Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk - Страница 4
1
ОглавлениеLelani Wessels staan aan die hoof van die lang geelhouteetkamertafel, haar hande kneukelwit om die rand van ’n stoelrugleuning geklem. Haar oë flits oor die vier persone om die tafel, maar sy sien hulle nie regtig raak nie. Sy hou haar kop effens skeef en luister; die klank van die stilte laat haar ril.
Dood. Vier dae gelede het haar stiefpa, Werner Boonzaaier, gesterf en gister het hy ’n finale rusplek tussen die wuiwende sipresse, waar die melankoliese gekoer van tortelduiwe altyd hoorbaar is, gevind. Vandag staan sy op sy plek aan die hoof van die tafel en luister na die klank van stilte … en die dood. Want Huis Winterrus en die lewe wat sy tot dusver geken het, het saam met Werner Boonzaaier gesterf.
In die verste hoek van die ruim eetkamer tik ’n antieke staanhorlosie die sekondes af; die horlosie tik ritmies, sonder haas. Sy kyk na die staanhorlosie en hou onwillekeurig haar asem op: wanneer gaan die horlosie ophou tik? wonder sy. Die tikkende horlosie versinnebeeld die polsslag van Huis Winterrus – die huis, wat net soos Werner Boonzaaier, binnekort tot niet sal gaan.
Die harde knak van ’n suiglekker wat deurgebyt word, ruk haar terug tot die werklikheid. Sy kyk na oom Barend Stoltz wat skuldig oor sy mond vee, sy blik neergeslaan, terwyl ’n blos van verleentheid oor sy ronde gesig kruip en selfs sy glimmende pankop ligroos verkleur.
Sy sal oom Barend met sy immerteenwoordige suiglekkers mis, dink sy. Haar oë dwaal na tant Charity en tant Patience Freeman met hulle silwerwit hare wat in sorgelose bollas op hulle koppe saamgevat is. Hulle groot, ligblou oë waaroor die ouderdom ’n sagte waas geverf het, betrag oom Barend met gekrenkte afkeer. Hulle is nie kwaad vir hom nie, sê hulle gesigsuitdrukkings, maar ’n ware heer sal nie op so ’n gewigtige oomblik ’n suiglekker kou nie.
Aan die onderpunt van die tafel kug oom Giepie Taljaard agter sy hand om Lelani se aandag te trek. Lelani kyk afwagtend na hom, maar hy trek ’n groot kristalasbak nader en gaan voort om die bol van sy kromsteelpyp met die pyplepeltjie van sy silwerkleurige knipmes skoon te maak. Asof deur onsigbare draadjies beheer, draai tant Charity en tant Patience se koppe na hom toe en hulle slaag daarin om heelwat meer gekrenk en afkeurend te lyk. Oom Giepie is ’n rebel, sê hulle oë. Toe Werner Boonzaaier nog geleef het, was dit ’n ongeskrewe reël dat daar nie in die eetkamer gerook word nie. Dat oom Giepie so uitdagend, so onhoflik teenoor twee Engelse dames kan optree, vervul hulle met skok en ontsteltenis.
Lelani sien hoe tant Charity en tant Patience na die kante van hulle stoele gryp asof hulle orent wil kom, en sy skraap haar keel. Hulle sak terug op hulle stoele en staar haar afwagtend aan.
“Ek weet nie waar om te begin nie,” sê sy en maak ’n hulpelose gebaar met haar hande. “Sewe jaar is seker nie lank vir mense van oor die sestig nie, maar vir my … Dit voel vir my asof ek julle my lewe lank ken, asof julle my eie mense is. Ek dink nooit aan julle as loseerders nie. Vir my is julle Huis Winterrus – deel van die ou huis en deel van my, maar …” Sy swyg en sluk aan die seer knop in haar keel, ’n warm waas van trane in haar oë.
“Jy was vanoggend by die prokureur,” sê oom Barend en probeer ongemerk ’n suiglekkertjie in sy mond prop.
“Jou oorlede vader se prokureur,” beaam tant Charity. Haar stem is duidelik en sag en sy het ’n onbetwisbare Engelse aksent.
“Meneer Kritzinger,” voeg tant Patience by. Haar stemtoon is identies aan dié van haar ouer suster.
Lelani se oë rek verras. “Hoe het julle geweet?”
