Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk - Страница 9
Оглавление6
Sondagaand na kerk trek die meisies in die groot hoekkamer hul kerkklere uit en glip met ’n gevoel van verligting in gemaklike slenterdrag.
’n Mens kan sien dit word weer eksamentyd – die kerk word voller,” grinnik Sonja terwyl sy die ketel vol water tap.
“Dis elke jaar so as die eindeksamen nader kruip, maar ek glo nie dominee Danie gee om nie. Hy het ten minste ’n groter gehoor,” antwoord Ilse laggend. “Swot ons vanaand?”
“Asseblief nie! Ek wil sommer gesels en miskien ’n paar briewe skryf. Dalk kom Kobus ook later ’n draai maak, net om koffie te drink. Weet jy hoe laat Henk terugkom?”
“Ek weet nie eens vir seker of hy wel vanaand al terugkom nie, want hy het gesê vanaand of môreoggend. Is Tanya al terug? Sy is mos weer die naweek na Petro toe,” sê Ilse terwyl sy hulle koffiebekers uitspoel en afdroog.
“Ek het haar nog nie met ’n oog gesien nie, maar ek sal nie verbaas wees as sy eers môreoggend hier opdaag nie. Jy ken haar mos. As sy die naweek te veel geniet het, bly sy Maandag in die bed om behoorlik te herstel. Daardie meisiekind darem … Ek wonder soms waar sy die verstand gekry het om matriek te slaag.”
Sy’s glad nie so dom nie, maar sy gebruik nie graag haar verstand tensy sy regtig moet nie. Ek dink sy sal baie gelukkiger wees as sy ’n goeie man kan kry en kinders grootmaak. Sy hou baie van kinders, want …” Ilse swyg toe die luide gebrul van ’n motorenjin buitekant hoorbaar word. Sy draf saam met Sonja by die oop deur uit, en steek aan die bopunt van die trap vas.
“Ek het gedink dis Henk, maar dit lyk soos Bruce se motor,” sê Sonja vies en draai om.
“Nee, wag hier by my, Sonja!” fluister Ilse dringend.
Hulle sien Bruce dofweg deur die donker anderkant die ligkring aangestap kom, en staan tru na die kamerdeur se kant toe.
“Hier kom die groot minnaar om jou weer die jawoord te vra,” giggel Sonja. “Nooi jou held binne. Ek sal vir ons koffie maak,” voeg sy by en gaan die kamer binne.
“A, daar’s die mooiste meisie in die Jakarandastad!” groet Bruce hartlik en kom vinnig nader.
“Kom binne, Bruce. Sonja is reeds besig om vir ons koffie te maak,” nooi Ilse haastig en stap die kamer binne sonder om vir hom te wag.
“Drie lepels suiker vir my, Sonja. Naand, meisie,” groet hy ongemaklik, vryf senuweeagtig met die duim van sy regterhand in sy linkerhand se palm en neem skielik op ’n gemakstoel plaas. Hy stryk sy vingers deur sy kuif en vra skerp: “En toe, mooi ding, trou ons Saterdag?”
“Ek het reeds gisteraand vir jou my antwoord gegee, Bruce, en ek het nog nie van besluit verander nie,” sê Ilse afgetrokke en bly ongemaklik langs Sonja by die groot tafel staan.
“Ag, kom, meisie, jy het my nou lank genoeg aan die lyntjie gehou. Ek weet jy wil met my trou – honderde ander meisies sal dit net so graag wil doen. Toe, Sonja, sê vir jou kammie sy moet ophou hardekwas wees,” sê Bruce ongeduldig.
“Jy mors jou tyd, Bruce,” glimlag Sonja en kyk hom reguit in die oë. “Jy het seker honderde ander meisies, maar Ilse het ook ander manne, en sy is seker nie onder ’n verpligting om met jou te trou nie. Gaan vra maar vir een van die honderde ander asters, en los vir Ilse.”
Bruce se mond word ’n reguit lyn toe hy onder saamgetrekte wenkbroue na die swygende Ilse draai. “So, dan is daar ander manne? Wie’s dit? Wie is die groot held wat jou voor Bruce Reyneke se neus probeer wegraap? As ek hom in die hande kry …!”
