Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 5 - Susanna M Lingua - Страница 8
5
ОглавлениеDaar is ’n somber trek op Elmarie se gelaat toe sy uit haar motor klim en die woonstelgebou diep ingedagte binnestap, met Mark se handjie styf in hare. Wynand het haar flussies meegedeel dat haar en Lafras se huwelik oor twee weke finaal ontbind sal word. Sy is wel bly dat sy uiteindelik weer vry sal wees van die nuuskierige koerantmanne wat haar gewoonlik op die mees ongeleë tyd lastig val. Wat haar tog hinder, is die feit dat haar lewe die afgelope drie maande feitlik net op leuens gebaseer was. Die leuens oor hulle huwelik, leuens oor die ontbinding van hulle huwelik … altyd net leuens … leuens …
Ja-nee, sy sal inderdaad bly wees wanneer alles agter die rug is en sy nie meer nodig sal hê om ’n enkele leuen te versin nie. Uit gewoonte sluit sy die posbus oop en is verbaas toe sy twee briewe daarin vind wat na Wynand se adres gepos is. Sy kan raai dat die een brief deur Mark se grootouers geskryf is, want die skrif op die koevert is duidelik dié van ’n oumens, en hulle is die enigste oumense wat sy ken. Die handskrif op die ander koevert lyk vir haar vreemd bekend.
Dit is ’n kort briefie van Lafras, waarin hy haar bedank omdat sy die pers tot nou toe uit hulle privaat sake kon hou. Hy wil haar nie bel nie, uit vrees dat iemand dalk hulle gesprek mag afluister. Hy wil weet of sy die dag nadat die skeisaak afgehandel is, saam met hom sal gaan eet en dans. Hy sal haar antwoord Saterdagmiddag by Wynand kry, as sy so gaaf sal wees om vir hom ’n briefie by Wynand te laat. Hy hoop dit gaan baie goed met haar en hulle aangenome seun.
Daar is ’n sagte glimlaggie op haar gelaat terwyl sy Lafras se briefie opvou en in die koevert steek. Sy wil net eers die ander brief lees, dan sal sy vir hom skryf en die brief vir Wynand gaan gee.
Elmarie het aanvanklik reg geraai – dit is ’n brief van Mark se grootouers wat soos volg lui:
Geagte mevrou Zeeman
Ek weet nie wat u huidige adres is nie, daarom pos ek hierdie brief aan u vorige buurman en hoop maar dat dit u sal bereik.
Ons verlang baie na klein Mark, en sal ’n besoek van julle verwelkom. Ons besef natuurlik dat u man ’n baie besige sakeman moet wees, maar miskien laat hy u en Mark toe om ons vir ’n week of wat te besoek. Ons hoop om gou van u te hoor, en intussen hoop ons maar dat hierdie brief u veilig bereik.
Die plaas lyk pragtig hierdie tyd van die jaar, en ek is seker daarvan dat Mark van die plaas sal hou. Ek hoop hy kan al goed perdry, want ek het vir hom ’n ponie gekoop en sy oom Schalk het die saal en toom gekoop. Die ponie wag dus net vir die grootman sodat hulle die plaas kan platry.
Die tante en Schalk stuur groete. Ook hulle hoop van harte dat u ’n paar dae kan afknyp om vir ons te kom kuier. Ek het ons telefoonnommer boaan die brief neergeskryf, ingeval u ons dalk wil skakel.
Ons hoop om spoedig van u te hoor. Groete,
Carl en Hester Dekker
Daar is ’n gevaarlike frons tussen Elmarie se mooi geboogde wenkbroue toe sy die oubaas se brief opvou en in die koevert steek. Sy hoop nie hy probeer om Mark in sy sorg te kry sodra hy van haar en Lafras se egskeiding hoor nie. Sy sal hierdie saak vanaand nog met Wynand moet bespreek, want sy het nie ’n huwelik en ’n egskeiding aangegaan net om Mark op die ou end te verloor nie …
“Hoekom lyk tannie Elrie so kwaad? Hè, tannie?” dring Mark se stemmetjie meteens deur haar ontstelde gedagtes.
Sy kyk hom aan en sê met ’n breë glimlag: “Ek is nie kwaad nie, my ou grootman, ek het net ’n vreeslike nare gedagte gehad. En as daardie gedagte moet waar word, sal jy darem sien hoe klap jou ou tannie Elrie ’n ou man dat hy sterre sien.”
Van hierdie hele diskoers verstaan die vyfjarige seuntjie niks, maar van sy tannie Elrie se glimlag kan hy darem aflei dat sy nie vir hom kwaad is nie.
Na middagete, terwyl Mark sy gewone middagslapie geniet, neem Elmarie haar skryfblok en gaan sit by die tafel om gou Lafras se brief te beantwoord. Sy begin skryf:
Beste Lafras
Ek het jou brief vanoggend ontvang, en was aangenaam verras om van jou te hoor. Trouens, ek het nie eens geweet dat jy jou op die oomblik in Johannesburg bevind nie. Ek veronderstel jy is al haastig dat die saak afgehandel moet word, sodat jy kan teruggaan Europa toe.