“Ons weet alles, ounooi,” klink oom Giepie se swaar, diep stem van die onderpunt van die tafel af op. Hy lê sy pyp in die asbak neer en vou sy hande saam op die tafelblad. “Werner Boonzaaier het onoordeelkundige beleggings gemaak en homself uitgeroei, maar hy was nie ’n dwaas nie. Hy het besef sy einde is naby, daarom het hy met my gepraat. Ek kon die ander waarsku wat om te verwag as Werner nou sterf.”
“Dan weet oom-hulle dat Huis Winterrus nie myne is nie?” vra Lelani aarselend en hou tant Charity en tant Patience bekommerd dop. Mans kan skokke verduur, maar vroue – veral twee verfynde, hulpelose dames soos die Freeman-susters – moet teen die wrede realiteit van die lewe beskerm word.
Tant Charity en tant Patience glimlag met opregte medelye en begrip. “Ons weet, Lelani,” sê hulle tegelykertyd.
Oom Barend kou sy suiglekkertjie knarsend. “’n Onaangename wending … ’n beslommernis en ’n irritasie, maar nie onoorkombaar nie. Ek het my dogter gebel. Sy sê my woonstel wag vir my en die kinders is almal sewe jaar ouer. Die jongste is in matriek en die ander twee studeer aan die universiteit. Dit sal stiller wees. Gillende, jillende kinders onder my voete – dis wat my hierheen laat vlug het. Maar noudat hulle groot en uit die pad is … Moenie jou oor my kwel nie, Lelani.” Hy vroetel ’n pakkie lekkergoed uit sy baadjiesak en hou dit na haar uit. “Wat van ’n suiglekkertjie, ou kintatjie?”
“Meneer Stoltz!” kom dit berispend van tant Charity. “Besef jy nie die erns van hierdie gelykenis … e …”
“Geleentheid,” fluister tant Patience.
“Dankie, Patience,” sê tant Charity sonder ’n sweem van verleentheid en kyk weer streng na oom Barend. “’n Suiglekkertjie is welkom na ’n ete, maar nie op ’n geleentheid soos hierdie nie.”
“Dis mý lekkers,” sê oom Barend geraak en prop twee in sy mond.
“Ek is dankbaar oom het die nodige reëlings getref, maar …” Lelani swyg en blik hoopvol na die bejaarde susters.
Tant Charity vee-vee met haar slanke, wit hande waarop enkele blomme van die ouderdom in donkerbruin vlekke uitslaan, oor die skouers van haar fleurige, geblomde rok en glimlag kopknikkend met tant Patience. “Jy is jonger as ek, Patience. Jou oë is ook beter. Ek kan nie so gereeld lees nie. Jy praat die taal beter.”
“Net ’n klein bietjie beter, Charity,” antwoord tant Patience, maar lyk nietemin gevlei. Sy wend haar na Lelani. “Ons het ook reeds die nodige reëlings getref, Lelani. Ons jongste suster, Faith, wat met Thomas Carrington getroud was, het vyf maande gelede ’n weduwee geword. Haar twee dogters is getroud en haar seuns woon in Johannesburg. Hulle is sakemanne, verstaan? Sy wil nie haar en Thomas se huis verkoop nie. Sy het my en Charity genooi om by haar in Honeysuckle Cottage te gaan woon.”
“Op Kampsbaai?” vra Lelani en wonder waarom sy wil huil. Sy behoort dankbaar te wees dat die bejaarde loseerders betyds reëlings getref het om elders verblyf te kry, maar die teendeel is waar: sy wil soos ’n baba huil omdat die mense wat sy liefhet, vir goed uit haar lewe gaan.
“Op Kampsbaai,” beaam tant Patience.
“Dis ’n strandhuis met ’n gesig …” Tant Charity swyg en frons.
“Met ’n uitsig op die see, net soos Huis Winterrus,” help tant Patience.
Net soos Huis Winterrus … Die woorde vorm ’n refrein in Lelani se gedagtes. Maar Honeysuckle Cottage is nie Huis Winterrus nie; en Kampsbaai is nie Sekelbaai nie. Sy twyfel nie daaraan dat tant Charity en tant Patience gelukkig sal wees nie. Hulle sal soggens in hulle sagte, pastelkleurige rokke en seilskoene lang ente op die strand gaan stap; daarna sal hulle teruggaan huis toe en hulle met naaldwerk of ligte takies soos blomme rangskik, besighou. Na middagete sal hulle na tant Charity se kamer toe gaan en tant Patience sal hardop voorlees, terwyl tant Charity luister en later insluimer. En saans, na ete, sal hulle om die eetkamertafel sit en legkaarte bou of kaartspeel … of staaltjies vertel oor hulle jeugjare op ’n plaas in Devonshire. Maar sy sal nie daar wees om te luister nie.
