Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 5 - Susanna M Lingua - Страница 7

4

Оглавление

Dit is byna agtuur toe Elmarie Vrydagoggend ontwaak. Sy weet dit is tyd om op te staan, want sy moet vandag begin inpak om na die ander woonstel te verhuis, en dan kom Mark se grootouers ook nog vanmiddag kuier. Dit is so lekker om sommer net te lê en dink aan die aangename vakansie wat hulle in Durban deurgebring het, en die feit dat sy twee maande lank nie hoef te werk nie – altans, ’n jaar nie hoef te werk nie.

Sy stoot haar bene stadig van die bed af en trek haar kamerjas en pantoffels saggies aan om Mark nie wakker te maak nie.

Na ontbyt begin sy dadelik om haar en Mark se klere in te pak; daarna gaan haal sy kartondose by die naaste supermark, en begin dan in aller yl om die breekware in die kombuis in te pak. Hulle middagete bestaan uit gebraaide hoender, aartappelskyfies en slaai wat sy van ’n restaurant af bestel het.

Soos gewoonlik gaan Mark na ete ’n uur of wat slaap. Elmarie het die skottelgoed gewas en wou net die inpakkery voortsit, toe die deurklokkie lui. Dit val haar meteens by dat die Dekkers gevra het om Mark vanmiddag te besoek.

Sy kyk vlugtig in die spieël wat aan die woonkamer se muur hang en druk haar hare met haar hande reg. Haar swart langbroek en rooi bloese lyk nog netjies, dus voel sy gereed om die mense te ontvang – al is daar nie ’n tikkie grimering aan haar gesig nie.

Sy maak die voordeur oop, herken Schalk dadelik en nooi hulle binne. Die jong man stel sy oom en tante aan Elmarie voor, en sy nooi hulle om te sit.

“Ek vrees Mark slaap op die oomblik,” stel sy die gaste bedaard in kennis. “Hy gaan slaap gewoonlik na middagete, en ek dink dit is glad nie gesond om ’n kind se roetine te verander nie. As u baie gretig is om hom te sien, staan dit u vry om na sy kamer te gaan.”

Sy neem hulle na die balkonkamer waar Mark heerlik op sy rug lê en slaap soos ’n blonde krulkop-engeltjie met sy pienk wange en sagte rooi lippe. Sy grootouers staan lank na hom en kyk, dan val hulle oë op die twee foto’s wat op Mark se spieëltafel pryk. Hulle neem die twee foto’s en kyk lank na hulle ontslape seun en na die mooi meisie vir wie hy so vreeslik lief was.

Hulle plaas die twee foto’s terug op die spieëltafel en keer dan terug na die woonkamer. Dit is die oubaas wat eerste praat toe hy bewoë sê: “Ek verstaan jou ontslape suster, Luzaan, het in groot armoede verkeer na Mark se geboorte, maar wat ek nie verstaan nie, is waarom jy haar nie bygestaan het nie, mevrou Zeeman. Ek verstaan dat jy ’n baie goeie salaris verdien.”

“Ek vrees ek het nie eens geweet dat Luzaan ’n kind verwag het nie, meneer Dekker. Ek dink julle sal beter verstaan as julle haar laaste brief aan my lees,” sê Elmarie en gaan haal die brief wat Luzaan voor haar dood geskryf het.

Sy keer na ’n paar oomblikke terug en hou die brief na die ou man uit terwyl sy sê: “Ek sal solank gaan tee maak terwyl u almal die brief lees.”

Al drie die Dekkers is vreemd stil toe Elmarie die dientafeltjie na die woonkamer toe stoot en hulle met tee en melktert bedien.

“Ek kan nie verstaan hoe dit moontlik is dat u op so ’n jeugdige leeftyd na ’n jonger suster kon kyk nie, mevrou Zeeman,” hoor sy die ou man sê.