In elk geval, aangesien jy bepaald dadelik na die saak weer na Europa sal terugkeer, neem ek jou uitnodiging aan en ek hoop ek kan help om die aand vir jou aangenaam te maak. Ek dink ook dit sal goed wees as ’n paar verslaggewers ons na die saak bymekaar sien, want ’n paar het my reeds gevra of ons glad nie meer met mekaar praat nie.
Nou ja, ons sien mekaar dan oor twee weke. Soos altyd,
Elmarie
Sy adresseer die koevert wat die briefie bevat, en verseël dit sorgvuldig. Dan besluit sy om Wynand vanaand na ete van haar besoek te verwittig.
Mark is in die wolke toe hy hoor hulle gaan vir oom Wynand kuier, want naas Lafras hou hy die meeste van Wynand. Hy hou net nie daarvan om in sy slaapklere, kamerjas en pantoffels te gaan kuier nie.
“Dit moet beslis ’n uiters dringende saak wees wat jou hierdie tyd van die aand na my woonstel toe jaag, Elmarie,” begroet Wynand haar met haar aankoms. Hy tel klein Mark op en groet hom met ’n soen op die voorkop. “Ek wil eendag net so ’n mooi seun soos jy hê, grootman.”
Hy sit Mark weer op sy voete neer en nooi Elmarie om te sit.
“Ja, dit is nogal vir my ’n baie ernstige saak,” sê Elmarie toe sy op die rusbank plaasneem en Mark beduie om langs haar te kom sit. “Een van die briewe wat jy in my posbus besorg het, is van Mark se grootouers.” Sy gee die brief vir Wynand om te lees, en sê voorts: “Ek weet nie of ek maar net van my wysie af is nie, maar ek koester so ’n vae vrees dat hulle hom mag opeis sodra hulle hoor dat ek geskei is.”
“Hulle kan nie,” sê Wynand en skud sy kop heftig. “Jy en Lafras het die kind wettiglik aangeneem, en Lafras het net soveel seggenskap as jy oor hom. As hulle dit durf waag om so iets te doen, sal Lafras hulle ry tot by oom Daantjie in die kalwerhok. Jy weet dit miskien nie, maar Lafras het nogal lief geword vir jou en sy aangenome seun.” Hy plaas die brief op die koffietafeltjie en sê weer: “Ek sal dit later lees en ook vir Lafras gee om te lees.”
“Terloops, die ander brief was van Lafras, waarin hy my vra om die dag nadat die saak afgehandel is saam met hom te gaan eet en dans,” sê Elmarie. “Daarna sal hy bepaald weer na Europa vertrek.”
“Ek weet nie, hy het niks vir my gesê nie. Ek verstaan hy bring deesdae feitlik al sy tyd op kantoor deur,” vertel Wynand.
“Hy doen dit bepaald uit pure verveeldheid,” glimlag Elmarie gemoedelik. “Of anders het hy besluit om in sy ontslape vader se voetspore te volg, te trou en met ’n familie te begin.”
“Ek hoop jy het gelyk, want Lafras was nou die dag een-en-dertig jaar oud. Hy behoort nou tot stilstand te kom en gevestig te raak,” meen Wynand.
Elmarie kuier nog ’n rukkie by Wynand, toe groet en vertrek sy en Mark.
Sedert hulle tuiskoms van die Suidkus af, besoek Elmarie en Mark elke dag die ryskool. Mark het al so goed gevorder dat hy deesdae alleen in die leerlinge se kamp rondry. Elmarie besef dat die tyd nou aangebreek het dat sy vir hom die beloofde ryklere koop.
Saterdagoggend neem sy Mark toe na die stad en koop vir hom klere wat net soos hare lyk.
Terwyl hulle op die sypaadjie wag dat die verkeerslig in hulle guns moet verander, hoor Elmarie skielik ’n baie bekende stem spottend sê: “Wel, wel … en wie loop ek hier raak! Tog nie die verstote mevrou Zeeman nie!”
Elmarie draai stadig om en kyk die spreker met ’n gevaarlike frons en smeulende oë aan. “As jy met my gepraat het, meneer Van Coller,” sê sy kil en afgemete, “sal ek jou aanraai om jou woorde te tel en jou liewer by jou eie sake te bepaal. Verstaan jy my?”
“Toe maar, jy is verniet so op jou perdjie,” sê Herman met ’n spotlag. “Almal weet dat jou ryk multimiljoenêr-man jou verstoot het, daarom dat jy hom vir ’n egskeiding …”
Elmarie se bloed kook en voordat Herman sy sin kan voltooi, klap sy hom deur sy gesig. Sy wil nog sy ander wang ook vuurwarm klap, maar dan neem twee hande haar ferm aan die skouers en draai haar liggies om. Die volgende oomblik kyk sy vas in Lafras se laggende grys oë.
“My meisie,” sê hy glimlaggend, “jy kan mos nie die mense links en regs hier in die straat klap nie!”
“O, daardie ellendige …”
Lafras lê sy wysvinger saggies teen haar lippe en sê met ’n ondeunde blinkheid in sy oë: “Moet dit liewer nie sê nie, ou meisietjie.”