“Moenie hartseer lyk nie, Lelani,” sê tant Charity vertroostend. “Ons sal gereeld vir jou skryf en jou nooi om te kom kuier.”
“Dankie … dankie, tannie,” sê Lelani skor en knip haar oë vinnig.
“Ons het reeds begin inpak, maar ons het nog baie om te doen. As jy ons sal verskoon, Lelani, sal ons nou verder gaan inpak,” sê tant Patience en staan saam met tant Charity op. Hulle skuif hulle stoele onder die tafel in en stap die vertrek uit, tant Charity eerste met tant Patience op haar hakke.
“Ek wed julle hulle haal saam asem,” merk oom Giepie op met ’n droë laggie.
“Herinner my altyd aan ’n dubbeldoor,” mompel oom Barend en skuif sy stoel steunend agteruit. Hy staan op. “Ek stap gou kafee toe om ’n pakkie suiglekkers te koop. Het jy iets nodig, Lelani?”
“Niks nie, dankie, oom Barend,” antwoord sy werktuiglik.
“Ek sal betyds terug wees vir oggendtee. Abigail het weer appeltert gebak,” sê oom Barend en skuifel met kort treetjies die eetkamer uit.
“En hy lýk soos ’n dubbeldoor,” sê oom Giepie misnoeg. “Jou wyle pa was te vrygewig, Lelani. Barend Stoltz eet genoeg vir drie mense, maar hy het dieselfde losiesgeld as die res van ons betaal.”
“Op sy ouderdom kan ’n mens seker maar doen wat jou gelukkig maak, oom Giepie,” antwoord Lelani toonloos en neem met ’n sagte suggie aan die hoof van die tafel plaas. Sy strengel haar vingers senuweeagtig ineen, onbewus van oom Giepie se deurdringende blik op haar.
Hy het Werner Boonzaaier al die jare sy mooi dogter beny, dink oom Giepie. Nee, Lelani is nie net mooi nie. Haar raafswart, effens krullerige hare omraam ’n hartvormige gesiggie met fyn, egalige gelaatstrekke. Maar haar grootste bate is haar besondere oë. Sy het groot oë wat met die eerste oogopslag donkerbruin lyk, maar kyk ’n mens weer, sien jy dat haar oë donkergrys is, met ’n tikkie verdwaalde silwer naas die groot pupille.
“En oom Giepie? Het oom al ander reëlings getref?” vra sy, kyk op en ontspan toe sy die glimlag in sy oë sien.
Op vyf-en-sestig is oom Giepie slegs vier jaar ouer as haar oorlede stiefpa, maar sedert hy sy intrek in Huis Winterrus geneem het, het sy hom as haar aangenome oupa beskou. Haar stiefpa, ’n afgetrede bankbestuurder, het sy dae in sy studeerkamer met finansiële tydskrifte deurgebring. Hy kon oor beleggings en aandele gesels, maar selde of nooit oor iets anders nie. Dit was oom Giepie wat haar gereeld dorp toe geneem het wanneer sy inkopies wou doen, of haar saans na ’n rolprentvertoning toe vergesel het, al was dit nie die soort rolprent wat in sy smaak geval het nie. Dit was ook oom Giepie wat haar aangemoedig het om ’n graad in Verpleegkunde te verwerf en gereeld mandjies eetgoed by haar koshuis afgelaai het. Haar studentemaats het geglo oom Giepie is haar oupa en sy het dit nie ontken nie.
Die afgelope sewe jaar, sedert sy vyftien was, het sy geweet haar pa is ’n kankerlyer. As verpleegkundige het sy ’n intieme kennis van die gevreesde siekte opgedoen, maar in haar hart kon sy nooit aanvaar dat haar stiefpa op geleende tyd leef nie. Hulle sou vir altyd gelukkig saamwoon in Huis Winterrus, het sy haarself wysgemaak. Selfs haar pa se dwase beleggings wat op ’n groot finansiële verlies uitgeloop het, kon haar nie werklik raak nie. Huis Winterrus was nog daar. Hulle kon kamers verhuur, loseerders inneem, en sodoende hulle finansiële verpligtinge nakom.
