Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk - Страница 7
4
ОглавлениеArno swaai om, sien Roland groot en donker by die tuinhekkie staan en draai terug na Lelani. “Onsin, Lelani! Ek weet nie wie die man is nie, maar ek is seker dat hy nie jou verloofde is nie. Het jy nie gehoor wat ek gesê het nie? Ek het jou lief en ek is van plan om met jou te trou. Ek wéét daar is nie ’n man in jou lewe nie – ek het gesorg dat ek weet,” sê hy, sy stemtoon beurtelings selfversekerd en pleitend.
Lelani betrag hom met kille hooghartigheid. “Jy weet niks van my privaat lewe nie, Arno. Jy vergeet: ek was in diens van jou ma, maar ek en jy het nooit in dieselfde sosiale kringe beweeg nie.”
“En wie se skuld is dit? Sedert ons saam op skool was, het ek probeer om jou uit te neem. Maar ek was nooit goed genoeg vir jou nie omdat jy die skindertonge se stories geglo het.” Hy gryp haar hande vas en vervolg dringend: “Ek ontken nie dat daar talle meisies in my lewe was nie, maar weet jy waarom? Omdat jý my nie wou gehad het nie. Hoe kan ek aan enige meisie lojaal bly as daar net een meisie is wat ek waaragtig liefhet? Asseblief, my liefling, sê dat jy ook ’n klein bietjie vir my omgee?”
Ellendige Roland Stadler, skel Lelani in haar gedagtes. Hy staan soos ’n soutpilaar by die tuinhekkie terwyl Arno haar beklou. Kan hy nie sien sy het sy hulp nodig nie?
“Moenie skaam wees om te erken dat jy vir my omgee nie, Lelani,” vertolk Arno haar stilswye verkeerd. “Ek het gesien hoe jy na my kyk wanneer ons mekaar toevallig in my ouerhuis raak geloop het. Jy was altyd bly wanneer ek my pa besoek het, al kon ons nie gesels nie. Ek erken ek was ’n lafaard, want tot vanoggend het ek my ma gevrees. Maar noudat sy die waarheid weet, sal sy nie langer in ons pad staan nie. Ons kan trou, my liefste, en jy kan op die datum besluit.”
“Jy het gesien hoe ek na jou kyk?” vra Lelani oorbluf.
“Ja.” Hy glimlag in haar oë. “Jy het jou bes gedoen, maar jy kon nie jou ware gevoel vir my verberg nie, my Lelani.”
“Arme Arno. Jy is nie net dom nie, maar jy is boonop skeel,” sê sy met ’n byna tasbare weersin in haar stem en probeer om haar hande uit sy klouende greep te bevry.
Hy skud sy kop asof hy ’n vuishou tussen die oë gekry het. “Jy ontken dat jy my liefhet?” vra hy ongelowig.
“Ten sterkste. Los my hande, Arno. Ek is besig om in te pak.”
“Ek het op die dorp gehoor jy het niks van jou stiefpa geërf nie. Jy besit nie eens ’n huis nie. Maar jou armoede pla my nie, Lelani. Ek sal jou alles gee wat geld kan koop. Asseblief, my liefste, moenie dat jou trots verhoed dat ons trou nie,” pleit hy.
“Verstaan my mooi, Arno: al was jy die enigste man op aarde, sou ek nie met jou getrou het nie, want ek het jou nie lief nie. Het jy mooi geluister: ek het jou nie lief nie. Tot siens, Arno,” sê sy met kille nadruk.
“Ek aanvaar dit nie! Ek ken meisies, daarom weet ek hoe jy oor my voel. Ek weet hoeveel mans by jou ’n bloutjie geloop het. En waarom? Omdat jy gehoop het dat ek eendag my vrees vir my ma sou oorwin en na jou toe sou kom,” sê hy met onwrikbare sekerheid.
“Sowaar? Waarom sal ek aan ’n ander man verloof raak as ek jou so onsterflik liefhet?” vra sy geïrriteerd.
Arno blik weer oor sy skouer na Roland wat nog geduldig by die tuinhekkie wag. “As hy aan jou verloof is, waar is jou verloofring?”