“Ek wou nie iets lasterlik sê nie, Lafras, ek wou maar net sê dat die ellendige vent voorgee dat jy my verstoot het, daarom dat ek jou om ’n egskeiding gedagvaar –”
“Is dit so?” knip Lafras haar verduideliking vinnig kort en kyk onthuts oor haar kop na ’n ontstoke Herman wat met rooi vingermerke op sy wang ’n tree agter haar staan. “Jy daar!” spreek hy Herman met ’n yskoue stem aan. “As jy ooit weer my vrou beledig of jou lang neus in ons sake steek, sal dit baie sleg met jou gaan. Verstaan jy my?”
Lafras pen die ontstoke Herman nog met ’n koue blik vas toe Elmarie vra: “Lafras, waar kom jy so skielik vandaan?”
“Ek het verbygery op pad na Wynand se kantoor, toe ek jou hier op die hoek van die straat met daardie vent sien praat.” Hy tel Mark op, groet die seuntjie en wend hom dan weer na Elmarie.
“Kom, laat ek julle eers veilig by jou motor besorg. En as daardie vent jou ooit weer lastig val, moet jy my dadelik laat weet. My prokureur sal sy sake vir hom werk.”
Met Mark op sy arm, stap hulle na sy motor wat oorkant die straat staan. Elmarie verduidelik aan hom waar sy haar motor gelaat het.
“Ek het jou brief eergister ontvang, Lafras, en gister my antwoord aan jou gepos,” vertel sy terwyl hy behendig deur die verkeer vleg.
“Ek hoop die antwoord is gunstig, meisie,” glimlag hy gemoedelik.
“Dit is,” glimlag sy ewe vriendelik terug. “Ek vermoed jy is al doodverveeld met die saai lewe in Johannesburg. Ek is weer doodverveeld met hierdie ledige lewe, en sal bly wees wanneer ek weer kan begin werk!”
“Maar jy werk mos, meisietjie! Wie gaan na ons aangenome seun kyk en hom versorg wanneer jy dit nie doen nie?”
“Ek vrees Mark hou my nie besig genoeg nie …” begin Elmarie toe Lafras voor die parkeergebou stilhou. Hy klim uit, hou die motordeur vir haar en Mark oop en moet dan dadelik groet en ry, want sy motor staan voor die gebou se hoofingang.
Op pad na die woonstel kan Mark nie uitgepraat raak oor sy ryklere wat net soos sy tannie Elrie s’n lyk nie. En toe hulle tuis is, kan hy nie wag dat die tyd moet aanbreek dat hy sy ryklere kan aantrek nie.
Dit is ’n baie gelukkige Mark wat daardie middag saam met sy tannie op pad is na die ryskool. Hy het so lank uitgesien na hierdie dag dat hy self ryklere kan dra soos sy tannie Elrie.
Elmarie ry deur die groot hek van die plaas, hou agter die stalle stil en klim uit. Sy is nog besig om Mark se baadjie netjies reg te trek, toe hou Lafras se duur motor langs hare stil en hy en Wynand klim uit.
Die twee mans is aangenaam verras om haar en Mark by die ryskool raak te loop. Hulle sluit sonder meer by haar en Mark aan, en Elmarie sien dat hulle albei in rydrag geklee is – albei dra wit rybroeke, maar Wynand het ’n bruin baadjie en Lafras ’n rooi baadjie aan.
“H’m, maar ons grootman lyk vandag alte deftig,” sê Lafras glimlaggend en neem Mark se handjie in syne.
“Lyk ek net so mooi soos tannie Elrie, oom Fras?” wil Mark dadelik weet terwyl hy vertroulik opkyk na die lang man.
“O ja, presies soos jou tannie Elrie,” verseker hy die seun met ’n ondeunde blinkheid in sy oë. “Maar ek sien ook dat jou tannie Elrie sal moet keer, anders word jy ’n regte pierewaaier. Verbeel jou, nog so klein en hy het al klaar ’n oog vir skoonheid.” Lafras begin saggies lag en wend hom na Elmarie. “Na wie aard die seun, meisie?”
“Ek sal nie kan sê nie, maar hy is vir my dierbaar so in al sy onskuld,” glimlag sy en gesels dan met die seuntjie: “Kyk, Mark, daar wag die instrukteur al vir jou langs die opgesaalde ponie. Het jy twee suikerklontjies in jou sak?”
“Ja, tannie Elrie,” glimlag hy stralend en haal die twee suikerklontjies uit sy baadjie se sak om vir haar te wys. “Ek gaan vandag alleen ry, oom Fras,” kondig hy opgewonde aan en bêre dit weer.
“Dis goeie nuus, grootman. Jy moet net nie vinnig ry en afval nie, jong. Ons sal maar eers kyk hoe jy vorder, voordat ons ons eie koers inslaan,” stel Lafras voor.
Elmarie staan etlike minute na Mark se vaardigheid en kyk, toe draai sy om en sê met genoegdoening: “Wel, dit is duidelik dat hy die rykuns bemeester het. Nou sal ek ten minste self met ’n geruste hart kan gaan ry.”
Die twee mans val langs haar in en stap saam na die stalle waar hulle perde reeds opgesaal is.
