Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 5 - Susanna M Lingua - Страница 6
3
ОглавлениеMaandag is vir Elmarie ’n besonder bedrywige dag. Al is haar huwelik met Lafras maar net ’n klug, dring hy nogtans daarop aan dat sy vir haar ’n nuwe uitrusting koop vir die spesiale geleentheid – ’n rok, hoed, skoene, handsak en handskoene.
Hy neem haar na een van Johannesburg se voorste modewinkels, waar hy self vir haar vier aandrokke, ’n modieuse aandjas, vier strandrokke en twee dagrokke uitsoek.
Toe Elmarie beswaar maak oor sulke ongehoorde spandabelrigheid en sê dat sy nie genoeg geld het om vir al die duur rokke en ander klere te betaal nie, sê Lafras baie verbaas dat sy nie veronderstel is om vir ’n enkele kledingstuk te betaal nie. As sy vrou sal dit van haar verwag word om volgens die jongste mode geklee te wees, dus is dit sy plig om te sorg dat hulle ook in dié opsig die skyn bewaar.
Met die keuse van ringe maak Elmarie weer dadelik beswaar toe Lafras van ’n diamantring praat, en sy stel voor dat sy liewer haar ontslape moeder se verloofring dra. Dit is nou wel nie ’n diamantring nie, maar robyne sal net so goed aan die vereistes voldoen. Hulle koop elkeen dus net ’n trouring.
Daardie aand, terwyl die kinderoppasser na Mark kyk, gaan eet Elmarie saam met Lafras in ’n klub wat baie duidelik net deur die elite van Johannesburg ondersteun word. Sy maak kennis met ’n paar van sy vriende.
’n Verslaggewer sien hulle en sy kamera se lig flits meteens op haar en Lafras. Hy merk die robynring aan Elmarie se ringvinger en wil van Lafras weet of hy en die dame verloof is.
“Natuurlik is ons verloof,” sê Lafras met ’n trotse houding. “As dit jou miskien sal interesseer: ons trou môreoggend. So, nou kan jy ons asseblief met rus laat.”
Aan hierdie afjak steur die geharde koerantman hom egter nie, en Lafras is later verplig om maar die kêrel se vrae te beantwoord.
Sy vriende is almal baie verras toe hulle hoor dat hy eindelik besluit het om in die huwelik te tree, maar duidelik teleurgestel omdat dit so ’n stil troue gaan wees. Nadat Lafras aan almal verduidelik het dat ’n opspraakwekkende huwelik uiters onvanpas sal wees aangesien sy bruid drie weke tevore ’n naasbestaande aan die dood moes afgee, roer niemand weer die onderwerp aan nie.
Dit is reeds na middernag toe Lafras Elmarie tuis besorg. Hy vereffen die kinderoppasser se fooi en reël dat sy die volgende oggend weer ’n paar uur by Mark kom bly.
“Ek gaan jou nie langer uit die slaap hou nie, Elmarie, want ek kan sien jy is nie aan laat nagte gewoond nie. Jou oë dreig al om toe te val,” glimlag Lafras tergerig. “Ek wil net vir jou dankie sê vir die aangename aand en vir jou morele ondersteuning. Ek dink alles het vlot verloop. Dit het nie vir my gelyk of een van my vriende aan die egtheid van ons verhouding twyfel nie.”
“Hulle het nie. Ek dink jou rede vir ons stil troue was nogal oortuigend, Lafras. En die feit dat jou verlowing en voorgenome huwelik in môreoggend se koerant aangekondig word, behoort die skok vir jou familie en sakevriende te versag wanneer hulle môremiddag die trouberig in die koerant sien.”
Lafras knik, glimlag tevrede en wens Elmarie ’n rustige nag toe.
Elmarie se kop het skaars die kussing geraak, toe is sy vas aan die slaap.
Die volgende oggend is sy betyds wakker en gereed toe Lafras en Wynand haar kom oplaai vir die huwelik wat tienuur in die landdros se kantoor voltrek sal word.
Elmarie lyk net so pragtig soos wat ’n bruid behoort te lyk, al voel sy nie soos een nie. Haar hele uitrusting is wit, selfs die breërandhoed wat haar deftig en baie vroulik laat lyk. Haar blink, swart hare is volgens die nuutste mode gekam. Selfs Wynand kan nie help om saggies te fluit nie en sê ernstig: “Jy was nog altyd vir my ’n uitsonderlik mooi meisie, Elmarie, maar vandag is jy inderdaad betowerend. As ek nie reeds verloof was nie, sou ek jou sekerlik vir myself ingepalm het.”
“Dankie vir jou mooi kompliment, Wynand,” sê sy glimlaggend, “al lyk ek maar nog soos altyd – behalwe dat ek ’n hoed dra en my hare in ’n ander styl gekam is.”
“A, dan is dit die nuwe haarstyl wat jou so anders laat lyk,” sê Wynand met ’n vergenoegde glimlaggie. “In elk geval, ek dink ons moet liewer nou gaan, anders is julle laat vir julle eie troue, en jou familie-prokureur wag seker ook al voor die landdroskantoor.”
Die lang, skraal bruidegom lyk self deftig en aantreklik in die swart pak klere, wit hemp, netjiese das en swart skoene. Sy bruin hare is netjies gekam, en sy grys oë gly met welgevalle oor Elmarie se bekoorlike gestaltetjie.