“Ons wag tot ons amptelike verlowingspartytjie voordat ek my ring dra. Ek kan nie so kort na my stiefpa se dood …”
“Solank jy nog nie die man se verloofring dra nie, het hy geen aanspraak op jou nie. Maar ek het lank genoeg gepleit. Daar is ander maniere om jou van my gevoel vir jou te oortuig,” sê Arno, sy asemhaling vlak en vinnig, ’n gloed van hartstog in sy oë. Hy los Lelani se hande en gryp haar in sy arms vas, sy lippe reeds soekend na hare.
Lelani ontspan asof sy sy omhelsing verwelkom, skop dan met mening na sy linkermaermerrie en plant ’n vuishou in sy maag. Sy is nouliks bewus van sy pynuitroep, want sy vlug in die tuinpaadjie af en kry Roland aan die arm beet.
“Wat de duiwel…?” begin Roland oorbluf.
“Die duiwel het niks met die hele situasie te doen nie, stommerik! Waarom kon jy my nie kom help nie? Kon jy nie sien wat die mansmens aan my doen nie?” tier sy.
“Jou privaat lewe raak my nie, juffrou Wessels. Om die waarheid te sê niks wat jy doen, kan my raak nie,” antwoord hy stroef.
“Ja, ja, ek weet, maar ek het jou nodig. Dis die bliktrommelvent, Arno Greyvenstein.” Sy hoor voetstappe agter haar en fluister dringend: “Jy is my verloofde, verstaan?”
Sy donker wenkbroue sak valkagtig laag oor sy oë. “Jou wát?”
“Bly stil!” snou sy en slaan haar arms om sy nek. “Ek is so dankbaar jy het betyds opgedaag, my liefste Herklaas. Ek het jou gewaarsku jy moenie te lank wegbly nie, want daar is gewetenlose mans wat glo hulle kan my misbruik noudat ek alleen in die wêreld is,” sê sy melodramaties.
Arno kom ’n paar treë van hulle af tot stilstand en gluur Roland met moord in sy oë aan. “Wie is jy?” vra hy ru.
“Juffrou Wessels se verloofde,” antwoord Roland grimmig en maak die tuinhekkie oop. “Uit, kêrel, of ek smyt jou uit.”
Arno ruk sy kop trots op. “Weet jy met wie jy praat, vent?”
“Nee. Maar dis moontlik omdat ek nie my tyd op onvolwasse seuntjies mors nie. Draf, boetie. En hou aan draf. Want kom wys jy weer jou gesig in Huis Winterrus, sal jy plastiese chirurgie nodig hê.”
Arno kyk na die lang, breedgeskouerde man en byt ’n kwetsende antwoord op sy onderlip vas. Hy het lankal geleer: sy ma se geld kan hom nie teen vreemdelinge beskerm nie. Hy is nie ’n lafaard nie, maar hy sal ’n sot wees om met Lelani se Herklaas handgemeen te raak, besluit hy en stoot die tuinhekkie agter hom toe.
“Ek verloor nie so maklik nie,” sê hy nydig en stap vinnig weg oor die sypaadjie na waar sy luukse sportmotor geparkeer is.
“Hoe lank gaan jy nog om my nek hang, juffrou Wessels?” vra Roland toe Arno se motor met skreeuende bande wegtrek.
“Niks langer as wat nodig is nie,” antwoord sy en los hom vinnig. Sy vryf haar arms wat skielik lam voel en gluur hom misnoeg aan. “As jy nie so lank was nie, sou my tone minstens aan die grond geraak het. Kon jy my nie vashou nie? Dit voel asof my arms uit hulle potjies geruk is.”
“Klim dan volgende keer in ’n boom,” sê hy gevoelloos.
“Wat is jy? ’n Robot met ’n blikbrein?” vra sy wrewelrig.
“Nee. Ek is Herklaas, jou verloofde.”
Spot hy? wonder sy en kyk in sy oë, maar sien nie ’n vonkie lag daar nie. Hy het swart klipoë. Koue oë. “Ek wed jy het ’n hart van klip, van swart graniet, net soos jou oë,” spreek sy haar gedagtes hardop uit.
“Onthou dit dan: klippe het geen gevoel nie.” Hy kyk na die huis. “My tante se motor staan nie meer voor julle deur nie. Het sy tog besluit om terug te kom huis toe?”
“Vanselfsprekend sal sy teruggaan huis toe, maar op die oomblik is sy besig om ’n krat vol porseleinware te pak.”
