Читать книгу Sirkusboere - Sonja Loots - Страница 10

7

Оглавление

Nadat Frank maande lank saam met Ben gefuif en ure lank na dié se oorlogsverhale geluister het, nadat hy in die menagerie by die olifant gestaan en sy briljante ingewing gekry het, kom hy op ’n dag met ’n spoggerige perd op Palmietkuil aangery. Die perd se naam is Rovero en dit is die een ding in die wêreld waarop hy die heel trotsste is. In die dag se laaste, bedrieglike lig kom hy met ’n regop rug en ’n geverfde sirkussaal op sy swart ros daar aangery, oorgehaal om die generaal skoon dronk te slaan wanneer hy sy planne soos hase of duiwe uit sy hoed skud.

Hy kry vir Piet op sy stoep. Frank kan skaars sy oë glo. Jou wrintiewaar. Nes die mense gesê het hy sal sit, sit die arme ou drommel daar. Sy skouers is geboë, sy hande rus op sy knieë en sy smerige ou hoed lê op ’n riempiestafel langs sy stoel. Die Bybel lê oopgeslaan op sy skoot, maar hy tuur onsiende voor hom uit. Hy klap nie eens die vlieë weg nie. Ook dít was nie sommer ’n storie nie.

Palmietkuil se soutpilaar, het Ben gespot. Maar eintlik, het hy vertel, het die afsondering al op St. Helena begin. Die ou generaal is nie saam met sy manskappe in die krygskamp aangehou nie. Hy het in ’n huis aan die westekant van die eiland gebly. ’n Lelike huis met potsierlik klein vensters en ’n vervalle afdak oor die stoep. Aan die voet van ’n hoë kop het hy en sy vrou hulle eenkant gehou, omring deur bome en digte struike, altyd streng bewaak.

Aanvanklik was hy nog vol baklei. Tydens sy eerste weke in ballingskap sou jy hom nie stil in ’n stoel vang nie. Hy het skaars lank genoeg gesit om ’n koppie koffie leeg te drink of hy het dit in die piering neergeplak en opgespring. Hy het lang, kwasterige briewe geskryf waarin hy hom verontskuldig en die blaam op ander pak. Morsige briewe, vol driftige inkspatsels en gate in die papier waar hy te hard met die pen gedruk het.

“Papier is geduldig,” het Ben vir Frank gesê. “Maar hy het selfs met die papier baklei.”

Die ou swernoot, só het Ben na hom verwys, het gereeld met styfgebalde vuiste in sy baadjiesak na buite gestoom en sy manskappe onder in die krygskamp gaan groet, onder die wanindruk dat hulle hom steeds as ’n herder sien. Onderweg het hy beledigings geblaf vir die Britse soldate wat hom bewaak, in sy eie taal, hoe dan nou anders, allemagtig. Wanneer hy by die huis uitstorm, het hy die voordeur hard agter hom toegeslaan, sodat Hester se hand na haar gehawende keelvel gevlieg het van die skrik. Die oorlog, en seker ook haar man se draadwerk, het haar heeltemal losgetorring. Sy was soos ’n vormlose, uitgerafelde ding wat aan die draad wapper. Haar sinne het deurmekaar begin knoop en later het sy hulle halfgesê agter haar aangesleep. Sy het nie meer vir Piet in die bresse getree nie. Sélf sou sy nooit kwaad praat van haar man nie, maar sy het nie krag oorgehad om te keer dat ander dit doen nie. En hoewel Piet hom baie goed doof kan hou, het hy tóg later die gemorde verwyte gehoor. Agtergekom dat sy mense hom stram groet. Hy het die mantel van verworpeling met melodrama omgegooi en hom in die huis teruggetrek. In ’n stoel gaan sit en al hoe dieper daarin weggesak. Die baklei het soos ’n jakkals weggesluip, en in sy plek het swartgalligheid en selfverwyt aan Piet se hande kom snuffel.

“Wat dink die Oubaas?” het sy agterryer, ewe eensaam, soms gevra terwyl hy Piet se pype stop of sy skoene poets.