Die huwelikseremonie is kort en saaklik … Net so onpersoonlik soos ons huwelik, dink Elmarie. Wynand en die Zeemans se prokureur is die enigste getuies.
Buite die landdroskantoor wag ’n paar koerantmanne hulle in, en die egpaar word half verblind deur die flitsende ligte van hulle kameras.
Lafras, wat al gewoond is aan verslaggewers en fotograwe, stoot hulle half uit die pad. Hy plaas sy arm beskermend om Elmarie se skouertjies en lei haar versigtig tussen die koerantmense deur.
“Ek het met ’n fotograaf gereël om ’n paar foto’s van julle te neem,” sê Wynand nadat Lafras met sy prokureur, meneer Pentz, afgespreek het om hulle gas te wees vir die noenmaal in die hotel waar Elmarie op die oomblik inwoon.
Die fotograaf neem gelukkig nie lank om die foto’s te neem nie en hulle daag darem betyds by die hotel op, waar meneer Pentz reeds in Elmarie se privaat sitkamer op hulle wag.
Terwyl Elmarie in ’n modieuse liggroen rok verklee, verduidelik Lafras Mark se teenwoordigheid in Elmarie se woonstel aan die middeljarige regsgeleerde. Hy sê egter net dat Elmarie se weduwee-suster drie weke gelede oorlede is en dat sy Elmarie gevra het om Mark in haar sorg te neem.
Elmarie se voorkoms is onverbeterlik toe sy eindelik by Lafras-hulle aansluit. Haar gesig is liggies gegrimeer en die wit hoëhaksandale lyk nie net deftig nie, maar laat haar ook heelwat langer vertoon.
Almal kyk die bruid met welgevalle aan toe sy haar verskyning in die woonkamer maak. Lafras tree dadelik na vore en bied haar ’n stoel aan. Hy bestel sjampanje en stel die kelner in kennis dat hulle maar die noenmaal kan voorsit.
“Ek stel voor dat ons eers op my bruid se gesondheid drink,” sê Lafras met ’n gemoedelike glimlaggie. “Ek is seker almal sal met my saamstem dat sy die mooiste bruid van die jaar is.”
“Ek dink jy kyk deur ’n rooskleurige bril na my, Lafras,” sê Elmarie met ’n verleë laggie. Sy weet hy sê hierdie dinge maar net om meneer Pentz om die bos te lei, maar dit laat haar nogtans skaam kry.
Die drie mans is egter bewus van haar verleentheid. Voordat Lafras weer iets kan sê, klop die drankkelner aan. Nog ’n kelner maak sy verskyning met twee opvoutafels, en ’n ander kelner stoot ’n dientafeltjie binne. Die tafels word oopgevou, langs mekaar geplaas en gedek. Dan word ’n keurige ete aan hulle voorgesit. Meneer Pentz stel ’n kort heildronk op die egpaar in, en die feesmaal neem ’n aanvang.
Dit is byna tweeuur toe die egpaar van die hotel af vertrek, onderweg na Durban waar Wynand vir hulle ’n stel kamers en ’n kinderoppasser vir Mark in ’n luukse hotel bespreek het.
“Dit is salig om te kan ontspan en weer myself te wees, sonder om te vrees dat meneer Pentz, of moontlik ’n verslaggewer, in die nabyheid mag wees,” sê Elmarie met ’n sug van verligting en trek Mark liefdevol in die kring van haar arm. “Word jy altyd so deur verslaggewers lastig geval, Lafras?”
“Nee, darem nie altyd nie; net wanneer ek iets ongewoons aanvang soos vandag,” sê Lafras met ’n glimlag en ’n aangename gevoel van rustigheid. Hy het nog nooit so rustig en ontspanne in ’n meisie se geselskap gevoel soos in Elmarie s’n nie.
“Ek is so bly dat ek in die werkende klas val en nie in julle miljoenêrsklas nie, Lafras,” sê Elmarie met merkbare tevredenheid. “Ek sal nooit by julle uitgelesenes se lewe kan inpas nie. Ek het nog altyd van ’n stil en eenvoudige lewe gehou, waar ’n mens by ’n verslaggewer verbystap sonder dat hy jou eens opmerk.”
“Ek is jammer, meisie, ek het nie besef dat jy die afgelope twee dae so veeleisend gevind het nie,” sê Lafras verskonend. “Maar van nou af kan jy ontspan. Ons gaan nie in die Zeemans se strandhuis bly nie, ons gaan in ’n hotel bly. Wynand is die enigste persoon wat weet waar ons die volgende tien dae sal wees.”
Elmarie sit meteens regop en sê diep bekommerd: “Liewe land, ek het totaal vergeet om my werkgewer oor hierdie … e … nuwe wending van sake in te lig, Lafras. Ek sal hom dadelik met ons aankoms by die hotel moet skakel en intussen hoop dat hy my nie summier uit sy diens ontslaan nie.”
“Ek glo nie dit is nodig dat jy jou in dié verband kwel nie,” hoor sy Lafras gerusstellend sê. “Wynand het gisteroggend al met jou werkgewer gereël dat jy sy diens onmiddellik mag verlaat, en Wynand sal sorg dat jy oor twee maande weer net so ’n pos bekom.”