“Maar … begin hy en klem sy kakebene hard saam. “Toe ek vroeër vandag gebel het, het ek haar uitdruklik laat verstaan dat sy die pakwerk aan die meubelvervoerders moet oorlaat. Sy het ingestem om dit te doen, maar toe sy teen vieruur nog nie tuis was nie, het ek bekommerd geraak. Weet jy of sy probleme met haar motor het, juffrou Wessels?”
“Nee, meneer Stadler. Ek werk nagdiens. Ek het die hele dag geslaap. Maar kom binne. Ek is seker tant Engela sal jou vrae met graagte beantwoord,” versoek Lelani styf en begin aanstap na die voordeur.
Hy volg haar in stilte die huis binne, loop deur die ontvangsportaal en steek in die oopstaande deur van die sitkamer vas. Tant Engela sit op ’n gemakstoel, ’n antieke teepot in haar hande. Sy kyk op toe Lelani die vertrek binnekom en streel waarderend oor die teepot.
“Dis ’n Engelse Derby-Chelsea-teepot uit die agtiende eeu. Besef jy watter kosbare porselein en pottebakkerswerk jou oorlede ma versamel het, Lelani? Jou erfenis van haar is ’n fortuin werd.” Tant Engela beduie na ’n beeldjie wat op die vertoonkas staan. “Soos daardie Dresden of Meissen-groep en …” Sy onderbreek haar sin en frons verward toe sy opmerk dat Lelani haar mond skeef trek en haar oë rol, asof sy na iets wil beduie. “En nou, hartjie? Het jy maagpyn?”
“Nee, tannie, net ’n gewone pyn. Hy staan in die deur,” antwoord Lelani droog.
Tant Engela draai stadig in ’n sittende posisie na die deur, sien Roland staan en frons vererg. “Nes ’n vervlakste hanslam!” sê sy kwasterig. “Wat skort met jou, Roland? Ons het ’n voortreflike kok en talle bediendes. Kan jy nie ’n paar dae lank sonder my hulp oor die weg kom nie?”
“Tannie het my uitdruklik beloof om terug te kom huis toe,” verwyt hy en kom die sitkamer binne.
“En jy het my geglo? Jy kan ook so naïef wees, boet. Ek het op alles ja en amen gesê om van jou ontslae te raak. Ek het nie tyd vir lang telefoongesprekke wanneer ek werk het om te doen nie.”
“Maar is dit nodig?” vra Roland, ingehoue drif in sy stem. “Ek het reeds aanvaar dat ek my ouerhuis met ’n spul vreemdelinge sal moet deel, maar dis seker nie nodig vir tannie om al die inpakwerk te doen nie. As hulle dit nie kan bekostig om vir die trek te betaal nie, sal ek ’n tjek uitskryf.”
“Mag ek maar vir hom sê wat hy met sy tjek kan doen, tannie?” vra Lelani boos.
“Liewer nie, ou kindjie, want ’n mooi dogter soos jy behoort nie te vloek nie.” Tant Engela plaas die teepot versigtig langs haar op ’n tafeltjie neer, strengel haar vingers op haar maag ineen en betrag Roland met ’n moedelose glimlaggie. “Wat het jy nou eintlik hier kom soek, Roland? Is daar nie genoeg werk om jou op Gunterland besig te hou nie?”
Ergernis maak sy bewegings stokkerig, maar hy kom die vertrek binne en plof op die naaste stoel neer. “Ek was bekommerd oor tannie. Toe dit vieruur word en tannie is nog nie tuis nie … Ongelukke gebeur.”
“Dis nou wat ek van jou waardeer, boetie: jy het tog so ’n ou jammerhartjie. Maar aangesien ek perdfris en gesond en kliphard besig is, kan jy in jou motor klim en terugry huis toe,” sê tant Engela met ’n liewe glimlaggie.
“Hoe lank meen tannie om hier te bly?” vra hy grimmig.
“So lank as wat dit nodig is, boet. Ek en Lelani se oorlede ma het saam as jong meisies met die versamel van antieke porselein- en pottebakkersware begin. My ou versamelinkie is nie naastenby so groot soos dié van wyle Amanda nie, maar dis ’n vreugde om elke stuk te hanteer. Sodra alles verpak is, sal Giepie sorg dat die huisraad wat ons nie wil saamneem nie, verkoop word. En daarna sal ons sorg dat die meubelvervoerders die res van die meubels kom oplaai. Ons behoort binne drie of vier dae gereed te wees om na Huis Daeraad toe te gaan.”
