Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 5 - Susanna M Lingua - Страница 9
6
ОглавлениеElmarie is klaar aangetrek en net besig om haar hare te kam, toe die kinderoppasser, ’n derdejaar-universiteitstudent, haar opwagting by die woonstel maak. Die meisie kan ’n uitroep van bewondering nie keer toe sy Elmarie sien nie.
“Ek het gister u en meneer Zeeman se foto in die koerant gesien,” sê die meisie, “en ek kan nou nog nie verstaan waarom meneer Zeeman nie die skeisaak verdedig het nie. U is so pragtig, hy sal nooit weer so ’n mooi vrou kry nie.”
Daar is ’n geamuseerde glimlaggie om Elmarie se mond toe sy sê: “Jy kan daardie vraag oor ’n paar minute persoonlik aan meneer Zeeman stel, juffrou.”
Die meisie kyk Elmarie verbaas aan toe sy sê: “Gaan u vanaand saam met meneer Zeeman uit, mevrou?”
“Dis reg, ek gaan vanaand saam met my gewese man uit, juffrou. En as ek dit nie mis het nie, is dit hy wat nou daar aanklop. Sal jy net die deur vir hom oopmaak, asseblief?”
Elmarie gaan haal gou haar aandsakkie en stola wat op haar bed lê, en kom byna saam met Lafras die woonkamer binne. Hy groet Mark vriendelik met ’n ligte soentjie op die voorkop. Hy kom orent en oombliklik val sy oog op Elmarie se bekoorlike gestalte. Etlike tellings neem sy grys oë haar hele persoon waar – van haar rok se soom tot by haar raafswart kroontjie. Toe tree hy vinnig nader, plaas sy hande op haar skouers en druk sy lippe saggies teen haar kroontjie.
“Ek kon in die ganse Johannesburg nie ’n enkele rooi orgidee vind nie,” hoor sy Lafras sê, “toe moes ek maar ’n pienk orgidee neem.”
Hy verwyder sy hande van haar skouers, neem die skouerruiker wat hy met sy aankoms op ’n geleentheidstafeltjie neergesit het en steek dit behendig vir haar aan.
Elmarie bedank hom vir die pragtige skouerruiker en gaan staan dan voor die muurspieël om die orgidee teen haar skouer te bewonder. Die volgende oomblik verskyn Lafras se gesig ook in die spieël.
“Jy is inderdaad ’n bekoorlike skepseltjie, my swartkoppie,” hoor sy hom agter haar sê. ’n Oomblik ontmoet hulle oë in die spieël, en Elmarie is bewus van die tere bewondering in sy oë.
Met ’n sagte blos op haar wange draai sy van die spieël af weg en sê met ’n verleë glimlaggie: “Jy moet my liewer nie voor juffrou Snyman vlei nie, Lafras. Sy wonder reeds waarom jy nie die skeisaak beveg het nie.”
Lafras praat met die kinderoppasser, maar sy oë rus op Elmarie toe hy sê: “Juffrou Snyman, ek het nog altyd gedink dit is ’n onsinnige man wat sy vrou dwing om by hom te bly wanneer sy hom nie meer wil hê nie. Hy kan mos altyd later weer probeer om haar toegeneentheid te wen as hy vind dat die lewe gans onmoontlik is sonder haar.” Hy kyk na sy polshorlosie en sê bedaard: “Ons sal nou moet gaan.”
Hy hang die pragtige stola behendig om Elmarie se skouers. Hulle sê vir Mark nag, groet juffrou Snyman en vertrek.
Eers toe hulle in die motor sit, sê Elmarie: “Ek moet nog vir jou dankie sê vir hierdie duur aandrok en fabelagtige stola, Lafras. Ek besef dat jy dit uitsluitlik gekoop het sodat my voorkoms jou nie vanaand in die skande moet steek nie, en om daardie rede het ek dit aanvaar. Ek wens net jy wil dit liewer nie doen nie, want ek weet nie hoe ’n mens dankie sê vir sulke duur geskenke nie.”
“Nou goed, ek sal jou wys hoe jy dankie kan sê, want ek kan nie belowe dat ek jou nooit weer ’n geskenk sal gee nie,” val hy haar sag in die rede. Die volgende oomblik is sy net bewus van sy lippe wat hare met klein, sagte soentjies liefkoos. Sy arms sluit meteens om haar en sy voel hoe sy lippe hare met ’n vreemde dringendheid opeis.
