Читать книгу Christo Wiese - TJ Strydom - Страница 6

3.

Оглавление

Van kaalvoetseun tot studenteleier

“Daar is diegene wat droom van die dag waarop hulle hul ideale verwesenlik sal sien, dat hulle sal bereik waarna hulle gestreef, geswoeg en gearbei het. So help ons Vader hulle om moed te hou deur die donkerste nag, want hulle weet dan dat hulle arbei en aanhou en volhou vir ’n ideaal, ’n droom.”

Christo Wiese in ’n skoolopstel, 1958

As kind het Christoffel Hendrik Wiese gesê hy wil ’n “magistraat” word.1 Dis ’n groot taak, want die streek Gordonia, waar hy sy kinderdae deurbring, is die grootste landdrosdistrik in Suid-Afrika.

Upington, waar hy op laerskool en sy eerste jare van hoërskool was, is ’n plek van uiterstes.

Die land se langste rivier loop deur die dorp, die lughawe het die langste burgerlike aanloopbaan ter wêreld en temperature styg in die somer maklik tot bo 40 grade Celsius.

Dis ’n “mooi, maar harde deel van die wêreld” waar Wiese geleer het die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie en dat ’n mens soms maar net daarmee moet aangaan.2

En op so ’n warm plek is kaal voete beter as sokkies en skoene.

“Nie omdat ek nie skoene gehad het nie, maar omdat dit lekker is om daar kaalvoet te loop.”3

Wiese se pa, Stoffel, was die eienaar van ’n motorhawe en ook ’n Kalahari-boer. Die kombinasie was tipies van Upington in daardie dae, sê Wiese.4 By sy pa het hy geleer dat jy nooit iets van jou eie winkelrak vat sonder om dit op te skryf nie. Ook dat jy mense van alle range, agtergronde en rasse dieselfde moet behandel. “Hy het met almal oor die weg gekom.”5

Sy ma, Kotie, het ook later haar eie onderneming op die dorp bedryf – ’n bloemiste- en bruidswinkel. Haar lewensles vir hom was dat hy hom nie moet ophou met dinge waaraan hy niks kan verander nie en eerder moet fokus op die dinge waaraan hy wel iets kan doen.

Daar was vir Wiese altyd ’n gevoel van betrokkenheid by besigheid.

En ’n belangstelling in die politiek. Wiese sê hy kom uit ’n “Bloedsap”-familie.

In dié stadium was daar in Afrikaner-geledere al dekades lank ’n stryd tussen die Natte (die Nasionale Party) en die Sappe. Die Sappe is die politieke nasate van Jan Smuts, wat in die Suid-Afrikaanse Party, en later die Verenigde Party sterk gevoel het oor samewerking tussen Engels- en Afrikaanssprekende wittes.

Upington was al die jare ’n Sap-kiesafdeling. Tot 1948, toe die Natte daar gewen het en toe nie weer verloor het nie, vertel Wiese.6

Die Natte is JBM Hertzog, en later DF Malan, se volgelinge, wat eerder ’n “tweestroombeleid” wou volg om die Afrikaanse kultuur teen verengelsing te beskerm en Afrikaners uit armoede op te hef. In 1948 se algemene verkiesing wen hulle onverwags die meeste setels, onder meer te danke aan oorweldigende steun onder Afrikaners vir ’n beleidsrigting met die naam apartheid, wat later wêreldwyd ’n skelwoord vir segregasie en rassediskriminasie sou word.

Teen dié tyd het Wiese nog maar net leer lees en skryf.

“Ek het ’n wonderlike grootwordtyd gehad. Aan vandag se maatstawwe gemeet was ons nie ryk mense nie, maar in ons omgewing was ons gegoede mense omdat my pa elke jaar of twee ’n nuwe motor gehad het,” sê Wiese.7

In ’n skoolopstel verwys hy later na sy ouerhuis as ’n plek waar hy “vrede, rus en geluk kan aantref” en voeg oor Stoffel en Kotie by: “Vir hulle liefde, leiding en tug is ek innig dankbaar.”

