Читать книгу Sirkusboere - Sonja Loots - Страница 11

8

Оглавление

Dit was nie eens vir Piet nodig om te vra nie. Toe hy langs Hester se bed opstaan en uit die kamer kom, en almal aan sy gesig kon sien Hester is dood, het Fenyang sonder ’n woord omgedraai, ’n pik en graaf gaan haal en met die bult begin opstap. Dit was warm, dit sou swaar werk wees.

Agterna het Piet gewonder waarom hy nie gaan help het nie. Dit sou hom goed gedoen het, hy kon probeer het om die hartseer uit te swéét. Jan sou hom laat begaan het, hulle was mekaar gewoond. Maar hy was te lam in die lyf. Hy het verdwaas op sy stoep gestaan en oor die werf gekyk en dofweg gewonder waarom Jan dan nie vir klein Kokkerot vra om te help nie.

Omdat hy alleen wou wees, sou Fenyang kon antwoord. Dit was koeler onder die populiere as op die warmgebakte werf. Hy het eers die bolaag met sy pik losgemaak voor hy begin grawe het. Rus, grawe, rus. Dit was net hý daar agter die ringmuur, tussen die familiegrafte, en hy was besig om lank gelede se dinge oop te breek. Daar het wurms in die grond gesit. En wortels. Hy het gegrawe in al die dinge wat hom aan daardie stuk aarde vasgehou het.

Die trooskos wat Hester soggens vir hom by die agterdeur in ’n gekraakte piering aangegee het. Van al die swart kinders op die plaas, net vir hóm. Sy het die sifdeur oopgeswaai en oor die onder-deur vir hom ’n saggekookte vleisbeentjie aangegee, of pap waarop sy ’n leksel stroop gedrup het, of ’n gebotterde broodkorsie. Daar waar hy langs haar graf gestaan het, sou hy nog haar stem in sy gedagtes kon hoor: “Hierso, Jantjie. Vat vir jou. Toe, sit nou daar in die son, dan eet jy lekker.”

Het sy regtig tussen haar werkies deur vir hom rympies geleer? In die koelte, in die koelte, sê die kalkoen. Bankrot, bankrot, sê die tarentaal. Ek is kwaad, ek is kwaad, sê die fiskaal. Of was dit eintlik Mafenyang by die kombuis se agterdeur? Wat sou die ounooi tog in die kombuis gemaak het met al die baie meide byderhand om haar te help? Hy was nie meer seker dat hy reg onthou nie.

Maar dit wás sy, Hester, wat hom gedokter het toe hy amper dood was. Dít het hy seker geweet, al kon hy dit nie self onthou nie, want Mafenyang het hom die storie van kleins af soos medisyne ingegee. Vir hom en vir haarself, elke keer as dit nodig was om te onthou hoe goed die ounooi eintlik was.

Dit was ’n Sondag toe Mafenyang by die opstal gaan klop het om hulp te vra. Eers moes sy buite wag, met hom op haar rug, sodat die nooi haar middagslapie klaar kon slaap. Maar toe is daar winkelmedisyne uit ’n glasbottel gehaal en het Hester hom dae lank help verpleeg. Toe Mafenyang ook siek word, en te swak en koorsig om dit self te doen, het Hester in die nag opgestaan en kombuis toe gekom om hom in haar arms aan die slaap te sus. Gesing ook, het Mafenyang oor en oor vertel. Saggies gesing. En hulle daar in die kombuis langs die warm stoof laat slaap tot al twee gesond was.

Dit moes gewees het voor Hester haar eie baba gehad het. Die twee vroue was min of meer van dieselfde leeftyd, maar Mathlodi, dít was haar regte naam, het vir Fenyang gekry toe Hester, ná ’n hele paar jaar se getroude lewe, nog vir ’n kind loop en wens het.

Jan is in 1867 gebore, sou Piet jou kon sê. Hy kon dit so presies onthou, want dit was die jaar waarin hy die kafferkraal anderkant die Hartsrivier opgeruim en daaroor aangekla is.

Gebore in die jaar toe Makhado vir Kruger uit Schoemansdal gejaag het, sou Fenyang sê. In dieselfde jaar as wat Mapela die dorp Piet Potgietersrus afgebrand het.

Met Piet en Fenyang het dit altyd só gewerk. Al hulle stories was soos die komeet wat ’n paar jaar later so helder in die lugruim bo die plaas sigbaar sou raak. Elke storie het twéé sterte gehad. Piet het die een beetgehad en Fenyang die ánder. Daarom ook dat elkeen twee name gehad het.