’n Diep blos vlek Ilse se wange rooi. “Moenie belaglik wees nie, Bruce. Waarom moet daar juis iemand anders wees? Ek het geen trouplanne nie, want ek het nog nie die regte man ontmoet nie. Maar ek gaan beslis nie met jou trou net omdat jy dit so wil hê nie.”
“En nou kan jy maar draf, Bruce, want jou geselskap verveel ons. Goeienag, ou maat,” sê Sonja katterig en tel sy leë koffiebeker op.
“Hou jou neus uit ons sake, rooikop!” snou Bruce en draai weer na die gespanne Ilse. “Verstaan my mooi, Ilse. Ek het besluit om met jou te trou, en buig of bars, dit sal gebeur. As Bruce Reyneke iets wil hê, kry hy dit! En ek waarsku jou. As ek jou ooit by ’n ander man sien, meisiekind, is daar moord! Jy’s myne, verstaan?”
“Haar dalk êrens gekoop, Bruce?” vra ’n rustige manstem agter hom.
Bruce swaai om en sien Henk met sy naweektas in sy hand die kamer binnekom. Hy spring op, loop dreigend op Henk af en druk sy vuis onder Henk se neus.
“Dan is dit jy! Dan is jy skielik die grootmeneer wat my meisie probeer afvry!” sis Bruce en sy gesig vertrek van woede.
“Dis wat jóú soort doen, boet, nie Henk Retief nie,” sê Henk koud. “Moenie ’n gek van jouself maak nie, vriend. Ilse stel nie belang in ’n huwelik met jou nie. Aanvaar dit soos ’n man en neem ’n ander meisie uit. Jy sal wel oor jou teleurstelling kom. Maar moenie weer vir Ilse kom lastig val nie, want dan kry jy met my te doen.”
“En met my,” sê Kobus van die deur af en slenter groot en dreigend die kamer binne. “Ek kon nog nooit opdringerige mans in my meisie se kamer verdra nie,” voeg hy by en kyk na Sonja. Dan wys hy met sy duim na die deur. “Uit, boetie, uit!”
“Nou’s dit twee teen een, nè? Ek het ook vriende … Dít sal julle nog uitvind!” sê Bruce smalend en storm by die deur uit.
Hulle hoor hom mompelend na sy motor stap.
“Dis nou ’n tuiskoms waarvan ek hou,” glimlag Henk met sy oë sag op Ilse se strak, bleek gesiggie. “Wat sê jy, Kobus? As ’n mooi meisie van ’n nikswerd ontslae raak, is dit mos die moeite werd om huis toe te kom.”
“Net so, maat!” lag Kobus en neem op die rusbank plaas. “Kry ons moeë manne koffie?” vra hy, kyk na Sonja en draai weer na Henk. “Jammer oor jou oupa, Henk … Was die pad besig?”
“Nie juis nie,” antwoord hy en kyk besorg na Ilse. “Kom sit hier by ons, Ilse. Ek glo nie Bruce sal weer met jou lol nie. En as hy sou, kry hy met my te doen!”
Sy glimlag dankbaar en gaan sit op die rusbank. “Julle weet net nie hoe verlig ek was toe julle hier opdaag nie. Ek het begin bang raak – en ek dink Sonja ook.”
“O, ek sou hom met ons strykplank oor sy kop geslaan het as dit nodig was,” sê Sonja selfversekerd en stap met twee bekers koffie nader. “Kry vir julle suiker.”
Die mans help hulleself en dan draai Henk vraend na Ilse wat oorkant hom sit. “Wat het presies gebeur, ounooi? Ek was net betyds om te hoor dat jy iets van verloof en trou sê. Het Bruce skielik besluit hy wil met jou trou?”
Sy knik en kyk selfbewus op in sy oë. “Ja. Dit het eintlik al gisteraand begin. Ek het geweier, en hy het voorgegee dat sy vraag te skielik was, dat ek te verward was om te weet wat ek sê. Hy het toe weer vanaand gekom en gesê ons moet verloof raak en sommer Saterdag trou. Ek het weer geweier, en toe begin hy met sy praatjies oor ’n ander man op wie ek verlief is. Die res weet jy.”
“Dan wou hy al Saterdag trou? Hoekom skielik so haastig?” vra Henk verwonderd.
“Dis wat ek ook nie kan verstaan nie,” sê Sonja fronsend. “Ek kan nog verstaan as hy na die eksamen wil trou, maar sommer Saterdag al? Dit rym net nie.”
