Читать книгу Sirkusboere - Sonja Loots - Страница 4

1

Оглавление

Daar was dinge waarvan net Frank geweet het, of waarvan hy gehóóp het net hy weet. Dit was dinge wat hy hardkoppig verswyg het: ’n bewerigheid in die bene ná veeleisende toertjies op sy perd se rug; ’n geweldige vermoeidheid tydens sweterige seksnagte, selfs nog voordat die belangrikste dinge afgehandel was; ’n óú asem wanneer hy wakker word; en die manier waarop drank hom al harder geslaan het, uit onverwagse rigtings, soos ’n stroom wat jou skielik diepsee toe sleep wanneer jy lankal reeds moeg geswem is.

As hy die vorige nag tot laat gelag en rinkink het, kon hy die volgende oggend die spore van min slaap op sy gesig sien. Frank se vel het sy ontberings begin onthou. Sy voorkop kon nie meer vergeet van al die kere dat dit gefrons het nie, of sy keelvel van al die plekke waar dit voorheen gefrommel het nie. Frank se lyf het sy lê begin kry langs ou lyne, in vertroude voue. Dit was ’n lyf wat voorheen versweë dinge begin verklap, soos ’n stuk kraakvars koerantpapier waarin ’n stink vis toegemaak is, en wat geleidelik deurweek word, gevlek word, en nooit weer glad gestryk kan word nie.

Hy was die soort ratse gladdebek wat hom nie in ’n doodloop-straat of teen ’n afgrond laat vaskeer nie, maar hy het begin besef daar is geen manier om vir die ouderdom weg te kruip nie. Frank het in die bek geruk gevoel. Elke keer wanneer hy vir Eliza in sy arms geneem het, het hy probeer vashou aan iets wat lankal deur sy vingers geglip het. Hy het hom verstom oor haar lyf waarop die lewe se vingermerke nog nie gesit het nie. In hulle bed het hy haar gesig in ’n kussing gedruk en haar van agter benader, en wanneer sy haar kop sywaarts draai om asem te kry, het hy na die diep voue in haar nek gekyk. Hy het geweet hulle sou net so vinnig weer verdwyn as wat hulle verskyn het. Hy het haar laat omdraai, haar op haar rug laat lê met haar bene om sy kop, en gekyk hoe haar maagvel kreukel. Agterna het sy lui op die bed uitgestrek terwyl hy met een hand se wysvinger kringe trek oor daardie gladde, gladde vel van haar. Hy het met sy vingers in die sweterige gleufies onder haar borsrondings gevee, oor die pers plooitjies in haar palm, in die gerimpelde bogies onder haar tone, en dan gekyk hoe sy agterna argeloos regop kom en haar sykouse uitskud en teen haar bene oprol en haar rok regtrek en ongedeerd en seepglad en soepel wegstap. Sy was totaal ongeskonde deur die lewe, en deur hom. Sy was twee-en-twintig, die helfte so oud soos hy. Oor ’n paar jaar sou sy nuut kon begin met iemand anders en heeltemal van hom vergeet.

Soms het hy haar vooroor laat buig en dan met sy perdeswepie oor haar kaal boude gepiets. Hy het die kordate klein agterstewe na sy smaak versier. Hy wou ’n indruk maak. Hy wou onthou word. Verkieslik deur almal, maar op die allerminste deur haar.

Dis omdat hy so hard teen die vergeetlikheid geskop het dat daardie eerste seisoen ná die oorlog hom so swaar getref het. Hy kon glad nie tot sy gehore deurdring nie. Niemand was in die bui om hulle met hart en siel aan die sirkus te verwonder nie. Waar die grou skaduwee van die oorlog val, het selfs sirkusblinkertjies hul glans verloor.

Hy was terug op sy ou staanplek op die Parade. Die toeskouers het ondanks alles begin terugkom. Hulle het kaartjies kom koop om na al hul ou gunstelinge te kom kyk. Die boksende kangaroe, die dansende beer en die apies wat op basoetoponies ry was almal nog daar. Herr Winschermann het met sy Bengaalse tier gestoei, Nala Damajanti het in haar slanghok die dood getart en Kragman Correa kon met enigiets onder die son goël: pikke, rotte, kanonkoeëls en blompotte waarin malvas groei.

Frank het boeresport in die arena aangebied om dinge aan die gang te probeer kry. Daar was gladdepaalklim met ’n skaapboud as prys en toutrekkompetisies tussen getroude en ongetroude mans. Die wenner het ’n pak klere gekry. Hy het gereken dis weer tyd vir terg. Die twee sirkusleeus het nuwe name gekry en Kruger en Milner is geleer om met ’n voorpoot aan ’n tou te trek wat ’n pistool laat afvuur.