“Aan my plaas. Ek soek Palmietkuil se stof onder my pote. My stoep. My honde.”

“Ek ook, Oubaas.”

Maar Piet het nie geantwoord nie. Dalk het hy nie eens gehoor nie. Horende doof en siende blind het hy daar op die eiland geword. Die sout wat teen die huis se vensterruite aanpak, het hom nie meer gepla nie. Hy wou in elk geval nie uitkyk en sien hoe die alewige suidoostewind aan die toppe van die garingbome pluk of hoe mis van die see aangebol kom nie. Hy het nie belanggestel in die eiland se mooi strande nie. Hy het die strand geháát. Hy het gegril vir die slymerige morsels wat die see uitspoel; vir die snotterige goed op die sand; vir sponse wat in poele lê en week; vir die geroei van vinne en wiere; vir goeters wat met spriete rondtas of uit skulpsplete peul of aan rotse vassuig; vir visskubbe en meeumis en krapkak.

Hy het al hoe minder uitgekom en vasgeroes geraak in verlange na die vreemdste dinge. Nié die dinge van die see nie. Plaasdinge. Die dinge van sý plaas. Perdehaar en skaapwol onder sy palms. Die harige stingels van die malvas in die sonkamer. Ou skinkborde waarop pampoenpitte in die son lê en droog. Insekvlerke en strooihalms op die vloer as hy soggens die kombuis se onderdeur oopstoot. Die geknars van gras en stronk en van beskuitkrummels wat ’n mens met jou vinger onder uit die koekblik oppik. Die kleure van bleikaarde, modder, leer en koring.

Hy wou op sy werf wees, waar jy moet wéét wat jy doen as jy sagtheid en klamte soek. Slappap as jy laatoggend van die landerye af kom. Die olierigheid van skape se wol naby aan die dier se vel. Die diere se seemsleersnoete en die gawe gerasper van hul tonge oor jou vingerpunte. ’n Werf vol dinge wat teen mekaar skaaf en skuur omdat dit nie soutverslaan is nie. ’n Plaas met niks grilleriger as paddas en spaansriet nie.

Toe hulle hom eindelik huis toe stuur, was dit na ’n plaas wat in sy afwesigheid afgebrand en vernietig is. Van sy huis was net die fondamente oor. Op die werf het graspolle swart onder sy sole verpoeier as hy daaraan skop. Die beendere van vee het in die son lê en bleik. Die werfhonde het wild geraak in die rante en was nêrens te vind nie, al het hy ook hóé dikwels in die veld loop en soek en fluit. Sy hart het gevoel soos ’n swak gebakte baksteen wat blus onder die gewig van ’n muur.

Op Palmietkuil se stoep kon hy sien hoe die droogte dít wat hy nog oorgehad het, voor sy oë verskroei. Die lug was dor en alles was skurf en krapperig. Soms het sy neus van die hitte begin bloei en dan het hy die bloed ingedagte tussen sy duim en voorvinger gevryf. Die taai smeersels het hom herinner aan dinge waaroor hy nog nooit gepraat het nie, met niemand nie. As hy sy oë toemaak, was dit altyd weer Paardeberg. Die Boere wat hul gewere in die Modderrivier gooi, die begin van die einde. ’n Wit vlag wat opgesteek word. En dan, oral waar jy kyk, nóg wit vlae. Gemaak van geskeurde en bloedbevlekte hemde, vuil vadoeke en voorskote wat haastig aan stokke geknoop is. Oorgee-vlae gemaak uit gewone, gehawende mense se vodde.

