Читать книгу Christo Wiese - TJ Strydom - Страница 7

4.

Оглавление

Pep Stores – die eerste keer

“Ons het dit vir elke gesin moontlik gemaak, elke pa of ma, om hulle kinders ordentlik aan te trek.” 1

Christo Wiese in ’n onderhoud, 2013

Ná sy studie sluit Christo Wiese voltyds by Pep Stores aan.

Renier van Rooyen, wat in 1954 met Wiese se niggie Alice trou, het die besigheid gestig. Nadat hy vir ’n myn gewerk het en ’n ruk lank ook ’n bode van die hof was, het Van Rooyen in 1955 in vennootskap met sy prokureursvriend Gawie Esterhuyzen ’n enkele winkel bekom. Die winkeltjie op Upington was bekend as The Bargain Shop, vertel Van Rooyen se seun Johann in ’n biografie.2 Dit was maar vyf meter by tien meter groot.

Die winkel het allerhande goedere verkoop, van huisware tot klere en selfs donkiekarre. Die vorige eienaar, Gustav Gottschalk, het as deel van die transaksie vir Van Rooyen twee maande lank op Saterdae touwys gemaak in die kleinhandel.

Toe hy self die winkel begin bedryf, sien hy klereverkope vaar beter as die res van die goedere. Hy begin meer aandag daaraan bestee en doen ook meer moeite met aankope. Hy ry ’n paar keer per week Kaap toe en terug om voorraad regstreeks by die fabrieke te koop. Hy kan nie voorbly nie. Van Rooyen trek familielede nader om te help met die besigheid en gou raak dit duidelik dat hy kan uitbrei.

In 1959 maak hy ’n tweede winkel oop en noem dit Upington Volksklere. Intussen verfyn hy sy sakemodel. Hy gaan hom toespits op die verkope van klere, skoene, komberse en beddegoed teen afslagpryse in winkels waar die klante self deur die voorraad kan soek. Hy doop sy nuwe winkels BG Bazaars – die BG beteken niks spesifiek nie. Van Rooyen sê later dit staan sommer vir “bakgat” of “blêrrie goed”, skryf dr Anton Ehlers in ’n akademiese artikel oor die vroeë jare van Pep Stores.3

Teen 1965 is daar vier BG Bazaars op die dorre dorpe in die noorde van die Kaapprovinsie en die besigheid lóóp. Soveel so dat Van Rooyen sê dat hulle “wel-af was, jy weet, goed gevestig met ’n lekker besigheid”.4 Maar hy het drome van ’n landwye kettingwinkelgroep.

En as jy ’n winkel op elke dorp in die land wil hê, het jy ’n beter naam as BG Bazaars nodig. Die voorletters BG was in elk geval reeds geregistreer deur ’n onderneming op Potchefstroom en Van Rooyen moes noodgedwonge iets anders kry. Hy wou iets hê wat in Engels en in Afrikaans aanklank sou vind. En dit moet lekker kort wees en maklik om te onthou.

John Lee, ’n reisende verkoopsman wat later ’n senior aankoper vir die groep was, het met ’n lys van tien moontlike name vorendag gekom. Onder hulle was Van’s, Up’s, NW, Ric’s, Ren’s, Jet en Pep. Van Rooyen was dadelik beïndruk met Pep, want dit was ook ’n woord wat hy dikwels gebruik het om ander aan te moedig.

Wiese en sy pa, Stoffel, is bewus van Van Rooyen se besigheid, maar het eers regtig begin kennis neem toe hy beleggers soek om sy winkels landwyd uit te brei. Die ouer garde in daardie wêreld was maar ’n skeptiese klomp, vertel Wiese.

