Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 13 - Schalkie van Wyk - Страница 6
3
ОглавлениеDie uitdrukking van skok op Roland se gelaat maak plek vir ’n granietharde masker wat selfs die lig in sy oë uitdoof. ’n Man met ’n gesig uit koue rots gebeitel, dink Lelani en vergeet van haar eie skok. Is hy werklik dieselfde man wat vroeër die oggend langs haar op tant Helena Greyvenstein se bliktrommel op die sypaadjie gesit het? wonder sy verdwaas. Maar selfs toe, onthou sy, het sy die indruk gekry dat sy vir hom ’n verleentheid was, dat hy haar teen sy sin getroos het. Roland Stadler hou nie van haar nie; nee, dis erger: hy is haar vyand, hoewel sy tot nouliks twee uur gelede onbewus van sy bestaan was.
“Dit pas my nie, tant Engela,” sê hy met koue nadruk. “Huis Daeraad is my ouerhuis. Ek sal besluit wie daar woon.”
“Presies!” beaam Yvette, ’n triomfantelike lig in haar oë. “Dis werklikwaar voorbarig van tante om vreemdelinge na Roland se huis toe te nooi.”
“Hou jou mond, merrie!” snou tant Engela en rig ’n grimmige blik op Roland. “En jy, knaap, vergeet te maklik met wie jy praat.”
“Is dit nie andersom nie, tante?” vra Yvette smalend. “Die hele Stadlerheim besef dat jy jou lewe lank net die ryk Stadlers se betaalde huishoudster was. Dat jy die vermetelheid kan hê om sonder Roland se toestemming –”
Oom Giepie se regtervuis tref die tafelblad met ’n oorverdowende slag wat Yvette haar asem laat wegskrik. Hulle oë draai werktuiglik na hom en hy kom stadig orent, sy diepblou oë soos glimmende kristalle. “Ek glo, juffrou Boonzaaier,” begin hy, sy stem donker en dreigend, “dat die prokureur aan jou verduidelik het dat jy slegs Huis Winterrus van jou wyle vader geërf het?”
Yvette soek vinnig hulp met haar oë by Roland, maar hy kyk weg. Sy sluk, merkbaar ongemaklik. “Ja … ja, hy het.”
“In daardie geval: ons sal die huis binne ’n week ontruim. Intussen is jou teenwoordigheid hier vir ons almal ’n verleentheid. Wat daar verder hier bespreek moet word, is uiters persoonlik van aard. Jy is verskoon.”
“Maar … maar …” Yvette kyk weer na Roland, maar hy wend geen poging aan om haar te help nie. Sy frons vererg en gryp hom aan die arm. “Kom ons ry, my skat. Daar is niks meer vir my om hier te doen nie.”
“Jy kan in die motor wag. Soos oom Giepie reeds gesê het: ons het persoonlike sake om te bespreek,” antwoord Roland grimmig.
“Tot siens, juffrou Boonzaaier,” sê oom Giepie en laat sy groet soos ’n bevel klink.
Yvette ruk haar ken op, gluur beurtelings na tant Engela en Lelani en stap kop omhoog die vertrek uit.
Lelani staar oom Giepie aan met bewondering in haar blik. Sy het nog nooit oom Giepie so kwaad gesien of met soveel gesag sien optree nie. Uit sy gesprekke met haar het sy lankal besef dat hy ’n geleerde man is, maar hy praat nooit oor homself nie. Sy weet hy het jare lank in Johannesburg gewerk, maar wanneer sy hom gevra het wat presies hy gedoen het, het hy altyd ontwykend geantwoord. In ’n stadium het sy besluit hy is skaam om oor sy verlede te praat, moontlik omdat hy nie ’n suksesvolle sakeman soos oom Barend Stoltz was nie. Maar nou sê iets vir haar dat oom Giepie nie ’n niksbeduidende klerkie of onsuksesvolle verkoopsman was nie.
“Dankie, meneer … Giepie,” verbreek tant Engela die stilte wat op Yvette se vertrek gevolg het, ’n raaiselagtige uitdrukking in haar oë terwyl sy na oom Giepie kyk.
“Gmf,” lewer hy niksseggend kommentaar en neem weer by die tafel plaas.