Lafras is duidelik ontwrig toe hy eindelik sy kop oplig en haar uit sy arms vrylaat. Ook vir Elmarie voel dit asof ’n weerligstraal haar skrams getref het. ’n Man het haar nog nooit met soveel gevoel gesoen nie. Sy weet sy moet iets sê, maar op die oomblik kan sy aan niks dink nie.
“Ek vrees jou grimering is nou daarmee heen, swartoog, en jy kan my maar klap as jy wil,” hoor sy Lafras boetvaardig sê. Hy skakel die voertuig se enjin aan en trek sonder meer weg.
Na ’n rukkie vra hy egter: “Waarom is jy so stil, Elmarie? Is jy nou baie kwaad vir my omdat ek jou gesoen het?”
“Nee, ek is nie vir jou kwaad nie, Lafras,” sê sy, nou weer kalm en bedaard. “Ek sit maar net en wonder waarom ek nie vir jou kwaad is nie. As dit iemand anders was, sou ek hom lankal geklap het dat hy sterre sien. Dit moet bepaald wees omdat ons vir tien dae soos getroudes saamgewoon het – behalwe natuurlik dat ons nie dieselfde kamer en bed gedeel het nie. Met so ’n saamwonery leer ’n mens mekaar ken, en later voel dit regtig of julle ’n soort gesin is. En dan wou jy my natuurlik ook wys hoe ’n mens dankie sê vir ’n baie duur geskenk.” Die laaste sin voeg sy hom met ’n sweem van ’n glimlag toe, wat sy oog nie ontgaan nie.
“Wel, ek moet sê ek het baie gewaag om jou so hartstogtelik te soen, swartkoppie. Met so ’n roekelose optrede kon ek die hele aand vir jou bederf het, en daarvoor sou ek myself nooit kon vergewe het nie. Jy sien, ek voel dieselfde as jy wat ons huwelik betref. Na ons verblyf in Durban het dit vir my ook gevoel of ons drie ’n gesin is. En noudat ons huwelik ontbind is, voel dit vir my vreemd om myself weer as ongetroud te beskou.”
“Dit is bloot omdat jy die afgelope ses weke in ’n groef beland het, Lafras,” verduidelik Elmarie gemoedelik. “Sodra jy weer al die gesogte plekke in Europa besoek en omring is van al jou vriende, sal jy bly wees omdat jy ongetroud en vry is om die lewe te kan geniet soos dit jou behaag.”
“En jy? Wat gaan jy doen, meisie, noudat jy weer ongetroud en vry is?” wil Lafras op sy gewone, bedaarde manier weet.
“Ek wil Mark eers vir ’n week of wat na sy grootouers toe neem; daarna sal ek maar weer by die ou firma aanklop vir werk, en die drade van my lewe opneem waar ek dit drie maande gelede laat lê het,” vertel sy, en sien toevallig dat hy ook nog steeds sy trouring dra.
“Ek weet nie hoe kan so ’n pragtige meisie soos jy tevrede wees met so ’n saai lewe wat net uit werk en verantwoordelikheid bestaan nie, Elmarie,” hoor sy Lafras sê. “Jy behoort te trou en altyd net mooi te lyk vir jou man.”
“H’m, jy praat van trou en ek is gister maar eers geskei,” laat sy met ’n sagte laggie hoor en gaan dan bedaard voort: “Ek sal seker eendag trou wanneer die regte man my vra, en hy ook gewillig is om Mark as lid van die gesin te beskou.”
“Wanneer neem jy Mark vir ’n besoek aan sy grootouers?” vra Lafras toe hy voor die luukse klub stilhou waarvan hy jare al ’n lid is.
“Ons vertrek oormôre,” kom dit sag van Elmarie.
Vir ’n paar sekondes kyk Lafras stil voor hom uit. Toe maak hy die motordeur oop, klim uit en gaan maak die deur vir Elmarie oop om uit te klim. Hy trek haar arm deur syne en lei haar na die klub se hoofingang.
“Jy moet asseblief vir my die oumense se telefoonnommer gee voordat julle vertrek,” sê hy afgetrokke. Die volgende oomblik flits ’n verslaggewer ’n kamera naby hulle, en Elmarie kan nie help om Lafras geamuseer aan te kyk toe die koerantman hom tegemoetloop nie.
“Meneer Zeeman,” sê die koerantman versigtig, “sal u asseblief vir my een vraag beantwoord?”
“Ek belowe niks. Vra dus maar jou vraag en laat ek hoor,” antwoord Lafras kortaf.
“Wel, ons weet almal dat die Zeeman-skeisaak gister afgehandel is, en ek weet ook dat u ’n tafel vir twee hier in die klub bespreek het. Is dit miskien u en mevrou Zeeman se afskeidsete?”