“O, ’n getroude niggie van my moeder was veronderstel om na ons om te sien. Toe sy egter hoor dat haar dogter in Natal ’n baba verwag, het sy ons sommer net so gelos en haar na haar dogter gehaas. Daarna het ek ’n enkelwoonstel gehuur en self vir Luzaan gesorg totdat sy matriek geslaag het,” vertel Elmarie. “Ek moet u ook verseker dat as my ouers nie met ons opvoeding so ’n goeie grondslag gelê het nie, Luzaan baie maklik kon handuit geruk het, want sy was heelwat groter as ek.”

“Volgens jou suster se brief het sy baie vertroue in u as voog vir haar seun, mevrou Zeeman,” sê die ou man weer. “Maar dink u regtig u is opgewasse vir so ’n groot taak?”

Elmarie se mooi, bruin oë begin dadelik smeul van verontwaardiging. Sy probeer haar gramskap inhou, maar slaag net daarin om effens uitdagend te sê: “Verskoon my, meneer, ek wil nie onbeleef wees nie, maar ek het u toestemming gegee om Mark te besoek en nie om my onder kruisverhoor te neem nie. As die kinderhof vertroue het in my bekwaamheid, wie is u om dit te betwyfel?”

“O, ek het nie bedoel om beledigend te wees nie, mevrou Zeeman,” maak die ou man dadelik verskoning. “Ek het ook nie geweet dat die hof die seun in u sorg geplaas het nie –”

“Mark is nie net in my sorg geplaas nie,” help sy die oubaas bedaard reg, “my man en ek het hom wettiglik aangeneem as ons eie kind. Ons sal later aansoek doen om sy van te laat verander.”

Die volgende oomblik kom Mark met slaapbenewelde oë uit sy kamer gestap en klim sonder meer op sy tannie Elrie se skoot. Hy lê met sy blonde krulkoppie vertroulik teen haar bors en kyk die besoekers onbelangstellend aan.

“Kom sit hier op Oupa se skoot, grootman!” nooi sy oupa. Mark skud net sy kop en druk hom stywer teen Elmarie aan.

“Klein Mark is die ewebeeld van ons ontslape seun, Markus,” hoor Elmarie die ou dame met ’n hartseerstem sê. “Maar sy blondheid kom seker van sy moeder af.”

“Ja, mevrou,” sê Elmarie en druk Mark liefdevol teen haar vas. “My suster was blond … lank, skraal en baie mooi.”

Sy skink melk uit die melkbekertjie in ’n koppie en gee dit vir Mark om te drink. Hy ledig die koppie, leun terug teen Elmarie se bors en sê half uitdagend aan sy oupa: “Ek ry tog perd, en tannie Elrie gaan vir my ryklere koop wat net soos hare lyk.”

“Is dit so? Kan jy baie goed ry?” vra die ou man verbaas.

Mark skud sy krulkoppie en sê afgetrokke: “Ek kan amper goed ry, maar nog nie baie goed nie.”

“Ek laat Mark rylesse neem,” sê Elmarie met ’n onderdrukte glimlaggie. “Ek het ook belowe om vir hom netjiese ryklere en ’n ponie te koop sodra hy goed kan ry. Sy ry-instrukteur het my verseker dat hy baie goed vorder.”

“Jy moet vir Oupa en Ouma op die plaas kom kuier, grootman. Daar is baie perde wat jy kan ry,” gesels die ou man met sy kleinseun. Toe wend hy hom weer na Elmarie. “Julle kan gerus vir ons op die plaas kom kuier, mevrou Zeeman.”

“O, ons sal seker eendag besoek op Spitskop gaan aflê, wanneer dit vir my man geleë is, meneer,” verseker Elmarie hom. “Ek sal vir julle laat weet wanneer dit vir ons geleë is.”

Daar is ’n ligte frons op Schalk se voorkop terwyl hy na Elmarie se mooi stem sit en luister. Hy besef al hoe meer dat haar getroude status hom glad nie aanstaan nie. Sy moes nooit met die Lafras-kêrel getrou het nie. Hy kan dit glad nie verdra dat sy na hom as haar man verwys nie. Toe sy Herman van Coller in die pad gesteek het, het hy gehoop dat hy ’n kans by haar sou staan. Hy was ook vasbeslote om die vurige swartkop se liefde te wen, maar toe hy weer hoor, is sy klaar met die miljoenêr getroud en het hulle reeds vir hulle wittebrood vertrek.

