Читать книгу Sirkusboere - Sonja Loots - Страница 5

2

Оглавление

Twee keer per dag, om halfdrie in die middag en seweuur saans, word Ben met wolwefluite en ’n gestamp van voete in die amfiteater verwelkom. Die toeskouers in die volgepakte paviljoene is opgewonde. Hulle kom uit New York, Chicago en Atlanta en hulle rek hul nekke om die held uit Afrika beter te kan sien. Hy is omgeef deur die romantiek wat sy ongerepte vasteland vir hulle inhou. Hy verteenwoordig die drama en skouspel van die verafgeleë slagvelde waaroor hulle in die koerant gelees het.

Generaal Viljoen het ’n volle twee jaar en vier maande teen die Britse oormag geveg, lees hulle in die programnotas. Hy het volhard totdat die Britte sy perd onder hom uitgeskiet, hom gevange geneem en hom vir die res van die oorlog na St. Helena verban het.

’n Oorlogsbeuel blaas en ’n militêre orkes begin speel. Ben stap tot in die middel van die stowwerige arena en buig laag. Weg is die gehawende man met die mauser van twee en ’n half jaar gelede. Hy dra blinkgepoetste stewels en ’n deftige militêre tuniek met goue koord op die bors. Die dames loer deur hulle lornjette na sy raafswart kuif en snor, sy donker wenkbroue en die glimmende medaljes op sy bors. Die mans reken goedkeurend hy was ’n gedug-te opponent vir sy teenstanders. Hulle het simpatie met die Boere se stryd. Hul voorvaders het immers ook ’n onafhanklikheidsoorlog teen Engeland geveg; daarom bewonder hulle die gideonsbende wat die magtige Britse Ryk soveel probleme gegee het.

“Welkom by die Suid-Afrikaanse Boereoorlog-vertoning,” bulder Ben oor sy megafoon. “U is by die grootste militêre skouspel wat die wêreld nog gesien het!”

Die applous is oorverdowend. Ben glimlag, stap met lang treë van die een kant van die arena na die ander. “Ek wil u bekend stel aan ’n groep merkwaardige mans en vroue uit die mees verafgeleë dele van Suidelike Afrika. Hulle het onverdrote in die oorlog geveg – en hulle doen dit vandag weer. Dié keer vir u plesier.”

Die orkes speel marsmusiek en dan wys Ben die grootste helde aan die gehoor uit. Dáár is kommandant Maree, wat tien keer gewond is, maar elke keer oorleef het; dáár veldkornet Van Gass, die eenarmheld van Spioenkop; en dáár die bobaas-bomplanter Maans Lemmer. Selfs treine wat die Britte met dik toue toegewoel of met ysterplate gepantser het, was nie veilig as Maans Lemmer in die omtrek was nie.

Wanneer al die helde hul buiging gemaak het, wag Ben dat die applous bedaar. “Dames en Here!” vervolg hy. “Nou volg opvoerings van die oorlog se twee vreesaanjaendste veldslae. Eerste aan die beurt is Colenso, waar vyfduisend Boere wonderbaarlik ’n volle sestien bataljons van die Britse leër, tesame met kavallerie en grofgeskut, platgevee het.” Hy beduie met ’n wye gebaar na ’n watervoor in die arena. “Hier sien julle die brullende Tugelarivier.” Dan wys hy na ’n loopgraaf in die geel kleigrond van St. Louis. ’n Paar van die Boeresirkusakteurs het reeds daar ingekruip. “Agter die Tugela kruip die Boere in loopgrawe weg,” verduidelik Ben. “Hulle is so te sê onsigbaar. Lang gras en klippe kamoefleer hul skuilplekke en hul kanonne. Daar is min van hulle, slegs ’n handvol, maar dit is genoeg. Hulle wag geduldig. Die vyand het geen benul wat kom nie. Hulle dink die Boere skuil hoër op teen Grobbelaarskop. Die Boere het loopgrawe daar bo gegrou om die Britte te mislei. Dit werk. Die Britte is houtgerus. Hulle weet nie van die klein bende vegters reg voor hul voete in die lang gras nie.”

terwyl Ben praat, stap ’n akteur met ’n Transvaalse roset op sy boshoed, ’n roer in die hand en ’n bandelier oor sy baadjie die arena binne. Kalm gaan staan hy langs ’n Krupp-houwitser en begin die wêreld deur sy teleskoop bespied.

