Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk - Страница 8

5

Оглавление

Lelani sien die kamerdeur agter Roland toegaan en besef dat hy haar sal ignoreer selfs al sou sy om hulp roep. Sy huiwer net ’n oomblik, gooi dan haar kop agteroor en gil so hard as wat sy kan: “Oom Giepie! Oom Giepie, kom help! Help!”

Arno is nog besig om van skok na sy asem te snak, toe die kamerdeur oopbars en Roland hom met enkele tree bereik. Hy kry Arno met een hand voor die bors beet, ruk hom heen en weer en stamp hom teen ’n klerekas vas.

“Is jy mal, man? Los my!” protesteer Arno paniekerig en probeer uit Roland se greep wurm.

“Wat soek die man in jou kamer, Lelani?” knal Roland se woorde soos haelkorrels op ’n sinkdak.

“Hy het deur my kamervenster geklim,” verduidelik Lelani bedees en dwing haarself om nie ’n impulsiewe vreugdesdans in die middel van die vertrek uit te voer nie. Sy voel lighoofdig van blydskap omdat Roland haar te hulp gesnel het. Maar het sy werklik rede om bly te wees? Die man met die granietgesig speel nie die rol van ’n weldoener omdat hy vir haar omgee nie. Hy sou dieselfde vir enige ander meisie gedoen het, dink sy afgehaal.

“Jy het Lelani se kamer ongenooid binnegekom, Greyvenstein?” sê-vra Roland dreigend.

“Ek kan alles verduidelik!” wurg Arno die woorde uit. “Ek het Lelani lief en ek glo sy is lief vir my. Ek … eina!” krys hy toe Roland sy kop hard teen die klerekas stamp. “Verduiwels, man, is dit nodig om my aan te rand? Al wat ek vra, is die geleentheid om met Lelani te praat. Ek het my verlowing verbreek omdat ek besef ek sal nooit vir ’n ander meisie kan lief wees soos wat ek vir Lelani is nie. Is dit sonde om lief te hê?”

“Liefde!” Roland se lippe krul minagtend. “’n Man wat ’n meisie liefhet, dring homself nie op aan haar nie. Jy het veroorsaak dat Lelani deur jou ma afgedank is nadat jy haar in jou nagklere omhels het. Waar was jy toe sy ’n swaar bliktrommel moes huis toe sleep? Jy was vroeër vanmiddag hier en Lelani het jou laat verstaan ek en sy is verloof. Watter reg het jy om ná middernag by my verloofde se kamervenster in te klim en haar te dwing om dinge teen haar sin te doen?”

Arno kyk op in Roland se smeulende, donker oë en sluk droog. Hy vrees fisieke pyn. Hy sal vinnig moet praat, anders vermorsel die groot man hom. “Dis alles ’n misverstand. Ek het nie geweet … geglo dat Lelani werklik aan jou verloof is nie. Ek en sy het afgespreek om vanaand ’n entjie langs die strand … Blikskottel!” krys hy toe Lelani se een seilskoen teen die hangkas langs sy regteroor vasslaan en op die vloer val.

“Die volgende keer sal ek my teiken tref, jou ellendige leuenaar!” dreig Lelani met blitsende oë. “Smyt hom by die venster uit, Roland, anders doen ek dit.”

Roland blik oor sy skouer na die tenger geboude Lelani en voel ’n onbekende emosie in sy binneste oprank. Hy wil lag, besef hy. Hy wil lag oor die uitdagende astrantheid van ’n meisie wat, met ’n seilskoen as haar enigste wapen, kans sien om ’n fris geboude man soos Arno Greyvenstein by haar kamervenster uit te boender. Maar hy het agt jaar gelede opgehou lag, want meisies – alle meisies – is bedrieglik. Hy kan Arno Greyvenstein selfs ’n bietjie bejammer. Meisies het die gewoonte om ’n man uit te lok en dan, wanneer die situasie buite beheer is, om hulp te roep.

“Wat de duiwel is hier aan die gang?” bulder oom Giepie uit die oopstaande kamerdeur uit, nog besig om sy hemp toe te knoop. Agter hom loer tant Engela langs sy skouer verby, stamp hom uit die pad en kom die kamer binne.

