Читать книгу Christo Wiese - TJ Strydom - Страница 5

2.

Оглавление

Die retailer

“Hy het altyd sy eie klein besigheid gehad. En dit het altyd ’n kleinhandel-element gehad.”

Christo Wiese oor sy pa, in ’n TV-onderhoud, 2015

Die lewe van ’n soldaat in die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) is nie ’n piekniek nie. Jy onderneem lang seereise in haglike toestande. Dis gevaarlik. Jy vaar om die Kaap van Storms om by die eilande uit te kom wat eeue later as Indonesië bekend sal staan. Jy doen diens in onherbergsame plekke waar tropiese siektes jou lewe kan eis. En dan is dit boonop bedompig en minstens 10 grade warmer as Holland op sy ergste.

In Amsterdam werk jy gewoonlik net as soldaat of matroos vir die VOC as jy geen ander keuse het nie. Miskien as die familiebesigheid in Nederland nie iets is waaraan jy jou lewe wil wy nie.

Dit is wat die jong Benjamin Wiese in 1712 doen. Hy leen geld by sy vader, ook Benjamin, en sluit aan by kaptein Jan van der Merkt van die Arion, ’n seilskip wat ’n vrag van 630 ton kan dra, en met ’n bemanning van 158. Hy maak dit tot in die Kaap de Goede Hoop, waar hy vyf weke vertoef en dan na Batavia vaar.

’n Jaar later het hy genoeg gehad. Wiese vind sy pad terug na die Kaap, tree uit diens as soldaat en bly aan as ’n vryburger. Sy tydsberekening was goed én sleg.

Goed, want in 1714 verdwyn die Arion op pad Japan toe in die Suid-Chinese See. Sleg, want daar is ’n pokke-epidemie in die Kaap. Siekte trek Wiese ook plat, hoewel dit nie duidelik is of dit pokke of ’n ander kwaal is nie, en hy is so bekommerd dat hy in Mei 1713 ’n testament laat opstel. Hy het geen kind of kraai nie.

Hy herstel egter en trou vroeg in 1714 met Hester Mostert, ’n jong weduwee. Saam het hulle drie seuns. In die geboortejaar van hul jongste, Pieter, verlaat Benjamin die Kaap omdat hy sukkel om werk te kry. Hy wil ook na sy oorlede vader se boedel gaan omsien.

Hester is ’n paar jaar later agter hom aan en los haar seuns in die sorg van die Weeskamer.

Of sy en Benjamin dit ooit weer teruggemaak het tot in die Kaap, is moeilik om vas te stel, maar hulle het mekaar in Amsterdam gevind. Daar het hulle in 1728 die geboorte van ’n dogter geregistreer.

Pieter Wiese, die enigste van die drie broers met opgetekende afstammelinge, is self ook ’n tyd lank ’n matroos vir die VOC. Nadat hy met Margaretha Swart op Stellenbosch trou, besluit hy boerdery bied dalk ’n beter lewe. In 1743 kry hy goedkeuring om sy skape by Vaderlandscherietkloof op Piquetbergen te laat wei. Hiervoor moet hy binne ’n maand 24 riksdaalder aan die Kompanjie betaal. Daarna moet dit jaarliks betaal word. In 1748 kry hy ook toestemming om skape op ’n lappie grond aan die Hollerivier te laat wei.

Pieter is effe van ’n kansvatter want teen 1754 is hy al vier jaar agterstallig met sy jaarlikse betalings aan die VOC.

So byna of dit is die einde van die Wiese-naam, want Pieter en Margaretha verwek vier dogters in ’n ry voor die koms van Petrus Benjamin rondom 1751.

Terwyl die Industriële Rewolusie in Brittanje aan die gang is met fabrieke wat opspring en goedere vervaardig, is die ekonomie aan die Kaap hoofsaaklik op boerdery gerig. Daar word min aan die suidpunt van Afrika gemaak, behalwe kinders.

Petrus Benjamin trou nog voordat hy 19 is met Isabella Loubser en saam het hulle 10 spruite. Die jongste is Tobias, gebore in 1791. Hy ervaar as kind die laaste doodsnikke van die Kaap wat Hollands is. Brittanje annekseer die nedersetting in 1795 tydens die Franse Revolusionêre Oorloë om te keer dat Frankryk beheer oor so ’n strategiese handelspos kry. Teen hierdie tyd woon daar meer as 60 000 mense in die kolonie, onder wie sowat 26 000 slawe.

In 1803 neem die Bataafse Republiek die bestuur van die Kaap oor, maar drie jaar later besluit die Britse Ryk finaal dat hy eerder die nedersetting moet regeer. Tobias se kinders word groot in ’n land waar Engels die amptelike taal is.

Sy seun Tobias Gerhardus is maar 10 jaar oud en nog te jonk om te boer toe slawerny in 1834 afgeskaf word. Baie van die boere, wat Nederlands praat en hulle teen dié tyd Afrikaners noem omdat hulle sterker bande met Afrika as Europa het, trek diep die binneland in om onder die Britse Kroon uit te kom.

Tobias Gerhardus is nie een van die Voortrekkers nie. Hy trek Cederberge toe waar hy eers op die ouderdom van 45 die knoop deurhak met Christina Koch. Hoe nader jy aan die Kaap is, hoe minder grond is daar beskikbaar en hoe meer moet jy daarvoor betaal. Die regulasies en belastings wat die Britte met hulle saamgebring het, word ook baie beter toegepas wanneer jy Tafelberg kan sien. Daarom trek die boere al hoe verder noord van die Kaap op soek na geskikte grond.

Dit is in die distrik Clanwilliam, in die wêreld waar sy oupagrootjie destyds skape laat wei het, waar Tobias Gerhardus se eerste seun, ook Tobias Gerhardus, in 1871 gebore word. Die jonger Tobias Gerhardus trek nóg 80 km noord en vestig hom op Vanrhynsdorp waar hy met ’n jong weduwee, Alida Hendrikse, trou.

Hul seun Christoffel Hendrik (Stoffel) Wiese, ongeveer 1906 gebore, trek selfs vérder noord om te boer. In die Gordonia-distrik was daar baie grond vir veeboere. En saaiboere het al hoe meer geleenthede gesien danksy besproeiing uit die land se grootste rivier, die Oranje (deesdae die Gariep genoem). Upington, wat in 1884 gestig is, het ontpop in die streek se belangrike sentrum.

Hy trou in 1935 met Jacoba Wilhelmina Hendrina (Kotie) Wasserfall, ’n nooi van die Boesmanland. Die paartjie het vier kinders. Een van hulle word op 10 September 1941 op Upington gebore. Hulle doop hom in die NG kerk op Keimoes en hy kry sy pa se name: Christoffel Hendrik.

Toe Benjamin Wiese (jr) in 1712 nie sy vader se onderneming wou oorneem nie en Nederland verlaat het om ’n nuwe lewe te begin, sou hy nooit kon dink dat sy agter-agter-agterkleinseun Christo eendag ’n fabelagtige fortuin uit ’n baie soortgelyke besigheid as dié van sy vader sou maak nie.

Benjamin Wiese (sr) was ’n koopman – ’n retailer.

Christo Wiese

Подняться наверх