“Dis maar net tipies Bruce Reyneke,” meen Kobus en haal sy kromsteelpyp te voorskyn. “Hy moet natuurlik anders wees as alle ander mans, en as hy besluit om te trou, doen hy dit dadelik.”
“Ek weet nie so mooi nie, Kobus,” maak Henk beswaar. “Ek glo nie Bruce se soort sal ooit wil trou nie – nie solank hy genoeg geld het om elke aand op ’n ander meisie te mors nie.” Hy glimlag vir die stil Ilse oorkant hom. “Maar ek is bly jy het geweier om met hom te trou, ounooi. Nie dat ek ooit gevrees het dat jy met ’n man soos Bruce sal trou nie. Daarvoor het jy te veel verstand in daardie mooi koppie.”
“Ek was altyd my pa se slim kind,” skerts sy en wonder heimlik wat Henk sal sê as hy van haar drome oor Tobias Meiring weet. Nee, hy moet nooit daarvan uitvind nie, want sy weet hy sal dit afkeur – moontlik nog kwaad en teleurgesteld wees oor haar lawwe drome. Maar is haar drome so belaglik? Hoeveel keer het sy al gehoor en gelees van huwelike tussen ouer mans en jong meisies? Dis tog nie so ’n ongewone verskynsel nie, en tog … Sy weet sy sal nooit vir Henk daarvan kan vertel nie.
“Henk,” begin Kobus, kug onseker en vervolg: “Ek weet dis ’n bietjie persoonlik, maar ek kan nie help om te wonder nie … Ek bedoel nou oor jou planne vir volgende jaar. Gaan jy saam met jou pa boer?”
Henk glimlag stadig en skud sy kop. “Dis nie vir my nie, Kobus. Ek aard te veel na my pa en as ek saam met hom moet boer, maak ons van voor af rusie. Nee, ek gaan nog boer, maar nie vir my pa nie.”
“Dan gaan jy nog vir ’n ryk boer werk?” vra Ilse, en hy hoor die teleurstelling in haar stem.
“Wel,” spot hy, “ek hoop dis ’n ryk boer, want ek is van plan om hard te werk!” Hy plaas sy koffiebeker langs hom op die armleuning neer en staan op. “Julle mense moet my verskoon, maar ek is ’n bietjie tam na die ryery. Lekker slaap, almal.”
“Nag, Henk,” roep die drietal in ’n koor.
“Henk lyk moeg,” sê Sonja simpatiek. “Ek wonder of hy vanaand al geëet het?”
“Tant Truia sal wel vir hom sorg,” sê Kobus en hou sy koffiebeker na haar uit. “Sorg jy maar vir jou toekomstige man en bring vir my nog koffie.”
“Hy’s sowaar jaloers!” terg Sonja en lag ondeund in Ilse se oë.
Toe Kobus tien minute later vertrek, hou ’n liggeel motortjie langs die straat stil. Ilse en Sonja staan op die stoep en kyk hoe Tanya met ’n groot gesukkel haar tas agter haar aan sleep stoep toe.
“Jou kêrels darem!” sê Sonja kopskuddend. “Kon die vent nie jou tas vir jou dra nie, Tanya?”
“Hy moet nog vir Mariëtte ook gaan aflaai, en boonop is Brian nie my kêrel nie,” antwoord Tanya vies. Haar gesig is rooi van die gespartel met haar swaar tas.
“Jy vat ook klere vir Afrika saam as jy die naweek gaan kuier,” sê Ilse en stap na haar toe. “Gee, ek sal jou help.”
“Dankie, Ilse,” kom dit dankbaar van Tanya. “My dekselse skoene is so hoog dat ek my enkels swik met elke tree wat ek loop. Jy’s darem ’n ander soort mens, Ilse – so anders as Sonja. Ek dink sy val dood neer as sy iemand anders ooit ’n guns moet bewys!” sê sy nydig en gluur na Sonja.
“Ek sal … as die iemand anders jy is!” koggel Sonja en leun lui teen ’n pilaar, terwyl Tanya haar kamerdeur oopsluit. “Hoe was die naweek toe? Die ene manne?”
“Soos altyd,” antwoord Tanya verveeld, skop haar skoene in die deur van haar kamer uit en draai terug na die meisies. “Julle het nie dalk ’n koppie koffie vir my nie? Ek’s dors … en ek het nuus vir julle.” Sy loer na Ilse. “Veral vir jou.”
