Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk - Страница 10
7
ОглавлениеSy het sedert hulle eerste ontmoeting besef sy sal nooit van haar stiefsuster kan hou nie, dink Lelani, maar op hierdie oomblik haat sy Yvette Boonzaaier met ’n wrewelrige haat. Nie omdat sy jaloers is omdat Yvette Roland gesoen het nie, maar omdat haar binnekoms van Roland weer ’n vreemdeling gemaak het. ’n Koue, donker masker skuif oor sy gelaat en maak van hom ’n man van graniet. Daar is onverbloemde weersin in sy swartbruin oë toe hy met sy hand oor sy mond vee en vinnig agteruit tree.
“Jou vrypostigheid is vir my ’n verleentheid, Yvette,” sê hy stroef, draai om en stap die kamer uit sonder om na Lelani te kyk.
Yvette haal haar skouers op, lag onbesorg en kom die kamer binne. “En dis die man met wie ek gaan trou. Roland kan die gode dank ek het so ’n sonnige geaardheid,” sê sy selfversekerd.
“Jy en Roland gaan trou?” vra Lelani ongelowig.
“Hoe anders, skattie? Ek en Roland het al jare lank ’n intieme verhouding. Was dit nie vir ou Engela nie, was ons reeds jare gelede getroud, maar terwyl sy baas is in Huis Daeraad …” Yvette swyg betekenisvol en vlei haarself met ’n sensuele beweging op ’n gemakstoel neer.
’n Intieme verhouding, skok die woorde deur Lelani se binneste. Daar is ’n diep blos van verleentheid op haar wange. Wat bedoel Yvette met ’n intieme verhouding? wonder sy. Nee, nou hou sy haarself net dom. Sy is darem al twee-en-twintig. Nogtans … sy wil dit nie glo nie. Roland is ’n vrouehater, ’n koue, gevoellose man, wat net teenoor haar kan ontdooi en vir haar ’n ruiker bloedrooi rose koop …
“Moenie so bekaf lyk nie, my stiefsustertjie,” dring Yvette se smalende stem tot haar deur. “Of het jy heimlik gehoop om die man van my af te rokkel?” Haar lag is klokhelder, maar humorloos. “Nie dat ek jou kan verkwalik nie, my ding. Roland is skatryk en onweerstaanbaar, en die letsel op sy wang maak hom net aantrekliker. Meer as een meisie op Stadlerheim gaan haar oë uithuil die dag wanneer ek en Roland trou.”
“Ek sal nie een van hulle wees nie,” kom dit koud van Lelani.
“Uitstekend! In daardie geval, my meisie, gaan ek en jy boesemvriendinne word.” Yvette maak haar handsak oop. “Tant Breggie het my vertel jy lê met griep in die bed. Ek het hierdie tablette op voorskrif gekry toe ek laas griep gehad het. Drink sommer nou twee en ek beloof jou jy sal oor ’n halfuur soos ’n ander mens voel.”
Lelani neem die houer tablette wat Yvette na haar uithou, merk dat daar geen etiket op die houertjie is nie en plaas dit op haar bedkassie neer. “Dankie, maar ek het reeds my medisyne gedrink.”
Yvette blik minagtend na die antibiotikum en hoesstroop op die bedkassie. “Dit lyk soos ou dokter Swanepoel se gebruiklike voorskrif, maar dit sal nie ’n vlieg gesond maak nie. Wag, ek skink vir jou ’n glas water, dan sluk jy my tablette.”
“Nee, dankie, Yvette. Ek waardeer jou besorgdheid oor my, maar ek het so pas my antibiotikum gedrink. As ek môre nog nie beter voel nie, sal ek jou tablette gebruik,” sê Lelani beslis.
“Dis jou verlies, ou ding,” sê Yvette met ’n tikkie ergernis in haar stem. Sy staan op en drentel doelloos na die spieëltafel. Sy steek vas toe sy die ruiker rose op die spieëltafel gewaar en blik fronsend oor haar skouer. “Oulik. Het die ou oom die rose gekoop?”
Lelani voel die lag in haar binneste opborrel, maar antwoord bedees: “Ja. Hy is ’n liewe ou oom, as hy die dag so voel.”
“Ek het nie besef ou Giepie het genoeg sente om so ’n duur ruiker te bekostig nie.”
Lelani glimlag breed. “Oom Giepie besit heelwat sente.”