“Hulle sal eers vermoed hy smokkel met diamante of dagga. As die polisie hom nie aankeer nie, lei hulle af dat hy moontlik ’n goeie sakesin het en iets reg doen. Dan eers sal hulle hom nader met die vraag: ‘Het jy nie dalk ’n vennoot nodig nie?’”5

Van Rooyen het kapitaal nodig – sowat R250 000. Hy toets die belangstelling onder vriende en familie op Upington. Baie van hulle is gretig en hy stig die maatskappy Pep Stores (Edms) Bpk. Maar Van Rooyen het ’n voorwaarde: om in sy winkelgroep te belê moet jy ook bereid wees om vir die groep te werk. En as jy vir die groep wil werk, moet jy ook bereid wees om daarin te belê. Dit skrik ’n klompie voornemende beleggers af en uiteindelik kry hy net R50 000 so ingesamel. Stoffel Wiese is een van die beleggers.

“My pa het sy besighede verkoop en in Pep belê en in die direksie gedien. Die ooreenkoms was dat ek, nadat ek graad gekry het op universiteit, by die besigheid sou aansluit. Dit is wat gebeur het.”6

In 1965 is Christo Wiese nog op Stellenbosch besig om hom met sy regsvakke en met dinees en ander koshuissake te bemoei. Hy vertel wel later dat hy in dié stadium ook al in die besigheid belê het – R5 000, waarvan hy die helfte by sy pa geleen het.7

Pep Stores se eerste tak is ’n winkel wat hy by BG Bazaars op De Aar oorneem en onder die naam Pep bedryf. In Desember daardie jaar kom ’n tak by in Kimberley, waar die nuus oor Pep se lae pryse so wyd versprei dat honderde mense toustaan vir die opening en die plaaslike koerant die volgende dag berig oor die vertrapping (oftewel “crush”).8

Net ’n week later open nog ’n winkel op Postmasburg en dit is duidelik dat die groep met rasse skrede gaan uitbrei.

Van Rooyen het intussen vir die groep ’n pakhuis in Woodstock, Kaapstad, aangeskaf en met sy gesin Kaap toe verhuis.

Wiese het wel sommige universiteitsvakansies by Pep Stores gewerk, maar toe hy in 1967 voltyds aansluit – nou ’n regsgeleerde – is dit as maatskappysekretaris en tweede in beheer. Hy is ook verantwoordelik vir werwing.

Sy grootste taak is vir eers om persele vir nuwe Pep-winkels te soek. Teen die einde van die 1968-boekjaar is daar 29 winkels. In die volgende jaar spring daar nog 29 op en die jaar daarna kom nog 57 takke by. Wiese is omtrent 20 aande per maand van die huis af weg, want hy reis die land plat om nuwe winkels oop te kry en huurkontrakte te teken. “Ek het elke aand op ’n ander dorp geslaap,” sê hy.9

Die 1960’s is ’n tydperk van ongekende groei vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Entrepreneurs stig verskeie kleinhandelaars in die tweede helfte van die dekade. Kloppers, Pick n Pay, Clicks, Game en Dion wil almal voordeel trek uit die groeiende besteebare inkomste van die middelklas, wat in daardie stadium oorwegend wit is.

Pep Stores spits hom toe op die mees basiese behoeftes en kry gou ’n reputasie dat hy skaflike klere teen lae pryse verkoop. Van Rooyen se verkoopsfilosofie is: “Ons verkoop nie goedkoop goedere nie; ons verkoop goedere goedkoop!”

Die lae pryse vind veral byval by lae-inkomstegroepe. Bruin en swart kopers ondersteun die nuwe winkels in groot getalle en Pep maak veral naam met kinderklere en skoolklere.

Wiese vertel dat jy ’n kind in die 1960’s by Pep Stores van kop tot tone kon klee vir minder as R1.10

Van Rooyen verbied ook sy winkelbestuurders om van uitverkopings te praat: “Die woord ‘uitverkoping’ is verbode! – alles is op uitverkoping.”

’n Ander ding waarteen hy sterk gekant was, is die toestaan van krediet. Dit was waarskynlik ’n nalatenskap van sy tyd as ’n bode van die hof toe hy mense wat te diep in die skuld was namens die hof moes dwing om te betaal. Pep was ’n kontantbesigheid – dit was goed vir sy kontantvloei en het ook verhinder dat klante koop wanneer hulle dit nie kan bekostig nie.