“Oom Giepie Taljaard, tannie,” help Lelani haar. Sy glimlag senuweeagtig, intens bewus van Roland wat groot en donker ’n paar treë van tant Engela af staan. “Ek waardeer tannie se uitnodiging opreg, maar aangesien Huis Daeraad meneer Stadler se eiendom is … Ek en oom Giepie sal wel oor die weg kom.”
“Menéér Stadler verbeel hom graag dat hy my kan hiet en gebied omdat ek hom van jongs af bederf het, maar hy is nie die baas van Huis Daeraad nie. Sy oorlede pa en my stiefbroer, Wernich Stadler, het my lewenslange reg op Huis Daeraad gegee. Dit staan my dus vry om enigiemand te nooi om in my huis te kom woon,” sê tant Engela selfversekerd, haar blik uitdagend op die stroewe Roland.
“Waarom, tant Engela?” vra Roland met ’n ondertoon van verwyt in sy stem. “Wat soek tannie in elk geval hier? Hoe raak Yvette se erfenis tannie? Ek besef tannie hou nie van haar nie, maar is dit nodig om ’n wildvreemde meisie in ons huis in te neem bloot om Yvette te vermaak?”
“Jy glo ek het al die moeite gedoen om hierheen te kom bloot om daardie jakkalsgevreetjie te vermaak?” vra tant Engela onthuts.
“Wat anders moet ek dink?” vra hy bruusk.
“’n Man met jou intelligensie moet liewer nie probeer dink nie, boet. Maar laat ek jou uit jou ellende verlos. Ek en Lelani se moeder, Amanda Scheepers, het saam grootgeword. Ons was van jongs af boesemvriendinne en toe Amanda later met Herman Wessels getroud is, het ek en sy gereeld gekorrespondeer. Ná Herman se dood het sy verhuis en ons het kontak verloor, maar ek het ons jeugvriendskap nooit vergeet nie.”
“Dan het tannie geweet Lelani is Yvette se stiefsuster?”
“Nee, maar toe Yvette ons gister van Lelani vertel, het ek ’n paar oproepe gemaak. Dit was nie te moeilik om vas te stel dat Lelani my ou vriendin se dogter is nie. En dis waarom ek hier is: om vir Lelani te doen wat Amanda ongetwyfeld ook vir my kind sou gedoen het, as ek ooit ’n eie kind gehad het,” antwoord tant Engela rustig, ’n ondertoon van finaliteit in haar stem.
Roland kyk na Lelani en sy lees die vyandigheid op sy gelaat.
Wat ’n onaangename man, dink sy afgehaal. Sy het nogal van hom gehou toe hulle saam op die bliktrommel gesit het; sy het selfs gedink hy is ’n redelik aantreklike man op ’n duiwelse manier. Maar hy lyk nie meer aantreklik nie, net doodgewoon duiwels.
“Wie het tannie gebel?” vra Roland asof hy tant Engela se storie in twyfel trek.
Tant Engela sug ongeduldig. “Daar is slegs twee prokureurs op Sekelbaai. My tweede oproep was suksesvol: ek het met meneer Kritzinger gepraat en al die nodige inligting gekry.”
“O.” Hy sluit sy lippe in ’n harde lyn en staar Lelani fronsend aan. “Jy het klaar besluit om my tante se uitnodiging te aanvaar, juffrou Wessels?” vra hy misnoeg.
Lelani kyk hom met ’n tikkie minagting aan. “Ek het, ja, maar dit was voordat ek geweet het dat jy ook in Huis Daeraad woon.” Sy wend haar na tant Engela. “Ek is bly ek kon tannie leer ken en ek is dankbaar vir tannie se uitnodiging, maar in die omstandighede verkies ek om saam met oom Giepie elders ’n heenkome te vind.”
“Snert!” rasper oom Giepie se stem. “Juffrou van Jaarsveld het reeds gesê daar is ’n moderne hospitaal op Stadlerheim. Jy sal maklik ’n betrekking as hospitaalsuster kry, Lelani.” Hy kyk na tant Engela, ’n woordelose uitdaging in sy oë. “Is die woonstel bo-op die stal darem ruim en gerieflik, juffrou Van Jaarsveld?”
“Oom Giepie, nee!” protesteer Lelani verwytend.