“Jy het ’n inbreker gevang, Roland!” sê sy ingenome. “Toe, toe, Lelani, moenie net daar staan nie. Gaan bel die polisie.” Haar oë soek deur die vertrek na ’n wapen, kry niks nie en pluk Lelani se kopkussing van die bed af. “As hy roer, boetie, versmoor ek hom met die kussing,” dreig sy en gaan staan uitdagend langs Roland.

Arno kyk paniekerig na oom Giepie. “Asseblief, meneer Taljaard, ek kan alles verduidelik,” pleit hy.

Oom Giepie kom die kamer binne, stap na die venster en maak dit toe. Hy blik na Roland. “Los die vent. Staan in die deur en as hy dalk probeer wegkom, slaan jy hom katswink.” Hy wag totdat Roland hom gehoorsaam het en kyk na Arno wat sy klere regtrek en versigtig aan sy agterkop voel. “Praat vinnig, kêrel, en praat klaar.”

“En as jy jok, gooi ek jou met my seilskoen,” dreig Lelani weer.

Arno verwyt haar met sy oë, kyk sku na Roland en tant Engela en sê byna onhoorbaar: “Ek is lief vir Lelani, meneer Taljaard. Sy was in standerd nege toe ek in matriek was. Sy kan Meneer vertel: ek het haar male sonder tal gevra om saam met my uit te gaan, maar sy het altyd ’n verskoning gehad.”

“En dit was nie oorgenoeg bewys vir jou dat die dogter nie in jou belang stel nie?” vra oom Giepie streng.

“Nee. Daar was stories … Lelani het nooit saam met seuns uitgegaan nie. Die kinders het gesê haar stiefpa laat haar nie toe om seunsvriende te hê nie.”

“Jy het geglo sy sou saam met jou uitgegaan het as sy vry was om dit te doen?” vra oom Giepie saaklik.

“Ja, meneer Taljaard. Ons is nie na dieselfde universiteit toe nie, maar gedurende die vakansies het ek dikwels geprobeer om met Lelani te praat. Maar wanneer ek gebel het, was sy nooit beskikbaar nie. En as ek haar op die dorp raak geloop het …” Hy swyg betekenisvol.

“Was ek by haar, omdat ek haar altyd met my motor dorp toe geneem het om inkopies te doen. En vir jou, mannetjie, het ek nog nooit ooghare gehad nie. Ons weet almal van jou skatryk ma en ons is nog meer bewus van jou swak reputasie,” sê oom Giepie grimmig.

’n Donkerrooi blos van verleentheid vlam op Arno se gesig. “Die helfte van my reputasie het ek nie verdien nie. Mense skinder graag oor die rykes,” sê hy geraak.

“Juis. Daarom weet almal dat jy aan Estelle Havenga verloof is. Ryk of arm: ek verwag eerbaarheid van enige man. Glo jy jy het vannag eerbaar opgetree, kêrel?” vra oom Giepie streng.

Arno pers sy lippe hard saam. “Miskien nie, maar ek was desperaat. Ek het reeds op die dorp verneem dat Huis Winterrus nie Lelani se erfenis is nie. Toe my ma haar vanoggend afdank … Ek was so bang sy gaan weg voordat ek haar vertel het hoe ek oor haar voel. Ek het Estelle nie lief nie, meneer Taljaard. Ek het reeds die verlowing verbreek. En al sou my ma my onterf, het ek my B.Com.-graad. Ek glo ek sal genoeg kan verdien om Lelani te onderhou.”

Arno jok nie, besef Lelani verslae. Tot dusver was hy vir haar ’n blote irritasie. Aan die ander kant, terwyl haar stiefpa geleef het, het sy nooit in enige man belang gestel nie. Haar stiefpa en Huis Winterrus het al haar aandag en energie in beslag geneem.

“Ek weet dit was verkeerd van my om deur Lelani se kamervenster te klim, maar ek móés met haar praat. Ek voel skuldig omdat sy haar werk as gevolg van my verloor het en sou sy weggaan … Ek sal graag wil weet waarheen sy gaan,” vervolg Arno en kyk vir die eerste maal na Lelani. “Ek is jammer, Lelani. Maar nou weet jy waarom ek vannag hierheen gekom het.”

“Het jy die man lief, Lelani?” vra Roland, sy stemtoon afgemete.

