Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 5 - Susanna M Lingua - Страница 5
2
ОглавлениеDie dae word weke, en die band tussen Elmarie en klein Mark word al hoe hegter gesmee. En nou lyk dit vir haar asof die seuntjie haar tog in die plek van sy ma gaan aanvaar. Sy het lief geword vir die blonde krulkopkind met sy mooi maniere en lieftallige geaardheid.
Net Herman, so lyk dit vir Elmarie, kan die kind maar nie aanvaar nie, ondanks die feit dat sy nog altyd daarin geslaag het om ’n kinderoppasser te kry wanneer hy haar die aand wil uitneem. Hy het egter nog nie weer een maal oor die kind gepraat of gesê wat sy moeder van haar aanstaande skoondogter se pleegouerskap dink nie, en Elmarie het hom ook nog nie daarna uitgevra nie. Maar sy weet vroeër of later gaan sy, Herman en sy ma ’n verskriklike konfrontasie hê, want hierdie stilte van hom en sy ma is maar net die spreekwoordelike stilte voor die storm.
Dit is al presies drie weke sedert Elmarie klein Mark in haar sorg geneem het. Sy het ’n rukkie gelede van die werk af tuis gekom en is nog besig om haar en Mark se aandete voor te berei, toe die telefoon begin lui.
Dit is Herman, en Elmarie voel gesteur omdat hy haar so ontydig skakel.
“Wel, ek moet sê jy klink nie juis bly om my stem te hoor nie,” hoor sy hom verwytend sê.
“Ag, kom nou, moenie so veronreg klink nie. Jy weet baie goed dat ek hierdie tyd van die dag aandete voorberei,” help sy hom effens ongeduldig reg. “Waarom het jy gebel, Herman?”
“Ek wil maar net hoor of jy vanaand tuis is. Ek wil met jou gesels oor die langnaweek aan die einde van die maand – dit wil sê oor drie weke.”
“O, nou kom gerus, Mark en ek gaan nie uit nie,” sê sy ongeërg – onbewus van die frons tussen haar swart wenkbroue.
“Gaaf, sien jou dan later.” Hulle groet en lui af.
Herman daag lank na aandete by Elmarie se woonstel op, soos sy gewoonte is sedert Mark by sy tannie woon. Dit lyk vir Elmarie asof hy die kind opsetlik vermy, daarom wag hy gewoonlik totdat Mark in die bed is voordat hy sy opwagting by haar woonstel maak. Sy steur haar egter glad nie aan sy kinderagtige optrede nie, omdat sy weet dat sy ma grotendeels daarvoor verantwoordelik is.
“Jy lyk moeg, Elmarie,” begroet Herman haar met ’n stem wat eintlik sê: Ek het vir jou gesê jy moet die kind vir sy grootouers gee, maar jy wil mos altyd beter weet. Nou sien jy hoe baie dit van ’n mens verg om ’n kind groot te maak.
“Ja, ek voel ’n bietjie moeg. Ek moes die agterstallige werk van die vier dae wat ek in Bloemfontein was, inhaal,” vertel Elmarie en neem langs hom op die rusbank plaas. “Maar gelukkig het ek alles nou weer op datum.”
“In daardie geval sal jy ’n dag of wat langs Durban se strande bepaald verwelkom,” sê Herman.
“Ek kan op die oomblik aan niks aangenamer dink nie,” stem sy met ’n flou glimlaggie saam. “Maar al die hotelle en ander verblyfplekke is natuurlik almal vol bespreek.”
“As jy saam met my en my ma gaan, hoef jy jou nie oor losies te bekommer nie. Ons gaan by my tante bly,” doen Herman aan die hand.
“Wat van Mark?” wil Elmarie weet.
“Hy sal tuis by een van jou vriendinne moet bly …” begin Herman.
Hiervan wil Elmarie niks weet nie. Sy laat hom dit ook baie goed verstaan toe sy met ’n kil stem wil weet: “So, en waarom mag hy nie saamgaan nie?”
“My ma sal dit nie duld dat jy hom saambring nie, meisie,” sê Herman versigtig. Hy ken hierdie oulike verloofde van hom goed genoeg om te weet dat sy in ’n klein vuurvreter kan verander wanneer ’n mens dit durf waag om op haar fyn toontjies te trap. Na ’n verlowing van vier jaar en etlike stormagtige rusies, weet hy dat daar baie waarheid steek in die ou uitdrukking wat sê dat die gevaarlikste gif gewoonlik in klein pakkies verpak word.
“Nou goed, sê my dít: Wat het jou ma teen Mark, dat hy nie saam met ons mag gaan nie?” wil Elmarie met ingehoue wrewel weet.
“Ek het jou reeds gesê dat ons by my tante tuisgaan,” kom dit stroef en ongeduldig van Herman. “My ma sê jou suster se buite-egtelike kind sal ons almal net in ’n ontsettende verleentheid plaas, en sy weier volstrek om die kind saam met ons in die motor of in haar suster se huis te neem.”
“En jy, Herman? Hoe voel jy oor my klein Mark?” wil Elmarie met ’n onheilspellende klank in haar sagte stem weet.
“Dieselfde as my ma,” sê hy kortaf en kyk haar met ’n ligte frons aan.