“Ek het die brief gelees wat oubaas Dekker vir jou geskryf het, Elmarie,” hoor sy Lafras sê. “Ek vermoed ook dat die vent wat jy vanoggend so ’n warm klap gegee het, jou weer in die rug gaan steek, deur die Dekkers van ons egskeiding in kennis te stel. Maar moenie jou daaroor verontrus nie. As hulle jou verpes, moet jy dadelik met my in verbinding tree.”
Elmarie bedank hom vir sy vriendelike advies en sê effens bedruk: “Ek hoop nie die oubaas gaan weer moeilik wees nie, want dan sal ek moet weier om Mark vir ’n besoek na hulle toe te neem. En ek sou graag wou hê dat Mark sy grootouers goed leer ken, want hulle is die enigste familie wat hy het, behalwe vir my –”
“En wat van my?” val Lafras haar ongeërg in die rede. “Jy vergeet blykbaar dat ek sy wettige oom en pleegvader is. Ons huwelik was miskien ’n klug, maar nie die aanneming van Mark nie, Elmarie. Hy sal my verantwoordelikheid bly totdat jy weer eendag trou. En as jy ’n probleem ondervind wat hom insluit, moet jy nie huiwer om dit met my te bespreek nie.”
“Dankie, Lafras. Ek hoop egter dat dit nooit nodig sal wees om jou lastig te val nie,” sê Elmarie met ’n dankbare glimlaggie. “Ek is seker ek sal die mas opkom solank as wat hy nog klein is, maar ek weet nie of ek hom sal kan beheer wanneer hy groot is nie. Ek hoop egter so.”
“Toe maar, jong, hy sal in sy spoor trap,” sê Lafras met ’n sagte laggie. “Hy het gesien hoe jy daardie vent vroeër vandag geklap het, en dit is iets wat hy nie maklik sal vergeet nie.”
“Nou goed, noudat ons hierdie sakie afgehandel het,” glimlag sy prettig, “wat stel julle twee mans voor? Moet ek Mark nadat die saak afgehandel is vir ’n besoek aan sy grootouers neem?”
Lafras help haar eers om die bruin merrietjie te bestyg, en klim dan op die groot swart hings voordat hy sê: “Op die oomblik sien ek niks verkeerd met so ’n besoekie nie, maar sodra hulle weet dat ons geskei is, mag hulle dalk weer probeer om Mark van jou weg te neem. Ek dink jy moet ’n rukkie wag en kyk wat hulle plan is. Sê vir hulle jy is op die oomblik baie besig, maar jy en Mark sal hulle later besoek. As hulle jou dan per brief dreig, moet jy my sonder versuim skakel.”
“Dankie, Lafras,” sê Elmarie met ’n mooi, onskuldige glimlaggie wat hom baie aan klein Mark herinner. “Ek voel nou meer gerus, en nou sal ek jou en Wynand in vrede laat om die middag te geniet … Tot siens, julle twee!”
Met daardie woorde spoor sy haar perd aan en ry in die rigting van die kloof. Sy het egter kwalik weggery, toe Lafras en sy perd langs haar verskyn. Die volgende oomblik sluit sy linkerhand oor hare wat die toom vashou, en voel sy hoe hy haar perd intrek.
“Is iets verkeerd?” vra sy toe albei perde tot stilstand kom.
“Nee, hoegenaamd niks, meisie,” sê Lafras bedaard. “Ek wil maar net weet wat jou die idee gee dat Wynand en ek graag alleen wil wees?”
“Wel, ek het gedink daar is sake wat julle miskien privaat wil bespreek,” sê sy. “Wynand is ’n prokureur, en … Nou ja, daar is dinge wat ’n mens nie graag voor buitestanders bespreek nie.”
“Wynand is nie my prokureur nie, hy is ’n ou skoolmaat en ’n jare lange vriend,” help hy haar reg. “Jy is ook nie ’n buitestander nie, Elmarie, jy is op hierdie oomblik nog my vrou. Kom ry asseblief saam met ons, ek hou nie daarvan dat jy alleen in die kloof gaan ry nie.”
Daar is ’n sweem van ’n glimlaggie om Wynand se mond toe hy sien hoe gedwee die vurige swartkop aan Lafras se wense toegee. Was dit iemand anders wat haar perd so eiegeregtig ingetrek het, sou sy hom dadelik ingevlieg en straks nog haar karwats ook gebruik het.
Lafras het bepaald ’n slag met die teenoorgestelde geslag wat ander mans nie het nie, dink Wynand geamuseer, of anders ken hy vroue maar net beter as ander mans.
Die glimlaggie om Wynand se mond verdwyn toe Elmarie en Lafras by hom aansluit. Hulle ry al met die rivier langs en gesels rustig oor die voordele van ’n plaaslewe – net Elmarie praat nie saam nie, want in Lafras se teenwoordigheid voel sy altyd ’n klein bietjie onbeduidend en minderwaardig. Dit is bepaald omdat hy al feitlik die hele wêreld deurkruis het, belese is en oor baie mensekennis beskik.
Hulle het reeds verder gery as wat Elmarie aanvanklik beplan het, toe dit haar meteens byval dat Mark se ryles seker lankal ten einde geloop het. Sy kyk na haar polshorlosie en sê besorg: “Ek vrees julle sal my nou moet verskoon. Mark wag seker al lankal vir my, en ’n mens weet nooit wat hy in my afwesigheid mag aanvang nie.”
