Читать книгу Sirkusboere - Sonja Loots - Страница 9

6

Оглавление

Dit was veral Eliza se verbluffende borste wat Frank se aandag geboei het. As hy teen haar kom staan en sommer déúr haar klere oor haar tepels begin vryf, het sy geweet. “Kom wys vir my,” het hy gesê en haar kamer toe gevat. Dan moes sy vir hom konsert hou. Sy het voor hom gaan staan, en stadig, baie stadig begin uittrek. Haar onderlyf moes sy heeltemal kaal maak en dan só staan dat hy die gapende mosseltjie tussen haar bene góéd kon sien. Haar korset moes sy aanhou. Dié se veters het hy self losgepluk wanneer hy klaar gekyk het. Hy het dit van haar lyf afgeskil en haar borste begin vryf tot die merke wat die baleine in haar vel gedruk het heeltemal weg was. Hy het haar gelek en soms sag gebyt tot hy kon voel die tepels is nou kliphard en sy is taai tussen die bene. Dan het hy haar tot op haar voete getrek en agter haar kom staan, met ’n hand op elke bors, en haar vooroor laat buk sodat hy hul gewig in sy palms kon voel terwyl hy haar al hoe harder van agter stamp.

En toe vind sy uit hy was eintlik al die tyd getroud. Toe hy jare gelede op die skip na die Kaap geklim het, het hy, benewens ’n hoop skuld, ook ’n sieklike vrou in Stepney agtergelaat. Dit het Eliza eers agtergekom toe sy tussen ander pos uit Engeland, wat sý oopgemaak het omdat sy wou weet of daar weer skuldaanmanings by was, ’n brief vind wat Frank in kennis stel dat dié vrou eindelik oorlede is. Sy het dit voor Frank gaan neergooi en huilend gekyk hoe hy dit vinnig deurlees en sy skouers ophaal, asof dit niks was nie. “Dan moet ons my seun laat kom,” was al wat hy gesê het. “Hy is seker nou oud genoeg.”

Frank se seun. Nóg iets waarvan sy nie geweet het nie.

Sy het so lank kwaad gebly dat Frank op die ou end ’n ring gaan koop en haar gevra het om die tweede mevrou Fillis te word. Hulle het in die leeuhok verloof geraak en in die leeuhok getrou. Die predikant en die handjievol gaste het buite gestaan, maar die bruidspaar het op strooi in die hok gestaan met die leeus om hul voete (en die temmer so onopsigtelik moontlik agter hulle).

Daar was ’n kort berig en ’n foto’tjie oor die troue in die koerant. Waarskynlik is dít hoekom Frank hom tot trou laat oorhaal het, het Eliza ná die tyd vermoed. Hy was altyd honger vir publisiteit; het natuurlik gedink dit is ’n gawe manier om weer die publiek se aandag op hom te vestig.

Wat nié in die koerant gestaan het nie, was hoe triestig die geleentheid in der waarheid was. Die leeus het nie die geringste teken van veglus getoon nie. Hulle het verveeld toegekyk en gelate gelek aan die sjampanje wat by hul pote val. Hul maanhare het dof oor hul skouers gehang. Eliza het onder haar swaar Spaanse wimpers uitgeloer en besef sy is nie eers náástenby bang vir die leeus nie. Frank het haar opeens laat dink aan haar oorlede vader, die visser Miguel Mayol, ’n gebore sukkelaar wat sy lewe lank leë nette uit die see getrek en geluk deur sy vingers laat glip het.

Die huwelik het nie een van hulle twee opgebeur nie. Eliza het nie gehou van die nuwe speletjies wat Frank in die slaapkamer wou speel nie. Sy was nie ’n sirkusdier wat heeltyd moes toertjies doen nie. Sy wou ook nie vasgebind word of met die perdeswepie geraps word nie. Frank het gevolglik ure lank alleen op sy bed gelê met ’n halfgedrinkte bottel whiskey en altyd dieselfde boek, ’n handleiding oor die ruiterkuns wat sy oom geskryf het toe hy oor die hele Europa heen beskou is as die mees grasieuse ruiter ooit. Wie één keer vir James Fillis op ’n perd se rug gesien het, het dit nooit weer vergeet nie, het Frank oor en oor vir Eliza vertel. Sy oom was ’n wonderkind wat van negejarige ouderdom vir ryk perdehandelaars en resiestelers gewerk het. Op tien het hy voor die Franse sirkusbaas Soullier opgetree. Private vertonings vir die Duitse keiser, die koningin van België en die koning en kroonprins van Denemarke het gevolg.