“En jy laat hom toe om vir jou ruikers aan te dra?” vra Yvette afkeurend. “Jy is so bitter jonk, Lelani. Glo my, ou mans se motiewe is nie altyd so onskuldig as wat hulle voorgee nie. Ek sal jou aan ’n paar jongmans voorstel, voordat die hele dorp oor jou en ou Giepie skinder.”
“Slangwyfie!” sis tant Engela uit die deuropening. “Omdat jy ’n siel van swart slyk het, meisiemens, glo jy dat almal soos jy is. Hoe durf jy sulke laakbare insinuasies oor Giepie Taljaard maak?”
Yvette skrik merkbaar, maar dan swaai sy om en kyk tant Engela uitdagend aan. “Ek het oë in my kop, tant Engela. Oom Giepie sal nie die eerste ou man wees wat op ’n jong meisie verlief raak nie.”
“Jy glo Giepie is verlief op Lelani?” vra tant Engela en die emosie in haar stem wissel tussen verbystering en woede.
“Is dit nie voor die hand liggend nie? Vir ’n arm pensioenaris is ’n duur ruiker ’n fortuintjie werd. Waarom sal oom Giepie vir Lelani ’n ruiker – en nogal bloedrooi rose – koop as hy nie bybedoelinge het nie?” vra Yvette styf.
“Jy glo Giepie het die ruiker gekoop?” vra tant Engela oorbluf.
“Ek het vir haar gesê ’n ou oom – ’n liewe ou oom – het vir my die ruiker gestuur, tannie,” kom dit vroom van Lelani.
“Presies! Ek en my stiefsuster is klaar boesemvriendinne. Sy het eerlik aan my erken dat ’n ou oom die ruiker gekoop het,” sê Yvette vermakerig.
“’n Ou oom …” herhaal tant Engela en glimlag begrypend. “Noudat ek daaraan dink: Roland is ’n ou oom in jou oë, Lelani, want hy is ’n volle dertien jaar ouer as jy.”
“Roland?” vra Yvette skril, haar oë wyd oopgesper.
“Oom Roland, hartjie,” beaam tant Engela en glimlag liefies.
Yvette swaai om na Lelani, haar gelaat haatvertrek, smeulende woede in haar oë. Dan, met byna bomenslike inspanning, dwing sy ’n glimlag om haar lippe. “Wat ’n koddige misverstand! Ek het my verniet oor jou bekommer, skattie. Maar dis hoe Roland is: altyd bedagsaam teenoor kuiergaste. Sien jou, my ding,” groet sy met valse hartlikheid, skuif by tant Engela, wat nog in die deur staan, verby en loop vinnig in die gang af.
Tant Engela bly oomblikke lank staan met ’n frons van onbegrip tussen haar wenkbroue. “Iets rym nie, Lelani,” sê sy terwyl sy nader aan die bed beweeg. “Yvette kon moor toe sy hoor Roland het die ruiker gestuur, maar toe besluit sy skielik om dit af te lag. Hoekom?”
“Dalk wil sy werklik my vriendin wees,” antwoord Lelani en tel die houer met pille wat Yvette gebring het, op. Sy maak dit oop en gooi ’n paar tablette in haar hand uit.
“Wat het jy daar, kind?” vra tant Engela bekommerd. “Ek hoop nie jy gebruik enige ander medikasie as dié wat dokter Swanepoel voorgeskryf het nie.”
Lelani antwoord nie; sy beskou die tablette van naby en gooi hulle terug in die houertjie. Sy blik ontsteld na tant Engela. “Yvette het vir my die tablette gebring. Sy het my verseker dat dit my baie vinnig van my griep sal genees, maar sy het blykbaar vergeet ek is ’n gekwalifiseerde suster.”
“Jy weet wat dit is?” vra tant Engela, haar stemtoon vreemd gespanne.
“Ek het ’n vermoede, maar ek wil liewer nie raai nie. As tannie die apteker op die dorp kan vra…”
“Ek maak so, Lelani,” sê tant Engela en neem die houertjie by haar. Sy huiwer ’n oomblik en neem dan op die kant van die bed plaas. “Ek weet nie hoe om dit aan jou te stel nie, my kind, maar Giepie het besluit om vir julle elders losies te kry.”
“Maar waarom?” vra sy verward.
Tant Engela sug verwese. “Roland … Giepie kan hom nie vergewe dat hy jou uitgelag het toe jy vir ou Poena geskrik het nie.”
“Maar dit was nie Roland se skuld dat ek in die perdekamp was nie, tannie.”