“Dit is nie nodig om te wag totdat dit vir jou man geleë is nie, Elmarie,” hoor sy Schalk sê. “Jy kan my net skakel, dan kom haal ek jou en Mark.”

“Dankie, maar dit sal nie nodig wees dat jy ons kom haal nie, dokter Dekker. Ek het nog altyd met my eie motor gery waar ek wil wees. Skryf maar net julle telefoonnommer vir my neer. Ek sal julle skakel wanneer dit vir ons geleë is om julle te besoek. Meer as dit kan ek julle nie belowe nie.”

Later die middag gaan maak Elmarie weer vir almal koffie, terwyl Mark die spore van sy elektriese trein in die woonkamer op die mat aanmekaarsit en vir die drie Dekkers vertel dat oom Lafras vir hom die trein en ’n driewiel gekoop het.

“Waar is u man dat ons hom nog nie met ’n oog gesien het nie, mevrou Zeeman?” wil die ou dame weet toe hulle later koffie en beskuit geniet.

“Hy moes vanoggend dringend Johannesburg toe gaan vir sake, mevrou Dekker,” sê Elmarie bedaard. “Ek is besig om al die losgoed in te pak, sodat die woonstel môre ontruim kan word.”

“U moet asseblief verskoon dat ek reguit praat, mevrou Zeeman,” hoor sy die oubaas ietwat ongemaklik sê. “Daar is ’n sakie waaroor ek graag duidelikheid wil hê voordat ons môreoggend huis toe gaan. U sien, ons het gehoor dat u man ’n losbol is wat die meeste van die tyd by Europa se vakansieoorde en vermaaklikheidsplekke boer, en ek sal nie graag wil sien dat my kleinseun in sy oom se voetspore volg nie.”

“Meneer, u praat nou van dinge wat voor my skoonouers se afsterwe plaasgevind het. My man kan dit nie meer bekostig om die wêreld deur te reis nie, want hy moet nou die leisels by sy pa oorneem. En nog ’n ding. Mark is my susterskind en ek is verantwoordelik vir sy opvoeding. Ek gaan u egter nie belowe dat hy eendag siek mense gaan behandel soos julle ontslape seun en dokter Dekker nie …”

“Verskoon my, ek behandel nie mense nie,” help Schalk haar vriendelik reg. “Ek is ’n veearts.”

“In elk geval, wat ek eintlik wou sê, is dat Mark sy eie loopbaan sal kies sonder om deur enigiemand beïnvloed te word. Ek sal hom leer om ’n verantwoordelike persoon te wees, wat sy eie besluite kan neem,” verseker Elmarie die twee oumense.

Die Dekkers maak vyfuur weer aanstaltes om te vertrek. Met die belofte dat die Zeemans hulle die een of ander tyd sal besoek, groet en vertrek die drie gaste.

“Ek sien al ongeduldig uit na ’n besoek van jou, my meisie,” fluister Schalk in Elmarie se oor voordat hy haar woonstel verlaat en in die rigting van die hysbak verdwyn.

Elmarie ruk haar op en wil hom nog met ’n skerp blik verpletter, maar hy is reeds buite sig en sy kan slegs onderlangs mompel oor die vermetelheid van mansmense wat geen maniere het nie. Toe wonder sy meteens wat hy in die skild voer. Sy glo nie dit gaan oor ’n persoonlike gevoel nie, sy sou eerder sê hy is nie bereid om die stryd gewonne te gee en hom te vereenselwig met die gedagte dat Mark aan haar behoort nie.

Elmarie pak die leë koffiekoppies op die dientafeltjie om dit na die kombuis te neem, toe sy die telefoon hoor lui … Dit is bepaald Wynand wat gesien het toe die Dekkers haar woonstel verlaat het, flits dit deur haar gedagtes.

Sy beantwoord die oproep – dit is toe nie Wynand wat praat nie, maar Lafras.