Tot vier dae gelede. Haar stiefpa het in sy slaap gesterf. Die son het helder oor die see opgekom toe sy kort ná seweuur by sy kamer ingeloer het. En toe het sy geweet: die son het finaal vir haar ondergegaan. Vir haar sal daar nooit weer ’n nuwe môre of ’n nuwe daeraad wees nie, want sy sal moet padgee uit Huis Winterrus en afskeid neem van die mense wat ongemerk deel van haar geword het.
Sy dwing haarself om na oom Giepie te kyk. Hy het intussen sy kromsteelpyp gestop en aangesteek en sit nou effens skuins gedraai op sy stoel en rook. Haar oë streel oor sy digte, grys hare, die hoë, intelligente voorkop, reguit neus en ferm mond. Sy sterk ken gee ’n uitdrukking van krag en selfversekerdheid aan sy gesig, maar kyk sy in die helder blou dieptes van sy oë, lees sy ’n goedige mensliewendheid daar. Oom Giepie is ’n man van teenstellings, besef sy. Hy skep die indruk van ’n streng, hooghartige man, maar wanneer hy glimlag, word hy ’n man van deernis en begrip.
“Oom het elders verblyf gekry?” vra sy, ’n ligte frons van kommer tussen haar wenkbroue toe hy haar ’n antwoord skuldig bly.
Oom Giepie betrag haar met oë wat effens geskreef is deur ’n sluier tabakrook en lê sy pyp dan tydsaam in die asbak neer. “Nog niks definitiefs nie, ounooi, want dis iets waaroor ons saam moet besluit.”
Sy staar hom verwonderd aan. “Oom het my hulp nodig?”
Daar is ’n vonkeling in sy oë. “Nee, Lelani, jy het my nodig. Ek besef jy is reeds twee-en-twintig, ’n meisie met ’n graad en volkome selfstandig. Maar tot vier dae gelede het jy ’n stiefpa gehad. Tot op hierdie oomblik woon jy in jou ouerhuis. Jy was vanoggend by jou stiefpa se prokureur. Ek glo hy het jou ingelig dat Huis Winterrus jou stiefsuster se erfenis is.”
Lelani knik stom. “Yvette Boonzaaier. Ek was nie eens bewus van haar bestaan nie. Meneer Kritzinger het aan my verduidelik dat Huis Winterrus aan Yvette se moeder behoort het.”
“Juis.” Oom Giepie lig sy regterwenkbrou vraend. “Jou pa het nooit oor sy eerste vrou of sy eie dogter gepraat nie?”
“Nee, oom. Meneer Kritzinger het my vertel dat Yvette se ma dood is toe Yvette ’n dogtertjie van vyf was. My stiefpa was altyd … e … onbeholpe met kinders, daarom het hy ingestem dat sy vrou se suster Yvette grootmaak, want sy en haar man is kinderloos.”
“Jy was twaalf toe jou moeder dood is?”
Sy knik, haar gelaat onnatuurlik bleek en gespanne. “Dis ironies, maar noudat ek daaraan terugdink … Ná my ma se begrafnis het my stiefpa my lank uitgevra oor my familie. Maar ek het nie enige familie nie, want my eie pa en my ma was albei enigste kinders. My ma was reeds veertig toe ek gehore is, en haar ouers was toe reeds dood.”
“En jy ken nie jou eie pa se mense nie?”
“Nee, oom Giepie. Ek het aanvaar hulle is ook dood, want my ma het nooit oor hulle gepraat nie.” ’n Halfhartige glimlaggie pluk aan haar mondhoeke. “Was dit nie vir Abigail nie … Ek was sewe toe Mamma met Werner Boonzaaier getroud is, en Mamma het Abigail saam met ons na Huis Winterrus toe gebring. Mamma en Abigail het as ’t ware saam grootgeword, daarom het dit vir my altyd gevoel asof Abigail eie familie is. Dit was Abigail wat my getroos het na Mamma se dood, wat vir my ’n tweede ma geword het toe Mamma nie meer daar was nie.”
“Abigail is ’n voortreflike kok en huishoudster, maar sy is ook al in die sestig,” sê oom Giepie nadenkend.
“Ek besef dit, oom, maar wat gaan van háár word? Ek sal haar nie meer kan bekostig nie. Sy kry ’n goeie salaris, maar as ek nie meer ’n huis besit nie …”
Oom Giepie lê haar met ’n beweging van sy hand die swye op. “Abigail kon drie jaar gelede reeds afgetree het. Jou ma het in haar testament voorsorg vir ’n pensioen vir haar gemaak.”