Toe hy met sy perd op Palmietkuil aangery kom, weet Frank al hierdie dinge. Hy weet dit omdat hy maande lank soos ’n geblikte sardientjie gelê het in die sous van Ben se stories oor Piet. Hy het heeltemal deurweek geraak van alles wat hy oor Piet gehoor het, van snoet tot stert ingesout met die besonderhede van al Piet se skades en skandes. Wat hy nie weet nie, kan hy hom verbeel. Frank kan hom indink hoe Piet daar in die huis op St. Helena gesug en steun het. Hy sien in sy geestesoog hoe Piet, wanneer hy dit nie meer binne kan uithou nie, opspring en verby Deadwood-kamp stap, verby die kommissariaat waar die burgers in lang rye staan en wag vir hul daaglikse rantsoene. Frank sien hoe stap Piet lang treë met sy kort beentjies, verby die burgers wat uit perlemoenskulpe borsspelde maak vir hul geliefdes se hoë kantkragies. Hulle sit langs mekaar op leë lampoliekanne en kerf kieries met die koppe van elande, springbokke en leeus. Daar is ook kissies waaruit houtslangetjies vinnig orent skarnier as jy die deksel lig – net soos die bitterheid wat kop uitsteek wanneer Piet verbykom.

“Hier sit ons terwyl die Kakies glasskerwe vir ons kinders en weerhake vir ons vroue voer,” kla hulle. “En wie se skuld is dit?”

Piet stap verby sonder om met hulle te praat. Die burgers en die koppe van hul kieries kyk hom agterna. Sal hy strand toe stap, sy velskoene uittrek, sy broekspype oprol en sy bloubleek, eelterige voete in die vlak water gaan plant om te voel hoe die seestroom die skulpgruis onder sy sole wegsleep, bietjie vir bietjie, totdat hy nie meer sy balans kan hou nie? Nee. Hy het niks vir die see te sê nie, en die see niks vir hom nie. Die see maak hom nóg droewer as wat hy reeds is.

Hy mik in die rigting van die graf, die laaste rusplek van die eiland se ander beroemde gevangene. Die pad is steil en hoewel daar oral digte mis hang, is dit warm en bedompig. Naby aan die graf steek Piet uitasem vas en wonder of dit kan wees: Sien hy werklik ’n vae gestalte uit die mis na hom aankom? Die ander man het lang, swart laarse aan, ’n styfpassende klapbroek, ’n militêre jas met gefraiingde epoulette op sy skouers en swart swaelstertpunte wat om sy bene wapper. Op sy kop ’n stywe swart vilthoed waarop ’n kokarde in rooi, blou en wit aan die kant vasgesteek is. Piet herken vir Napoleon, sy voorganger op die eiland. Hulle het teen dieselfde vyand te staan gekom. Met dieselfde resultaat. Vir ’n oomblik ontmoet die twee buksies mekaar se blik. Dan kyk Piet weg. Dit is altyd Piet wat eerste wegkyk. Piet met die slegte gewete. Piet wie se eie mense sê dat sy hande vol bloed is.

Só op loop was Frank se verbeelding oor die hartgebroke generaal van Paardeberg. In sy kop was hy klaar besig om ’n toneelteks te skryf wat slegs losweg met die werklikheid verband hou. En toe skielik sit die ou man lewensgroot daar voor hom. “Dag, Generaal,” sê Frank.

Frank galop rustig met my perd tot reg voor die onderste stoeptrap. Hy sit swierig in die saal en lig sy hoed flambojant. Só ’n perd het hulle waarskynlik lanklaas in dié geweste gesien, dink hy. Hy vryf oor Rovero se flank. Die spiere tril onder die perd se vel en die dier kwispel sy ore vorentoe en agtertoe. Nêrens op sy glimmende swart lyf is ’n wit merkie so groot soos ’n speldekop nie.

“Dag, Generaal,” sê Frank weer toe hy geen antwoord kry nie.

“Wie’s jy?”

“Frank Fillis. Sirkusbaas, ruiterkunstenaar, koorddanser en goëlaar. Ook ’n professor van die penniefluit.”

Frank formuleer met voorbedagte rade. Hy belig doelbewus die vergesogte, die fantasie, want hy vermoed onder daardie stoere Boerebaard skuil ’n sin vir die dramatiese. Wat was Paardeberg anders as ’n laaste oordrewe gebaar, ’n kwistige vermorsing van lewens en besittings in ruil vir ’n boeiende einde?

Piet lyk asof hy lewertraan gesluk het. “So, jy is ’n Engelsman.”

“Ja, Generaal. Maar ek is nie ’n soldaat nie. Ek is ’n kunstenaar.”