“In daardie geval sal ek hier bly en help. Hoe gouer tannie terug is tuis, hoe gouer sal my lewe weer normaal wees.” Sy blik val op Lelani en sy oë glim koud. “So normaal as wat dit in die omstandighede kan wees,” voeg hy betekenisvol by.
“Nou waarom sit jy nog hier rond, knaap? Draf studeerkamer toe. Giepie Taljaard sal jou gou genoeg in die werk steek,” sê tant Engela ongeduldig.
Hy staan op, kyk na Lelani asof hy haar nog iets wil toevoeg, maar bedink homself en stap die vertrek met lang hale uit.
“Ek gaan liewer weeshuis toe as om één dag onder dieselfde dak as daardie man te woon!” bars Lelani beheers uit. “Hy is onbeskof, beledigend en ’n buffel. Hoe kan tannie van my verwag om ’n huis met hom te deel?”
“Jy gaan my huis met my deel.” Tant Engela glimlag. “Eintlik ’n ou opstal, want Huis Daeraad was oorspronklik die opstal van die plaas, Gunterland. Huis Daeraad is ’n pragtige ou woning op die noordelike grens van Stadlerheim. Dis ’n bietjie afgesonderd, want die opstal staan op vier hektaar grond, maar die tuin is pragtig … Ek hou my eie hoenders en eende aan en daar is selfs ’n paar ryperde. Ry jy perd, Lelani?”
“Nee, tannie. Ek hou net van die perde wat ek op die televisie sien. Ek glo nie ek hou van hoenders of eende nie, behalwe wanneer hulle in plastieksakkies in die koelkaste van ’n supermark lê. Ek weet ek sal nie van Huis Daeraad hou nie, want Roland –”
“Ek het Roland soos ’n eie seun lief, Lelani,” val tant Engela haar gedemp in die rede.
“Ek glo tannie en ek is seker daarvan hy is ook lief vir tannie, daarom het hy spesiaal teruggekom om vas te stel of tannie veilig is. Maar ek is nie tannie nie.” Sy leun nader aan tant Engela, haar stemtoon pleitend toe sy vervolg: “Verstaan mooi, tant Engela, ek waardeer dit opreg dat tannie spesiaal hierheen gekom het om vir my ’n nuwe tuiste aan te bied. As tannie alleen gewoon het – al was dit ook in ’n tweeslaapkamerhuisie – sou ek maar te gretig gewees het om by tannie te gaan woon. Maar Huis Daeraad is Roland se erfenis, selfs al het tannie lewensreg om daar te woon.”
“Nee, hartjie. Roland erf Huis Daeraad eers oor drie jaar.” Lelani staar haar verwonderd aan. “Hoekom?”
“As gevolg van ’n bepaling in wyle Wernich Stadler se testament. Intussen is ek as ’t ware baas van die ou opstal. Ek is lief vir die plek, maar ek sal jok as ek sê ek is nie soms eensaam nie. Sê my, Lelani, wanneer laas het jy ’n behoorlike vakansie gehad?”
Lelani frons nadenkend. “Ek weet nie. Huis Winterrus is tog ’n strandhuis. Wanneer ’n mens by die see woon, het jy nie behoefte aan ’n vakansie nie.”
“Veral as jy vir ’n salaris moet werk, ’n siek pa moet verpleeg en terselfdertyd ’n duisend takies in die huis moet verrig omdat jy vier loseerders het om gelukkig te maak,” sê tant Engela en kyk na Lelani asof sy haar uitdaag om haar te weerspreek.
“Oom Giepie het oor my geskinder,” sê sy geraak.
“Die waarheid is nie skinder nie, kind. Ek het Giepie uitgevra en ek glo hy het my eerlike antwoorde gegee. En al het hy my nie vertel nie, het ek oë in my kop. Jy woon langs die see, maar wanneer laas was jy op die strand? Jy is bleker as ek en veels te maer. Die lewe bestaan nie net uit werk nie, Lelani.”
“Ek weet, maar… my stiefpa was altyd bang dat ons ons loseerders sou verloor en dat hy dan geen inkomste sou hê nie. Dis waarom ek Abigail gehelp het om hulle verblyf hier so aangenaam moontlik te maak. Tant Charity en tant Patience was so lief vir vars blomme in hulle kamers en spesiale tee en koek waarvoor Abigail nie tyd gehad het nie. Die liewe oom Barend kon nie genoeg van soetgoed kry nie. Vanselfsprekend het ek Abigail gehelp waar ek kon,” vertel Lelani onwillig.
