Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 5 - Susanna M Lingua - Страница 4

1

Оглавление

Elmarie Keyser luister afgetrokke na die eentonige gefluit van haar motor se buitebande op die vaal teerpad. Sy het vyfuur vanoggend ’n telefoonoproep ontvang van ene mevrou Dorie Venter van Bloemfontein, om te sê dat haar jonger suster, Luzaan, gisteraand met dubbele longontsteking in die hospitaal opgeneem is en dat haar toestand vanoggend uiters kritiek is. Elmarie se teenwoordigheid word dringend in Bloemfontein verlang.

Na die telefoonoproep het Elmarie net haar werkgewer geskakel en hom vertel dat sy onverwyld na Bloemfontein moet gaan, en toe haastig ’n tas gepak en vertrek. Nou voel dit vir haar asof sy in haar haas iets baie belangriks vergeet het. Sy kan op die oomblik nie dink wat dit kan wees nie, want sy voel nog veels te verward oor haar enigste suster se skielike siekte.

Elmarie het reeds die Vaalrivier oorgesteek, toe dit haar meteens byval dat sy heeltemal vergeet het om Herman van Coller, die man aan wie sy al vier jaar verloof is, van haar skielike vertrek te verwittig.

Sy was een-en-twintig en Herman vier-en-twintig jaar oud toe hulle destyds verloof geraak het, en hulle sou bepaald al getrou en by Herman se ma in die huis gaan woon het as sy, soos hy, bereid was om na sy dominerende ma se pype te dans. Elmarie is egter gans te selfstandig om haar deur Matilda van Coller te laat oorheers, dus het sy volstrek geweier om met Herman te trou voordat hulle ’n eie tuiste kan bekostig. Nou spaar hulle albei en intussen stap die jare ongemerk aan, want as ’n staatsamptenaar wat ook sy ma se inkomste moet aanvul, kan hy elke maand maar min spaar.

Sy beeld duik voor Elmarie se geestesoog op – hy is middelmatig van lengte met bruin hare, grou oë en ’n skraal gesig. ’n Alledaagse gesig en niks buitengewoons nie, dink sy afgetrokke.

Haar gedagtes dwaal na haar vier-en-twintigjarige suster, Luzaan, wat sy byna ses jaar gelede laas gesien het. Hulle ouers is oorlede toe Elmarie agtien jaar oud was en Luzaan sewentien. Elmarie het reeds ’n paar maande by die ouditeursfirma Pelser en Grové in Pretoria as boekhoudster gewerk, en Luzaan was in standerd nege. Hulle ouers was nie welgesteld nie, en Elmarie het besef dat sy vir haar jonger suster sal moet sorg totdat sy matriek geslaag het en op haar eie bene kan staan.

Elmarie was van jongs af baie betroubaar en het ook oor ’n merkwaardige verantwoordelikheidsbesef beskik. Gevolglik het Luzaan, nadat sy matriek geslaag het, ’n pos in Johannesburg aanvaar om van haar suster se wakende oog af weg te kom. Luzaan het egter net ’n rukkie in Johannesburg gewerk en toe ’n pos in Bloemfontein aanvaar. Daarna het Elmarie haar nie weer gesien nie, want die meisie was gewoonlik uitstedig wanneer dit tyd geword het vir haar ousus se jaarlikse verlof. Nou lê Luzaan in die hospitaal en sal sy haar kleinsus na al die tyd weer sien.

Dit neem Elmarie gelukkig nie lank om die hospitaal in Bloemfontein te vind nie, en vyfuur die middag hou sy voor die groot gebou stil. ’n Vriendelike, hulpvaardige verpleegster neem haar na die vroueafdeling, en weldra staan sy langs die hoë hospitaalbed waarop haar suster bleek en met geslote oë lê. Langs die bed op ’n stoel sit ’n ouerige dame met ’n blonde krulkopseuntjie, wat Elmarie ongeveer vyf jaar oud skat, op haar skoot.

“Ek veronderstel u is Luzaan se suster, juffrou?” hoor Elmarie die vrou vriendelik en verlig vra.

“Ja, ek is Elmarie Keyser,” stel sy haarself voor.

