Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk - Страница 9
6
ОглавлениеRoland se liggaam versteen van skok toe Lelani voor sy oë inmekaarsak en roerloos bly lê, haar gesig die kleur van ’n rypwit grasland in die winter. Hy het haar uitgelag en nou … Sy kan tog nie dood wees nie. Sy kan nie! skree die vrees in hom.
Dis nie net vrees wat hom besorg maak nie, besef hy. Hy staar byna gehipnotiseerd na die volmaakte skoonheid van haar gelaatstrekke, omraam deur haar digte, swart hare. Haar lang, digte wimpers verf donker skadu’s op haar wange, en vorm ’n skrille kontras met die byna deursigtige witheid van haar vel. Maar dis die weerlose pyntrekkie om haar sagte lippe wat die koue muur van afsydigheid in sy binneste laat verkrummel.
“Lelani.” Hy herken nouliks die skor klank van sy eie stem terwyl hy met rukkerige, gedwonge bewegings na haar toe loop en langs haar kniel. Sy regterhand beweeg met ’n eie wil en vee ’n sagte haarkrul van haar voorkop af weg. “Ek is jammer, meisie. Ek het nie besef jou vrees is eg nie.”
Langs hom beweeg Poena nader en snuif in sy nek, maar hy maak ’n ongeduldige handgebaar en die perd skrik en draf ’n entjie weg.
Wat doen hy nou? wonder hy verward. Hy kan nie Lelani alleen saam met Poena in die perdekamp laat nie, want kom sy by … Dalk ly sy aan ’n swak hart; dalk kan ’n tweede skok fataal wees. Onsin! Sy is jonk en sterk; sy was ’n hospitaalsuster. Nogtans … sy lyk so fyn en breekbaar, so volkome hulpeloos.
Hy huiwer net ’n oomblik en tel haar dan in sy arms op. Sy is ligter as wat hy verwag het, dink hy en kom orent. Hy dink skielik daaraan dat tant Engela gedurende hulle verblyf in Huis Winterrus gereeld gekla het dat Lelani te min eet en slaap en veels te hard werk. Maar toe het hy hom nie aan tant Engela gesteur of hom oor Lelani gekwel nie. Inteendeel, hy het meer as een maal gehoop sy word siek, sodat sy nie saam met hulle na Huis Daeraad sou kon kom nie, onthou hy skuldig.
“Verduiwels, vent, wat vang jy met die dogter aan?” roep oom Giepie uitasem uit en kom nader gedraf.
“Saggies, oom!” sê hy berispend. “Sy slaap … e … ek bedoel, sy is flou,” verduidelik hy beteuterd.
“Nou doen dan iets, kêrel! Jý is verantwoordelik vir haar toestand,” snou oom Giepie, stap by die een hek uit en maak die hek van die perdekamp oop.
“Ek het nie besef Lelani is so bang vir perde nie,” sê Roland skuldig terwyl hy deur die hek stap.
“Jy lieg, knaap!” snerp oom Giepie. “Selfs waar ek was, kon ek sien die arme kind is so wit soos ’n laken. Maar wat doen jy toe? Jy lag jou ’n ertjie!” Hy klap die hek agter hulle toe en gluur Roland met blitsende oë aan. “Jy is ’n gevoellose bullebak en ’n gewetenlose skurk, Stadler. Ek weet nie watter vrou jou siel vernietig het nie, maar wat ook al jou verskoning is: Lelani verdien nie jou wraak nie.”
Hulle gluur mekaar aan, maar dis Roland wat eerste sy blik laat sak. “Dit was nie my bedoeling om my op Lelani te wreek nie.”
“So sê jy, maar ek het vyf dae van jou onaangename geselskap verduur. Ek is nie blind nie; ek is bewus van jou buffelagtige gedrag teenoor die dogter. En ek weet waarom jy so optree: jy het gehoop jy sal Lelani laat afsien van haar voorneme om na Huis Daeraad te kom. Jy was suksesvol, want gisteraand het die kind by my gepleit dat ons elders ’n heenkome moet probeer vind. Maar ek het geweier, want ek is hier ter wille van Engela.”
“Dan het tant Breggie –” begin Roland, maar oom Giepie laat hom nie toe om sy sin te voltooi nie.
“Jy is nie my vertroue werd nie, vent. Dra die dogter terug huis toe. Engela sal weet wat om te doen.”