“En nou het jy ’n sorgelose vakansie nodig,” sê tant Engela met finaliteit.
“Ek is daaraan gewoond om besig te bly, tannie,” maak Lelani halfhartig beswaar.
“Jy sal nie ’n mens wees as jy nie ook ’n slaggie bederf wil word nie, Lelani. Kom saam met my Stadlerheim toe en hou net ’n rukkie lank vakansie. As Roland werklik vir jou so ’n doring in die vlees is, kan ek en jy saam elders gaan vakansie hou.”
“En Roland dan? Tannie het gesê hy is ’n hanslam. Hy sal agter ons aankom,” sê Lelani vies.
Tant Engela lag hartlik. “Dis waarom die knaap in sy spoor sal trap, want hy is verlore sonder my.” Haar uitdrukking versomber. “Moenie Roland te kras oordeel nie, Lelani. Hy het eenkeer liefgehad en bitter seergekry. Maar selfs die diepste wond genees die een of ander tyd.”
“Maar die letsels bly,” sê Lelani en tant Engela bly haar ’n antwoord skuldig.
Oom Giepie kyk gesteurd op toe Roland die studeerkamer binnekom en onseker bly staan. “Wat is dit nou weer, vent? Het Engela vir my gelieg? Is jy nie ’n bedrywige boer met meer as een plaas om jou uit die kwaad te hou nie?” vra hy vyandig.
“Ek is, ja, maar tant Engela het vir mý gelieg. Toe ek vroeër vandag gebel het, het sy my laat verstaan sy is op pad terug huis toe. Maar sy het nooit opgedaag nie. Ek het besef sy het óf besluit om hier te bly, óf ’n ongeluk met haar motor gehad. Dis waarom ek teruggekom het. Skort daar iets met haar motor, oom Giepie? Ek merk dit staan nie meer voor die deur nie.”
“Dis omdat ek dit in die motorhuis geparkeer het toe Engela laat blyk het dat sy hier gaan bly totdat ons saam na Stadlerheim toe kan gaan,” antwoord oom Giepie kortaf. Hy haal ’n boek uit die boekrak en lees die titel voordat hy dit in ’n krat pak.
“Dan is oom vasbeslote om na Stadlerheim toe te kom?” vra Roland bot.
Oom Giepie haal sy pyp, wat onaangesteek in die regterhoek van sy mond vasgebyt is, uit sy mond, rig homself tot sy volle lengte op en betrag Roland deur geskreefde oë. “Kyk, mannetjie, ek is volkome bewus daarvan dat een van jou voorouers die stigter van Stadlerheim is. Maar as ek die politiek reg verstaan, is ons land ’n demokrasie. Elke man is vry om te kom of te gaan soos hy wil, selfs om die dwase besluit te neem om hom op Stadlerheim te gaan vestig. Moontlik beskou jy jouself as die ongekroonde koning van Stadlerheim, maar ek twyfel of jy kan verhoed dat ek en Lelani daar gaan woon.”
“Doen dit dan, maar kry elders verblyf. Die Stadlerheimhotel behoort aan my. Ek is bereid om julle gratis inwoning te gee as julle besluit om daar tuis te gaan,” sê Roland koud.
“En as ons ’n privaat woning sou verkies?” vra oom Giepie, sy blik skerp op Roland.
“Ek besit heelwat huise wat ek verhuur. Ek het op die oomblik huurders in al die huise, maar as julle een van die huise wil hê … Julle kan in my hotel woon totdat die huidige huurders die huis kan ontruim.”
“Kry ons die huis present?”
“Ja. Julle kan daarin woon so lank as wat julle op Stadlerheim bly.”
Lag steek ’n vuurtjie in oom Giepie se oë aan, maar sy gesigsuitdrukking bly ernstig. “Dis uiters groothartig van jou, kêrel. En onnosel. Hoe verwag jy om elke jaar ryker te word as jy gratis losies aan hulpbehoewendes soos ek en Lelani gee?”
“Ek weet nie wat oom se finansiële posisie is nie, maar Lelani is beslis nie hulpbehoewend nie.”
“Nou waarom probeer jy die rol van die welsyn oorneem, knaap?”