Sy staar hom verras aan. “Hoe weet oom?”
Hy kom orent – ’n lang, breedgeskouerde man met lenige liggaamsbou – en loop na die westelike venster. “Jou stiefpa het besef sy tydjie raak kort,” begin hy praat, maar kyk nie na haar nie. “Jy weet self: Werner Boonzaaier kon nie maklik met vroue kommunikeer nie. Ek glo dis waarom hy met my gepraat het. Hy het my vertel dat Huis Winterrus Yvette se erfenis is. Hy het my ook versoek om sy loseerders te waarsku om solank elders verblyf te vind.”
“En hy het oom vertel dat Abigail finansieel versorg is?” vra sy met ’n stem waarin die seer deurslaan.
Hy kyk vinnig na haar. “Moenie jou stiefpa verkwalik omdat hy jou nie in sy vertroue kon neem nie, Lelani. Hy was een van daardie mans wat geglo het dat ’n vrou net ’n versiering is, nie ’n persoon wat met probleme opgesaal moet word nie.”
“Hy was altyd vir my ’n vreemdeling,” erken sy en die seer verf haar oë swart. “Ek weet hy het my net in Huis Winterrus verdra omdat Abigail hier was om my te versorg. Dis waarom ek bly was toe ons skielik arm geword het. Hy moes loseerders inneem. Toe julle kom, het ek skielik ’n eie familie gehad, eie mense. Oom Barend het altyd vir my lekkers aangedra; tant Charity en tant Patience kon my ure lank met hulle stories oor hulle lewe in Engeland vermaak; en oom …” Sy swyg en daar is ’n ligte blos van verleentheid op haar wange.
“Ek was jou oupa,” glimlag hy. “Onthou jy nie die dag op die rotse toe ek jou leer visvang het nie? Toe jy jou eerste vis uitpluk, het jy my vasgegryp en gesê ek is die beste oupa wat jy kon hê – en toe foeter die vis en jou visstok in die see! ”
Hy lag en sy lag halfhartig saam met hom. “Dalk was dit net my manier om te sê ek is lief vir oom. Dis waarom ek my oor oom bekommer. Het oom Giepie iemand – dalk kinders – by wie oom kan gaan woon?”
Hy vryf nadenkend met sy hand oor sy mond en ken, sy blou oë deurvorsend in hare. “Ek het net een aangenome kleindogter: Lelani Wessels,” antwoord hy ernstig …
’n Glimlag kruip soos die eerste oggendsonstrale oor die grou oppervlakte van die see in haar oë. “Ek is so bly, oom Giepie! Ek verdien heelwat met privaat verpleging. Ek weet nie hoe groot oom se pensioen is nie, maar ons behoort saam iewers ’n woonstelletjie of ’n paar kamers te kan huur – dalk ’n plek met genoeg ruimte vir Abigail. Dit sal nie Huis Winterrus wees nie, maar solank ons saam kan wees…”
“Abigail het besluit dis hoog tyd dat sy teruggaan na haar eie mense toe. Maar ons sal iewers ’n huishoudster kry. En gebeur dit nie: ek hou van bak en brou. Wat ’n blyplekkie betref: ek kyk al ’n geruime tyd rond, maar ons sal later finaal daaroor besluit,” sê hy saaklik. Hy kom nader en lê sy hand op haar skouer. “Gaan slaap nou, ounooi. Ek glo Helena Greyvenstein is ’n heks om te verwag dat jy haar man so kort na jou stiefpa se dood snags moet verpleeg. Maar soos jy self sê: jy het die geld nodig.”
“Nodiger as ooit, want ek moet my oupa Giepie help versorg,” terg sy en loop uit die eetkamer uit met die klank van sy warm, gedempte lag in haar ore.
Tant Engela van Jaarsveld vorm met ervare behendigheid die laaste stuk deeg in ’n brood en snak na haar asem toe ’n groot, songebruinde hand skielik oor haar skouer verskyn en ’n stuk deeg afknyp.
“Duiwelskind!” raas tant Engela en klap na die hand. Maar die hand verdwyn vinnig en sy klap die stuk deeg raak.
“Mis!” koggel Roland Stadler agter haar stoel, glimlag breed in haar toornige gesig en eet die deeg smaaklik op.