“Natuurlik nie!” voeg Lafras die kêrel vererg toe. “Ek koester geen planne hoegenaamd om van my vrou afskeid te neem nie. So, gaan speel asseblief elders met jou kamera en jou bandopnemertjie, meneer.”
Die koerantman is nog besig om die jong mynmagnaat verward aan te kyk, toe verdwyn hy en Elmarie deur die hoofingang.
“Die verslaggewer het moontlik gelyk, weet jy?” merk Elmarie met ’n vriendelike glimlaggie op terwyl hulle ’n heerlike ete geniet. “Dit mag dalk nog ons afskeidsete wees, hierdie …”
“En daarmee bedoel jy bepaald dat jy na dese nooit weer saam met my wil uitgaan nie,” wil Lafras weet met iets soos teleurstelling in sy stem.
“Nee, dit is nie wat ek bedoel het nie, Lafras,” sê sy bedaard. “Ek het maar net daaraan gedink dat wanneer Mark en ek terug is in Pretoria, jy weer in Europa sal wees.”
“My meisie,” sê Lafras met ’n geheimsinnige uitdrukking in sy grys oë, “ek dink jy moet liewer nie probeer om die toekoms te voorspel nie, want ek het ’n gevoel dat ons nog baie van mekaar gaan sien.”
“Nou goed, ons sal maar sien wat die toekoms vir ons inhou. Onthou net, ek gaan nooit gedurende die week uit wanneer ek werk nie,” sê sy vir Lafras.
“Maar jy ontvang darem seker besoekers, nie waar nie?”
“O ja, bedagsame besoekers wat self weet dat hulle elfuur moet loop, is welkom,” glimlag sy ondeund.
Die ete loop gesellig ten einde. Daarna besoek hulle ’n eksklusiewe nagklub, waar hulle tot eenuur die nag dans.
Met haar tuiskoms skryf Elmarie eers oubaas Dekker se telefoonnommer vir Lafras in sy sakboekie. Toe neem hy haar weer in sy arms en groet haar met ’n baie teer kus.
“Tot siens, swartkoppie,” sê hy sag. “Ek hoop jy en Mark geniet julle verblyf op die plaas. Ry versigtig, en bel my asseblief sodra julle daar aankom.”
Hy druk weer ’n klein, ligte soentjie op haar lippe en laat haar dan vry uit sy arms.
Lank nadat sy die bedliggie afgeskakel het, lê Elmarie nog aan Lafras en dink. Gedurende die tyd wat hulle getroud was, het hy haar nie een maal gesoen of styf teen hom vasgehou terwyl hulle gedans het nie. Vanaand het hy haar al twee maal in sy arms geneem en gesoen, en haar met elke dans ferm teen hom vasgehou asof sy uitsluitlik aan hom behoort.
Eers na ’n lang ruk tref dit haar dat hy te eerbaar was om van sy status as haar man misbruik te maak.
Elmarie is die volgende dag druk besig om in te pak. Toe Mark hoor dat sy oupa en sy oom Schalk vir hom ’n ponie en ’n saal en toom gekoop het, begin hy meteens opgewonde uitsien na hulle besoek aan Spitskop. Later kan hy oor niks anders praat as die ponie en hoe lekker hy op sy eie ponie gaan ry nie.
Dit is nog donker toe Elmarie en die seuntjie uit Pretoria vertrek. Die pad is lank en warm, maar anderkant Aliwal-Noord ry hulle deur ’n sagte bui reën wat hulle sommer dadelik alle moegheid ontneem. ’n Paar kilometer duskant Doringrant, die Dekkers se plaaslike dorp, hou die reën skielik op en ry hulle weer in die warm son.
Dit is net na sesuur toe Elmarie voor die Dekkers se woning stilhou. Die oumense is dadelik by om die besoekers te groet, en twee werkers word aangesê om die bagasie na Elmarie se kamer te neem.
“Tannie Elrie,” sê Mark waar hy op sy oupa se arm sit, “ek sien nie ’n ponie en ’n saal nie!”
“Die ponie het gaan slaap, my skat. Diere slaap mos ook,” verduidelik Elmarie.
“Maar dis te vroeg om te gaan slaap, tannie Elrie. Ek gaan dan nooit so vroeg slaap nie!” hou hy ernstig vol.
“Dit is omdat jy ’n seuntjie is en nie ’n diertjie nie,” help sy tannie hom geduldig reg.