“Ruim, gerieflik en modem. En ek is ’n uitstekende kok. Jy kan jou etes saam met my en Lelani en Roland in die groot huis eet, meneer Taljaard,” antwoord tant Engela en flits ’n boodskap van dankbaarheid met haar oë aan oom Giepie.
“Ek hou van bak en brou. As oujongkêrel het ek lankal geleer om vir myself kos te maak,” sê hy knorrig.
“Maar, oom Giepie …!” Lelani klink na aan trane. “Oom het beloof om my nie in die steek te laat nie, maar as oom na Stadlerheim toe gaan …” Sy swyg en gluur Roland nydig aan.
“Ek sal my intrek in die woonstel neem. Dan kan tannie na hartelus tannie se nuwe vriende verblyf in Huis Daeraad gee,” sê Roland grimmig.
Oom Giepie, wat sy pyp begin stop het, kyk stadig op en betrag Roland met spottende minagting. “Hoe oud is jy, kêrel?”
“Vyf-en-dertig,” antwoord hy bot.
“’n Ou man. Lelani is ’n beeldskone kind van twee-en-twintig. Sy het reeds meer as een huweliksaanbod van die hand gewys … en hulle was almal van jong, aantreklike mans. Jy, kêrel, is vinnig op pad na jou middeljare. Boonop is jy ’n onbeskofte buffel. Lelani sal nie twee maal na jou kyk nie, want die dogter het goeie smaak,” sê oom Giepie verpletterend.
’n Purperrooi gloed skuif oor Roland se gelaat, maar die volgende oomblik is sy gesig doodsbleek, sy hande in vuiste langs sy sye gebal.
“As jy aan my oom Giepie raak, gee ek nooit weer jou sakdoek terug nie,” sê Lelani vinnig.
Roland swaai na haar, iets soos ongeloof op sy gelaat, en ontspan merkbaar. Belaglike kind, dink hy. Asof hy omgee wat van sy sakdoek word. Maar sy is net ’n kind, besef hy en voel verlig. Hy is altyd op sy hoede in die geselskap van ’n ervare vrou soos Yvette, maar Lelani is so deursigtig soos glas. Hy het niks van haar te vrese nie.
“Roland …” Tant Engela se stem pleit. “Ek gaan jou nie graag teë nie, hartjie, maar ek sal soveel gelukkiger voel as jy instem dat Lelani by ons kom woon.”
“Dis tannie se huis ook. Ek is selde indien ooit bedags tuis. As Lelani vir tannie geselskap sal wees, is alles in die haak,” antwoord hy gerusstellend.
“Dankie, boetie … baie dankie,” sê sy innig.
“Dan ry ek nou. Yvette het lank genoeg op my gewag.” Sy blik swiep nikssiende oor oom Giepie en Lelani. “Tot siens,” groet hy bruusk en stap die vertrek uit.
“Versigtig ry, Roland!” roep tant Engela hom agterna en staan op. “Kan ek jou help inpak, Lelani?”
“Dis nie ’n geval van inpak en ry nie, juffrou Van Jaarsveld,” sê oom Giepie ongeduldig. “Lelani het al die meubels, silwer- en porseleinware geërf. Daar is ook enkele skilderye wat heelwat werd is. Wat die dogter nie verkoop nie, sal elders gestoor moet word.”
“Huis Daeraad,” sê tant Engela ingenome. “Daar is oorgenoeg stoorplek op die solder. Maak net ’n lysie van die dinge wat jy na Stadlerheim toe wil laat bring en ek sal reëlings vir die vervoer daarvan tref, Lelani.”
“Ek sal dit doen, nie jy nie, juffrou Van Jaarsveld,” kom dit beslis van oom Giepie. Hy glimlag deernisvol met Lelani wat lank agter haar hand gaap. “Ek sal Abigail vra om jou ontbyt na jou kamer toe te bring, ounooi. Klim solank in die bed. Jy het gister ook bitter min slaap gehad.”
“Al die ontsteltenis … Ek het nie besef hoe vaak ek is nie.” Sy glimlag verskonend, haar blik op tant Engela. “Ek werk nagdiens, tannie. As ek tannie nie weer sien nie: dankie vir die vriendelike uitnodiging. Sodra ek en oom Giepie die saak deeglik bespreek het, sal ek tannie laat weet wat ek besluit het. Tot siens, tannie.”