“Jy gaan jou ingewande verstop, Roland! As die deeg in jou maag begin rys, kry jy ’n breuk … of ’n ding,” maak tant Engela ’n donker voorspelling, maar sy gaan onverpoos voort om die deeg in ’n broodpan te sit.
“Ek weet, tant Engeltjie,” tart hy. “Kom ons dink … Ek is reeds vyf-en-dertig. Vandat ek vier jaar oud is, woon tannie hier op Gunterland. Een-en-dertig jaar lank eet ek al rou deeg en ek is nog uitspattig gesond. Wanneer kry ek daardie breuk of ding, my liewe tantetjie?”
“Uitspattig gesond – gmf! Jy is doodgewoon uitspattig, knaap,” maak sy rusie terwyl sy die broodpan na die broodkombers toe dra. “Waarom ek my tyd mors om spesiaal vir jou vars brood te bak … Ons huis staan as ’t ware in die middel van Stadlerheim. Van nou af kan jy vir ons brood in die kafee gaan koop.”
“Dis nie ’n huis nie, tannie. Huis Daeraad is ’n opstal. Ons het net die grense van Gunterland so effens verskuif toe my oor-oorgrootjie met ’n dorpstigting begin het. Hoe gaan tannie dit oor tannie se hart kry om winkelbrood in ’n plaasopstal te eet?” vra hy verwytend, maar sy oë lag haar goedig uit.
“Winkelbrood!” Tant Engela se lippe krul minagtend. “Gansdons en winkelbrood proe dieselfde: dis soos om ’n mond vol wind te eet. Ek hoop net jou liewe Yvette weet hoe om brood te bak.”
Die uitdrukking op Roland se gelaat verhard. Tant Engela trek haar asem spytig in toe sy na hom kyk. Sy gesig is songebruin, maar vererg hy hom, lê die letsel op sy wang soos ’n polsende, oop wond wat die pyn van ’n half vergete verlede uitskree.
“As tannie die dag nie meer daar is nie, sal ek winkelbrood koop,” sê hy met strakke sekerheid.
“Moenie, Roland,” pleit tant Engela. Sy loop na hom toe en plaas haar hand op sy arm. Sy wens sy was nie so kort nie, dink sy geïrriteerd. Maar aan die ander kant: hoekom moet Roland byna twee meter lank wees? Toe hy klein was, kon sy haar arm om sy skouers sit en hom ’n vertroostende drukkie gee, maar vandat hy ’n man geword het… Sy kan net sowel probeer om een van die stoeppilare oor die kop te streel.
Hy is bewus van die troebel uitdrukking in haar oë en glimlag gerusstellend. “Tannie ken die reëls: ek soek nie vir tannie ’n man nie en tannie aanvaar dat ek ’n oujongkêrel is. Reg?”
Tant Engela aarsel, gretig om vrede te maak, maar skud dan haar kop. “Dis wat ek wil glo, Roland, maar Yvette trap my drumpel deur sedert sy drie maande gelede teruggekeer het uit die buiteland.”
“Verkwalik tannie haar? Yvette is ’n meisie van dertig. Hoeveel ongetroude mans van haar ouderdom is daar op Stadlerheim?” vra hy onbesorg.
“Twee wewenaars en drie geskeides,” tel tant Engela op haar vingers. “Maar hulle is mense wat vir salarisse werk. Jy, Roland, is ’n skatryk boer met meer plase as wat jy kan hanteer. Yvette Boonzaaier en haar kruiperige tant Melinda weet dit.”
“Kruiperig?” Hy staar haar onthuts aan. “Ek dag tannie beskou tant Melinda as ’n aanstellerige, hooghartige ou pruimgesig.”
“En dit is sy ook wanneer jy nie in die nabyheid is nie. Want wie is ek nou eintlik? Net die skatryk, oorlede Wernich Stadler se stiefsuster wat al die jare sy huishoudster was en jou grootgemaak het. ’n Betaalde bediende – dis ek, Engela van Jaarsveld. Ek kan behoorlik sien hoe kry ou Melinda ’n steek in haar nek elke maal wanneer sy my met ’n stywe kopknikkie op die dorp moet groet.”
“Groet tannie haar darem?” korswel hy.