In standerd 9 (vandag se graad 11) stuur hulle hom na die Hoër Jongenskool (Boishaai) in die Paarl vir sy laaste twee jaar van hoërskool. Hy is nie die armste leerling in die skool nie – hy het ’n fiets én ’n kamera.8

Die láát 1950’s is droë jare waar hy vandaan kom en in ’n Engelse skoolopstel, beskryf hy dit so:

The turbulent dust-devils dance across the lifeless flats – the only signs of movement on the stricken earth engulfed by vibrant waves of heat. The whirls of thick, red, suffocating dust seem to mock the death that triumphs over all.

Glad nie slegte Brits vir ’n seun van die platteland nie. Dit is dalk daarom dat hy die naashoogste punte in Engels behaal het in sy laaste jaar op Boishaai.9

Wiese vaar goed op skool, maar is nie die top-leerling nie. Hy is tiende in sy matriekjaar en is die derde beste in Duits.

Die naaste universiteit aan die Paarl is op Stellenbosch. Maar Wiese kies koers Kaapstad toe.

“My pa het ’n baie sterk beskouing gehad dat goeie Verenigde Party-kinders wat Stellenbosch toe gaan in Natte verander en hy was nie daarvoor te vinde nie.”10

Wiese laat hom inskryf om regte te studeer aan die Universiteit van Kaapstad, maar kom teen die middel van sy eerste jaar agter dat hy nie behoorlik daarvoor geregistreer het nie.

“Ek het na sekere klasse toe gegaan, veral waar daar mooi meisies was,” skerts hy later.

Maar dit was nie ’n suksesresep vir sy studie nie en hy verlaat noodgedwonge die Kaap. Later moet hy op ’n curriculum vitae invul wat hy direk ná die kortstondige universiteitsloopbaan gedoen het – hy skryf net “boer”.11

“My minder-as-roemryke akademiese rekord het my na Upington laat terugkeer met die sterk oortuiging dat ek nie uitgeknip is vir die akademie nie. Ek wou ’n sakeman word.”

Wiese se pa sê dit is reg so. Hy koop toe ’n onderneming wat voertuie se verkoelers herstel en hulle betrek ’n geboutjie op die dorp waaruit die besigheid bedryf word.

“Ek sweer dit was die enigste gebou op Upington waar die son 24 uur per dag geskyn het,” sê Wiese.

Boonop is karbied in daardie dae gebruik om die verkoelers te herstel en teen ’n hoë temperatuur. Dan is Upington ook nie bekend vir sy matige somers nie.

Die hitte, sê hy, het hom nogal laat dink dat dit dalk nie so ’n slegte idee is om weer te gaan studeer nie.

Wiese het daardie tyd al ’n hele paar ysters in die vuur gehad. Binne twee jaar is hy in die bestuur van Upington se Afrikaanse Sakekamer en word as ’n afgevaardigde na die Handelsinstituutkongres gestuur, eers in Pretoria en die volgende jaar in Kaapstad.12

Maar dié wêreld is te klein vir Wiese. En iemand sien dit raak.

Renier van Rooyen, ’n aangetroude neef wat in daardie stadium ’n paar winkels op Upington bedryf, oortuig Wiese om weer te gaan studeer en gee hom ook die finansiële ondersteuning om dit op Stellenbosch te gaan doen, vertel die veteraan sakejoernalis David Meades in sy boek, Afrikaner-Kapitalisme: Van brandarm tot stinkryk.

Toe Wiese in 1963 op Stellenbosch aankom, was hy op 21 betreklik oud vir ’n eerstejaar. Hy laat hom weer inskryf om regte te studeer. En hy bly in Wilgenhof, die oudste manskoshuis op die dorp.

Dié koshuis, onder sy inwoners bekend as “Willows” of sommer net “Die Plek” en wat deur ander die spotnaam “Bekfluitjie” gegee is, het ’n ryke tradisie en was op sy dag die tuiste van die rugby-legende Danie Craven.