Gevoelloos … gewetenloos … buffelagtig … Die woorde herhaal hulleself in Roland se gedagtes met elke tree wat hy gee. Is dít hoe Lelani hom ook sien? Sonder twyfel, erken hy teenoor homself. Want dis die soort man wat hy wou wees nadat Adéle Erasmus … Hy knyp sy oë styf toe, asof hy daardeur die verlede wil uitwis, maar hy slaag nie daarin nie.
Hy het ’n ringmuur van blou graniet om sy siel gebou en van homself ’n gevangene gemaak. Maar hy was nooit alleen nie, want Adéle en die verlede was sy metgeselle.
’n Sagte suggie ontsnap aan Lelani se lippe en ruk hom terug tot die hede. Haar wimpers fladder oop en hy kyk af in die swartgrys dieptes van haar oë. Dan voel hy haar liggaam in sy arms verstyf, voel hoe sy hom krampagtig vasgryp.
“Die perd …?” adem sy en spartel in sy arms.
“Is veilig in sy kamp. Ontspan, Lelani. Jy het ’n groot skok opgedoen. Tant Engela sal weet wat om te doen,” sê hy paaiend en stap die kombuis binne.
“Nee, sit my neer! Ek vertrou jou nie. Los my, Roland!” krys sy, haar oë wildstarend van vrees.
“Voel jy sterk genoeg om sonder my hulp …?” begin hy en swyg toe tant Engela die kombuis uit die gang binnekom.
“Ag, liewentjies, boet, wat het Lelani oorgekom?” vra tant Engela onsteld.
“Sy het vir ou Poena geskrik, tannie. Sy het flou geword en ek het haar huis toe gedra. Sal ek haar na haar slaapkamer toe neem?”
“Ek kan loop. Sit my neer,” protesteer Lelani halfhartig, bewus van ’n verblindende hoofpyn wat agter haar oë pols.
“Maak soos die dogter sê, Roland,” beveel tant Engela, besorg oor die strak bleekheid van Lelani se gelaat.
Roland gehoorsaam, maar Lelani se bene vou onder haar in en hy gryp haar net betyds. Hy lig haar gemaklik in sy arms op. “Jy het nie ’n keuse nie, Lelani: ek dra jou na jou kamer toe. Daarna sal ek uit jou pad bly,” sê hy saaklik en stap die gang vinnig binne.
Haar kop is te seer om rusie te maak, dink Lelani en sluit haar oë. Vreemd, sy kan nie onthou dat sy al ooit tevore flou geword het nie. Maar sedert haar stiefpa dood is … Dit het vir haar gevoel asof sy saam met hom gesterf het. Huis Winterrus en al die dinge wat soveel jare lank die patroon van haar lewe gevorm het, is deur sy dood uitgewis. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.
Hoe ironies dat sy nou in Huis Daeraad woon, dink sy wrang. Dit maak nie saak hoeveel nuwe dae in die ooste breek nie, want hier diep in haar het die son van haar jeug vir altyd ondergegaan. Oom Barend, tant Charity en tant Patience – hulle was deel van die son van haar jeug. Nou is sy soos ’n warrelende blaar wat deur ’n swart wind van onsekerheid meegesleur word na ’n plek waar sy nie welkom is nie; sy is teen haar sin deel van die duisternis waarin Roland Stadler wandel.
“Lê haar hier neer, Roland,” sê tant Engela en die warmte in haar stem is soos die sagte gloed van ’n sterwende kaggelvuur.
Lelani maak haar oë oop en strek haar hand uit na tant Engela, asof sy hoop dat sy haar sal help om die koudheid in haar binneste te verdryf.
Roland lê haar op die bed neer, talm ’n oomblik lank gebukkend oor haar en kom dan orent. “As tannie iets nodig het …”
“Niks op die oomblik nie, boet. Jy kan maar gaan,” antwoord tant Engela en neem Lelani se hand in albei hare.
Lelani hoor die kamerdeur agter Roland toegaan en vra verwytend: “Hoekom moet ek hier bly, tannie? Roland haat my. Ek en oom Giepie sal maklik elders verblyf kan kry.”
Tant Engela sak met ’n suggie op die kant van die bed neer. “Ek besef dit, hartjie. Glo my, daar is meer as een rede waarom jy hier moet bly, maar ek kan nie nou alles verduidelik nie. Op die oomblik het ek net een selfsugtige rede, Lelani: bly hier ter wille van my.”