“Ja, ek weet van hom,” het Eliza geïrriteerd gesê.

“Almal weet van hom!” het Frank weer op dreef gekom. “Hy was ’n gevierde man dwarsdeur Europa. Later instrukteur in gevorderde rykuns by die Cirque Théâtre du Prince Impérial in Parys en ná sy aftrede hoofrymeester van die Kavallerie in St. Petersburg.”

“En jy kan nie eers op ’n Saterdagaand ’n sirkustent in Krugersdorp halfpad volmaak nie.”

So het dit met Frank gegaan nadat hy van sy staanplek op die Parade weg is. Ongeliefd by die huis en, só het dit vir hom gevoel, ongeliefd by die publiek.

Toe hy by sy aankoms in Pretoria sy tentpenne op Kerkplein inslaan, was hulle nog rooi geroes van die Kaapse seelug. Hy was bly oor die kans om ’n nuwe begin te maak. Hy het hoopvol rondgekyk en daarna uitgesien om te kyk hoe ’n koddige vent met ’n stowwerige pluiskuil en sakkerige halfmane onder die oë aangestap kom. In die ou dae het die president graag kom groet en persoonlik vir hom die leviete kom voorlees oor hoe sy sirkus nie die burgers se goeie Christenwaardes in die gedrang moet bring nie. Dit het Frank altyd geamuseer. Maar hierdie keer was daar geen teken van Kruger nie. Frank moes hoor die oukêrel sit in Switserland oor sy land en treur, in ’n rolstoel, met ’n kombers oor die knieë. En dit het vir hom duidelik begin raak dat die stemming in die voormalige Boererepublieke ewe sleg was as in die Kaap. Van Pretoria het hy na Johannesburg versit, van Johannesburg na Krugersdorp. Oral was dit dieselfde storie, maar in Krugersdorp het hy darem vir Ben Viljoen in ’n kroeg raakgedrink.

Benewens die kroegman was dit daardie middag net hulle twee in die drinkplek. Almal anders het pens en pootjies in hul lewe vasgesit. Frank was daar omdat hy gevlug het vir een van Eliza se tirades oor hulle skuld; Ben omdat hy dit nêrens anders meer kon uitstaan nie. Hy wou geen enkele snars meer hoor van mense wat aangestel is in posisies waarvoor hy nie goed genoeg is nie. Die lot moes maar voortfoeter. Hy het gehoop hulle asse breek. Hy het gehoop hulle vellings val af. Hy sou niemand se gat lek nie. Hy was nog nooit ’n gatlekker nie en hy sou dit nie nóú raak nie.

“Ben is terug,” het sy bejaarde moeder teenoor haar vriendinne gebabbel. “Sy reise is op ’n einde.” Sy het dit laat klink asof dit so hoort, presies so. Sy het die Here gedank dat Hy haar seun bewaar en behoed en veilig aan haar terugbesorg het. Nou kon die lewe normaalweg voortgaan. Haar vloere was gevee, die beddens opgemaak, die kos amper gaar en Ben weer by die huis. Sy het haar hande aan haar voorskoot drooggevee. Dit was tyd vir ’n volgende takie. Dit was hoe sy nog altyd orde geskep het en hoe sy nou weer orde sou skep. Die oorlog was verby en almal sou nou tot hul sinne kom. Dinge sou beter wees. Só het dit gewerk in Susanna Magdalena Storm Viljoen se wêreld, waar ’n mens seerplekke beter kan soen, sodra jy net eers die gruis en bloed afgevee het.

Ben het fronsend na haar sit en luister. Hy wou nie onder haar dak wees nie, maar nog minder in die huis waar hy voorheen saam met Lenie gebly het. Eintlik wou hy glad nie terug wees in die land van verloorders nie. Sy ma moes maar wikkel en kekkel en regklap waar sy kan, maar hý was nie lus vir oorbegin nie. Vir wat moet hy krummels bedel by die nuwe bewind? Die bliksems! Hulle agterente, man. Hulle verdomde agterente. Hy sou g’n in hul verflenterde nes bly sit saam met al die ander uilskuikens nie. Dit was tyd om weg te bliksem. Hy moes nog net uitwerk waarhéén. Niemand sou Ben Viljoen se vlerke knip nie. Verdomp niémand nie.