“Omdat ek my privaatheid hoog op prys stel,” snou Roland, bewus van die vonkeling in oom Giepie se oë.
“En dis jou enigste rede?” vra oom Giepie met bedrieglike vriendelikheid.
“Is daar ’n ander rede?”
“Ja, Roland. Jy is bang – vrekbang. Bang vir ’n meisie wat langs jou op ’n bliktrommel gesit en huil het; bang om te lewe.”
“Lelani het oor die trommel geval. Ek het haar gehelp, dis al,” sê Roland verontskuldigend, maar ’n donker gloed kruip oor sy nek en gesig.
“Dis nie in jou aard om enige meisie te help nie. Miskien toe jy jonger was, maar nie vandat jy die letsel op jou wang gekry het nie.”
“Wat weet oom van die letsel? Wat het tant Engela vir oom en Lelani van my verlede vertel?” vra Roland skerp.
“Net vir my, want Lelani het geslaap. Ek het oor die letsel uitgevra. Dis ’n lelike letsel. Jy is ’n ryk man. Ek was verbaas dat jy nie vir plastiese chirurgie gegaan het nie. En toe het Engela my vertel dat dit ’n letsel van die enigste liefde in jou lewe is en dat jy verkies om dit so te laat. Dis al.”
“Ek begryp,” sê Roland en ontspan merkbaar.
“Dis ’n handige ding, so ’n letsel. Dis iets sigbaars om aan vas te klou. Maar jy het daarvan vergeet toe Lelani oor die trommel val. En dis wat jou vrekbang maak, nè, Roland? Jy het lank genoeg van die letsel vergeet om ’n wildvreemde meisie te troos. Jy moet tot elke prys verhoed dat dit weer gebeur, daarom moet jy Lelani op ’n afstand hou, selfs al kos dit jou harde kontant,” kom dit spottend van oom Giepie.
Roland pers sy lippe hard saam, sy oë borend in dié van oom Giepie. “Ek kan oom nie verhoed om oom se eie belaglike idees te glo nie, maar as oom ’n man met ’n tikkie trots is … Oom is nie welkom in Huis Daeraad nie – nie oom of Lelani nie. Sien oom kans om in ’n huis in te trek waar oom nie welkom is nie?”
“Trots.” ’n Glimlag vee oor oom Giepie se lippe. “Mense glo graag dat trots ’n goeie eienskap is, maar op my ouderdom besef ek: trots kan ’n mens eensaam maak.”
“Wat bedoel oom daarmee?”
“Presies wat ek sê. Trots gaan my nie verhoed om Lelani gelukkig te maak nie. Ek het gesien hoe sy haar sewe jaar lank afsloof ter wille van ’n hartelose, selfsugtige stiefpa. Selfs toe sy universiteit toe is, moes ek haar naweke gaan haal, want daar was vir haar werk in Huis Winterrus. Gedurende Desember het Abigail haar jaarlikse verlof geneem en Lelani moes die hele huishouding op haar smal skouertjies neem. Sy het –”
“As sy ’n lang vakansie nodig het,” val Roland hom gretig in die rede, “is ek bereid om daarvoor te betaal.”
“Swaai nog een maal jou tjekboek onder my neus rond, vent, en ek druk dit in jou keel af!” bars oom Giepie uit. “Verduiwels, man, jy is nie die enigste mens met ’n paar rand in die bank nie. Ek kan bekostig om die dogter met vakansie te neem, maar hoe sal dit lyk? Ek is ’n man van vyf-en-sestig en sy is ’n blote kind van twee-en-twintig, maar sy is ’n beeldskone meisie en ek is ’n man. Wat maak dit saak dat sy vir my soos ’n eie dogter is? Niemand sal glo dat ’n ou man geld op ’n jong meisie spandeer sonder dat hy iets in ruil verwag nie.”
Roland skraap sy keel. “Dis seker waar,” sê hy ongemaklik.
“Dit ís waar! Dis waarom ek die hemel dank dat jou tante uit die bloute hier opgedaag het om ma te speel vir die dogter. Lelani gaan nie net ’n nuwe tuiste hê nie, sy kry ook ’n nuwe moeder present wat haar al die liefde sal gee wat sy al die jare moes ontbeer het.”