Tant Breggie het gesê daar was veertig jaar gelede ’n verhouding tussen oom Giepie en tant Engela, onthou Lelani. Sy kyk krities na tant Engela. Sy weet tant Engela is drie-en-sestig, maar haar vel is vlekloos met weinig plooie. Haar gelaatstrekke is fyn en in haar groot, grysblou oë leef die lente van ’n immerjeug. Haar hare is nou silwer, maar in haar jeug moes sy ’n beeldskone, blonde meisie gewees het. Oom Giepie het haar liefgehad en oom Giepie is nooit getroud nie. Is dit moontlik dat ’n man nooit sy jeugliefde kan vergeet nie?
“Is tannie bly oom Giepie is terug in tannie se lewe?” vra sy reguit.
’n Blos wat van die jeug geleen is, sprei met rosige vingers oor tant Engela se gelaat. “Ja, Lelani, ek is bly,” antwoord sy met eerlike eenvoud. “Maar ons gaan nie nou oor my en Giepie praat nie. Jy het nie vanoggend ontbyt gehad nie. Ek gaan vir jou iets te ete bring en jy gaan intussen jou nagklere aantrek en in die bed klim. Jy weet dit dalk nie, maar jy is koorsig en daar is donker kringe onder jou oë. Jy het rus nodig en ek gaan sorg dat jy dit kry.”
“Goed, tannie,” antwoord Lelani lomerig, haar oë reeds toe. Sy sluimer in voordat tant Engela die kamerdeur agter haar toemaak.
Tant Melinda Kleynhans spring ontsteld op uit haar stoel toe Yvette met arms vol pakkies die sitkamer binnekom en die pakkies op ’n rusbank laat val.
“Wat ’n fees!” sê Yvette stralend. “Ek het die winkels in Port Elizabeth leeg gekoop!”
“Yvette, nee!” kom dit handewringend van tant Melinda. “Jou laaste oorsese vakansie het my elke sent gekos wat ek besit het. Ek durf nie jou oom Nathan vra om my meer geld te gee nie – nie voor ná die volgende oes nie.”
Yvette staar die skraal, klein tant Melinda met ergerlike misnoeë aan. Dat so ’n bang, bedeesde mensie ’n naam soos Melinda kan hê, is iets wat haar beurtelings irriteer en amuseer. Sy het jare gelede reeds tant Melinda die bynaam “tannie Muis” gegee, want vroeër jare het sy met haar muisvaal hare, klein, bruin ogies en spits gesiggie soos ’n muis gelyk. En sy tree nog al die jare soos een op: bang en sku, veral wanneer oom Nathan ter sprake kom. Die ouderdom het met genadige vingers tant Melinda se muisvaal hare silwergrys geverf, maar dit het beslis niks aan haar geaardheid verander nie, dink Yvette sinies.
“My liewe tantetjie, oom Nathan kon tannie nog nooit iets weier nie. Het tannie se erfenis hom nie gehelp om ’n skatryk man te word nie? Hy was nog altyd vrygewig teenoor my. Waarom sal hy nou skielik weier om my klererekenings te betaal?”
Tant Melinda klem haar hande styf voor haar bors vas en slaan haar blik neer. Hoe dankbaar was sy nie toe sy na haar suster se dood die klein Yvette in haar huis kon neem en soos haar eie kind grootmaak nie. Yvette was so ’n intelligente, liefdevolle kind. Sy kon droom oor die dag wanneer Yvette sou groot wees, met ’n goeie man sou trou en van haar ’n ouma sou maak. Die opstal op Goedgevonden sou nooit weer leeg wees nie.
Maar drome en realiteit is dikwels teenstellings, dink sy ontnugter. Yvette het grootgeword, maar van die liefdevolle kind het daar niks oorgebly nie. Yvette is ’n bedorwe meisie, veeleisend en volkome gevoelloos vir ander se probleme. Yvette het haar al die jare net gebruik, besef sy en haar pyn is so intens dat sy dit soos ’n tweede hart in haar bors kan voel klop.
“Ek moes lankal gepraat het, Yvette, maar ek kry jou so maklik jammer en …” Tant Melinda lek oor haar droë lippe en kyk Yvette vir die eerste maal weer in die oë. “Ek is ’n lafaard, my kind, daarom ignoreer ek alles wat onaangenaam is en hoop dat dit sal weggaan.”
Yvette frons ongeduldig. “Wat probeer tannie sê? Dat oom Nathan oornag bankrot gespeel het?”