En toe knoop die enigste ander dopsteker in die kroeg ’n gesprek aan, in klopdisselboom Afrikaans met ’n swaar Engelse aksent. “Brandewyn,” sê hy en beduie na Ben se glas. “Hoe kry jy die goed by jou keelgat af?”

“Niks fout met brandewyn nie,” sê Ben.

“Nie as dit in ’n medisynekas staan nie. Julle Boere smeer dit mos aan koorsblare en aambeie en die duiwel weet wat julle nog alles onder lede het. Maar om dit te drink, o Here, nee. Dis te goor om te drink!”

“Hang af. Van jou bui.”

“Ek sien jy drink die gif skoon. Seker oor dit so droog is.”

“Ja-nee, ons mors nie water nie,” gee Ben effens skiet. Glimlag. Hy het lanklaas só ’n potsierlike kalant op die lyf geloop. Regte Engelsmannetjie. So skraal soos ’n snoekerstok, met wit wenkbroue en ’n bokbaardjie wat lyk soos die kwassie waarmee Lenie altyd melk aan haar tertkorse geborsel het. Of waarmee sy waarskynlik steeds haar tertkorse borsel, al is hy nie meer daar om saam te eet nie.

“Kom ons drink eerder iets ordentlik. Dis op mý.” Frank bestel joviaal twéé whiskeys.

Ben haal sy skouers op en slaan die dop weg. As die snoekerstokkie sy geld op vrot geselskap wil mors, gaan hy wat Ben is nie kla nie. Tyd om die dag aan sy nekvelle te gryp en te verdrink. “Waarop drink ons?” vra Ben.

“Ek weet nie. Wat ook al. Op mooi vroue. Of op vrede.”

“Eerder op vroue. Vrede help my niks. Ek kon netsowel op St. Helena bly sit het.”

Frank lyk geïnteresseerd. “So, jy was ’n krygsgevangene?”

“Ja. Met komplimente van jou koningin.”

“Mag sy in vrede rus,” skater Frank en daar gaan hy al weer. Nog ’n leë glas. Ben lus ook nog, maar dié heildronk drink hy nie saam nie. Selfs hý moet iewers die streep trek.

“Is jy ’n soldaat?” vra Frank.

“Ek wás. Nou weet ek nie meer nie. Dis vrede en ek sit ledig.”

“Het jy nie ’n plaas nie, Boer?”

“Nee.”

“’n Boer sonder ’n plaas. Elke dag iets nuuts.” En Frank lag hom byna dood.

“Ek het net ’n boek, en dit gaan my niks in die sak bring nie,” sê Ben suur.

“Watse boek?”

“Wat ek oor die oorlog geskryf het.”

Frank lyk beïndruk. “’n Skrywer. Dis deftig. Wat is jou naam?”

“Ben Viljoen.”

“O. Die Boeregeneraal. Ek het al van jou gehoor. Slaan my dood. Hier sit jy en suip soos ’n doodgewone kroegvoël.”

“My rang was nog nooit van enige hulp nie,” sê Ben. “Dit het die Britte gretig gemaak om my te vang, ja. Maar op St. Helena het hulle my in ’n tent laat bly en vir Piet Cronjé ’n huis gegee. En ná die oorlog is Botha, De la Rey en De Wet sonder my Europa toe vir die onderhandelings. Asof ‘generaal’ sommer ’n bynaampie is wat my ma my gegee het.”

“Klink my hulle was nie lus vir jou nie,” waag Frank dit.

“Of ek vir húlle nie. Hulle kan in hulle verdomde maai vlieg.”

Frank antwoord nie, maar hy kyk met nuwe oë na Ben. Hy bestel vir hulle elkeen nog ’n dubbel-whiskey en takseer die generaal met die gladgewakste kantkuif. Hy raai die flambojante kronkel van sy mededrinker se snor verklap selfvertroue en flair, dalk selfs ’n verbeelding en ’n sintuig vir intrige. Ben is ’n haan onder die henne, dít kan hy sien. Maar die haantjie se krop sit tot barstens toe vol gedwarsboomde drome, raai hy. Hy weet hoe dít voel. Lo and behold, dink Frank, hierdie Boer is byna so keelvol soos ekself.