Wilgenhof was in daardie dae beslis ’n relatief verligte plek onder die manskoshuise. Dagbreek, in dieselfde straat, het ’n reputasie gehad dat hy Nasionale Party-politici soos die eerste ministers Hendrik Verwoerd en John Vorster opgelewer het. Wilgenhof se bekendste politieke figuur was die anti-apartheidstryder Beyers Naudé. Wiese land in die koshuis saam met die toekomstige opposisieleier Frederik Van Zyl Slabbert. Later is James Wellwood Basson, ’n blondekop van Porterville met die bynaam “Whitey”, ook saam met hom in Wilgenhof.

En soos op Upington is dit nie lank nie of Wiese is betrókke. Hy is ’n eerstejaarverteenwoordiger in die Juridiese Vereniging. Hy sluit by die US Debatsvereniging aan en is teen sy tweede jaar die tesourier. ’n Man wat duidelik op sy voete kan dink. Sy tydgenote bestempel hom as ’n baie doeltreffende spreker.

Wiese word in sy tweede jaar tot Wilgenhof se huiskomitee verkies. Hy stel hom dieselfde jaar ook verkiesbaar vir die studenteraad (SR). In Die Matie se verkiesingsuitgawe sê hy ’n deel van sy beleid is: “Om ’n basis vir nouer samewerking tussen Engels- en Afrikaanssprekende studente te verkry op ’n grondslag waar hulle sonder prysgawe van eie beginsels kan saamwerk.”

Wiese trek genoeg stemme om een van die studenteraad se 14 lede te word. Hy kry die portefeuljes verenigings en openbare betrekkinge.

As deel van sy take moet Wiese die beoogde subsidies wat die SR aan die onderskeie verenigings toestaan, vir goedkeuring voorlê. Maar daar is ook baie algemene idees, beleid en die sake van die dag wat bespreek word.

So stel Wiese op ’n SR-vergadering in 1965 ’n toer na Angola vir die Junie-Julie-vakansie voor. Die land is nog ’n Portugese kolonie en ’n baie eksotiese bestemming vir ’n groep Afrikaanse studente in die middel 1960’s.13

Op die volgende vergadering hanteer hy ’n saak van groter politieke belang. Hy dien ’n mosie in dat die SR die Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse Studente (Nusas) se aansoek om amptelike erkenning as ’n vereniging by die universiteit afkeur. Nusas is ’n liberale studente-organisasie wat hom landwyd vir veelrassigheid en politieke verandering beywer. Die SR besluit Stellenbosch is nie die plek vir Nusas nie.

Op dieselfde vergadering spreek die SR sy misnoeë uit oor ’n vereniging wat die Amerikaanse burgerregte-aktivis dr Martin Luther King as spreker na die kampus genooi het. Die SR aanvaar sonder teenkanting ’n mosie om die betrokke vereniging in te lig:

Dat hierdie afkeur gegrond word op die feit dat dr King in wese ’n onrusstoker is wat bloedige misdade pleeg in die naam van vryheid.

Dit was die jaar nadat King die Nobelprys vir Vrede gewen het.

In die derde kwartaal van 1965 herkies die kampus Wiese as SR-lid vir die volgende jaar.

Weer het hy baie ysters in die vuur, want Wilgenhof kies hom ook as primarius – die hoof van die huiskomitee. Dit is ook omtrent hierdie tyd dat hy een oggend wakker word – so vertel hy later jare – en besef hy gaan nooit weer op Upington bly nie.14

Hy is ook net mens, want een aand in September verlaat hy ’n SR-vergadering vroeg “weens akademiese drukte,” toon die notule. ’n Ander keer sê hy sy akademie het ’n “draai na die ergste geneem”. En so neem hy ’n rukkie langer as normaal met sy BA (regte)-graad. Hy verwerf dit eers teen die einde van sy vierde jaar.15

Wiese dien saam met ’n klomp teologiestudente – algemeen bekend as tokkelokke – in die SR. Die kampuspolitiek is in daardie dae in ’n baie groot mate beïnvloed deur die manne wat aan die kweekskool studeer om hulle as predikante in die Nederduits-Gereformeerde Kerk te bekwaam.

Anders as die vrye era van die 1960’s aan die universiteite in die Westerse wêreld, is Afrikaanse kampusse nogal konserwatiewe plekke. So is daar nog daaroor geredeneer of vrouestudente in die openbaar mag rook. Die Matie dra gereeld rubrieke oor die universiteit se Christelik-nasionale karakter of sommer reguit oor die onaanvaarbaarheid van voorhuwelikse seks.