Sy groet die twee mans haastig en ry vinnig in die rigting van die stalle. Soos sy vermoed het, is Mark se ryles lankal afgehandel en staan hy by die staldeur met die ponie en gesels.
Met hulle tuiskoms, terwyl Mark ander klere aantrek, neem Elmarie ’n vinnige stort en verklee in ’n koel somerrokkie. Daarna maak sy vir haar ’n koppie tee en gee vir Mark ’n glas melk.
Elmarie wag egter net tot Mark sy middagslapie geniet, toe skakel sy die Dekkers van Spitskop. Sy word gelukkig gou deurgeskakel, en ’n manstem beantwoord die telefoon.
“Hallo! Dis Elmarie Zeeman wat praat!” sê sy.
“Dagsê, meisie! Schalk Dekker hier –”
“Waarom antwoord jy die telefoon?” val sy Schalk half vererg in die rede. “Ek het jou oom-hulle gebel, nie vir jou nie!”
“Wag nou, swartoog, moenie so met my raas nie,” hoor sy hom laggend sê. “Ek kan mos nie help wanneer my oom en tante my beveel om die oproep te beantwoord nie!’
“O, nou goed. Aangesien jy nou weet met wie ek wil praat, sal jy seker nie omgee om die regte mense vir my na die telefoon te ontbied nie, dokter Dekker.”
“Maar, swartoog, ek weet nog nie met wie jy wil praat nie!” maak Schalk met ’n ondeunde stem beswaar.
“Dokter Dekker …”
“My naam is Schalk, meisie …”
“Ek is nie jou meisie nie, en jy weet baie goed met wie ek wil praat,” sê Elmarie nou duidelik onthuts.
“Nee, sowaar as wat ek leef, ek weet nie met wie jy wil praat nie. Sê maar vir my met wie jy wil praat?” hoor sy Schalk nou meer besadig sê.
“Ek wil met jou oom of jou tante praat; met wie anders dink jy?”
“Man, moenie so kwaad wees nie,” paai Schalk met ’n breë glimlag wat sy gelukkig nie kan sien nie. “Die twee oumense is ongelukkig nie dadelik beskikbaar nie, maar as jy jou telefoonnommer vir my gee, kan oom Carl jou oor ’n kwartier terugbel.”
“O, nou goed,” sê Elmarie met ’n ongenaakbare stem en gee hom haar telefoonnommer. “Ek sal ’n halfuur vir jou oom se oproep wag en niks langer nie.”
“Sê vir my, dit is ’n Pretoria-nommer, nie waar nie?”
“Ja, dit is ’n Pretoria-nommer.”
“En wat maak jy in Pretoria …?”
“Dit gaan jou nie in die minste aan nie, dokter Dekker,” maak sy hom terstond stil.
Sy kry byna ’n oorval toe sy hom hoor sê: “Maar natuurlik gaan dit my aan, swartoog. Alles wat jóú insluit, gaan my aan, as jy dit miskien nie weet nie!”
Sy wil hom vertel hoe aanmatigend hy is, maar dan besluit sy daarteen en plak die handstuk neer sonder om Schalk te groet. Wat haar betref, kan hy na sy peetjie gaan.
“Rissie!” sê Schalk hardop nadat Elmarie neergesit het. Toe loop hy vinnig na die twee oumense wat in die groentetuin doenig is.
“Wie het gebel, Schalk?” wil die oubaas weet toe die jong man hom weer by hulle aansluit.
“Dit was daardie swartoog van my wat met die multimiljoenêr gaan staan en trou het, oom Carl,” sê Schalk met ’n goedige glimlag. “Sy wou eintlik met oom Carl of tant Hester gepraat het, maar daar was nie genoeg tyd om een van julle te kom roep nie, dus moet julle haar dadelik terugbel. Ek het haar telefoonnommer in die boekie geskryf. Dit is ’n Pretoria-nommer.”
“Dan het sy natuurlik die brief gekry wat ek na haar gewese buurman se adres gestuur het,” sê die oubaas. Hy tel die mandjie groente op en sê voorts: “Kom, vrou, laat ons die meisiekind gaan bel en hoor wat sy te sê het. Miskien kan hulle tog ’n tydjie afknyp om vir ons te kom kuier …”
“H’m, dit sal gaaf wees as hulle vir ons kan kom kuier. Sy moet net nie haar man saambring nie,” sê Schalk en neem die mandjie by die oubaas.
“Ou seun, jy moet daardie swartkop vergeet, sy is nou getroud,” vermaan die ouer man. “Soek vir jou iemand anders en trou met háár.”
“Oom Carl, ek soek al die afgelope sewe jaar na die regte vrou. En toe ek haar einde ten laaste vind, gaan trou sy met daardie multimiljoenêr-vent nog voordat ek ’n poging kon aanwend om haar aan te keer,” sê Schalk. “Ek glo nie dit is regverdig dat ander mense ’n man se geluk so moet dwarsboom nie.”
