om die draai.” Hy steek sy pyp op, wag totdat dit goed trek en draai met ’n skalkse laggie na haar. “Verbeel ek my, of kom vriend Bruce deesdae minder kuier?”
“Ek het hom gewaarsku dat ek vir die eksamen blok,” antwoord sy gedemp en wonder ergerlik waarom dit haar altyd pla om Bruce met Henk te bespreek.
“Jy lyk nie baie gelukkig daaroor nie, ounooi. Is Bruce se besoeke dan so belangrik vir jou?” vra hy ernstig.
Sy lag eerlik op in sy oë en erken spontaan: “Dit was … maar is nie meer nie. Sien, ek het skielik besef dat ek nie bereid is om met ’n man te trou as ek hom nie werklik liefhet nie, al is hy dan ook skatryk.”
“Is dit waar?” Verwonderd kyk hy na haar gesiggie en glimlag tevrede. “Nee, die mooi meisie jok nie. Ek’s bly, ounooi, want ek … ons was almal so ’n klein bietjie bekommerd oor jou.”
“Ek weet, selfs Kobus het vanmiddag vir my ’n preek afgesteek. Ek glo nie ek sou ooit werklik met Bruce getrou het nie, maar die versoeking was soms groot – so ’n volmaakte oplossing vir al my probleme. Maar, nou ja, volgende jaar verdien ek geld, en dan kan ek vir Mamma help, en as die regte man opdaag –”
“Ryk of arm?” val hy haar in die rede.
“Hopelik ryk, of … Eintlik is ek self nie seker nie. Ek hoop net dat ek hom sal kan liefhê, soos Sonja vir Kobus liefhet – regtig lief. Hoe weet ’n meisie ooit vir seker dat sy ’n man liefhet, Henk?”
“Jy sal weet,” sê hy rustig en sy blik rus sag op haar.
’n Liggroen motor kom in die straat tot stilstand en die bestuurder druk die toeter aanhoudend.
“Ek kom! Ek kom!” roep Tanya agter hulle uit haar kamer. Die deur vlieg oop en sy storm uit. “Ilse, ag, sluit vir my my deur en los die sleutel sommer onder die matjie. Sien julle!” Sy vlieg op haar hoë platformskoene die trap af en hardloop oor die grasperk na die motorhek. Haar koel somerrokkie kleef soos ’n liggeel waas aan haar.
Henk skud sy kop. “Daar loop ’n meisiekind wat te veel van die lewe in een dag wil gryp, en miskien op die ou end met leë hande gaan sit.”
“Hoe weet jy, Henk?” vra Ilse en kyk beskuldigend na hom. “Hoe weet jy werklik wat ander mense voel en dink? Ek weet Tanya het net een man lief, en ek weet sy sal enigiets gee om hom te kry, maar as hy dan nie belangstel nie? Moet sy dag in en dag uit in haar kamer sit en oor hom treur?”
Henk se gesig verdonker en sy stem is koud toe hy praat. “ ’n Vrou wat werklik liefhet, stal nie haar ware op die markplein uit nie. Sy hou dit ongeskonde vir die man wat sy liefhet. Of stem jy nie daarmee saam nie?”
“Ek weet nie mooi wat jy bedoel nie,” antwoord sy fronsend. “Ek is op niemand verlief nie, maar ek glo ek sal iemand eendag werklik liefkry. Verwag daardie man wat ek eendag sal liefhê dat ek intussen elke aand tuis moet sit en oor hom droom? Dis tog wat jy van Tanya verwag, nie waar nie?”
“Nee, Ilse, maar daar is uitgaan én uitgaan, net soos daar meisies én meisies is, en ek sal jou nie graag met Tanya wil vergelyk nie. Of moontlik moet ek, want dis juis die verskil tussen julle wat so belangrik is. Hoe sê my ma altyd? Jy kan enigiets verloor, maar die dag as jy jou naam verloor het, het jy alles verloor. Ek sê nie Tanya het haar naam verloor nie, maar sy kies nie haar vriende versigtig genoeg nie, en sy gaan nog haar vingers brand as sy nie versigtig is nie. Begryp jy?”