“Ek is die weduwee Dorie Venter wat u vanoggend hierheen ontbied het. Luzaan loseer al jare by my,” vertel die vrou op gedempte toon.

Luzaan se oë gaan swaar oop. Dit is duidelik dat haar toestand kritiek is, maar sy herken haar suster dadelik en sê met groot inspanning: “Ek is so bly dat jy gekom het, Elmarie.”

Die ouer meisie soen haar suster baie teer op die voorkop en sê met ’n diepe besorgdheid: “Moet liewer nie praat nie, sussie; dit is gans te vermoeiend en uitputtend vir jou.”

Luzaan skud net haar kop stadig. “Ek moet met jou praat voordat dit dalk te laat is,” sê sy met ’n swak stem. “Daardie pragtige seuntjie op tant Dorie se skoot is my kind, ousus … my buite-egtelike kind. Ek kan nie nou alles aan jou verduidelik nie, maar ek het vir jou ’n brief geskryf; jy sal die brief tuis in my skryfblok vind. Nadat jy dit gelees het, sal jy alles verstaan. Maar nou wil ek jou ’n groot guns vra, ousus.”

“Vra maar, my sussie,” sê Elmarie sag, en probeer hard om nie te laat blyk hoe geskok sy is om te hoor dat haar suster die moeder van ’n kind is nie. “As dit vir my moontlik is, help ek jou graag … Wat wil jy hê moet ek vir jou doen, Luzaan?”

Dit duur etlike minute voordat Luzaan weer genoeg krag het om te praat. Haar stem is byna net ’n fluistering toe sy eindelik vra: “As die ergste met my gebeur, ousus, sal jy klein Mark asseblief in jou sorg neem, hom grootmaak en na hom kyk soos jy na my gekyk het na ons ouers se dood?”

Trane brand agter Elmarie se oë toe sy haar suster se hande in hare neem en met ’n teer stem sê: “My ou sussie, jy moenie so negatief dink nie. Jy is so mooi, jonk en sterk, jy gaan nog ’n rype ouderdom bereik. Maar as dit is wat jy verlang, belowe ek om klein Mark soos ’n eie seun groot te maak as iets met jou gebeur. En nou moet jy probeer slaap en rus, sodat jy gou kan herstel.”

’n Rustige trek verskyn meteens op Luzaan se gesig, maar haar stem kom uiters moeisaam toe sy weer sê: “Ek kon die brief nie voltooi nie, ousus, maar dit sal alles aan jou verduidelik.” Sy is so uitgeput dat sy byna ongemerk in ’n koma verval.

Elmarie neem op ’n stoel langs die bed plaas, oorgehaal om die hele nag by haar suster te waak. Sy is egter nog besig om hierdie besluit met die ou dame te bespreek, toe Luzaan met ’n amperse snik vaarwel sê aan die kort lewe wat haar baie hartseer besorg het.

Elmarie is so verbyster oor haar suster se skielike dood dat sy op dié oomblik nie weet wat om te doen nie. Dit is tant Dorie wat die klokkie lui om ’n verpleegster na die kamer te ontbied.

Alles het die afgelope uur veels te vinnig gebeur vir Elmarie om te verwerk, maar so tussen haar hartseer en verwarring dring die besef tot haar deur dat haar suster se dood ’n groot verantwoordelikheid op haar smal skouertjies geplaas het – die versorging en opvoeding van die seuntjie met die mooi, blonde krulkoppie.

Terwyl hulle later onderweg is na tant Dorie se woning, vertel die vrou vir Elmarie dat Luzaan maar gesukkel het om kop bo water te hou. Sy het egter darem voorsorg getref indien iets met haar sou gebeur. Sy vertel ook vir Elmarie dat haar suster vyf maande voor Mark se geboorte by haar kom bly het, en hoe bitter ongelukkig Luzaan was omdat Mark se pa haar so goedsmoeds in die steek gelaat het na al sy mooi beloftes.

“Sy kon nooit die jong dokter Markus se valsheid vergeet nie,” vertel tant Dorie voorts terwyl sy kort-kort ’n traan wegvee, “en sy het ook nooit weer ’n man vertrou nie.”