“Ek glo meneer Taljaard het reeds namens jou besluit, Lelani. As ek jou nie weer sien nie: tot siens, my kind.” Sy kom nader, soen Lelani op die wang en gee haar ’n ligte drukkie voordat sy haar laat gaan.
“Sit, juffrou Van Jaarsveld. Abigail sal nou vir ons tee bring,” sê oom Giepie en gaan saam met Lelani die gang binne.
Tant Engela bly staan en haar oë is nie op Lelani nie, maar op oom Giepie se lang, regop figuur. Haar lippe vorm ’n woord, maar sy bêre die klank in haar hart.
Yvette leun ontspanne terug teen die leerrugleuning van die motorsitplek en draai effens skuins om na Roland te kyk. Verbeel sy haar, of lyk hy stroewer as gewoonlik? vra sy haarself af. Nie dat sy hom verkwalik nie. Tant Engela van Jaarsveld se voorbarige optrede het selfs háár asem weggeslaan.
“Ek hoop jy het die ou vrou behoorlik op haar plek gesit, my skat,” sê Yvette met ’n glimlag van genoegdoening.
“Ou vrou?” vra hy, sy stemtoon ysig.
“Jou hoflikheid is soms ’n irritasie, Roland. Ek verwys na ou Engela van Jaarsveld. Wat ’n inmengerige oumens! Wie het haar die reg gegee om agter ons aan te ry? Eerlikwaar, vandag se bediendes –”
“Dis genoeg, Yvette,” val hy haar in die rede, ’n wit streep van woede om sy lippe. “Tant Engela was in geen stadium ’n bediende in ons huis nie. Toe my ma dood is, het sy op versoek van my pa – en uit die goedheid van haar hart – haar pos as onderwyseres bedank en ingestem om my groot te maak en terselfdertyd die huishouding waar te neem. Vir my is sy soos ’n tweede ma. Onthou dit asseblief wanneer jy oor haar praat.”
“Jou tante was ’n onderwyseres?” vra Yvette oorbluf.
“’n Hoërskoolonderwyseres. Sy het Wiskunde en Wetenskap gegee.” Sy lippe vertrek wrang. “Jy was te lui om jou graadstudie te voltooi.”
“Ek verpes akademiese snobs. Tant Melinda het gesê ek het nie ’n graad nodig nie. My opvoeding het bestaan uit my besoeke aan Europa,” antwoord sy geraak.
“Jy bedoel jy het al die kunsmuseums en geskiedkundige plekke besoek?” vra hy, sien haar bloos en lag sonder humor. “Vakansies oorsee verbreed slegs ’n mens se kennis as jy op ’n studiereis is. Tant Engela is ’n belese vrou. Ek twyfel nie daaraan dat sy jou meer oor Europa kan vertel as wat jy na jou groot aantal besoeke weet nie.”
“Is dit nodig dat ons oor jou tante rusie maak?” vra sy pruilend.
“Hopelik nie, maar dit hang van jou af. Geen vrou is nader aan my as juis tant Engela nie. Ek sal nie toelaat dat jy haar beledig nie.”
“Maar jy gee nie om om my te beledig bloot om die wonderlike tant Engela te beskerm nie?” verwyt sy en sluk swaar aan die woede wat in haar binneste oprank.
Sy het Roland Stadler liewer as die lewe self. Een keer was daar sprake dat hy sou trou, maar sy het gesorg dat daar niks van kom nie. Hy het ongetroud gebly en sy het geduldig gewag, want gedurende die afgelope agt jaar was sy die enigste meisie wat hy in Huis Daeraad verwelkom het. Nee, hy het haar nie verwelkom nie, maar hy het haar ten minste verdra. Sy kon aanhou hoop en wanneer haar gevoel van frustrasie te groot geword het, het sy ontvlugting gesoek in ’n oorsese vakansie. Op Stadlerheim kon sy getrou bly aan hom, maar nie in die buiteland nie … Geen meisie kan altyd lojaal bly aan ’n man wat haar nouliks raaksien nie.
“Dit was nie my bedoeling om jou te beledig nie,” sê hy onbelangstellend, sy blik op die pad.
“Nogtans … Jy was self ontsteld omdat jou tante ’n wildvreemde meisie genooi het om saam met julle in Huis Daeraad te kom woon. En dit sonder om jou eers te raadpleeg! Ek kan jou nie sê hoe geskok ek was nie.”