Toe Mathlodi hoor hoe Paul Kruger se kommando moes weghol vir Makhado se mense, wat op ’n manier háár mense was, het sy haar kind “Oorwinnaar” genoem. Maar vir die groothuis se mense sou hy sommer Jan wees. Kinôsie het by die agterdeur gaan klop, hoed in die hand, om te sê daar het ’n bobbejaantjie uit die berg by sy hut aangekom.

“Het julle sy stert afgekap?” het Piet gevra.

“Ja, Baas.”

“Nou maar geluk.”

Piet het ’n skaap vir die fees gegee en Hester het gevra hulle moet die skepseltjie vir haar kom wys. “Ag foei tog, dis ’n mooi klein klonkie,” het sy gekloek. “Wat is sy naam?”

“Hy is Jan, Nooi.”

En orals waar Piet nie kon hoor nie, was hy vir sy werkers KaMongoele. “Op-die-knieë”, het dit beteken. Kamongoele, omdat hy mos altyd begin bid het as hy verskoning soek vir kwaaddoen.

Het Mafenyang lekker gekry oor sý ’n seun gehad het en Hester nie? Het sy agter haar hande gelag oor die naam waarvan die wittes niks verstaan nie? Dan moes sy van beter geweet het, het Fenyang besluit terwyl hy Hester se graf grawe. Sy moes geweet het KaMongoele sou laaste lag. Soos die keer toe Fenyang moes saamgaan na Nyabele toe. Die Boere sou vir Nyabele uit sy grotte gaan rook en Piet het ’n handlanger gesoek om hout te kap, vuur te maak en reg te staan met koffie. “Sê vir Jan hy moet ligdag reg wees, hy gaan saam,” het hy laat weet.

Dit was 1882, Fenyang was vyftien, hy wou nie gaan nie. Toe dit tyd was om te ry, kon hulle hom nêrens kry nie. Hy was iewers aan’t wegkruip.

“Lyk my die klong is bang,” het Piet laggend gesê. Maar hy het nie regtig gedink dis snaaks nie. “Ek ry nou, Kinôsie. As ek by die plaashek kom en Jan het my nog nie ingehaal nie, is die hel vandag los.”

“Ek sal saamgaan,” het Kinôsie probeer.

“Hier is te veel werk vir jou. En Jan kan nie so leeglê op my werf nie. Hy is ’n yslike lummel met hare in sy broek. Hy moet sy kant bring.”

Kinôsie het vir Fenyang in die turksvylaning gaan kry en gedreig om hom met ’n sweep tot op die perd se rug te slaan as hy nie self opklim nie. Fenyang was net betyds om die hek vir KaMongoele oop te maak, en weer agter hulle toe te maak.

“Jy kan bly wees, Matraskop. Jy is nét betyds.”

Ná hy kalmeer het, het Piet vir Fenyang les gegee. Sodat Jan darem ook kan weet waaroor dit nou eintlik gaan, het hy gesê. “Die Boere soek vir Mampoer omdat hy vir Sekoekoeni vermoor het. Maar Mampoer kruip by Niabel weg, so nou gaan Niabel ’n pak slae kry.”

“Ja, Baas.”

“Dis ’n parmantige stammetjie dié. Weet jy wat het Niabel gedoen toe generaal Joubert hom vra waar is Mampoer?”

“Nee, Baas.”

“Hy het gesê: ‘Mampoer is in my mond en as jy hom wil vat, sal ek jou byt.’ Lekker astrant. Lekker dómastrant.”

“Ja, Baas.”

’n Maand lank het hulle in Piet Joubert se laer buite die grotte gebly. Sowat ’n duisend burgers, met bykans net soveel handlangers. Die Boere het beurte geneem om wag te staan, sodat Nyabele se mense nie by kos of water kon uitkom nie. As hulle iets sien roer, het hulle geskiet. Voor die voet geskiet, selfs ook as dit kinders of vroue was. Hulle sou daar bly tot Niabel vir Mampoer uitlewer.

Saans om die kampvure was daar vrolikheid. Daar is grappe gemaak, stories vertel en hier en daar het iemand ’n kitaar gehad. Twintig jaar later kon Fenyang nog van daardie liedjies onthou. Ek kry ’n skilpad langs die pad, sou hy kon sing as hy wou. Hoepaidee, hoepaida. Ek tel hom op, hy pie my nat, hoepaidee, aida.