“Ek kan glad nie verstaan waarom Luzaan my nie in haar vertroue geneem het nie, mevrou Venter,” sê Elmarie hartseer. “Ek kon haar las soveel ligter gemaak het, as ek maar net geweet het.”

“Luzaan het baie skuldig gevoel oor die misstap wat sy begaan het, juffrou Keyser. Sy sou u nooit oor die kind ingelig het as die noodlot haar nie daartoe gedwing het nie. Sy was baie lief vir u en het ook hoë agting vir u gekoester; daarom het dit vir haar gevoel dat sy u gefaal het.”

Tuis, terwyl tant Dorie met die begrafnisondernemer onderhandel, bad Elmarie vir klein Mark en trek vir hom sy slaapklere aan.

Op Luzaan se spieëltafel pryk ’n groot foto van ’n jong man, wat die volwasse ewebeeld is van klein Mark. Natuurlik die ellendige man wat Luzaan in die steek gelaat het, dink Elmarie verontwaardig. Sy het die foto bepaald gehou vir Mark se onthalwe, sodat hy darem kan sien en weet hoe sy pa gelyk het.

“U kan maar kom eet, juffrou Keyser,” hoor Elmarie tant Dorie meteens vanaf die oop kamerdeur sê.

Tant Dorie kan byna nie glo dat die kort, tenger meisie en die lang, blonde Luzaan werklik susters was nie. Die twee lýk nie eens na mekaar nie. Elmarie met haar hartvormige gesiggie het mooi, swart oë en ’n sagte mond. Sy kan inderdaad nie glo dat dié meisie ’n parmant en ’n vuurvreter is wanneer sy ontstoke is nie. En tog het Luzaan altyd gesê dat haar ousus selfs nie eens vir die duiwel stuit wanneer sy kwaad is nie.

Die aandete loop stil ten einde. Elmarie weet dat sy nog die brief moet lees wat Luzaan vir haar geskryf het. Sy voel effens huiwerig om dit te doen, uit vrees dat daar straks nog geheime in haar suster se lewe was.

Na ete gaan drink hulle koffie in die woonkamer. Elmarie nooi Mark om op haar skoot te kom sit, en verduidelik aan hom dat sy mamma dood is, dat sy weg is en nooit weer na hulle toe sal terugkom nie, en dat hy van nou af haar seuntjie is.

“Gaan tannie Elrie altyd hier by ons bly?” vra hy terwyl hy haar met hartseer ogies aankyk.

“Nee, my skattie,” sê sy sag, “jy gaan by my in Pretoria bly en bedags sommer baie speelmaatjies hê om mee te speel.”

“Is daar karretjies om mee te speel?” wil hy nou belangstellend weet.

“Net soveel as wat jy wil hê,” sê Elmarie glimlaggend.

Toe Mark later begin gaap, gaan sit Elmarie hom in die bed en soen hom baie teer op sy rosige wang. Sy keer terug na die woonkamer, en dan sê tant Dorie dat sy ook maar gaan slaap.

Elmarie gaan eers bad, pak haar tas uit en neem daarna Luzaan se skryfblok uit die bedkassie se laai en klim in die bed. Sy merk dat die geskrewe velle nog nie uit die skryfblok verwyder is nie, maar blaai na die eerste vel en begin lees.

My liewe ousus

Ek voel so ellendig siek en miskien sommer verniet swartgallig, maar ek voel die tyd het aangebreek dat ek jou die waarheid moet vertel, aangesien jy my enigste bloedverwant is en ’n mens ook nie jou lewe in jou eie hande hou nie.

Ek sal maar by Markus Dekker begin, die jong dokter met wie ek ses jaar gelede in Johannesburg kennis gemaak het. Hy was besig met sy finale jaar as huisdokter in die hospitaal, en het daarna uitgesien om te gaan praktiseer op sy tuisdorp, Doringrant – wat glo nie ver is van sy ouers se plaas, Spitskop, nie. Die dorpie lê glo tussen Aliwal-Noord en Lady Grey.

