Читать книгу Christo Wiese - TJ Strydom - Страница 4

1.

Оглавление

Bagasie

“As ’n man so ’n boek skryf, ’n biografie, dan moet hy die waarheid vertel. En as ek die volle waarheid vertel, sal ek ’n klomp mense in die verleentheid stel, insluitende myself.”

Christo Wiese in ’n aanvanklike telefoongesprek oor hierdie boek, 2018

Slumdog Millionaire se temaliedjie pomp elke nou en dan oor die radio.

“Jai Ho! … Catch me, catch me, catch me, c’mon catch me,” sing Nicole Scherzinger en die Pussycat Dolls op ’n koel oggend in Londen. Die liedjie is al drie weke onder Brittanje se toptien.

Die kwik gaan vandag nie hoër as 11 grade Celsius styg nie. Dis bewolk en dit lyk nogal of dit gaan reën.

Christo Wiese is op pad lughawe toe. Dit neem minder as ’n uur van die Ritz Hotel tot by die terminus. London City Airport is ’n gunsteling onder sakereisigers. Baie nader aan die stad as Heathrow of Gatwick en met ’n vinniger prosedure by die vertrektoonbank.

Wiese wil vroeg Luxemburg toe vlieg en sommer dieselfde dag nog terugkom. Dis ’n Maandag in April en hy was die naweek by ’n troue in Rusland. Sy vlug Moskou toe is só bespreek dat hy die vorige Woensdag nog eers sy kruisie in Kaapstad kon trek voordat hy vertrek het.

“Ek het geen rede om te glo Jacob Zuma gaan ’n swakker job doen as enigiemand anders nie,” het die Sondagkoerant Rapport hom gister aangehaal.1

Ongeag vir wie Wiese gestem het, Zuma en die ANC het 11,6 miljoen kiesers se steun gekry en die algemene verkiesing met ’n stewige meerderheid gewen. Ander sakelui is bekommerd oor die nuwe man wat na die Uniegebou op pad is, maar Wiese is die ewige optimis.

“Wat’s die moontlike voordeel daarin om negatief te wees? Ek weet ons land het probleme. Alle lande het, en jy’s tog beter toegerus om die uitdagings en probleme te hanteer waar jy bly en die terrein ken.”

Vandag betree hy onbekende terrein.

’n Doeanebeampte deursoek Wiese se handbagasie en kry ’n klomp banknote – altesame £120 000 (destyds meer as R1,5 miljoen) in gebruikte £50- en £20-note. Die beampte vra hom uit oor dié bonanza.2

Dit kom uit ’n kluis in die Ritz Hotel, maar tot einde verlede jaar was dit in ’n kluis by UBS-bank hier in Londen, vertel hy. Op ’n vorm wat ’n beampte hom in die hand stop vul hy sommer vinnig in dat hy die geld saamdra om dit iewers veilig te gaan bewaar.

Wiese gee die beampte die nommer van die persoon om te bel by UBS-bank. Hy gee ook sy boekhouers se nommer.

’n Rukkie later deursoek die personeel Wiese se ingeboekte bagasie en kry nog ’n spul note, party erg gehawend, wat sommer met rekkies in bondels gebind is. Hulle skat dit op tussen £400 000 en £500 000. Dit is eintlik £554 920 (nog sowat R7 miljoen).

Nou hoekom het hy nie die klomp geld op daardie vorm verklaar wat hy nou net ingevul het nie?

Nee, hy dog hulle vra net oor die geld in sy handbagasie.

Wiese verduidelik dat hy ’n gereelde besoeker aan die Verenigde Koninkryk is. Hy vertel dat Pepkor 4 000 winkels het wat ’n verskeidenheid goedere verkoop. Die geld wat hulle hier in sy tasse sien, kom van Suid-Afrika en is verdien uit verskeie diamanttransaksies in die 1980’s en 1990’s. Die geld is as reisigerstjeks die land uitgeneem en in die buiteland gewissel en die opbrengs is toe gebêre, sê hy. Die geld is óf Brittanje óf Switserland toe gebring weens Suid-Afrika se valutabeheerreëls.

Hy is nou juis op pad Luxemburg toe om die geld daar te laat belê of self ’n rekening oop te maak.

Nou hoekom hou hy die geld dan al die tyd in ’n kluis en nie in ’n bank nie?

Hy wil nie ouditspore agterlaat nie, want voorheen het Suid-Afrika jou nie toegelaat om geld in die buiteland te hou nie. Deur dit in kluise te hou is daar geen papierroete nie, verduidelik hy.

Wiese is deurgaans hoflik en gee sy samewerking. Hy kan gaan. Maar sy geld bly in Brittanje. Die owerhede doen aansoek dat hy dit aan Haar Majesteit verbeur.3 Vir hulle lyk dit of die tasse vol note deel van ’n geldwassery is.

Christo Wiese

Подняться наверх