“Natuurlik nie, maar …”
“Nou waarom oor ’n paar rand karring?” vra Yvette skouerophalend. “As tannie nie my klererekenings kan betaal nie, gee dit vir oom Nathan. Hy is gewoond daaraan om rekenings te betaal.”
“Nie jou rekenings nie,” sê tant Melinda met ’n nuwe ondertoon in haar stem. Sy kan nie weer weghardloop nie, besef sy. Yvette se spandabelrigheid het haar in ’n hoek gedryf en nou sal sy vir die eerste maal moet terugveg. Sy vrees hierdie dag al soveel jare, maar noudat dit hier is, kan haar vrees haar nie meer raak nie.
“Wat bedoel tannie? Tannie en oom Nathan het my grootgemaak, my nog altyd alles gegee wat my hart begeer het. Maar dis vanselfsprekend, want ek is julle enigste erfgenaam.”
“Nee, Yvette, niks in die lewe is vanselfsprekend nie. Jy ken jou oom Nathan: het jy al ooit die gevoel gekry dat hy vir jou omgee?”
Yvette frons. “Wel, nee, maar hy is nie ’n demonstratiewe mens nie. Hy kan nie wys dat hy my liefhet nie, maar al my motors, my oorsese vakansies –”
“Is deur my betaal,” val tant Melinda haar met ’n koudheid wat vreemd is aan haar aard, in die rede.
“Ek weet, maar dit was met oom Nathan se geld, nie waar nie?” vra Yvette met ’n gevoel van onrus in haar binneste.
“Nee, kind. Net soos jou wyle moeder het ek ryk geërf. Aanvanklik het ek Nathan gehelp om sy boerdery uit te brei, maar hy is ’n eerbare man, daarom het hy my elke sent weer teruggegee. Toe jou ma sterf… Nathan het nie in my susterskind belang gestel nie, want jy was ’n dogter. Nogtans het hy ingestem om jou ’n tuiste te gee, maar daar was ’n voorwaarde aan verbonde: ek sou na jou finansiële behoeftes omsien.”
Yvette sluk, haar mond ineens droog. Sy het nog nooit van die nors Nathan Kleynhans gehou nie, maar sy het mettertyd besluit dat hy ’n stil, afgetrokke man is wat nie met jongmense kan kommunikeer nie. Maar haar oordeel was verkeerd: Nathan Kleynhans het haar net ter wille van tant Melinda in sy huis verdra.
“Toe jy mondig geword het, het jy ’n klein fortuintjie van jou eie ouers geërf. Ek het jou destyds versoek om die geld wys te belê, maar jy het elke sent wat jy besit het, op oorsese vakansies uitgemors. Ek het meer as een maal gehuil …”
“Ek het gedink tannie is suinig,” sê Yvette, haar stem skor en toonloos in haar eie ore.
“Ek – suinig? Ek het jou toe al gewaarsku dat ons jou nooit wettig aangeneem het nie, dat jy geen waarborg het dat jy na ons dood ryk sal erf nie. Onthou jy, Yvette?” Yvette knik stom. “Ek onthou, maar tannie het nooit in soveel woorde gesê dat oom Nathan my gaan onterf nie.”
“Omdat ek maar onlangs uitgevind het van jong Matthys Kleynhans,” sê tant Melinda met ’n ondertoon van bitterheid in haar stem.
“Wie is hy?” vra Yvette skerp.
“’n Nefie van Nathan. Nathan en sy broer het jare gelede rusie gemaak en ek was onbewus van jong Matthys se bestaan, totdat Nathan ’n paar dae gelede aan my gesê het dat hy van plan is om binnekort af te tree, want Matthys kom die boerdery oorneem.”
“Maar as Matthys net ’n plaasbestuurder gaan wees …” protesteer Yvette hoopvol.
“Nathan het Matthys universiteit toe gestuur om ’n landbougraad te kry. Die afgelope vier jaar was Matthys plaasbestuurder op een van Nathan se plase in die Noord-Kaap. Die seun het uitstekende werk gedoen, daarom het Nathan finaal besluit: jong Matthys is sy erfgenaam.”
Yvette staar tant Melinda spraakloos aan. Haar gelaat is waswit; sy probeer iets sê, maar haar stembande laat haar in die steek.
“As Matthys net ouer was, maar hy is ’n kind van vier-en-twintig … My enigste troos is dat jy Huis Winterrus van jou ma geërf het. In my jeug het ek die ou huis geken. Dit behoort heelwat werd te wees.”