“A, fees, fees! Daar’s niks so lekker as ’n sappige ou skinderstorie nie,” spot Sonja en stap die hoekkamer binne. “Kom sit, Tanya, en vertel. Ek sit solank nog water op.”
Tanya neem op die rusbank plaas en krul haar bene op om haar seer voete te masseer. “Ek het my skoensole gisteraand deurgedans,” kla sy. “Was jy en Bruce uit, Ilse?”
“Nee … maar hy was hier,” antwoord sy ontwykend.
“En vanaand weer!” vertel Sonja gretig. “Hy wil uit die bloute aan Ilse verloof raak en sommer nog volgende Saterdag trou. Kan jy dit glo?”
Tanya knik ernstig en kyk vraend na Ilse. “Ek hoop jy het nie ja gesê nie,” sê sy bekommerd.
“Beslis nie!” lag Ilse en voeg tergend by: “Hy’s joune, Tanya. Jy wou mos altyd saam met hom uitgaan, nie waar nie?”
Tanya kriewel ongemaklik op die bank en vermy Ilse se reguit blik. “Wel, ek wou seker maar soos die res van die meisies op die universiteit, maar nou weet ek van beter.”
Sonja hou op om koffie in die bekers te gooi en vra verras: “Hoekom nie? Het die Reynekes skielik al hulle geld verloor?”
“Nee, maar … Ek weet nie hoe waar dit is nie, maar ek glo nie Petro en Mariëtte sal albei daaroor jok nie.” Sy swyg en vervolg aarselend: “Dis net oor Bruce en daardie eerstejaartjie, Erna Hendriks … Dis dalk nie waar nie, maar Erna het glo vir Petro-hulle gesê sy en Bruce moet trou.”
Ilse glimlag sinies en sê doodgewoon: “Dis niks nuuts nie, Tanya. Sulke dinge gebeur daagliks, en sover ek weet, was daar al voorheen asters wat gesê het hulle moet met Bruce trou.”
“Enige meisie wat in die moeilikheid beland, sal seker graag ’n ryk ou wil vang,” begin Sonja ontsteld, “maar ek dink hierdie keer is dit Bruce wat ’n skuldige gewete het en paniekerig geraak het. Besef jy wat hy probeer doen het, Ilse? Hy is bang Erna se ouers dwing hom om met haar te trou, en nou probeer hy ’n haastige troue aan jou opdwing. Ek dink dis skandelik – so ’n wurm!”
“Dit kan nie anders wees nie,” beaam Tanya. “Laat Bruce wees wat hy wil, maar ek glo nie eens hy stel belang om met ’n meisie soos Erna te trou nie … Sy is selfs ’n bietjie te wild vir hom. Maar hy weet wat hy aan jou het, Ilse, daarom probeer hy nou om skielik met ’n ordentlike meisie te trou.”
“Dankie,” lag Ilse sorgeloos. “Dit kan my werklik nie skeel nie, Tanya. As ek eerlik moet wees, moet ek erken dat Bruce al voorheen van trou gepraat het, maar eers nadat ek my studie voltooi het – maar ek het hom nog altyd doodgepraat. Dis in elk geval Bruce en Erna se probleme, en wat my betref, is ek vir altyd klaar met Bruce Reyneke.”
“Ek glo nie hy is klaar met jou nie, Ilse,” waarsku Sonja bekommerd en tik senuweeagtig met haar regterhand se vingers op haar stoel se armleuning. “Jy sal moet versigtig wees, en as ek of Henk nie hier is nie, moet jy liewer ons kamerdeur sluit.”
“Nee, Sonja, ou Bruce is nou wel ’n bedorwe stukkie mens, maar ek glo darem nie hy sal my aanrand of ontvoer nie. Wil iemand saam met my nog koffie drink?” vra sy en staan op om die ketel aan te skakel.
Teen vyfuur Maandagmiddag stap Henk op die stoep uit en loop na die oop deur van die onderste hoekkamer. Hy sien Sonja by die skryftafel sit, reeds besig om koffie te maak, en glimlag tevrede.
“Ek dag ek ruik koffie!” skerts hy, bly in die deur staan en soek na sy pyp en vuurhoutjies.
“Ek het gewonder wanneer jy kom. Drink ons sommer buite?” vra Sonja en dra die twee bekers koffie deur toe.