“Waarom eers oor twee maande, Lafras?” vra Elmarie half verward. “Ons gaan mos net tien dae in Durban vertoef!”
“Dis waar, maar ons huwelik gaan twee maande duur, en jy kan onmoontlik gaan werk terwyl jy met ’n multimiljoenêr getroud is, Elmarie. Sodra Wynand stappe begin doen om ons huwelik te laat ontbind, is jy weer vry om te maak soos jy wil. Voordat dit gebeur, sal ek verkies dat jy en Mark iewers gaan bly wat baie ver van Johannesburg af is.”
“Ek verstaan glad nie wat jy bedoel nie, Lafras. Waarom moet ek en Mark twee maande op ’n afgeleë plek gaan bly?”
“Omdat jy en Mark, wat my mense betref, saam met my in Europa sal wees. Na twee maande keer jy dan terug, en Wynand begin stappe doen om ons huwelik te laat ontbind. As jy en Mark die twee maande by vriende gaan bly, moet jy maar vir hulle sê dat ek onverwags vir sake na Europa ontbied is. Sorg net dat Wynand altyd weet wat jou adres en telefoonnommer is. En as enige probleem opduik, moet jy dadelik met hom in verbinding tree. Intussen moet jy jou oor niks bekommer nie. Ek en Wynand sal sorg dat alles glad verloop.”
“Wel, ek moet sê jy het alles baie netjies beplan, Lafras. Maar wat van my woonstel?”
“Wynand sal die huur namens jou opsê, en dadelik vir jou ’n ander een huur waarheen jou meubels en losgoed geneem kan word,” verduidelik Lafras, asof al hierdie omwentelinge sommer niks is nie – dinge is wat hy sommer speel-speel voor ontbyt afhandel. Elmarie hoor hom voorts sê: “Ons sal alles breedvoerig bespreek sodra ons terug is in Pretoria.”
Sondag, toe die drie Dekkers hulle opwagting by Elmarie se woonstel maak en vind dat niemand tuis is nie, is al drie diep teleurgestel. Die twee oumense wil sommer die volgende dag teruggaan plaas toe en Mark deur die hof opeis.
Schalk, wat Elmarie se beeld nie uit sy gedagtes kon kry nie en weet dat hy haar weer moet sien, stel egter voor dat hy hulle eers terugneem na die hotel en dan navraag kom doen oor haar skielike vertrek en wanneer sy weer tuis sal wees.
Later die middag hoor Schalk by Wynand dat Elmarie oor twaalf dae vir ’n dag of wat tuis sal wees. Dit is ’n lang tyd vir ’n boer en ’n besige veearts om so ledig te wees, maar hy sal enigiets doen om die oulike swartkop weer te sien en, as dit moontlik is, om haar beter te leer ken.
Die twee oumense besluit om maar in Pretoria te vertoef totdat Elmarie en Mark weer tuis is. Nadat Schalk hulle vertel het dat klein Mark die ewebeeld is van hulle seun, Markus, kan hulle nie wag om die kind te sien en hom saam met hulle plaas toe te neem nie. Tant Hester hoop net Elmarie gaan nie weer moeilik wees wanneer sy hoor dat hulle Mark kom haal het nie. Hulle kan Mark in elk geval baie meer aanbied as sy, wat ’n werkende meisie is.
Die drie Dekkers verwyl die tyd deur Pretoria se besienswaardighede te besigtig. Schalk se gedagtes bly knaend by die pragtige Elmarie … so klein en fyn, maar ook so dapper en moedig.
Dit is egter vir hulle ’n groot skok toe die plaaslike koerant Dinsdagmiddag die huwelik van mejuffrou Elmarie Keyser van Pretoria en die jong multimiljoenêr Lafras Zeeman van Johannesburg aankondig.
“Ek verstaan dit glad nie!” roep oubaas Carl Dekker verbyster uit toe Schalk vir hulle Elmarie se huweliksfoto wys en die beskrywing hardop lees. “Waar kom sy so gou aan hierdie man? Sy het dan maar drie dae gelede haar verlowing met die Van Coller-kêrel verbreek!”
“Ja, ek kan dit ook nie verstaan nie,” laat tant Hester diep teleurgestel hoor, want sy weet dat hulle nou geen aanspraak meer het op hulle kleinseun nie.
“Die Zeeman-vent is bepaald lankal verlief op haar, daarom dat hy so gerieflik byderhand was toe sy haar verlowing beëindig het,” meen Schalk, self bitter teleurgesteld omdat Elmarie so gou en onverwags in die huwelik getree het, voordat hy haar beter kon leer ken – want vanaf die oomblik wat sy oog op haar geval het, het hy geweet dat sy vir hom meer beteken as enige ander vrou op aarde.
“Ek dink jy is reg, Schalk,” sê tant Hester terwyl sy die foto met ernstige waarneming betrag. “Elmarie is so mooi, dit is geen wonder dat die Zeeman-kêrel byderhand was en dadelik met haar getrou het nie.”
“Ja, mooi en vol vuur, tant Hester. Ek was van plan om haar vir myself aan te keer, en nou het die Zeeman-vent my sowaar voorgespring.”