Om aan klere te voel en selfs aan te pas, was in daardie stadium nie algemeen nie, maar Van Rooyen het dit aangemoedig. Hy het swart en wit klante ook dieselfde aanpashokkies laat gebruik.

So lok Pep klante van alle rasse, iets wat vandag dalk as ’n gegewe aanvaar word, maar in die 1960’s met apartheid aan die orde van die dag, was dit nie die norm nie.

“Daar was ’n wet wat voorgeskryf het dat jy in ’n kantoorblok aparte toilette vir blanke en nie-blanke dames moet hê. Ons het net daardie dae besluit bullshit, ons sal ’n toilet vir dames en ’n toilet vir mans hê en dis dit,” sê Wiese.

“Ons het die wet oortree en dit het ook gekom, glo ek, van ons agtergrond op die klein dorpie. Jy kyk anders na mense.”11

Met Van Rooyen se dood in 2018 in die ouderdom van 86 word sy winkels in een doodsberig bestempel as “eilande vry van rassisme en sonder enige tipe segregasie”, al was hulle dikwels op erg konserwatiewe dorpe.12

So het hy dit reggekry om die rande van bruin en swart verbruikers na sy winkels te lok. En al het hulle individueel min gehad om te bestee, het hulle saam ’n groot blok koopkrag verteenwoordig.

“Ons het so goed gedoen dat Sydney Press van Edgars in 1969 vir ons R4,5 miljoen aangebied het. Hy het gedreig dat as ons die aanbod van die hand wys, hy ons direk sal aanvat. Ons was in die versoeking om dit te aanvaar, maar het dit toe van die hand gewys,” vertel Wiese.13

Ses maande later het Edgars 25 takke van Jet Stores oop om Pep opdraande te gee, maar die winkels kon nie dieselfde vastrapplek onder lae-inkomstegroepe kry nie en het gou ’n ander mark begin dien.

Wiese se pa, Stoffel, sterf in 1970. Hy het nie veel beleggings in sy eie naam nie, maar laat sy Pep Stores-aandele aan sy vrou, Kotie, na. Die testament toon ook dat hy 33 500 aandele namens sy seun Christo hou.14

In 1971 omskep Van Rooyen en sy span Pep Stores in ’n openbare maatskappy en verkoop ’n belang van 10% aan Phil Morkel, ’n kleinhandelgroep wat aan Federale Volksbeleggings behoort. Die belang skuif later op tot 25%, maar die direksie en die nuwe aandeelhouer kry stry en Van Rooyen koop die aandele terug met finansiering van Sanlam.

Van Rooyen hou nie daarvan om uitgelewer te wees aan verskaffers nie en maak gou planne om sommige van die produkte wat hy in die winkels verkoop self te vervaardig. Hy koop Budget Footwear in Durban deels om die besigheid vertikaal te integreer (sy eie goedere te verskaf en so koste te verminder) en deels om hom teen tekorte te beskerm. Teen dié tyd is hy Budget se grootste klant en enige probleme in Durban kan Pep Stores se klante kaalvoet laat. Hy koop die fabriek vir R200 000.

Pep brei sy vervaardigingsbelange verder uit en voorsien binne drie jaar in ’n kwart van sy eie behoeftes.

Die groep bou onder meer ’n kombersfabriek op Butterworth in wat vandag die Oos-Kaap is. Maar in die 1970’s was dit deel van die “onafhanklike” Transkei en die Suid-Afrikaanse regering het ondernemings aangemoedig om nywerhede daar te stig as deel van ’n desentralisasie-beleid vir werkskepping in die tuislande.

Pep Stores het aanloklike aansporings15 van die Xhosa Development Corporation gebruik om die kombersfabriek op die been te bring. Dit het onder meer lenings ingesluit teen ’n rentekoers van 1%, lae huur vir fabrieke en behuising, inkomstebelastingtoegewings vir die indiensneming van swart werkers en verskeie rabatte op goedere wat in die streek vervaardig is.16

Met 115 takke is die winkel in 1971 al goed verteenwoordig in die Kaapprovinsie, maar die koopkrag in die res van die land wink. Om hierdie uitbreiding te bekostig, reik Pep Stores 350 000 aandele teen R1,50 elk uit en verkoop dit in ’n private plasing.