“Nou, luister goed: Gaan sê vir jou ma julle twee het nie nodig om julle meer oor Mark te ontstel nie,” sê Elmarie nou bitter ontstoke. “Wanneer ek en Mark Durban toe wil gaan, sal ons met my motor ry en in ’n hotel gaan bly. Die manier wat jou ma praat, sal ’n mens laat sweer dit is Mark se skuld dat hy buite die eg gebore is. Maar laat ek jou dit vertel: Mark is die lieftalligste seuntjie met die mooiste maniere wat ek ken, en dit is meer as wat ek van jou suster se kinders kan sê.”
“Vervlaks, jy het net vir ons almal ’n hele hoop probleme geskep die dag toe jy belowe het om na die kind te kyk!” bestraf Herman haar met ’n kwaai frons en ’n bars stem. “Ek sal jou aanraai om die kind so gou moontlik vir sy grootouers te gee. Laat húlle opgeskeep sit met hulle seun se skande –”
“Verskoon my,” val Elmarie hom kil en met vlammende oë in die rede. “Mark se teenwoordigheid skep vir my geen probleme nie. Inteendeel, ek is baie lief vir hom en sal nie eens daarvan droom om hom vir sy grootouers te gee nie. Gaan jy en jou ma maar Durban toe en geniet julle kuier by jou tante. Ek sal Mark na die dieretuin toe neem waar ons die dag in vrede kan –”
“Gaan jy nou altyd toelaat dat die kind ons plesier bederf?” onderbreek hy Elmarie gebelg. Hy het so daarna uitgesien om haar vir ’n dag of wat net vir homself te hê, en nou kom die kind tussen hulle. Hy weet eerlikwaar nie wat hy van haar optrede moet dink nie, want dit lyk asof die kind meer vir haar beteken as hy.
“Mark het nog nooit ons vreugde bederf nie,” hoor hy Elmarie heftig sê. “Dit is jy, met jou sinnelose hardvogtigheid, wat ons plesier bederf. Maar ek waarsku jou nou. Jy sal aan Mark se teenwoordigheid gewoond moet raak as jy met my wil trou, want hy sal my seun bly totdat hy eendag selfstandig is en vir homself kan sorg.”
“Jy kan die kind die einde van die maand by jou buurvrou laat bly,” probeer Herman nog ’n laaste keer om haar van haar koppigheid te laat afsien.
Elmarie het egter nou heeltemal genoeg van Herman en sy ma se hardvogtigheid gehad. Sy staan van die rusbank af op en sê met ’n koue, onpersoonlike stem: “Ek dink jy moet liewer nou gaan, Herman. Jou besoek begin my nou werklik irriteer, want jy het die hele aand nog niks anders gedoen behalwe om oor Mark te stry en hom te verkleineer oor dinge waaroor hy geen beheer het nie. Kom kuier maar weer wanneer jy jou vereenselwig het met die feit dat Mark nou deel is van my lewe … Nag, Herman!”
’n Oomblik lank lyk dit asof die jong man haar gaan skud totdat sy van sienswyse verander. Hy kom haastig orent en met ’n laaste: “Ek glo nie dit sal nodig wees om my met daardie feit te vereenselwig nie,” verlaat hy sy verloofde se woonstel sonder om vir haar nag te sê.
Elmarie se donker oë smeul nog van woede toe sy die deur ná Herman se vertrek sluit en begin gereed maak om te gaan slaap. Sy sal haar hoegenaamd nie laat verontrus deur Herman se houding teenoor Mark nie. Sy weet dit is sy snobistiese ma wat hom opmaak teen die onskuldige kind, maar sy sal hulle nie hulle sin gee nie.
Dit is Elmarie se vry oggend en sy besluit om ’n bietjie later in die bed te bly as gewoonlik. So ’n ruskansie word haar egter nie gegun nie, want die kerkhorlosie het pas agtuur geslaan toe die telefoon langs haar bed begin lui.
Sy steek haar hand traag uit, tel die gehoorstuk op en bring dit ewe traag na haar oor.
“Hallo!” sê sy met ’n slaapbenewelde stem. “Dit is Elmarie Keyser wat praat.”
“Matilda van Coller hier,” hoor sy Herman se ma met ’n kil stem sê. “Ek wil graag met jou gesels oor jou suster se buite-egtelike kind wat by jou bly en wat reeds ’n rusie tussen jou en Herman veroorsaak het.”
Elmarie vererg haar op die plek vir haar aanstaande skoonma se inmenging in haar en Herman se sake, en vra met ’n gesteurde frons tussen haar swart wenkbroue: “Wat presies wil u van die kind weet, mevrou Van Coller?”
“Wel, ek verstaan jy weier om hom aan sy grootouers te gee. Ek wil nou net van jou weet wat jy met die kind gaan maak wanneer jy en Herman getroud is?”
“Ek gaan die kind behou, mevrou, en hom self grootmaak soos ek my oorlede suster belowe het,” sê Elmarie, nou wawyd wakker en hoorbaar op die oorlogspad.
“So, en dink jy dit sal regverdig wees om Herman met jou suster se buite-egtelike kind op te saal?” hoor sy die ou dame ietwat driftig vra.
Die vasbeslote trek om die jong meisie se mooi, sagte mond toon egter baie duidelik dat sy haar beslis nie deur die snobistiese vrou sal laat intimideer nie.
“Dit is vir Herman om daaroor te besluit, mevrou. Hy weet immers van my belofte aan my ontslape suster,” troef sy die bemoeisieke oumens met ’n warm gevoel om haar hart.