“Dit sou vir ons almal beter gewees het as jý met die meisie getrou het, Schalk,” sê oom Carl grimmig van teleurstelling. “Nou sal ons ons kleinseun natuurlik net kan sien wanneer dit sy tante pas, en die hemel alleen weet wanneer dít sal wees.”
“Waarom nooi oom Carl en tant Hester hulle nie om ’n rukkie op Spitskop te kom kuier nie?” doen Schalk aan die hand en voeg terglustig daaraan toe: “Miskien kan ek die skone Elmarie van haar multimiljoenêr-man afvry.”
“As sy met hom vir sy miljoene getrou het, kan jy maar van haar vergeet, ou seun,” sê die oubaas, nog steeds bitter teleurgestel.
“So, en wie sê vir oom Carl ek is nie ook ’n miljoenêr nie? Afgesien van my praktyk as veearts, boer ek met stoetdiere –”
“Dit is juis waarom jy nooit ’n miljoenêr sal word nie, Schalk, omdat jy sulke astronomiese bedrae aan ingevoerde stoetdiere bestee,” val die oubaas hom ongeërg in die rede.
Schalk is dadelik op die verdediging en dit is nie lank nie of die twee mans stry ewe gemoedelik oor die teling van stoetdiere – Elmarie se huwelik tydelik heeltemal vergete.
Dit is tant Hester wat die twee mans laat terugkeer na die gesprek wat aanvanklik gevoer is, toe sy vererg sê: “Ek wens julle twee wil hierdie ontydige gestry oor julle verskillende metodes van boer nou dadelik staak en my liewer vertel wat ons te doen staan noudat Elmarie so skielik getroud is. Of moet ek maar geduldig wag totdat julle twee dit goed vind –”
“Dit is glad nie nodig om so prikkelbaar te wees nie, vrou,” help die oubaas haar gemoedelik reg. “Ons het mos Sondagaand besluit om hier in Pretoria te bly totdat Elmarie oor tien dae terugkeer, en dit is presies wat ons gaan doen. Jy wil tog seker nie huis toe gaan sonder om eens jou kleinseun te sien nie, wil jy?”
“Nee, natuurlik nie! Jy weet hoe ongeduldig ek al is om die kind te sien, Carl,” sê tant Hester met ’n ligte frons en kom terselfdertyd orent. “Ek gaan maar ’n bietjie rus voordat die klok vir aandete lui.”
Vir Herman van Coller en sy ma is dit nog ’n groter skok toe hulle Dinsdagmiddag Elmarie se huweliksfoto op die koerant se voorblad sien pryk.
“Sien jy nou, Herman, sy het jou al die tyd vir die gek gehou,” sê Matilda woedend. “Terwyl sy aan jou verloof was, het sy al die tyd agteraf met daardie miljoenêr geflankeer …”
“Nee, wag, Ma kan Elmarie nie van dinge beskuldig wat Ma nie kan bewys nie,” keer Herman sy moeder se lasterlike aantygings. “Elmarie sou nie ons verlowing verbreek het as ek bereid was om haar suster se kind in ons huis te neem nie. Dit is my eie skuld dat ons nie meer saam is nie.”
“Nou goed, dit is ons albei se skuld dat sy julle verlowing gebreek het. Maar waar pas die miljoenêr in die prentjie? Elmarie moes hom tog voor hulle troue baie goed geken het. ’n Mens trou mos nie met iemand wat jy nie baie goed ken nie! En voor haar troue, my liewe Herman, was Elmarie aan jou verloof – vier jaar lank,” sê Matilda met ’n betekenisvolle stem.
“Wat help dit tog om oor Elmarie en haar man te spekuleer, Ma? Sy is met die man getroud en vir altyd buite my bereik. Dit maak my net diep seer wanneer ek dink dat sy my bruid kon gewees het, as ek haar nie so maklik deur my vingers laat glip het nie.”
“Dit was die kind wat tussen julle gestaan het, Herman,” probeer sy moeder hom troos. “En jy moenie vergeet nie, die kind het meer vir haar beteken as jy en jou liefde.”
“Elmarie sou nooit ons verhouding verbreek het as ek nie die Dekkers van die kind vertel het nie,” spreek Herman sy ongelukkige gedagtes hardop uit terwyl hy na die koerantfoto staar. “Sy het my daarvan beskuldig dat ek agterbaks is, en sy het gelyk gehad. Ek het beslis agterbaks opgetree deur die Dekkers sonder haar wete van Mark te vertel. Ek besef nou eers dat ek ’n groot fout begaan het toe ek teen Mark se teenwoordigheid beswaar gemaak het.”
Dit begin al donker word toe Lafras voor die luukse hotel op Durban se strand stilhou. Elmarie voel so uitgeput van die afgelope twee dae se bedrywighede en daarna die reis van Johannesburg af, dat die hotel haar nie eens beïndruk nie. Sy wens sy en Mark was alleen sodat hulle dadelik kan bad en gaan slaap.
’n Vriendelike portier neem hulle bagasie na die stel kamers wat Wynand vir hulle bespreek het en wat uit ’n sitkamer, twee slaapkamers en ’n badkamer bestaan.