“Jy het meer as genoeg gesê,” sê hy wrang.
“Ek was seker beledigend, maar ek kon my eie ore nie glo nie. Ek weet hoe jy oor meisies voel, daarom …”
“Weet jy?” vra hy, ’n spottoon in sy stem.
“Moenie hare kloof nie, Roland. Ek is jou enigste vriendin, moontlik omdat ons saam grootgeword het. Almal op Stadlerheim weet dat jy nie in vroue belang stel nie.”
“Dis nie waar nie. Ek hou van vrouegeselskap, maar omdat ek nie in ’n huwelik belang stel nie, vermy ek alle hubare meisies.”
“Afgesien van my?” vra sy, haar stem laag en sensueel.
Hy kyk na haar en bars uit van die lag. “Jy amuseer my, Yvette. Jy weet hoe ek oor ’n huwelik voel, nogtans speel jy jou rol van verleidster. Het jy nog nie agtergekom ek is immuun nie?”
“Jy is en bly ’n man,” sê sy vererg.
“’n Geletselde man,” sê hy, sy stemtoon donker.
“Dit laat jou net aantrekliker lyk – amper soos ’n seerower. Is dit waar dat jy die letsel op jou wang…”
“Moenie, Yvette. Ek het jou gesê ek verdra jou geselskap omdat jy my amuseer. Maar moenie begin uitvis nie. Ek het die reg op privaatheid,” waarsku hy.
“O, wel …” Sy haal haar skouers met gedwonge sorgeloosheid op. “Ons was in elk geval besig om oor tant Engela te praat. Wat het haar besiel om ons na Sekelbaai toe te volg?”
“Lelani Wessels.”
Yvette ervaar ’n prikkie vrees in haar binneste. “Maar … ken sy my stiefsuster?”
“Sy ken haar nou. Maar jare gelede het sy Lelani se moeder baie goed geken. Hulle het saam grootgeword en hulle was boesemvriendinne. Nadat Lelani se ma getroud is, het sy en tant Engela nog gereeld gekorrespondeer. Toe jy gister Lelani se naam noem, het tant Engela dadelik aan haar ou vriendin gedink. Sy het die prokureur op Sekelbaai gebel en vasgestel dat Lelani haar ou vriendin se dogter is.”
“As ek liewer my mond gehou het …” Yvette frons en byt spytig op haar onderlip. “Wat nou, Roland? Jy het seker nie ingestem dat die meisiemens haar intrek in Huis Daeraad neem nie?”
“Ek het nie ’n keuse gehad nie.”
Sy snak hoorbaar na haar asem en haar gelaat word onnatuurlik bleek. “Nee! Huis Daeraad is jou erfenis. Om liefdeswil, Roland, wat gaan die dorpenaars sê as ’n jong meisie saam met jou onder dieselfde dak woon?”
Hy lag weer, maar dié keer is sy lag sag, spottend. “Jy kan tog so skokkend kuis wees, Yvette. Jy, van alles mense!”
“Wat bedoel jy daarmee?” vra sy skerp.
“Ek ken jou. Ek glo ek ken ook reeds Lelani Wessels. Sy hoef nie voor te gee nie; sy ís preuts.”
“Dan kom sy definitief na Stadlerheim toe?” vra Yvette en vrees maak haar kortasem.
“Ek weet nie. Dis ’n saak tussen haar en tant Engela. Dit raak my in elk geval nie, want ek het oorgenoeg om myself vier-en-twintig uur per dag besig te hou. Onthou, Gunterland is nie my enigste plaas nie,” antwoord hy onverskillig.
“Maar jy kon jou tante belet het om …”
“Ek kon nie,” sê hy voordat sy haar sin kan voltooi. “Volgens my pa se testament het tant Engela lewenslange reg om in Huis Daeraad te woon. Ek kan haar beslis nie verbied om ’n vriendin huisvesting te bied nie. Om die waarheid te sê, ek glo dit sal vir tant Engela aangenaam wees om geselskap te hê. Sy is ’n regte huishen en sy gaan kuier nie graag elders nie. Met Lelani en oom Giepie daar sal sy nie meer eensaam wees nie.”
“Oom Giepie? Daardie ou man met die onwelriekende kromsteelpyp?” skril Yvette.