“Nee, dit was nie, maar daar is ander dinge … Roland was vanuit die staanspoor daarteen gekant dat jy en Giepie hierheen kom. Jy kan dit nie ontken nie: tot dusver het Roland jou soos ’n vyand behandel. Jy het geen rede om van die seun te hou nie, en ek kan jou nie verkwalik nie. Maar sou jy en Giepie weggaan …” Tant Engela swyg, die hartseer van ’n leeftyd in haar oë.
“Vertel my van tannie en oom Giepie – asseblief,” pleit Lelani.
Tant Engela slaan haar blik neer en stryk gespanne oor die beddeken. “Wat is daar om te vertel, hartjie? Ons liefde was soos ’n roostuin in die hoogsomer, maar toe kom ’n haelbui en stroop die blomme en blare af … Net die gekneusde stamme en takke het oorgebly, en rose blom nie weer in die winter nie.”
“Ná die winter kom die lente, tannie,” troos Lelani met ’n deernisvolle blik op tant Engela se gelaat.
“In die natuur, ja. Maar nie vir die mens nie. Nie vir my en Gerhard … Giepie nie. Ons staan reeds in die winter van ons lewe en al doen ons wat, kan ons nie die horlosiewysers terugdraai nie. Dis die misterie van tyd, Lelani. Jou dae spoel weg soos reëndruppels in die see van die ewigheid; en wanneer die laaste druppel val, is jy deel van die ewigheid.”
“Liefde ken nie ouderdom nie, tant Engela. Liefde is soos die lente … ’n immerlente,” sê Lelani met stille sekerheid in haar stem.
“Hoe sal jy weet, kind? Jy is nog so bitter jonk.”
“Ek weet, maar tant Patience … Sy het ’n foto van ’n jong soldaat in ’n silwerraampie op haar spieëlkas gehad. Die sewe jaar wat sy in Huis Winterrus gewoon het, het sy elke dag ’n vars blom gepluk en dit voor die foto neergelê. Eendag het sy my van haar liefde vir Rupert Cahill vertel. Haar liefde vir hom was soos die lente, want wanneer sy oor hom gepraat het, was sy niks ouer as agtien nie. Sy het oud geword, maar haar liefde het jonk gebly.”
“Omdat sy nie verraad teen haar Rupert gepleeg het nie.”
Lelani staar haar ongelowig aan. “Maar tannie het nooit verraad teen oom Giepie gepleeg nie. Tannie het lojaal aan hom gebly, nie waar nie?”
“Ek het, maar …” Tant Engela kyk op, die onmag van haar vergeefse liefde in haar oë. “My moeder was destyds sterwend. Giepie het verwag dat ek saam met hom na Engeland toe moes gaan toe hy ’n beurs gekry het vir verdere studie. Maar ek kon dit nie doen nie. Ek was die enigste dogter en my moeder het soos ’n hulpelose kind aan my vasgeklou. Sy het die naderende dood gevrees, maar my teenwoordigheid het haar gerusgestel. Ek kon haar nie in die steek laat nie.”
“Natuurlik nie. Maar ná haar dood? Wat het toe gebeur?”
“Ek het …” begin tant Engela, maar sluit dan haar lippe ferm. “Dis verby, Lelani. Laat ons liewer oor iets anders praat.”
“Nee, tant Engela, ek moet weet. Het tannie se ma nog lank geleef nadat oom Giepie oorsee is?”
“Slegs twee maande en ’n paar dae. Ek het nie Giepie se adres gehad nie, maar ek het sy ouers geken. Hulle het sy adres aan my gegee en ek het aan hom geskryf, maar … maar hy het nooit my brief beantwoord nie. En toe het ek geweet: Giepie se liefde vir my was nooit so innig soos myne vir hom nie.”
“Maar oom Giepie is nooit getroud nie,” protesteer Lelani.
“Omdat hy een van daardie gelukkige mense is wat nie ander nodig het nie. Hy het verkies om ’n oujongkêrel te word,” sê tant Engela met ’n tikkie bitterheid in haar stem.
“Ek glo dit nie. Oom Giepie kan terughoudend wees, maar as hy lief is vir iemand … Hy was vir die afgelope sewe jaar soos ’n oupa vir my. Ek wéét hy gee nog om vir tannie, anders sou hy nooit ingestem het om hierheen te kom nie,” sê Lelani met oortuiging.