“O, nou goed, ek sal jou maar eers na Ponie se stal toe neem,” doen die oubaas glimlaggend aan die hand en voeg dan sommer ook die daad by die woord.
Elmarie is duidelik verbaas toe sy en die tante die woonkamer binnestap en dokter Schalk Dekker vlugtig na vore tree en haar met ’n hartlike handdruk groet.
“Ek het nie geweet u woon by u oom en tante op Spitskop nie, dokter,” sê Elmarie terwyl hulle al drie plaasneem.
“Ek woon nie by my oom en tante nie, meisie,” hoor sy Schalk goedig sê. “My plaas, Driehoek, grens aan my oom se plaas. Ek is hier slegs in die hoedanigheid as lid van die verwelkomingskomitee.”
“H’m, Mark en ek voel geëerd,” sê sy ietwat sarkasties.
Die jong man kyk haar aan en begin meteens saggies lag. Elmarie se mooi geboogde swart wenkbroue vorm duidelik ’n vraagteken toe sy sê: “As ons weet wat die grap is, mag ons dalk saamlag.”
“O, ek het maar net gedink aan daardie dag toe jy my en jou gewese verloofde uit jou woonstel geboender het. Is jy nog so ’n vuurvreter, of het die getroude lewe jou mak gemaak?” vra Schalk met ’n geamuseerde glimlaggie.
“Ek is nog dieselfde mens as altyd, dokter Dekker. Maar dit herinner my daaraan dat ek belowe het om my gewese man te bel sodra Mark en ek ons bestemming bereik.” Sy kyk na die tante en wou net vra of sy die telefoon mag gebruik, toe dit begin lui.
Die tante kom dadelik orent, maak verskoning en verlaat die vertrek om die oproep te beantwoord. Na ’n paar sekondes maak sy weer haar verskyning in die woonkamer.
“Dit is ’n hooflynoproep van jou gewese man, mevrou Zeeman,” sê die ou dame.
Elmarie bedank haar gasvrou en loop vinnig na die voorportaal waar die instrument teen die muur pryk.
“Hallo! Elmarie hier!” antwoord sy.
Sy glimlag goedig toe sy Lafras tergerig hoor sê: “Naand, mevrou Zeeman! Dit is meneer Zeeman wat praat. Waarom het jy my nie gebel soos jy belowe het nie, swartkoppie? Ek was bekommerd oor julle veiligheid.”
“Ek wou jou nou net gebel het, Lafras. Trouens, ons het ongeveer vier minute gelede eers hier aangekom. Ek het nie my belofte vergeet nie.”
“Goed, ek glo jou. Maar sê vir my, het julle darem voorspoedig gery?”
“Baie voorspoedig, dankie. Maar ek moet sê, dit was ’n lang en vermoeiende pad. Mark het natuurlik die meeste van die tyd geslaap, en met ons aankoms kon hy nie ’n oomblik langer wag om sy ponie te sien nie. Sy oupa was verplig om hom maar dadelik die ponie te gaan wys.”
“Ek hoop julle geniet jul verblyf op die plaas, meisie. Hoe lank is jy van plan om daar te vertoef?”
“Ek het gedink twee weke, maar miskien bly ons langer, Lafras. Ek glo nie Mark sal so gou van sy ponie geskei wil wees nie.”
“Nou goed, ek sal af en toe bel om te hoor hoe dit met julle twee gaan,” belowe Lafras. “Ek hoop nie julle bly so lank daar dat julle my begin afsterf nie. Ek mis julle twee.”
“Maar gaan jy dan nie Europa toe nie?” vra Elmarie. Sy was onder die indruk dat hy dadelik na die skeisaak Europa toe sou vertrek.
“Nie dadelik nie,” hoor sy Lafras bedaard sê. “Ek mag later gaan … miskien volgende maand. Dit hang van omstandighede af.”
Na haar gesprek met Lafras keer Elmarie terug na die woonkamer en tref Mark en oubaas Carl ook daar aan. Mark storm dadelik op haar af en kan nie uitgepraat raak oor sy ponie se goeie hoedanighede nie. Hy wag totdat sy sit, klim dan op haar skoot en beskryf sy ponie breedvoerig aan haar. Hy vertel haar ook dat die ponie se naam Sokkies is omdat dit lyk asof hy wit sokkies aanhet.
“Tannie Elrie kan ook op my ponie ry,” bied hy groothartig aan.
“Baie dankie vir jou vriendelike aanbod, my skat,” glimlag Elmarie en soen hom op ’n bloesende wangetjie. “Ek dink net ek is te swaar vir jou ponie. Sulke klein perdjies is net bedoel vir klein seuntjies en dogtertjies.”