Sy vraag tref Lelani soos ’n vuishou in haar maag en sy snak onwillekeurig na haar asem. Ellendige ou klipgesig! skel sy in haar gedagtes. Sy kan raai wat hy hoop: dat sy sal instem om met Arno te trou, sodat sy en oom Giepie nie na Huis Daeraad toe sal gaan nie. Maar sy sál saam met tant Engela gaan en sy sal haar bes doen om die lewe so onaangenaam moontlik vir Roland Stadler te maak, besluit sy en flits ’n uitdagende boodskap met haar oë aan hom.

“Moenie simpel wees nie, boetie,” sê tant Engela betigtend. “’n Meisie wat liefhet, roep nie om hulp nie.”

Lelani draai simpatiek na Arno. “Ek is seker Estelle sal dankbaar wees om haar verloofring terug te kry, Arno, want ek sien beslis nie kans om dit te dra nie.” Sy loop na tant Engela toe. “Daar is ’n gerieflike rusbank in tannie se kamer. Ek sal veiliger voel as ek vannag by tannie slaap.”

“Nou waarvoor wag ons, hartjie?” vra tant Engela gemoedelik. Sy slaan haar arm om Lelani se skouers en stap saam met haar uit in die gang.

“Kom, ou seun,” sê oom Giepie en knik met sy kop vir Arno. “Ek sal jou na die voordeur vergesel.”

Arno volg oom Giepie woordeloos en bly staan toe hy die voordeur oopsluit en oopstoot. “Asseblief, meneer Taljaard … As ek weet wat Lelani se planne is, kan ek in die toekoms –”

“Daar is geen toekoms vir jou saam met Lelani nie, knaap,” val oom Giepie hom ferm in die rede. “Ek het nooit veel re­spek vir jou gehad nie, maar ek glo jy is opreg in jou gevoel vir Lelani. Maar sy het jou nie lief nie. Moenie ’n oorlas van jouself maak nie.”

“Maar daardie man – Roland of Herklaas …”

“Roland. Wat van hom?”

“Is hy en Lelani verloof?”

Oom Giepie huiwer en dan kry sy humorsin die oorhand. “As ’t ware reeds getroud, ou seun. Goeienag,” sê hy en maak die voordeur toe.

In Lelani se kamer bly Roland met ’n gevoel van onvergenoegdheid staan en laat sy blik langsaam oor die beknopte vertrek dwaal: ’n enkelbed, ’n tafel, ’n stoel en ’n boekrak. Die geblomde gordyne is verbleik en die vloer sonder ’n mat – in skrille kontras met die luukse ameublement van die gaste­kamers. Watter soort mens was Werner Boonzaaier? wonder hy wrang. Die enigste tikkie skoonheid in Lelani se kloosteragtige kamertjie is ’n blompot vol goudgeel kappertjies …

Skielik kom dit by hom op dat Lelani reg het op die warm huislikheid van Huis Daeraad, want sy … Sy gedagtes bots teen ’n muur van gevoelloosheid. Lelani is net nog ’n meisie, ’n lid van die bedrieglike vrouegeslag. Geen vrou – maak nie saak hoe onskuldig sy lyk nie – kan vertrou word nie, dink hy, onbewus daarvan dat die vingers van sy linkerhand oor die letsel op sy wang streel.

Waarom kanker die gevoel dat hy oorbodig is in sy binneste? Lelani het hom vannag nodig gehad, maar dit was oom Giepie en tant Engela wat haar te hulp gesnel het. Hy kon wel ’n bietjie fisieke geweld gebruik om Arno teen die hangkas vas te pen, maar dit was ook al. Oom Giepie was onmiddellik in beheer van die situasie en tant Engela was daar om Lelani te troos. En hy … hy het soos ’n reisiger na nêrens gevoel; ’n verbyganger wat toevallig by ’n venster ingekyk en iets gesien het waarvan hy graag deel wou wees.

Hy is nie meer deel van die lewe nie, besef hy, want om te lewe, beteken om vrylik te gee. Maar hy het lankal verleer om te gee, want sy vertroue in sy medemens het finaal gesterf toe die lewe ’n letsel op sy gesig gelaat het.

Tant Engela blik met ’n goedkeurende glimlaggie na Lelani wat langs haar in haar motor sit en haar nek verdraai terwyl hulle deur die sakesentrum van Stadlerheim ry. “Dis ’n vooruitstrewende dorp, maar sit terug en ontspan, hartjie. Jy gaan ’n kramp in jou nek kry as jy alles op een slag wil sien.”

“Die Roosblaar-bloemistery, die Boekhoekie, ’n slaghuis … Lelani glimlag opgewonde. “Dis ’n hele nuwe wêreld, tant Engela. Ek gaan die dorpie plat loop en almal leer ken.”