Roland maak ’n ergerlike handgebaar. “’n Meisie van Lelani se ouderdom het nie ’n ma nodig nie. Arno Greyvenstein was hier toe ek hier aangekom het. Hy en Lelani het gesels. As sy met hom trou …”
“Die vervloekte muishond!” ontplof oom Giepie toornig. “Waarom het jy my nie kom roep nie? Ek brand al lankal om hom met ’n sambok by te kom.”
“Waarom? Is hy en Lelani nie goed bevriend nie?”
Oom Giepie staar hom minagtend aan. “As Lelani se trane jou nie kon oortuig nie, sal ék dit nog minder regkry. Trap, vent. Ek het werk om te doen.”
“En ek sal oom help,” sê hy en trek sy baadjie uit. Hy kyk na oom Giepie, merk die onverbiddelike uitdrukking op sy gelaat en voeg onseker by: “Asseblief, oom.”
“Klim dan op die leer en pak solank die boeke van die boonste rakke af,” beveel oom Giepie en keer sy rug op hom.
Lelani rol rusteloos in haar bed rond, spring ongeduldig op en loop na haar kamervenster. Sy skuif die gordyne oop, staar oomblikke lank na die maanverligte tuin en maak die venster oop.
Sy kon vannag in een van die voorste slaapkamers geslaap het, dink sy, ’n wrang glimlaggie om haar lippe. Na al die jare kon sy in ’n ruim slaapkamer met ’n uitsig oor die see geslaap het, want tant Charity en tant Patience en oom Barend het nie meer die kamers nodig nie. Maar die klein kamertjie naas die kombuis is reeds sewe jaar lank haar tuiste, haar persoonlike koninkrykie. Sy sal verlore voel in die groot slaapkamers – ’n vreemdeling in haar ouerhuis.
Nee, Yvette Boonzaaier se huis. Vreemd om te dink dat Yvette haar stiefsuster is. Sy sal met die beste wil ter wêreld nooit van Yvette kan hou nie. Wat sien Roland in …? Haar gedagtes stol. Sy het haarself ’n uur gelede voorgeneem om nie weer aan Roland Stadler te dink nie, want hy is die rede vir haar slapeloosheid. Roland kan dit nie duideliker laat blyk dat sy en oom Giepie nie welkom sal wees in Huis Daeraad nie, maar oom Giepie is skielik so dikvellig soos ’n renoster.
Sy gaan nie vannag slaap nie, dink sy, stap na haar klerekas en haal ’n sweetpak uit. Sy verklee haastig in die donker en sak op haar knieë neer om na haar seilskoene onder in die kas te soek.
“Lelani!”
Die dringende fluisterstem laat haar ’n oomblik lank versteen. Dan draai sy haar kop stadig na die oop venster toe en ervaar ’n prikkie vrees toe sy ’n donker gestalte vlak langs haar venster sien staan. Wie kan dit wees? wonder sy. Met die maanlig van agter is dit onmoontlik om sy gesig te herken. Sy meet met haar oë die afstand na haar toe kamerdeur en kyk weer na die venster. Al die voorste slaapkamers het diefwering voor die vensters, maar haar stiefpa het besluit dat dit ’n vermorsing van kosbare kapitaal sou wees om diefwering voor haar kamervenster en die vensters van die spens en die kombuis aan te bring. Al wat nodig was om die loseerders se besittings te beskerm, was om snags die gangdeur gesluit te hou …
“Lelani! Dis ek, Arno. Asseblief, my meisie, ek moet met jou praat,” kom die fluisterstem weer.
Lelani voel hoe haar vrees uit haar dreineer om plek te maak vir ’n witwarm woede. Sy kan gillend om hulp roep, maar oom Giepie en tant Engela het tot byna middernag gewerk. Dit sal gemeen wees om hulle wakker te maak, bloot om van ’n olierige vent soos Arno Greyvenstein ontslae te raak, besluit sy, tel haar seilskoene op en kom stadig orent.
“Trap, Arno! As ek om hulp roep, is jy kniediep in die moeilikheid,” dreig sy.
Hy lag gedemp. “Wie gaan jou hoor, my liefste? Ek hou al die hele nag die huis dop. Ek weet jou mense slaap almal in die voorste kamers.”
“My kamer is nie klankdig nie. Een skree en –”
“En ek klim deur die venster,” val hy haar waarskuwend in die rede. Hy sug hoorbaar en vervolg op pleitende toon: “Ek het nie kom rusie maak nie, Lelani. Ek wil ook nie dreigemente rondslinger nie. Jy ken my tog. Al wat ek vra, is dat jy saam met my ’n entjie gaan stap … iewers waar ons ongesteurd kan gesels.”