“Ek vrees dit sal nie deug nie,” hoor sy Matilda nou baie ernstig sê. “Ek is nie bereid om ’n kind in my huis of op my werf toe te laat, wat ’n klad op my en my seun se naam kan bring en ons ook by ons vriende in ’n verleentheid mag bring nie.”
“Ek is jammer as u so oor die saak voel, mevrou,” sê Elmarie nou met ’n vreemde kalmte. “In daardie geval sal ek en Herman maar net ons huwelik moet uitstel totdat ons genoeg gespaar het om ’n huis te koop. Ek sal die saak met hom bespreek sodra ek hom weer sien.”
“Jy gaan Herman baie ongelukkig maak met jou koppigheid –”
“Herman se geluk sal van sy eie besluit afhang, mevrou,” val die swartkop haar ongeërg in die rede. “Op die oomblik dink ek aan die geluk van ’n klein, onskuldige seuntjie wat geen aandeel gehad het aan sy bestaan nie.”
“Ek glo nie Herman sal bereid wees om jou suster se optelkind in sy huis te neem en groot te maak asof dit sy eie is nie.”
“As dit Herman se houding is, mevrou,” maak Elmarie haar weer terstond stil, nou met ’n ongenaakbare stem, “moet hy dit asseblief self vir my kom sê en dan sommer ook sy verloofring kom haal. En nou moet u my asseblief verskoon. Dit is my vry oggend en ek wil my pleegseun ’n rukkie park toe neem. Tot siens, mevrou Van Coller!”
Elmarie, nou billik ontstoke, plaas die handstuk terug voordat Matilda weer iets kan sê. Sy is nou heeltemal keelvol vir die aanstootlike vrou wat so beledigend is teenoor ’n onskuldige kind wat niemand nog ooit leed aangedoen het nie. En as Herman hom deur haar laat voorskryf oor wat hy moet doen, kan hy gerus maar sy verloofring kom haal. Sy koester geen planne om met ’n skoonma se marionet te trou nie.
Na ontbyt neem Elmarie haar susterskind na ’n speelpark, waar hy hom saam met ’n paar kinders op die skoppelmaaie en ander speelgoed vermaak. Sy laat hom speel totdat haar polshorlosie wys dit is elfuur. Dan keer hulle terug na die woonstel vir middagete, want eenuur moet sy op kantoor wees.
Die res van die dag dink Elmarie nie weer een maal aan haar en Matilda van Coller se telefoongesprek nie. Sy wil nie aan die ouer vrou se pynlike selfsug en snobisme dink nie, want dan sal sy haar opnuut vererg. Sy hoop Matilda kry ’n pyn wanneer sy weer na Mark as ’n optelkind verwys, want dit klink dan asof Mark se ma ’n losbandige lewe gely het. Sy praat natuurlik nie haar suster se misstap goed nie, maar Luzaan was ook nie ’n losbandige meisie omdat sy een maal in haar lewe ’n misstap begaan het nie.
Elmarie se werk neem haar aandag die hele middag in beslag. Sy het ook net mooi heeltemal van Matilda se onsmaaklike telefoongesprek vergeet, toe Herman haar met haar tuiskoms skakel om te hoor wat sy vir sy ma oor die telefoon gesê het.
“Waarom vra jy nie vir haar nie?” wil sy dadelik gesteur weet.
“Omdat my ma op die oomblik te ontsteld is om met my te praat,” hoor sy Herman met kommer en ongeduld sê.
“Ek kan dit glad nie verstaan nie,” sê Elmarie ongeërg. “As jou ma te ontsteld is om met jou te praat, hoe weet jy dat ons ’n telefoniese gesprek gevoer het?”
“Verskoon my, ek het jou nie gebel om onder kruisverhoor geneem te word nie. Ek wil weet wat jy vir my ma gesê het wat haar so vreeslik ontstel het. En moenie maak of jy niks daarvan weet nie, Elmarie, jy weet baie goed waarvan ek praat,” wys hy haar vererg tereg.
“Wel, ek moet sê as jou ma so ontsteld is as wat jy te kenne gee, pas dit my pragtig, want dan sal sy my hopelik nie weer skakel nie,” laat Elmarie nou openlik onthuts hoor. “Sy het my agtuur vanoggend gebel en kan onmoontlik nou nog so ontsteld wees dat sy glad nie met jou kan praat nie. Sê sy moet telefoon toe kom, ek wil graag met haar praat –”
“Ek dink jy is absoluut harteloos, Elmarie,” val hy haar skerp in die rede.
“Moenie dat ek lag nie, Herman. Dit is jy en jou ma wat harteloos en gevoelloos is teenoor ’n onskuldige, vyfjarige weeskind. Ek het nie nou tyd om met jou te staan en argumenteer nie. Sodra jou ma oor haar sogenaamde ontsteltenis gekom het, sal sy jou self vertel waarom sy my vanoggend geskakel het en wat ek alles vir haar gesê het.”
Met daardie woorde sit Elmarie die handstuk neer sonder om te groet. Sy gee ook nie ’n flenter om wat Herman van haar optrede dink nie. Wat haar betref, het sy nou heeltemal genoeg van hom en sy ma gehad vir een dag. As hy haar vanaand weer bel, gaan sy ’n oorval kry.
Gelukkig probeer nie een van die twee Van Collers daardie aand om weer met haar in verbinding te tree nie en kan Elmarie die tyd onverstoord saam met Mark verwyl. Hy het elke aand baie om haar te vertel, en dit is vir haar duidelik dat hy van die bewaarskool en die kinders begin hou.