Ek het hom by die openbare swembad ontmoet, en ons was sommer dadelik verlief. Ek weet jy glo nie aan liefde met die eerste oogopslag nie, want jy is so prakties en het nog altyd geglo dat dinge op ’n ordentlike wyse moet geskied. Ons was baie gelukkig en sy hele huisdokter-jaar was ek in die wolke. Hy het selfs vir sy ouers geskryf dat hy eindelik die meisie van sy drome ontmoet het, en dat ons van plan was om vroeg in die nuwe jaar te trou.

Wel, die tyd waarna ons so naarstiglik uitgesien het, het oplaas aangebreek en Markus kon na sy ouerhuis vertrek om alles met sy ouers te bespreek vir ons huwelik – ons sou op Doringrant getrou het. Voor sy vertrek het ek egter tot my ontsteltenis gevind dat ek swanger is. Ek het Markus vertel, maar hy het dit weggelag en gesê dat ons maar net gouer moes trou. Hy sou met sy ouers reël dat ons dadelik trou, en hy sou my oor ’n week of twee kom haal. Daarna het hy vertrek en ek het nooit weer van hom gehoor nie …

Ek het moeilike, hartseer dae deurgemaak en wou jou so dikwels van my toestand vertel, maar ek het geweet hoe geskok en teleurgesteld jy in my sou wees – jy wat altyd so beginselvas en voorbeeldig is. Gelukkig het ek nog ’n neseiertjie van my erfdeel na ons ouers se dood in die bank gehad en kon ek darem die pot aan die kook hou toe ek nie meer kon werk nie – ek het twee maande voor Mark se geboorte ophou werk, en twee maande na sy geboorte weer begin.

Dit was vir my moeilik om op ’n naam vir my seun te besluit. Sy oupa Dekker se naam is Carl, maar ek het so bitter gevoel teenoor al die Dekkers – ek is oortuig dat hulle Markus afgeraai het om met my te trou, omdat ek nie ryk is soos hulle nie – dat ek besluit het om hom net ’n gedeelte van sy ontroue pa se naam te gee. Hy heet dus net Mark … Mark Keyser.

Twee maande voor Mark se geboorte het ek Bloemfontein toe gevlug en by die liewe tant Dorie kom loseer. Ek kon jou nie in die oë kyk nie, ousus, maar ek het ook geweet dat ek nie altyd sal kan vlug nie. Ek wou tyd wen, en intussen het ek bly hoop dat Markus sy belofte aan my sou nakom. Ek weet nou dat ek al die jare verniet gewag en gehoop het. Klein Mark se pa het ons albei vergeet, ofskoon ek Mark laat glo het dat sy pa dood is.

Die geraamde foto op die spieëltafel is van Markus. Ek hou dit maar vir klein Mark, sodat hy darem kan sien hoe sy pa gelyk het. Jy wonder natuurlik waarom ek nooit probeer het om met Markus in verbinding te tree nie, aangesien ek weet waar sy ouers woon. Wel, dit is duidelik dat hy hom slegs met my vermaak het en glad nie bereid was om sy verantwoordelikheid as pa te aanvaar nie; daarom wil ek jou ook vra om jou asseblief oor my seuntjie te ontferm en hom in jou sorg te neem as ek miskien sou sterwe terwyl hy nog minderjarig is. Ek het voorsorg getref vir so ’n moontlikheid deur ’n redelike lewensversekeringspolis uit te neem, wat na my dood aan jou uitbetaal moet word vir die versorging van my seun.

Ek weet ek kan my kind met ’n geruste hart in jou sorg laat, Elmarie. Tant Dorie is ’n liewe mens, maar sy is al te oud om met die opvoeding van ’n kind belas te word. Jy is dus die enigste aan wie ek my kind sonder bekommernis kan toevertrou, want jy was nog altyd so ’n voorbeeldige en praktiese mens, en handhaaf sulke hoë morele standaarde. Ek weet my seun sal ’n goeie opvoeding van jou ontvang. Ek het trouens al so dikwels gewens dat ek soos jy kon wees …

Daar is ’n groot droefheid in Elmarie se hart toe sy die skryfblok met die halfvoltooide brief op die bedkassie neersit en die lig afskakel. Dit is vir haar duidelik dat haar suster te siek was om die brief te voltooi. Die trane stroom nou oor haar wange. Sy huil oor haar suster se dood en oor al die hartseer en kommer wat Luzaan alleen moes verduur.