In Junie 1966 is Wiese een van die voorstellers van ’n mosie dat die SR in die toekoms volgens fakulteite verkies moet word en nie deur die vrye voorstelling van kandidate nie. Hy doen dit op ’n “monstervergadering” in die Ou Hoofgebou, ’n byeenkoms waar al die studente teenwoordig mag wees en ’n regstreekse sê het. Die Matie som dit so op:16

Die implikasies? Die kweekskool se invloed in die Matielandse studentepolitiek moet beperk word. Maar sulke dinge word nooit openlik gesê nie – daarom moet ander sprekers die voorstellers daarop wys dat hul eintlike motiewe is om die tokkelokke, die bastion van Christelike beginsels op die kampus, se voete onder hulle uit te skop.

Die Maties stem met ’n groot meerderheid teen die plan vir proporsionele verteenwoordiging. Die tokkelokke sou vir ’n tyd nog die septer swaai.

Dieselfde jaar hou die SR ’n dinee en op die spyskaart vir die geleentheid plaas die organiseerder ’n foto van elke SR-lid.

“Bo elke lid se kop het hy ’n stralekrans gehad, maar bokant Christo se kop het hy toe ’n Goodyear tyre gesit,” vertel Boy Geldenhuys, self ’n teologiestudent en daardie jaar se SR-voorsitter.17

Die jaar 1966 is een van groot opskudding op kampusse, want in dié stadium is instellings met Engels as voertaal nog relatief “oop” – studente van alle rasse word toegelaat. Maar die regering het planne om in te gryp en die deelname aan kampuslewe tot wittes te beperk. Rasse-aangeleenthede by die universiteite maak gereeld opslae.

“Ikeys verkies nie-blanke op Studenteraad” lui ’n opskrif in Die Matie daardie jaar.18

In Junie reis senator Robert Kennedy, ’n sterk aanspraakmaker op die presidentskap in die VSA, na Suid-Afrika.

Die SR is teen sy besoek gekant. Wiese maan op ’n vergadering dat die SR “versigtig” moet wees met die Kennedy-aangeleentheid en veral ook nie die indruk moet wek dat die linksgesinde Nusas die land se studente se enigste verteenwoordigers is nie. Uiteindelik ontvang die manskoshuis Simonsberg Kennedy op Stellenbosch. Die politikus, die ontslape John F Kennedy se broer, sterf in 1968, soos sy ouboet, in ’n sluipmoordaanval. Toe Kennedy se familie dertig jaar ná sy toespraak by Simonsberg die land besoek, is Wiese hul gasheer.

In Julie 1966 hou die Afrikaanse Studentebond (ASB), wat al byna twee dekades bestaan, sy jaarlikse kongres op Stellenbosch. Gemoedere loop hoog omdat Nusas besluit het om die Suid-Afrikaanse vlag te verwerp.

Afrikaner-studente van oor die hele land kom bymekaar om “Eenheid” te bespreek en die bond wys Geldenhuys as president aan.

As deel van die verrigtinge neem die ASB ’n omstrede mosie van dank aan. Hy bedank ene SED Brown, die redakteur van ’n regse maandblad genaamd South African Observer. Sy publikasie het vooraanstaande Afrikaners, onder andere Rembrandt se stigter, dr Anton Rupert, die US-rektor, prof HB Thom, en die nyweraar Hendrik van Eck, iets genoem wat in daardie stadium as ’n reuse-belediging beskou is – liberaal!

Wiese is nie hiervoor te vinde nie. Saam met Simonsberg se primarius, Willem van Drimmelen, loods hy ’n petisie en het gou meer as ’n duisend handtekeninge wat eis dat die ASB die mosie van dank aan Brown moet terugtrek. Meer as ’n kwart van die universiteit se studente steun die petisie, volgens Van Drimmelen. En Wiese kry sy eerste blootstelling in die nasionale media.