“Waarmee gaan tannie Elrie dan ry?” wil Mark nou duidelik besorg weet. “Daar is net ’n groot, wit perd waarop my oupa ry.”
“Toe maar, ek sal maar kyk hoe jy ry, ou grootman,” sê Elmarie met ’n bemoedigende glimlaggie. “Oor ’n week of twee is ons weer by die huis, en naby die ryskool waar daar baie perde is. Terloops, oom Lafras het gesê ons moenie te lank hier bly nie, hy mis ons al klaar.”
“Maar is jy en jou man dan nie geskei nie, Elmarie?” kom dit van Schalk met ’n ligte frons tussen sy ligbruin wenkbroue.
“Ja, ons is, vier dae gelede. Waarom vra u, dokter Dekker?”
“Omdat dit vir my so al klink of julle nog getroud is.”
“Wel, ons is nie meer getroud nie, ons is geskei,” help sy hom reg. “Maar ons is nog steeds vriende, dokter.”
“My naam is Schalk, Elmarie, en ek dink dit het tyd geword dat jy my op my naam noem – ook vir oom Carl en tant Hester,” doen Schalk ernstig aan die hand.
“O, nou goed,” sê sy met ’n stem wat effens moeg klink. “Ek stem saam, dit sal beslis geselliger wees as ons mekaar informeel aanspreek.”
“Gaaf, noudat ons hierdie saak bevredigend afgehandel het, sal ons ook graag wil weet waarom jy nog steeds bevele van jou gewese man neem,” hoor sy Schalk sê, en sy is meteens steurend bewus van sy blou oë wat haar ernstig en deurdringend aankyk.
’n Ligte frons ontsier Elmarie se voorkop. Dit is vir haar baie duidelik dat Schalk besig is om met haar privaat sake in te meng, en dít gaan sy hoegenaamd nie duld nie. Haar en Lafras se sake gaan niemand aan nie, en dit sal sy Schalk dadelik aan die verstand moet bring.
Die frons lê nog steeds tussen haar netjiese wenkbroue toe sy Schalk reguit aankyk en vererg sê: “Verskoon my – ek het flussies ingestem om jou informeel aan te spreek, nie om my privaat sake met jou te bespreek nie. Maar vir jou inligting, Lafras het nog nooit bevele aan my uitgereik nie. En soos ek reeds gesê het, ons is nog steeds vriende, al is ons geskei.”
Schalk wou haar net vra waarom sy van haar man geskei het, want vir hom lyk dit of sy die man nog steeds liefhet, maar tant Hester tree tussenbeide toe sy sê dat die aandete op tafel is en hulle maar kan aansit.
Aan tafel gesels die twee mans oor die boerdery en veesiektes, terwyl tant Hester en Elmarie oor Mark se opvoeding gesels.
“Ek dink jy gaan dit moeilik vind om die seun sonder die bystand van ’n pa groot te maak,” meen tant Hester.
“Lafras, my liewe tant Hester,” glimlag Elmarie goedig, “is nog steeds Mark se pleegpa, al is ons geskei. Hy is lief vir Mark en dra sy belange op die hart. Ek staan dus nie heeltemal alleen wat Mark se opvoeding betref nie.”
“En hoe voel Mark oor sy pleegpa?”
“Hy is baie lief vir sy oom Lafras en geniet sy besoeke baie,” vertel Elmarie.
Tant Hester gesels weer oor Mark se ontslape pa, totdat die ete verstryk.
Na ete speel Mark met sy trein in die woonkamer totdat dit tyd is vir hom om te bad en te gaan slaap. Elmarie sit hom in die bed, gee hom ’n liefdevolle nagsoentjie en sluit dan weer by die Dekkers aan.
“Ek sê nou net vir Schalk,” begin oubaas Carl toe Elmarie die woonkamer binnekom en gaan sit, “wanneer jy eendag self kinders het, kan jy Mark maar vir my en tant Hester gee, Elmarie.”
“Mark sal altyd vir my soos ’n eie kind wees, oom Carl, al het ek ook ’n dosyn kinders van my eie,” sê Elmarie ernstig en met beslistheid in haar stem. “So, moet asseblief nie weer met die afgesaagde ou storie begin nie, want dan sal ek en Mark genoodsaak wees om vanaand nog die plaas te verlaat. Ek het Mark uitsluitlik hierheen gebring om julle te leer ken en nie om oor hom te stry nie. En nog ’n ding – Mark behoort nie net aan my nie, oom Carl, hy behoort ook aan Lafras, sy pleegpa.”