Elmarie se snikke het al byna bedaar, toe sy klein Mark langs haar bed hoor vra: “Hoekom huil jy, tannie Elrie? Is jou koppie seer?”

“Net ’n bietjie, my skat,” sê sy en probeer haar bes om ’n tranerige klankie uit haar stem te hou. “Wil jy ’n rukkie by my kom lê?”

Sy hou die komberse oop en help hom om langs haar in die bed te klim. Sy sit een arm om sy sagte, warm lyfie en trek die seuntjie liefdevol in haar skoot.

Dit duur nie lank nie, toe is albei aan die slaap.

Die volgende dag is vir Elmarie ’n baie besige een. Sy doen ’n paar inkopies vir haarself en neem Mark na ’n seunsuitruster om vir hom ’n netjiese pakkie klere te koop vir die begrafnis wat die volgende oggend sal plaasvind. Daarna besoek sy die assuransiemaatskappy en reël dat die geld van Luzaan se polis in haar bankrekening inbetaal moet word.

“Nou gaan ons eers vir jou ’n motor en vliegtuig koop, my ou grootman, dan neem ons tannie Dorie na ’n restaurant vir middagete,” sê Elmarie met ’n hartseer glimlaggie.

“Jy moenie jou geld so verkwis om ons vir ete te neem nie, juffrou Keyser,” maak tant Dorie dadelik beswaar. Sy onthou nog baie goed hoe Luzaan moes meet en pas om kop bo water te hou.

Maar dan hoor sy Elmarie goedig sê: “Moenie bekommerd wees nie, mevrou, ek kan dit bekostig. My salaris is byna dubbel so groot soos Luzaan s’n … ek bedoel, soos wat hare was.”

“Dis waar. Ek vergeet altyd dat u die oudste is omdat u so klein en fyn is, en omdat Luzaan soveel ouer as u gelyk het,” sê tant Dorie.

“Dit is al die kommer en hartseer wat haar oud gemaak het voor haar tyd,” konstateer Elmarie. “En die man wat vir al haar ellende verantwoordelik was, voer natuurlik ’n kommervrye lewe saam met ’n ander vrou wat net soos hy uit ’n rykmanshuis kom.”

“Ek dink sy ouers is grotendeels verantwoordelik vir die hartseer wat hy ons Luzaan aangedoen het,” meen die ou dame.

“Dit is moontlik,” stem Elmarie saam, “want baie jong mans laat nog toe dat hulle ouers vir hulle besluit. My verloofde is een van hulle, daarom is ons nog nie getroud nie. Sy ma dring daarop aan dat ons na die huwelik by haar in die huis moet kom bly, maar ek weier beslis. Dit is genoeg dat sy haar seun se lewe regeer; ek sal haar nie toelaat om myne ook te regeer nie.”

Na ete keer hulle dadelik terug huis toe, want Elmarie moet nog haar en Mark se klere vir die begrafnis nasien en stryk waar dit nodig is. Sy is bly toe sy met hulle tuiskoms sien dat Mark aan die slaap is. Nou sal hy ten minste vir ’n uur of wat nie na ’n mammie verlang wie se stem hy nooit weer sal hoor nie.

Dit was ’n stil begrafnis, met slegs ’n paar van Luzaan se kollegas teenwoordig. Daarna raak Mark by die huis sommer op die rusbank in die woonkamer aan die slaap, en help tant Dorie vir Elmarie om haar suster se persoonlike besittings in te pak.

Noudat alles verby is, is Elmarie haastig om te vertrek. Sy is daarvan oortuig dat Mark minder na sy moeder sal verlang sodra hy hom in ’n vreemde omgewing bevind wat hom nie aan haar herinner nie.

Met Mark in die motor, vind Elmarie die terugreis nie so eentonig soos haar reis na Bloemfontein ’n paar dae gelede nie. Hy gesels met haar oor sy motor en vliegtuig, en vra belangstellend uit na sy nuwe tuiste, aangesien hy geen kennis het van ’n woonstel nie.