Hy neem sy koffie en knik. “Ja, ons kan hier op jou en Ilse se pilaartjies sit. Maar waar is sy vandag? Ek het haar nog vroeër vanmiddag saam met jou by die tafel sien sit en werk.”
“Winkel toe,” antwoord Sonja terwyl sy op die pilaartjie plaasneem en proe-proe aan die warm koffie. “Ons het koffie en poeiermelk nodig gehad, en Ilse wou juis ’n paar dingetjies gaan koop het. Sy is sommer na die winkeltjie hier om die draai. Sy behoort nie lank te wees nie.”
“Die klein klits sal my ook nooit vra om haar êrens heen te neem nie, behalwe as dit stortreën of as sy die volgende dag ’n toets moet skryf. Sy’s ’n trotse entjie mens, en eintlik te onafhanklik,” maak Henk beswaar.
“Haar ma is ook so – sy aanvaar nie maklik hulp van ander nie. En tog, as iemand hulp nodig het, is Ilse gewoonlik die eers-te om te help. Sy het sowaar gedurende die naweek al Tanya se kunsgeskiedenis-aantekeninge vir haar oorgetik, en sy wou nie betaling hê nie omdat jy vir haar werk by Tobias Meiring gekry het. Sy sê sy het boonop nie meer die geld nodig nie, want sy gaan beslis nie saam met Bruce dans nie. Sy sal natuurlik nog na die skilder toe gaan, want sy sê hy het klaar met die eerste sketse begin.”
“Ek’s bly, want oom Tobias is ’n gawe mens. Hy is nog baie jonk van gees, al is hy eintlik ’n tydgenoot van my pa – die vroumense dink gewoonlik hy is vreeslik aantreklik. Wat sê Ilse van hom?”
“Wat al die ander vrouens sê, as ek jou moet glo. Sy dink hy is die wonderlikste man op twee bene!” lag Sonja.
“Sy’s nie dalk verlief op hom nie?” vra Henk en dwing homself om gewoon te praat ondanks die skielike onrus in hom.
“Ek sal glad nie verbaas wees as sy is nie,” antwoord die niksvermoedende Sonja. “Sy kry behoorlik sterre in haar oë as sy van hom praat. Hoe erg dit is, weet ek natuurlik nie. Gelukkig is Ilse ’n nugter mens, en sy sal wel terugkom aarde toe.”
“Hmm,” kom dit niksseggend van Henk.
Sonja kyk vinnig op. “Gits, Henk, jy gaan jou tog nie oor so ’n onbenulligheid ontstel nie? Jy weet self hoe jong meisies – en mans seker ook – is voordat hulle die regte maat ontmoet. Jy raak elke tweede dag op ’n ander ou verlief, en môre het dit weer oorgewaai. Ek dink Ilse is maar net vreeslik beïndruk met die suksesvolle skilder, wat boonop aantreklik en ongetroud is. Dit kan tog nie ernstig wees nie!”
“Ilse is nie ’n kinderagtige eerstejaartjie nie, Sonja. Sy’s mondig en eintlik ’n verstandige nooi. Boonop is Tobias Meiring nie blind of seniel nie. Hy sal ’n dwaas wees as hy nie kan sien hoe ’n oulike meisie Ilse is nie,” antwoord hy omgekrap en suig hard aan sy pyp, asof hy daardeur van sy kwellende gedagtes ontslae kan raak.
“Onsin, Henk! Tobias Meiring is in sy vroeë vyftigs – dink jy eerlikwaar dat Ilse op ’n man wat haar pa kon gewees het, verlief sal raak?”
Henk antwoord nie dadelik nie. Toe hy opkyk, lê daar kommer in sy oë. “Is dit werklik so onmoontlik, Sonja? Jy het saam met Ilse grootgeword, en jy behoort te weet waarna Ilse die sterkste verlang: sekuriteit, veral finansiële sekuriteit. Haar hele lewe lank moes sy haar ma sien stry teen die wurgende greep van armoede. Wat sal aanlokliker vir haar wees as ’n huwelik met ’n suksesvolle ryk man, ondanks sy ouderdom? Sy sal nie die eerste jong meisie wees wat met ’n middeljarige man trou nie.”
“Miskien nie, maar Ilse? Nee, ek twyfel tog of sy so iets sal doen. Waarom het sy dan nie met Bruce getrou toe sy die kans gehad het nie? Hy kon haar tog genoeg geld gegee het.”