“Maar oom Nathan besit miljoene!” krys Yvette, haar oë donker van skok en ontnugtering.
“Dis Kleynhans-geld, Yvette. Ek kan jou ’n dak oor jou kop aanbied, maar dis al. Jy sal die klere moet terugneem, want ek kan nie daarvoor betaal nie,” sê tant Melinda met verslae beslistheid.
“Nooit nie! Ek sal Huis Winterrus verkoop en …” Die uitdrukking op Yvette se gesig verhard. “Roland Stadler sal met my trou – en ek sal nie die vrekkerige ou Nathan Kleynhans na my bruilof toe nooi nie! ”
“Yvette … Yvette,” sê tant Melinda hoofskuddend. “Hoe lank gaan jy nog volhou met jou dwase liefde vir Roland? Jy kon jare gelede reeds met ’n ander man –”
“Nee!” val Yvette haar skerp in die rede. Daar is ’n fanatieke lig in haar oë. “Ek het op sestienjarige leeftyd reeds besluit dat ek eendag Roland Stadler se bruid sal wees. Agt jaar gelede, toe die hele Stadlerheim verwag het dat hy met Adéle Erasmus sal trou, het ek gesorg dat dit nie gebeur nie. Hy sal –”
“Wat sê jy daar, Yvette? Hoe het jy verhoed dat Roland en Adéle trou?” kom dit ontsteld van tant Melinda.
Yvette dwing haarself om stadig asem te haal en haar tante in die oë te kyk, maar die uitdrukking in haar eie oë is versluier. “Tannie het my verkeerd verstaan. Verskoon my. Ek wil my nuwe klere gaan wegpak,” sê sy koel, raap haar pakkies op en stap die sitkamer uit.
Dis nie sy wat Yvette verkeerd verstaan het nie; dis Yvette wat haar mond verbygepraat het. Yvette en Adéle was boesemvriendinne. Altans, dis wat Yvette haar destyds laat verstaan het. En dis wat sy wil glo, want enige ander moontlikheid is te verskriklik om te oorweeg, dink tant Melinda, onbewus daarvan dat sy ouder gewoonte wegvlug van die werklikheid.
“Ons moes nooit hierheen gekom het nie.”
Die koppie in tant Engela se hand ruk en die tee stort in die piering. Sy gluur oom Giepie aan, draai dan om en stap met ’n gedempte verwensing op haar lippe na die wasbak om die tee uit die piering te gooi.
“Ek het nooit besef die duiwel is ’n mens nie, totdat ek Roland Stadler ontmoet het,” gaan oom Giepie voort, asof hy nie tant Engela se verwensing gehoor het nie. “Ek moes daar in Huis Winterrus al besef het dat mense van vlees en bloed nie saam met Beëlsebub onder dieselfde dak kan woon sonder om vernietig te word nie.”
“Skaam jou, Giepie Taljaard!” raas tant Engela en plak die koppie tee so hard voor oom Giepie neer dat die tee weer eens oor die rand van die koppie stort. “En nou kan jy maar uit die piering drink, want jy verdien nie ’n ordentlike koppie tee nie. Beëlsebub – verbeel jou! Skaam jy jou nie om jou medemens die owerste van die duiwels te noem nie?”
“Nie eens ’n bietjie nie,” antwoord oom Giepie en stoot die koppie tee eenkant toe. “Ek drink soggens koffie, nie tee nie, Engela. Maar moenie vir my koffie maak nie: ek drink niks in hierdie bose huis nie.”
Die veglus dreineer uit tant Engela se gelaat en sy sak stadig op ’n kombuisstoel neer. Hy merk die ligte trilling van haar lippe, die hartseer in haar oë en frons diep om sy eie gevoel te verberg. “Ek skeer jou en Roland nie oor dieselfde kam nie, Engela. Ek weet wie en wat jy is en as jy alleen in Huis Daeraad gewoon het, sou ek die dogter met ’n geruste hart in jou sorg gelaat het. Maar ná wat gisteroggend gebeur het …” Oom Giepie se oë glim kristalhard. “Die arme Lelani was angsbevange en wat doen daardie derduiwel? Lag haar uit! Lag soos ’n besetene oor ’n ander se vrees!”
“Nee, oom Giepie,” klink Roland se stem uit die oopstaande gangdeur uit.