“Ja,” antwoord sy sag en gaan pleitend voort: “Maar ons kan tog nie almal eenders wees nie, Henk, en daar is baie ander meisies soos Tanya. Ons leef in ’n moderne tyd waarin jong mense net anders dink en handel. Is dit reg om hulle te veroordeel?”
“O, ek gun elke mens sy vryheid, maar dan moet meisies soos Tanya nie later omdraai en huil as die lewe hulle ’n klap gee nie. Ek weet net dat as ek die dag ’n vrou kies, sy net die teenoorgestelde van Tanya sal wees.”
Sy sien die strengheid op sy gesig en in sy oë en sy ril merkbaar. “Arme vroumens … Ek kry haar nou al jammer. Ek dink persoonlik ou Tanya is nie ’n slegte mens nie, behalwe dat sy ’n man nodig het wat haar werklik liefhet. Nee wat, Henk, dis maar goed jy het nie op Tanya verlief geraak nie.”
“Hoekom?” vra hy onthuts. “Is ek so ’n monster?”
“Nee, maar jy sal aaklig teenoor jou vrou optree … soos ’n regte ou patriarg wat vreeslik besitlik en oorheersend sal wees. Ek hoop sy is groot en vet en so sterk soos ’n bees, sodat sy jou ’n blouoog kan gee as jy te gemeen raak.”
“Die groot vettes is nie vir my nie, dankie. Sy gaan klein en fyn wees sodat ek haar kan beskerm en bederf – en ’n pak slae gee as sy te astrant raak,” spot hy half ernstig.
“Sien, ek het mos gesê jy sal ’n aaklige man wees!” Sy kyk berekenend na hom en glimlag. “Maar jy is ’n dierbare vriend. Baie dankie dat jy vir my die werk gekry het. Jy weet net nie hoe graag ek daardie aandrok wil hê nie.”
“Vir die dans saam met Bruce?” vra hy kortaf.
“Saam met Bruce of enigiemand anders. Dis die rok wat saak maak, nie die man nie, verstaan?” Sy kyk ondersoekend na hom en skud haar kop. “Nee, jy sal natuurlik nie verstaan nie, want mans sal nooit so oor klere kan voel nie.”
“Jy kan probeer verduidelik,” por hy.
“Dis net … ek sal amper net so bly wees om my eerste dansrok te koop as wat ek sal wees as ek die dag my graad kry!”
“My meisiekind,” troetel sy stem haar en daar is ’n hulpelose lag in sy grysblou oë, “is klere so belangrik vir julle vroumensies? Ek wens amper ek kon –”
“Henk! Henk, telefoon vir jou! Jou pa wil met jou praat!” roep tant Truia uitasem en skommel vinnig om die hoek.
“Wie, tante? My pa of my oupa?” vra hy skerp en spring op. Daar is ’n strak uitdrukking op sy gesig.
“Jou pa, my kind. Ek was ook half verbaas, en toe vra ek hom weer. Hy het uitdruklik gesê hy wil met sy seun praat. Toe, maak gou, Henk!” hyg die bejaarde vrou en skommel tot stilstand.
“Dankie, tante,” sê hy stroef en stap met lang treë weg.
“Dis nou vir jou ’n ding!” sê tant Truia kortasem en plof op die verweerde gemakstoel langs Tanya se kamerdeur neer. Met die punt van haar geruite voorskoot vee sy oor haar natgeswete voorkop en kyk na Ilse met kommer in haar oë. “Sy pa. Ek kan dit nie glo nie! Die seun bly amper vyf jaar hier by my, en nog altyd was dit net sy ma of sy oupa wat gebel het. Gewoonlik maar sy oupa. En nou sy pa. Ilsetjie, die seun se ma het nie dalk …? Haai, kind!”
“Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, tant Truia. Henk sal nou terug wees, en dan sal hy ons vertel wat aangaan,” sê Ilse gerusstellend, maar sy voel ook die kommer in haar pluk.
Henk stap die voorportaal binne en tel die telefoon se gehoorstuk op. Die hand wat die gehoorstuk vashou, bewe liggies, en daar is ’n ligte trilling in sy stem toe hy sê: “Henk Retief. Goeiemiddag.”
“Dag … my seun,” hoor hy sy pa se stem in sy oor. “Jou ma is te ontsteld om te praat. Daarom bel ek. Pa … jou oupa … is ’n halfuur gelede na ’n skielike hartaanval oorlede. Ek … ons wil hê jy moet huis toe kom, boet.”
“Oupa … dood?” Hy sien die groot, sterk plaasboer voor sy oë, regop en fier ondanks sy grys hare, die alleenheerser op sy plaas, ondanks sy sewe-en-sewentig somers; en in sy grysblou oë die lig van die jeug, van die lewe self, van ’n man wat nie kan sterf nie, maar stil val aarde toe, soos ’n groot boom, Oupa … Die enigste man wat sy honger vir kennis, groter kennis, kon begryp; die man wat kant gekies het vir hom teen sy eie pa, wat hom universiteit toe gestuur het, wat sy jeugdrome werklikheid gemaak het. En nou? Niks … niks!
“Boet? Henk, is jy nog daar?” Hy hoor die skorheid in sy pa se stem en weet dat ook sý verlies groot is.
“Ja, Pa. En … ek is jammer, veral omdat daar die laaste jare …Ek weet Pa-hulle was nie meer sulke goeie vriende nie, omdat Oupa … my kant gekies het.”
“Ons het die ding ses maande gelede uitgepraat, boet, maar ek was te hardkoppig om jou te vra om weer huis toe te kom … Maar ek vra nou. Wanneer sal jy hier wees?”
“So gou moontlik, Pa. Sommer vannag nog.”
“Versigtig ry, Henk. En, boet, jy hoef nie werk te gaan soek nie. Jou oupa het nie sy plaas aan my bemaak nie. Die beesplaas is joune, en ek dink jy verdien dit.”
“Pa …!”
“Tot siens, Henk. Ons verwag jou, my seun.”
Stadig plaas hy die gehoorstuk terug, voel die trane warm in sy keel brand.
“Dankie, Oupa, dankie,” praat hy woordeloos toe hy stadig omdraai en na die voordeur stap. “Jy het altyd gesê jy sal dinge regmaak tussen my en Pa – en jy het, al was dit na jou … dood.” Hy bly voor die voordeur staan, sy oë nikssiende op die stil straat. “Dankie, Here, vir ’n groot man soos Oupa.” Dit raak stil in hom en sy tred is vas toe hy oor die stoep loop na waar tant Truia en Ilse om die hoek op hom wag.
“Slegte nuus, my kind?” vra tant Truia grootoog en vou haar pofferhandjies senuweeagtig saam op haar bors.
“My oupa … Hy is skielik aan ’n hartaanval oorlede, tante. Ek sal maar inpak en ry.”
“Ag, my kind, hoe allerverskriklik!” hyg tant Truia. Haar gesig is geelwit van die skrik. “My arme kind! En jou oupa was juis so erg oor jou – het mos aljimmers gebel en gevra of jy darem goed eet en genoeg slaap kry. Haai, kind, nes ’n ma, so besorg oor jou.”
Henk glimlag effens toe hy die stil medelye op Ilse se bleek gesiggie sien. “Dit voel nog ’n bietjie … onwerklik, tante, maar ek sal dit seker geleidelik aanvaar. Ek sal seker net na die … begrafnis terugkom. Nou, dan gaan pak ek eers in.”