“Dit is generaal Louis Botha,” sê Ben. “Hy het heelnag op die sandsakke by die kanonstellings geslaap en hy is slaggereed vir aksie.”

Die akteur glip koeëls uit die bandelier en vryf hulle strydlustig teen sy hempsmou blink terwyl die skare hom aanmoedig, maar Ben maak hulle stil en wys na die teenoorgestelde kant van die arena, waar Britse soldate in digte rye begin aantree. “Daar lê die klein Natalse dorpie Frere langs die spoorlyn van Durban na Ladysmith. Die grootste Britse leër in vyftig jaar is daar saamgetrek. Die offisiere hou krygsraad in die stasiemeester se gehawende gehuggie. Hul bevelvoerder is die duiwel van Devonshire, die bonkige oorlogsbul generaal Redvers Buller.”

Ben laat die legendariese Devonshire-naam ’n oomblik in die lug hang. Dan verskyn die akteur, net so vors en rossig soos die werklike man, op ’n spogperd en lig sy rypet vir die toeskouers. Hulle juig hom luid toe. Sou dit Biffin wees? wonder ’n paar ingeligtes. Is dit die einste beroemde ros waarop Buller sy verskyning in die vuurlinie gemaak het? Maar daar is nie genoeg tyd om dit uit te pluis nie. Die generaal gee ’n teken en die troepe begin beweeg.

“Die opmars na Colenso het begin,” roep Ben, maar sy stem word uitgedoof deur die geraas.

Die akteurs weet wat van hulle verwag word. Hulle marsjeer in die Boere se rigting terwyl knapgeleerde perde en muile die kanonwaens sleep en osse wiegend die agterhoede vorm. Die gehoor verkyk hulle aan die lewensgetroue uniforms, die stofwolke wat die soldate se stewels en die vee se hoewe opskop en aan die pakosse wat so swaar dra aan egte pontonne en militêre bagasie.

“Daar is Hildyard se manne,” roep iemand meegevoer. “Kyk die pluime!”

Sommige raadpleeg hul programme. Henry Hildyard was die beste generaal aan Buller se sy, lees hulle. Oor die ander was daar van die begin af bedenkings: daar was twee paphartiges, ’n ander wat hom reeds in die Soedan as swak strateeg bewys het en ’n paar rammetjies wie se valse selfvertroue vreesaanjaend was.

Dan skielik is die toeskouers se aandag weer in die arena voor hulle: ’n Zoeloedrywer klap met die sweep langs die muile se pote en begin in ’n lae, gedrae stem ’n lied sing wat oorloop van naderende onheil en diepe onrus.

“Stadig beweeg die Britte nader aan die Boere, min wetend dat die dood op hul wag,” praat Ben wanneer die laaste note van die lied wegsterf. “Hulle kaarte en hulle verkenningsketse sou nutte-loos wees.”

Die gehoor kyk hoe die Britte stelling inneem en hoe Buller die aanvalsteken gee. Meteens breek alle hel los. Die Britse kanonne begin hul bombardement. Die geraas is onbeskryflik. Die gehoor sit hul hande oor hul ore. Op die steiers begin kinders huil en daar is soms ’n vrou wat flou val.

Die Boere lê in die loopgraaf terwyl die koeëls oor hul koppe trek. Net hier en daar is die bol van ’n hoed sigbaar. Alles is vooraf so beplan. Laat die Britte hul ammunisie op die verlate koppie uitmors, dit kan die Boere min skeel.