Mark is merkbaar opgewonde toe hulle eindelik voor die woonstelgebou stilhou. Hy help Elmarie baie fluks om hulle bagasie na haar plekkie te neem, en stap die hele woonstel deur om te kyk hoe sy nuwe tuiste daar uitsien. Hy kan aanvanklik nie glo dat hy ’n eie slaapkamer het nie. Eers toe die twee groot foto’s van sy ouers op die spieëltafel pryk en sy prenteboeke, speelgoed en al sy klere in die kaste weggepak is, besef hy dat dit sy slaapkamer is – syne alleen.

Elmarie is vanaand betreklik moeg van die lang reis, maar sy besef dat sy by die roetine sal moet hou waaraan Mark gewoond is. Dus bad sy hom maar eers voordat hulle aansit vir aandete. Terwyl sy later skottelgoed was, speel hy in die woonkamer op die mat. Toe sy klaar is in die kombuis, is dit slaaptyd en neem hy sy speelbeertjie saam met hom bed toe.

Vanaand vertel Elmarie hom net ’n kort storietjie terwyl sy langs hom op die bed sit. Sy soen hom en skakel ’n dowwe bedliggie aan voordat sy die vertrek verlaat.

Daar is ’n peinsende trek op haar mooi gelaat toe sy uit Mark se kamer loop. Sy kan nie besluit of sy Herman, haar verloofde, moet skakel en die rede vir haar afwesigheid aan hom moet verduidelik, of liewer net moet gaan bad en slaap nie.

Die besluit word egter uit haar hande geneem toe die deurklokkie begin lui. Elmarie loer gou eers by Mark se kamer in om te kyk of hy al slaap, toe maak sy die kamerdeur saggies toe en gaan na die voordeur.

“Wel, ek is bly om te sien dat jy darem weer tuis is – nie dat ek weet waar jy die afgelope vier dae rondgerits het nie,” begroet Herman haar bitter ontstoke terwyl hy haar onvergenoeg aankyk.

“Kom asseblief binne, Herman, en moenie hier voor my deur staan en raas nie,” betig sy hom met ’n frons.

“Ek het nie geraas nie,” stry hy ergerlik toe hy binnekom. Hy soen haar vlugtig en vervolg, nog steeds vererg: “Ek het bepaald maar net ’n bietjie hard gepraat –”

“Nou ja, wat jy dit ook al noem, doen dit asseblief sagter,” val Elmarie hom in die rede en maak die voordeur agter hom toe.

Herman neem op die rusbank plaas en sê sy moet by hom kom sit sodat hulle kan praat. “Jy vlieg in my keel af voordat ek nog ’n voet in die woonstel kan sit,” verwyt hy haar vies. “En intussen wag ek dat jy my moet vertel waar jy die afgelope vier dae rondgeflenter het. Ons is almal bekommerd omdat jy so verdwyn het sonder ’n enkele woord van verduideliking aan my of my ma. My ma sê jou onbedagsame optrede toon duidelik dat jy nie veel vir my gevoelens omgee nie, en ek is geneig om met haar saam te stem.”

Elmarie neem langs Herman op die rusbank plaas. Sy is op die oomblik so moeg van die lang reis dat sy glad nie lus voel om met hom te argumenteer nie. Tog besef sy dat hy miskien rede het om kwaad te wees, daarom sê sy meer verdraagsaam: “Daar was nie tyd om met jou in verbinding te tree nie, Herman. Ek het vyfuur die oggend ’n telefoonoproep van Bloemfontein ontvang om te sê dat my suster dubbele longontsteking het, dat haar toestand kritiek is en dat sy dringend met my wou praat. Ek het dadelik ’n paar stukkies klere in ’n tas gegooi, my werkgewer gebel en daarna vertrek. Daar was hoegenaamd geen tyd om jou ook nog te bel –”

“Maar daar was darem tyd om jou werkgewer te bel,” val hy haar onthuts in die rede.

“My werkgewer is heeltemal ’n ander saak. As ek hom nie geskakel het nie, het ek nou sonder werk gesit. En buitendien, as jy so vreeslik bekommerd was, waarom het jý nie my werkgewer gebel nie? Hy sou jou gesê het waar ek was.”