“Ek bring vir jou ’n koppie sterk tee, my kind. Of dalk wil jy ’n ietsie sterker hê?” vra tant Truia goedhartig en kom steunend orent.
“Tee sal lekker smaak, dankie, tante,” antwoord Henk met ’n glimlaggie en stap sy kamer binne.
Tant Truia wieg haastig weg en Ilse kom stadig orent. Tydsaam stap sy na Henk se kamer en steek onseker in die deur vas. Hy het reeds sy naweektassie op sy bed en glimlag toe hy haar gewaar.
“Kom binne, ounooi. Dis goed om nou jou geselskap te hê,” nooi hy en sy stem klink vreemd skor.
Sy gaan die kamer binne en sê aarselend: “Ek weet nie mooi hoe om dit te sê nie, Henk, maar ek’s jammer. Tant Truia het altyd gesê jy is eintlik jou oupa se kind.”
“Dankie, Ilse. Ek weet jy gee om … Ek het dit netnou in jou oë gesien.”
“Dan verstaan jy hoe ek voel. Die regte woorde kruip mos altyd weg as ’n mens wil sê wat jy dink. Maar kan ek nie help nie? Het jy genoeg skoon hemde en sokkies?”
“As jy vir my ’n knoop aan hierdie hemp sal werk … Daar is naald en gare en knopies in die blikkie op my spieëltafel,” versoek hy en beduie met sy oë.
Sy neem die liggroen hemp by hom en glimlag ondeund in sy oë. “Goed, meneer! Nog iets, meneer?”
Haar speelse woorde bring ’n glimlag na sy lippe en ’n warm vonkeling in sy oë. Hy trek haar met ruwe speelsheid nader en druk haar skouertjies. “Dankie vir jou, Ilse. Dis wat ek nodig het: ’n lag wat die oop seer in my kan heel.”
“Ek’s bly, want dis wat ek wou gehad het. Jy is mos die stil, sterk Henk wat altyd raad het, wat mý altyd help. Ek hou nie daarvan om die hartseer in jou oë te sien nie.” Sy raak bewus van sy sterk arm om haar, van die warmte van sy aanraking, en ’n blos van verleentheid kruip oor haar wange.
“Jy’s nie eens ’n armvol nie,” sê hy met ’n vreemde gloed in sy oë en laat haar teësinnig gaan. Sy oë volg haar toe sy na die spieëlkas loop en die blikkie oopmaak. Sy kom sit teenoor hom op die punt van die leunstoel se armleuning en steek gare in die naald. “Ek wens jy kon saam met my gaan,” praat hy weer. “Dis ’n mooi wêreld, my wêreld. Die groot kremetartbome, die nabome, kiaat, suurklapper … Die wuiwende grasvelde met die tarentale wat sononder tjier-tjier nes soek … Jy sal van my wêreld hou, Ilse.”
Sy dwing haarself om af te kyk, voel die wilde gebons van haar hart na sy skielike aanraking. Wat makeer haar? Sy is soos ’n senuweeagtige skoolmeisie wat matriekafskeid toe gaan! Dis tog net Henk – doodgewone, alledaagse ou Henk. Maar waarom klop haar hart dan so onstuimig? En haar hande bewe so dat sy skaars die gare deur die naald kan kry. Sy moenie laf raak nie. Dis Henk, haar ouboet, die goeie ou wat sy al vier jaar lank ken. Sy moenie dat jammerte oor sy oupa se dood snaakse dinge aan haar hart doen nie …
Sy byt die gare af en kyk op. “Klaar!” glimlag sy, weer meester van haarself. “Jy sal nooit iets anders behalwe ’n plaasboer kan wees nie, hè, Henk? Jy is baie lief vir die natuur.”
“Ek is ’n kind van die aarde,” antwoord hy terwyl hy ’n klompie sokkies in sy tas pak. “En jy? Jy is tog ook ’n plaasdogter?”