Later daardie jaar sê Van Rooyen die groep beplan om oor die volgende vier jaar 50 takke per jaar te vestig. Hy kondig ook aan dat Pep Stores van plan is om teen middel 1972 te noteer.17

Maar voor die notering brand die maatskappy se hoofkantoor en Kaapse pakhuis af, net weke voor die besige Kerstyd en met sowat R1 miljoen se voorraad wat in die slag bly. Gelukkig is ’n goeie klompie voorraad reeds na die winkels versend en het die groep ook pakhuise in Durban, Germiston en Port Elizabeth. Teen dié tyd het Wiese, wat vir werwing verantwoordelik was, al sy ou koshuismaat Whitey Basson by die besigheid betrek. Dit is Basson wat as finansiële direkteur die versekeringseis hanteer, “vernuftig” volgens Van Rooyen se biografie.

Pep Stores se notering is ’n groot gebeurtenis. Teen die tyd dat Wiese as maatskappysekretaris in Maart 1972 aankondig die groep gaan op die Johannesburgse aandelebeurs noteer, spog Pep Stores al met 163 takke. Duidelik is dit nog net die begin, want die dele van die land met die grootste bevolking het nog relatief min winkels. Beleggers wil deel in hierdie groei siende dat Pep die eerste klerekleinhandelaar is wat weet hoe om die sluimerende mark van swart kopers te bereik.

Pep is ook die eerste groot notering sedert die beurs in 1969 weens ’n oormatige lus vir effektetrusts ineengestort het. Teen die tyd dat Pep Stores sy buiging op Diagonaalstraat maak, is die beurs steeds 60% swakker as op sy hoogtepunt in 1969.

Die aandeel open op R2,75, styg tot R3,50 en stabiliseer op 6 Junie 1972 uiteindelik op R3,30. Byna 400 000 aandele verhandel op die dag en die beleggers wat sewe jaar gelede op Upington teen 50 sent per aandeel gekoop het, is skielik baie meer vermoënd.

“Teen daardie tyd, in Suid-Afrikaanse terme en in my omgewing, was ek ’n ryk man deur die notering van Pep,” sê Wiese.

Nie lank daarna nie koop hy vir hom ’n Pierneef-skildery teen “R25 000, wat ’n fortuin was” in 1973.18 ’n Mens kon daardie jaar byna tien splinternuwe motors vir dieselfde bedrag koop.

Maar die notering het die groep, wat deur ’n klomp plattelandse handelaars uitgebou is, in ’n mate verander.

“Dit het ’n bietjie van sy betowering as ’n familiebesigheid verloor,” sê Wiese.

En dit is een van die redes waarom hy in 1973 besluit om uiteindelik sy regsopleiding op ’n meer formele manier te gaan gebruik.

’n Ander rede was dat hy nie geglo het hy is op lang termyn bereid om ’n ander ou se joggie te wees nie. Pep Stores was in daardie stadium bekend as “Van Rooyen’s Express”.

As student op Stellenbosch was dit duidelik, en dit raak duideliker in die dekades wat volg, dat Wiese nie ’n man is wat wegskram van die kollig nie. Maar in Pep was Renier die baas. Wiese en sy familie was reeds die grootste aandeelhouers, maar hy het gedink Van Rooyen is ’n beter nommer een as hy wat Christo is.

“Ek was nie uitgeknip om ’n nommer-twee-man te wees nie.”

Hy het ook planne gehad om te trou met ’n nooi by wie hy toe al ’n tydjie vlerksleep en daarvoor het hy ’n meer stabiele lewe nodig, waar hy meer as 10 aande per maand by die huis is. En sonder die rowwe werktempo van Pep Stores.

“Ek het in elk geval besluit ek wou eers ’n miljoenêr word voordat ek trou.”19

Christo Wiese

Подняться наверх