“Ek glo ons verwys na dieselfde man,” antwoord hy droog.
“Ek hou nie daarvan nie. Ek hou beslis nie daarvan nie,” kom dit nydig van Yvette. Roland swyg en sy staar broeiend deur die voorruit. Sy het haarself wysgemaak dat Roland die afgelope paar maande teenoor haar ontdooi het, maar nou … ’n Meisie wat dag en nag saam met hom onder dieselfde dak woon, het ’n onregverdige voorsprong op haar. Op die een of ander wyse moet sy van Lelani Wessels ontslae raak – maar hoe?
Tant Engela lê haar hand op die silwerteepot en vra met kille hoflikheid: “Nog ’n koppie tee, meneer Taljaard?”
Oom Giepie kyk op, ’n tikkie uitdaging in sy besondere blou oë. Hy wag totdat tant Engela onwillig in sy oë kyk en sê nadruklik: “Nee, dankie, Engela.”
Die teepot ruk in tant Engela se hand en sy sit dit haastig op die skinkbord neer. Haar blik fladder soos skoenlappers deur die ruim vertrek en haar asemhaling is vlak. Dan bring sy haar emosies met ’n byna merkbare poging onder beheer, sit meer regop en kyk oom Giepie reg in die oë. “Dan het jy tog nie vergeet nie, Gerhard?” vra sy gedemp.
’n Skaduglimlag flits om sy mondhoeke. “Net so min as wat jy vergeet het. Jy het my altyd Gerhard genoem, omdat Giepie jou aan ’n mankoliekige ou man herinner het. Maar dit was veertig jaar gelede. Ek is nou ’n mankoliekige ou man.”
Sy kyk in stilte na sy breë skouers, sy lenige liggaamsbou en die bekende, sterk gelaatstrekke. “Soek jy ’n kompliment?” vra sy koel.
“Nee. Ek kan die ouderdom aanvaar, maar ek kan net die jeug bewonder. Jy is ouer, Engela. Ons jeug was nie ’n immerlente nie.”
“Nee,” sê sy en slaan haar blik neer.
“Ek het in die somer van my lewe gedroom – oor jou, oor my, oor ons twee. Ek het die kinders gesien wat ons nooit gehad het nie. Ek het na jou hand gesoek, maar dit was nie daar nie. Dit was ’n leë somer, afgesien van my drome.”
Sy kyk op en staar hom in stilte aan, die skerfstukke van haar eie droom soos stukkies pyn in haar oë. “Moenie, Gerhard,” pleit sy, die stilte van ’n gebed in haar woorde.
“En toe kom die herfs. Jy onthou die najaar op die plaas? Die blare verkleur en val af. Drome verkleur ook, Engela. As ’n mens lank genoeg wag, word drome soos droë blare in die wind …”
“Jy … jy kon nooit verstaan nie,” sê sy, haar stem skor van ongestorte trane. Waarom wil sy huil? vra sy haarself af. Drome sterf. Haar droom het gesterf. Waarom kon die pyn nie saam met haar droom sterf nie?
“Nee, Engela, ek het maar alte goed verstaan. Jy het gesê jy het my lief, maar dit was net leë woorde. Liefde gee alles … álles. Maar jy kon nie gee nie.”
“Nee!” krys sy, haar stem bewend. “Nee, Gerhard, nee. Ek was die enigste dogter en my ma het my nodig gehad. Ek kon haar nie in die steek laat nie – ek kón nie! As jy net ’n paar maande geduldig kon wees …”
“Ek het ’n beurs gekry om in Engeland te gaan studeer. As ek om uitstel gevra het, het ek die beurs verbeur. Jy het dit geweet; jou ma het dit geweet en jou aangemoedig om met my te trou. Sy het besef my verdere studie was belangrik vir ons toekoms, maar jy … Jy moes kies tussen die weelde en gerief van Huis Daeraad en die armoedige bestaan van ’n student se vrou in die vreemde. En daar was jou stiefbroer, Wernich Stadler. Jy het –”
“Dis genoeg, Gerhard! Jy weet nie waarvan jy praat nie!” val tant Engela hom ontsteld in die rede. “Daar was nooit sprake van ’n verhouding tussen my en Wernich nie. Ons het saam grootgeword. Vir my was hy soos ’n eie broer.”