Oom Giepie en tant Engela draai tegelykertyd na hom, albei verras deur die pleitende ondertoon in sy stem. Hy kyk beurtelings na hulle en kom die kombuis stadig binne. Aan die onderpunt van die tafel bly hy staan en kyk oom Giepie in die oë.
“Gaan jy my tot leuenaar maak, knaap? Gaan jy ontken dat jy soos ’n mal mens gelag het terwyl Lelani kon sterf van vrees?” vra oom Giepie met kille minagting.
“Nee, oom. Ek ontken nie dat ek gelag het nie. Ek hét gelag, maar bloot omdat ek geamuseerd was, nie omdat ek ’n sadistiese behae in Lelani se vrees geskep het nie. Ek besef nou dat haar vrees eg was, maar in daardie stadium … Ek kon nie glo dat enigiemand so bang vir ’n mak ou perd soos Poena kon wees nie.”
“Dan, vent, is jy onnoseler as wat jy lyk!” snerp oom Giepie, staan vinnig op en stoot sy stoel onder die tafel in. “Verskoon my, asseblief, Engela,” sê hy styf en loop die kombuis haastig uit.
“Sjoe,” adem Roland verlig en vee met sy hand oor sy mond en ken. “Wanneer ek na oom Giepie luister, klink dit vir my asof ek minstens ’n moord gepleeg het.”
“Wat my betref, is dit erger as moord,” sê tant Engela bitter en wend haar gesig af.
Roland staar haar verras aan. “Kom nou, my tant Engeltjie, jy weet dat ek onskuldig is. Ek het nie Lelani gedwing om in die perdekamp te gaan ronddrentel nie. Dis haar eie skuld dat sy vir Poena geskrik het.”
“Dalk, maar dit sal beslis jou skuld wees as Giepie besluit om vir hom en Lelani elders verblyf te kry. Ek hou jou in elk geval verantwoordelik vir Lelani se toestand,” verwyt sy.
“Ek dag sy het griep,” sê hy ergerlik.
“Dis meer as griep, boet. Ons was vyf dae lank in Huis Winterrus by Lelani tuis. Weet jy hoe jy teenoor haar opgetree het?”
Hy kyk haar stip in die oë; sy gesigsuitdrukking is strak. “Soos ’n buffel. Maar dis nie nuus nie. Dis hoe ek alle vroue behandel. Waarom moet ek ’n uitsondering van Lelani maak?”
“As jy my liefhet, Roland, sal jy dit ter wille van my doen,” antwoord sy sag, maar haar hartseer skree harder as haar sagte woorde.
“Ek kan net ek wees, tannie.”
“Miskien. Maar Lelani is nie Adéle Erasmus nie.”
Hy frons, sy oë glimmend swart van woede, maar dan haal hy diep asem en sê beheers: “Dit weet ek ook.” Om ’n einde aan die gesprek te maak, loop hy vinnig by die agterdeur uit.
Sy het drie-en-sestig jaar oud geword en in haar hart ’n dankgebed omgedra omdat die ouderdom wysheid en aanvaarding bring. Maar dit was gister. Vandag is sy weer veertig jaar jonger; vandag wil sy opnuut huil oor ’n liefde wat sy vir goed verloor het, dink tant Engela en stap dankbaar na die gangdeur toe die voordeurklokkie deur die huis klingel.
“Tant Engela? Is tannie in die kombuis?” vra Zelna Joubert en kom met ’n ruiker bloedrooi rose in haar hande vinnig in die gang aangestap.
Tant Engela kyk met ’n glimlag na die lang, skraal meisie wat voor haar tot stilstand kom en hou haar hande uit om die ruiker te neem. “Blomme vir my? Maar ek verjaar mos nie vandag nie, Zelnatjie.”
“Dis seker waarom die blomme nie vir tannie is nie. Maar wie is Lelani Wessels? Roland het die ruiker bestel en gevra dat ek dit hier aflewer.” Haar oë rek wyd en sy vervolg op fluistertoon: “Het Roland sowaar ’n ander meisie liefgekry?”
“Roland het vir Lelani ’n ruiker bestel?” sê-vra tant Engela oorbluf.
“Vroegoggend al,” vertel Zelna gretig. “En hy het self die kaartjie aan haar geskryf en dit toe in ’n koevert toegeplak. Gewoonlik vra hy my om die boodskap te tik, maar dié keer… Wie is hierdie Lelani Wessels, tannie?”