“Hy het reeds ’n rede gekry om Huis Daeraad te verlaat. En hy sal ook, tensy jy hom kan oorreed om te bly.” Tant Engela se oë pleit. “Of Giepie vir my omgee of nie, Lelani: ek het hom nodig soos Patience die foto in die silwerraam nodig het, want hy het die lente in my lewe teruggebring.”
Lelani leun vooroor en druk tant Engela se hand bemoedigend. “Ons sal nie weggaan nie, tannie – ek beloof.”
Lelani merk die glinstering van trane in tant Engela se oë en kyk opsetlik weg toe sy vinnig opstaan en die kamer verlaat.
Almal glo aan die wonder van die liefde, maar liefde en hartseer is sinoniem, dink Lelani sinies. Sy sal nooit liefkry nie, besluit sy, en knyp haar oë styf toe toe haar blik op Roland se ruiker val.
Roland hou sy perd in toe die getoet van ’n motor en die geblêr van skape sy ore bereik. Hy frons ergerlik en spoor sy groot, swart hings aan tot ’n galop en ry tot op die kruin van ’n rantjie. Hy herken Yvette se motor wat tot stilstand gekom het tussen die saamdrommende skape. Met ’n gedempte verwensing op sy lippe ry hy teen die skuinste af en help die skaapwagter om die skape weg te jaag, voordat hy van sy perd afklim.
“My held!” kom dit met oordrewe bewondering van Yvette terwyl sy uit haar motor klim en hom tegemoetstap. “Ek het geweet jy sal tot my redding kom as ek die toeter blaas. Hallo, my liefste.” Sy staan op haar tone om hom te soen, maar hy tree vinnig terug.
“Wat soek jy hier, Yvette?” vra hy bars. “Ek het jou al herhaalde male gevra om nie met jou motor in my skaapkampe rond te jaag nie. Het jy nie gemerk daar is ooie met lammers nie?”
“Gaan jy met my rusie maak oor ’n spul skape?” vra sy geraak.
“Gunterland is ’n plaas, nie ’n sitkamer nie. Beperk jou besoeke tot Huis Daeraad. Wanneer ek op een van my plase besig is, wil ek nie gesteur word nie,” antwoord hy koud.
“Jy het plaasbestuurders op al jou plase. En jy het oorgenoeg tyd om vir die ou siek dingetjie ruikers aan te dra, maar jy het nie tyd om ’n paar minute met my te gesels nie. Wat het in jou gevaar, Roland?” vra sy gekrenk.
“Ek het nie verander nie, maar jy het. Tot nou toe het ek jou teenwoordigheid in Huis Daeraad aanvaar, maar jy het klaarblyklik besluit ek is jou eiendom. Hou op om my jou liefste te noem en ongevraag soene uit te deel. Ons is vriende, Yvette, nie minnaars nie.”
Sy staar hom aan asof hy haar deur haar gesig geklap het. “En dis al dank wat ek kry nadat ek my lewe lank lojaal aan jou gebly het? Ek kon jare gelede al getroud gewees het as jy my nie aan ’n lyntjie gehou het nie. As jy dink jy gaan daarmee wegkom …”
Hy hou sy hand afwerend op. “Spaar my die melodrama, Yvette. Daar was nog nooit enige verhouding tussen ons nie.”
“Dit lieg jy!” bars sy tierend uit. “Die afgelope agt jaar is ek die enigste meisie in jou lewe. Jy kon my goed genoeg gebruik toe –”
“Wie het wie gebruik?” val hy haar kras in die rede. “Ek is nie ’n onkundige kind van sestien nie, Yvette. Jy het gelyk: jy was die afgelope agt jaar die enigste meisie in my lewe, maar nie omdat ek jou gevra het nie. As ’n meisie haarself aan ’n man opdring, kry sy wat sy verwag. Maar ek het nog nooit enige beloftes aan jou gemaak nie. Jy is vry om vandag uit my lewe te gaan.”
“Maar ek het jou lief, Roland!” fluister sy skor, haar gelaat waswit. “Ek het jou my lewe lank lief. En ek het geglo dat jy my liefhet. Jy weet self: as dit nie vir die preutse tant Engela was nie, sou ek lankal saam met jou in Huis Daeraad gewoon het.”
Sy lippe vertrek wrang. “Passie is nie liefde nie, Yvette. Jy was eensaam, soos ek. As jy dit liefde wil noem …” Sy lag is ’n bitter wanklank. “Adéle het my genees van my kinderagtige geloof dat liefde ’n onsterflike gevoel is.”