Maar die toeskouers het alles afgetrokke dopgehou. Hul gedagtes was elders. En so droog soos wat dit in die ou Boererepublieke was, so nat was dit in die Kaap. Die olifante het tot by hul enkels in modder weggesak en die perde het op nat gras en strooi gegly. Die sweefstokkunstenaars se kostuums het smerig geraak, die narre moes met vertonings waterstewels dra en die sirkuswerkers was gedurig aan’t stoei met swaar tentseile en slap ankertoue.

Vir Frank was die ergste dat hy nie meer sy gehore in die palm van sy hand gehad nie. Vir Eliza was dit die geld. Altyd die geld. “Die stadsraad soek die huur vir ons staanplek,” sou sy herinner.

“Sodra hulle vir my ’n dranklisensie gegee het.”

“Ons skuld ook vir elektrisiteit. Honderd-en-sewentien pond.”

“Gaan die raad my vergoed vir my gebou wat hulle tydens die oorlog gesloop het? Besef hulle dit het my tienduisend pond gekos?”

Maar dan het sy net nóg bekommernisse afgerammel. “Daar is pos, Frank. Van skuldeisers in Brittanje.”

“Ek is met ’n skoon gewete daar weg.”

“Nie volgens Benjamin Wollan van Berkshire nie. Hy soek een-duisend-vyfhonderd pond. Hy sê jy skuld hom.”

“Hy lieg.”

“Die Seepunt-munisipaliteit soek veertig pond vir agterstallige belasting op die huis.”

Dit was háár skuld. Sý wou die deftige huis in Seepunt gehad het, omdat sy gehou het van die torinkie waarvandaan mens oor die kerktorings, huise en see kan uitkyk.

“Weet hulle wat ek weekliks bestee aan salarisse, kos vir my diere, advertensies, arbeid, polisie, brandweer? Weet hulle dat ek sommige weke skaars driehonderd pond wins maak?”

“Jou vertonings kos te veel. Die program is te vol. Jy tree nie voor die koning op nie, Frank. Dis net gewone mense en hulle stel nie belang nie. Ons móét ons kostes sny.”

“Nee.”

Hy sou nie afskaal nie. Hy wou verblúffend wees, sy gehore verower, hulle asem heeltemal wegslaan. Toe die Kaapse stadsraad sy elektrisiteit afsny, het hy tydens elke aandvertoning ses kiste paraffien gebruik om lig in die tent te maak. Ses kiste teen twaalf pond elk. So kort ná die oorlog was daar ’n tekort aan alles, maar Frank het gehunker na die dae van oorvloed en die groot gebaar. Hy het meer as tien pond betaal vir ’n mud meel sodat hy dit met water kon meng vir ’n gom om sy plakkate mee op te plak. En hy het meer plakkate opgesit as ooit vantevore. Oral waar jy kyk, aan bome en houtheinings. Sien die gevierde vlieënde Feeleys!!! Die Maharadja van Mysore se akrobatiese olifant!!! Die doodsveragtende slangdanser Nala Damajanti!!!

Hy het daardie winter met heimwee teruggedink aan sy sirkus se vroeë jare in die delwersdorpe. Die geroesemoes van daardie tyd! Dit was die regte tyd vir sirkus hou. Die delwers was baldadig en spandabelrig. In Kimberley het hulle lag-lag twee pond vir ’n sitplek betaal. Voor vertonings het daar soveel sjampanjeproppe geklap dat dit soos haelstorms geklink het. Op partytjies is ongeslypte diamante tussen die sirkusmeisies se borste ingedruk.

Frank het na die fortuinsoekers van Johannesburg en Kimberley verlang. Hulle was swernote en kansvatters, maar hulle het die sirkus verstaan. Hulle het geglo jy kan die noodlot koudsit en die geluksgodin aan jou kant kry. Daarom het hulle so vurig gejuig as die sweefstokmeisies hoog in die lug mekaar se gewrigte stewig vasvat en nié na onder val nie; as die leeutemmer nié verskeur word nie.

Maar Frank se goue dae was in die twee dekades voor die draai van die eeu, lank voor die oorlog. Ná die oorlog, in die moeilikste seisoen van sy lewe, was alles anders. Die gehore het nie eens agtergekom wat hy alles op die spel plaas nie, maar Eliza het gekla omdat sy toertjies al waaghalsiger raak. Sy het bekommerd gelyk as hy bollemakiesie slaan op die rug van sy galoppende perd, die hings deur ’n hoepel vol messe stuur of hoog in die lug op ’n koord dans terwyl hy met balle goël. Telkens weer het sy gevra hy moet versigtiger wees. Wat sy nie geweet het nie, was dat Frank kwaad was vir die fikse en lenige lyf waarmee hy vroeër soveel gewillige slagoffers verlei, vermaak en verkul het. En kwaad vir die ondankbare dikvelliges wat so gevrek en met sulke dooie oë daar in die sirkusstoele vir hom sit en kyk het. Hy wou die lyf van vyftien jaar gelede hê. En hy wou weer optree voor die gehore van tóé.