Tant Engela kyk nadenkend na Zelna. Niemand op Stadlerheim sal Zelna ’n skoonheid noem nie. Inteendeel, almal sal jou kan vertel sy is ’n lang, maer meisiekind met yl, vaal hare, ’n groot neus, ’n groter mond en mooi, groen oë. Nee, die meeste mense sien nie haar pragtige oë en nog mooier geaardheid raak nie, daarom is Zelna op agt en twintig nog ongetroud, dink sy spytig. Maar Zelna is die regte vriendin vir Lelani, want selfs Roland behandel Zelna vriendelik, so asof hy kan aanvoel dat sy nie op hom sal jag maak nie.
“Lelani is die dogter van ’n ou vriendin, hartjie. Maar jy ken die huis. As jy nie bang is om griep te kry nie, kan jy die ruiker persoonlik na haar toe neem. Jy onthou waar my slaapkamer is?”
Zelna knik gretig. “Die laaste een aan die regterkant in die westelike vleuel.”
“Mooi. Lelani se kamer is net langs myne. En, Zelnatjie, probeer maar om die kind op te beur. Haar stiefpa is nou onlangs dood en sy voel nog baie vreemd.”
“Ek maak so, tannie,” beloof Zelna en beweeg op ’n vinnige drafstappie in die gang af na die trap.
Oomblikke later loer sy om die oopstaande kamerdeur en klop terselfdertyd liggies aan. Lelani draai haar kop en kyk na haar, en Zelna byt hard op haar onderlip. Sy moes dit verwag het, dink sy: as Roland Stadler die dag ’n ruiker vir ’n meisie koop, sal dit ’n meisie wees wat soos Lelani lyk. Waarom kan sy nie sulke digte, swart hare hê wat in sagte krulle haar gesig omraam nie? En die meisie se oë – is hulle swart of donkerblou? Nee, nie blou nie, maar donkergrys.
“Jy het die groenste oë wat ek nog gesien het,” kom dit impulsief van Lelani. “Is die ruiker vir my?”
Zelna maak haar mond oop, maar verbasing oor die onverwagte kompliment warrel haar woorde weg. Om ’n kompliment van ’n beeldskone meisie soos Lelani te ontvang, is om van die gode ’n geskenk te kry, dink sy en glimlag breed. “Hou jy van groen oë?” vra sy skugter en wonder dan wat haar besiel om oor haarself te praat.
“Ek weet nie. Maar jou oë is besonders – amandelvormig, ’n Mens kan nie anders as om hulle raak te sien nie,” antwoord Lelani en sit orent. “Het oom Giepie vir my die ruiker gestuur?”
“Nee, maar lees self,” antwoord Zelna, plaas die ruiker op die bedkassie neer en verwyder die kaartjie. “Hier, neem dit. Ek dra die ruiker gou badkamer toe om water in die blompot te tap.”
“Dankie, e …”
“Zelna – Zelna Joubert. Ek weet al jy is Lelani Wessels. Jy kan my Zelna noem.”
“Bly te kenne, Zelna,” glimlag Lelani.
“Ek is nou weer terug. Lees jou kaartjie,” sê Zelna, reeds op pad na die badkamer wat deel vorm van Lelani se suite.
Lelani kyk fronsend na die handskrif op die koevert. Dit is nie dié van oom Giepie nie. Sy skeur die koevert oop. Sy lees die naam Roland onderaan die kaartjie, snak hoorbaar na haar asem en lees dan die boodskap: Die rose kan beter as ek sê hoe jammer ek is, Lelani. As ek nie my ruiker in die vullisblik kry nie, sal ek weet ek is vergewe. Roland.
“Mooi! Die meisie het kleur in haar gesig. Ek sal Roland vra om gereeld vir jou ruikers te stuur. Ek het die ondersteuning nodig en die blomme maak jou gelukkig,” skerts Zelna en plaas die ruiker versigtig terug op die bedkassie.
“Koop … koop Roland gereeld ruikers by jou?” vra Lelani. Sy wil bly wees, wil uniek voel, maar as Zelna haar vertel dat Roland vir elke tweede meisie op die dorp ruikers koop, gaan sy soos ’n baba huil.
Zelna trek haar neus op ’n plooi. “Net vir tant Engela, so een maal per maand.” Sy blik op haar polshorlosie. “Ek wens ek kon langer kuier, maar ek is baas van die Roosblaar-bloemistery. Lettie Bronkhorst help my kamtig, maar as ek my rug draai, gaan kuier sy by haar kêrel wat in die slaghuis werk.”