“Jy sal omtrent jou stapskoene moet aantrek as jy al die pad van Huis Daeraad af dorp toe wil loop. Ons sal vir jou ’n rydingetjie moet aanskaf,” kom dit ingedagte van tant Engela. Sy blik weer sydelings na Lelani en vra: “Jy kan seker motor bestuur?”

“Ja, tannie, maar toe my pa te siek geword het om motor te bestuur, het hy sy motor verkoop. Dit was terwyl ek nog op universiteit was. Maar oom Giepie het altyd gehelp. Dis net …” Sy lek oor haar lippe en sê vinnig: “Ek kan nie nou ’n motor bekostig nie, tannie. Sodra ek weer voltyds werk, sal ek wel ’n plan maak.”

“Jy het nie daaraan gedink om van die meubels en porselein- en silwerware te verkoop nie?” vra tant Engela gelykmatig.

Lelani se oë rek geskok. “Nooit nie! Dis al wat ek het om my aan my ma te herinner. Toe ek universiteit toe is, wou my pa …” Sy breek haar sin af en sluit haar lippe ferm opmekaar.

“Ek is verbaas dat jou pa nooit van die antieke meubels ontslae geraak het nie.”

“Hy wou,” erken Lelani onwillig. “Veral nadat ek mondig geword het, want toe was ek vry om enigiets wat ek geërf het, van die hand te sit. My pa het gesê dat as ek alles verkoop, hy die geld in aandele sou kon belê, maar ek het geweier. Gelukkig het oom Giepie my gehelp. Ek weet nie wat hy vir my pa gesê het nie, maar hy het my daarna met rus gelaat.”

“Jy was gelukkig om ’n knap advokaat as ’n beskermengel te hê, ou kintatjie,” sê tant Engela met ’n droë laggie.

Lelani staar haar verras aan. “’n Advokaat? Was oom Giepie ’n advokaat?”

Tant Engela lyk op haar beurt verbaas. “Hy het jou nooit vertel nie?”

“Nee … Ek weet hy het in Johannesburg gewerk, maar dis ook al. Oom Giepie praat selde indien ooit oor sy verlede. Soms kry ek die indruk dat hy sy verlede wil vergeet omdat hy nie baie gelukkige herinneringe het nie.”

“Eensaamheid maak ’n mens altyd ongelukkig, maak nie saak hoe suksesvol ’n mens is nie. En rykdom help ook nie. Ek weet, want as ek nie vir Roland gehad het nie …” sê tant Engela mymerend en ry deur gietysterhekke ’n silwereikomsoomde rylaan binne. Sy glimlag met Lelani. “Welkom tuis, Lelani.”

Lelani skuif na die voorpunt van haar sitplek en kyk gretig deur die flitsende boomstamme na die golwende, groen grasperk. Sy merk meer as een visvywer, wit geverfde tuinbankies en struike wat blom. Die rylaan eindig in ’n geplaveide parkeerterrein en Huis Daeraad troon in al sy glorie drie verdiepings hoog teen die leiblou hemelruim.

“Dis sprokiesagtig mooi,” fluister Lelani. “’n Huis van blou graniet met vensters in die teëldak. En die klimop teen die mure laat dit lyk asof die huis ’n groen mantel dra.”

“Ek is bly jy dink so,” sê tant Engela en bring haar motor tot stilstand. “Daar is mense wat glo rankplante is net ’n broeiplek vir insekte, maar wanneer ek ’n venster oopmaak en daar loer ’n groen takkie na binne, voel dit altyd vir my asof ek ’n vriendelike besoeker kry.”

“Tannie het reeds ’n ander besoeker,” sê Lelani terwyl sy uit die motor klim.

Tant Engela skuif vinnig agter die stuurwiel uit, klap die motor­deur onnodig hard agter haar toe en gluur onstuimig na tant Breggie Stapelberg wat, met ’n mandjie in haar hand, hulle op die voorstoep inwag. Stuitige ou vrou met haar yl, rooi gekleurde hare en oormaat grimering, dink tant Engela en laat haar blik krities oor haar besoeker dwaal. En kyk net waar sit die vroumens se rok! Sy het sulke krom, maer bene, maar dit skeel Breggie Stapelberg min – net so min as wat dit haar skeel dat haar onderrok gewoonlik uithang.