“Ek hoop jy laat my toe om self vir my en Mark se verblyf hier in die hotel te betaal, Lafras,” sê Elmarie toe hulle drie oplaas alleen in die sitkamer is.
Die jong man nooi haar om te sit en neem ook plaas. Hy kyk haar met ’n geamuseerde glimlaggie aan en sê gemoedelik: “Jy is tog seker nie ernstig nie, Elmarie. Ek is skatryk, en jy is ’n meisie wat vir ’n salaris werk en jou sente sal moet tel noudat jy die kind het om voor te sorg.”
“O, ek gee nie om nie, Lafras. Ek is gewoond aan werk,” sê sy met ’n moeë glimlaggie.
Lafras skud net sy kop en sê beslis: “Dit is my voorreg om vir hierdie vakansietjie te betaal, wat veronderstel is om ons wittebroodsdae te wees, ou meisietjie. Sê liewer vir my of jy aandete in die hotel se eetkamer wil nuttig, of hier in ons eie sitkamer?”
“Ek voel regtig te moeg om nou uit te pak en vir aandete te verklee, Lafras. Ek verkies om vanaand liewer hier in ons sitkamer te eet. Maar dit staan jou natuurlik vry om na die eetkamer te gaan …”
“As jy moeg is, eet ons al drie vanaand hier in die sitkamer,” stel hy Elmarie bedaard in kennis. “Ek wil baie graag hierdie vakansie saam met jou en Mark geniet, Elmarie, daarom gaan ons alles saam doen. Ek wil Mark se vurige tante ook baie graag beter leer ken.”
“Waarom sê jy ek is ’n vurige swartkop, Lafras?” Sy kyk hom met ’n vraende blik aan en leun moeg agteroor in die sagte leunstoel, met Mark half aan die slaap op haar skoot.
Lafras kyk haar aan en sê met ’n breë glimlag: “Het jy vergeet ek was ’n toeskouer toe jy jou gewese verloofde en sy vriend uit jou woonstel gejaag en daarna sy verloofring voor sy voete neergegooi het? Wat ek egter die meeste geniet het, was jou voorstel dat die klomp Dekkers hulle almal in die oubaas se eendedam moet gaan verdrink.”
“Dis waar, ’n mens sê baie onverantwoordelike dinge wanneer jy kwaad is,” glimlag Elmarie. “Tog wens ek geen mens op aarde kwaad toe nie – nie eens daardie lamsak aan wie ek verloof was nie.”
Lafras reël dat aandete in hulle privaat sitkamer bedien word.
Na ete bad Elmarie vir Mark en trek sy slaapklere aan. Hulle is albei doodmoeg en Elmarie klim nadat sy gebad het in die bed en raak byna dadelik aan die slaap.
Die volgende oggend is dit heerlik sonnig. ’n Kinderoppasser neem Mark vir ontbyt na die kinders se eetkamer en daarna gaan speel sy met hom op die strand. Elmarie en Lafras gaan baljaar net na ontbyt tussen die golwe, totdat albei later uitgeput langs Mark op die warm seesand gaan ontspan.
Mark is egter so druk besig met die bou van ’n sandkasteel, waarmee sy oppasser hom help, dat hy hom nie eens aan sy oom en tante steur nie. Toe Lafras ’n kartonhouertjie met vrugtesap voor sy gesig hou, is die sandkasteel terstond vergete. Ook Elmarie en die oppasser kry elk ’n kartonhouertjie met vrugtesap.
“Jou vel is so wit en sag, Elmarie, ek hoop jy het iets gebruik wat jou teen sonbrand kan beskerm,” hoor sy Lafras besorg langs haar sê.
“Ek het,” sê sy, “maar ek kon nie my rug behoorlik smeer nie. Ek het die bottel room vir die oppasser gegee om Mark ook te smeer.”
Elmarie ledig die kartonhouertjie en wou net opstaan om dit in die vullisbak te gooi, toe sy Lafras bedaard hoor sê: “Lê stil, ek wil room aan jou rug smeer.”
Elmarie kyk hom sydelings aan met ’n glimlag. “Dankie, jy is baie hulpvaardig, Lafras. Sodra jy my rug gesmeer het, sal ek jóú rug smeer.”
Lafras smeer ook die agterkant van Elmarie se bene, toe gee hy die bottel room vir haar en sê met ’n betekenisvolle glimlaggie: “Ek sal jou nie aanraai om my rug te smeer nie, Elmarie. Ek is maar net ’n man, en jy is ’n baie mooi en aanloklike nooi.”
Elmarie is opvallend verleë en bloos liggies toe sy die bottel room by hom neem. Sy besef nou eers dat sy nie veel kennis het van die teenoorgestelde geslag nie, en is innerlik bly dat Lafras ’n eerlike en ordentlike man is wat nie van sy status as haar wettige man misbruik sal maak nie.
Hulle lê daar op die strand in die son totdat dit haas tyd is vir middagete, en keer dan terug na die hotel.
Die dae gaan vir Elmarie gans te vinnig verby. Bedags speel hulle sorgeloos en uitgelate tussen die golwe, en lê daarna in die son om droog te word. Soms gaan stap hulle ver ente langs die strand en wanneer Mark moeg word, dra Lafras hom gewoonlik op sy sterk skouers. Ander tye help hulle Mark om ’n groot sandkasteel te bou, en saans, terwyl die oppasser na Mark kyk, besoek hulle die een of ander nagklub en soms ’n bioskoop waar ’n goeie rolprent vertoon word. Hulle doen alles saam.