“Jy het haar maar bloot te laat ontmoet, Schalk. Dis wat dit is,” meen die oubaas. “In daardie geval was sy dus nie vir jou bedoel nie.”
“In elk geval, laat ons gaan hoor of die klein rissiepit vir ons kom kuier,” sê Schalk.
Net toe hulle die huis binnegaan, begin die telefoon lui.
“Dit is beslis nie nou weer Elmarie nie,” sê Schalk. “Sy het gesê oom Carl of tant Hester moet haar skakel.”
“Nou goed, gaan hoor wie dit is, Schalk. Ek en jou tante gaan eers hande was,” doen die oubaas aan die hand.
Die jong man beantwoord die oproep en is merkbaar verbaas toe hy hoor dit is Herman van Coller wat praat.
“Ek vrees my oom-hulle is nie op die oomblik beskikbaar nie. Is daar ’n boodskap wat ek vir hulle kan gee?” wil Schalk weet.
“Wel, daar mag dalk nou ’n moontlikheid bestaan dat hulle die kind kan opeis,” hoor hy Herman sê. “U sien, Elmarie is besig om van haar man te skei –”
“Waarom? Wat het hy gesondig?” val hy Herman met ’n glimlag in die rede.
“Ek vrees dit is iets wat selfs die koerantmanne nog nie kon uitvind nie. As jy hulle bymekaar sien, sal jy ook glad nie sê hulle is besig om te skei nie. Hy kan dit nie eens verdra dat sy op straat met ’n ander man praat nie, en sy is nog steeds sy liefdevolle vrou. Ek weet eerlikwaar nie waarom hulle gaan skei nie.”
“En die kind? Hoe behandel hy hóm?” wil Schalk weet.
“O, hy lyk lief vir die kind. Hy het hom vanoggend na sy motor toe gedra, en dit is meer as wat ek sou doen …”
Schalk is duidelik opgewonde toe hy na sy gesprek met Herman by sy oom en tante in die eetkamer aansluit, waar die tante besig is om koffie te skink.
“Jy is net betyds vir koffie, Schalk,” sê die ou dame. “Wie het gebel?”
“Elmarie se gewese verloofde, tante,” sê Schalk met ’n ondeunde glimlaggie.
“Waarom glimlag jy so, ou seun? Wat het die kêrel te sê gehad?” wil die oubaas belangstellend weet.
“O, hy het maar net gebel om die pragtige Elmarie weer in die rug te steek,” sê Schalk met ’n lagklankie in sy stem. “Sy het hom bepaald weer iets aangedoen wat hom bitter gemaak het, daarom neem hy wraak –”
“Goed, nou kan jy ons vertel wat hy gesê het,” laat hoor die oubaas ongeduldig.
“Hy sê Elmarie en haar man is besig om te skei. Niemand weet wat die rede is nie, want hulle tree nog steeds op soos ’n gelukkige egpaar en die man is ook nog net so lief vir klein Mark,” vertel Schalk en vervolg met ’n ondeunde glimlag: “Dit lyk mos vir my of ek haar dalk nog op die ou end gaan kry, oom Carl.”
“Ek dink jy moet Elmarie maar eers gaan bel, ou man,” stel die ou dame voor. “Miskien is daar iets waaroor sy dringend met jou wil praat …”
“Vra sommer ook vir haar wat sy aan daardie Herman-vent gedoen het dat hy vandag weer so bitter is, oom Carl,” herinner Schalk die oubaas toe dié opstaan om Elmarie te gaan bel.
Daar is meteens weer vreugde in Schalk se hart en ’n aangename vooruitsig in sy lewe. Hy hoop sy kom gou vir die twee oumense hier op Spitskop kuier. Schalk se gedagtes neem nou wye vlugte.
Hy kyk egter gesteurd op toe oubaas Carl die eetkamer binnekom en verontwaardig sê: “Ek het nog nooit so ’n parmantige vroumens in my lewe teëgekom soos daardie swartkop … e … gifangel nie. Sy sê sowaar vir my ek moet my neus uit haar sake hou en my liewer by my eie bepaal …”
“Het oom Carl haar gevra waarom daardie Herman-vent weer so bitter is?” val Schalk sy verontwaardigde oom met ’n glimlag in die rede.
“Ja, sy het hom glo vanoggend in een van Pretoria se besige strate deur sy gesig geklap omdat hy haar beledig het, en haar man het vir hom gesê dat hy baie seer gaan kry as hy ooit weer sy neus in hulle sake steek. Nou ja, nou weet ek nie wat van die vent gaan word nie, want ek het haar vertel dat hy ons gebel het, en sy het gesê dat sy self sy sake vir hom sal werk …”
Schalk se hartlike lagbui maak meteens ’n einde aan die oubaas se diskoers. “Sy sal dit doen, oom Carl,” kry hy tussen lagbuie uit. “Daardie klein rissiepit stuit vir niks en niemand wanneer sy kwaad is nie.”
“In daardie geval sal ek haar gewese buurman moet bel en hom vertel wat sy van plan is om te doen, want daardie vent kan haar dalk leed aandoen. Sy is maar net ’n vroumens,” kom dit nou bekommerd van die oubaas. Hy drink sy koffie haastig, en gaan dan weer na die voorportaal waar die telefoon geïnstalleer is.