’n Oomblik lank raak dit stil in die arena. Die Britte is verdwaas. Waar is die Boere dan? Dan staan Botha uit die loopgraaf op, hardloop na die houwitser en vuur. Dit is ’n teken dat die Boere kan losbrand. Die mausers begin spoeg en die kanonne trek los. Een van die Britte gryp na sy bors en val; ’n tweede trek deur die lug. En nog een! Die Boere maai onder die Engelse linies.

“Die perde hol weg,” roep iemand.

“Kyk! Hierdie kant het ’n perd dood neergeval.”

“Nog ’n perd is plat!”

“Hy het op die soldaat geval. Of nee wag, hy het nie.”

“Dankie hemel.”

“Wat ’n deurmekaarspul!”

“Kyk hoe lê die dooies.”

Een van die Britse spelers koes na ’n oop kol in die stof en harwar, kniel daar en maak sy heliograaf haastig op ’n driepoot staan.

“Hy ontbied White se hulp,” sê Ben, wat nou weer hoorbaar is oor die megafoon. Nog ’n Brit kniel in die stof, maak ’n grasmandjie oop en haal ’n duif te voorskyn. Met bewende hande bind hy sy boodskap aan die voël se poot en laat hom los. Die duif vlieg al hoër, en almal se oë volg hom tot hy net ’n stippel hoog bo die amfiteater is.

“Dit was ’n vergeefse vlug,” sê Ben. “Niks kon meer die slagting keer nie.”

Die gehoor staar verdwaas na die vernietiging voor hulle. Dooie perde en soldate lê in die stof gestrooi. Sommige lê halflyf in die water of slap oor die kanontrompe.

“Maar Long is nie bang nie,” roep Ben.

Charles Long, sê die program, was die kanonnier wat sy vyftienponders tot onder die vyand se neus wou neem omdat dit voorheen so goed by Omdoerman gewerk het.

“Hy was dwaas eerder as dapper,” sê Ben.

Long se batterye begin blaf, maar die Boerekoeëls begin dadelik onder sy kanonniers kou. Een ná die ander val hulle. Long self val ook. Die gehoor jou hulle uit en bedaar eers wanneer Buller sy herverskyning maak. Hy wil die vasgekeerde kanonniers gaan red. Met sy lyfarts langs hom ry hy tot in die vuurlinie, en stuit selfs nie toe die arts langs hom neergevel word nie. Vreesloos vorder hy tot by die donga waar Long se manne skuil. “Kom,” gebied hy bo die geraas. Hy soek vrywilligers om die kanonne te gaan haal. Drie manne klim koes-koes op hul paniekbevange perde. Onder hulle is Freddy Roberts, die veldmaarskalk se enigste seun.

“Hy wou sy vader se respek verwerf,” vertel Ben. “Hy wou met ’n heldedaad in lord Roberts van Kandahar se koue hart kruip.”

Voor die toeskouers se oë trotseer die driemanskap die trommelende koeëls. ’n Perd swik, struikel, beur dan weer vorentoe. En dan gebeur wat almal teen nou al weet in die regte lewe ook gebeur het: Freddy Roberts val. Hy rol kreunend in die stof en beland byna onder die hoewe van die ander twee se perde. Sy makkers storm voort, haak ná ’n woeste worsteling twee vyftienponders se voorstelle aan hul kanonwaens en begin dit wegsleep. Maar Botha se manne verdubbel hul vuur. Buller gooi sy arms in die lug. Dit is hopeloos, beduie hy. Los die kanonne. Los dit maar.

“Hoera!” jil die skare. “Hier kom die Boere!”

Die burgers jaag nader en vat Long se kanonne vir hulle. Hulle vang die soldate in die donga en keer die perde aan wat losgebreek het. Almal juig.

“Dis nog nie verby nie,” bring Ben hulle tot kalmte. ’n Britse baardraer draf nader en tel Freddy Roberts van die grond af op. Die gewonde jongman staar na die ledemate wat hy nie kan beweeg of voel nie. Dan val sy kop terug teen die bloedbevlekte seil en sy lyf raak heeltemal stil. Die draer trek ’n seil oor sy kop. Die Zoeloedrywer hervat sy dodelied.