Elmarie hoor die res van die week niks van Herman of sy ma nie, en wonder of hulle miskien tot inkeer gekom en besluit het om Mark te aanvaar.
Sy werk een Saterdag per maand, en vandag was dit haar beurt. Sy is vol aangename gedagtes toe sy na werk in haar motor klim en huis toe ry. Sy gaan ry gewoonlik elke Saterdagmiddag perd by die ryskool waar sy geleer het om te ry, en waar Mark ook nou leer perdry. Sy sal hom gou by die bewaarskool gaan haal, en sommer vir hulle wegneemkos by ’n restaurant vir middagete kry. Dan kan hulle dadelik met hulle tuiskoms eet en na die ryskool vertrek. Sy sien altyd uit na hierdie afleiding, want die plaas bied ’n rustige stilte wat ’n mens nêrens anders vind nie.
Terwyl Mark opgewonde gesels oor die swart ponie waarop hy leer perdry, hou Elmarie langs ’n duur, silwergrys sportmotor met ’n Johannesburgse registrasienommer stil. Bepaald ’n besoeker vir Wynand de Jager, haar prokureur-buurman, dink sy, want net Wynand se besoekers ry met duur motors.
Met Mark aan die hand, loop Elmarie na die trappe, want sy sien dat die hysbak besig is om boontoe te gaan. Gelukkig is haar woonstel op die eerste vlak en neem dit hulle nie lank om die paar trappe te klim nie.
Elmarie is verbaas toe sy vind dat haar woonstel se voordeur nie gesluit is nie, en sy is nog meer verbaas toe sy Herman in die geselskap van ’n vreemde man in haar woonstel aantref.
“Mag ek vra hoe julle in my woonstel gekom het, Herman?” wil sy met ’n geslote gesig weet sonder om die twee mans eens te groet.
“Ek het die opsigter gevra om die deur vir ons oop te sluit, wat hy natuurlik baie onwillig gedoen het,” verduidelik Herman terwyl hy en die vreemde man beleef orent kom. “Maar laat my toe om dokter Schalk Dekker aan jou voor te stel, Elmarie … Elmarie Keyser, dokter.”
’n Ligte frons verskyn tussen Elmarie se wenkbroue toe sy paslik op die bekendstelling antwoord. Die lang, aantreklike, blonde man se van laat haar kriewelrig voel en dit stel haar op haar hoede.
Voordat sy iets kan sê, hoor sy Herman ingenome verduidelik: “Dokter Dekker is glo familie van Mark. Oubaas Carl Dekker is sy oom –”
“Ek vrees daar is ’n paar dinge wat ek glad nie verstaan nie,” val sy Herman vererg in die rede, terwyl sy nog in die middel van die vertrek staan met Mark se handjie in hare. “Vertel my asseblief net dit: Hoe weet dokter Dekker van my en Mark se bestaan, en hoe het hy geweet waar ek en Mark bly?” Elmarie se gelaatskleur is altyd baie lig, maar op die oomblik is sy bleek van woede, ofskoon sy dit nie laat blyk nie. Sy sien hoe die blonde kêrel se blou oë op Mark vasgenael bly.
Dan hoor sy Herman met ’n ingenome laggie sê: “Ek het met die kind se mense in verbinding getree sodat hulle van sy bestaan kan weet en ook die verantwoordelikheid van sy opvoeding op hulle kan neem –”
“So … en as ek mag vra: Waar kry jy die reg vandaan om met my sake in te meng?” wil sy bitter ontstoke weet, en nou blits haar donker oë gevaarlik.
“Ek het natuurlik eie reg gebruik, Elmarie. Ons is immers verloof …”
“Nie meer nie,” maak sy hom woedend stil. “Ek het nou heeltemal genoeg gehad van jou en jou ma se vermetele inmenging in my sake. Julle twee het nog altyd gemaak of Mar … my pleegseun iets is wat selfs die kat sy neus voor sou optrek. Maar ek gaan dit nie langer duld nie. Mark is my ontslape suster se kind wat sy op haar sterfbed in my sorg geplaas het, en hy sal by my bly totdat hy meerderjarig en selfstandig is.”
“Mark se grootouers is op die oomblik ook hier in Pretoria, juffrou Keyser,” hoor sy Schalk Dekker bedaard sê. “En ek vrees volgens wet het hulle alleenreg op die seun. Ek sal hulle môremiddag na u toe bring, sodat julle die saak rustig kan bespreek –”
“Julle kan almal na die hoenders gaan,” maak Elmarie die man verontwaardig stil. “Ek het alleenreg op Mark, en daar is hoegenaamd niks te bespreek nie. En as julle nie daarvan hou nie, kan jy en jou oom en jou tante julle al drie in jou oom se eendedam gaan verdrink. Verstaan jy? En nou moet jy en Herman asseblief my woonstel onmiddellik verlaat … Toe, trap uit my woonstel uit voor ek my maniere vergeet en julle laat uitsmyt!”
Daar is ’n geamuseerde trek om Schalk se mond en ’n blinkheid van ondeunde pret in sy blou oë toe hy Elmarie aankyk waar sy met haar skamele lengte van 1,57 meter voor hom en Herman staan.
“Ons gaan nou dadelik, juffrou,” sê hy beleef.