“Dit is jóú plig om my te sê waarheen jy gaan, nie jou werkgewer s’n nie, Elmarie,” bestraf hy haar met so ’n kwaai stem dat sy verplig is om in te gryp.

“Kyk, Herman,” sê sy, nou weer ongeduldig, “ek het vandag van Bloemfontein af bestuur en ek is moeg –”

“Nou waarom het jy nie met die trein gery nie?” val hy haar met ’n gevaarlike frons in die rede. “Dit sou in elk geval baie goedkoper gewees het.”

“Maar ook baie ongerieflik,” help sy hom met ’n onpersoonlike stem reg.

“Wel, ’n mens moet ’n bietjie ongerief verduur as dit vir ’n goeie doel is,” sê hy. “Ons het tog saam besluit dat ons albei sal spaar om vir ons ’n woonstel aan my ma se huis te bou –”

“Ek is baie beslis nie van plan om onnodig ongerief te verduur nie,” val sy hom kortaf in die rede. “Ons kan die huwelik maar nog ’n jaar of wat uitstel.”

Herman kyk haar ’n paar sekondes sprakeloos aan. Hy sien dat sy moeg en uit haar humeur is, en probeer dadelik wal gooi deur besorg te sê: “Jy sê ’n treinreis is ongerieflik, maar as jy met die trein gereis het, sou jy nie nou so moeg en uitgeput gewees het nie.”

“As ek met die trein gereis het, Herman, sou ek my suster nie lewend gesien het nie. Luzaan is ’n uur na my aankoms by die hospitaal oorlede. Sy is gisteroggend begrawe,” sê Elmarie hartseer.

“Ek is eerlikwaar jammer om dit te hoor,” sê Herman dadelik berouvol. “As ek dit geweet het, sou ek jou sonder versuim gaan bystaan het; al kon ek jou dan ook net morele ondersteuning gee.”

“Dankie, maar al wat ek op die oomblik nodig het, is ’n goeie nagrus,” sê Elmarie en wens hy wil liewer gaan sodat sy kan bad en slaap.

Dit lyk egter nie asof Herman haastig is om huis toe te gaan nie, want hy wil byna dadelik weer weet: “Hoekom het jy my nie vanmiddag met jou tuiskoms gebel nie?”

“Omdat ek moeg is en vroeg bed toe wou gaan,” verduidelik sy met geforseerde verdraagsaamheid. “Ek dink jy moet liewer nou gaan sodat ek kan gaan slaap. Ek sal vanaand in elk geval nie goeie geselskap wees nie.”

“Nou goed, ek sal gaan sodat jy kan rus, meisie,” sê Herman en staan dadelik van die rusbank af op. Elmarie volg sy voorbeeld. Dan hoor sy hom weer sê: “Ek kom jou môreaand haal, dan gaan fliek ons.” Hy wil nog verduidelik watter rolprente draai, maar Elmarie gee hom nie kans om meer te sê nie.

Sy skud haar kop en antwoord bedaard: “Ek vrees ek sal nie kan gaan nie. Mark kan nie alleen hier in die woonstel bly nie, en ek weet van niemand wat ek kan vra om by hom te bly nie.”

“En wie is Mark, as ek mag vra?” wil Herman verbaas weet.

“Mark is Luzaan se seuntjie wat sy op haar sterfbed in my sorg geplaas het. Hy is amper vyf jaar –”

“En waarom kan sy pa nie vir hom sorg nie?” val hy Elmarie in die rede.

“Omdat hy nie ’n pa het nie,” verklaar sy, nou self vererg.

“Wat bedoel jy, hy het nie ’n pa nie? Natuurlik het hy ’n pa! Elke mens op aarde het ’n pa. En as jy dit miskien nie weet nie, ’n pa is ’n baie belangrike faktor in die voortplanting van die menslike spesie …”

“Ag, gaan blaas doppies. Jy maak skoon asof ek onnosel is,” maak sy die jong man vererg stil. “Jy verstaan nie wat ek bedoel nie. Mark se pa het Luzaan so te sê op die vooraand van hulle huwelik in die steek gelaat, en nou het hy nie ’n pa nie. Maar wag, ek sal jou liewer die brief gee wat sy vir my geskryf het. Miskien verstaan jy dan wat ek bedoel.”