“En jý? Het jy geveg?” vra Ben ná ’n ruk. terwyl hy dit vra, kry hy al lag. Die Engelsmannetjie sal duidelik nie ’n vark kan slag nie, never mind ’n mens.

“Nee. Maar ek het al baie gevare trotseer.”

“Soos?”

“Die land was nie altyd so mak soos nou nie, Boerbok,” vervies Frank hom. “Ek toer al sedert die 1880’s in die ongerepte binneland. Dikwels moes ek manalleen myle lange distansies aflê. Ek had my kwota noue ontkomings. Daar was robuuste blootstelling aan doodsgevaar op ’n menigte maniere.”

“Noem één voorbeeld.”

“Die keer toe inboorlinge my duskant Wepener gevange geneem het. Agttien-agt-en-tagtig, as ek reg onthou. Die kaffers was boos, want hulle dag ek is een van die troepe wat by die Basoetogrens sou oorlog maak. My sakdoektruuks het my gered. Hulle het gedink dis togati. Toorkuns. Toe ek weer sien, laat hulle my loop.”

Ben lag. “Is dit die naaste wat jy ooit aan oorlog gekom het?”

“Ek is nie ’n soldaat nie. Ek veg net met my skuldeisers,” sê Frank. “Veral deesdae. Voor die oorlog het dit goed gegaan met Fillis se Sirkus, maar nou is niemand meer lus vir grappies en poetse nie.”

“Dan weet ek ook nou wie jý is,” sê Ben.

“Ja. Aangenaam. Frank Fillis,” en Frank steek sy hand uit. “Befaamde volksvermaker. Impresario, arties en sirkusbaas. Skepper van kolossale skouspele en treffende tablo’s. En laaste maar nie die minste nie, eienaar van Afrika se eerste en enigste eenwielfiets.”

Ben skud van die lag én hy skud die hand wat na hom uitgesteek word. Dis nie die eerste Engelse handjie wat hy in syne neem nie. Buitendien, die oorlog is verby en dit klink vir hom die vrede is vir hulle al twee ewe simpel.

Hulle dop eers ure later dronk by die kroeg uit, en ’n week ná hul eerste ontmoeting stuur Frank ’n sirkuswerker met ’n nota na Ben se ma se huis: Confrère! Kameraad! Wat ’n goeie ontmoeting was dit nie! Ons moet weer beraadslaag. In dieselfde hoofkwartier. Vanmiddag om drie.

Ben grinnik toe hy dit lees. Met alle plesier, laat hy weet.

Dit is die begin van ’n trotse tradisie van kakpraat en kwaaidrink. Hulle daag in goeie kondisie op, altyd weer by dieselfde kroeg, en elke sessie begin stigtelik genoeg. Maar later bondel hulle inkapabel van hul stoele af en flenter dronk by die deur uit, en die volgende oggend word elkeen wakker met ’n hoofpyn wat soos ’n merrie teen die skedel skop.

Frank amuseer vir Ben. Niemand in Krugersdorp se jeremiades is interessanter as die sirkusman s’n nie. Saans in die arena lyk Frank redelik presentabel met sy wit rybroek, swart stewels, rooi jas met lang flappende pante en perdesweep, maar as die son op hom skyn, slaan hy volgens Ben ’n potsierlike figuur. Hy het ’n spits gesig en maer beentjies en die details van sy monderings hang van sy bui af. Soms dra hy ’n aandbaadjie met ’n kniebroek daarby; die volgende dag ’n verbleikte tuniek uit die Soedannese oorlog, of ’n groen fluweelbaadjie met omboorsels van goue kant, of kruisbande vol kastige “medaljes”. Daarby dra hy altyd ’n leertas wat hy sy portmanteau noem. As Ben vir hom vra wat hy daarin hou, sê hy geheimsinnig: “Planne, Boerbok. Vir ’n blink toekoms.”