“Dalk kan jy ná werk weer kom inloer – as jy nie klaar ’n ander afspraak het nie,” doen Lelani gretig aan die hand.
Zelna skaterlag. “Wie sal ’n afspraak met my wil maak? Dankie, Lelani, ek sal graag kom inloer. Sien jou.”
“Tot siens en dankie!” roep Lelani haar agterna, kyk na die kaartjie in haar hand en bring dit onwillekeurig na haar lippe.
Nee, nou is sy heeltemal simpel, dink sy vererg en bloos. Niks wat Roland op die kaartjie geskryf het, kan haar laat glo dat hy haar vriend wil wees nie. Hy het haar om verskoning gevra, dis al. Nie dat ’n verskoning nodig was nie. Sy het flou geword omdat sy fisiek volkome uitgeput was en boonop griep onder lede gehad het. En sy wás bang, maar dit was beslis nie Roland se skuld nie.
Sy kyk op toe daar aan haar kamerdeur geklop word, sien Roland groot en donker in die oop deur staan en verstyf. Watter smalende aanmerking gaan hy nou weer maak? wonder sy en kyk sku in sy oë. Dan frons sy verwonderd, want vir die eerste maal merk sy ’n uitdrukking van onsekerheid op sy gelaat.
“Ek het Zelna op die trap raak geloop.” Hy beduie met sy hand na die ruiker. “As jy dit nie wil hê nie …”
“Dis nie jou skuld dat ek flou geword het nie, Roland, maar die rose is ’n pragtige geskenk. Sal jy dit op die spieëltafel sit? Dan kan ek dit raaksien elke maal wanneer ek my oë oopmaak,” versoek sy en wens haarself heimlik geluk omdat sy daarin slaag om koel en hoflik te klink.
“Natuurlik.” Hy kom die kamer binne, neem die ruiker na die spieëltafel en buk vooroor om aan die rose te ruik. Toe hy opkyk, kyk hy vas in haar spieëlbeeld. Hulle staar in mekaar se oë en glimlag onseker met mekaar.
Hy draai om na haar, sy glimlag nou meer ontspanne. “Oom Giepie het my uitgekryt as Beëlsebub, die owerste van die duiwels, omdat hy glo dat ek jou uitgelag het oor jou vrees.” Sy gesigsuitdrukking word ernstig. “Glo jy dit ook, Lelani?”
“Dat jy die ou duiwel is?” vra sy skertsend, hou haar kop effens skeef en betrag hom aandagtig. “Nee, maar jy lyk soos die duiwel, behalwe wanneer jy glimlag.”
“Dan sal ek probeer om gereeld te glimlag.”
“Hoekom? Wil jy nie soos die duiwel lyk nie?”
“Hoe ek lyk, pla my nie, maar daar is tant Engela … Oom Giepie is vasbeslote om hier pad te gee sodra jy gesond is. Jy was by toe tant Breggie gesê het dat daar veertig jaar gelede ’n verhouding tussen oom Giepie en tant Engela was. Hulle het albei ongetroud gebly. Dis net moontlik dat tant Engela nog vir hom omgee.”
“Jy het tant Engela lief genoeg om ter wille van haar met my vriendelik te wees en vir my blomme te koop?” vra sy verwonderd.
“Nee. Ek het die blomme bestel voordat oom Giepie gedreig het om vir julle elders verblyf te kry. Ek wou al daardie eerste dag vir jou blomme gekoop het.”
“Die eerste dag?” vra sy onbegrypend.
“Ja, toe jy op die bliktrommel gesit en huil het. Jy was te maer en te bleek – en te hartseer en te mooi. Ek wou vir jou arms vol blomme aandra, want ek kon nie aan ’n ander manier dink om jou te laat ophou huil nie,” antwoord hy, verstom oor die gemak waarop hy met haar gesels.
“Ek huil nie nou nie,” terg sy.
“Nee, maar jy is siek – en bang vir perde. Buitendien: ’n mooi meisie behoort gereeld blomme te kry.”
“Jy hou nie van meisies nie,” herinner sy hom.
“Nie van meisies wat …” begin hy en kyk na die deur toe hy vinnige voetstappe hoor aankom.
“Roland! Hoe dierbaar van jou om vir my stiefsustertjie sieketrooster te speel,” sê Yvette, staan op haar tone en soen Roland vol op sy lippe.