Piet sou ook graag die horlosie wou terugdraai. Sy oumanskete het hy gelate verduur. Hy was net vaagweg bewus van sy rugpyn, aambeie, swakker wordende oë, stompgeknerste tande en die los vel aan sy borskas. Wat hý graag sou wou hê, was om die horlosie terug te draai na ’n tyd voordat alles by Paardeberg stukkend gebreek is. Dit was ’n vergeefse begeerte, en miskien ’n gevaarlike een, want die speletjies wat tyd op die ou end met hom gespeel het, was erger as wat hy ooit vooraf sou kon raai. Binnekort sou hy twee keer per dag voor sirkusgehore rondstap, en dan sou dit telkens wees asof alles gaan stilstaan op presies daardie dag toe hy met ’n geboë hoof voor Roberts gaan staan het.

Elke weeksdag, om halfdrie die middag en seweuur in die aand, sou die ding hom wéér oorkom. Smiddags en saans sou hy die beskamende skouspel herleef. Elke keer sou dit weer dieselfde wees: Stadig, voetjie vir voetjie, stap hy vorentoe, totdat sy skaduwee aan sy vyand se skoenpunte raak. Hy het geen keuse nie. Hy móét oorgee. Hy knel sy sambok styf vas voor sy bors. Die ander vuis bal wit om sy perd se leisels. Hy is verrinneweerd ná maande in die veld: songebrand en vol steekplekke van die muskiete, skurf en vol swere en kneusings en bloedvinte, amegtig en met ekseem op sy vel. Sy reënjas is deurweek van modder, reën en sweet. Dit hang skeef aan sy maer skouers omdat hy op die laaste oomblik ’n verslete Veldbybel in sy een sak gestop het.

“Jy het jou deeglik verweer,” sê lord Roberts. Hy wat Piet Cronjé is, sê niks. Hy klem sy kake vernederd op mekaar. Hy knip sy oë teen die blink van die Brit se gepoetste knope. ’n Fotograaf glip sy kop onder die swart kameradoek om die oomblik op film vas te lê.

Roberts steeks sy hand uit na sy verslaande opponent.

“Dis ’n eer om so ’n dapper krygsgevangene te hê.”

Oor en oor sou dit weer só gebeur. Dit sou wees soos om rond te kruip tussen glasstukke, sodat die glas al fyner breek en hy daarmee saam. Eers wanneer die gehoor juigend opspring en begin hande klap, sou Piet weer weet waar hy is. Dan sou hy steunend op die kapkar klim en toelaat dat hy weggevoer word. Nie na St. Helena nie, maar sommer na sy tent onder die hickorybome. Al sou dít natuurlik ook ’n soort ballingskap wees.

Piet se sirkushouery het gekom lank ná Frank se moeilike Kaapse seisoen. Frank moes eers na Johannesburg gaan en daar vir Ben ontmoet. En hy moes in sy menagerie na die siek olifant gaan omsien.

Big Bert wou nie meer mondfluitjie speel of sy stapdans op ’n vat doen nie. Die kliere tussen sy oë het ’n taai gom afgeskei wat aan sy vel vasgesit het. Stukkies strooi en gebreekte takkies het daaraan vasgeklou en die geswelde kliere verstop. Sy swingel was teruggetrek in die skede, maar ’n straaltjie urine het onophoudelik teen sy agterbeen afgeloop.

Frank het ingedagte met sy voorkop teen die olifant se flank gestaan toe hy die plan kry. Dit het iets te doen gehad met die littekens aan die agterkant van die dier se oor, daar waar die temmer met skerp ysterhoeke gehaak het, en iets met die reuk van die ou water in die dier se drinkbak. Dit het hom weggevoer na ’n plek wat orals en nêrens is, ’n diep put waar die opdrifsels van sy drome en ervarings, ook dié van sy pa en sy oupa, opgedam lê. Sy pa, die flambojante rondreisende akteur. Sy oupa, die uitgeslape ou Victoriaanse spotvoël.

Frank se idee het gegroei uit elke makabere skouspel wat hy en sy voorvaders ooit aanskou het: die agterstraatse honde- en hoendergevegte, die openbare teregstellings, die reisende sigeuners wat bere aan leerrieme laat toertjies doen, die verskrikte hase wat by kermisse op tamboeryne dans, die fratsmense wat op verhogies agter fluweelgordyne ten toon gestel word.

Dit was ’n baldadige, ongehoorde plan. Presies die soort plan waarvan hy gehou het. Dit sou moeilik wees. Die risiko’s sou groot wees, die logistiek ’n nagmerrie. Hy sou moes navrae doen, reëlings tref, finansiering en vrywilligers werf. En dan sou hy daardie suurgat generaal aan sy kant moes kry.

Frank het oor die olifant se rug gestreel en regopper gestaan. Hy was nie bang vir die oubaas se angel nie. Piet Cronjé, het hy geweet, is die by wat die heuning soet sou maak.

Sirkusboere

Подняться наверх