“Toe maar, dit is nie nodig dat jy jou so moet staan en opruk nie,” bestraf die oubaas haar met ’n gevaarlike frons. “Ek het tog seker die reg om te vra …”
“Nee, jy het nie, oom Carl. Die saak is lankal afgehandel. Jou vraag is dus totaal oorbodig,” sit sy die oubaas vererg op sy plek.
“Op dees aarde, ek het nog nooit so ’n parmantige vroumens soos jy teëgekom nie, Elmarie. Jy moet versigtig wees. Jy sal nog jou eie lewe versuur met sulke parmantigheid,” waarsku die oubaas haar gesteurd.
“Moenie dat ek lag nie, oom Carl,” maak sy die oubaas ongeërg stil. “As ek nie op my regte staan nie, sal julle almal op my kop sit. Jy is net soos daardie gewese verloofde van my. Julle begin met ’n ding en wanneer ’n mens julle op julle plek sit, voel julle skielik vreeslik verontwaardig en veronreg …”
Schalk se hartlike lagbui maak terstond ’n einde aan Elmarie se betoog. Sy kyk hom met opgetrekte wenkbroue aan asof hy ’n steurende wanklank is, en hoor hom dan laggend sê: “Ek dink jy is uitgeput van die lang reis, meisie, daarom is jy so gou op jou perdjie.”
“Maar natuurlik is ek moeg. Dink jy dit is ’n grap vir ’n vrou om so ver te bestuur? Mark en ek is al van donker af op die pad, en ons het nie een maal stilgehou om te rus nie,” lig sy Schalk met ingehoue ergernis in. Sy is meteens spyt omdat sy nie maar liewer in Pretoria gebly het nie. Hierdie klomp Dekkers, vermoed sy, gaan haar nog lelik irriteer.
Elmarie is egter nog besig om dit te oorweeg of sy hierdie besoek aan die oumense maar sal kortknip, toe sy Schalk ongestoord hoor sê: “As jy tienuur môreoggend uit die vere is, sal ek jou gaan wys hoe ons plaaslike dorp, Doringrant, lyk. Maar dan moet jy stiptelik om tienuur gereed wees, want –”
“Toe maar, ek weet julle boere is veronderstel om besige mense te wees,” maak sy hom ongeërg stil. “Ek is nie regtig so onnosel soos wat ek miskien vir jou lyk nie, Schalk Dekker.”
“Jy maak ’n fout, meisie,” help hy haar met ’n ondeunde blinkheid in sy oë reg. “Jy lyk pragtig, onweerstaanbaar mooi en buitengewoon intelligent …”
“Laat staan maar die heuningkwas, jy beïndruk my glad nie. Ek is immuun teen vleitaal, as jy dit miskien nie weet nie,” sit sy Schalk dadelik op sy plek. “Vertel maar liewer van julle plaaslike dorp en sy mense.”
“Weet jy, ek dink nou eers daaraan dat ons jou gewese man nog nooit gesien het nie,” stuur tant Hester die geselskap doelbewus in ’n ander rigting. “Ons het sy foto in die koerant gesien, maar dit was nie baie duidelik nie.”
Elmarie neem ’n paar foto’s uit haar handsak wat langs haar op ’n geleentheidstafeltjie lê, soek een uit en gee dit vir tant Hester.
“Ons troufoto,” sê sy bedaard, terwyl sy die ander foto’s terug in haar handsak sit. “Lafras is een-en-dertig jaar oud, met ligbruin hare en grou oë.”
Al drie kyk na die foto, dog Schalk is die enigste wat kommentaar lewer. Sy lippe trek effens dun en daar is ’n merkbare frons tussen sy wenkbroue toe hy sê: “Ek vrees die Lafras-kêrel pas glad nie by jou nie, Elmarie.”
Sy kyk Schalk met opgetrekte wenkbroue aan en vra met ’n sagte spotlaggie: “Sou jy sê Herman van Coller, my gewese verloofde, pas beter by my?”
“Nee,” sê Schalk ernstig, “jy pas baie beter by my as by een van die ander twee.”
Sy staar hom vir ’n oomblik sprakeloos aan, dan merk sy ietwat droog op: “Jy is óf van jou wysie af, Schalk, óf jy yl.”
“Nooit gesien nie!” sê hy met ’n geamuseerde glimlag. “Ek het nog nooit in my lewe so goed gevoel soos nou nie.”