“Adéle het jou gebruik omdat sy jou duur geskenke nodig gehad het. En weet jy wat sy daarmee gedoen het? Met al daardie duur juwele waarmee jy haar oorlaai het? Sy het –”
“Dis genoeg, Yvette!” val hy haar in die rede, ’n harde, onverbiddelike uitdrukking op sy gelaat. “Ek het jou nie nodig om my te herinner aan wat Adéle gedoen het nie. Maar dis verby. As my optrede jou nie geval nie: jy kan altyd weer oorsee gaan rondrits.”
As hy maar weet, dink sy bitter. Daar sal nie weer geld vir ’n oorsese reis wees nie. Tot en met tant Melinda se dood sal sy darem verseker wees van ’n dak oor haar kop, maar daarna … Sy draai haar kop weg en snik agter haar hand.
Roland frons skuldig, huiwer ’n oomblik en lê dan sy hand op haar skouer. “Kom nou, Yvette, dis nie nodig om te huil nie. Ek is jammer as ek dinge gesê het wat jou seergemaak het, maar jy het daarna gesoek. Het ons nie mekaar beloof om nooit eise aan mekaar te stel nie?” vra hy meer gemoedelik.
Sy snik en snuif en knik woordeloos. “Ons het, maar ek het geglo … gehoop …” Sy kyk na hom, haar wange traanbevlek. “Liefde het van my ’n dwaas gemaak, Roland. Ek was bereid om alles te gee solank ek die enigste meisie in jou lewe kon wees.”
“Ek was nie bereid om alles te neem nie,” antwoord hy gedemp.
“Ek weet dit, maar … Jy glo tog nie aan liefde nie, Roland. Ek aanvaar dit, maar ek is nogtans bereid om met jou te trou en vir jou ’n erfgenaam te gee. Ek sal vir jou ’n goeie vrou wees, Roland. Ek sal geen eise aan jou stel nie – ek beloof.”
En sy sal ook, besef hy met ’n gevoel van onmag. Sy volg hom reeds jare lank soos sy eie skaduwee. Sy was daar toe Adéle ’n einde aan sy jeugdrome gemaak het; sy was daar selfs toe hy haar met buffelagtige afsydigheid maande lank geïgnoreer het. Nadat hy Adéle verloor het, het die lewe vir hom geen sin gehad nie. Soms het hy gewens dat hy kon sterf. Maar Yvette het hom nooit in die steek gelaat nie. Verdien sy nie ’n bietjie sekuriteit in ruil vir haar lojaliteit nie? As hy met haar trou…
“Jy en tant Engela sal nooit oor die weg kom nie, Yvette,” sê hy en voel vreemd verlig.
“Maar waarom moet ons in Huis Daeraad woon? Jy kan vir ons ’n nuwe opstal hier op Gunterland bou, Roland. As dit moet, sal ek saam met jou in ’n skuur woon,” pleit sy dringend.
“Vir hoe lank?” vra hy skepties. “Ek is jammer, Yvette, maar ek sal om al die verkeerde redes met jou trou. En wat Huis Daeraad betref: oor drie jaar erf ek die helfte van die ou opstal.”
“Net die helfte? Maar dit maak geen sin nie.”
“Dalk moet ek dit anders stel: ek en tant Engela sal die gesamentlike eienaars van die ou opstal wees. Huis Daeraad is my ouerhuis. Ek is nie van plan om elders te gaan woon nie.”
“Jy… jy weier om met my te trou?” vra sy gesmoord.
Hy sug ongeduldig. “Liewe land, Yvette, daar was nog nooit sprake van ’n huwelik tussen ons nie. As ek werklik van plan was om met jou te trou, sou ek nie soveel jare gewag het om jou te vra nie. Jy het dit tog besef?”
Sy het, wanneer sy snags in die eensaamheid van haar bed rondgerol het. Elke nuwe dag het egter nuwe hoop gebring, dink Yvette, maar sy durf dit nie hardop sê nie. “Hoe kon ek dit besef as ek die enigste meisie in jou lewe was? Vra enigiemand op Stadlerheim: almal verwag dat ek en jy sal trou,” antwoord sy en slaag nie daarin om ’n tikkie nyd uit haar stem te hou nie.
“As ek my aan die skinderbekke op die dorp moes steur, was ek reeds op agtien getroud,” sê hy minagtend. Hy vryf met sy hand oor sy mond en ken, merk dat die son die traanspore op haar wange droog gebak het en sê saaklik: “Ek is bly jy het gekom, want dit was nodig dat ons reguit praat, Yvette. Ek waardeer jou aanbod om met my te trou, maar om te trou bloot om ’n erfgenaam te hê … Miskien is dit beter dat ons ons vriendskap beëindig.”