Herman is rooi in sy gesig en diep ontstoke. “Jy kan nie ons verlowing na vier jaar so goedsmoeds beëindig nie …”
Elmarie gee hom nie kans om meer te sê nie. “Ek het gesê jy moet nou dadelik uit my woonstel uit padgee, Herman,” herinner sy hom met oë wat vuur spat van woede. “Na jou verfoeilike agterbaksheid behoort ek nie net ons verlowing te beëindig nie, ek behoort jou ook te klap dat jou ore tuit. Toe, maak dat julle wegkom voordat ek die polisie ontbied om julle hier uit te smyt.”
Elmarie los Mark se handjie en volg die twee mans totdat hulle by die voordeur uit is. Dan klap sy dit ferm agter hulle toe. Die volgende oomblik val haar oog op die verloofring wat nog steeds aan haar vinger pryk. Sy ruk die deur oop en pluk die ring van haar vinger af.
“Dè, vat jou ring,” sê sy met veragting in haar stem en gooi die ring dat dit vlak voor Herman se voete land, waar hy nog verslae langs die balkonmuurtjie ’n meter of wat van Schalk af staan.
Elmarie is so kwaad dat sy nie eens die man met die ligbruin hare voor haar buurman se woonstel opmerk nie. Sy hoor ook nie eens toe Schalk uitbars van die lag toe sy die deur die tweede maal toeklap nie.
“Op die aarde, ek het nog nooit so ’n klein vuurvreter soos daardie swartkop gesien nie,” sê Schalk met ’n breë glimlag nadat sy lagbui bedaar het. “Sy is so klein en betowerend, maar vol vuur en durf. Ek dink ons moet liewer loop, meneer Van Coller. Netnou vlieg die deur weer oop, en dan waai jou kop. Jy het gehoor sy raai ons Dekkers aan om ons in my oom se eendedam te gaan verdrink. Netnou sê sy jy en jou ma moet van hierdie gebou af spring en julle nekke breek.”
“Verbeel jou, na vier jaar verbreek sy ons verlowing … net so, sonder om ’n oog te knip,” mompel Herman, nog steeds verslae.
“Sy was gans te kwaad om ’n oog te knip,” help Schalk die jonger man reg. “Ek sal jou ook nie aanraai om die saak hier voor haar woonstel te staan en uitpluis waar sy jou kan hoor nie, meneer Van Coller. Kom, laat ons liewer gaan.”
Die jong miljoenêr, Lafras Zeeman, is bly toe die twee mans voor Elmarie se woonstel eindelik besluit om te loop. Sy vriend, Wynand de Jager, se huishulp het hom verseker dat die juffrou langsaan vir hom sal kan sê waar Wynand elke Saterdagmiddag perdry.
Elmarie het reeds in haar rydrag verklee en wag net dat Mark sy bekertjie melk ledig, toe die voordeurklokkie lui.
As dit weer Herman en daardie Dekker-vent is, dink sy wrewelrig, gaan ek sowaar iets onverantwoordeliks aanvang. Hulle het my siel nou lank genoeg versondig. Sy maak die deur oop en kyk stadig op, vas in die bekommerde grys oë van ’n vreemde man.
“Goeiemiddag, juffrou! Ek is Lafras Zeeman en ek is jammer om u te pla,” hoor sy die welgeklede man beleef sê. “Ek is op soek na my vriend, Wynand de Jager, en die huishulp meen u sal my kan sê waar hy gewoonlik Saterdae perdry.”
“Ek is Elmarie Keyser, meneer Zeeman. As u net ’n oomblikkie wag, kan u saam met my en my vyfjarige nefie ry; ons vertrek netnou na die ryskool waar u Wynand sal vind. Kom solank binne, ons sal nie lank versuim nie,” nooi sy vriendelik en neem die man na haar woonkamer toe.
“Ek is klaar, tannie Elrie,” sê Mark opgewonde en kom die woonkamer binne. “Wanneer kry ek ryklere? Hè, tannie Elrie?” vra hy terwyl hy haar netjiese, swart rydrag vir die soveelste keer bewonder.
“Sodra jy goed kan ry, grootman,” sê sy en verduidelik laggend aan Lafras Zeeman: “Mark wil elke Saterdagmiddag weet of dit nie al tyd is dat hy ryklere kan kry nie.”
“Ek dink jou tannie is reg,” kom dit vriendelik van die jong man. “’n Man moet darem eers goed kan ry voordat hy met rydrag begin spog.”
Elmarie neem haar motor se sleutels, dan hoor sy Lafras weer sê: “Ek dink julle twee moet liewer saam met my ry, juffrou. Los maar jou motorsleutels.”
Elmarie is aangenaam verras toe Lafras die deur van die duur, silwergrys sportmotor oophou vir haar en Mark om in te klim. Sy verduidelik aan hom hoe hy moet ry om by die ryskool uit te kom, en dan vertrek hulle sonder versuim.
Dit is vir die jong meisie baie duidelik dat Lafras die een of ander probleem het. Hy is stil en afgetrokke, en telkens verskyn daar ’n ligte frons tussen sy bruin wenkbroue. Dit tref haar egter dat sy nou self ’n probleem het, want as Mark se grootouers hier in Pretoria is, kan dit dalk moeilikheid teweegbring. Sy sal hierdie saak beslis met Wynand moet bespreek. Trouens, sy weet nie waarom sy dit nie lankal gedoen het nie.
Lafras is meteens bewus van Elmarie se stille afgetrokkenheid en vra met ’n sweem van ’n glimlag: “Mag ek vra waarom u daardie twee kêrels vroeër uit u woonstel geboender het, juffrou Keyser?”