Lafras, wat daaraan gewoond is dat dames net in duur vermaak belangstel en dat hy hulle boonop met duur geskenke moet oorlaai, is heimlik verbaas omdat die pragtige Elmarie met so min tevrede is. Selfs ’n diamantring wat vir haar as ’n belegging kon dien, het sy van die hand gewys en verkies om haar ontslape moeder se robynring te dra. Hy het nog nooit voorheen ’n meisie soos sy geken nie.
Die laaste dag van hulle verblyf in Durban besluit Lafras om vir Elmarie en Mark die stad te gaan wys en sommer ook vir elkeen ’n geskenk of wat te koop as aandenking aan hulle sogenaamde wittebroodsdae. Mark kry ’n driewiel en ’n elektriese trein. Toe Lafras vir Elmarie ’n fabelagtige diamantring wil koop, maak sy dadelik beswaar en wys hom daarop dat haar geskenk aan hom maar net twee goue mansjetknope is. Hy kan liewer vir haar ’n silwerhangertjie of iets koop wat nie duur is nie.
“Jou geskenk is vir my baie waardevol, Elmarie, omdat jy die eerste meisie is wat nog ooit vir my ’n geskenk gegee het en omdat dit van so ’n edele meisie af kom,” sê Lafras baie sag en teer. Daarna koop hy tog vir haar ’n goue halssnoer, bypassende oorkrabbetjies en ’n armband.
Met hulle tuiskoms gaan sit al drie op die woonkamer se vloer, sodat Lafras vir Elmarie en Mark kan wys hoe om die trein en sy spore aanmekaar te sit en hoe die trein beheer moet word. Hy ontbied die kinderoppasser om by Mark te bly, terwyl hy en Elmarie ’n laaste keer gaan swem en luilekker in die son lê en droog word.
Na aandete pak Elmarie weer haar en Mark se klere in.
Die volgende oggend keer hulle terug na Pretoria.
“Ek het jou nog nie bedank omdat jy dit vir my moontlik gemaak het om volle beheer oor my erfenis te kry, en ook vir die aangename vakansie in Durban nie, Elmarie,” sê Lafras toe hulle die stad binnery. “Ek wil graag nou vir jou dankie sê …”
“Dit is nie nodig om my te bedank nie, Lafras,” keer Elmarie dadelik. “Ek het nog nooit voorheen in so ’n luukse hotel gebly nie, en wat die ander saak betref, is ons kiets. Jy het gehelp dat ek my ontslape suster se seuntjie mag behou, dus is ek jou net soveel dank verskuldig. Ek hoop Wynand het alles in verband met die kind afgehandel.”
“Hy het,” hoor sy Lafras sê. “Ek het Wynand gisteroggend baie vroeg gebel om te hoor of alles afgehandel is. Klein Mark is in sy oom en tante, meneer en mevrou Zeeman, se sorg geplaas, en niemand kan hom nou meer van jou af wegneem nie. Maar wat ek eintlik wou sê, is dat ek vanmiddag teruggaan Johannesburg toe, waar ek twee dae sal vertoef. Daarna vertrek ek na Europa. Wynand het reeds vir my plek op die vliegtuig bespreek.”
Met hulle tuiskoms nooi Elmarie vir Lafras om eers saam met hulle tee te drink voordat hy na Johannesburg toe vertrek.
“Sal dit nie vir jou probleme skep wanneer jy vanmiddag alleen in Johannesburg aankom nie, Lafras?” vra sy besorg terwyl hulle in haar woonstel tee en koekies geniet.
“Ek glo nie. Aan almal wat wil weet, sal ek sê my vrou is na die siekbed van ’n familielid ontbied en dat ek oor twee dae by haar aansluit. Later sal ek my prokureur van Europa af bel om te sê my vrou en ek het besluit om ons wittebroodsdae in Europa voort te sit,” verduidelik Lafras. Hy ledig sy teekoppie, kyk na sy polshorlosie en kom dadelik orent.
“Ek hoop alles verloop baie goed vir jou, Lafras,” sê Elmarie terwyl sy ook van die stoel af opstaan. “Ek sal van my kant af alles doen om sake vir jou te vergemaklik.”
“Dankie, Elmarie, en onthou om altyd met Wynand in aanraking te bly totdat ons huwelik ontbind is. Nou sal jy my moet verskoon. Dit word laat en ek moet gaan.” Hy kyk haar ’n paar oomblikke stil aan en vervolg dan met ’n glimlag: “Ons het die afgelope twaalf dae sulke goeie vriende geword dat ek jou gerus met ’n soen kan groet.”
Met hierdie woorde buk hy af, neem Elmarie se gesig tussen sy hande en soen haar twee maal vlugtig op die mond. Toe tel hy Mark in sy arms op en groet hom met ’n ligte soentjie op die voorkop. “Jy moet mooi kyk na jou tannie Elrie, ou grootman. Van haar soort is daar baie min,” sê Lafras en sit Mark weet op sy voete neer. Met ’n laaste: “Alles van die beste, Elmarie,” verlaat hy die woonstel, en weldra is hy op pad na Johannesburg.