“Ek het flussies telefonies met Wynand gepraat. Hy sê die drie Dekkers kuier al die hele middag by jou?” hoor sy Lafras effens besorg vra.

“Ja, hulle het ’n paar minute gelede gery,” lig sy hom in.

“Jy moenie hulle toelaat om jou lewe te versuur nie, Elmarie.”

“Wees verseker hulle sal dit nooit met my regkry nie, Lafras. Ek het die oubaas een keer baie goed op sy plek gesit, en daarna het hy in sy pasoppens gebly. Hy het ons selfs genooi om vir hulle op die plaas te gaan kuier. Die uitnodiging sluit jou natuurlik in, maar ek het aan hom verduidelik dat jy ’n baie besige man is. Terloops, hulle vertrek môreoggend.”

“Ek vrees die oumense se uitnodiging pas nie in by ons planne vir die volgende twee maande nie,” hoor sy Lafras effens bekommerd sê. “Ek het nie nou tyd om dit breedvoerig te bespreek nie, maar ek sal vanaand vir jou skryf en die brief môre vir Wynand op die lughawe gee.”

“Ek verstaan,” sê sy. “Voorspoedige reis vir jou.”

Hulle groet, want albei het baie werk wat vanaand nog afgehandel moet word.

Elmarie is doodmoeg toe sy lank na middernag in die bed klim.

Toe die wekker die volgende oggend lui, is sy dadelik wakker.

’n Besige dag lê vir haar voor, want vandag moet sy na die nuwe woonstel verhuis. Dit is ook die dag van Lafras se vertrek na Europa.

Elmarie en haar deeltydse huishulp het reeds die woonstel in ’n mate leefbaar gemaak toe Wynand sy opwagting maak om Lafras se brief af te lewer.

“Het Lafras se sake toe darem glad en voorspoedig verloop?” vra Elmarie toe sy die jong regsgeleerde na die woonkamer toe neem en hom nooi om te sit.

“O, ja, alles het glad verloop,” glimlag Wynand. “Sy vliegtuig het betyds vertrek, en daar was nie ’n enkele verslaggewer of fotograaf op die lughawe wat kon sien dat hy alleen vertrek het nie. Ek voel glad nie tevrede met Lafras se reëlings vir jou vir die volgende twee maande nie. Ek het die saak met hom bespreek, en ons het vir jou nuwe reëlings getref vir die volgende twee maande. Trouens, ons het besluit dat jy liewer nie by vriende moet gaan kuier nie. Ek weet nie of ons julle egskeiding uit die pers sal kan hou nie, en jou vriende sal dadelik weet dat jy vir hulle gelieg het deur te sê dat jou man vir sake Europa toe moes gaan terwyl die koerante dit straks uitbasuin dat jy alleen van Europa af teruggekeer het. Verstaan jy?”

“Ja, ek verstaan,” sê Elmarie met ’n geamuseerde glimlag. “Dit tref my nou eers dat Lafras en ek glad nie oortuigende leuenaars is nie.”

“Dis waar, julle kan glad nie goed lieg nie,” glimlag Wynand saam. Hy neem ’n brief uit sy sak en gee dit vir Elmarie. “Lafras het gevra dat ek dié brief vir jou moet gee. Lees dit maar eers, dan sal jy weet wat jou te doen staan.”

Sy skeur die koevert oop, vou die geskrewe vel oop en lees:

Beste Elmarie

Ek weet nie of ons mekaar ooit weer sal sien nie. Indien nie, wil ek weer vir jou dankie sê vir die aangename vakansietjie in Durban – ’n kort tydjie in my lewe wat ek seker moeilik sal vergeet. Jy is so ’n aangename, rustige mensie. Ek voorspel dat jy die regte man baie gelukkig sal maak.

Ek wil graag met jou praat oor jou bewegings die volgende twee maande. Wynand dink dit is hoegenaamd nie ’n goeie plan dat jy by vriende gaan bly nie.