Buller klim van sy vosperd af en gaan sak soos ’n ou man op ’n ammunisiekis neer. Dan staan hy op, gaan sit by ’n kamptafel, haal pen en papier uit.

“Dit is sy kabel aan lord Roberts,” sê Ben. “Dit lui: Waarde Heer. U dapper seun is vandag dood. Deelneming. Buller.”

’n Kollektiewe sug styg uit die paviljoene op. Om te dink dat dit wáár is, dat alles werklik net so gebeur het!

Ben wag ’n oomblik of twee voor hy aankondig dat daar ’n kort pouse sal wees. “Daarna,” beloof hy, “is dit die Boere se beurt om op hul baadjie te kry.”

Ná die pouse het Ben gewoonlik eenkant gaan staan en wag terwyl die slag by Paardeberg opgevoer is. Dan was dit Piet se beurt om die middelpunt van aandag te wees. Ben was maar te bly dat hy hom van Paardeberg kon distansieer. Daardie bloedige gemors het dank die hemel niks met hom te doen gehad nie. Eintlik het die ganse verdomde oorlog vir hom na iemand anders se storie begin voel. Hy kon nie eens meer met oortuiging sê waarvoor hulle konsuis geveg het nie.

“Ag, my God,” sou Ben uitbars as iemand dit sou waag om te sê dit het gegaan oor grond wat aan die Boere behoort het. “Gaan staan wydsbeen iewers by ’n grensdraad en kyk na die patetiese stoom as jou pionierspis teen die sand vasskuim. Dis al. Dis absoluut al wat mens in Afrika het.”

Hulle het geveg omdat hulle belaglik gehoorsaam aan volk en vaderland was, het Ben besluit terwyl hy bitter staan en kyk hoe Piet wéér voor Roberts aantree. Geveg omdat hulle ratse helpertjies was, nes hulle mammas hulle geleer het.

Hy het nie huis toe verlang nie. Hy wou nóóit weer teruggaan nie. Die spul handjiesvrywers, voetslepers, draadsitters, manteldraaiers en wik-en-wegers sou hom nie weer sien nie. Hulle kon maar in hul baarde mor, aan hul rowe krap, aan hul pitswere druk. Van nou af sou Ben Viljoen aan die beweeg bly. Te hel met huis, met die versmorende bekgevegte van die klein binnekring, moer toe met al die vrome ooms en tantes, met ónse mense, ónse taal, ónse kerk en ónse erfgrond. Hy sou godweet nie weer sy dors by sy land se Bitterfonteine en Brakriviere probeer les nie. Hy was hartlik keelvol vir al die ongeluksnekke en knersvlaktes.

Net soms het die herinnerings weer op Ben afgekom en sy bui bedonner. Soos toe Frank een aand vir hom vertel van sy Kaapse seisoen. Uit radeloosheid oor leë sitplekke het Frank al die sirkus se ou plakkate laat afhaal en ’n nuwe een laat opsit. Net één, oral net die een enkele plakkaat. Vanaand! Frank Fillis se verstommende sprong! Sy skrikwekkendste waagstuk ooit!!!

Hy het van ’n wipplank gespring, bo-oor dertig kastige soldate wat in dubbelgelid in inspeksiestand aangetree staan, tot op ’n matras aan die ander kant. Die soldate was gewapen met gevelde bajonette en hulle het opdrag gehad om ’n sarsie skote af te vuur sodra hulle sy stem hoor.

“Vuur,” het Frank geroep sekondes nadat sy voetsole losgeraak het van die wipplank, selfs voordat hy nog behoorlik oor hul koppe geseil het. Die kuns was om ver genoeg te spring sodat jy nie tussen die soldate land nie, of bo-op hul bajonette nie, om nie te vroeg die skietbevel te gee nie, maar ook nie só laat dat die toertjie alle waaghalsigheid inboet nie.