Oom Giepie lag sonder humor. “Jy verwag dat ek jou moet glo, Engela?”
“Nee, maar ek weet wat die waarheid is. Ná my ma se dood het ek op Worcester gaan skoolhou. Wernich is met Alana Prinsloo getroud. Jy weet van haar, want jy het haar ook geken.”
“Het ek haar nie geken nie,” antwoord hy met ’n bitterheid wat tant Engela hom vreemd laat aanstaar.
Hy hou aan swyg en sy vervolg: “Alana was nooit sterk nie, maar totdat Roland gebore is, het ons nie besef sy het hartprobleme nie. Sy is dood toe Roland vier jaar oud was.”
“En jy het teruggedraf na Wernich toe?” vra hy en sy eie pyn maak sy woorde brutaal.
“Alana het in my arms gesterf. Sy het met haar laaste asem gepleit dat ek Roland moet grootmaak. Ek kon nie my belofte aan ’n sterwende vrou verbreek nie.”
“Die vrou van beloftes.” Oom Giepie se lippe probeer glimlag, maar sy glimlag word ’n pyntrek van bitterheid. “Hoe goed onthou ek nie ons laaste gesprek nie. Ek het gepleit, letterlik op my knieë gestaan, maar jy het ’n belofte aan jou oorlede ma gemaak: jy sou nooit toelaat dat sy deur vreemdelinge verpleeg word nie.”
“Sy was ’n invalide … so hulpeloos,” bied tant Engela halfhartig verweer.
“En wie se skuld was dit? Het jy haar gevra om ’n wilde perd op te saal en soos ’n besetene op die plaas rond te jaag? Nee, jy het nie. Die perd het haar afgesmyt en sy het gekry waarna sy gesoek het.”
“Gerhard, nee! My moeder was volkome verlam. Sy kon net haar oë beweeg en praat – sy, ’n aktiewe, lewenslustige vrou wat nooit ’n halfuur lank stil kon sit nie. Toe sy haar bewussyn in die hospitaal herwin, het ek gevrees die skok van haar beserings sou haar verstand aantas. Dis waarom ek beloof het om haar te versorg en om haar nooit aan vreemdes oor te laat nie. Maar sy wou nie lewe nie. Sy was verlam, maar sy was nie werklik siek nie. Sy het gesterf omdat sy nie die lewe van ’n hulpelose invalide kon aanvaar nie.”
“Die nuus het my in die buiteland bereik. Nouliks twee maande ná my vertrek is jou ma dood. Tweede maande. Jy het twee lewens vernietig ter wille van twee maande, Engela.”
Sy aarsel, haar oë pleitend op sy gelaat. “Ek vra nie dat jy my moet vergewe nie, Gerhard, maar nadat jy destyds weg is … My ma het soos ’n kind gehuil. Nie oor jou of my nie, maar omdat ek besluit het om by haar te bly. Sy het geweet sy sou sterf, maar sy was net ’n mens – bang soos enige mens vir die onbekendheid van die dood. En dis wat ek in haar oë gesien het toe sy die dag aan jou gesê het dat sy nie sal omgee as ons trou nie. Dis waarom ek tot aan die einde by haar moes bly.”
Oom Giepie stop sy pyp in stilte, steek dit aan en teug ’n paar maal. “Jy kon ná haar dood na my toe gekom het,” sê hy, sy blik op die westelike venster, sy oë starend na die deinende see.
Tant Engela maak haar mond oop asof sy hom wil antwoord, maar hy merk dit nie en sy swyg.
Hy draai sy kop stadig na haar toe. “Dit was Wernich wat jou hier gehou het,” sê hy, sy stem sonder verwyt.
Asof sy genoeg verduur het, skuif tant Engela haar stoel met ’n ongeduldige gebaar agteruit en staan op. “Dis verby, Gerhard. Ons gisters is vergete spore in die sand. Maar jy het ’n belofte aan Lelani gemaak. Jy kom saam met haar na Huis Daeraad toe. Ter wille van haar vra ek jou om te vergeet dat ons mekaar in ons jeug geken het.”
Oom Giepie kyk haar in stilte aan, sy oë effens geskreef teen die blou rookdampe. “Lente, somer, herfs … Die winter het ons ingehaal, Engela. Ek weet nie vir hoe lank nie, maar ons sal saam kuier in die winter. Onthou net om my Giepie te noem.”