“Haai! Haai!” groet tant Breggie skril en wuif met haar benerige regterhand. “Waar kuier jy so lank sonder om jou beste vriendin te waarsku, Engela van Jaarsveld? ’n Nuwe rok, nè? Maria vertel my jy is vyf dae gelede hier weg sonder ’n draad klere – behalwe die kleertjies wat jy aangehad het. Jou rok is te lank, Engela. Jy moet dat ek vir jou ’n soom insit. ’n Vrou met jou bene behoort –”

“Breggie, byt jou bolip vas!” snou tant Engela en stap vinnig nader. “As jy so graag oor rokke wil praat, vertel my dan: waar is die res van jou rok?”

Tant Breggie se gesig vertrek asof sy pyn verduur. “Jy is nou beledigend, Engela,” verwyt sy. “’n Vrou met my postuur …” Sy bly stil toe haar blik op die glimlaggende Lelani val. “Ek is tant Huibrecht Stapelberg, liefie. En wie is jy?” vra sy nuuskierig en steek haar hand na Lelani uit.

“Huibrecht – ga!” snuif tant Engela neerhalend. “Sy is Breggie Bek, die grootste skindertong in die kontrei. Wees gewaarsku, Lelani: moenie eens dink met haar in die nabyheid nie, want sy is kapabel en luister jou gedagtes af.”

“Goed, Tannie, ek sal nie dink nie,” antwoord Lelani geamuseerd en skud tant Breggie se hand. “Lelani Wessels. Bly te kenne, Tannie.”

“My plesier, Lelani,” sê tant Breggie en rek haar dun nek lank uit om Lelani se linkerhand beter te beskou. “G’n verloofring nie. Maar noudat jy hier is, sal jy seker binnekort Roland se ring dra, nè, liefie?”

“Jy soek na ’n klap, Breggie,” dreig tant Engela en pluk die mandjie uit tant Breggie se hand uit.

“Los, Engela, los! Ag, siesa, mens, ek het net ’n halfdosyn eier­tjies by Maria kom leen. Met jou henne wat so gereeld lê … e … e …” Tant Breggie word stil toe tant Engela die rooi-en-wit geruite vadoek van die mandjie afpluk.

“Eiers, botter, kaas, vleis, ’n halwe melktert …” noem tant Engela die inhoud van die mandjie op. Sy stoot haar ken uit en gluur tant Breggie toornig aan. “Skelmagtige ou siel! Jy het natuurlik weer vir Maria gevra om vir jou tee te maak en toe my yskas leeg gesteel. Maar dis die laaste maal, Breggie Stapelberg: vannag slaap jy agter tralies!”

“Agge, siesa, Engela,” verwyt tant Breggie bewoë. “Was ek en jy nie saam op die skoolbanke nie? Is ons nie in dieselfde kerk gedoop nie? Het ons nie saam-saam oujongnooiens geword omdat ek te kieskeurig en jy te sleg was om ’n man te kry nie?”

Tant Engela se asem fluit hortend in haar keel terwyl haar hand wat die mandjie vashou, met ’n swaaibeweging in die rigting van tant Breggie se kop beweeg.

“Hier is oom Giepie nou, tannie! En Roland!” roep Lelani onnodig hard uit en hang letterlik aan tant Engela se arm.

Die twee motors hou agter mekaar stil en Roland klim eerste uit. Hy gewaar tant Breggie en ’n glimlag verhelder sy stroewe gelaat. “Tant Breggie! Probeer tannie my verlei met daardie rooi-en-pers rok? En die blou strik in tannie se hare … My liewe tantetjie, tannie word jonger by die dag,” skerts hy. Hy draai na tant Engela wat tant Breggie nog onverpoos aangluur. “Dink tannie nie ook so nie?” tart hy.

“Ja, boet, ja. Ek hoop net sy word baie vinnig jonger, want sodra sy weer ’n baba is, versuip ek haar in ’n watervoor,” antwoord tant Engela wraaklustig.

“Dat jy nog Sondae kerk toe …” begin tant Breggie en versluk haar aan haar eie woorde toe oom Giepie uit sy motor klim en nader stap. “Haai,” sê sy, haar stem yl, haar oë rond van bewonderig op oom Giepie. “Haai, reken …”

“Oom Giepie, dis my gunstelingtante, tant Breggie Stapelberg. Meneer Giepie Taljaard, tant Breggie,” stel Roland hulle aan mekaar bekend.