“Nee, kind, want ek soek nie na ’n steek in my nek nie. Ek hoop net jy het Yvette duidelik …” Sy breek haar sin af en frons strydlustig toe die voordeur oop- en toegaan. “Net één jakkalsgevreetjie het die liederlike gewoonte om nie aan my voordeur te klop nie,” grom sy en gluur in die rigting van die gangdeur.
“Hallo, hallo, al die mense!” groet Yvette Boonzaaier gul en kom die ruim kombuis binne. Haar oë flits nikssiende oor tant Engela se vyandige gesig en soek dié van Roland. “Ek het wonderlike nuus, Roland! My pa is dood en –”
“Sondige merrie!” val tant Engela haar verpletterend in die rede. “Jou pa is dood, Yvette, en jy sê dis wonderlike nuus? Wat meen jy om te doen? ’n Polka op sy graf te dans?”
Yvette frons geraak. “Tannie ken die storie so goed soos ek: my pa het my weggesmyt ná my ma se dood. As tant Melinda en oom Nathan hulle nie oor my ontferm het nie, het ek seker in ’n weeshuis beland.”
“En dan was jy moontlik vandag ’n beter kind,” sê tant Engela onsimpatiek.
“Wag nou, tannie,” kom dit paaiend van Roland. “Vertel ons wat jou goeie nuus is, Yvette. Het jy ’n fortuin geërf?”
“Wel, nie ’n fortuin nie, maar ’n reusestrandhuis wat aanvanklik aan my eie ma behoort het. Die plek se naam is Huis Winterrus en dis op Sekelbaai. Ek besef ek is oom Nathan en tant Melinda se enigste erfgenaam, maar die gedagte dat ek my eie strandhuis besit, laat my skielik ryk voel.”
“Was jy darem by jou pa se begrafnis?” vra tant Engela streng.
Yvette frons ergerlik. “Hoe kon ek gaan as ek eers vanoggend by my prokureur gehoor het dat ek Huis Winterrus geërf het?” vra sy vies.
“Koop dan ’n krans en gaan sit dit op sy graf. Sekelbaai is nie so ver nie,” antwoord tant Engela bruusk.
“Dalk sal ek,” sê Yvette. Sy draai na Roland en versoek met ’n pruilmondjie: “Wat sê jy, my skat? Ry ek en jy saam Sekelbaai toe?”
My skat … Ga! dink tant Engela en blaas haarself soos ’n vertoornde verkleurmannetjie op. Sy kan haar voorstel hoeveel “skatte” daar reeds in Yvette se lewe was, want ’n meisie wat soos Yvette lyk, sal in ’n klooster moet gaan wegkruip om nie ’n reputasie te hê nie. Haar hare is lank en blond – maar eers sedert haar agtiende jaar, want vóór dit was dit muisvaal – en haar gelaatstrekke is egalig. Sy veronderstel mans sal Yvette se mond onweerstaanbaar vind, want sy het vol, sensuele lippe en ’n maklike glimlag wat kuiltjies in haar wange keep. Haar groot, ligblou oë verhoed dat enigiemand sal raai dat sy nie ’n natuurlike blondine is nie. En dan is daar haar figuur … en sy het sulke lang, slanke bene, so asof die ou duiwel self wou sorg dat Roland die meisiemens ten prooi sal val, dink tant Engela bitter.
Langs ’n man van gemiddelde lengte sal Yvette te lank lyk, maar Roland troon oor haar. Mooi mans is net ’n versoeking. Nie dat Roland mooi is nie, maar selfs sy kan sien hy is aantreklik met sy donker hare, swartbruin oë en die sterk beenstruktuur van sy gesig. Hy lyk streng, selfs ’n bietjie befoeterd, dink tant Engela, behalwe wanneer ’n mens na sy mond kyk. Selfs wanneer hy ernstig is, krul sy mondhoeke boontoe, asof hy heimlik oor iets lag. ’n Aantreklike man, ten spyte van die letsel op sy linkerwang, met ’n bankrekening wat hom volkome onweerstaanbaar sal maak vir menige vrou, som tant Engela hom op en probeer aan ’n rede dink om Yvette haar huis te belet.
“Ek is op die oomblik ’n bietjie besig op die plaas, Yvette,” kom dit ontwykend van Roland terwyl hy vlugtig na tant Engela kyk en die goedkeuring in haar oë lees.
“Maar jy móét saamkom, Roland!” pleit Yvette desperaat. “Ek het nog nooit my stiefsuster ontmoet nie, maar as Lelani Wessels my dalk probleme gee … Ek twyfel of sy Huis Winterrus sonder meer gaan verlaat, want my pa het haar heel waarskynlik nooit ingelig dat die huis my erfenis is nie.”