Na ’n rukkie keer hy terug en sê gerusstellend: “Ek het net betyds gebel. Elmarie se man was by die De Jager-kêrel, en hy het belowe om dadelik ’n einde aan die meisiekind se wilde planne te maak.”
“Maar Carl, jy het ons nog nie gesê waarom Elmarie in die eerste plek gebel het nie!” herinner sy ou wederhelf hom terwyl sy die koffiekoppies in die skinkbord sit. “Het sy miskien gesê of sy en Mark vir ons sal kom kuier?”
“Nou toe nou, dat ek dit staan en vergeet,” glimlag die oubaas ietwat verleë. “Dit is eintlik waarom sy gebel het. Sy het ons brief ontvang en besluit om ons oor ’n paar weke te besoek. Ons kleinseun het glo so mooi met sy rylesse gevorder dat hy al alleen ry.”
Terwyl die drie Dekkers Elmarie en Mark se voornemende besoek bespreek, hou Lafras voor Elmarie-hulle se woonstelgebou stil. Hy is ook net betyds, want toe hy uit die hyser stap, kom sy en Mark uit haar woonstel.
Elmarie bly meteens staan, maar Mark hardloop Lafras opgewonde tegemoet. Hy is lief vir sy oom Lafras wat hom altyd opraap en ’n paar maal in die lug swaai voordat hy hom neersit.
“Dit is inderdaad ’n onverwagte besoek,” begroet Elmarie die lang, skraal man met ’n vriendelike glimlaggie. “Ek was net op pad …”
“… na daardie vent wat jy vanoggend in die straat geklap het,” voltooi Lafras haar sin, terwyl hy die woonstel se deur oopmaak en haar na binne volg.
Elmarie kyk hom verras aan. Sy nooi hom om te sit, en wil dan geamuseerd weet: “Hoe het jy geweet dat ek Herman wou besoek, Lafras?”
“Oubaas Dekker het gebel en gevra dat ek of Wynand jou moet keer, want daardie vent mag jou dalk leed aandoen. Hy sê jy mag nou wel ’n gifangel wees, maar jy bly nog steeds ons klein Mark se tante en pleegmoeder,” vertel Lafras met ’n ondeunde glimlag.
“Snaaks dat hy darem nog besorg is oor die gifangel,” laat Elmarie ietwat droog hoor. “Ek het altyd gedink hulle sal bly wees as iets met my gebeur, want dan kan hulle mos vir Mark kry.”
“Hulle kan ons klein Mark nie sommer net vat nie, Elmarie,” help hy haar reg. “Hulle moet eers by my, sy pleegvader, verbykom. En jy moet hulle ook baie goed laat verstaan dat al is ons geskei, ek steeds Mark se pleegvader bly. Maar sê vir my, het jy nog altyd lus om met daardie vent te gaan afreken oor sy nuusdraery?”
“As ek nie nou sy mond gaan snoer nie, sal hy heeltemal oorneem, Lafras. Ek moet iets doen om hom eens en vir altyd op sy plek te sit …”
“Laat staan hom gerus vir my. Ek sal my prokureur aansê om sy sake vir hom te werk,” keer Lafras haastig. “Jy moet my nou belowe dat jy nooit naby die vent sal gaan nie. Jy kan nie jou krag teen syne meet nie, Elmarie. Hy is ook so vol haat en afguns dat hy jou ernstige leed kan aandoen. Belowe jy om in die vervolg van die vent af weg te bly en die polisie te ontbied as hy dit ooit waag om aan jou woonstel se deur te klop?”
“Goed, ek belowe, Lafras. Ek is ook jammer oor die moeite wat ek jou aangedoen het. Die oubaas moes jou nie lastig geval het nie –”
“Ek is bly hy het,” val hy haar bedaard in die rede. “Ek het hom sommer ook gevra om ’n oog oor jou en Mark te hou wanneer julle hulle besoek, en my sonder versuim te bel as jy iets onmoontliks aanvang … soos om mense wat groter en sterker as jy is te klap.”
“Dit is nie ’n gewoonte by my om mense te klap nie, Lafras …”
“Ek is werklik bly om dit te hoor, swartkoppie, want ek het net begin wonder of ek vir jou ’n groot, sterk lyfwag moet huur om jou te beskerm …”
Elmarie se hartlike lagbui maak dadelik ’n einde aan alles wat Lafras nog wou sê.
“Ek is nie gewoonlik aggressief nie, net wanneer mense my kwaad maak,” sê sy toe haar lagbui bedaar.
“Wel, ek hoop niemand maak jou ooit weer kwaad nie,” glimlag hy gemoedelik en kom terselfdertyd orent. Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg: “Ek vrees jy en Mark sal my nou moet verskoon, tensy julle die naweek saam met my in Johannesburg wil deurbring.”
“Ons sal jou maar liewer verskoon, Lafras, anders gooi die regter dalk ons skeisaak uit,” sê sy tergerig en kom ook orent. “Ons sal saam met jou stap tot by jou motor.”