Ben hou daarvan dat Frank sy eerste dop vinnig wegslaan en dan ’n lang inventaris moontlike gespreksonderwerpe aframmel, die een so gek soos die ander. “Wat sal daai massiewe suurheid van jou laat wyk, Boerbok? Wil jy hoor van al die beserings in Bombaai toe een van ons sitplekstellasies ineengestort het? Van die koningin se verjaarsdagviering in Kaapstad, toe ’n mak luiperd ’n tienjarige kind se kopvel afgeskeur het? Van ’n ontmoeting met ’n gewapen-de Swazikryger en sy poedelkaal dogter met die mandjie eiers op haar kop?” In die stem van ’n afslaer, asof hy die verhale opveil. Wil Ben hoor van ’n afgryslike treinongeluk waarna Frank die lyk van ’n moeder met ’n baba aan die bors gesien het? Van die perd wat hy in ’n meer buite Barkly-Wes gevind het, tot by sy maag weggesak in die modder, en met groot moeite uitgesleep het, net om te vind daar hang ’n drenkeling aan die stiebeuel?

“Vertel eers hoe lank is jy al in die land,” sê Ben die eerste keer.

“Lank. Langer as twintig jaar. Agttien-tagtig in die Kaap aan wal gestap en dadelik tuis gevoel.”

“Tuis! Tussen daardie klomp moerskonte van die Kaap?”

“Ja.”

Ben moet maar skoorsoek, Frank laat hom nie uitlok nie. Dis die Boere se oordrewe republiek-politiek wat so klink, weet hy. Wat weet Ben in elk geval van die Kaap in daardie jare? Dit was die mooiste plek wat Frank in sy lewe gesien het. Die berg met sy dramatiese missluiers; die lang, lae huise met groot stoepe in die stadskom; die grasieuse mense in die strate. Die Maleiers het toerings gedra, spits strooihoede met ’n woelsel rooi en wit katoen daaronder, en hier en daar het die ouer mans nog kaparrings tussen hul tone vasgeknyp. Frank het hom vergaap; dit was wonderlik eksoties. “In die Kaap kon ek voel hoe ’n nuwe wêreld wink,” sê hy. “By die huis was daar ’n hoop skuld, ’n wyf wat by die dag al dikker raak en ’n baba wat huil elke keer as ek hom wil optel. Hier in Afrika was daar geléénthede.”

“Wás,” sê Ben. “Nou’s daar net suur gesigte oral waar jy kyk.”

“Couldn’t agree more,” sê Frank. “Ek wens mense wil nou van die oorlog vergeet.”

“Nie sommer nie.”

“Mens kan nie vir ewig dikbek bly nie.”

“My mense is deur hel.”

“Ons kry álmal swaar. Nie net die Boere nie. Toe ek Januarie in die Kaap aankom, sien ek die sinkgebou wat ek voor die oorlog op die hawehoof gebou het, is gesloop. Ek kon dit nie glo nie! ’n Replika van die San Giovanni-doopkapel! Gesloop. Sommer net gesloop. En niemand het my eers laat weet nie.”

“Ag Here, kêrel,” sê Ben. “Soek jy nou simpatie? Oor ’n sinkgebou? Weet jy hoeveel mense se huise en plase is afgebrand? Weet jy hoeveel rykdom is verlore? Hoeveel skatte?”

“Ek praat van my brood en botter. Van my vroeëre voorspoed het niks oorgebly nie. Ek moet van voor af begin.”

“Ten minste hét jy iets om mee te begin.”

“Dis nie so maklik nie.”

“As die oorwinnaars so praat, dink net hoe voel die verloorders,” sê Ben.

Só het die verskille tussen hulle af en toe opgevlam, maar tóg het hulle mekaar weer en weer opgesoek.

“Watse visblikkies en verfpotdeksels het jy hier vasgespeld?” vra Ben en beduie na die kastige medaljes wat Frank aan sy kruisbande en baadjielapelle vasgespeld het.

“Dekorasies. Medaljes. Toegeken vir vernuf. Hierdie is die Goue Arend van Mysore, ’n skitterende getuigskrif van hoe beïndruk die maharadja was deur my titaniese talente.”

Ben lag. “Maar geen medalje hier vir beskeidenheid nie.”

“Grootpraat is in my gene. My oupa was een van Engeland se laaste Shakespeariaanse narre, ’n uitgeslape ou spotvoël. My vader ’n rondreisende akteur. Dis nie beroepe vir beskimmeldes nie. En ek was nog nie eers nege nie, toe werk ek al as ’n skoublaffer.”