“Jy lyk nie soos ’n Giepie nie,” sê sy koppig.
“Glo my, ek voel soos een.” Hy glimlag onverwags. “Maar dalk verstaan ek tog. Want kyk ek na jou, sien ek ons lente saam. Dis jou oë, Engela. Jy het die winter gekul, want daar is lente in jou oë.”
In ’n winter van hartseer en verlange in my hart, dink tant Engela en pak die teegerei metodies terug op die skinkbord.
Lelani steek in die sitkamerdeur vas en staar verwonderd na tant Engela, wat met ’n geleende voorskoot van Abigail aan, besig is om die inhoud van die vertoonkas sorgvuldig in ’n houtkrat te pak.
Sy tree haastig nader en sê skuldig: “Dis nie nodig dat tannie die pakwerk doen nie. Ek en oom Giepie sal vir alles sorg.”
Tant Engela kom uit ’n gebukkende houding orent en glimlag met haar. “Bog met jou, ou kindjie. Kosbare porseleinware soos dié laat ek nie aan meubelvervoerders oor nie. Giepie het vir my die kratte gebring. Hy is besig om die boeke in die studeerkamer in te pak.”
“Maar dis nie reg nie! Ek lê heerlik en slaap terwyl –” protesteer Lelani.
“Ons het nie nagdiens gewerk nie,” val tant Engela haar in die rede. “Voel jy darem uitgerus? Ek glo mos ’n mens kan nie in die dag slaap nie, daarom moet jy vanaand weer vroeg gaan inkruip.”
Lelani lag spontaan. “Ek kan sien tannie was nooit ’n verpleegster nie. Slaap is slaap, maak nie saak wanneer of waar nie.” Sy swyg en vra huiwerig. “Gaan tannie hier bly totdat ons gereed is om na Huis Daeraad toe te gaan?”
“As jy nie omgee nie, Lelani. Sien, ons twee het tyd nodig om mekaar te leer ken. Ek wil nie hê jy moet soos ’n vreemdeling voel wanneer ons Stadlerheim toe gaan nie.”
Lelani byt aan haar onderlip, ’n frons tussen haar wenkbroue. “Dis iets waaroor ek …” begin sy en swyg misnoeg toe die voordeurklokkie lui. “Verskoon my, tant Engela. Dis seker weer iemand wat met my kom simpatiseer na my stiefpa se dood.”
Sy stap deur die voorportaal en maak die voordeur oop. “Nee!” adem sy, reeds besig om die deur weer toe te maak.
“Asseblief, Lelani,” pleit Arno Greyvenstein en steek sy voet tussen die deur en die deurkosyn in. “Asseblief, gee my net die kans om te verduidelik.”
Die besef dat tant Engela binne roepafstand is, laat Lelani aan Arno se versoek voldoen. Sy maak die deur oop, maar haar oë rus koud op hom. Pragtige klein Arno’tjie, dink sy venynig. Glo hy werklik sy vind sy blonde krulle en fraai, groen ogies onweerstaanbaar? Nee, nou is sy kleinlik en katterig. Arno is ’n aantreklike man, maar sy mening dat hy onweerstaanbaar is vir alle vroue, maak van hom ’n gek in haar oë.
“Praat en praat vinnig, Arno. Jou ma betaal my nie meer vir my tyd nie,” sê sy kil.
“Ek … ek het jou om verskoning kom vra, Lelani. Ek besef ek het my soos ’n buffel gedra …” Hy sluk en lyk seunsagtig jonk. “Nadat jy weg is, het ek en my ma ’n hewige rusie gehad. Ek het my verlowing met Estelle Havenga verbreek. Kyk,” sê hy en steek sy hand in sy hempsak, “sy het my verloofring aan my teruggegee.”
“En?” vra Lelani bruusk.
“Verstaan jy nie?” vra hy verwytend. “Ek het jou lief, Lelani. Ek gee nie om wat my ma sê nie, maar ek gaan met jou trou. Ek bedoel, as jy my dalk ook kan liefhê …”
Lelani kyk op toe die tuinhekkie oopgaan, sien Roland die tuinhekkie agter hom toemaak en sê vinnig: “Ek kan nie. Hier kom my verloofde juis nou aangestap.”