“Dit is nie ’n geheim nie, meneer Zeeman.” Sy glimlag. “Ek was vier jaar verloof aan Herman van Coller, die kêrel van middelmatige lengte met die bruin hare. En as u my nou moet vra waarom ek aan die agterbakse vent verloof geraak het, sal ek u nie kan antwoord nie, want ek weet ook nie. Ek moes my bepaald verbeel het dat ek hom liefhet, anders verstaan ek dit glad nie. In elk geval, ek is lankal daarvan bewus dat hy en sy ma my hartlik irriteer, maar dit is nie die rede waarom ek hom en dokter Schalk Dekker uit my woonstel geboender het nie.”
Elmarie vertel hom van haar suster se afsterwe, van die brief waarin Luzaan Mark in haar sorg geplaas het, van Herman en sy ma se snobisme en hulle gekonkel agter haar rug deur die Dekkers van Mark se bestaan te verwittig. Ten slotte vertel sy hom wat die middag in haar woonstel plaasgevind het, en waarom sy Herman en Schalk weggejaag het.
“Die saak klink vir my baie ingewikkeld,” hoor sy Lafras besorg sê. “Ek dink jy moet dit sonder versuim met Wynand bespreek, want ek glo nie die wet laat toe dat ’n ongetroude meisie ’n kind aanneem nie. Maar jou geval klink vir my ietwat anders. In elk geval, Wynand sal weet wat jou te doen staan.”
“Dis waar; ek sal Wynand beslis in dié verband moet spreek, want ek weier om Mark aan die Dekkers af te staan,” sê Elmarie, nou weer duidelik opstandig.
“Dit lyk vir my die wêreld is vol probleme, want ek sit ook met ’n yslike een opgesaal,” hoor Elmarie die jong man met ’n bekommerde stem sê. “My ouers het onlangs in ’n vliegramp omgekom, en my vader se testament bepaal dat ek eers in die huwelik moet tree voordat ek my erfenis in ontvangs kan neem.”
“Wel, dit is vir jou ’n lollery,” sê sy simpatiek. “Ek hoop jy het ’n meisie of ’n verloofde met wie jy dadelik in die huwelik kan tree.”
“Dit is juis die probleem; ek het nie ’n meisie of ’n verloofde nie,” lig hy Elmarie in. “Die meisies wat ek gewoonlik uitneem, stel net in ’n man se bankrekening belang, en dit is beslis nie die soort meisie met wie ek graag sou wou trou nie. Om die waarheid te sê, ek wou my nie nou al deur ’n huwelik laat bind nie.”
“Ek hoop Wynand kan jou probleem bevredigend oplos, meneer Zeeman,” sê Elmarie. Sy kyk die man langs haar aan en vervolg met ’n sagte laggie: “As Wynand weet ons is op pad na hom, elkeen met ’n yslike probleem, sal hy seker so ver wegvlug dat geen mens hom die res van die naweek sal sien nie.”
“In daardie geval stel ek voor dat ons hom dan liewer niks van ons probleme vertel voordat hy veilig tuis is nie,” sê Lafras, nou self met ’n glimlag asof hulle twee samesweerders in ’n komplot is.
Met hulle aankoms by die ryskool, verneem Elmarie en Lafras van die ry-instrukteur dat Wynand in die rigting van die rivier gery het.
“Ek sal Wynand gaan opspoor,” kondig Elmarie aan. “Ek dink ek weet waarheen hy gery het.”
Sy wag net totdat een van die instrukteurs Mark vir sy ryles neem, toe stap sy na die perd wat die stalkneg vir haar opgesaal het en laat Lafras toe om haar in die saal te help.
“Hierdie perd is gans te groot vir jou,” sê Lafras. “Die stalkneg moes vir jou ’n ponie opgesaal het.”
“Hy het die perd bepaald vir jóú opgesaal, meneer Zeeman,” meen Elmarie. “Hier is ’n klein, skimmel merrietjie wat die stalkneg gewoonlik vir mý opsaal. In elk geval, ek ry nou. As Wynand is waar ek dink hy is, sal jy nie nodig hê om lank te wag nie.”
Met daardie woorde spoor sy die groot, bruin hings aan, en na ’n rukkie verdwyn perd en ruiter in die rigting van die rivier.
Dit neem Elmarie nie lank om Wynand op te spoor, waar hy fier en regop in die saal sit en kyk hoe die vinke in die rietbos tekere gaan nie. Dit is ’n gesig waarvan sy net so baie hou.
“Hallo! Ek het jou weke laas gesien,” begroet Wynand haar vriendelik.
Sy beantwoord sy groet, trek die perd langs syne in en vervolg: “Dis waar, ek was die afgelope paar weke baie besig. My suster is drie weke gelede in Bloemfontein oorlede. Maar daarvan vertel ek jou later, want jou vriend, Lafras Zeeman, wag vir jou by die stalle. Ek het saam met hom gery om vir hom die pad na die ryskool te wys.”
“Ek wonder waarom Lafras my so dringend wil spreek dat hy my hier by die ryskool kom opsoek,” sê Wynand meer vir homself as vir iemand in die besonder. “Sy ouers is onlangs oorlede, en hy is hulle enigste kind en bepaald ook hulle enigste erfgenaam.”