Die bloed dreineer uit haar gesig; haar oë is onnatuurlik groot van skok. “Nee! Nee, jy kan my nie soos ’n uitgesuigde lemoen wegsmyt noudat –”
Hy gryp haar aan die skouers en skud haar liggies. “Om liefdeswil, Yvette, soos jy praat, klink dit asof ons ’n idilliese liefdesverhouding gehad het. Ons was vriende – jeugvriende. Hopelik het ons vriendskap iets vir ons albei beteken, maar noudat jy erken het dat jy my liefhet… Ek gaan nie in ’n huwelik gedwing word nie, daarom is dit beter dat jy nuwe vriende maak.”
“Soos jy klaar nuwe vriende gemaak het?” smaal sy.
Hy staar haar stroef aan. “Wat bedoel jy daarmee?”
“O, die liewe onskuld! Jy het nog nooit vir my ’n ruiker gekoop nie, maar Lelani spog reeds met ’n ruiker bloedrooi rose.” Haar oë vernou tot skrefies glimmende haat. “Ek is nie onnosel nie, Roland Stadler. Ek is skielik nie meer goed genoeg vir jou nie, omdat jou nuwe minnares saam met jou onder dieselfde dak woon. Maar ek sal sorg dat sy weet watter soort monster …” Haar sin rafel uit toe hy vinnig omdraai en na sy perd toe stap.
“Ja, toe, hardloop weg, lafaard! Jy is te bang om die waarheid te hoor!” skree sy uit jouend.
Hy klim op sy perd en staar haar enkele oomblikke in stilte aan. “Jóú waarheid. Jy was nooit my minnares nie, Yvette, want ek is nogal kieskeurig. Onthou om dit aan Lelani te sê,” sê hy, sy stemtoon koud. Hy swaai sy perd om en ry op ’n vinnige galop weg.
Nee, sy was nie, dink Yvette met ’n gevoel van bitterheid terwyl sy hom agternakyk. Daardie bloedlose man van graniet het nooit ’n vrou in sy lewe nodig gehad nie. Maar Lelani weet dit nie en Lelani is net naïef genoeg om enigiets te glo, dink sy en loop met ’n gedempte lag op haar lippe na haar motor.
Oom Giepie gluur na die ruiker rooi rose asof dit ’n giftige slang is wat hom enige oomblik kan pik. Hy pluk sy kromsteelpyp, wat onaangesteek uit sy regtermondhoek hang, uit sy mond en beduie daarmee na Lelani wat hom met ’n onnutsige glimlaggie aankyk. “Jy sê daardie vent het vir jou die ruiker gestuur?” vra hy twisgierig.
“Ja, oom Giepie. En daar was ’n kaartjie by waarin hy my om verskoning gevra het,” antwoord Lelani met gedwonge bedeesdheid.
“Dis bedrog! Ek wed jou Engela het namens daardie vent die ruiker bestel en die kaartjie geskryf.”
Lelani haal Roland se kaartjie onder haar kopkussing uit. “Lyk dit soos daardie vent se handskrif, of soos dié van tant Engela, oom?” vra sy met ’n liewe glimlaggie en hou die kaartjie na hom uit.
Hy kom nader, neem die kaartjie en lees dit fronsend. Hy snuif ’n paar keer om nog uiting aan sy ongeloof te gee en gee die kaartjie terug aan haar. “Ons ken nie sy handskrif nie. Enige man kon die kaartjie geskryf het.”
Lelani lag borrelend, begin hoes en leun hygend terug teen haar kussings.
“Ek maak nie reg nie,” sê oom Giepie spytig. “Ek vergeet dat jy ’n siek kind is. Maar ek kon ook nie langer stilbly nie, Lelani. Daardie vent…” Hy kug toe sy glimlag. “Ek bedoel, Roland is ’n gewetenlose sot wat behae skep in sy medemens se lyding. Toe hy jou uitlag… Ek was nog nooit so na aan moord pleeg nie.”
“Ek het nie gely nie, oom Giepie. Ek was bitter moeg en ek het griep onder lede gehad. En toe skrik ek vir die perd. Ek veronderstel enigiemand anders sou my ook uitgelag het. Is dit werklik so ’n groot sonde?”