“Bly te kenne,” sê oom Giepie, sy oë effens geskreef asof hy probeer onthou.

“Wie se meneer?” vra tant Breggie en glimlag breed. “Ek ken jou mos, Giepie Taljaard. Jy is die man wat Engeland toe gevlug het om van ou Engela af weg te kom.”

“Krismiskat!” krys tant Engela en prop die mandjie in die oorblufte tant Breggie se arms. “Vat jou gesteelde goedere, Breggie Stapelberg, en trap van my grond af voordat ek ’n moord pleeg. Nee, maak toe jou mond, vrou, of jy gaan slaap vanaand sonder voortande.”

“Ek dink jy verwar my met iemand anders, Breggie,” sê oom Giepie vinnig, bewus van die onnatuurlike bleekheid van tant Engela se gelaat.

“Nie ekke nie,” kom dit selfversekerd van tant Breggie terwyl sy in ’n wye halfmaan om tant Engela beweeg. “Ek het ’n goeie oog vir ’n man, Giepie. My brein werk soos ’n kamera. Ek kyk net een maal na ’n man en ek vergeet hom nooit weer nie.”

“Kom neem dan foto’s van my, tant Breggie,” sê Roland taktvol en stap saam met tant Breggie weg in die rigting van die rylaan.

Lelani kyk in stilte na tant Engela en oom Giepie. Sy merk die besorgdheid in sy blik en sy haak by tant Engela in. “Ek kan nie wag om die huis te sien nie, tannie,” sê sy gretig.

Dit lyk asof tant Engela terugkeer van ’n ver plek af, want sy glimlag met haar lippe lank voordat die glimlag haar oë bereik. “Kom dan, my kind. Ek het Maria aangesê om die ligroos slaapkamer langs myne vir jou gereed te maak. In Huis Daeraad sal jy nooit in ’n pakkamertjie gedruk word nie.”

Oom Giepie skraap sy keel. “Sal ek solank omstap na my woonstel toe, Engela?” vra hy gelykmatig.

“Maak so, Giepie,” antwoord sy, maar hou haar gesig afgewend.

Asof afgespreek, bly hulle voor die deur staan totdat oom Giepie se voetstappe wegsterf.

“Wat het tant Breggie …?” begin Lelani nuuskierig.

“Breggie Bek is ’n skinderbek,” sê tant Engela met finaliteit en stoot die voordeur oop.

Tant Breggie blik verwytend na Roland wat langs haar loop en haar mandjie dra. “Dis so ’n ver ompad na my ou huisie toe, so al met die rylaan langs, Roland. Ek het hoeka ’n gat in die ringmuur …” Sy stik, hoes skuldig en vra vinnig: “Het jy en die swartkoppie trouplanne, liefie?”

“Kom ons gaan ’n ooreenkoms aan, tant Breggie: ek hou my blind vir die gat in die ringmuur, en tannie hou tannie se neus uit my privaat sake,” sê hy, sy gesigsuitdrukking ernstig, maar sy stemtoon gemoedelik.

“Dis my neus,” sê tant Breggie verskonend en vat aan haar lang, spits neus. “My oorle ma het altoos gesê dat met ’n neus soos myne, ek gebore is om ’n skinderbek te wees. Maar jy moet mooi verstaan, Roland: ek skinder nie oor die mense vir wie ek lief is nie. Ek dra net hulle belange op my ou hart.”

“As tannie my belange op die hart dra, sal tannie nie allerlei belaglike afleidings maak nie. Lelani is die dogter van een van tant Engela se ou skoolvriendinne, ene Amanda Scheepers, wat toe met Herman Wessels getroud is.”

Tant Breggie steek in haar spore vas, haar oë koeëlrond. “Nou wil jy nou meer …! Oorle Amanda het ook saam met my op die skoolbanke gesit – net vir een jaar, want daar was elf van ons klein Stapelbergies en tussen die doeke en die kospotte deur kon ek nie byhou nie. Toe ek sestien was, het ek maar die skoolganery gelos en die kleintjies voltyds opgepas.”

“Tannie het my al vertel. Maar daar is iets anders wat ek graag wil weet,” erken hy onwillig.

“Jy wil skinder, Roland?” vra tant Breggie met ’n ingenome glimlaggie.

Hy frons en glimlag onwillig. “Miskien. Tannie het gesê tannie ken oom Giepie Taljaard. Is dit die waarheid?”