“Watse werk doen meneer Zeeman?” vra Elmarie belangstellend. “Hy ry met so ’n duur motor –”
“Wat? Werk!” val Wynand haar laggend in die rede. “Lafras, my liewe Elmarie, het nog nooit in sy lewe ’n steek werk verrig nie. Sy vader was ’n mynmagnaat, ’n multimiljoenêr, en hy is ’n stralerjakker wat in Europa boer en baie selde tuis is. Lafras en ek het saam skoolgegaan. As hy vir my by die stalle wag, sal ek seker nou moet gaan.” Hy neem sy motorsleutels uit sy sak en hou dit uit na haar. “As jy saam met Lafras gery het, sal jy met my motor moet teruggaan stad toe, meisie.”
“Dankie,” sê sy en neem die sleutels by hom. Sy kyk hom aan en vervolg met ’n glimlag: “Daar is ’n sakie waaroor ek jou graag wil spreek, Wynand – dis te sê as jy later tyd het om aan my af te staan.”
“Ons praat weer wanneer jy my sleutels terugbring,” sê Wynand. Hy salueer en ry dan op ’n stywe galop oor die veld in die rigting van die stalle.
Lafras lyk duidelik verlig toe Wynand eindelik by die stalle stilhou en by hom aansluit.
“Ek het al begin wonder of juffrou Keyser daarin geslaag het om jou op te spoor, my vriend,” begroet Lafras hom.
“O, op Elmarie kan jy altyd staatmaak; sy kom gewoonlik haar beloftes na,” glimlag Wynand en groet sy vriend met die hand.
“Dan het ek nuus vir jou, my liewe Wynand, want daar is een belofte wat juffrou Keyser nie sal kan nakom nie,” voeg Lafras sy vriend met ’n geamuseerde glimlaggie toe.
Wynand kyk die spreker vraend aan, maar Lafras sê slegs: “Ek sal jou vertel terwyl ons stad toe ry. Maar hoe kom juffrou Keyser weer by die huis? Sy het saam met my gery.”
“Ek het my motor tot haar beskikking gestel,” sê Wynand gerusstellend. “Ons kan dus maar gaan.”
Op pad stad toe vertel Lafras sy vriend van die petalje wat vroeër die middag in Elmarie se woonstel afgespeel het, en sluit af: “Haar verloofde – moontlik met sy ma se ondersteuning – was so vasbeslote om van die oulike seuntjie ontslae te raak, dat hy sy verlowing in die proses vernietig het. Maar jy moes sy gesig gesien het toe die vurige klein swartkop sy verloofring by die deur uitsmyt. Die ring het netjies voor sy voete geland, maar hy was so verward dat hy nie eens in staat was om dit op te tel nie. Die kêrel wat saam met hom was, moes die ring optel en vir hom gee.”
Wynand lyk duidelik bekommerd toe hy sê: “Elmarie sal die kind nie kan hou solank sy ongetroud is nie. Die kinderhof sal hom heel waarskynlik in sy grootouers se sorg plaas, behalwe as sy dadelik trou. En dit sal ’n jammerte wees, want sy is ’n baie ordentlike meisie. Sy sal die kind ’n goeie opvoeding gee.”
Lafras lag kortaf en sê met ’n tikkie bitterheid in sy stem: “Die lewe is inderdaad ironies. Juffrou Keyser moet in die huwelik tree om haar ontslape suster se seuntjie te behou, en ek moet eers in die huwelik tree voordat ek my erfenis in ontvangs kan neem.” Hy swyg ’n rukkie en sê dan weer: “Ek dink jy moet juffrou Keyser maar dadelik met haar tuiskoms vertel dat sy, as ’n ongetroude meisie, geen reg het op die kind nie. Miskien kan ek en sy ’n ooreenkoms aangaan.”
“’n Ooreenkoms! Watse ooreenkoms, Lafras?” Wynand kyk sy vriend vraend aan.
Lafras hou voor die woonstelgebou stil en skakel die enjin af. ’n Paar sekondes kyk hy stil voor hom uit, toe draai hy na Wynand en sê bedaard: “Ek het gewonder of ek en juffrou Keyser nie moontlik ’n huweliksooreenkoms kan aangaan nie. So ’n tydelike huwelik vir ongeveer twee maande, en ook net in naam, natuurlik. Dit sal ons albei se probleme oplos, of wat dink jy, Wynand?”
“Dis waar, as Elmarie jou voorstel goedkeur, sal dit vir julle albei ’n uitkoms wees,” stem Wynand saam. “Maar ek wil eers by Elmarie hoor of sy enige bewyse het dat haar suster die kind aan haar toevertrou het.”
“Ek verstaan sy het bewyse,” sê Lafras. “Sy het iets genoem van ’n brief, en dan was daar ook ’n ou dame teenwoordig toe haar sterwende suster die kind aan haar toevertrou het. Maar dit sal beter wees as jy haar self in dié verband spreek.”
Die twee mans klim uit die motor en stap geselsend na Wynand se woonstel, waar hulle solank ’n drankie kan geniet terwyl hulle op Elmarie se tuiskoms wag.
Mark se ryles duur net ’n uur, gevolglik kom hy en sy tante ’n halfuur ná Wynand-hulle tuis. Elmarie besluit om maar eers te verklee, voordat sy Wynand se motorsleutels aan hom terugbesorg.
Dit is toe egter nie nodig om na Wynand se woonstel te gaan nie, want sy is nog besig om haar hare te kam, toe klop hy aan haar deur.