“Ek dink dit sal beter wees as ek ook maar gaan slaap.” Elmarie sit die foto terug in haar handsak, kom vinnig orent en sê vir die twee oumense: “Ek hoop u sal my verskoon as ek nou gaan inkruip.”
“Doen dit gerus,” sê tant Hester besorg. “Ons verstaan dat jy ’n vermoeiende dag agter die rug het. Ek sal netnou vir jou ’n warm melkdrankie kamer toe bring.”
Elmarie bedank haar, wens almal ’n goeie nagrus toe en gaan na haar kamer waar Mark reeds rustig op die een bed slaap.
Elmarie is die volgende oggend heerlik uitgerus, toe Mark langs haar in die bed kruip en vir haar met sy gebruiklike soentjie môre sê.
“H’m, ek het gedink jy en jou ponie is al besig om jou oupa se plaas plat te ry,” begroet Elmarie haar pleegseun met ’n liefdevolle glimlaggie en trek hom saggies nader totdat hy in haar arm lê.
“Ek wil nie alleen ry nie, tannie Elrie moet kom kyk. My oupa het vir ons gejok. Hy het gesê hier is baie perde, en hier is nie,” sê Mark teleurgesteld.
“Die ander perde is seker in die veld, ou grootman,” laat sy gerusstellend hoor. “Ek glo nie jou oupa sal opsetlik vir ons ’n leuen vertel nie. As ons nou dadelik opstaan, sal ek nog kans kry om te kyk hoe jy ry voordat jou oom Schalk opdaag.”
Elmarie en die twee oumense staan agter die huis en kyk hoe Mark oor die werf ry, toe Schalk se silwerkleurige sportmotor ’n entjie van hulle af stilhou en die jong man tydsaam uitklim. Etlike sekondes betrag hy Mark en die ponie met belangstelling, dan sluit hy by Elmarie-hulle aan en groet hulle in ’n opgewekte luim.
“Wel, ek is bly om te sien dat jy darem betyds gereed is,” sê Schalk terwyl hy Elmarie, wat in ’n wit geblomde somerrokkie gekleed is met wit hoëhaksandale, van kop tot tone waarderend betrag.
“Jy dink tog seker nie dat dit net julle plaasjapies is wat soggens vroeg opstaan nie?” kap sy dadelik terug. “Ek ken baie mense in Pretoria wat vroeër as julle opstaan.”
“Ek sal nie met jou daaroor stry nie,” glimlag Schalk. “Trouens, ek wil glad nie vandag met jou stry nie. As jy dus gereed is, kan ons maar gaan.”
Elmarie waai vir Mark toe hulle by hom verbyry. Dan hoor sy Schalk langs haar sê: “Waarom dra jy nog steeds jou trouring, Elmarie? Jy is mos nie meer getroud nie!”
“Al is ek en Lafras geskei, is ek nog steeds mevrou Zeeman, Schalk,” verduidelik sy. “En wat meer is, ek hou van my ringe, daarom dra ek hulle.”
“Met ’n trouring aan jou vinger sal almal dink jy is getroud,” maak hy met ’n ergerlike frons beswaar. Hy wens sy wil die Lafras-kêrel se ringe van haar vinger verwyder sodat dit hom nie elke keer daaraan herinner dat sy reeds aan iemand anders behoort het nie.
Hy hoor Elmarie met ’n ligte skouerophaling sê: “Ek gee nie in die minste om wat ander mense van my dink nie, Schalk. Of ek getroud of geskei is, het hoegenaamd niks met ander mense te doen nie. Toe ek Lafras die dag na ons egskeiding gesien het, het hy ook nog sy trouring gedra.”
Elmarie sien die frons tussen Schalk se wenkbroue en wonder heimlik waarom hy so gesteurd frons. Sy laat egter nie toe dat sy fronsery haar van stryk bring nie, en na ’n paar sekondes hoor sy hom sê: “So lank as wat jy ’n trouring dra, sal al die kêrels dink jy is getroud en jou doelbewus vermy.”
“Dit sal my baie goed pas, want ek wil nie nou al deur mans lastig geval word nie,” erken sy ruiterlik.
Albei swyg en weldra ry hulle die dorpie binne en hou voor die poskantoor stil, wat ook die dorp se sentrale is.
Schalk stel Elmarie voor aan Karin Naudé wat in die poskantoor werk, en terselfdertyd die sentrale waarneem. Hy verduidelik dat Elmarie by sy oom en tante kuier, en verneem dan of daar pos is vir Driehoek en Spitskop. Hy gaan stel Elmarie voor aan die apteker en sy vrou, en daarna aan die eienaars van die dorp se afdelingswinkel en supermark, oubaas Siegfried Gottmann en sy dertigjarige seun, Dieter.