Hy het die nadele aan my genoem en ek vrees hy het gelyk. Ons het dus saam oor die saak nagedink, en tot die gevolgtrekking gekom dat dit veiliger sal wees as jy liewer nie naby mense kom wat jou ken, of jou moontlik sal herken as die bruid wat hulle onlangs in die koerante gesien het nie.

Ek verwag natuurlik nie dat jy twee maande lank soos ’n kluisenaar moet lewe nie. Wynand dink dit sal veiliger wees as jy en Mark in sy strandhuis kan bly, tot tyd en wyl jy na jou eie woonstel kan terugkeer. Wynand sal die res aan jou verduidelik.

Ek wens jou alle voorspoed toe vir die toekoms, en weer eens dankie vir jou vriendelike samewerking.

Groete

Lafras

Elmarie steek die brief terug in die koevert en sê afgetrokke: “Ek verstaan Mark en ek moet voorlopig in jou strandhuis gaan bly. Waar is die plek, Wynand?”

“Langs die Natalse suidkus in ’n klein dorpie genaamd Port Shepstone. Die huis is langs die strand, en ek vrees baie moeilik om te vind as jy nie weet waar om van die hoofweg af te draai nie. Ek sal vir jou ’n padkaart gee, en ook presies verduidelik waar jy van die hoofweg moet afdraai,” hoor sy Wynand sê. “Ek sal jou ook aanraai om maar so gou moontlik te vertrek. Moet asseblief net nie nou al op ’n man gaan staan en verlief raak nie, want dit sal onnodige komplikasies veroorsaak.”

“Wat laat jou nou aan so ’n onsinnigheid dink, Wynand?” vra sy ietwat van stryk gebring. “Het jy vergeet dat ek nog steeds wettiglik getroud is met Lafras? Ons huwelik mag ’n klug wees tussen my en Lafras, maar dit is geen klug wat die gereg betref nie.”

“Nee, ek het nie vergeet dat jy en Lafras wettiglik getroud is nie,” sê hy ernstig. “Ek het maar net gehoop jy vergeet dit ook nie solank julle huwelik nog nie finaal ontbind is nie. Ek het ook aan die mans gedink. Jy is ’n bekoorlike skepseltjie, en die mans sal jou nie met rus laat nie.”

“Toe maar, jong, hierdie duur trouring aan my vinger behoort al die verliefde mans te ontmoedig,” glimlag Elmarie ongeërg, asof ’n verliefde man iemand is wat sy sonder moeite op sy plek kan sit.

“Ek vrees al die mans steur hulle nie aan ’n trouring nie,” help Wynand haar reg. “Jy moet Mark maar altyd aan jou sy hou. Miskien dink hulle hy is jou seun.”

“H’m, jy praat asof ek ’n wêreldskoonheid is, Wynand,” lag Elmarie hom saggies uit. “Ek weet ek lyk nie onaardig nie, maar ek is ook nie ’n skoonheid nie. Dus is daar niks van die teenoorgestelde geslag te vrees nie. Hulle sal my met rus laat, moenie bekommerd wees nie.”

“Nou goed, wanneer kan jy vertrek?”

Elmarie dink ’n rukkie na en sê: “Ek sal môre ons tasse pak, dan kan ons oormôre vertrek. Is daar darem iemand wat die huis vir my leefbaar kan maak?”

“O ja, Katrien en Kleinbooi woon op die erf en hou die plek vir my in stand. Ek sal hulle môreoggend baie vroeg van julle koms in kennis stel, sodat hulle dadelik kan inspring en die huis vir julle in gereedheid kan bring. Ek sal hulle ook aansê om ’n ogie oor julle twee te hou.”

Hulle gesels oor Lafras wat die volgende oggend in Europa sal wees, en na ’n rukkie maak Wynand aanstaltes om te gaan.

Elmarie voel moeg, styf en stram toe sy byna vieruur die middag voor Wynand se strandhuis stilhou en uitklim. Katrien en Kleinbooi is dadelik by. Hulle groet die twee moeë reisigers beleef en neem die bagasie na binne.