“Ek wou nou net jou motor se sleutels aan jou terugbesorg,” begroet sy Wynand, en nooi hom en Lafras binne.
“Lafras het my vertel van die probleem wat jy met my wil bespreek,” hoor sy Wynand sê, nadat hulle al drie gaan sit het en Mark eenkant op die mat met sy motor en vliegtuig speel. “Maar voordat ons enigiets bespreek, wil ek eers die brief lees waarin jou suster haar kind aan jou toevertrou het.”
Elmarie gaan haal die brief en gee dit vir Wynand. “Terwyl jy dit lees, sal ek gou vir ons gaan tee maak,” stel sy voor en gaan sonder meer na die kombuis.
Wynand, en ook Lafras, het die brief klaar gelees toe Elmarie die dienwaentjie binnestoot en almal met tee bedien.
“Sien jy nou, my suster het Mark vir my gegee,” sê sy toe Wynand die skryfblok met die brief vir haar teruggee.
“Ja, sy het, en niemand kan dit betwis nie,” sê Wynand. “Daar is egter ’n ander aspek van die wet waarmee jy en jou suster nie rekening gehou het nie, Elmarie. Die wet laat nie toe dat ’n ongetroude meisie ’n kind aanneem nie, en dit geld ook in jou geval. Ek sal jou dus aanraai om so gou moontlik in die huwelik te tree –”
“Trou! Met wie? Ek het net vanmiddag my verlowing met Herman verbreek omdat hy nie die ruggraat van ’n pasgebore vis het nie, en nou sê jy ek moet dadelik trou!” val sy Wynand verward in die rede.
“Ek kon jou lankal gesê het dat jy net jou tyd mors met daardie Herman van Coller, maar jy sou my tog nie geglo het nie. In elk geval, ek is bly jy het hom in die pad gesteek,” hoor sy Wynand bedaard sê. “Maar alles is nog nie verlore nie. Lafras ry in dieselfde bootjie as jy; hy moet eers in die huwelik tree voordat hy kan erf. Dus bly daar net een uitweg oor. Jy en Lafras sal so gou moontlik ’n geleentheidshuwelik moet sluit. Dan kry jy die kind, en Lafras kry sy erfenis.”
“As ek jou nie vyf jaar geken het nie, Wynand, sou ek gesê het jy steek die draak met my en meneer Zeeman …”
“Ek verseker jou, Wynand steek nie met ons die draak nie, juffrou Keyser,” help Lafras haar reg. “Die voorstel was eintlik my idee, aangesien dit ons albei se probleme sal oplos. Die huwelik sal in elk geval net in naam wees, en dit hoef ook nie langer as twee maande te duur nie.”
“Wel … e … ek weet nie, ek sal eers daaroor moet dink –”
“Ek vrees jy het nie tyd om te dink nie, Elmarie,” val Wynand haar sag in die rede. “As die kind se grootouers ook hier in Pretoria is, kan jy seker wees dat hulle gekom het om hom te kom haal.”
Daar is kommer op Elmarie se gelaat en in haar stem toe sy sê: “Nou goed, ek berus my by jou besluite, Wynand. Sê maar net wat ek moet doen.”
“Wel, ek stel voor dat jy nou dadelik vir jou en Mark ’n tas met klere gaan pak en in ’n hotel gaan bly totdat jy en Lafras Dinsdag in die huwelik kan tree. Daarna kan julle ’n week of wat met vakansie gaan, terwyl ek wettiglik toestemming kry dat die kind in jou sorg mag bly. Jy moet net vir my daardie brief van jou ontslape suster gee.”
“Goed, ek maak so,” sê Elmarie, nog steeds bekommerd. “Ek hoop net ek en Mark beland nie straks in dieselfde hotel as die Dekkers nie, want dan gaan daar groot moeilikheid wees.”
Lafras begin meteens hartlik lag en sê met ’n ondeunde glimlag nadat sy lagbui bedaar het: “Ja, daar sal beslis groot moeilikheid wees wanneer jy onder die Dekkers invlieg, Elmarie. Ek het terloops gesien hoe jy daardie dokter Dekker en jou gewese verloofde vroeër uit jou woonstel verdryf het. Om jou dus uit die moeilikheid te hou, sal ek jou en Mark liewer na ’n Johannesburgse hotel neem waar jy geen gevaar loop om die Dekkers met ’n oog te sien nie.”
’n Ander gedagte tref Elmarie meteens. Sy kyk Lafras bekommerd aan en sê reguit: “Ek verstaan jou pa was ’n mynmagnaat?”
“Ja, hy was, maar dit is niks om so bekommerd oor te lyk nie,” glimlag Lafras, duidelik in ’n goeie luim noudat sy probleem byna opgelos is.
“Wel, ek hoop nie jou familie dink ek trou met jou omdat jy geld het nie,” spreek sy haar kommer uit.
Lafras lag haar net heerlik uit en vra terglustig: “Is ek dan so lelik dat my rykdom die enigste aantrekkingskrag is?”
“Ag, loop, jy weet ek het dit nie so bedoel nie …” begin Elmarie verleë.
“Nou goed, gaan pak gou vir jou en Mark ’n tas sodat ons kan ry,” spoor Lafras haar aan. “As jy jou motor se sleutels vir my gee, sal ek dit solank vir jou in die garage trek.”
Elmarie gee vir hom die sleutels, toe gaan pak sy gou die nodige vir haar en Mark in sodat hulle dadelik kan vertrek.