“Watseding?”

“Skoublaffer. Kermiskraaier. Fairbarker in Engels. Jy staan voor een van die sideshows en roep na verbygangers. Hulle loop verby en jy moet hul aandag wegkry van die limonadestalletjies, die gejelliede palings en die geroosterde grondboontjies. Jy moet hulle oorreed om ’n kaartjie te koop vir die attraksie wat jý adverteer.”

“En dít kry jy reg met grootpraat.”

“Verbeeldingryke beskrywings,” korrigeer Frank. “Dink jou dit in. Jy het byvoorbeeld ’n hondmak hiëna op hok agter ’n fluweel-gordyn. Die kompetisie se plakkate sê hulle het die vetste vrou in die hele wêreld. Niemand wil ’n hiëna sien nie. Maar dalk voel hul anders oor ’n mensvretende monstruositeit wat onder die mantel van middernag met ghoulish glee geraamtes uit grafte grawe. Hoe sê mens ghoulish glee in Afrikaans?”

“Ons praat nie sulke stront in Afrikaans nie.”

Dan lag hulle dat die trane loop en klop mekaar broederlik op die skouer. Hoe later, hoe kwater.

“Ek was vier-en-’n-half toe my pa my die eerste keer op ’n ponie se rug gesit het,” vertel Frank.

“Ek was toe nog aan my ma se voorskootbande vas.”

“Skaars ses toe my vakleerlingskap in die sirkus begin het. En net mooi dertien toe toer ek alleen deur Engeland met my protégés en hul parafernalia.”

“Watse protégés?” vra Ben.

“My trop hoogs geniale honde. Ek het hulle geleer om allerhande manewales te bemeester. Manewales so moeilik dat baie mense daarmee sou sukkel.”

“En ek was negentien toe ek in die Kaap aangekom het. Ek het in ’n stadium my sirkus Indië toe geneem en drie jaar daar rond-getoer. Maar gou het ek weer die roepstem van Afrika gehoor.”

Ben lag hom uit. “Roepstem. Al wat Afrika ooit sê, is ‘voertsek’.”

“Vir jou miskien. Vir my het Afrika ’n allure. Binne drie jaar was ek terug op die delwersdorpe. Ek het goed geld gemaak, lekker geleef. In Kimberley het ek ’n huis langs Barney Barnato gekoop en baie saam met Cecil Rhodes geëet. In Johannesburg het ek ’n ouditorium gebou wat groot genoeg was vir gehore van amper tweeduisend.”

“Aitsa.”

“As jy dit gesien het, sou jy dit nooit weer vergeet het nie. Ek het my gehore verbyster. Ons repertoire was weergaloos. Professor Beaumont, wat met ’n vyftigpond-gewig op sy bors op die bodem van ’n watertenk sou ‘slaap’ tot ons toeskouers floutes begin kry. Wat onder die water sit en kaart speel het met sy dogters. O, en die dogters! Wulpse waternimfe met lang blonde lokke en twee troetelkrokodille.”

“Ek wás een keer by jou sirkus,” sê Ben. “Die verhoog was vol water.”

“O! Die waterpantomime! Ek het reuse-ystertenks in die amfiteater laat bou. Tweeduisend pond het dit my gekos. Saans is vyftigduisend gelling water uit die dak gestort en die arena omskep in ’n meer. En dan het ons ’n groot karnaval gehou. Het jy ook gedink dis ongelooflik? Sewe Indiese olifante, tagtig perde en veertig Belgiese danseresse. Onthou jy die kunstenaars in die kano’s? Het jy die nar gesien wat manewales op ’n vlot doen? En aan die einde van die aand het al die orkeslede in die water geduik!”

“Maar toe bars die tenke,” onthou Ben. “Die koerante het geskryf jy het groot geld verloor.”

“Nietemin ’n onvergeetlike skouspel. Fillis se verstommendste vertoning. My grootste triomf nog!”

“En nou sit jy hier en suip soos ’n doodgewone kroegvoël.”

“Touché, Boerbok, touché. So ’n bek kort whiskey.”

En dan bestel hulle nóg ’n ronde.

Sirkusboere

Подняться наверх