“Lelani Wessels? Hoekom klink die naam vir my so bekend?” kom dit ingedagte van tant Engela. Sy kyk Yvette skerp aan. “Jy weet nie dalk wie haar ma was nie?”
“Nee, tannie. Ek het nooit genoeg belang gestel om uit te vind wie my stiefma is nie,” antwoord Yvette koel.
“H’m,” kom dit niksseggend van tant Engela, maar sy frons aanhoudend. “Dis nou al te laat, maar miskien moet jy môre saam met Yvette ry, Roland. Jy werk te hard. ’n Daggie weg van die plaas af is net wat jy nodig het. En nou moet julle my verskoon, want ek moet ’n paar dringende oproepe gaan maak. Tot siens, Yvette.”
“Tot siens, tant Engela,” groet Yvette stralend. “Sien jy nou, Roland? Selfs tant Engela is ten gunste daarvan dat jy saam met my Sekelbaai toe ry. Jy durf nie nou weier nie.” Roland antwoord nie. Hy kyk tant Engela met ’n vraende frons tussen sy wenkbroue agterna. Vanwaar die skielike frontverandering? wonder hy. ’n Paar minute gelede het tant Engela hom nog teen Yvette gewaarsku, maar nou dwing sy hom as ’t ware om Yvette na Sekelbaai toe te neem. Wat voer tant Engela in die skild? Hy ken haar te goed om sonder meer te aanvaar dat sy hom uit die goedheid van haar hart aangesê het om Sekelbaai toe te gaan. Hy moet haar ondervra, maar dan moet hy so spoedig moontlik van Yvette ontslae raak. Gelukkig is Yvette nie seker van hom nie. Sy val oor haar eie voete om sy geringste wens uit te voer, selfs al is dit om hom met rus te laat.
“Dan is dit afgespreek, Yvette. Ek het môre ’n bedrywige dag, maar as ons teen sesuur kan ry, sal ek jou Sekelbaai toe neem. Of is dit te vroeg vir jou?” vra hy saaklik.
“Ek sal sesuur hier wees. En vreeslik, vrééslik dankie, Roland,” sê sy en kyk diep in sy oë.
“Ek sal jou na jou motor toe vergesel. Kom,” beveel hy bruusk en stap saam met haar na die voordeur toe, maar raak nie aan haar nie.
’n Bliktrommel … ’n vervlakste swaar bliktrommel! dink Lelani en sleep die trommel oor die sypaadjie. Sy haat tant Helena Greyvenstein, en sy haat Arno Greyvenstein met ’n wrewelrige haat. Sy is as privaat verpleegster gehuur om oom Jaco Greyvenstein te verpleeg, maar vanuit die staanspoor het Arno besluit dat sy ter wille van hom in diens geneem is.
En nou sit sy sonder werk. En sonder ’n huis. Binnekort sit sy en oom Giepie op straat, want Huis Winterrus sal binnekort ontruim moet word. Dis nie regverdig nie, dink sy. Sy voel trane van opstand en onmag agter haar ooglede brand en knip haar oë vinnig. Nee, sy kan nie nou so naby Huis Winterrus in trane uitbars nie. Haar woede het haar gehelp om tot hier te loop sonder om haar aan selfbejammering oor te gee. Sy sal onthou om kwaad te wees, om almal en alles te verwens, maar sy sal nie huil nie, want dit sal net al haar loseerders ontstel. Sy vee met haar linkerhand oor haar oë en loop met die bliktrommel in ’n lamppaal vas. Die trommel val uit haar hande, sy struikel daaroor en val plat op haar maag op die sypaadjie neer.
“Kan ek help, juffroutjie?” Die manstem is diep, welluidend en oortuigend simpatiek.
Sy kyk op in Roland se gesig. “Nóg ’n man! Vloek-… vloek- … vloeksteen!” skel sy en bars in trane uit.
Roland kyk verwilderd rond, besef dat hy alleen in die straat is, en tree dan vinnig op. Hy help Lelani om op die trommel te sit en neem langs haar plaas.
“Huil net sag, juffroutjie. En as iemand op ons afkom, sê maar ons wag op die bus,” stel hy senuweeagtig voor en druk sy sakdoek teen haar neus om haar snikke te smoor.