Sy haal haar skouers op. “Ek verkies seker heimlik om eendag op ’n plaas te woon, maar as ek dalk trou met ’n onderwyser of ’n argitek of iemand wat in die stad werk, sal ek nie juis ’n keuse hê nie. ’n Vrou maak mos maar haar huis waar haar liefde is.”
“Puik gesê,” prys hy en neem die hemp by haar. Agter hom klop iemand aan die binnedeur wat op die voorportaal uitloop. “Dis seker tant Truia met die tee. Kom binne, tante!” roep hy.
Die bejaarde vrou skuifel die kamer met ’n skinkbord in haar hande binne en sien verlig vir Ilse op die armleuning van die stoel sit. “A, dan is jy klaar hier, my kind. Ek dag ek bring sommer vir ons drietjies saam tee. Al klaar gepak, Henk?”
“Nog net ’n ekstra paar skoene en my skeergoed, tante,” antwoord hy en neem die skinkbord by haar. “Gooi solank vir my melk en suiker in, asseblief, Ilse. Ek wil net eers klaar inpak.”
“Dan ry jy sommer nou dadelik? Kan ek nie vir jou ’n bietjie padkos saamgee nie, Henk?” vra tant Truia besorg.
“Ek eet nooit juis as ek op pad is nie, tante, en as ek dalk honger word, kry ek sommer iets by ’n kafee.” Hy maak die tas toe en sit dit langs sy bed neer. “O, ja, voor ek vergeet …” Haastig stap hy na sy skryftafel, skryf iets op ’n velletjie papier en prop dit in Ilse se hande. “Dis Tobias Meiring se adres en telefoonnommer. Ek sal jou ongelukkig nie môre daarheen kan neem nie, ounooi, maar die bus loop naby die huis verby. Dalk kan tannie Nicky jou help as jy hopeloos verdwaal.”
“Ek het darem ’n idee waar sy huis is, dankie, Henk,” glimlag Ilse en steek die papiertjie in haar slenterbroek se sak. “Dalk gaan kuier ek nog by tannie Nicky. Maar kom, drink nou eers jou tee.”
Henk sluk die koppie met een teug leeg en plaas dit terug op die skinkbord. Hy gooi ’n groot arm om tant Truia se ronde skouers en soen haar skuins op haar wang. “Dankie, tante, dit was lekker. Sorg maar mooi vir die meisies, want ek wil hulle in dieselfde toestand sien as ek oor ’n paar dae terugkom. Tot siens, tante.”
“Dag, my seun, en ry tog maar versigtig. Agge, toggie, so ’n verskriklike tyding …” sê sy bewoë en vee met haar hand oor haar oë.
“Ek sal die koppies neem sodat jy jou deur kan sluit, Henk,” sê Ilse en staan op. “Kom, tant Truia.”
Hulle loop op die stoep uit en Henk sluit die deur agter hom. “Tante moet maar die deurmekaar kamer verskoon, maar daar was nie tyd om my boeke weg te pak nie. Sal tante die middeldeur sluit?”
“Seker, Henk,” antwoord sy en vee weer oor haar oë. “Gee vir my die skinkbord, Ilse. Ek stap liewer binnetoe. Dis mos al vir my nie so lekker om iemand te sien vertrek nie.”
“Mooi bly, tante!” roep Henk weer en kyk af na die meisie langs hom. “Jy ook, ou kleintjie. Mooi bly.” Hy knyp haar neusie tussen sy wys- en middelvinger en draai dan vinnig weg. “Pas jouself goed op.”
“Jy ook. Versigtig ry. Tot siens, Henk!”
Die klein motortjie brul weg en Ilse bly roerloos staan. Sy kyk dit agterna totdat dit om die hoek verdwyn. Met ’n gevoel van verlies draai sy om, kyk na die oop deur van haar kamer en stap dan vinnig oor die stoep na die voordeur, op soek na tant Truia se geselskap – want sy voel skielik onverklaarbaar alleen vandat die klein motortjie om die hoek verdwyn het.