“Ag so.” Piet sit. Frank wag. Dan kruis Piet sy arms oor sy bors voor hy weer praat. “Ek, daarenteen, is in murg en been ’n soldaat. Vandat ek ’n roer kon vashou, het ek geveg. Teen leeus, kaffers en Kakies. En van daardie drie was die Kakies die verraderlikste.”

“Wag nou, Generaal,” probeer Frank.

“Wat soek jy op my plaas, Engelsman? Ek rou. Ons almal hier op die plaas is in ’n tyd van rou. Ek het onlangs my vrou begrawe.”

Frank wil nog sê dat hy dit weet. Hy het die vorige dag, toe hy op Krugersdorp in die hotel oorgebly en uitgerus het, gesels met dorpenaars wat by die begrafnis was. Dit was om háár onthalwe dat hulle gegaan het, het hulle gesê. Nie om sýne nie.

Hulle het Piet selfs ook oor Hester se dood verwyt.

“Paardeberg was die begin,” het die hotelbaas se vrou vertel, “van die einde. Tant Hester moes opkrul in ’n gat wat oom Piet vir haar in die rivierwal gegrawe het en tien dae en nagte daar lê terwyl die koeëls om haar kop fluit.”

“Die arme ou moedertjie,” het die ontvangsdame ingeval. “En toe boender hy haar nog boonop saam St. Helena toe. Dit was die einde. Sy het nooit weer reggekom nie.”

“Sy het net gewag tot sy by die huis is en in vrede kan sterf,” het die hotelbaas beaam.

Op die stoep staan Piet moeisaam op uit sy stoel. Die arms hang langs sy sye, die skouers is vooroor gebuig. Frank wil nog sê dat hy van dit alles weet, maar hy kry nie kans nie.

“Ek kon haar nie onder ’n boom begrawe nie, want die Kakies het dit saam met die opstal en krale afgebrand,” sê Piet, en sy stem bewe van ontsteltenis. “Ek het vir haar ’n nuwe huis gebou, maar g’n mens kan ’n boom oornag aan die groei kry nie.”

Frank bly stil, maar merk met belangstelling hoe histrionies Piet is. Dis goed, dink hy. Dis góéd.

“Ek moes haar in ’n stuk dor aarde inspit, waar die son dag ná dag skroeiheet op haar brand, want julle Engelse het selfs die skaduwee vir haar graf gevat,” sê Piet, en sy stem is skor.

Frank wonder of dit trane is wat hy sien blink. Sou hulle altyd so vlak sit? Wonderlik sou dit wees, dink hy. “Ek is nie hier as gesant van die koning nie, Generaal.”

“Dis nie vir jou om te sê nie, Boetie. Hy is joune, al wil jy hom nie hê nie. En jy is syne. Daai koning van jou is nes die koningin voor hom. Hy sit aan jou vas soos ’n bosluis in die balkroese.”

Frank besluit dis tyd vir ’n troef. “Ben Viljoen het my gestuur,” probeer hy. “Ek verstaan julle is vriende.”

“Wie sê so?” Piet vou weer sy arms oor sy bors.

“Julle was tog saam op St. Helena?”

“Daar was ook vlooie en luise saam met my op St. Helena – en hulle is beslis geen vriende van my nie.”

Frank is effens van stryk gebring. Dit is vir ’n oomblik stil.

“Dit is onmoontlik om te beskryf wat ons deur die vlooie moes verduur,” sê Piet dan sag. “Onmoontlik om te slaap onder die gevreet van vlooie. Ons het die komberse met chloorkalk gestrooi en ons lywe daarmee ingevryf. Chloorkalk by die ponde, maar die vlooie was teen alles bestand. Behalwe die son, maar die son het ons selde gesien. Kommandant Jooste het eendag véértig vlooie op een van sy komberse van kant gemaak.”

“Ek kom met ’n voorstel, Generaal,” sê Frank. “’n Plan waaruit ons albei voordeel sal trek.”

“Ek het genoeg van julle Engelse se voorstelle opgevreet.”