Oom Giepie frons, suig aan sy pyp, pluk dit geïrriteerd uit sy mond en prop dit in sy hempsak. “Jy verkwalik hom nie?” vra hy onwillig.
“Ek dag oom gaan ook kerk toe. Is ’n mens nie veronderstel om jou medemens te vergewe nie?” vra sy vroom, maar haar oë vonkellag in syne.
“Snip!” Hy glimlag oorwonne. “Jy is gelukkig hier, ounooi? Jy wil nie hê ek moet vir ons elders losies kry nie?”
“Ek is klaar lief vir tant Engela, oom Giepie. Ek sê nie ons moet vir altyd hier woon nie, maar ons kan ’n rukkie hier kuier.”
“Solank Roland hom gedra.” Hy gluur weer na die ruiker. “As hy die ruiker gestuur het – en ek glo nie hy het nie – moet jy dubbel versigtig wees, Lelani. Daar is mans wat vir meisies blomme en allerlei geskenke aandra, en dan in ruil verwag dat … e …” Sy sin rafel uit en hy soek naarstiglik na sy pyp.
“Ek is ’n hospitaalsuster en mooi groot, oom Giepie. Oom hoef niks verder te sê nie,” sê sy glimlaggend.
“Presies. Roland is nie die soort man wat geskenke sonder bymotiewe …” Hy swyg, sy mond nog oop, toe ’n skaaplam agter hom blêr.
Lelani staar verras na Roland wat met ’n sneeuwit lammertjie in sy arms in die deuropening staan en na oom Giepie kyk.
“Dis reg, oom Giepie: ek bring nie vir Lelani ’n geskenk sonder ’n bymotief nie. Soos hierdie lammertjie.” Hy kyk na haar. “Jy is nie bang vir die lam nie, is jy, Lelani?” vra hy onseker.
“Natuurlik nie,” antwoord sy laggend. “Hy is te pragtig. Mag ek hom ’n rukkie vashou?”
“Ek het gehoop jy sou wou,” sê hy, kom die kamer binne en lê die lam in haar arms neer. “Sien, hy byt nie. En wanneer hy eendag ’n groot skaap is, sal hy ook nie byt nie.”
Sy kyk op in Roland se gesig en sien die lag soos vloeibare sonlig in sy donker oë lê.
“Spot jy met jy, meneer Stadler?” vra sy kamma vies.
“So ’n klein bietjie. Maar ek dink jy weet wat ek probeer doen.”
“Ek weet,” antwoord sy terwyl sy oor die lam se sagte wol streel. “Skape en perde byt nie.”
“Orig,” snou oom Giepie. “’n Skaap hoort in ’n kraal, Stadler. Vat die vuil ding hier uit en gaan gee hom vir sy ma.”
“Sy ma het haar voorpoot gebreek, daarom sal ons hom hans grootmaak, oom Giepie,” antwoord Roland en blik hoopvol na Lelani. “Dalk sal jy kan help, Lelani.”
“Die dogter het griep. Sy kan onmoontlik –”
“Oom Giepie!” val Lelani hom verwytend in die rede. “Ek gaan nie vir altyd siek bly nie. Boonop het ek nog nooit ’n eie troeteldier besit nie. Dankie, Roland. Ek sal graag die lammertjie help grootmaak.”
“Mooi!” sê Roland ingenome. Hy blik na die venster en sien hoe die reën in ’n deursigtige, silwergrys gordyn uitsak. “Arme tant Breggie gaan papnat reën. Sy wag voor oom se woonsteldeur.”
“Nou hoekom het jy dit nie lankal gesê nie, vent?” vra oom Giepie knorrig, stap na die kamerdeur toe en steek vas. “Hoekom het jy vir die dogter blomme gekoop?”
“Om haar om verskoning te vra, oom,” antwoord Roland gelykmatig.
“So sê jy. Ek sal vir Engela sê sy moet hierheen kom. ’n Ongetroude man hoort nie in ’n meisie se slaapkamer nie,” sê oom Giepie vyandig en loop die vertrek uit.
“En ek dag ék is befoeterd!” kom dit onthuts van Roland.
“Jy is, maar jy en oom Giepie is albei oujongkêrels,” terg sy en verwens haarself toe die uitdrukking op sy gesig verdonker. “Het ek iets verkeerd gesê?” vra sy spytig.
“Nee.” Sy stemtoon is bruusk, sy blik deurvorsend in hare. “Het jy gedurende die loop van die middag besoek van Yvette gehad?”