Terwyl Katrien later die aandete berei, stap Elmarie en Mark af strand toe. Sy is egter nie verbaas toe sy sien dat Kleinbooi hulle op ’n kort afstand volg nie. Wynand het haar verseker dat hy en Katrien baie betroubaar is en dat hulle ’n wakende oog oor haar en Mark sal hou. Die wete dat sy en Mark nie heeltemal alleen is nie, laat haar veilig en gerus voel.

Elmarie neem met genoegdoening op ’n plat rots plaas en tuur ver oor die blou, rustelose water. Sy voel hoe ’n aangename rustigheid oor haar toesak, en hoe die ergste moegheid uit haar gestel wegsypel.

’n Halfuur later gee Katrien hulle van die voorstoep af die teken dat die aandete gereed is, en moet hulle sonder versuim teruggaan huis toe.

Daardie aand lê Elmarie lank in die bed na die geruis en geklots van die branders en luister. Dit herinner haar aan haar sogenaamde wittebroodsdae, en dan dwaal haar gedagtes weer na Lafras en sy onuitputbare liefde vir die pret en plesier wat Europa se duur vermaaklikheidsplekke bied. Later wonder sy weer wat sy die volgende twee maande met haarself gaan aanvang. Sy is nie aan so ’n ledige bestaan gewoond nie, en nou moet sy ook nog in afsondering lewe.

Byna vier weke lank voer Elmarie en Mark ’n kluisenaarslewe langs die stand – ’n lewe wat net uit eet, slaap, swem en lees bestaan.

Elmarie staan voor haar kamervenster na die spieëlgladde blou oseaan en kyk, en sy voel hoe ’n rusteloosheid in haar begin roer.

As haar bewegings nog vier weke lank beperk moet wees tussen die huis en die strand, gaan sy sowaar van skone frustrasie iets oorkom, dink sy met ’n onvergenoegde frons tussen haar mooi swart wenkbroue. Net vanaand gaan sy Wynand skakel en hom vertel dat sy nie langer kans sien vir so ’n kluisenaarsbestaan nie. Hy kan gerus aan iets anders dink, aan ’n ander plek waar daar meer beweegruimte is vir haar en Mark.

Toe Elmarie hom daardie aand bel, staan Wynand egter onverbiddelik by sy besluit dat sy en Mark in die strandhuis moet bly – en niks wat sy sê, maak enige indruk nie.

“Ek vrees jy sal die eensaamheid maar nog vier weke moet verduur,” sê Wynand met onverbloemde erns. “Jy durf Lafras nie nou in die steek laat, na alles wat hy vir jou en Mark gedoen het nie. Jy moet ook baie goed verstaan dat as daar slegs die geringste twyfel in verband met julle huwelik bestaan, die Dekkers hulle kleinseun baie maklik met die hulp van ’n goeie prokureur sal –”

“Toe maar, ek verstaan,” val sy hom neerslagtig in die rede. “Maar die joos alleen weet wat ek die volgende vier weke met myself gaan aanvang.”

“Bind ’n doek om jou kop sodat niemand die kleur van jou hare kan sien nie en sit ’n sonbril op, dan kan jy met die kus langs ry en selfs ook ’n veldfliek bywoon,” stel Wynand voor.

“Nee dankie,” sê sy kortaf. “Ek sien meer as genoeg films op jou televisiestel. Ek het trouens nog nooit so baie tyd voor die televisie deurgebring soos nou nie. Is hier dan nie eens ’n plek waar ’n mens kan gaan perdry, en waar Mark sy rylesse kan voortsit nie?”

“O, maar daar is so ’n plek. Vra Kleinbooi of Katrien om jou na die plaas toe te neem. Onthou net, jy is mevrou Keyser en moenie die kopdoek en die sonbril vergeet nie. Dit sal jou darem in ’n mate vermom, sodat mense jou nie so maklik herken nie,” herinner Wynand haar baie ernstig.

Na hierdie gesprek voel Elmarie ’n bietjie beter, want nou sal sy en Mark darem kan perdry. As alles goed gaan, sal Mark oor vier weke taamlik goed kan ry.