“Geld, ja, maar nie enige ander sekuriteit nie. Ilse weet Bruce is ’n swierbol en dat ’n huwelik nie bindend vir hom sal wees nie. Tobias Meiring is ouer en verstandiger, ’n man wat haar wel sekuriteit sal kan gee as hy werklik vir haar lief is … maar eintlik is hy net ’n ouer uitgawe van Bruce. Hy kon nog nooit tevrede wees met die liefde van een vrou nie.”
“Nou, waarom is jy dan bekommerd?” lag Sonja verlig. “As hy net nog ’n Bruce is, sal Ilse dit wel agterkom. Boonop weet ek nie eens of Ilse werklik op Tobias verlief is nie. Ek het maar net so ’n vermoede.” Sy kyk ’n lang ruk ondersoekend na Henk en vra skerp: “Maar waarom is jy so bekommerd oor haar, Henk? Dis tog Ilse se lewe, en sy kan doen wat sy wil. Of is my vermoede dalk reg?”
Hy kyk vinnig, vraend op. “Watter vermoede?”
“Dat … jy lief is vir haar, Henk. Moenie dink ek is sommer nuuskierig nie, maar ek het nog al die jare so ’n gevoel gehad … dat jy eintlik meer vir Ilse omgee as wat jy wil laat blyk. Is dit net my verbeelding, of …?”
Hy lag gedemp en sy sien ’n donker gloed oor sy gesig kruip. “Jy is glad nie so dom nie – of dalk was ek nie so slim soos wat ek gedink het nie. Ek gee om vir Ilse, Sonja, of liewer, ek het die meisiekind lief vanaf die eerste dag dat julle twee hier ingetrek het.”
“Maar, Henk! Dis al byna vier jaar. Kon jy nie eerder vir Ilse daarvan vertel het nie? Ek bedoel, jy het haar dag vir dag gesien, haar by jou gehad en jy het haar nooit eens uitgeneem nie – behalwe as julle by tannie Nicky-hulle gaan kuier het, en dan het ek en Kobus ook dikwels saamgegaan. En al die jare het jy gesit en kyk hoe sy met talle ander mans uitgaan. Was jy nie eens bekommerd dat sy op een van hulle verlief sou raak nie?” vra Sonja onthuts.
Hy plaas die leë koffiebeker langs hom op die trap neer en suig ingedagte aan sy pyp. Dan sê hy rustig: “Nee. Ek kon sien watter soort meisie Ilse is, en al het sy dikwels uitgegaan, was ek nooit bekommerd nie. Ek het haar natuurlik fyn dopgehou, gesoek vir die sterre in haar oë as sy van ’n man praat. Soms was sy tydelik verlief op iemand, maar dit het altyd gou oorgewaai. Bruce was die enigste man wat my effens bekommerd gemaak het.”
“Maar as sy intussen op iemand verlief geraak het, iemand werklik liefgekry het?” vra Sonja ongelowig.
“Dan was sy nie vir my bedoel nie,” antwoord hy skouerophalend. “Maar ek was nooit daaroor bekommerd nie. Dis byna asof ek van die begin af hier diep binne geweet het dat sy eendag myne sal wees, en dat niks en niemand haar van my af sal kan wegneem nie,” sê hy met sekerheid.
“Ek verstaan dit nog nie,” hou Sonja vol. “Hoe kon jy ander meisies uitneem terwyl jy intussen vir Ilse liefgehad het? Nie dat jy dikwels uitgegaan het nie. Jy sit gewoonlik met jou neus in jou boeke.”
“Presies. Ek het nooit eerder daaroor gepraat nie, maar dit was my oupa wat my universiteit toe gestuur het. Dit was vanselfsprekend dat ek nie boonop vir hom sakgeld sou vra nie, daarom moes ek my spaargeldjies gebruik, of die paar rand wat ek gedurende vakansies kon verdien. My motortjie, baie van my boeke, my klere – ek het dit alles self gekoop sodat ek nie onnodig op my oupa moes teer nie. En daarna was daar bitter min geld oor om op meisies uit te gee. Ek kon nie kompetisie wees vir die ander mans wat Ilse uitgeneem het nie.”
“Maar as Ilse vir jou lief was, sou sy mos verstaan het,” protesteer Sonja.