Van Piet af was daar nie net harde woorde nie. “Arrie, dit was fluks van jou,” het hy geprys as Fenyang ekstra vroeg opgestaan het om vuur te maak vir die oggendkoffie. Hy het vir Fenyang die name geleer van voëls en plante wat hulle om hulle gesien het, en lang Hollandse voordragverse, wat Fenyang nie eers probéér onthou het nie.

“Kom hier vrome mens tesamen, laat ons andere gaan vermanen,” het Piet voorgesê.

“Ja, Baas.”

Dan slaan Piet maar oor na raaisels. “Klein Daantjie Donderbos, waar hy loop daar bars die grond. Wat is dit, Jan? Dink bietjie.”

“’n Geweer.”

“Nee man, waar het jy nou al gesien ’n geweer lóóp?”

“Ek weet nie.”

“’n Ploeg, my outatjie. ’n Ploeg! Slim, nè?” Dan vou Piet dúbbeld soos hy lag. Hy was daardie jare nog nie so verdrietig soos op sy oudag nie. terwyl Fenyang so om sy voete grootgeword het, was hy nog vol grappe en sêgoed.

En toe was dit tyd om op te pak en huis toe te gaan. Nyabele se mense was later so mal van die honger dat hulle onder die koeëls ingehol het. Die burgers het aangelê en geskiet, op vroue en kinders ook. Fenyang het dit gesien, want hy moes die perde se leisels vashou sodat die diere nie weghol nie. Hy was daar toe die laastes uitgerook en afgemaai is as hulle by die grotbek uitgesteier kom. Hy het dit alles gesien en hy was náár daarvan.

“Lekker sag geword hier tussen die wittes, hè, Janneman,” het Piet hom getreiter. “Lyk my jy het vergeet hoe jou mense kan moor. Silkaats het kinders soos jy se rug soos ’n skarnier geknak. Hy het klonkies geklap dat hul tande uitbreek en dan het hy hulle dit laat sluk. En dink jy miskien Mampoer het fyn gewerk met Sekoekoeni?”

Fenyang het stil gedink dat hy die name anders geken het as wat KaMongoele gesê het. Mzilikazi. Mampuru. Nyabele. Mens moes kophou as KaMongoele vir jou les gee. Jy het later nie mooi geweet of jy Fenyang of Jan is nie.

“Hierdie kind van jou het nie aptyt vir oorlog nie,” het Piet vir Kinôsie gesê toe hulle terugkom op die plaas. “Hy kry sagte handjies en sagte voetjies hier op my plaas. Wanneer stuur jy hom vir kafferkatkisasie? Dit sal die kleinserigheid uit hom kry.”

Kinôsie was bly oor die halfpond wat Piet vir Fenyang in die hand gestop het, maar Mathlodi het vir hom min kos ingeskep en lank voor opstaantyd die komberse van hom afgepluk.

“Die kind weet nog niks,” het Kinôsie geraas.

Fenyang hét nie geweet nie. Hy is eers later daardie jaar manneskool toe en daar het hy die eerste keer gehoor hoe Andries Pretorius en Paul Kruger haar weggevoer het van haar mense, die Ndzundzas van KwaMukopani. Toe eers het hy gehoor hoe sy op ’n wa gelaai en aangery is Potchefstroom toe, voor die landdroskantoor staangemaak en ingeboek is. Hoe die inboekelinge onder die burgers verdeel is en hoe sy ma later deur die wit veldkornet Piet Cronjé geruil is by ’n ander burger vir twee komberse.

Sannie wás een van die kinders wat Pretorius van die Makapansgrotte af gebring het, sou Piet beaam as jy hom sou vra. Niks fout daarmee nie. Die oorlog teen Makapan was ná die Sandrivierkonvensie, die ZAR was sy eie baas. Bowendien was sy huis in orde, die Inboekwet was lankal van krag. Daar was duidelike instruksies vir gewapende botsings met kaffers. Offisiere moes sorg dat geen kinders gevang word terwyl nog geveg word nie. Slegs indien kinders gevind word wat onversorgd blyk te wees, kon hulle na die laer teruggebring en ingeboek word. Bowendien, sou hy kon byvoeg, burgers kon eers ’n halfdag ná afloop van die slag uitgaan op soek na sulke onversorgde skepseltjies.