“Ons dissosieer ons nie van die ASB of enige van die ander mosies wat op die ASB-konferensie aangeneem is nie, maar ek sal aanvalle deur Brown op mense soos Piet Cillié en Ettienne Rossouw nie duld nie,” haal die Rand Daily Mail hom aan.19

Geldenhuys wil die petisie – met sy 1 276 name en nog ’n klomp uitstaande – nie aanvaar nie omdat dit glo “onkonstitusioneel” is. Maar Wiese bring ’n mosie op ’n massavergadering van die studente en so word Brown se aanmerkings oor die vooraanstaande Afrikaners veroordeel en ’n komitee aangestel om verdere ondersoek in te stel. Die Matie beskryf dit so:

Die petisie was sedert baie jare een van die beste skaakskuiwe in Matieland se studentepolitiek. En een van die mees besproke. Lank nadat die baie afskrifte reeds klaar geteken of nie geteken was nie, is dit nog bespreek.

Die koerant voeg by dat die hele Brown-saak ’n “prestigevolle sukses” vir Wiese en die progressiewes was.

Een van die studente wat die “monstervergadering” bygewoon het, is GT Ferreira, later jare voorsitter van die FirstRand-groep.

“Ek was baie impressed met hoe ’n gladde bek die bliksem het,” lag Ferreira in 2018 in ’n onderhoud.

Wiese staan ’n derde keer vir die SR. Dié keer is dit moeiliker, want om as ’n progressiewe kandidaat beskou te word, het sy nadele. Die Matie berig:20

In die vroeë oggendure van verkiesingsdag, verlede Maandag, is daar deur sekere voortvarende en verbeeldingloos-kortsigtige persone oorgegaan tot van die laakbaarste en mees onverantwoordelike optrede ooit in ons studentegemeenskap. Die Matie wil hom dan ook geheel afwysend uitlaat oor, en as sulks volkome distansieer van die smeerveldtog teen die twee SR-kandidate, mnre. Willem van Drimmelen en Christo Wiese.

Die sogenaamde “blou papier” is ’n poging om Wiese en Van Drimmelen te diskrediteer ’n paar uur voor die SR-verkiesing. Die skrywe is in omtrent elke koshuiskamer afgelewer en beskuldig hulle van “McCarthyisme” en dat hulle “die Christelik-nasionale beginsels van die Afrikaner verdoem”. (Joseph McCarthy was ’n Amerikaanse senator wat ’n heksejag teen kommuniste en ander linkses in die regering begin het.)

Tog kry Wiese genoeg stemme en dien ’n derde termyn in die SR. Hy staan vir die posisie van ondervoorsitter, maar kry dit nie.

Net twee weke ná die SR-verkiesing is daar ’n reuse- politieke gebeurtenis – die land se eerste minister word vermoor. ’n Bode, Dimitri Tsafendas, steek Hendrik Verwoerd met ’n mes in die parlement dood. Vir die meeste Suid-Afrikaners verteenwoordig Verwoerd die ergste van apartheid.

Op die volgende SR-vergadering beveel Wiese aan dat dit ’n mooi gebaar sal wees as die hele studenteraad saam Verwoerd se begrafnis bywoon.

In sy derde termyn in die SR het Wiese onder meer die portefeulje Langenhoven Gedenksentrum (later genoem “Die Neelsie”). Dit is al lank ’n begeerte op die kampus om ’n studentesentrum te laat oprig, maar die projek sloer. Tydens Wiese se termyn gaan dinge egter vooruit. Teen die einde van daardie jaar berig Die Matie dat die fondamente vir so ’n sentrum binnekort gegooi gaan word.

Hy stel hom nie weer verkiesbaar nie, maar word aangewys as stembuskonvenor vir die verkiesing. Behalwe om die stemmery te reël, moet hy ook op ’n byeenkoms aan die studente die kans gee om kandidate te toets oor hul beleid. So berig Die Matie:21

Studente het met lof gepraat oor die briljante wyse waarop Christo Wiese die voorsitterstoel op die Sirkus [soos die verkiesingsvergadering onder studente bekend was] hanteer het. Belangrik is dat hy aan beide die vraestellers en die kandidate reg laat geskied het.

Hy het ook uiteindelik reg aan sy kursus laat geskied en sy LLB-graad verwerf.22

Christo Wiese

Подняться наверх