Toe hy die eerste keer ongedeerd op ’n matras land, terwyl die rook en die reuk van die skote nog in die lug hang, het hy vir ’n oomblik weer die óú uitgelatenheid geproe, die euforie wat volg as jy wegkom met roekeloosheid. Daarna het hy die toertjie elke aand herhaal.

Nadat Frank op ’n keer sy enkel verstuit het, het die tuimelaar George Feeley, ambisieus en honger vir aandag, aangebied om in sy plek te spring. Maar Feeley het reeds die eerste aand verbrou. Hy het te kort geland en ’n bajonet het sy been deurboor. Die wond het ontsteek, die been moes later bo die knie afgesit word en Feeley het teruggekeer na Engeland.

“Dit was vernederend, toe dink hy maar ’n storie uit,” het Frank gesê. “Hy vertel nog steeds vir almal dat sy been by Elandslaagte deur een van julle Boere se Creusotkoeëls verbrysel is.”

Ben het sy glas hard op die kroegtoonbank neergesit. Hy was onmiddellik woedend. “By Elandslaagte! Was hy daar?”

“Nee. Maar dis ’n beter storie as die waarheid,” het Frank gesê en gelag. “En Feeley het ’n goeie verbeelding. Hy vertel glo dat hy later niks kon sien in die rook en stof nie, maar dapper aangehou het om kolonel Chisholme se spoggerige rooi syserp oor die gevegsterrein te volg.”

“Dapper se gat!” het Ben uitgebars. “Dis hoe jy weet hy praat stront. Niemand glo agterna meer in verdomde donnerse dapper-heid nie.” Hy het vir sy eie emosie geskrik.

Frank het hom nie juis aan Ben gesteur nie, hy wou sy storie kláár vertel. “Hulle sê as hy op dreef is, vertel Feeley hoe hy platgeval het as die koeëls om hom fluit, hoe dit soms die grond so naby aan hom getref het dat dit sand oor hom laat spat het, maar hoe hy elke keer weer opgestaan en vooruit beweeg het.”

“Genóég.” Ben het vinnig opgestaan en sy stoel het hard omgeval. Sy vuiste was gebal.

“Tot hy uiteindelik in die hardloop neergevel is,” het Frank dit gewaag, toe Ben se stoel opgetel en beduie hy moet sit. “Kom, Ben.” Hy het sy hande as ’n vredesgebaar in die lug opgehou. “Ek vertel jou maar net watse stront Feeley alles loop en verkoop. Have a laugh, ou vriend.”

“Dis nie snaaks nie. Dit was nie ’n grap nie. Enigiemand wat daar was, sal wéét. Hulle het op hul perde gesit en ons manne met lanse stukkend gesteek. God, die goed wat mens daar gesien het.” Ben het die emosie probeer sluk, maar dit het in sy keel vasgesit. “Mans en seuns het tussen die rotse rondgekruip en om genade gesmeek. Daar was dinge wat ek nie kon aanskou nie, ek het myself gedwing om weg te kyk.”

Ben het stilgebly. Magteloos. Dis onmoontlik om die hart van die hel vir iemand aan die verstand te bring as hulle nie daar was nie.

“Pigsticking,” het Frank sag, skaars hoorbaar, gesê.

Ben het sy binneste voel ruk. “Wát?”

“Miskien moet ek jou nie eens vertel nie. Dis glo hoe hulle dit beskryf het. Agterna.”

Ben het vir Frank aangegluur. Twee of drie jaar gelede sou hy opgespring, soos ’n dier gebulk en die Engelsman se gevreet skeef ingeslaan het. Maar nie meer nie. Wat sê mens as jy so iets hoor? Niks. Jy sê absoluut niks. Jy suip. Mettertyd bedaar jy weer. Dis mos die nuwe manier van doen. Hou jou bek en bedaar. Sit in die hoek en shut up.

Sirkusboere

Подняться наверх