Nee, Piet was nie self by die Makapansgrotte nie. Maar die wet het dit mos nie verbied dat ’n kind van een diensheer na die ander oorgedra word nie. Solank daar ’n kontrakboek was met die naam, vroeëre woonplek, vermoedelike ouderdom en vroeëre besitter van die kind. Natuurlik het hy die boek gehad, dit was iewers in die sideboard as jy dit wou sien. En ja, die kinders moes goed behandel en so goed moontlik opgevoed word. Niemand het daarmee gestry nie. Nie dat Sannie so danig klein was toe sy by hom aangekom het nie. Sy was al ’n opgeskote meidjie.

Haar naam was Matlhodi Kekana, maar by die boere het sy sommer Sannie geword, het Fenyang gehoor. Op die plaas het Sannie nie meer haar eie taal gepraat nie, maar Afrikaans.

“Hoe oud was sy?” het hy gevra.

“Sy was toe ’n indombisana; die boere het van haar ’n vrou gemaak.”

Ná die inisiasieskool was hy oud genoeg om te weet watter vrot vleis aan die been van daardie woorde sit.

Hy weet nie dáárvan nie, sou Piet sê. Hy was mos nie saam na die Makapansoorlog nie.

Maar Fenyang was in elk geval kwaad. Hy was oud genoeg om kwaad te word oor die storie van Sannie wat uit KaMongoele se potte moes eet, by sy vure moes warm word en in een van die hutte op sy plaas moes bly. Saans moes sy op ’n stoeltjie in die middel-deur sit en luister hoe hy Bybel lees. Sy moes saam met die huisgesin hulle gesange en psalms sing, want KaMongoele soek nie heidene in sy huis nie.

“Ons was nie toe soos ’n swart man en ’n wit man nie,” het Kinôsie vir Fenyang vertel oor sy eerste jare op Palmietkuil saam met Piet Cronjé. “Ons was sáám.”

Piet en Kinôsie het transport gery, op ’n wa wat aan Kinôsie behoort het. Piet het grond besit, maar hy was sonder ploeg en daar was nie genoeg hande nie. Saam het hulle van onder af begin. Ewe hard gewerk, dié twee. Daar was ’n soort vriendskap tussen hulle. Kinôsie het by KaMongoele se huis geëet as hulle terugkom van ’n reis af. Saam aan tafel.

“Eendag het ek vir hom gesê sy vrou kook lekker kos,” het hy vir Fenyang vertel. “Toe sê hy nee, dis die vrou in die kombuis.”

So het Kinôsie agtergekom van Mafenyang, wat toe nog Sannie was, en lankal nie meer Mathlodi nie. “Ek het vir KaMongoele gevra wie die vrou se mense is. Hy het gesê sy het nie mense nie, hý is haar mense en as ek haar wil hê, moet ek vir hóm bogadi betaal.”

Hulle het op ’n prys ooreengekom. Tien skape en vyf koeie.

“Die koei waarvoor hy Skilder sê. Sy kom nog van mý,” het Kinôsie vertel. “En die twee sterk basoetoperde waarmee hy so spog. Hulle kom ook van mý.”

Nadat hy by die inisiasieskool was, het Fenyang verstaan dit was mense van sy ma se mense wat in sy geboortejaar vir Kruger en sy boere weggejaag het van die dorp Piet Potgietersrus. Dit was mense van sy ma se mense wat deur Piet Joubert en KaMongoele by die Namashaxelo-grotte geskiet is terwyl Fenyang die perde se leisels vasgehou het. terwyl hy vir KaMongoele roosterkoek en koffie gemaak het, het die Ndzundzas noodgedwonge vir Mampuru aan die Boere uitgelewer.

Het Mafenyang ooit geweet hoe dit geëindig het? Dat Mampuru aan sy nek in Pretoria opgehang is? Sy is een van die skaduwees, sy is nie meer daar om te vra nie. Maar Fenyang onthou dat sy weer vir hom geglimlag het toe hy van die inisiasieskool af terugkom. Dit was asof hy nooit saam met KaMongoele na die grotte toe was nie. Sy het weer sy badwater warm gemaak en sous oor sy pap geskep. Met haar brandhoutgeld het sy daardie jaar ’n sjieling per maand betaal vir ’n leermeester om haar kinders te leer lees en skryf. Sy het lampolie ook gegee sodat hulle kon sien wat hulle doen, saans in die hut.