“Ek is twee-en-twintig, nie twee nie. Ek ken jou onsmaaklike reputasie,” sê sy, haar stem skor van weersin.
Sy hoor hoe hy sy asem skerp intrek. “Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek ooit ’n meisie gedwing het om enigiets teen haar sin te doen nie,” sê hy geraak.
“Moontlik omdat meisies jou so graag jou sin gee,” spot sy.
“Is jy nou regverdig?” vra hy verwytend. “Ek het jou vanmiddag vertel hoe ek oor jou voel – hoe ek reeds jare lank oor jou voel. Ek het jou Estelle se verloofring gewys. Dink jy ek het gelieg?”
“Jy laat my lag, Arno,” antwoord sy en beweeg ’n paar treë nader aan hom, bang dat sy die huismense sal wakker maak as sy te hard praat. “As jy my so onsterflik liefhet, waarom het jy my nie jare gelede daarvan vertel nie?”
“Hoe kon ek? Toe jy op skool was, is jy nooit toegelaat om saam met seuns uit te gaan nie. Daarna is jy universiteit toe. Die paar keer wat ek jou op die dorp raak geloop het, was daardie ou oom altyd saam met jou.”
“Ons het ’n telefoon,” sê sy, haar stem swaar van ongeloof.
“Ek weet julle het! Ek het ’n paar keer gebel, maar ’n meneer Taljaard het elke keer geantwoord en gesê jy is nie beskikbaar nie.”
Dis tipies van oom Giepie, dink sy met ’n innerlike glimlag. “Ek moes my stiefpa verpleeg.”
“Ek het dit besef, daarom was ek geduldig. Ek het geweet daar was nie ’n ander man in jou lewe nie; ek kon dit bekostig om te wag.”
“En terwyl jy geduldig op my gewag het, het jy aan Estelle Havenga verloof geraak?” vra sy onthuts en wonder of sy Arno in sy gesig moet uitlag en of sy hom moet bejammer.
“My ma het my gedwing om aan die meisiemens verloof te raak! Ek het skuld gehad en… wel, my pa kon my nie help nie. Hy het ’n beroerteaanval gekry en van sy beloftes vergeet.”
“Dobbelskuld?”
“Nee! Om liefdeswil, Lelani, waarom glo jy ek is alles wat sleg en boos is? Ek het ’n motor gekoop. My pa was heeltemal gewillig om vir my geld voor te skiet, maar toe kry hy ’n beroerteaanval. Ek wou nie die motor verloor nie, daarom het ek my ma gevra om my te help.” Sy hoor die ondertoon van bitterheid in sy stem toe hy voortgaan: “My ma was alte gewillig, maar sy het haar pond vleis geëis: sy sou my help op voorwaarde dat ek aan Estelle verloof raak.”
“Goed, ek glo jou, maar dit verander niks aan die situasie nie, Arno. Ek het jou nog nooit liefgehad nie en ek is –”
“Jy het my nog nooit geken nie,” val Arno haar in die rede. “Asseblief, Lelani, klim deur jou kamervenster en kom stap saam met my langs die see. Ek beloof jou ek sal nie aan jou raak nie.”
“Ek stel nie belang nie, Arno. Goeienag,” groet sy beslis. Hy huiwer, sy oë op haar gesig, swaai sy been onverwags oor die vensterbank en klim deur die venster.
“Arno, nee!” roep sy ontsteld uit en retireer vinnig na haar kamerdeur.
“Nie so haastig nie!” sis hy en gryp haar aan die arm. Hy ruk haar met ’n ruheid wat uit frustrasie gebore is nader en hou haar aan haar boarms vas. “Al wat ek vra, is dat jy na my luister, Lelani. As jy weet wat ek ter wille van jou moes deurmaak … Eers was dit Estelle se trane en daarna my ma se histeriese gekyf en geskel. Sy het gedreig om my te onterf en moontlik sal sy nog, maar dit alles …” Hy onderbreek sy sin en snak na sy asem toe die kamerdeur oopgaan en iemand die lig aanskakel.
Lelani kyk na die deur en voel die bloed koud loop in haar are toe sy in Roland se granietharde gelaat vaskyk. “Jammer,” sê hy en begin die deur agter hom toemaak.