“Tant Engela het my vertel sy was hier, maar ek het geslaap.”
“Ek sien.” Hy kug, lyk asof hy nog iets wil sê, maar hou sy hande na haar uit. “Gee nou die lam. Ek moet hom in die buitekamer kry voordat dit te hard reën.”
“Sal jy hom môre weer na my kamer toe bring?” vra sy toe hy die lammertjie by haar neem.
“Ja,” antwoord hy kortaf en loop die kamer uit.
Roland Stadler is ’n enigma, dink sy terwyl sy teen haar kussings terugleun en na die vallende reën anderkant die vensterruite kyk. Hy lag en gesels met tant Engela, maar hy behandel meisies soos vyande. En tog het hy ’n ander sy: die bedagsame Roland wat haar om verskoning kan vra en ’n lammertjie na haar toe bring om haar van haar vrees vir plaasdiere te genees. Net vir ’n klein rukkie kon sy glo dat hulle vriende kan wees en toe … Wie is Roland Stadler? Die man met die warm lag in sy oë, of die koue, stroewe man met die geletselde gelaat?
Oom Giepie storm die trap uit na sy woonstel waar tant Breggie, in ’n helder rooi reënjas met ’n erdebak in haar hande, rittelend van die koue voor die deur staan.
“Is jy onnosel, Breggie? Hoekom staan jy hier buite in die reën terwyl my deur nie gesluit is nie?” vra hy kwasterig, maak die deur oop en wag dat sy binnegaan, voordat hy haar volg en die deur toemaak.
“Ek ken my plek as oujongmeisie, Giepie,” sê tant Breggie met ’n preutse tuit van haar smal lippe. “In ons jeug was ons nou wel as ’t ware boesemvriende, maar na al die jare … My plek is my plek, Giepie.”
Boesemvriende! dink oom Giepie oorbluf, maar besluit om te swyg. Solank tant Breggie nie glo hulle was verloofdes nie, het hy seker geen rede om te kla nie.
“Wat is in die erdebak, Breggie?” vra hy met gedwonge belangstelling, trek sy reënjas uit en hang dit aan die kapstok.
“Pannekoek. Ek het hoeka gesien dit kom reën en toe dag ek by myself: ’n reëndag sonder pannekoek is soos Krismis sonder ’n kalkoen. En terwyl ek pannekoek bak, toe dink ek aan jou. Dis nou van my, Giepie: ek onthou altoos die minderbevoorregtes. Soos ’n ongetroude man. Watter ongetroude man sal vir homself pannekoek bak? Nie jy nie, Giepie,” sê tant Breggie en laat dit soos ’n verwyt klink.
“E … ja. Nie ek nie, Breggie. Dankie, in elk geval. Roland het my vertel jy wag hier voor my woonsteldeur. Die pannekoek is seker al koud?” vra oom Giepie byna hoopvol.
“Yskoud en taai, maar moenie jou daaroor kwel nie. Ek steek dit gou in die oond en maak vir jou ’n lekker koppie koffie,” antwoord sy, reeds op pad na die kombuis toe.
“Liewer nie!” sê oom Giepie hard.
Tant Breggie steek in haar spore vas en staar hom verwytend aan. “Wil jy vir my sê jy eet nie pannekoek nie, Giepie Taljaard?”
“O, ek eet graag pannekoek, maar nie dié tyd van die dag nie. Dis al ná vyf. Ek sal die pannekoek vir aandete hou. Baie, baie dankie, Breggie. Ek sal sorg dat jy môre die erdebak terugkry …
Tant Breggie gee die bak onwillig aan hom, kyk deur die venster en ril koulik. “Die reën val nou kwaai. ’n Mens sal nie kan sien waar jy loop nie.”
“Ja … ja, seker nie. Trek dan jou reënjas uit en sit ’n rukkie, Breggie. As die reën nie opklaar nie, sal ek jou met my motor huis toe neem.”
Sy glimlag stralend. “Jy is ’n alte dierbare man, Giepie,” prys sy terwyl sy haar reënjas uittrek en aan die kapstok ophang. “En nou kan jy net daar bly sit, terwyl ek vir ons ’n lekker koppie koffie gaan maak.”
Oom Giepie kreun innerlik, maar laat haar begaan. Hy voel na sy pyp in sy hempsak en swaai om toe die voordeur na ’n ligte klop oopgaan.
“Ek het vir jou pannekoek gebring, Giepie,” sê tant Engela en kom die woonstel binne.