Dit was in die afseisoen, terwyl Fenyang se pa op die diamant-myne gewerk het, totdat ’n wal omgeval en hy onder ’n hoop sand versmoor het. Toe die ander werkers Kersfees terugkom huis toe met spoggerige klere en presente vir hul vroue, was daar vir Mafenyang net die nuus dat sy weer alleen is.

“Sannie, omdat Kinôsie so ’n bekwame outa was,” het KaMongoele kom sê, “kan jy en jou kroos op my plaas aanbly. Maar as jy jou kos en gasie nie werd is nie, gee ek vir jou ’n pas en dan moet jy vort.”

Asof dit deur Kinôsie was dat sy op Palmietkuil aangekom het. Maar Mathlodi het niks gesê nie. Daar was baie dinge waaroor sy liewers niks gesê het nie. Fenyang het opgegroei en Piet se handlanger geword. Op die plaas het hy Kinôsie se werk gedoen en as daar geveg moes word, het hy saam met Piet gaan veg. Ná die oorlog teen Nyabele was dit die oorlog teen Ikalafeng en sy Bahurutshes. Die Boere wou wraak neem omdat die Bahurutshes saam met Montshiwa teen hulle geveg het. Op die ou end was hulle tevrede om een uit elke vyf beeste te vat en die Bahurutshes bang te praat. Piet het twee beeste gekry en vir Fenyang ’n vers vir sy eie kudde gegee. Só het dit gegaan.

Fenyang het later geweet wat om te verwag as KaMongoele sê: “Die toekoms is al weer swart, Jan.” Teen Dawid Massouw en sy Korannas het hy saam met die Boere gaan veg. Teen Malaboch het hy ook geveg. Mathlodi het geleer om te maak of sy nie weet waar-heen hulle gaan nie. Sy het haar blind gehou. Elke keer, behalwe die keer toe Piet vir Fenyang aangesê het om saam op te trek teen Mphephu, seun van Makhado.

Dit was die jaar ná die runderpes, die jaar toe al Fenyang se vee gevrek het. Die karkasse het op die rivierwal lê en vrot, hy het niks oorgehad nie. Hy was nie meer ’n kind nie; hy het vroue en babas gehad wat moes eet. Hoe kon hy nee sê? Toe hy terugkom, was Mafenyang kwaad.

“Nou waai die laaste van my mense soos afgesnyde vingernaels in die stof rond,” het sy gesê. “En jý het gehelp om dit so te maak.”

Eers toe die graf kláár gegrawe was, het Fenyang besef hoe warm hy kry. Hy het sy jas uitgetrek. Die jas wat hy gekry het toe KaMongoele by Mafeking besluit het om ’n boodskapper van hom te maak. Hester het gehoor en haar naald en gare gaan haal, want sy wou die brief in sy baadjievoering vaswerk. Sy het geskrik toe sy die baadjie optel. “Kyk hoe dun is jou klere,” het sy gesê. “Jy sal dood van die koue. Nee, gits, Jan. Ons moet plan maak.”

Fenyang was bekommerd oor die Kakies en oor Montshiwa se Barolongs, wat in die oorlog vir die Kakies geveg het, maar hy het sy lyf likkewaan gehou en veilig gebly, die boodskap by die ander kommando uitgekry en die antwoord teruggebring. Toe hy terug-kom in die laer, was daar vir hom ’n nuwe jas. Van Hester af. Sy het dit vir hom opsy gesit toe die burgers ’n Britse soldaat gevang en uit sy klere geskud het.

Dwarsdeur die oorlog het die jas aan Fenyang se lyf bly hang. Hy het dit saamgevat van Mafeking na Magersfontein, van Paardeberg na St. Helena en weer terug na Palmietkuil. Lekker warm was dit aan die begin, maar op die dag van Hester se dood was dit lankal rafelrig en op meer as een plek geskeur. Fenyang het eers gerus voor hy teruggeklim het in die graf. Hy het die jas op die bodem uitgesprei en toe uitgeklim, sy hande aan sy broekspype afgevee en teruggestap werf toe. Sy werk was klaar, die graf was reg. Die kis kon maar kom, dit kon bo-op die jas lê. In die loop het hy ’n deuntjie van lank gelede onthou. “Salot is dood, Salot is dood, Salot is dood van skimmelbrood,” sou hy kon sing as hy wou, maar hy wóú nie. “Laat ons dans, poot aan poot, poot aan poot, Salot is dood.”

Sirkusboere

Подняться наверх