Tant Breggie druk haar hand op haar hart en staar plegtig hemelwaarts. “Sowaar as wat ek hier staan, liefie. Ek kan verstaan dat Giepie my nie onthou nie, maar ek is ’n vrou en wanneer ek ’n man sien, dan kyk ek behoorlik. Hy is een en dieselfde Giepie wat veertig jaar gelede met Engela wou trou … of dalk wou sy met hom trou. Jy ken Engela: wanneer sy haar mond toemaak asof sy iets afbyt, kry niemand haar weer aan die praat nie.”

“Tannie het gesê oom Giepie is destyds Engeland toe?” por hy.

“Net so. Sien, jou stiefouma was tot sterwens toe siek en Engela het haar versorg. Giepie het knaend kom kuier; hy het selfs saam met Engela kerk toe gegaan – jy weet wat dít beteken – en toe, eendag, toe daag hy net nie weer op nie. Later moes ons hoor hy is weg Engeland toe om verder te gaan leer. Maar of dit waar was en of hy van Engela af wou wegkom, sal net Giepie weet. Ek beplan om hom daaroor uit te vra wanneer ek die kans kry, want Engela praat nie.”

“Ja … ja, tant Engela praat nie,” beaam hy en luister net met ’n halwe oor terwyl tant Breggie hom oor die jongste gebeurtenisse op die dorp inlig.

“Maar sal jy luister wanneer ek praat!” skree tant Breggie en pomp hom onverwags met haar skerp elmboog in die sy.

“Eina!” Hy kyk haar onthuts aan. “Was dit nou nodig, tant Breggie? As oom Naas sy vrou wil slaan en sy geld wil uitdrink –”

“Wys jou net,” val sy hom vies in die rede, “jy het nie ’n enkele woord gehoor wat ek gesê het nie. Ek is lankal by ou Naas verby. Ek was besig om oor Yvette Boonzaaier te praat.”

’n Masker van apatie sak oor Roland se gelaat. “Tannie wou sê?”

“Ek wou nie; ek het al. Yvette het te vertel dat sy ’n pragtige strandhuis van haar oorle pa geërf het. Sy meen julle tweetjies sal dit gerieflik kan gebruik wanneer julle eers getroud is.” Tant Breggie swyg om te sien watter reaksie haar woorde gaan uitlok en vervolg met ’n diep sug: “Ek het vir die meisiemens gesê sy mors haar tyd, maar jy ken haar tog: sy klou soos ’n bulterriër wanneer sy eers haar byt gekry het. Nie dat ek haar verkwalik nie – die arme mens is lief vir jou.”

“Yvette is lief vir my?” vra hy met ’n spottende ondertoon in sy stem.

Sy kyk hom geraak aan. “Moenie lag oor dinge wat seermaak nie, Roland. Jy weet self: my ou huisie staan as ’t ware in die skadu van julle ringmuur. Daar gebeur niks in Huis Daeraad waarvan ek nie weet nie.”

“Yvette woon nie in Huis Daeraad nie, tannie.”

“Nee, maar sy boer by julle, vandat sy fiets kon ry. En later was dit motor. Hoeveel pare skoene sy al agter jou aan deurgeloop het, weet joos alleen. Sy is mooi en ryk. Hoeveel maal het ek nie al vir haar gesê sy mors haar tyd nie, maar Yvette luister nie. Sy is nie daardie ander merrie nie, Roland. Yvette het jou lief. Hoe lank gaan jy haar nog laat wag?” vra tant Breggie pleitend.

Roland glimlag. “Hier is tannie se mandjie. Sit volgende keer ’n rooi lint in tannie se hare. Dit sal beter by die rok pas. Tot siens, tannie,” groet hy en loop met lang treë terug na die woning.

“Ja, tatta, Roland!” roep tant Breggie hom agterna. Sy gee ’n sprongetjie van ergernis, maak seker dat die eiers nie iets oorgekom het nie en stap mompelend met die sypaadjie langs na haar skewe tuinhekkie toe. “Kliphard … klipsteenhard. Lag en gesels en maak of hy net soos ons almal is, maar dis pure boereverneukery. Hy is anders. Daardie merrie het hom anders gemaak. En die arme Yvette … Ek sal haar dadelik gaan bel sodat sy weet Roland is terug.”