Na die heerlike vakansie saam met Lafras in Durban, voel die woonstel vir Elmarie ’n bietjie stil en eensaam. Sy besluit om maar eers ’n ligte aandete vir haar en Mark voor te berei, en dan die volgende oggend te begin inpak om na die ander woonstel te verhuis.
Elmarie en Mark is nog besig om aandete te nuttig, toe die telefoon begin lui … Dit is bepaald Wynand wat bel om hulle tuis te verwelkom, dink Elmarie toe sy opstaan om die oproep te beantwoord.
Dit is egter nie Wynand nie, maar Schalk Dekker wat praat, en sy het sommer lus en sit die spreekbuis net daar in sy oor neer. Toe hoor sy hom sê, asof hy haar gedagtes kon lees: “Ek sal jou nie aanraai om nou al af te lui nie, Elmarie …”
“Ek kan nie onthou dat ek u toestemming gegee het om my so familiêr aan te spreek nie, dokter Dekker,” sê sy met ’n onpersoonlike stem.
“Ek het nie jou toestemming daarvoor nodig nie, meisie. Jou nefie, Mark, se pa was my neef, en dit maak jou en my familie. Waarom ek eintlik gebel het, is om te hoor of Mark se grootouers hom môreoggend mag besoek. Die twee oumense moes al tuis gewees het, maar hulle het uitsluitlik in Pretoria vertoef met die hoop om Mark darem een keer te sien.”
Etlike sekondes verstryk voordat Elmarie koel sê: “Nou goed, sorg dat julle drieuur môremiddag by my woonstel is. Ek het ’n brief van my ontslape suster wat julle moet lees, sodat julle kan sien wat jou neef, die twee oumense se wonderlike seun, aan haar gedoen het. En nou moet jy my asseblief verskoon. Tot siens, dokter Dekker!”
Sy plaas die handstuk terug voordat Schalk nog iets kan sê, en wonder of sy van haar wysie af is om die Dekkers toegang tot haar woonstel te gee. Elmarie is nog besig om oor haar onbesonne optrede na te dink toe die telefoon weer lui. Dit is weer Schalk, en sy voel hoe ergernis oor die man se vermetelheid vinnig in haar oplaai.
“Wat wil jy nóú weer hê, dokter Dekker?” vra sy met openlike misnoeë.
“Ek wil graag ernstig met jou gesels oor Mark se vader …”
“Ek wil dit nie hoor nie, dankie,” maak sy hom kortaf stil. “Hy het my arme suster skandelik behandel, haar aan haar lot oorgelaat om self die mas op te kom. Wel, sy het, al moes sy en Mark van die hand na die tand lewe. Gelukkig het Mark vandag niks nodig van die ellendeling wat veronderstel is om sy pa te wees nie. My suster het in haar armoede baie goed voorsorg gemaak vir Mark se toekoms. So, moet dit nooit waag om met jou verderflike neef by my en Mark aangesit te kom nie, want ek sal hom op die plek verongeluk.”
“My neef, Markus, is oorlede.”
“My suster ook,” antwoord sy ongevoelig.
“Jy verstaan nie, Elmarie. My neef het in ’n motorongeluk omgekom, ’n paar uur nadat hy jou suster in Johannesburg gegroet het …”
“Bedoel jy op pad na sy ouerhuis, nadat hy die jaar as huisdokter in Johannesburg se hospitaal voltooi het?” wil Elmarie geskok weet.
“Dis reg,” hoor sy Schalk sê. “Die ongeluk het anderkant Kroonstad plaasgevind. Een van die buitebande het glo gebars terwyl hy teen ’n baie hoë snelheid gery het. ’n Paar plaasarbeiders het hom gelukkig uit die motor gehaal voordat die voertuig aan die brand geslaan het, maar hy was reeds dood. Die oumense het geweet dat hy verlief was op ’n meisie, maar hulle het nie geweet wat die meisie se naam is en waar sy woon nie; dus kon hulle haar nie van Markus se dood in kennis stel nie.”
“Ek … ek is baie jammer om dit te hoor, dokter,” stamel Elmarie verward, haar ergernis finaal geblus. “Ek wens net my suster het dit ook geweet. Dit sou vir haar oneindig baie beteken het, die wete dat Markus haar nie opsetlik in die steek gelaat het nie. Ek sal môremiddag vir julle haar laaste brief aan my gee om te lees, dan sal jy begryp wat ek bedoel.”
Hulle gesels nog ’n rukkie oor Markus en Luzaan se verhouding, en groet dan tot die volgende middag.
Elmarie wou net weer begin eet, toe die telefoon weer lui … Wie op aarde sou dit nóú wees? wonder sy met ’n gesteurde frons toe sy weer van die tafel af opstaan om die oproep te beantwoord.
Dit is Wynand, en Elmarie se frons neem dadelik die wyk. “Ek het ’n afspraak en kan nie lank gesels nie, Elmarie,” hoor sy hom sê. “Ek bel net om vir jou te laat weet dat Lafras vanmiddag, voordat hy Johannesburg toe vertrek het, vir jou voorsorg getref het sodat jy ’n jaar lank nie hoef te werk nie.”