“A, maar sy was nié verlief op my nie! Dink jy ek sou haar sommer trompop loop en al my private probleme aan haar vertel?” Hy skud sy kop. “Elke man het sy trots, Sonja, en my probleme is net myne. Boonop was dit vir my ’n bitter aanpassing, byna ’n vernedering om skielik met baie minder klaar te kom as waaraan ek gewoond was … My pa is ’n korrelkop, maar miskien omdat ek sy enigste seun is, het hy my nooit enigiets geweier nie. My skielike armoede het my in ’n mate van my selfvertroue beroof, daarom kon ek Ilse nie sommer goedsmoeds van my liefde vir haar vertel nie. Ek het besluit om my op my studie toe te lê en met my graad – of liewer, twee grade agter my naam – sou ek vir Ilse die sekuriteit kon gee waarna sy verlang. Sodra ek dit afgehandel het, sal dit die aangewese tyd wees om met haar te praat.”
“En jy verwag dat Ilse skielik na vier jaar op jou verlief moet raak en met jou moet trou?” vra Sonja misnoeg. “Ek het darem gedink jy het meer verstand as dit, Henk!”
“Ek het,” antwoord hy houtgerus. “As jy slim genoeg was om agter te kom dat ek op Ilse verlief is, kon jy seker ook agterkom dat daardie mooi meisie nie heeltemal onbewus van my bestaan is nie. Dink ’n bietjie daaroor na, Sonja. Waar soek Ilse altyd raad en hulp? Vir wie wys sy eerste haar nuwe rokke of skoene? Vir wie vertel sy eerste van haar goeie of slegte toetspunte?”
“Vir jou, natuurlik, maar ek weet sy het geweldig respek vir jou, en sy vertrou jou. As ons twee rusie het, vra sy gewoonlik jou mening, en as jy eers gesê het ’n ding is blou, maak dit nie saak wat ek sê nie. Snaaks, ek het self al met Ilse daaroor gepraat, haar gevra of sy nie dalk lief is vir jou nie, maar sy het my uitgelag. Ilse dink beslis nie vertroue en respek is sinoniem met liefde nie.”
“Nee, maar dis ’n goeie begin. Dink ’n bietjie daaroor na. Is dit nie presies hoe jy oor Kobus voel nie?”
Sy knik ingedagte. “Dit is, want soos Ilse na jou toe hardloop met alles, hardloop ek gewoonlik na Kobus toe. Dink jy Ilse is dalk verlief op jou sonder dat sy self daarvan bewus is?”
“Dis wat ek graag wil glo, maar ek is nie so seker nie, nie met ’n man soos Tobias Meiring wat haar dalk speel-speel onder my neus wegraap nie. Miskien moes ek haar eerder van my gevoel vertel het, maar totdat Oupa dood is, was dit onmoontlik.”
“Hoe meen jy?”
“Ek het reeds vir jou gesê ek is bewus van Ilse se agtergrond, haar groot behoefte aan sekuriteit. Ek kon dit nie eerder vir haar gee nie, want nadat ek universiteit toe gekom het, was ek ook eintlik arm. Ek wou geen hulp van my pa aanvaar nie. Selfs nou nadat ons weer vriende geword het, sal ek nie op een van sy plase gaan boer nie. Dit sal net nie deug nie. My pa glo nog vas sy metode van boerdery is die beste, en twee hardekoppe … Maar dis nie langer vir my nodig nie, want Oupa het sy beesplaas aan my bemaak. Ek het eintlik ’n fortuin geërf, soos hulle sê.”
“Henk! Waarom het jy ons nie eerder vertel nie? Dis mos fantastiese nuus!” roep Sonja verras uit en skaterlag bly.
“Laat dit ’n geheim bly tussen ons, Sonja. Vroeër sou ek dadelik vir Ilse daarvan vertel het, maar ek het weer oor die saak gedink, en dis nogal belangrik vir my dat sy met my sal trou omdat sy my liefhet, nie omdat ek skielik ’n ryk plaaseienaar is nie. As dinge eendag regkom tussen ons, sal sy dit hoor, maar nie nou nie. Jy verstaan?”
Sy knik ernstig. “Natuurlik. Jy’s darem ’n trotse mansmens, hè, Henk?”
“Bekommerd ook,” glimlag hy. “Laat ons maar hoop dat Tobias Meiring nie te veel in my slaai krap nie.”