Lelani sien hoe oom Giepie ’n hek van ’n draadomheinde kampie oopmaak, dit versigtig weer agter hom toemaak en dan in ’n voetpaadjie wegstap. Haar lippe vorm reeds sy naam, maar dan besluit sy om hom liewer te volg as om hom terug te roep.

Sy het nie voor vandag besef dat oom Giepie ’n man van geheime is nie. Eers het tant Engela haar vertel dat hy ’n advokaat was en daarna het tant Breggie hom herken as dieselfde man wat tant Engela in hulle jeug in die steek gelaat het. Sy het gebrand om tant Engela uit te vra, maar sy ken oom Giepie beter. Oom Giepie sal haar die waarheid oor sy en tant Engela se verlede vertel.

Sy loop ’n wye draai om die perdestalle en bly ’n ruk lank langs die hoenderhok staan om haar aan ’n hen met ’n dosyn goudgeel kuikentjies te verkyk. Huis Daeraad is wel op Stadlerheim, maar sodra ’n mens in die agterplaas kom, kan jy jou maklik verbeel jy kuier op ’n plaas, dink sy en slenter tydsaam na die hek van die kampie.

Sy steek haar hand uit om die hek oop te maak, maar merk ’n soortgelyke hek effens regs van haar. Deur watter hek het oom Giepie gestap? wonder sy. Seker deur die tweede hek aan die regterkant, besluit sy, loop nader en stap die kampie binne. Sy maak die hek sorgvuldig toe, draai om en versteen toe iets warm en sag in haar nek proes.

“Oom Giepie, is oom laf?” vra sy vies, swaai om en kyk vas in die groot neusgate van ’n perd. “N-nee,” stotter sy, wil haar hand uitsteek om die perd weg te stoot, maar is nie in staat om te beweeg nie. Die perd proes weer, buig sy kop laag af en snuif aan haar regterhand.

Dis die einde, dink sy en knyp haar oë styf toe. Sy het nog nooit gehoor van perde wat mense lewendig verslind nie, maar hierdie perd is beslis ’n uitsondering. Eers het die perd haar beruik en nou gaan hy haar opvreet – en hy gaan met een van haar hande begin.

“Het jy onthou om vir ou Poena ’n lekker appel of ’n paar suikerklontjies saam te bring, Lelani?” hoor sy Roland vra uit die ver veiligheid van die land van die lewendes.

“Is-is jy s-simpel?” stamel sy deur ’n stokstywe kakebeen, te bang om haar oë oop te maak. “Wanneer hy my k-klaar opgevreet het, kan-kan jy vir hom nagereg aandra.”

Roland se skaterende lag is so hard en onverwags dat Poena omvlieg en enkele treë wegdraf, terwyl Lelani se oë oopvlieg en sy hom verstar aanstaar.

Witwarm woede ontplof agter Lelani se oë terwyl sy na die laggende Roland kyk. Hier staan sy letterlik in die kake van die dood, en al wat hy kan doen, is om haar uit te lag. Sy sien Poena nuuskierig nader kom, weet dat haar tydjie kort word, maar haar woede maak haar dapper.

“Jy is ’n monster, Roland Stadler!” tier sy. “Jy lok onskuldige meisies in ’n kamp en staan en lag terwyl hulle voor jou oë opgevreet word. Maar as jy dink ek gaan jou om hulp vra …” Sy bly stil toe Poena sy kop laat sak en weer in haar nek snuif. “Help! Voertsek, perd, voertsek! Roland, hélp my!” krys sy angsbevange.

Roland pers sy lippe opmekaar, maar sy skouers ruk van die lag toe hy die hek oopmaak en met sy hand uitgestrek na haar aangestap kom. “Hier, jou arme, bang kind. Vat ’n paar suikerklontjies en voer ou Poena.”

“Is jy mal?” vra sy, haar skouers hoog opgetrek, asof sy wil verhoed dat die perd haar nek afbyt. “As ek nou beweeg, byt hy my.”

“Poena is ’n perd, nie ’n hond nie,” sê hy paaiend, vir die eerste maal bewus van die omvang van haar vrees. “Kom na my toe, Lelani. Poena sal niks aan jou doen nie.”

Lelani trek haar asem diep in, kyk om en stamp haar wang teen Poena se bek. Haar kreun is ’n gesmoorde snikkie en dan sak sy weg in ’n welkome duisternis voordat haar liggaam die grond tref.

Schalkie van Wyk Keur 13

Подняться наверх