Frank gaan staan regop in die stiebeuels. Hy begin nou vies raak. Piet besef dis ’n uitdaging. “Kry jou ry,” sê hy. “Ons het klaar gepraat.”

Uit die diepste skaduwees van die stoep kom ’n swart man stadig orent. Frank het hom nie vroeër daar gesien nie. Hy dra ’n ou kombers om sy skouers en dit lyk of daar trane oor sy wange loop.

“Is jy Jan Windvoël?”

Ben het natuurlik vir Frank van die getroue agterryer vertel. Frank weet hy moes in die oorlogsjare perde versorg en onder die koeëls uitbring, loopgrawe grou, takke vir skerms kap, vuur maak, koffie brou as en wanneer daar koffie was, en sorg dat daar kos in die pot was, al was dit soms net suurpap uit een van die naburige swart statte. Soms het hy help skiet ook, maar dít hoor ’n mens net as jy weet hoe om verby die stiltes uit te vra. Nóg die Britte, nóg die Boere wil praat oor wie almal help veg het, en as jy torring, raak hulle taai.

“Maak soos hy sê.”

Frank sien dat die swart man ’n mauser vashou. Hier gaan hy vandag niks uitrig nie. Hy gaan sit weer in die saal, besluit om voorlopig te verkas en ’n nuwe strategie te gaan uitdink, maar die perd verstaan verkeerd. Frank voel hom laag terugsak op sy agterbene. Stadig, met sy kop hoog in die lug, begin hy agtertoe galop op net drie bene, soos wanneer die twee van hulle in die sirkusring is.

Frank merk hoedat die agterryer sy roer laat sak en hy besluit daar was nog nooit ’n uitstekender tyd vir konsert hou nie. Hy laat Rovero oudergewoonte in sirkels draf, om en om in die stof voor die stoep. Dit is ’n goeie ding dat daar nog nie genoeg water of genoeg moed was vir tuinmaak op dié werf nie. Rovero lig sy knieë hoog en plant sy hoewe sekuur. Frank leun stywer teen hom aan totdat die twee van hulle een ritme het en toe hulle goed op dreef is, gooi hy sy hoed met ’n windmaker-gebaar in die stof. Die veertjie in die hoedband blink vrolik. Al hoe vinniger draf die perd. Frank lig hom sommer so in die ry uit die saal, balanseer met twee voete in een stiebeuel, leun na die middel van die sirkel, raap in die ry sy hoed van die grond af op, gaan sit weer wydsbeen oor die perd, klop die stof teen sy broekspyp uit en skuif die hoed reg op sy kop.

“Allemagtie,” roep een van die plaaswerkers wat intussen om die huis se witgekalkte hoeke begin saamdrom het. Cronjé sê niks, maar sy oë verlaat hulle nie vir ’n sekonde nie.

“Nog ’n slag,” roep ’n kind. “Doen dit weer!”

Frank por die perd aan. Hy gooi ’n sigaret op die grond en raap dit in die ry weer op. Hy gaan lê plat op die perd se rug en gaan staan regop in die saal. Rovero is nou op volle vaart. Frank gaan sit agterstevoor in die saal en goël met drie hardgekookte eiers wat hy uit sy baadjiesakke haal (hy het dit vroeër uit die hotelkombuis gegaps). Frank en Rovero doen al hulle vernuftigste en verbluffendste truuks en hulle doen dit foutloos.

Toe hulle klaar is, sak daar opnuut stilte oor die werf neer. Die werkers kyk gespanne na Cronjé se onleesbare gesig, en dan weer weg. Niemand waag dit om hande te klap nie. Piet draai sonder ’n woord om en verdwyn in die huis. Die swarte volg hom. Frank wonder wat hom te doen staan en hy en die werkers kyk onseker na mekaar, maar dan verskyn Windvoël weer op die stoep. “Hy wag vir jou. Binne.”

Windvoël se linkeroog traan onophoudelik. Die ander swart sirkel rig hy op Frank soos die donker bek van ’n kanonloop. “Kom. Die perd sal kos en water kry.”

Frank volg hom na binne. Cronjé sit in die eetkamer. “Jy ken van perdry,” brom hy. “Nie sleg vir ’n Engelsman nie.”