Elmarie gaan haal die brief in haar slaapkamer en hou die skryfblok na hom uit terwyl sy sê: “Die brief is nog in die skryfblok. Sy was te siek om dit te voltooi en uit te skeur.”

Daar is ’n frons tussen Herman se bruin wenkbroue nadat hy die brief gelees het en die skryfblok vir haar teruggee. “Jy kan nie jou suster se buite-egtelike kind hou nie, Elmarie,” sê hy met beslistheid in sy stem. “Jy kan nie van my verwag om ons huwelik met jou suster se buite-egtelike kind te begin nie. Die kind het grootouers, en volgens jou suster se brief is dit welgestelde grootouers, wat hom in hulle sorg kan neem.”

“Vergeet van sy grootouers, Herman,” sê Elmarie ewe beslis. “Ek het Luzaan op haar sterfbed belowe dat ek na klein Mark sal kyk en vir hom sal sorg asof hy my eie kind is, en dit is presies wat ek gaan doen so lank as wat hy minderjarig is.” Sy stoot haar kennetjie astrant uit, asof sy met hierdie gebaar te kenne wil gee dat sy klaar gepraat het en die saak as afgehandel beskou.

Herman beskou die saak nog lank nie as afgehandel nie, daarom sê hy opvallend bekommerd: “Ek weet sowaar nie wat my ma van hierdie verwikkeling gaan sê nie.”

Elmarie kyk hom onthuts aan en wou net vra wat sy ma op stuk van sake met haar te doen het, maar sy besluit om liewer te swyg. Sy voel op die oomblik te uitgeput om langer met hom te argumenteer; daarom sê sy met ingehoue ergernis: “Ek stel voor dat jy eers gaan uitvind wat jou ma van my nuwe rol as voog te sê het, Herman, voordat ons die saak verder bespreek. En nou moet jy asseblief loop sodat ek kan gaan slaap.”

Herman soen haar weer vlugtig, wens haar ’n rustige nag toe en vertrek.

Elmarie voel asof sy slange kan vang omdat hy altyd sy ma in hulle argumente insleep, asof hy nie vir homself kan besluit nie. Sy sluit die voordeur en kom met verbasing tot die besef dat sy vreemd verlig voel oor Herman se vertrek. Sy weet nie waarom dit so is nie, maar sy teenwoordigheid het haar vanaand gefrustreer. Miskien is dit omdat sy so moeg is van die lang reis, maar wat dit ook al is, iets in hom het haar vanaand hartlik geïrriteer.

Voordat Elmarie in die bed klim, gaan sy eers na die balkonkamer om te kyk of Mark nog rustig slaap. Hy het die afgelope paar dae dikwels oor sy ontslape ma gehuil; sy wonder of sy ooit Luzaan se plek in sy lewe sal kan vul. Sy kyk na die mooi, slapende seuntjie wat so klein lyk op die groot bed. Haar oë skiet vol trane en haar hart gaan uit na hom. Sy soen hom saggies op sy koel voorkoppie en keer terug na haar eie kamer.

Die lig langs haar bed is lankal uitgedoof, toe lê Elmarie nog steeds aan haar en Herman se argumente en dink. Na vier jaar se verloof wees, is hulle so gewoond aan mekaar dat sy liefkosings nie eens meer vir haar opwindend is nie. Sy dink ook aan Herman se misnoeë omdat sy so halsstarrig weier om Mark vir sy grootouers te gee, maar sy steur haar nie in die minste aan sy ontevredenheid nie.

As hy en sy ma nie vir Mark wil aanvaar nie, kan hulle albei na die hoenders gaan. Sy is vasbeslote om die belofte wat sy aan haar sterwende suster gemaak het na te kom.

Noudat sy in haar gedagtes klaargespeel het met Herman en sy ma, tref dit haar dat sy môre met ’n geskikte bewaarskool reëlings sal moet tref vir Mark se verblyf terwyl sy bedags op kantoor is. Hierdie taak, besluit sy, sal sy die oggend al moet afhandel voordat sy kantoor toe gaan.

Susanna M Lingua Gunstelinge 5

Подняться наверх