Die volgende twee weke is vir Elmarie eindeloos. Eindelik breek die dag aan dat haar en Lafras se huwelik finaal ontbind word. ’n Paar verslaggewers wag haar en Wynand voor die hof in, en weer moet sy haar gedwee aan die flitse van hulle kameras onderwerp.
Een verslaggewer kom staan skuins voor haar en vra ewe kordaat: “Mevrou Zeeman, sal u asseblief nou vir ons die werklike rede gee waarom u en meneer Zeeman se huwelik vandag in hierdie hof ontbind is?”
“Ek is nie daarvan bewus dat daar ’n ander rede is nie, meneer,” sê sy met ’n kil stem. “En nou kan jy asseblief uit my pad uit staan.”
Aan Wynand sê sy: “Ek hoop die verslaggewers laat my na vandag met rus.”
“O, hulle sal. Noudat jy en Lafras geskei is, is jy nie meer vir hulle belangrik nie,” stel Wynand haar gerus. “Jy sal nou ongestoord reëlings kan begin tref vir jou en Mark se besoek aan sy grootouers. Ek wonder nou net wat Lafras beplan het.”
“Ja, ek weet ook nie,” sê Elmarie en krap in haar handsak rond op soek na haar motor se sleutels. Sy vind dit, sluit die motordeur oop en sê voorts: “Lafras het my gevra om môreaand saam met hom te gaan eet en daarna in die een of ander nagklub te gaan dans. Dit is bepaald ons vaarwelaand.”
Wynand kyk haar etlike sekondes met ’n peinsende uitdrukking in sy oë aan, asof hy op die punt staan om ’n geheim aan haar mee te deel. Toe groet hy egter en stap haastig na waar sy eie motor staan.
Sy kan sweer Wynand wou iets sê, maar dat hy hom op die laaste oomblik bedink het. Sy klim in haar motor en besluit om Mark maar eers by die bewaarskool te gaan haal waar sy hom vanoggend gelaat het.
Elmarie is die hele middag vreemd ingedagte. Sy is al so gewoond daaraan om alles eers met Wynand of Lafras te bespreek, dat sy dit nou vreemd vind om weer self besluite te moet neem. Na ’n lang ruk se wik en weeg, besluit sy eindelik om oor drie dae na Spitskop te vertrek. Nou kan sy weer haar gedagtes by haar afspraak met Lafras bepaal, en sommer dadelik ’n afspraak met die haarsalon reël om die volgende oggend haar hare te versorg.
Nadat Elmarie ’n afspraak met die haarkapper gereël het, bespreek sy ’n hooflynoproep na die Dekkers van Spitskop. Dit duur slegs ’n paar minute, toe hoor sy die tante se stem opgewek oor die lyn sê: “Hester Dekker van Spitskop hier!”
“Hallo, mevrou Dekker! Dit is Elmarie Zeeman wat praat.”
“Ek hoop jy bel om te sê dat julle vir ons kom kuier, mevrou Zeeman,” kom dit vriendelik en opgewonde van die tante.
“Ja, dit is eintlik waaroor ek bel, en dan ook om te hoor of daar ’n hotel op die dorp is –”
“Moet jou asseblief nie oor ’n hotel bekommer nie, mevrou Zeeman. Julle drie is welkom om hier by ons in die huis te bly,” val sy Elmarie opgewonde in die rede.
“Ons is net twee, nie drie nie, mevrou Dekker. Net Mark en ek kom vir ’n vlugtige besoek.”
Hulle gesels ’n rukkie oor haar en Mark se voorgenome besoek en groet dan.
Nou, besluit Elmarie, kan sy weer aandag skenk aan die volgende uitstappie – haar laaste uitstappie saam met Lafras, en sy sal beslis op haar beste moet lyk om hom nie in ’n verleentheid te bring nie.
Terwyl Elmarie die drie duur aandrokke deurkyk wat Lafras die dag voor hulle huwelik vir haar gekoop het, lui haar voordeurklokkie, en lewer dieselfde Johannesburgse modewinkel twee yslike groot dose by haar af met ’n nota van Lafras.
Nadat die afleweringsbode vertrek het, skeur Elmarie die koevertjie oop, neem die kaartjie uit en lees:
Net ’n klein geskenkie vir môreaand se uitstappie, en hou jou hare asseblief in dieselfde styl wat jy elke dag dra. Baie dankie. Ek is seweuur op jou drumpel.
Jou man … of moet ek sê gewese man?
Lafras Zeeman
Elmarie maak die dose oop en verloor byna haar asem toe sy ’n wit weselbontstola uit die eerste een haal. Die tweede doos bevat ’n silwerkleurige aandrok wat met elke beweging glinster … En hy noem dit ’n klein geskenkie!
Sy pas die rok dadelik aan en is verras om te vind dat dit perfek pas. Gelukkig het sy haar silwerkleurige aandskoentjies nog net een maal gedra, dus is hulle nog feitlik nuut. Sy betrag die rok se hals met ernstige konsentrasie en besluit om net oorkrabbetjies daarby te dra – haar ontslape moeder se robyn-oorkrabbetjies.
Elmarie gaan hang die rok versigtig in haar klerekas en bêre die fabelagtige stola met net soveel sorg. Sy is seker dat sy môreaand die bes geklede dame in die hele Johannesburg sal wees.