“Ek oefen al lewenslank.”

Piet wys na die stoel oorkant hom. “Sit. Dis eintlik my vrou se plek, maar nou ja.” Hy trek ’n vliegnet af van ’n paar bakke wat op die sideboard uitgepak staan. Dis aandete. Die reuk van die kos slaan Frank se asem byna weg. Hy sien hoender met bleek vel wat los oor die vleis vou.

“Honger?” vra Piet.

“Net dors,” lieg Frank.

“Ek duld nie sterk drank in my huis nie, maar daar is koffie.”

Frank se hart sink by die vooruitsig aan boeremoer, maar hy waag dit nie om vir tee te vra nie. “Dankie.”

Windvoël glip stil uit. Hy moet die kombuismeid gaan aansê om die koffie te maak. En hy moet hom skaars hou. Tydens die oorlog het hy en die burgers saam in ’n kring sit en eet, maar nie meer nie. Die oorlog is verby en sekere dinge het weer geword soos dit voorheen was.

Frank kyk na die bedremmelde gordyne, die slapgesitte kussings en die silwer servies wat lanklaas opgevryf is. Hester was lank siek. Daar kleef ’n verslaentheid aan die vertrek.

“Wat kyk jy?”

Frank haal sy skouers op.

“Dis jóú land wat my so kaal uitgetrek het,” kla Piet. “Ek moes van voor af begin ná die oorlog. Ek het teruggekom na verwoesting en droogte en deesdae ken ek net van saamflans en boomskraap.”

Frank wag voor hy antwoord. Hy tel ’n denkbeeldige broodkrummel met sy vinger van sy broekspyp op. Heimlik is hy bly oor die wending wat die gesprek geneem het. Geld, het Ben vertel, is ou Piet Cronjé se doodslag. Hy is oor ’n pennie soos ’n kraai oor ’n blink ding. In Kruger se Volksraad het hy dag ná dag in die burgers se ore geneul oor maniere om die staatskas te styf en tussendeur sy eie sak probeer volstop. Van Palmietkuil af het hy een rekening ná die ander gestuur vir uitbetalings bo en behalwe sy traktement. Elke keer wanneer hy deel was van ’n ekspedisie teen Gatsisibe of Ikalafeng of Massouw, het hy ná die tyd terugbetalings gevra vir elke perdehaar wat uitgeval het. Die raad moes hom selfs huur betaal vir die gebruik van sy bokseil in die Mapog-oorlog. En dis uit skone inhaligheid dat hy destyds sy broerskind as die distrik se waterfiskaal laat aanstel het, skinder sy bure. Sodat hy wat Cronjé is meer water uit die Schoonspruit kon tap as enigiemand anders, stilletjies en sonder om daarvoor op te dok. Die broerskind wat nou dood is. Gesneuwel in die oorlog.

“Jy verlei nie vir Cronjé met vroue of wyn nie,” het Ben vir Frank afgerig. “Jy maak hom sag met silwer en goud.”

“Dan moet ek hom aan Eliza voorstel,” het Frank met ’n lag gesê. Maar dis nie nou tyd vir grappies nie. Hy sit die pamflet wat hy flussies al uit sy saalsak gehaal het seremonieel voor Piet neer. “As jy saam met my en my vennote na Amerika kom, hoef jy nie jou laaste dae in armoede te slyt nie, Generaal. Ons kan nie u ver-lore aansien herstel of die uitslag van die oorlog verander nie, maar ons kan sorg dat daar genoeg geld is vir ’n vreedsame aftrede hier op Palmietkuil.”

Frank woel sy das los en haal die hempsboordjie af. Hy skuif die pamflet eenkant toe, maar haal nie sy hand daarvan af nie.

“Spoeg uit wat jy wil sê,” sê Piet. “Ek het nie heeldag tyd vir jou praatjies nie.”

Hy klink bars, maar Frank ken die kyk in sy oë. Dis die kyk van ’n hokleeu net voordat die temmer hom sy eerste toertjie leer.

Sirkusboere

Подняться наверх