Die volgende vier weke loop alles vir Elmarie en Mark voor die wind noudat hulle bewegings nie meer so streng aan bande gelê word nie. Elmarie het al ’n paar keer gesweer om nooit weer in enige komplot betrokke te raak nie, want van ’n kluisenaarsbestaan het sy genoeg gehad vir ’n leeftyd.

Twee dae voordat sy en Mark huis toe moet vertrek, bel sy Wynand weer om te hoor of hulle maar vir ’n paar dae Kaap toe mag gaan.

“Nee, kragtie, jy kan nie nou gaan rondrits nie!” keer Wynand half vererg. “Ek moet die egskeiding môre aanhangig maak, en ek sal jou aanraai om liewer vanmiddag se vliegtuig na Johannesburg te haal. Daar is baie dinge wat ek met jou moet bespreek. So, pak net vir julle slaapklere in. Katrien kan later julle klere inpak, sodat Kleinbooi dit môre saam met jou motor Pretoria toe kan bring. Gee net vir hom geld vir brandstof, en sê vir hom ek wil met hom praat.”

Drie uur later sit Elmarie en Mark in die reusevliegtuig wat op die punt staan om na Johannesburg te vertrek. Vir Mark is dit die wonderlikste ervaring om die wêreld vanuit die vliegtuig te aanskou. Toe ’n verdwaalde wolkie onder die vliegtuig verbyseil, is hy skoon verstom oor die wolk se sagte, wollerige voorkoms en omdat dit so verbasend naby aan hom is. Sy weet dat dit Mark lank gaan neem om uitgepraat te raak oor al die wonderlike dinge wat hy vanuit die vliegtuig gesien het.

Hulle arriveer sesuur die middag in Johannesburg. Elmarie het net besluit om ’n taxi te ontbied, want dit lyk nie vir haar asof iemand hulle by die lughawe kom ontmoet het nie, toe sy Wynand haastig na hulle aangestap sien kom.

“Wag, moenie nou dadelik die gebou verlaat nie,” begroet hy haar met ’n sagte stem en neem die tassie uit haar hand. “Ek het ’n paar verslaggewers voor die gebou opgemerk, maar dit het vir my gelyk asof hulle op die punt staan om te vertrek. Ek wil nie hê hulle moet jou sien nie, Elmarie. Dit gaan net ongemaklike vrae uitlok, want volgens my verslag het jy reeds sesuur vanoggend van Europa af hier aangekom.”

Elmarie kyk Wynand verbaas aan, maar kry dit tog reg om kalm te vra: “In verband met ons egskeiding, wie dagvaar nou eintlik vir wie en op watter gronde?”

“Toe maar, moenie jou pragtige koppie daaroor breek nie,” stel Wynand haar dadelik gerus. “Jy dagvaar Lafras vir huisverlating.”

“Huisverlating! Maar ons het nog nooit ’n huis saam bewoon wat hy kon verlaat nie …” begin sy openlik verbaas.

“Maar natuurlik het julle in Europa saam in ’n woonstel gebly,” help hy haar ongeërg reg.

Elmarie kyk hom ’n oomblik lank sprakeloos en verward aan, toe begin sy meteens sag en onbedaarlik lag.

“Verskoon my dat ek gelag het, Wynand,” maak sy dadelik verskoning toe haar lagbui bedaar. “Maar regtig, ek het nog nooit voorheen iemand so oortuigend en met so ’n vroom gesig sien lieg nie. Moenie bekommerd wees nie, ek sal onthou en doen wat jy sê – jy is immers die regsgeleerde.”

Hulle staan nog ’n rukkie en gesels, voordat Wynand gaan kyk of die drie verslaggewers al vertrek het. Toe hy terugkom en vertel dat daar nou geen teken meer van hulle is nie, kan hulle vertrek.

Elmarie is bly en opvallend verlig toe sy en Mark eindelik weer tuis is. Wynand vertoef nog etlike minute om haar oor ’n paar puntjies in verband met die skeisaak in te lig, toe groet hy en vertrek.

Susanna M Lingua Gunstelinge 5

Подняться наверх