Dieter se noulettende blou oë helder dadelik op toe sy blik op die mooi swartkopmeisie val. Schalk sien dit, maar laat niks blyk nie. Hy hoop net dat Dieter nie straks probeer om sy hand by Elmarie in die as te slaan nie.
Op sy beurt wonder Dieter of Schalk ’n ogie het op die pragtige meisie, en of sy dalk familie is van die Dekkers.
Schalk het haar voorgestel as mevrou Zeeman, maar hy het nie gesê of sy ’n weduwee of geskei is nie. Hy sien dat sy ’n trouring dra en dit verwar hom nog meer.
Oubaas Gottmann nooi Schalk en Elmarie om saam met hulle elfuurtee te geniet – ’n uitnodiging wat Schalk baie teësinnig aanneem, aangesien Dieter reeds besig is om Elmarie te monopoliseer asof hy alleenreg op haar het.
Schalk besluit egter om Elmarie nie lank aan Dieter se sjarme bloot te stel nie. Hy wil die vurige meisie graag vir homself wen, en Dieter staan bekend as die dorp se hartebreker teen wie geen meisie bestand is nie – ’n feit wat hy onverwyld onder Elmarie se aandag bring toe hy haar later die res van die dorp wys.
“Dieter mag ’n hartebreker vir Doringrant se meisies wees, maar hy beïndruk my nie juis nie,” verseker Elmarie hom onomwonde. “Gelukkig verskil mense se smaak, en só bestaan daar geen gevaar dat my hart in die slag mag bly nie.”
“Jy laat my inderdaad verlig voel, Elmarie,” hoor sy Schalk sê toe hulle verby die stadsaal ry. “Dieter het dit nog nooit ernstig met ’n meisie bedoel nie. Al sy verhoudings was slegs ’n oppervlakkige spel waarmee hy hom vermaak het.”
Schalk kyk na sy polshorlosie en sê dan dat dit tyd is vir hulle om huis toe te gaan. “Ek hoop jy gee nie om as ek eers by Driehoek aandoen nie. Ek moet gaan hoor of daar vir my oproepe gekom het,” sê hy voorts.
“Nee, toe maar, ek gee nie om nie, Schalk. Jy gaan mos darem nie ure daar vertoef nie, of hoe?”
“Nee, dit sal nie lank duur nie,” verseker hy haar. Hy vertel haar van sy praktyk as veearts en sy voorspoedige stoetboerdery wat die meeste van sy tyd in beslag neem.
Al geselsend hou hulle op Driehoek se werf stil, waar ’n opgesaalde perd in die koelte van ’n boom staan.
“Dit lyk of jy ’n besoeker het,” sê Elmarie toe ’n lang, blonde meisie om die hoek van die huis verskyn.
“Jy kan maar in die motor bly sit,” doen Schalk aan die hand terwyl hy uitklim en die blondine, wat in ’n blou denimbroek en hemp geklee is, langs die motor inwag.
Die meisie lyk dadelik gesteurd toe sy Elmarie in die motor sien sit.
Schalk stel die twee meisies aan mekaar voor, en Elmarie wonder vererg waarom die blonde Kotie haar so uit die hoogte aankyk asof dit ’n oortreding is om saam met Schalk in sy motor te ry.
“Jy is ’n regte rondloper, Schalk,” hoor sy Kotie sê. “Ek wag al langer as ’n halfuur vir jou!”
“Ek het nie geweet jy is hier nie,” voeg Schalk haar ongeërg toe. “Ek vrees jy sal nog langer moet wag, want ek moet Elmarie aanstons terugneem Spitskop toe.”
Na daardie woorde stap hy van hulle af weg in die rigting van die agterdeur wat oopstaan. Kotie bloos vererg oor Schalk se onverskilligheid teenoor haar. Sy werp Elmarie ’n vernietigende blik toe en stap na die opgesaalde perd onder die boom. Na ’n rukkie dawer die perd se hoewe oor die werf, en weldra verdwyn perd en ruiter in die rigting van die groot plaashek.
Schalk bly nie lank weg nie, toe vertrek hulle na Spitskop sonder dat hy ’n woord oor Kotie of haar haastige vertrek sê. Elmarie bewaar ook maar die swye. Tog kan sy nie help om te wonder nie, want vir haar is dit baie duidelik dat daar ’n verhouding tussen Schalk en Kotie is.