“Wynand, jy moes hom nie toegelaat het om dit te doen nie. Ek kan dit bekostig om twee maande sonder werk te wees,” maak sy haastig beswaar teen Lafras se vrygewigheid.
“My liewe Elmarie, het jy vergeet dat dit slegs aan jou te danke is dat Lafras vandag ’n multimiljoenêr is? Wel, hý het dit nie vergeet nie en hy dink die wêreld van jou. Hy sê jy is die eerste meisie wat hom nog ooit gekeer het wanneer hy ’n paar duisend rand aan haar wou bestee, en jy is ook die enigste meisie wat al vir hóm ’n geskenk gegee het.”
“Ag, dit is niks,” onderbreek sy Wynand verleë. “Lafras het gister besluit om vir my en Mark elkeen ’n geskenk te koop, dus het ek gevoel ek moes vir hom ook ’n geskenkie gee. Wat die ander sake betref … Nou ja, ek moes hom keer toe hy vir my ’n baie duur diamantring wou koop.”
“Lafras het jou bankrekening met ’n reusebedrag gekrediteer,” sê Wynand, “en hy het ook jou nuwe woonstel se huurgeld twee maande vooruit betaal.”
Elmarie is vir ’n oomblik sprakeloos, maar dan kry sy die woorde met moeite uit: “Lafras moes nooit so iets gedoen het nie. Hy was my niks verskuldig nie, want dit is uitsluitlik aan hom te danke dat die hof Mark in my sorg geplaas het.”
“Wel, Lafras meen dat jy hom ’n groter guns bewys het, Elmarie. Nou wil ek jou aanraai om vir die volgende twee maande op ’n ver en stil plekkie te gaan vakansie hou. En as jy Lafras ’n guns wil bewys, sal jy daardie geld gebruik.”
“Nou goed, ek sal dan maar so maak, Wynand,” stem sy eindelik in. “Maar ek het ’n brokkie nuus wat ek graag aan jou wil meedeel.” Sy vertel hom van haar en Schalk se telefoniese gesprek en dat Markus oorlede is.
“Ja, dit is tragies, maar sulke dinge gebeur nogal dikwels,” sê Wynand. “In elk geval, ons praat weer later.”
Hulle groet en Elmarie kan eindelik rustig verder eet.
Terwyl Elmarie later skottelgoed was, ry Herman van Coller voor die woonstelgebou verby en sien dat daar lig in haar woonstel brand. Hy voel opnuut bitter onthuts toe hy aan haar skielike huwelik met die vreemde man dink.
Met sy tuiskoms besluit Herman om Elmarie te skakel. Daar is ’n paar dinge wat hy dadelik moet weet. Hy voel hoe warm en vinnig sy hart klop toe hy haar stem in die gehoorbuis hoor sê: “Hallo! Mevrou Zeeman hier!”
“Dis Herman hier, en jy kan die mevrou Zeeman-storie maar laat staan wanneer jy met mý praat, Elmarie,” hoor sy Herman onomwonde sê.
“Ek verstaan glad nie wat jy bedoel nie, en ek het ook nie lus om raaisels te ontrafel nie, Herman. So, kom asseblief tot ’n punt en sê wat jy op die hart het, of anders sit ek die gehoorstuk neer,” waarsku sy duidelik vererg.
“Dis nie nodig om so gou op jou perdjie te klim nie, Elmarie. Ek wil maar net weet wat agter jou haastige huwelik skuil.”
Elmarie vererg haar nog meer vir Herman se vermetelheid, en sê met ’n kil stem: “Wat presies het my huwelik met jóú te doen, Herman? En wie dink jy miskien is jy om jou neus in my en Lafras se sake te steek?”
“O, ek vra maar net, want ek het jou nooit voorheen van Lafras Zeeman hoor praat nie, en ek glo ook nie hy het onder jou vriende getel nie. Ek aanvaar dus nie jou huwelik nie, en ek glo nog steeds dat die seun by sy grootouers hoort …”
“Ek het nie jou mening oor my huwelik of oor Mark se welsyn gevra nie,” maak Elmarie hom met openlike misnoeë stil.
“Jy sê nóú so, maar as jou suster geweet het dat die kind se grootouers in hom belangstel, sou sy hom dalk nog self vir hulle gegee het.”
“As my suster na jou en jou ma geaard het, sou sy dit moontlik gedoen het, maar gelukkig beskik ons Keysers oor ander beginsels, en sal ons nooit daarvan droom om ons verantwoordelikheid op ander af te skuif nie,” sê sy minagtend. “Net selfsugtige swakkelinge sal hulle plig en verantwoordelikheid op ander afskuif …”
“Nee, wag nou, Elmarie,” keer Herman versigtig. “Met so ’n gekyf sal ons niks bereik nie. Ek wil hê jy moet goed nadink oor jou onbesonne huwelik …”
“Verskoon my, maar my huwelik is glad nie onbesonne nie. Ek sal jou aanraai om jou woorde te tel en jou neus in die vervolg uit my en my man se sake te hou, anders gaan jy jou groot moeilikheid op die hals haal. En moet my asseblief nie weer bel nie, want jou oproepe is oorbodig en absoluut onwelkom. Tot siens!” Sy plak die gehoorstuk so hard neer dat Mark verbaas opkyk.